Vinnige feite

  • ʼn Stel posseëls is gebruik om fondse in te samel vir die oprigting van die Voortrekkermonument. Die seëls is in 1933 in omloop gebring en op 31 Oktober 1938 gestaak toe die Groot Trek Eeufees- en herdenkingseëls uitgebring is. Die stel het uit vier posseëls bestaan. Die stel seëls is om die beurt in Afrikaans en Engels gedruk en etlike duisende ponde is vir die fonds ingesamel. 10
  • Die museum in die kelder is vol huishoudelike artikels uit die Groot Trek, soos kruithorings en voorlaaiers, dolosse en kakebeenwaentjies waarmee die kinders gespeel het, Hans Dons de Lange se Bybel (wat by die boek Job oopgeslaan is) en Piet Retief se vrou, Magdalena, se silwer snuifdosie. 11
  • Die Heldesaal se boogvensters staan sowat 40 m hoog en bevat elkeen 1 072 stukkies Belgiese glas. Die marmer vir die vloer kom uit Marble Hall in Limpopo se groewe. 11
  • Daar is 169 trappies na bo in die monument. Van hier kan jy afkyk na die senotaaf. Die son val elke jaar op 16 Desember direk op die senotaaf en verlig die woorde “Ons vir jou Suid-Afrika”. 11
  • Duisende mense besoek die monument jaarliks. 12 Voor die uitbreking van die Covid-19-pandemie in 2020 was minder as die helfte van besoekers Suid-Afrikaners. 13
  • Die naam Groot Trek is deur Afrikanergeskiedkundiges en ander Suid-Afrikaanse skrywers gebruik om aan te dui dat dit ʼn spesifieke massa-emigrasie van Afrikanerboere was. Die verhuising van mense uit die Kaapkolonie verder die binneland in, het eers in die laat 1900’s die naam Groot Trek gekry. 12
  • Die woord trek was byna uitsluitlik aan die ossewa gekoppel, want dit was die boer se vervoermiddel, ambulans, slaapplek, kombuis, skuilplek en vele meer. Gedurende die 1800’s is die woord trek dus hoofsaaklik in Suid-Afrika gebruik vir mense wat met ossewaens beweeg het. 12
  • Meer as 20 000 mense het aan die Groot Trek deelgeneem. 12
  • In Maart 2022 is die Voortrekkermonument met blou lig verlig as deel van ʼn #RarenessAwareness-veldtog vir seldsame siektes. 14
  • Die Gelofte: ʼn Musiekblyspel is in 2022 op die planke gebring by die AfriForum-teater in Pretoria. Dit volg die gebeure voordat die Gelofte tydens die Slag van Bloedrivier afgelê is. 15

Op ʼn koppie in Pretoria staan ʼn monument, maar nie sommer enige monument nie – ʼn indrukwekkende granietkolos (reus) van ongeveer 62 meter hoog wat vanaf byna enige rigting in Pretoria gesien kan word.

Die Voortrekkermonument vertel die Afrikaner se storie – van die Groot Trek tot by die Anglo-Boereoorlog en selfs meer. Dit is ʼn verhaal van heldemoed, deursettingsvermoë en ʼn toekomsvisie. Dit het 12 jaar se bloedsweet en 60 000 groot granietblokke gevat om die Voortrekkermonument op te rig en geen moeite is ontsien om soveel as moontlik detail, simboliek en hoop vir geslagte wat was én nog gaan kom, vas te lê nie.

Die plan

Die Voortrekkermonument is gebou ter ere van en tot nagedagtenis aan die Voortrekkers. Die yslike granietstruktuur is gebou om die Voortrekkers se gelofte aan God te gedenk ná hulle tussen 1835 en 1854 uit die Kaapkolonie weggetrek het. Dit was die argitek van hierdie majestueuse gebou, Gerard Moerdijk (1890-1958), se ideaal om ʼn monument te ontwerp wat “as ʼn gedenkteken duisend jaar en langer moet staan om aan die nageslagte die geskiedenis en betekenis van die Groot Trek te verduidelik”. Die monument word as Moerdijk (ook as Moerdyk gespel) se magnum opus beskou. 1

Die gedagte om ʼn monument ter ere van die Voortrekkers te bou, is reeds op 16 Desember 1888 bespreek toe pres. Paul Kruger die Geloftedagvieringe by Bloedrivier in Natal (vandag KwaZulu-Natal) bygewoon het. Dit was egter eers in 1931 toe die Sentrale Volksmonumentekomitee (SVK) op die been gebring is dat daar aan dié plan begin werk is. Die SVK is gestig om in beheer te wees van die geldinsameling, ontwerp en oprigting van die monument. Die regering het in 1935 verklaar dat só ʼn monument van nasionale belang is en het ook betrokke geraak by die beplanning en uitvoering van die projek. 1

Die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument het op 16 Desember 1938 plaasgevind. Elf jaar later, op 16 Desember 1949 en teen ʼn totale boukoste van sowat £359 600 (vandag sowat R22 miljoen) is die monument ingewy. Die monument is met die inwyding amptelik deur die regering in ontvangs geneem en aan ʼn beheerraad oorgedra wat dit tot en met 1993 namens die regering bestuur het. Sedertdien word die monument as ʼn maatskappy sonder winsbejag (of winsoogmerk) bestuur. Die privaat maatskappy se hoofdoel is “om die Voortrekkermonument en omliggende natuurreservaat in ontvangs te neem, te behou en vir die nageslag te bewaar”. 1

Die argitek

Gerard Moerdijk se ouers het in 1888 van Nederland na Suid-Afrika geïmmigreer en hy is op 4 Maart 1890 op die plaas Zwaershoek in die distrik Nylstroom (vandag Modimolle) in Limpopo gebore. Tydens die Anglo-Boereoorlog was Moerdijk saam met sy ma, sy twee broers en twee susters in ’n konsentrasiekamp op Standerton (Mpumalanga). Ná die oorlog het die gesin in Pretoria gewoon, waar hy in 1909 met lof aan die Pretoria Boys High School gematrikuleer het. 2

Gerard Moerdijk

Daarna het hy by die Architectural Association School of Architecture in Engeland as argitek gekwalifiseer, waarna hy in Frankryk gestudeer het. Hy is in Italië aan Romeinse en Renaissance-argitektuur blootgestel. In 1913 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en het die eerste prys ontvang vir die ontwerp van ’n kerk in Bothaville in die Vrystaat. Hy het sy eie praktyk gestig en weggebreek van die tradisionele manier waarop kerke tot in daardie stadium ontwerp is. Hy het meer as 80 kerke ontwerp, en van agthoekige ontwerpe, koepels, Kaaps-Hollandse gewels en sirkelvormige vensters gebruik gemaak. 2

Die Voortrekkermonument was Moerdijk se grootste werk. In 1936 het die Sentrale Volksmonumentekomitee (SVK) voorleggings van die publiek aangevra vir die vorm en inhoud van ’n nasionale monument. Verskeie voorleggings is ontvang en Moerdijk se ontwerp is gekies. Die hoeksteen van die monument is op 16 Desember 1938 gelê en die destydse eerste minister dr. D.F. Malan het die monument op 16 Desember 1949 ingewy. 2

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het Moerdijk in 1936 ’n erelid gemaak en die Universiteit van Pretoria het in 1950 ’n eredoktorsgraad aan hom toegeken. 2

Moerdijk het vir byna agt jaar lank nog as argitek gewerk ná die inwyding van die Voortrekkermonument. Hy het saam met sy vrou Sylva na sy plaas in Nylstroom (vandag Modimolle) verhuis. Hy is op 29 Maart 1958 in die ouderdom van 68 jaar oorlede. 2

Die simboliek en die storie

Die Voortrekkermonument is in ʼn Art Deco-styl gebou met elemente van tradisionele Afrika-simboliek wat hulde bring aan die Voortrekkers. 1

Assegaaihek
Die swart ysterhek is in die vorm van assegaaie gegiet. Assegaaie was deel van die wapenrusting van die Zoeloes met wie die Voortrekkers in aanraking gekom het. Die assegaaie stel die mag voor van Zoeloekoning Dingaan (1795-1840) wat die weg na die binneland vir die Voortrekkers wou versper.

