Vinnige feite

  • Ons kry ons naam vir die dier (leeu) uit Nederlands (leeuw), wat dit via Oud-Frans (lion) uit Latyn (leonem) gekry het. 12
  • Leeumannetjies word gewoonlik 8-10 jaar oud. Wyfies word ouer – gewoonlik 15-16 jaar. In aanhouding word hulle ouer – ons weet van ’n leeu wat 29 jaar oud geword het! 13
  • Leeus is die enigste katte wat saam brul. Selfs die welpies brul saam. Hierdie gebrul duur gewoonlik 40 sekondes, en dit kan tot 8 kilometer ver gehoor word. 14
  • Omdat die leeu eienskappe soos dapperheid, krag, mag, adellikheid en oorheersing voorstel, het baie adellike en koninklike families ’n leeu in hulle familiewapen. As jy na Engelse heraldiek kyk, sal jy sien hulle het drie leeus daarop. 15
  • Die sfinks is ’n mitologiese wese met die kop van ’n mens, die lyf van ’n leeu en die vlerke van ’n arend. 16
  • Jy sou dalk ook al by die kerk of Sondagskool gehoor het van die Leeu van Juda. Dié naam kom van die naam wat Jakob vir sy seun Juda gegee het. Voor sy dood het Jakob al sy seuns byeengeroep en geseën. Toe hy by Juda kom, het hy gesê (Genesis 49:8-10):
    “Juda, dit is jy vir wie jou broers sal eer: jy sal jou vyande onderwerp en jou broers sal voor jou buig.Jy is ’n leeu, my seun Juda,wat van die prooi af wegstap.Jy rek jou uit, jy gaan lê rustig soos ’n leeu,soos ’n leeumannetjie wat deur niemand opgejaag word nie.Jy sal altyd heers,jy sal aanhou regeertotdat Silo kom,die heerser aan wie die volke hulle sal onderwerp.” 17

Uit die stam van Juda het nie net Dawid nie, maar ook Jesus afgestam, daarom word daar ook na Jesus Christus as die Leeu van Juda verwys (Openbaring 5:5). 18

  • In die negende eeu ná Christus het ’n klein groepie Jode hulle in Ethiopië gaan vestig en ’n groot invloed op die land se kultuur en gebruike uitgeoefen. Die Ethiopiërs het geglo dat hul keisers afstam van die koningin van Skeba (self ’n Ethiopiër) en koning Salomo (Dawid se seun en dus ook ’n afstammeling van Juda). Daarom het die Ethiopiërs na hul keisers verwys as die Leeu van Juda en ’n leeu op hul vlag gehad. Die laaste keiser van Ethiopië was Haile Selassie, wat homself gereeld die Leeu van Juda genoem het. 19
  • Belangrike mense in die geskiedenis is na leeus genoem of het leeubyname gekry. Willem wat van 1165 tot 1214 oor Skotland geheers het, was byvoorbeeld Willem die Leeu. 20 Richard I wat van 1157 tot 1199 koning van Engeland was, was Richard die Leeuhart. 21 In ons eie geskiedenis het mense na generaal Koos de la Rey verwys as die Leeu van die Wes-Transvaal. 22
  • Die name Leon, Leo, Leonardo, Leonard, Lenard, Napoleon en Leonie is almal ’n vorm van die oorspronklike Griekse naam vir ’n leeu. 23
  • Daar is rugbyspanne wat ook na die leeu genoem is. Die Britse en Ierse Leeus is ’n toerspan wat saamgestel word uit die Engelse, Skotse, Walliese en Ierse rugbyspanne. 24 Die Leeus is die Suid-Afrikaanse span wat in Johannesburg gesetel is. 25
  • Ander maatskappye wat ’n leeu in hul logo of bemarking gebruik, is onder andere die rolprentmaatskappy Metro-Goldwyn-Mayer; Peugeot (motors); Simba (aartappelskyfies); Löwenbräu (’n Duitse bier); Pringle (’n bekende Skotse klerereeks); die Premier-sokkerliga; die sokkerklubs Chelsey en Aston Villa; 26 en die Suid-Afrikaanse maatskappy wat vuurhoutjies vervaardig, Lion Matches.
  • Die leeu bekoor die mens al van lankal af. Daar was al baie bekende leeukarakters in stories en rolprente. Dink maar net aan al die kinderstories wat jy al oor Koning Leeu gehoor het, aan Aesopus se fabels, aan die karakters in The Lion King, aan Alex in Madagascar, aan die leeus in die film Born Free, aan C.S. Lewis se bekende boek Die leeu, die heks en die hangkas, en aan die klassieke Amerikaanse rolprent The Wizard of Oz waarin een van die karakters die lafhartige leeu was.

