Oor ons

Weet is 'n aanlyn ensiklopedie en e-naslaangids vir leerders. Met dié platform wil ons aan leerders toegang gee tot goeie gehalte, betroubare inligting in Afrikaans, aanvullend tot die skoolkurrikulum, wat hulle in staat sal stel om naslaanwerk vir skooltake en -opdragte in Afrikaans te doen. Sodoende dra ons by tot Afrikaans-moedertaalonderrig op skool. Elke kind wat moeg is vir swoeg en sweet, kan uitvind by Weet! Weet is 'n inisiatief van Maroela Media.

Ontmoet Weet se span

Petronel Fourie

Weet se projekbestuurder

Vind diepgebraaide roomys vreemd; ʼn lewende bewys dat Brakpan goeie dinge oplewer; wil nog graag valskerm spring.

Elana Barker

Weet se inhoudsbestuurder

Elf jaar lank Afrikaans onderrig; Kalahari-kind; mal oor stories; wil graag deur Nederland toer.

Annami Simon

Weet se teksredakteur

Was al in Doebai, maar verkies Namakwaland; speel graag viool; wil nog Auschwitz besoek; sou ook in die teaterwêreld wou werk.

Monique Rabé

Dosent by NWU en taalpraktisyn vir Weet

Voormalige hokkiebokkie; het al krokette in België geëet; as sy weer ʼn beroep kon kies sou sy ʼn geoktrooieerde rekenmeester wees; het ʼn tweelingsussie.

Dawid Brand

Eienaar van Aksent en skrywer vir Weet

Was ʼn provinsiale tennisspeler op sy dag; groot koffiedrinker; wil sy vrou en kinders Parys, Frankryk, toe neem vir hul 21ste huweliksherdenking; rys-vleis-en-aartappels-tipe ou.

Jopie Koen

Eienaar van Pierneefteater en skrywer vir Weet

Mal oor enige vorm van brood; die perd wat haar skool te geneem het se naam was Japie; is ʼn kranige vlugbalspeelster; geniet wat sy doen en sou niks daarvan anders wou hê nie.

Zerelda Esterhuizen

Vryskutjoernalis en -teksredakteur en skrywer vir Weet

Doen joga en pilates en kyk graag die ander sportsoorte; wil Afrika nog verken en ‘n boek skryf; sou ook ‘n argeoloog wou word, of iemand wat pandabere vryf en kos gee.

Marelize Swanepoel

Vryskut-historikus, onderwyser en skrywer vir Weet

Het al ‘n gedroogde muis geëet; moes deur die Rio Grande-rivier swem om in Mexiko te kom; wil ‘n Lord of the Rings-toer deur Nieu-Seeland doen; sou ook ekonoom of rugbykommentator wou word.

Ilze Nieuwoudt

Publikasiebestuurder by AfriForum Uitgewers en skrywer vir Weet

Vind dit onmoontlik om ’n frikkadel se vorm behoue te laat bly in die kombuis; sou graag ‘n speurder wou word; droom daarvan om die Camino de Santiago te stap en ’n skrywerssabbatsjaar op die Franse/Italiaanse platteland neem.

Sophia Kapp

Skrywer, taalpraktisyn en skrywer vir Weet

Het al iets bruins en glibberigs in Hongkong geëet; wil nog ʼn opera in die Mariinski beleef; sou ook ‘n sjokolateur of oesterboer wou wees.

Stefan van Zyl

Afrikaanse taalnavorser en -skrywer vir Weet

Speel graag tennis; was al in Monaco; wil nog die Noorderligte in Noorweë sien; sal graag Afrikaans en Nederlandse letterkunde doseer.

Halrika Breytenbach

Kommunikasiekonsultant en skrywer vir Weet

Moenie vir haar afval opdis nie; lief vir ʼn broodjie; Namakwaland is ʼn groot deel van haar grootwordjare; wil graag nog oorsee reis saam met haar gesin.

Rudi de Beer

Departementshoof van
Intermediêre Fase by
Laerskool Du Preez van Wyk en SW-kundige vir Weet

Dieselfde eienskappe van ʼn brandrissie; sal krokodil en kangaroovleis eet; wil graag ʼn reis deur die VSA aanpak; sou graag wou boer.

Jacques du Plessis

Vakhoof by Laerskool Tygerpoort en NW-kundige vir Weet

Het al oor die waters onderrig; sy ma se baba; baie lief vir vleis, maar sal dit eenkant toe kan skuif en al sy groente eers eet; sal nie omgee om ʼn skeepskaptein of ʼn vlieënier te wees nie.

Lea Brink

Onderwyser by Pinnacle College Kyalami en KK-kundige vir Weet

Kranige danseres; was al in Switserland maar wil graag Franse sjampanje saam met haar man in die tuine van Parys geniet; sou wynmaker wou word.