Walaer
Die walaer is ʼn mengsel van stukkies marmer, graniet en sement wat as terazzowerk bekendstaan. Die laermuur bestaan uit 64 waens in basreliëf en is ʼn noukeurige afbeelding van die kakebeenwaens waarmee die Voortrekkers die binneland ingetrek het. Elke wa is 4,6 meter lank en 2,7 meter hoog. Laertrek was tradisioneel ʼn verdedigingstegniek wat deur die Voortrekkers in ʼn gevegsituasie gebruik is, waartydens die waens in ʼn sirkel getrek en die gevare van binne afgeweer is. Die 64 waens rondom die monument is dieselfde getal waens wat tydens die Slag van Bloedrivier (16 Desember 1838) gebruik is en verleen simboliese beskerming aan die monument.

Hoekfigure
Die vier hoekfigure van graniet, elk 5,5 meter hoog, stel die Voortrekkerleiers voor. Drie van die figure is bekende Voortrekkerleiers. Die beeld op die noordwestelike hoek stel die leier Andries Pretorius voor. Op die noordoostelike hoek is Piet Retief en op die suidwestelike hoek is Hendrik Potgieter. Die standbeeld op die suidoostelike hoek beeld die Onbekende Voortrekkerleier uit. Hierdie hoekfiguur simboliseer al die ander Voortrekkerleiers – waaronder Louis Tregardt, Sarel Cilliers, Piet Uys en Gerrit Maritz. Die vier hoekfigure vorm ʼn simboliese erewag rondom die monument.

Moeder- en kinderbeeld
Hierdie brons beeldegroep van vier meter hoog is deur die bekende Suid-Afrikaanse beeldhouer Anton van Wouw ontwerp. Die beeld stel ʼn Voortrekkermoeder met haar twee kinders voor en gee ʼn ereplek aan die rol en deelname van die vroue en kinders tydens die Groot Trek. Die beeld is simbolies van die kultuur en Christendom wat deur die vrou gedurende die Groot Trek gehandhaaf en uitgebou is.

Swartwildebeeste
Weerskante van die Moeder- en kinderbeeld, teen die granietmuur, is swartwildebeeste in basreliëf uitgebeeld. Die vier graniet swartwildebeeste stel koning Dingaan se krygers voor. Dit simboliseer die gevare waarteen die vrou haar kinders tydens die Groot Trek moes beskerm, asook die gevare waarteen die Voortrekkers as groep op hul tog na die binneland van Suid-Afrika te staan gekom het. Die simboliek van die swartwildebeeste as koning Dingaan se krygers is op mondelinge oorlewering gebaseer. Volgens oorlewering was daar die aand nadat koning Dingaan en Piet Retief ʼn traktaat op 4 Februarie 1838 rakende grondoordrag onderteken het, ʼn groot lawaai buite Dingaan se stad. Op Piet Retief se vraag aan Dingaan oor wat die lawaai was, het hy geantwoord: “Dit is my regiment van wildebeeste.”

Sigsag-patroon
Bo-om die monument is ʼn lys van driehoekvormige motiewe in ʼn sigsag-patroon. Volgens argitek Gerard Moerdijk is hierdie sigsag-patroon in ou bouwerke en ou geskrifte gebruik om water as ʼn simbool van vrugbaarheid aan te dui. Die sigsag-patroon simboliseer daarom vrugbaarheid en die kulturele nalatenskap van die Voortrekkers wat moes groei.

Buffelkop
Die buffel word as die gevaarlikste verdediger in die Suid-Afrikaanse dierelewe beskou. Die buffelkop van graniet verdedig die monument simbolies teen aanslae van buite. Die buffel is een van die Groot Vyf van Suid-Afrika. Die ander diere wat deel van die Groot Vyf uitmaak, is die leeu, luiperd, olifant en die swartrenoster.

Koepels
Bokant die Heldesaal is ʼn koepel met ʼn groot ronde opening in die middel. Bokant hierdie koepel is ʼn tweede koepel, wat die aardbol voorstel. As die lyne van hierdie tweede koepel deurgetrek word, sal dit die hele monument in een groot sirkel omring. Die boonste koepel is simbolies van die omvang van die Voortrekkers se tog na die binneland.

Vloer
Die Heldesaal se marmervloer is met wyer wordende sirkelpatrone bedek. Hierdie ontwerp, wat watergolfies voorstel nadat ʼn klip in water gegooi is, word wyer totdat dit die hele Heldesaal vul. Die simboliseer die verspreiding van die gees van opoffering wat van die Voortrekkers uitgegaan het, totdat die gevolge daarvan die hele land gevul het.

Senotaaf
Die woord senotaaf is ontleen aan die Griekse woorde kenos wat “leeg” beteken en taphos wat “graf” beteken. ʼn Senotaaf is dus ʼn leë graf. ʼn Sarkofaag is op sy beurt ʼn graf met oorskot daarin. Die senotaaf in die Voortrekkermonument is uit rooi graniet gemaak en vorm die sentrale fokuspunt van die monument. Dit is die simboliese rusplek van Piet Retief en al die ander Voortrekkers wat tydens die Groot Trek gesterf het. Bo-op die senotaaf is die woorde “Ons vir jou Suid-Afrika”, ʼn frase uit Suid-Afrika se eertydse nasionale volkslied, “Die Stem”.

Elke jaar op 16 Desember (die dag waarop die Slag van Bloedrivier in 1838 plaasgevind het), presies om twaalfuur, skyn ʼn sonstraal deur die opening in die boonste koepel van die monument op die senotaaf. Moerdijk het destyds ʼn skaalmodel van die monument gebruik om die posisie van die son tydens die opening van die monument in 1949 te bepaal en die monument kan dus met ʼn groot sonwyser vergelyk word. Die sonstraal is simbolies van God se seën wat op die werk en strewe van die Voortrekkers gerus het.

Vlam
Tydens die eeufeesviering van die Groot Trek in 1938 is ʼn landwye fakkelloop deur die Voortrekkerbeweging, ʼn kultuurbeweging vir die Afrikanerjeug, gehou. Die fakkelloop het by die monument geëindig. Vervolgens is een van die fakkels vir bewaring in die monument in ontvangs geneem. Vandag word die vlam van die fakkel in ʼn bronslamp binne ʼn marmernis in die Senotaafsaal bewaar. Die vlam gedenk die Voortrekkers se bydrae tot ontwikkeling in die binneland.