Ons ken die leeu al eeue lank as ’n simbool van dapperheid en krag. Dis hoekom ons van die leeu praat as die koning van die diere, en hoekom die leeu dikwels in kinderstories, fabels en volksverhale die koning is. 1 [Lees hier oor fabels.]

Die leeu is ’n groot roofdier en ’n lid van die katagtiges (in Latyn: Felidae). Hy behoort aan dieselfde genus (Panthera) as die luiperd, die tier en die jaguar. Die enigste kat wat groter is as die leeu, is die tier. 2

Die leeu is ook een van Afrika se Groot Vyf – die roofdiere wat vroeër deur jagters beskou is as die belangrikste en/of moeilikste diere om te jag: die olifant, die renoster, die buffel, die luiperd en die leeu. 3 Deesdae beskou toeriste aan Afrika se wildtuine hierdie vyf as die belangrikste diere om te sien.

Beskrywing

Gewone naam leeu
Wetenskaplike naam Panthera leo
Familie Katagtiges
Klas soogdier
Dieet karnivoor
Grootte (sonder die stert) 180-210 cm
Gewig 120-180 kg 2

Leeus het sterk voorpote, skerp tande en sterk kake waarmee hulle hul prooi kan vasgryp en grond toe trek. Hulle pels is ’n geel-goue kleur wat hulle goed in die lang gras kamoefleer. 4 [Lees hier oor kamoeflering.]

Leeumannetjies is heelwat groter as die wyfies en het kenmerkende maanhare. Die maanhare wissel van liggeel tot rooibruin tot amper swart. Wetenskaplikes het bevind dat wyfies mannetjies met lang en digte maanhare verkies, waarskynlik omdat die hare die mannetjies groter en sterker laat lyk. Die wyfie se instink veroorsaak dat sy ’n pa met goeie fisieke eienskappe vir haar welpies kies. Op dié manier verseker sy vir hulle die beste kans op oorlewing. 5 Die mannetjie se maanhare beskerm ook sy nek wanneer hy in ’n bakleiery met ’n ander mannetjie betrokke raak oor gebied of beheer oor die trop. 6

Wanneer leeuwelpies gebore word, het hulle kolle, waarskynlik ook om hulle vir hul vyande, soos hiënas, luiperds en jakkalse, te kamoefleer. 7

Jy sou dalk ook al van die sogenaamde wit leeus gehoor het. Dis leeus waarvan die pels so lig is dat hulle amper wit lyk. Dit is nie ’n subspesie nie en dit is ook nie albino-diere nie. Albino diere is spierwit omdat hul vere of pels geen kleur het nie. Wit leeus is maar net doodgewone leeus wat ligter as ander leeus is, soos wat sommige mense blond is en ligte velle het. Wit leeus is in ’n stadium in gevangeskap geteel omdat hulle so spesiaal is, maar deesdae word hulle weer in bewaringsgebiede vrygelaat. 8

Soorte leeus

Wetenskaplikes het lank verskil oor hoe om leeus in subspesies te klassifiseer.

