Vinnige feite

  • Internasionale Olifantdag is op 12 Augustus. Die persoon wat gehelp het dat hierdie dag elke jaar gevier word, is die Kanadese rolprentmaker Patricia Sims. 12
  • Die rekord vir die swaarste olifanttande wat in Suid-Afrika aangeteken is, is 102,7 kg. 1
  • ’n Olifant kan tussen 60 en 70 jaar oud word. Daar was al olifante wat in gevangeneskap 80 jaar oud geword het. 10
  • Die swaarste slagtand waarvan daar skriftelike bewys is, het 117 kg geweeg en die langste slagtand was 3,26 meter lank. 10
  • ’n Olifant se brein weeg tussen 4,5 en 5 kg, die grootste van enige soogdier op land. 11
  • Olifante se breine is besonder goed ontwikkel. Hulle het die beste geheue van alle diere!
  • Olifante kan treur, hulle kan speel en hulle kan implemente gebruik om iets mee te doen. 11
  • Olifante kan goed swem en hulle kan selfs goed klim, maar hulle kan nie spring of hardloop nie. Wanneer hulle “hardloop”, is dit ’n soort skuifel. Maar moenie dat hul manier van beweeg jou flous nie, hulle kan tot 40 km per uur beweeg as hulle skrik of kwaad is. 15
  • Olifante se vel is baie sensitief vir son en daarom laat die koeie hul kleintjies meestal in hul eie skaduwee staan. 13
  • ’n Olifant se bene is massiewe, reguit “pilare”. Hulle het dus baie min spierkrag nodig om te staan en daarom kan hulle vir lang tye doodstil staan sonder om moeg te word. 13
  • Die Knysna Olifantpark is in 1994 gestig en was die eerste plek in Suid-Afrika waar jong weesolifante kon bly en versorg kon word. Vandat die park gestig is, is meer as 40 olifante hier versorg en grootgemaak. 16
  • Dit gaan so goed met die olifante in die Nasionale Krugerwildtuin dat daar in 2022 ongeveer 40 000 olifante in die park was. Dit is meer olifante as wat goed is vir die plantegroei en daar is planne om die olifante minder te maak. 17
  • Olifante is vir ongeveer 18 tot 20 uur per dag besig om te vreet of water te drink. 18
  • Olifantkalfies kan op ongeveer ses maande eers hul slurpe regtig begin gebruik. ’n Pasgebore olifantkalfie weeg tussen 100 en 120 kg. 16
  • ’n Olifant kan regop op sy agterpote staan. 16

’n Olifant is sekerlik een van die mees indrukwekkende diere op aarde. Nie net omdat hulle so reusagtig groot is nie, maar ook omdat hulle soveel menslike reaksies of emosies toon. Olifante gee, net soos mense, baie aandag aan hul kleintjies en sal enigiets doen om hulle te beskerm.

Groot dier in ’n neutedop

Olifante is reusagtige diere wat lang, dik bene en groot pote het. Hul vel se kleur is bruingrys, en hulle het baie groot ore, lang slurpe en slagtande wat baie lank en swaar kan wees. 1

’n Olifant is die grootste dier wat vandag op land leef. Hulle kan tot 7 ton (7 000 kg) weeg en as ’n mens vanaf die grond tot by hul skouers meet, kan ’n olifant so hoog soos 3,3 meter in sy geplooide sokkies staan! Groot olifantbulle wat al redelik oud is, se tande kan tot 60 kilogram weeg! 2

Manlike olifante word bulle genoem en vroulike olifante is koeie. Kleintjies staan as kalfies bekend.

Verskillende spesies

‘n Mens kry Afrika-olifante en Asiatiese olifante. Die Afrika-olifant is die soort wat ons in Suid-Afrika goed ken.

Afrika-olifant

Daar is twee spesies olifante in Afrika. Die een is die meer bekende een waarvan daar ook meer is, naamlik die Afrika-bosolifant of savanna-olifant (Loxodonta Africana). Die ander een is die Afrika-woudolifant (Loxodonta cyclotis). Hierdie olifant is die kleiner een van die twee en kom in die reënwoude van Sentraal-Afrika voor. 2

Die Afrika-olifant kom in 23 lande voor. Die meeste van hulle kan ’n mens te siene kry in suidelike Afrika en Oos-Afrika in die lande Botswana, Zimbabwe, Tanzanië, Kenia, Namibië, Zambië en natuurlik Suid-Afrika. 3

Die olifante in die Knysnabos is só bekend dat daar selfs boeke oor hulle geskryf is en hulle word ook die Knysna-olifante genoem. In een van Dalene Matthee se boeke, Kringe in ʼn bos, het sy oor die Knysna-olifante geskryf. Jare gelede was daar baie olifante in die Knysnabos, maar vandag is daar nog net een olifantkoei oor. 4 Mense het aanvanklik gedink dit is ʼn olifantbul genaamd Oupoot, maar later is daar vasgestel dat dit ʼn olifantkoei is.