Hoeksteen
Die hoeksteen van die monument is op 16 Desember 1938 deur drie direkte nasate van die Voortrekkerleiers Andries Pretorius, Piet Retief en Hendrik Potgieter gelê. Die volgende is in die hoeksteen toegemessel: ʼn Eksemplaar van die dagboek van Jan van Riebeeck (stigter van die eerste wit nedersetting in Suid-Afrika); ʼn afskrif van die Piet Retief-Dingaan-traktaat; ʼn afskrif van die Gelofte wat deur ʼn groep Voortrekkers voor die Slag van Bloedrivier afgelê is; ʼn afskrif van die vorige nasionale volkslied van Suid-Afrika, “Die Stem”, asook ʼn Statebybel.

Onder meer Van Riebeeck se dagboek is in die hoeksteen toegemessel.

Kiaatvoordeur
ʼn Groot kiaatvoordeur verleen toegang tot die Heldesaal van die monument. Vier groot boogvensters van geel Belgiese glas omring hierdie asemrowende saal wat die besoeker begroet.

Die marmerfries

Die Heldesaal het ʼn indrukwekkende marmerfries wat 92 meter lank en 2,3 meter hoog is, en bykans 200 ton weeg. Dit bestaan uit 27 panele wat historiese taferele uit die geskiedenis van die Groot Trek uitbeeld en is, net soos die senotaaf, ʼn baie belangrike deel van die ontwerp van die monument. 1

Die marmerfries in wording.

Vier Suid-Afrikaanse beeldhouers was die kunstenaars van die friespanele, naamlik Peter Kirchhoff, Frikkie Kruger, Laurika Postma en Hennie Potgieter. Ten spyte daarvan dat die friespanele se beeldhouwerk deur verskillende kunstenaars gedoen is, vorm dit steeds ʼn unieke eenheid. Nadat die gipsmodelle deur die vier beeldhouers in Suid-Afrika voltooi is, is dit na Italië verskeep waar dit met behulp van ses beeldhouers en 40 beitelaars uit Querceta-marmer gekap is. 1

Romanelli, Moerdijk, Postma, Potgieter en Italiaanse marmerkappers.

Die Voortrekkers verlaat die Kaapkolonie, 1835 (Beeldhouer: Peter Kirchhoff)

Dié paneel stel die vertrek van ʼn trekgeselskap uit die Kaapkolonie uit die omgewing van Graaff-Reinet en Grahamstad voor. Die Trekkers is besig om hul besittings op hul ossewaens te laai. Die Voortrekkers se huishoudelike benodigdhede, plaasgereedskap, musiekinstrumente en vee is op die paneel te sien.

Die Britse Setlaars oorhandig ʼn Bybel aan Jacobus Uys (Beeldhouer: Hennie Potgieter)

Hierdie paneel is ʼn voorstelling van die oorhandiging van ʼn Bybel namens die 1820-Setlaars aan Jacobus Uys, familiehoof van Piet Uys se trekgeselskap. Die Britse Setlaars het in 1820 na die Kaap gekom as gevolg van die depressie in Brittanje. Die Voortrekkers en die Britse Setlaars het onderling ʼn goeie verhouding gehad en het saam aan die Oosgrens van die Kaap teen die Xhosas geveg.

Louis Tregardt by die Soutpansberg (Beeldhouer: Hennie Potgieter)

Nadat verkenners na die binneland gestuur is, het die Voortrekkers besluit om veral die gebiede wat as Transvaal en Natal bekend was, as hul bestemmings te stel. Die Vrystaatse vlaktes was vir hulle nog te naby aan die Kaapse regering. Dié paneel beeld Louis Tregardt en sy geselskap tydens hul verblyf in die Soutpansbergse gebied uit. Tregardt was die eerste Trekker wat die Kaapkolonie in 1835 verlaat het.

Louis Tregardt se aankoms by Lourenço Marques (Beeldhouer: Hennie Potgieter)

Van die Soutpansberg af het Tregardt se trek oor die Lebomboberge en deur die Olifantsriviervallei na Lourenço Marques (vandag Maputo, Mosambiek), begin. Hierdie trek het groot moed en uithouvermoë geverg en ná byna agt maande het hulle die hawevesting Lourenço Marques bereik. Hier het hulle kontak met die Portugese owerhede in Mosambiek gemaak.

Die Slag van Vegkop, 1836 (Beeldhouer: Hennie Potgieter)

Ná Louis Tregardt het Hendrik Potgieter met ʼn betreklike groot groep Voortrekkers die Kaapkolonie verlaat. Sarel Cilliers en sy geselskap het by hulle aangesluit en hulle het Tregardt se roete na Thaba Nchu in die huidige Vrystaat gevolg. Hier is hulle hartlik deur Moroka Il, opperhoof van die Barolong (Wes-Sotho- of Tswanagroep), ontvang. Ook die Bataung (Wes-Sotho- of Tswanagroep) was verheug oor die Voortrekkers se koms. Die Ndebeles, ʼn splintergroep van die Zoeloes, het gedurende hierdie tyd ʼn skrikbewind teen die inheemse groepe in die binneland gevoer.

Die Barolong en die Bataung het gehoop dat die Voortrekkers hulle van die Ndebele-onderdrukking sou verlos. Hierdie paneel beeld die geveg uit by Vegkop, tussen die Wilge- en die Renosterrivier, waar die Potgietertrek in Oktober 1836 deur nagenoeg 6 000 Ndebele-krygers van opperhoof Mzilikazi aangeval is. Die waens was in ʼn laer getrek en selfs die vroue en kinders het aan die geveg deelgeneem deur die voorlaaiers te laai en koeëls te giet. Die Ndebeles is afgeweer, maar hulle het al die vee, insluitende die trekosse, buitgemaak. Die Voortrekkers kon nêrens heen met hul waens nie. Die Barolong het vir hulle trekosse en voedsel gestuur. Die latere president Paul Kruger van die Zuid-Afrikaansche Republiek het as elfjarige seun aan die Slag van Vegkop deelgeneem en word in die middel van die paneel uitgebeeld as die seun wat ʼn voorlaaier met kruit uit ʼn kruithoring vul.

Piet Retief word goewerneur van die Voortrekkers (Beeldhouer: Hennie Potgieter)

Piet Retief se geselskap het in 1837 die trekpad aangedurf. Die Voortrekkers wou onder ʼn gevestigde bestuur leef en daarom het hulle telkens, wanneer die behoefte ontstaan het, op demokratiese wyse ʼn bestuur saamgestel. Kort ná Piet Retief se aankoms by die Vetrivier (ʼn sytak van die Vaalrivier) het sy geselskap by die ander Voortrekkergroepe aangesluit. Daar is besluit om die eerste Voortrekkerbestuur te hersien. Tydens ʼn volksvergadering in 1837 is Piet Retief eenparig tot goewerneur van die verenigde laers verkies. Hy was die hoof van die regering en ook die militêre bevelvoerder.