In 2017 het hulle ooreengekom om soos volg te onderskei:

Panthera leo leo Leeus wat in Asië en in noordelike Afrikalande voorkom.
Panthera leo melanochaita Leeus wat in suidelike Afrika voorkom. 9

Die grens wat die twee groepe skei, is tussen Ethiopië en Suid-Soedan. Omdat dit nie ’n fisieke grens met ’n muur of ’n draad is nie, paar dié twee subspesies dikwels, wat dit moeilik maak om die twee groepe baie streng uitmekaar te hou. 9

Jy sal dalk in ouer tekste nog lees van ander subspesies: die Kaapse leeu, die Barbaryse leeu en die Asiatiese leeu, maar hierdie klassifikasies word nie meer gebruik nie. DNS-ontleding het gewys dat hierdie leeus eintlik deel is van die subspesies wat hier bo aangedui is. 9

Die subspesies wat wel bestaan het, maar wat intussen uitgesterf het, is die grotleeu (Panthera spelaea) wat in Europa voorgekom het en saam met die mammoete en wollerige renoster uitgesterf het, en die Amerikaanse leeu (Panthera atrox) wat in Noord-Amerika voorgekom het en in dieselfde tyd as die grotleeu – ongeveer 12 000 jaar gelede – uitgesterf het. 9

Verspreiding en habitat

In die verlede het leeus in Afrika, Europa en groot dele van Asië voorgekom. Met die mens wat die aarde al hoe meer bewoon en bewerk, het die leeus se verspreiding dramaties verklein. 8

Vandag kom leeus hoofsaaklik in Afrika voor, en die grootste bevolkings kom voor in die suidelike deel van Afrika. Daar is wel nog ’n baie klein bevolking leeus in Asië, in ’n afgeleë deel van die Gir-woud in Indië. 8

Leeus is aanpasbare diere. Dit beteken hulle kan hul gewoontes en lewe laat pas by die klimaat van die streek waarin hulle woon. Hulle kan byvoorbeeld in droë streke oorleef omdat hulle die vloeistof wat hulle nodig het, uit hul prooi kan kry. 8

Hulle verkies wel oop grasvlaktes of bossieveld sodat hulle in die gras kan wegkruip terwyl hulle hul prooi bekruip, en waar hulle die prooi – meestal bokke, sebras en wildebeeste – kan jaag en inhardloop. Hulle kom nie eintlik in tropiese woude of in baie droë woestynstreke voor nie. 8

Gewoontes

Die meeste lede van die katfamilie is alleenlopers. Die luiperd, die tier en die jaguar leef byvoorbeeld alleen en kom net by ’n maat uit om te paar. 10

Leeus is anders. Hulle is tropdiere, wat beteken hulle leef en doen dinge saam as ’n groep. Hulle oorleef met spanwerk, ’n verdeling van werk en ’n uitgebreide gesinstelsel. ’n Trop bestaan gemiddeld uit 15 diere, waarvan die meerderheid wyfies is wat almal aan een mannetjie behoort. Die wyfies se kleintjies is ook deel van die trop. Soms is daar meer as een mannetjie in die trop. Dis gewoonlik welpies wat grootword maar by die trop bly om die wyfies en welpies te beskerm. 10

Leeus is liefdevol. Hulle rus maklik 20 uur per dag – gewoonlik in die warmste deel van die dag – en dan is dit vir hulle lekker om naby aan mekaar te wees. Hulle het dieselfde gewoontes as huiskatte – hulle raak baie aan mekaar, skuur met hulle lywe en koppe teen mekaar, lek mekaar en spin (in Engels: purr) as hulle gelukkig is. 10

Elke trop het sy eie gebied, wat hulle baie goed bewaak. Die grootte van die gebied hang af van hoeveel kos daar vir hulle is. Hulle merk die gebied deur te brul, en die mannetjie urineer teen bome, struike en klippe, of dikwels op die grond, om sy gebied duidelik te merk. 2