Asiatiese olifant

Hoe verskil die Asiatiese olifant (Elephas maximus) van die Afrika-olifant? Die maklikste manier om hulle te onderskei, is om na hul ore te kyk. Die ore van Afrika-olifante is baie groter. Weet jy waarom? Dit is omdat Afrika baie warmer is en die olifante wat hier woon, hulle met hul ore koel waai! 5

Die ander verskil is die vorm van hul koppe. Die Afrika-olifant se kop is ronder as dié van olifante in Asië. Ook die slagtande verskil. By die Afrika-olifant kan die bul en die koei albei slagtande hê, maar by die Asiatiese olifant het slegs die bulle slagtande. 5

Die Asiatiese olifant kom in 13 lande in Indië en Suidoos-Asië voor. Daar word vier verskillende olifante onderskei – die Borniese olifant, Sumatra-olifant, Sri Lanka-olifant en die Indiese olifant. 6

Interessante liggaamsdele

Die slurp

’n Olifant se slurp is eintlik sy neus. Dis ’n baie sensitiewe orgaan en kan selfs water onder die grond ruik. Het jy geweet daar is ongeveer 50 000 spiere in ’n olifant se slurp? 2 In ’n mens se hele liggaam is daar maar net 650 spiere. 7

Omdat die slurp eintlik die olifant se neus is, haal hulle dus ook asem met hul slurpe.

Die Afrika-olifant se slurp het twee punte onderaan, amper soos vingers. Die olifante in Asië het net een punt aan die slurp wat amper soos ’n lepel gebruik word om dinge mee op te skep. 8

Omdat die slurp soveel spiere het, is dit natuurlik geweldig sterk. Olifante kan voorwerpe wat swaar is met hul slurpe optel, hulle kan liters water met hul slurpe opsuig én hulle kan geleer word om landmyne met hul slurpe uit te snuffel! 7

’n Olifantbul kan voorwerpe wat tot 270 kg weeg met sy slurp optel! 8

Al is die slurp so sterk, kan olifante ook fyn werkies daarmee doen. Aan die punt van die slurp is daar punte wat amper soos vingers werk en waarmee die olifant klein takkies kan afpluk, grasspriete uit die grond kan trek en selfs ’n doring uit sy voet kan haal. 2

Olifante gebruik hul slurpe ook om met mekaar te gesels of kommunikeer. Wanneer hulle lug deur hul slurpe blaas, maak dit ’n harde, skel geluid wat oor groot afstande gehoor kan word. 9 ’n Mens noem hierdie geluid van ’n olifant “trompetter” omdat die geluid byna soos dié van ʼn trompet klink.

As ’n olifant sy slurp op die grond neerlê, kan hy vibrasies aanvoel van geluide wat ander olifante gemaak het en wat deur die grond beweeg. 8

Olifante gebruik hul slurpe ook om mekaar te groet deur die slurpe ineen te strengel. Slurpe word ook gebruik wanneer hulle speel-speel stoei, wanneer hulle mekaar die hof maak en om gesag af te dwing. Wanneer ’n olifant sy slurp in die lug hou, kan dit beteken dat hy aggressief is en wil aanval. Slurpe word gebruik om hulself te verdedig deur vyande met die slurp te slaan of hulle op te tel en weg te slinger. 8

Slagtande

Olifante se slagtande is nie net die deel van hul liggame wat hulle bekend maak nie, dit is ongelukkig ook die rede waarom olifante deur mense gejag word. Die ivoor waaruit die tande bestaan, is ’n gesogte materiaal onder wildstropers en word ten duurste verkoop.

Klein olifantjies se slagtande is eers melktande en wanneer die melktande uitval, kry hulle slagtande. Slagtande groei deur die olifant se hele lewe teen ongeveer 15 tot 18 cm per jaar!