Die Slag van Gabeni (Kapain), 1837 (Beeldhouer: Hennie Potgieter)

Ná die Slag van Vegkop het die Voortrekkers twee ekspedisies teen die Ndebeles van Mzilikazi onderneem in ʼn poging om hul vee, wat gebuit is, terug te kry. Albei ekspedisies was suksesvol en die Ndebeles is verslaan. Hierdie paneel beeld die tweede ekspedisie uit, die Slag van Gabeni (Kapain) wat in November 1837 plaasgevind het. Die geveg het nege dae geduur en Mzilikazi se koninklike kraal, Gabeni, geleë in die Marico-vallei, is verwoes. Die Ndebeles is oorwin en het noord getrek, die Limpopo oorgesteek en in die huidige Zimbabwe hul nuwe hoofstad, Bulawayo, gestig. Hier het die Ndebeles hul rooftogte teen die Shonas voortgesit.

Onderhandelings met die Barolong (Beeldhouer: Frikkie Kruger)

Die gebeure wat op dié paneel uitgebeeld word, het voor die Slag van Gabeni (Kapain) plaasgevind. Hendrik Potgieter en sy geselskap het die hulp wat die Barolong ná die Slag van Vegkop verleen het, baie waardeer en hulle met geskenke bedank. Die paneel stel die Voortrekkers voor waar hulle by Thaba Nchu met Moroka II, opperhoof van die Barolong, onderhandel.

Verslag van Piet Retief se onderhandelings met die Zoeloes (Beeldhouer: Hennie Potgieter)

Piet Retief wou na die gebied bekend as Natal trek. Vergesel deur ʼn groep manne, het Retief op 14 Oktober 1837 die eerste keer besoek aan die Zoeloekoning Dingaan afgelê. Dingaan was gewillig om grondgebied aan die Voortrekkers te gee in ruil vir beeste wat die Batlokwa (Suid-Sothogroep) van opperhoof Sekonyela, by Dingaan gesteel het. Die ooreenkoms was dat die Voortrekkers hierdie gesteelde vee moes aankeer en aan Dingaan terugbesorg. Die rapportryer op hierdie paneel bring die goeie nuus aan die res van die Voortrekkers dat Dingaan gewillig is om te onderhandel. Daar was ʼn vooruitsig vir ʼn veilige heenkome.

Die verblyf by Kerkenberg (Beeldhouer: Laurika Postma)

Hierdie paneel beeld die vreedsame verblyf uit van die Voortrekkers by Kerkenberg in die Vrystaat. Hulle het daarna uitgesien om uiteindelik in Natal hul eie land met hul eie regering te hê. Retief se dogter, Debora, het op haar pa se verjaarsdag sy naam en geboortedatum (12 November 1837) op ʼn rots by Kerkenberg geverf. Op dié paneel verskyn ʼn presiese weergawe daarvan soos dit sedertdien nog altyd op die rotswand behoue gebly het.

Die tog oor die Drakensberg (Beeldhouer: Frikkie Kruger)

Die Voortrekkers het teen die einde van 1837 begin om oor die Drakensberg na Natal te trek. Die waens se agterwiele is verwyder en boomtakke is aan die agterasse onder die waens vasgebind om die tog te vergemaklik en beveilig. Soms is die waens heeltemal uitmekaar gehaal en stuk-stuk oor die berg gedra. Op hierdie manier is binne ʼn paar weke nagenoeg ʼn duisend waens oor die berg gebring. Die meeste Voortrekkers het in die omgewing van die Bloukrans- en Boesmansrivier vertoef, terwyl Retief en sowat 70 vrywilligers na uMgungundlovu, Dingaan se hoofstad, vir die finale onderhandelings oor grondgebied gegaan het.

Die ondertekening van die traktaat (Beeldhouer: Frikkie Kruger)

Dié paneel beeld die ondertekening uit van ʼn traktaat op 4 Februarie 1838 tussen Retief en Dingaan by uMgungundlovu. Hiervolgens het Dingaan die grondgebied tussen die Tugela- en die Mzimvuburivier aan die Voortrekkers gegee. Nadat die traktaat onderteken is, het Retief dit in die leerbladsak gebêre wat hy oor sy skouer gedra het.

Die moord op Piet Retief en sy manskappe (Beeldhouer: Frikkie Kruger)

Terwyl Piet Retief en sy manne op 6 Februarie 1838 gereed gemaak het om na die res van die Voortrekkers terug te keer, nooi Dingaan hulle weer na sy stad uit. Die Voortrekkers laat hulle wapens buite uMgungundlovu en woon in goedertrou die feestelikhede by. Tydens die verrigtinge gee Dingaan opdrag dat sy krygers die Voortrekkers moet doodmaak. Dingaan het beveel: “Bulalani abathakathi!” wat vertaal kan word as: Maak dood die towenaars!

Retief en sy manne, bestaande uit 70 vrywilligers en 30 bruin agterryers (werkers), is na KwaMatiwane (ook bekend as Moordkoppie) buite uMgungundlovu geneem waar hulle met klippe en stokke doodgemaak is. Retief is tot laaste gelaat. Hy moes eers aanskou hoe sy makkers en sy seun sterf. Dingaan het waarskynlik die hele ooreenkoms heroorweeg en uit vrees vir die Voortrekkers hierdie verraad gepleeg. Die Voortrekkers se oorwinning oor die Ndebeles en die gemak waarmee Retief die gesteelde vee sonder enige geweld van Sekonyela teruggekry het, het Dingaan beïndruk. Hy het die Voortrekkers as ʼn potensiële gevaar beskou.

Die aanvalle op die Voortrekkers by Bloukrans en Weenen (Beeldhouer: Laurika Postma)

Ná die moord op Piet Retief en sy manskappe gee Dingaan aan sy krygers opdrag om die Voortrekkerlaers by Bloukrans en Weenen aan te val. Gedurende die nag van 17 Februarie 1838 word die niksvermoedende Voortrekkers deur ongeveer 10 000 Zoeloekrygers aangeval. Sowat 500 mense sterf in hierdie onverwagte aanval. Roerende verhale van dapperheid en smart het gedurende hierdie nag van verskrikking afgespeel. Die twaalfjarige Johanna van der Merwe het 21 assegaaisteke opgedoen en Catharina Prinsloo 23. Albei het herstel en tot ʼn hoë ouderdom geleef.

Die waarskuwing aan die laers tydens die aanvalle (Beeldhouer: Frikkie Kruger)

Tydens die aanvalle by Bloukrans en Weenen het ʼn groepie Italiaanse smouse hulle in die omgewing van Bloukrans bevind. Hierdie paneel bring hulde aan die dapper Italiaanse vrou wat gedurende die nag van die Bloukransaanvalle die ander Voortrekkerlaers gaan waarsku het. Thérèsa Viglione het te perd van laer tot laer al langs die Boesmansrivier gejaag en gewaarsku dat die Zoeloekrygers op pad is. Haar waarskuwings het die laers in staat gestel om beter voorbereid op die koms van die Zoeloemagte te wees. Waarskynlik is groot lewensverliese deur haar heldedaad voorkom. Die paneel bring ook hulde aan ander dapper vroue wat met die waarskuwings gehelp het.

Dirkie Uys verdedig sy pa, Piet Uys (Beeldhouer: Laurika Postma)

As vergeldingsaksie lei Hendrik Potgieter en Piet Uys ʼn strafekspedisie teen Dingaan. Op 18 April 1838 word Uys en sy kommando in ʼn kloof by Italeni in ʼn hinderlaag gelei. Uys en sy twaalfjarige seun Dirkie, wat probeer het om sy pa teen die Zoeloemagte te beskerm, sneuwel albei. Die strafkommando het nou ʼn vlugkommando geword.