Hildegard Brummer

Wolkskool-dosent en Wiskunde-kundige vir Weet

Voormalige perdryafrigter en stalbestuurder; wil nie haar tande in krokodilvleis slaan nie; skop haar dag af met iets wat onder twee minute neem; sou weer met perde wou werk.

Sandra Adendorff

Dosent by Akademia en
EBW-kundige vir Weet

Het al ʼn vreemde piesang in Ghana geëet; hou van draf; lief vir mense en verlang haar kinders in Nieu-Seeland; sal die eerste kans aangryp om weer te kan ‘paraglide’.

Hettie Bensch

Departementshoof van Opvoedkundige Leiding en LV-kundige vir Weet

Lief vir Parys, Frankryk, maar nie hul taai eendborsies nie; sou ‘n atleet wou wees; wil nog saam met dolfyne swem; sou ook opvoedkundige sielkundige kon wees.

Ontmoet Weet se vennote

Die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) is ‘n lae profiel, vennootskapgedrewe organisasie wat ten doel het om gehalte Afrikaanse onderwys volhoubaar in ‘n pyplyn van voorskoolse tot op tersiêre opleidingsvlak te bevorder. Die AON fokus op die instandhouding, groei, versterking en ondersteuning van gehalte Afrikaanse moedertaalonderwys in Suid-Afrika deur die vestiging van ‘n netwerk wat bekwame en toeganklike ondersteuning aan skole, onderwysers en onderwysinstellings bied.<br>

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou. Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied, wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.
Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) is ‘n navorsingsinstituut en diensverskaffer vir Afrikaans in digitale kontekste. VivA se hoofdoelstellings is om die gebruik en gehalte van Afrikaans plaaslik en internasionaal uit te bou deur die beskrywing en bestudering van Afrikaans in sy volle omvang; die ontwikkeling van omvattende digitale en ander hulpbronne, hulpmiddele en platforms vir gesproke en geskrewe Afrikaans; en die lewering van ‘n praktiese Afrikaanse taaldiens deur middel van tegnologie.
Die Erfenisstigting (ES) is ʼn maatskappy sonder winsmotief en ʼn rolspeler binne die Suid-Afrikaanse kulturele erfenis industrie. Die ES se visie is om publieke bewussyn van bedreigde erfenis te skep deur die behoud, bewaring en volhoubare benutting van erfenishulpbronne. Buiten die erfenisbewaring wat op verskeie terreine in Suid-Afrika plaasvind, dien die ES ook as ʼn navorsingsentrum vir akademici en ander navorsers wat in Afrikaner-erfenis belangstel. Hierdie dienste sluit ʼn biblioteek, argief, en museum in.
Akademia is ʼn Christelike en private hoëronderwysinstelling uit die Afrikaanse gemeenskap vir die Afrikaanse gemeenskap. Akademia streef daarna om beide hoogstaande opleiding sowel as diepgaande opvoeding te bied.

AfriForum Uitgewers (voorheen Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en die tuiste van Afrikaanse niefiksie, Afrikanergeskiedenis én prima Afrikaanse produkte. Die uitgewer doen moeite om instellings in die Beweging te ondersteun met die uitgee van hoëgehaltepublikasies oor sake van belang vir die onderskeie organisasies; om ’n gebalanseerde weergawe van die Suid-Afrikaanse geskiedenis (in die besonder van Afrikanergeskiedenis) te bied; en om Afrikaans leesbaar, leefbaar en lieflik te maak met prettige, slim en unieke Afrikaanse produkte.

Die Wolkskool is ‘n wêreldklas aanlyn leerplatform met meer as 16 000 videolesse, werkkaarte en assesserings in 8 laerskool- en 16 hoërskoolvakke. Die platform maak van die nuutste tegnologie gebruik vir die beste aanlyn leerervaring in Afrikaans.

Die Vriende van Afrikaans (VVA), ‘n afdeling van die ATKV, bied deur middel van hul vlagskip-boektrommelprojek aan kinders blootstelling aan die wêreld van woorde en stories. Verder dryf die organisasie ook gesprekreekse en die jaarlike Koop-‘n-Afrikaanse-boekdag. Die VVA het hul boek Dae uit ons geskiedenis aan Weet beskikbaar gestel.

 

Saam verseker ons Afrikaans! Virseker, Suid-Afrika se eerste Afrikaanse korttermynversekeringsproduk weet hoe belangrik opleiding vir die Afrikaanse gemeenskap is. Die Virseker Trust is daarom gestig om vir Virseker polishouers die geleentheid te gee om betrokke te wees en om daadwerklik ‘n verskil te maak met opleidingsprojekte wat na aan ons harte lê. Die Virseker Trust is by talle Afrikaanse opleidingsprojekte betrokke en borg ook onderandere die Weet-projek.

Foto: iStockGrafika: Jacques du Plessis
  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Gee terugvoer