Koeie het ook slagtande, maar dit is heelwat kleiner as dié van die bulle. 10

Ore

Olifante het die grootste ore van alle diere in die wêreld. ’n Groot bul se ore kan tot 20 kg weeg en twee meter lank wees. Afrika-olifante se ore is drie keer groter as dié van die Asiatiese olifante.

Olifante se ore word soos groot waaiers gebruik om hulle koel te waai. Wanneer hulle hul ore rondwaai, koel dit ook die bloed in die ore se bloedvate af. Daar is ’n hele netwerk are aan die agterkant van die ore en daar vloei 5 tot 12 liter bloed per minuut deur ’n olifant se ore. 11

Sosiale gewoontes

Olifante woon in troppe van ses tot soveel as 200, en die leier van die trop is een van die koeie. Olifante bly nie net in ’n sekere gebied nie, maar trek gewoonlik agter kos aan. Hulle is oor die algemeen vreedsame diere, maar kan ook baie aggressief raak, veral wanneer daar ’n kalfie is of wanneer een van die trop seergekry het. 1

Olifante drink nie graag water saam met ander diere nie en sal sommer ander diere by ’n watergat wegjaag sodat hulle alleen kan drink.

Olifante kan nie baie goed hoor of sien nie, daarom is hulle baie afhanklik van hul goeie reuksintuig. 1

Watter geluide maak olifante? Hulle trompetter met hul slurpe en hul mae maak ’n rommelgeluid waarmee hulle ook kommunikeer. 1

Olifante vreet gras, blare, bas, takke en vrugte. 1 Soos ’n mens kan verwag, vreet só ’n groot dier baie. ’n Olifant kan tot 272 kg per dag verorber! ’n Volwasse olifant kan tot 200 liter water op een slag drink en een olifant mis tot 150 kg per dag. 2

Intelligensie en emosie

Jare gelede is ’n video in China geneem van ’n olifant in ’n dieretuin wat die skoen van ’n kind wat in sy hok geval het, opgetel het en met sy slurp vir die kind teruggegee het. 12

Dis amper onmoontlik om te glo dat ’n dier só intelligent kan wees, nie waar nie? Olifante is egter bekend daarvoor dat hulle verskillende emosies kan wys. Navorsing het ook gewys dat olifante ingewikkelde denke openbaar en diep emosies kan ervaar. 13

Vreugde

Olifante wys hul vreugde en blydskap wanneer hulle ander olifante groet wat familie is of wat aan dieselfde trop behoort. Ook wanneer hulle spelerig is met ander bekende olifante, kan hulle vreugde gesien word.

Wanneer olifante ’n lid van die trop groet wat vir ’n tyd weg was, begin hulle na mekaar roep wanneer hulle nog ’n hele afstand van mekaar af is. Hoe nader hulle aan mekaar kom, hoe vinniger beweeg hulle, totdat hulle die laaste entjie na mekaar toe hardloop en van vreugde trompetter. Wanneer hulle bymekaar kom, groet hulle uitbundig deur hulle slurpe ineen te strengel, teen mekaar te leun en teen mekaar te skuur. 13

Ook met die geboorte van ’n klein olifantjie wys die trop duidelike blydskap. Hulle wys hul opgewondenheid deur te blaas en te trompetter. 13

Liefde

Wanneer ’n mens na die gedrag van ’n koei met ’n kalf kyk, kan ’n mens duidelik sien hoe sterk die liefde vir die kalf by haar is. Die kalfie is so klein dat dit onder die koei kan staan of deurloop, maar dit gebeur nooit dat ’n koei op die kalf trap of oor hom struikel nie.

’n Koei sorg altyd dat die kalfie baie naby aan haar bly. Sy raak gedurig met haar slurp aan die kalf, help hom oor klippe of stompe en stoot hom onder haar in om hom teen die warm son of teen roofdiere te beskerm. Hierdie band tussen ’n koei en veral vroulike kalwers kan vir 50 jaar of selfs langer duur. 13

Hartseer

Olifante kan ook diep hartseer wys wanneer een van die trop doodgaan. Hulle sal vir jare ná só ’n sterfte die dooie olifant onthou en oor hom of haar treur. ’n Mens sien dit wanneer olifante verby ’n plek loop waar een van hulle doodgegaan het – hulle sal vir minute lank daar gaan stilstaan. Indien daar nog bene van die dooie olifant lê, sal hulle met hulle slurpe daaraan raak. Navorsers stem saam dat hierdie gedrag wys dat olifante verstaan wat dood beteken.