Potgieter word gekritiseer omdat hy nie sy manne ook in die kloof laat ingaan het nie. Dit is een van die redes waarom hy besluit het om na Transvaal terug te keer. Die omstandighede vir die Voortrekkers in Natal was beroerd. Retief en Uys is dood, Potgieter is terug na Transvaal en die ander leier, Gerrit Maritz, was ernstig siek. Die Voortrekkers het ʼn dringende behoefte aan ʼn sterk leier gehad, want almal het geweet dat ʼn finale afrekening met die Zoeloes onvermydelik was.

Marthinus Oosthuizen se heldedaad (Beeldhouer: Laurika Postma)

Die gebeure wat op hierdie paneel uitgebeeld word, het in Februarie 1838 tydens die Zoeloemagte se aanvalle by Bloukrans en Weenen plaasgevind. Die sestienjarige Marthinus Oosthuizen was besig om perde uit die veld terug te bring in die omgewing van die Van Rensburg-laer. Dié laer is deur die Zoeloekrygers aangeval waartydens Oosthuizen die Van Rensburgs gaan help verdedig het. Die Van Rensburgs se ammunisie het opgeraak en hulle was weerloos teen ʼn koppie vasgekeer. Oosthuizen het op sy perd, Swartjie, tussen die honderde Zoeloekrygers deurgejaag om vir die Van Rensburgs kruit te neem. Die hele Van Rensburg-laer is deur die heldedaad van Oosthuizen van ʼn gewisse dood gered.

Die vroue moedig die mans aan (Beeldhouer: Laurika Postma)

Hierdie paneel bring hulde aan die Voortrekkervroue. Die mans wat op hierdie paneel uitgebeeld word, is mismoedig en twyfel of hulle nie dalk na die Kaapkolonie moet terugkeer nie. Die vroue daarenteen se houding spreek van innerlike krag en hulle bemoedig die mans. Die vroue op die trekpad het altyd hulle mans getrou bygestaan en in krisistye moreel ondersteun. Ten spyte van groot smart en ontbering, het die vroue steeds hul kinders nougeset opgevoed en ʼn Christelike leefwyse gehandhaaf. Die paneel het spesifiek betrekking op die voorval toe Susanna Smit, die eggenote van eerwaarde Erasmus Smit, gesê het hulle sal eerder kaalvoet oor die Drakensberg stap, as om onder Britse bewind te staan.

Die aankoms van ʼn nuwe leier, Andries Pretorius (Beeldhouer: Laurika Postma)

Andries Pretorius was ʼn welgestelde en gesiene Oos-Kaapse boer wat uitgeblink het in die Britse optrede teen die Xhosas op die Oosgrens. Pretorius het die Voortrekkers ʼn paar keer besoek. Hulle ken hom dus en nooi hom om hul leier in Natal te word. Pretorius aanvaar die uitnodiging en kom op 22 November 1838 by die Voortrekkers in Natal aan. Pretorius was ʼn sterk leier en as kommandant-generaal het hy onmiddellik begin om die Voortrekkers te herorganiseer en te motiveer. Met 64 waens, sowat 500 perde en 900 trekosse vertrek Pretorius en sy burgers vir die beslissende geveg teen die Zoeloemag. Pretorius se kommando het uit nagenoeg 464 manskappe en ʼn onbekende aantal agterryers bestaan.

Die Gelofte word afgelê (Beeldhouer: Laurika Postma)

Dingaan kon in hierdie stadium ʼn baie goed georganiseerde krygsmag van tot 40 000 man mobiliseer. Uit ʼn menslike oogpunt het dit haas onmoontlik gelyk om hierdie mag te stuit. Die Voortrekkers, met hul onwrikbare geloof in God, het onder leiding van Sarel Cilliers en Andries Pretorius besluit om ʼn gelofte aan God te doen. Die Voortrekkers het hulself as die draers van die Christendom na die binneland beskou en het geglo só ʼn gelofte is hul enigste hoop. In die gelofte wat hulle afgelê het, beloof hulle God dat, as Hy aan hulle die oorwinning oor die Zoeloemag sou gee, hulle daardie dag altyd as ʼn dag van danksegging sou gedenk.

Hulle sou ook ʼn kerk bou om die oorwinning te gedenk. Die Gelofte is op 9 Desember 1838 die eerste keer afgelê en is daarna elke aand tot en met 15 Desember herhaal. Volgens beskikbare inligting het die hele kommando die Gelofte afgelê. Die ondertoon van die Gelofte was nie vrees nie, maar ʼn onwankelbare geloof in God. Op dié paneel staan Sarel Cilliers op die kanon, genaamd Grietjie, tydens die aflegging van die Gelofte.

Die Slag van Bloedrivier, 16 Desember 1838 (Beeldhouer: Peter Kirchhoff)

Teen 15 Desember 1838 verneem Pretorius van sy verkenners dat die Zoeloemag baie naby is. Die kommando trek dadelik laer op ʼn ideale plek, naamlik by die samevloeiing van die Ncomerivier en ʼn diep donga. Die donga het die laer aan die suidekant beskerm en ʼn seekoeigat het die laer aan die oostekant beskerm. Veghekke van doringtakke het die openinge tussen die waens versper en die kanonne is strategies in die rigting geplaas waarvandaan die aanval verwag is. Die Voortrekkers was bang dat die Zoeloes oudergewoonte gedurende die nag sou aanval en het lanterns aan sweepstokke aan die waens gehang.

ʼn Zoeloe-aanval in die nag sou die laer oorrompel het, aangesien hulle met hul getalle ʼn oormag sou hê. ʼn Wydverspreide en digte mis, ʼn ongewone verskynsel vir daardie tyd van die jaar, het die laer dié nag bedek. Verdeeldheid het onder die Zoeloekrygers ontstaan. Sommige wou gedurende die nag aanval en ander die volgende dag. Baie Zoeloekrygers was uit bygelowigheid bang oor die mistigheid. Hulle het geglo dit is die voorvadergeeste van die Voortrekkers wat hulle beskerm. Die Zoeloekrygers het gewag tot 16 Desember.

Duisende krygers in regimente, elk met sy eie kleur skild, het die laer omsingel. Wat menslik onmoontlik gelyk het, het gebeur. Die handvol Voortrekkers het tussen 12 000 en 15 000 Zoeloekrygers oorwin tydens ʼn geveg wat ongeveer vyf uur geduur het. Bykans 3 000 Zoeloekrygers het gesneuwel en slegs drie Voortrekkers, waaronder Pretorius, is gewond. Op die paneel word die oomblik uitgebeeld toe die vlugtende Zoeloekrygers deur die Voortrekkers agternagesit word. Omdat baie Zoeloekrygers gedood is terwyl hulle die rivier probeer oorsteek het, het die Voortrekkers die rivier Bloedrivier genoem. Op 20 Desember het die kommando uMgungundlovu bereik – verlate en afgebrand. Hier vind hulle Retief en sy manne se beendere, asook Retief se bladsak met die ondertekende traktaat nog steeds daarin.