Leeus se prooi is hoofsaaklik hoefdiere soos bokke, sebras, wildebeeste en buffels, maar hulle sal ook olifante, kameelperde en seekoeie jag as die diere nog klein of siek is. Hulle sal ook ander jagdiere, soos luiperds of jagluiperds, se prooi afneem. 2

Hoewel die leeumannetjie ’n baie goeie jagter is, is dit in die troppe gewoonlik die wyfies wat jag. Hulle werk dikwels saam om die prooi te omsingel en weg te kry van die ander diere. Die leeuwyfies bekruip die dier gewoonlik en bespring die prooi of hardloop dit oor ’n kort afstand in. Nadat hulle op die prooi gespring het, byt hulle die dier se nek. Hulle verwurg die prooi totdat dit ophou spartel. 2

Die mannetjie eet gewoonlik eerste, en dan kom die res van die trop nader om te eet. Daar is gewoonlik ’n bakleiery oor die kos, en almal gryp wat hulle kan kry. ’n Volwasse mannetjie kan meer as 30 kg vleis op ’n keer eet, maar dan vir die res van die week niks eet nie. As daar volop kos is, jag leeus net drie of vier uur per dag en slaap vir die res. 2

Hoewel leeus baie sterk jagters is, is baie van die jagtogte nie suksesvol nie. Leeus steur hulle nie aan die windrigting nie, wat beteken dat die prooi hulle dikwels betyds ruik. Leeus kan ook nie baie lank baie vinnig hardloop nie. Prooi kom dikwels weg as hulle net lank genoeg en vinnig genoeg aanhou hardloop. 2

Bewaringstatus

Kwessies soos siektes, die verlies aan habitat, en mense wat leeus doodmaak, maak leeus se voortbestaan deesdae kommerwekkend. [Lees hier oor habitat.]

Daar is ’n organisasie wat spesies oor die wêreld heen monitor om te bepaal of die spesie se voortbestaan bedreig word. Dié organisasie se naam is die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (in Engels: International Union for the Conservation of Nature). Hierdie unie het ’n lys waarop hulle aandui hoe naby of ver die bepaalde spesie van uitsterf is, en volgens hierdie organisasie is leeus wêreldwyd “kwesbaar” (in Engels: vulnerable). 11 Die tempo waarteen leeus se getalle afneem, veroorsaak dat hierdie status eintlik “bedreig” (in Engels: endangered) behoort te wees. 6

Deesdae kan leeus nie meer sommer net vryelik rondbeweeg nie. Hul natuurlike habitat is in bewaringsgebiede geleë, wat beteken dat hulle nie meer oor groot afstande kan beweeg nie. Dit veroorsaak dat die troppe se bloedlyn verskraal, en die diere raak meer vatbaar vir siektes. 6

As die trop se gebied verklein, beteken dit ook natuurlik dat die prooi minder is. As daar min prooi is, het wyfies outomaties minder kleintjies. En waar leeus en boere dieselfde gebied bewoon, is daar gewoonlik moeilikheid omdat die leeus vee vang. Die boere maak sulke leeus dood. 6

Daar word beraam dat daar ongeveer 23 000 leeus in Afrika oor is, maar wetenskaplikes verskil oor dié syfer. Sommige organisasies meen dit is minder. In Indië is daar na beraming 674 leeus oor. 6

Ons is baie gelukkig om nog leeus in Suid-Afrika in wildtuine soos die Kruger Nasionale Park en die Kgalagadi-oorgrenspark te kan sien, maar as ons nie hierdie diere behoorlik beskerm en bewaar nie, gaan ons een van die dae net in dieretuine na hulle kan kyk.