Soms gebeur dit ook dat olifante vir lank rondom ’n dooie troplid rondmaal en wanneer hulle uiteindelik besef dat die olifant dood is, sal hulle takke afbreek en gras uit die grond trek en dit op die dooie olifant gooi. 13

Unieke eienskappe van olifante

Daar is ’n spesiale sakkie in ’n olifant se mond waarin hy of sy water kan stoor. As dit ’n baie warm dag is, gebruik die olifant hierdie water om agter sy ore nat te spuit om af te koel. En luister bietjie na nog ’n interessante manier waarop olifante hulleself afkoel. Hulle kan al hul bloed – 120 liter – in net 20 minute deur hul ore sirkuleer. Só koel hulle hul liggame met tot soveel as 9 grade af!

Omdat olifante so swaar is, is hulle bene solied en het hulle geen beenmurg in hul bene nie.

Het jy geweet olifante loop eintlik op hul tone? Die vetlaag onder hul pote maak dat dit die maklikste manier is om te loop. Kyk bietjie op die video’s of jy dit self kan raaksien.

Olifante kan boonop 14 keer beter ruik as ’n hond.

Olifante wat 8 km van mekaar af is, kan steeds met mekaar kommunikeer. Hiervoor gebruik hulle subsoniese klanke.

Olifantkoeie is vir 22 maande lank dragtig en daarna voed sy haar kleintjie vir tot 24 maande.

Olifante se lyfroom is modder! Hulle smeer dit aan hul lywe om hul velle te bevogtig.

Raai hoe weet ’n mens of ’n olifant “links-” of “regshandig” is? Jy kyk na sy slurp en sy tande. Die een kant van die slurp sal groen wees omdat hy altyd blare met daardie kant sal afpluk. En sy een tand sal korter wees as die ander een omdat dít die tand is waarmee bas van bome afgetrek word. 14

Woordbank

aggressief Kwaad en lus om moeilikheid te maak.
bevogtig Klam hou.
dragtig  Die tyd voordat die klein olifantjie gebore word.
gesag af te dwing Om te wys wie die meer senior persoon of dier is.
gesogte Iets wat mense baie graag wil hê, dit is afgelei van die woord “soek”.
in ’n neutedop Kort beskrywing.
ivoor Dit is ook die materiaal waarvan die note van klaviere vroeër gemaak is en juweliersware word ook daarvan gemaak.
mekaar die hof maak Om dinge te doen waarmee jy vir iemand wys dat jy van hom of haar hou.
melktande ’n Baba of klein diertjie se eerste tande voordat die permanente tande uitkom.
ineen te strengel Om twee of meer lang voorwerpe saam te vleg.
rommelgeluid Amper soos die gedreun van donderweer.
sensitiewe Gevoelig vir aanraking.
skel ‘n Harde, deurdringende geluid.
solied Sonder ’n holte in die middel.
subsoniese Klanke wat mense gewoonlik nie kan hoor nie.
vreedsame Iemand wat nie daarvan hou om te baklei of moeilikheid te maak nie.
wees Olifantkalfies van wie een of (meestal) albei ouers oorlede is.
wildstropers Jagters wat wilde diere onwettig skiet en verkoop.

Lees, luister en loer hier

Kyk dié video’s om meer te leer

Kort beskrywing van olifante

Allerlei feite oor olifante

Kyk hoe speel hierdie man met sy olifantfamilie!

Só lyk ’n trop gelukkige en tevrede olifante

’n Olifantkalfie word gered

Waarvoor gebruik ʼn olifant sy slurp?

Die verskillende geluide wat ʼn olifant maak

Suda, die olifant wat kan skilder!

Die storie van die onregeerbare olifanttrop van 7 olifante in KwaZulu-Natal wat deur die natuurbewaarder Lawrence Anthony gered is: 1999 tot 2012. Hier kan ’n mens sien hoe olifante emosie toon, onder andere toe hulle vir twee dae rondom Lawrence se huis gaan wagstaan het nadat hy aan ’n hartaanval dood is.

’n Olifant in Indië se gedrag by die begrafnis van die man saam met wie hy vir jare gewerk het

Olifante treur by die bene van ’n dooie olifant

’n Olifanttrop treur rondom die liggaam van ’n dooie olifant

Intelligente gedrag deur olifante en hoe hulle emosie wys

Gepubliseer op: 7 November 2023 | Bygewerk op 12 Februarie 2024