Die Geloftekerk word gebou (Beeldhouer: Peter Kirchhoff)

Deur die Geloftekerk te bou, het die Voortrekkers aan hul onderneming met die aflegging van die Gelofte gestand gedoen. Die kerk is in 1840 in Pietermaritzburg in Natal opgerig. Hierdie paneel beeld die bou en bouers van die kerk uit, asook die mans wat die straatblokke vir die nuwe dorp uitmeet.

Die gebeure by Saailaer (Beeldhouer: Peter Kirchhoff)

Hierdie paneel gee ʼn voorstelling van ʼn vrouelaer ʼn paar maande ná die Slag van Bloedrivier. Links op die agtergrond vertrek die mans op ʼn verkenningstog as deel van hul krygsdiens. Die vroue op die linkerkant van die paneel bewerk die grond deur te ploeg, koring te saai en groente te plant – vandaar die naam Saailaer. Die laer is sporadies deur Zoeloes aangeval, maar die aanvalle is telkens suksesvol deur die vroue afgeweer.

Die nuwe Zoeloekoning, Mpande (Beeldhouer: Frikkie Kruger)

Dingaan het koning van die Zoeloes geword nadat hy sy halfbroer, koning Shaka, in 1828 laat vermoor het. Hy het ook ʼn hele paar ander mense wat hy nie vertrou het nie, laat doodmaak. Hy het egter nie sy halfbroer Mpande laat doodmaak nie, omdat hy hom nie as ʼn bedreiging beskou het nie. Ná die Slag van Bloedrivier ontstaan verdeeldheid onder die Zoeloes. ʼn Groot aantal volg Mpande en uiteindelik word Dingaan se magte deur dié van Mpande by die Maqongqo-heuwels verslaan. Mpande word in Februarie 1840 amptelik as Zoeloekoning gekroon. Op die paneel staan Mpande op ʼn groot rots met Andries Pretorius langs hom. Die Voortrekkers lig hul hoede uit eerbetoon en die Zoeloekrygers roep die koninklike saluut, “Bayetel!”, uit.

Die dood van die eertydse Zoeloekoning, Dingaan (Beeldhouer: Laurika Postma)

Nadat sy magte verslaan is, het Dingaan en ʼn aantal van sy vroue noordwaarts oor die Pongolarivier na Swaziland gevlug. Hy is in Maart 1840 deur ʼn groep krygers van die Swazi’s, ʼn noordelike Nguni-groep, in die Lebomboberge op die grens van die huidige KwaZulu-Natal en Swaziland vermoor. Vroeër was Dingaan en die Swazi’s aartsvyande en dus is die moord op Dingaan sonder enige huiwering uitgevoer. Dingaan se graf is in die Hlatikulu-woud in die Lebomboberge geleë.

Die Voortrekkers verlaat Natal (Beeldhouer: Frikkie Kruger)

Die Voortrekkers in Natal het geglo dat hulle uiteindelik hul ideaal om selfbeskikking verwesenlik het. Hulle noem hul republiek die Republiek Natalia. Hulle het oor hul eie grondwet en vlag beskik. In 1843 word Natal egter amptelik deur Brittanje geannekseer (in besit geneem). Baie van die Voortrekkers was nie bereid om weer onder die Britse juk te woon nie en was ongelukkig met die Britse bestuurstelsel. Die onsimpatieke wyse waarop die Voortrekkers se grondgebiedsake deur die Britte hanteer is, het tot groot ontevredenheid onder die Voortrekkers gelei. Vervolgens het baie van die Voortrekkers besluit om weer oor die Drakensberg terug te keer om iewers in die binneland hul vryheid te soek. Hierdie paneel beeld die terugtog oor die Drakensberg uit.

Die ondertekening van die Sandrivier-konvensie (Beeldhouer: Peter Kirchhoff)

Dié paneel sluit die uitbeelding van die Groot Trek op die historiese fries af. In Januarie 1852 word die Sandrivier-konvensie onderteken. Twee spesiale kommissarisse, naamlik W.S. Hogge en C.M. Owen het namens Brittanje die verdrag onderteken. Andries Pretorius het die Voortrekkers verteenwoordig. Ingevolge hierdie konvensie het Brittanje die onafhanklikheid van die gebied noord van die Vaalrivier, naamlik Transvaal, amptelik erken. ʼn Nuwe republiek, die Zuid-Afrikaansche Republiek, kom as uitvloeisel van hierdie ooreenkoms tot stand. Twee jaar later word die Bloemfontein-konvensie in Februarie 1854 onderteken, ingevolge waarvan die Vrystaat se onafhanklikheid erken word. Die nuwe republiek heet die Oranje-Vrijstaat. Vir die Voortrekkers was die totstandkoming van hierdie twee onafhanklike republieke baie belangrik. Hieraan het hulle die sukses van die Groot Trek gemeet.

Die Gelofte

“Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ʼn gelofte aan Hom te doen dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons dié dag en datum elke jaar as dankdag soos ʼn Sabbat sal deurbring, en dat ons ʼn huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.” 1

Volkspel- tablo, 1949.
‘n Model van die Geloftekerk.

Tapisserieë

In Mei 1952 het Nellie Kruger daaraan gedink om ’n reeks historiese tapisserieë vir die Voortrekkermonument te maak wat die vrou se rol in die geskiedenis van die Groot Trek (1835-1854) beklemtoon. Die voorstel is tydens die jaarvergadering van die Vrou-en-Moederbeweging van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) aanvaar. W.H. Coetzer het die panele op dubbelgeweefde tapisseriegaas geskilder en die historikus dr. G.D. Scholtz het vir hom raad gegee oor die historiese korrektheid van die uitbeeldings. ’n Verskeidenheid van 130 kleure wol is gebruik en die reeks bestaan uit 3 353 600 naaldwerksteke. Nege vroue het die panele binne agt jaar voltooi. 3

Laas-wa

’n Oorspronklike kakebeenwa uit die Groot Trek staan tans in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument. Hierdie ossewa is die tweede oudste ossewa in die land en is deur Gert Maritz gebou. Die wa het behoort aan Andries Marthinus Laas en sy vrou Sara. Dit het die hele Groot Trek oorleef en is die enigste van die 64 waens by Bloedrivier wat behoue gebly het. Ná die Groot Trek is die wa by Amersfoort Laerskool vir 83 jaar versorg. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het in samewerking met die Laas-familie en Barend Uys ’n proses gefasiliteer om hierdie kosbare ossewa in die sorg van die Voortrekkermonument te plaas. 3

Die Nagmaalwa

S.P. (Fanie) Botha het saam met sy pa op die plaas Rietspruit geboer en het dié wa laat maak met die oog op die Simboliese Ossewatrek van 1938 (die Groot Trek se honderdste herdenking). Die wa het deelgeneem aan die 1938-Eeufeesvieringe in Heidelberg en is later hoofsaaklik tydens Geloftefeeste gebruik. Gedurende die laat 1960’s is die wa aan die Normaalkollege Pretoria (NKP) geskenk waar dit in die ingangsportaal van die kollege gestaan het. Ná die verskuiwing van die kollege is die wa, ná vele omswerwinge, aan die Voortrekkermonument geskenk. Die wa is in 2003 deur Erik Holm gerestoureer en die tradisionele skilderwerk is deur Elsabé Holm gedoen. Die Voortrekkermonument beskik oor ’n versameling historiese ossewaens wat op die terrein uitgestal word. 3

Vroeë foto van Normaal Kollege, Pretoria

Fort Schanskop

Ná die Jameson-inval in 1896 het pres. Paul Kruger van die Zuid-Afrikaansche Republiek besluit om Pretoria te verdedig deur forte op strategiese plekke te laat bou. Aanvanklik sou agt forte gebou word, maar weens ’n tekort aan fondse is slegs vier voltooi. Drie van die vier, waaronder Schanskop, is deur Duitsers ontwerp. Dit vorm vandag deel van die Voortrekkermonumentterrein.