Woordbank

aanpasbare Die eienskap dat dit by omstandighede aanpas.
afneem Vat.
albino ’n Dier (of mens) wat nie die gewone kleurpigmente het nie en dan wit of kleurloos lyk.
alleenlopers ’n Dier (of mens) wat nie saam met ander leef nie; ’n dier wat nie in troppe leef en jag nie.
animeer Die aanmekaarlas van stil prente of tekeninge om die illusie van beweging te skep.
Asiatiese Iets wat van Asië af kom.
Barbaryse Iets wat van Barbarye af kom, ’n ou naam vir die gebied in Noord-Afrika van die weste van Egipte tot aan die Atlantiese Oseaan.
bekoor Fassineer; positiewe belangstelling aanwakker.
beraam Uitreken op grond van ’n skatting.
betrokke raak By iets betrek word; deel word van iets.
bewaak Oppas en beskerm, met geweld as dit nodig is.
bewaar Oppas en versigtig gebruik sodat mense ná ons dit ook sal kan sien.
DNS Die afkorting vir deoksiribonukleïensuur, die stof in elke lewende organisme waarin die unieke eienskappe van die spesie opgeneem is.
dramaties ’n Woord wat ons figuurlik gebruik as ons bedoel “baie erg”.
fabels ’n Storie met ’n les, gewoonlik met dierekarakters.
genus ’n Wetenskaplike klassifikasie laer as familie en hoër as spesie.
heraldiek Die simbole wat op tekens soos familiewapens, logo’s en wapens verskyn wat aan families, koningshuise, weermagte, maatskappye, ens. behoort.
hoefdiere ’n Dier met hoewe vir pote.
instink ’n Ingebore gedragspatroon wat gewoonlik duidelik word as daar sekere stimuli (prikkels) is.
jagtogte ’n Tog (beplande beweging) om iets te gaan jag.
kamoefleer Wegsteek sodat ’n teenstander nie bewus word van die ding se teenwoordigheid nie.
kamoeflering Die eienskappe van ’n dier of ’n voorwerp wat dit vir die teenstander wegsteek; by diere dikwels kolle, strepe of kleur wat die dier met die omgewing laat saamsmelt.
kommerwekkend Iets wat kommer verwek; iets wat mense onrustig en bekommerd maak.
logo ’n Simbool, dikwels ’n prentjie, wat ’n maatskappy in plaas van ’n naam gebruik.
maanhare Lang nekhare van ʼn leeu of perd.
omsingel ’n Kring om iets, gewoonlik ’n vyand, vorm sodat die vyand alleen is en makliker aangeval kan word.
pels ’n Dier se hare.
prooi Die ding wat gejag word, veral deur ’n roofdier.
gesetel Plek; as ons sê iemand of iets is iewers “gesetel”, bedoel ons dit is die plek waarvandaan hulle werk.
simbool Iets, gewoonlik ’n teken, wat gebruik word om ’n ander betekenis voor te stel.
toerspan ’n Sportspan wat nie normaalweg ’n span is nie, maar ’n span word om tydens ’n toer teen ander spanne deel te neem.
trop ’n Groep van dieselfde soort dier wat saam bly ter wille van oorlewing.
tropdiere ’n Dier wat gewoonlik in troppe voorkom.
urineer Urine uitskei; piepie.
vatbaar Meer geneig om iets te kry, veral siektes.
verwurg Die keel toedruk sodat die lug nie na die longe kan beweeg nie.
welpies ’n Leeubaba.
windrigting Die rigting waarin die wind waai.

Ken jy die volgende idiome?

Aan die leeu se baard trek/vat  

Iets gevaarliks doen.

So reg in die leeu se bek 

Direk in die gevaar.

Soos ʼn briesende leeu 

Baie kwaad en dreigend.

Iemand was met die leeu deurmekaar  

Iemand is dronk.

Die leeueaandeel neem 

Die beste of grootse deel neem.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Leeus is ongelooflike diere

Interessante leeufeite

Die liedjie “The Circle of Life” uit die fliek The Lion King

Dié seunskoor maak oerwoudgeluide na in “The Lion Sleeps Tonight”

Aesopus se fabel “Die leeu en die muis”

Foto: iStock
Gepubliseer op: 11 Augustus 2023 | Bygewerk op 30 November 2023