Fort Schanskop.

Inwyding

Die Voortrekkers het in 1938 die Groot Trek se honderdste herdenking en die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument met ’n fakkelloop gevier. Die feesfakkel is op 30 November in Kaapstad aangesteek en is die aand van 15 Desember 1938 by Monumentkoppie in Pretoria ontvang. Dié fakkel is toe in veilige bewaring by die Universiteit van Pretoria (UP) bewaar en brandend gehou. Op 16 Desember 1949, met die inwyding van die Voortrekkermonument, het 3 000 Voortrekkers op Monumentkoppie gekamp, en toe die 1938-fakkelvlam vanaf die UP na die Senotaafsaal gebring. 4

Die hoeksteen van die Voortrekkermonument is op 16 Desember 1938 gelê en 11 jaar later, op 16 Desember 1949, is die monument ingewy. Die Voortrekkermonument is deur die destydse eerste minister dr. DF Malan ingewy. Die totale boukoste van sowat £359 600 was grootliks bygedra deur die Suid-Afrikaanse regering. 5

Sowat 250 000 feesgangers het die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 bygewoon. 6

Die inwyding van die Voortrekkermonument.

Wat kan ‘n mens alles by die Voortrekkermonument doen?

Danie Hough, die destydse administrateur van Transvaal, het op 14 Julie 1992 aangekondig dat 341 hektaar om die monument tot ’n unieke natuurreservaat geproklameer is. Op Vrydag 25 Junie 1993 is die eerste wild, naamlik sebras en blesbokke, in die natuurreservaat losgelaat. Die Voortrekkermonument beskik oor unieke natuurlewe op die terrein. Dit bied groot opwinding vir besoekers om die wild te identifiseer. Bosbokke, rooihartebeeste, swartwildebeeste, rooibokke, springbokke, blesbokke en bontsebras is onder meer hier te sien. 3

Die Voortrekkermonument is meer as net ’n erfenisbewaringsterrein. Behalwe vir die geskiedenis, is die Voortrekkermonument ook ’n plek van ontspanning: Dit is die ideale plek om – in Afrikaans – te kom piekniek hou, stap, koffie drink en aan avontuuraktiwiteite deel te neem. Jy kan selfs jou troue hier hou! 3

  • Die klipkapel met ’n grasdak is teen die hange van die Voortrekkermonumentterrein geleë en met unieke houtstoele gemeubileer.
  • Die Fort Schanskop Amfiteater is ideaal vir musiekkonserte en byeenkomste, en is ’n pragtige buitelugarea wat gebruik word vir onthale, jeuggroepaktiwiteite en kerkdienste.
  • Die Fort Schanskop-lapa is die perfekte area vir ’n braai, verjaarsdagviering of jaareindfunksie. Met die asemrowende uitsig oor Pretoria sal jy nie vir een oomblik spyt wees nie.
  • Die Voortrekkermonument is ’n unieke Suid-Afrikaanse erfenisskat en leen hom uitstekend tot eksklusiewe klassieke musiekuitvoerings en kooroptredes. Die akoestiek in die Heldesaal (781 m²) vergelyk baie goed met dié van Europese katedrale en het ’n nágalm van ses sekondes.
  • Die Senotaafsaal (1 824 m²) is vanweë sy geestelike sensitiwiteit veral vir stemmige aktiwiteite geskik.
  • Die Voortrekkersaal (496 m²) bied die geleentheid om te onthaal, fees te vier en konferensies te hou.
  • Die FAK Afrikaanse Liedjietuin is op die Voortrekkermonumentterrein geleë. Hier is ’n roos van elke kleur en ter ere van verskeie kunstenaars. In 2021 was daar reeds meer as 210 rose, waaronder ʼn roos vir Afrikaans se 90ste verjaarsdag en ʼn “Ons vir jou”-roos vir die 100-jarige herdenking van die vorige nasionale volkslied, “Die Stem”.

  • Die Transvaalkamer is ryk aan Afrikanergeskiedenis en ’n goed toegeruste vertrek vir kleiner/intiemer vergaderings, seminare of konferensies.
  • Die Kruger-galery is die ideale plek om ʼn seminaar of werkswinkel aan te bied.
  • Die Amfiteaterdak (3 750 m² onderdak) is net wat jy nodig het vir ’n mark, musiekfees en nog vele meer.
  • Die alombekende Voortrekkermonument-amfiteater is groot genoeg vir 30 000 persone. Die amfiteater kan gebruik word vir groot musiekfeeste, konserte, gedenkdienste en ander groot geleenthede.
  • Laat jou fietswiele sing op die stofpaaie van die Voortrekkermonument se terrein terwyl jy terselfdertyd ’n pragtige uitsig kan geniet. Miskien is jy net lus vir ’n Saterdaguitstappie in die veld. Dit maak nie saak hoe jy die natuur wil geniet nie, hier is avontuur vir jou! Dit is geleë in ’n veilige, omheinde natuurreservaat met ’n wye verskeidenheid diere en blomsoorte.
  • Adventure Zone bied aktiwiteite vir oud en jonk. Van die aktiwiteite sluit in boogskiet en vierwielmotorfietsry.
  • Die Voortrekkermonument se eie skoolkombuis, Skool op Wiele, is ’n koffiehuis skuins oorkant die Voortrekkermonument geleë. Vetkoeke, jaffels, boereworsrolle en pannekoek is van die heerlike disse wat jy saam met ʼn koppie koffie kan geniet.

  • Die Uitspan-kiosk is beskikbaar vir vinnig voorbereide, ligte versnaperings, peuselhappies en iets om die dors te les, voor of ná jou uitstappie na die Voortrekkermonument. Die kiosk is aan die westekant van die trappe na die monument geleë.

  • De Afrikander Handelshuis verkoop eg Suid-Afrikaanse produkte. Hier kan jy enigiets aanskaf van Afrikaanse T-hemde, handsakke, hoede, skoene en aandenkings van die Voortrekkermonument tot poskaarte, linne en juweliersware.

Die Voortrekkermonument bied ook argiefdienste. In die argiewe is daar dokumentversamelings, foto’s, skaars koerante, argitektekeninge, kaarte en oudiovisuele materiaal. Daar is, onder meer, argiefversamelings van die Voortrekkermonument wat dateer vanaf 1931 tot 1993 en van die Afrikanerbond wat dateer vanaf 1918 tot 1994. ’n Uitgebreide versameling foto’s van die Anglo-Boereoorlog is beskikbaar, asook unieke materiaal oor die ontstaan van die Voortrekkermonument. 7

Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika huisves sy boekversameling by die Navorsingsentrum. Persone wat hul familiegeskiedenis wil navors, kan dit hier kom doen. 7

Die Naslaanbiblioteek word in die nuwe, moderne Erfenissentrum gehuisves en bevat nagenoeg 15 000 bronne wat boeke, tydskrifte, pamflette, verhandelings en ander elektroniese bronne insluit. 7

Die Voortrekkermonumentmuseum versamel en dokumenteer voorwerpe en inligting wat verband hou met die Groot Trek-periode (1834-1854), Groot Trek-herdenkings, en die Voortrekkermonument en sy geskiedenis. 7

Die Fort Schanskop-museum versamel en dokumenteer voorwerpe en inligting wat verband hou met die tydperk wat strek van die Jameson-inval in 1897 tot ná die afloop van die 1914-rebellie. Die militêre geskiedenis van die Zuid-Afrikaansche Republiek tydens die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) en die Tweede Vryheidsoorlog, ook bekend as die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), en die geskiedenis van die fort vanaf 1897 tot vandag. 7

Die Pioniersentrum bied allerhande opvoedkundige toere aan vir leerders van graad 1 tot graad 6 oor, onder meer, die oorsake, geskiedenis en betekenis van die Groot Trek; die bou, simboliek en betekenis van die monument; migrasiepatrone in suidelike Afrika; en die ontwrigting wat die Groot Trek meegebring het. 8

Die Erfenisstigting, ook geleë op die terrein van die Voortrekkermonument, sorg dat die kern van die Afrikanerkultuur en -geskiedenis behoue bly deur middel van sy argief, biblioteek en museumstoor. Die Erfenisstigting is ook aktief betrokke by die beskerming en bewaring van verskeie Afrikaner-erfenisterreine reg oor Suider-Afrika. 9

ʼn Herdenkingsmuur vir lede van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) is op die Voortrekkermonument-erfenisterrein opgerig ter ere van SAW-lede wat aan diens gesterf het. Die muur is op 25 Oktober 2009 ingewy en meer as 1 000 mense het die geleentheid bygewoon. Bykans 100 kranse en kruise is tydens die inwydingsplegtigheid gelê en geplant. Daar is byna 2 500 name op die Muur van Herinnering. ʼn Verdere 27 name is onlangs bygevoeg van SAW-lede wat tussen 1961 en 1994 onder kwalifiserende omstandighede gesterf het. 3

Die gedenktuin bied die geleentheid vir families om die Voortrekkermonumentterrein hul geliefdes se laaste rusplek te maak. Die nistuin het reeds honderde families die gemoedsrus gegee dat hul naasbestaandes se oorskot veilig bewaar word. 3

Woordbank

Anglo-Boereoorlog Oorlog tussen die twee Boererepublieke, die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR of Transvaal) en die Republiek van die Oranje-Vrystaat, en die Britse Ryk wat van Oktober 1899 tot Mei 1902 in Suid-Afrika geveg is. 16
argief Versameling/bewaarplek van dokumente/registers/kaarte/geskrifte/ens. wat met ʼn staat/dorp/vereniging/onderneming/ens. verband hou.
Art Deco Gewilde Europese en Amerikaanse kunsstyl van die 1920’s en 1930’s, gekenmerk deur eenvoudige vorms/fatsoene.
basreliëf Halfverhewe beeldhouwerk.
buitmaak As buit in besit kry; verower.
dolos Beentjie in die hakskeengewrig van ’n skaap/bees, as waarsêmiddel gebruik en ook as speelding vir kinders.
donga Droë spoelsloot.
eerste minister Hoof van ’n verkose regering of van ’n kabinet in sekere regerings.
ekspedisies Lang, deeglik beplande reis, veral na ’n onbekende/gevaarlike plek; ondersoekingstog.
emigrasie Verlating van jou eie land om in ’n ander land te gaan woon; landverhuising.
fakkel Stok met ’n brandende vlam aan die een punt.
fries Versierde, horisontale strook/band, soms boaan die muur van ’n gebou, tussen die argitraaf en kroonlys, of in ’n vertrek, net onder die plafon, of aan die borand van ’n vaas/ens. aangebring.
Geloftedag Vroeër, amptelike benaming vir die openbare vakansiedag van 16 Desember, tans Versoeningsdag.
geselskap Al die mense wat gewoonlik ’n persoon van aansien vergesel; gevolg.
gewels Boonste, driehoekige gedeelte van ’n muur, ingesluit tussen twee hellende en snydende dakvlakke.
Groot Trek Die massa-migrasie, vanaf 1835, van Kaapse Nederlandssprekende burgers na die Suid-Afrikaanse binneland om, onder meer, weg van Britse beheer af te kom.
Groot Vyf ʼn Groep wildediere wat oorspronklik die mees gesogte was in Afrika vir wildjagters (leeu, olifant, buffel, luiperd en renoster). Hierdie diere is gekies omdat hulle besonder moeilik is om te jag, en nie vir hul grootte nie.
geïmmigreer Van ’n ander land kom om jou permanent in ’n land te vestig.
juk Iets wat ’n las/plaag/beproewing is; simbool van dwang/slawerny.
kakebeenwaens Outydse soort wa met hoë versierde syplanke of lere in plaas van bokbalke; leerwa; Voortrekkerwa.
konvensie Formele ooreenkoms, veral tussen lande, oor bepaalde reëls/gedrag.
kryger Krygsman; stryder; vegter.
magnum opus Groot/belangrike werk in die kuns/musiek/letterkunde, dikwels as die betrokke kunstenaar/skrywer se heel belangrikste werk beskou.
manskap Soldaat, gewoonlik van die laagste rang.
nasaat Nakomeling; afstammeling van iemand.
nis Uitholling in ’n muur, veral vir ’n beeldjie.
nougeset Behoudend, veral op sedelike gebied.
ontbering Gebrek aan noodsaaklike dinge.
oorlewering Mondelinge oorvertelling; tradisie.
rapportryer Iemand wat so gou moontlik, militêre rapporte/berigte oor en weer aflewer, meestal te perd.
regiment Afdeling van ’n leër onder die bevel van ’n kolonel of ’n luitenant-kolonel.
setlaars Iemand wat hom/haar in ’n nuwe land/kolonie vestig; immigrant.
sneuwel Op die slagveld sterf/val.
snuifdosie Boksie (dikwels ornamenteel) waarin ʼn kleinerige hoeveelheid snuif gehou word, en wat gewoonlik deur die snuiwer saamgedra word.
taferele Skildery; tekening van ʼn situasie; gebeurtenis.
terrazzo Kunsmarmer.
vergelding Straf; wraakneming; afrekening.
verraad Gedrag waarin jy nie lojaal bly teenoor jou land of teenoor iemand wat jou vertrou nie, veral as jy deur jou optrede sy/haar vyande help; skending van vertroue.
Voortrekkers Persoon wat omstreeks 1836 aan die Groot Trek deelgeneem het.
winsbejag Begeerte/wens om wins te maak; niewinsgewend.

Lees hierdie om meer oor die Voortrekkermonument te wete te kom

Kyk hierdie video’s om nog meer oor die Voortrekkermonument te leer

Die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949
“Die Gelofte” (amptelike musiekvideo)

“Voortrekkermonument” (Robbie Wessels)

Die geskiedenis en betekenis van die Voortrekkermonument – Deel 1

Die geskiedenis en betekenis van die Voortrekkermonument – Deel 2

Bloemfonteinse Konferensie

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 7 Julie 2022 | Bygewerk op 11 April 2024