Vinnige feite
- Die eerste georganiseerde weermag was na bewering in Sumerië, ’n antieke beskawing wat meer as 6 000 jaar gelede in die Midde-Ooste was. Die soldate het met swaarde, skilde, boë en pyle geveg.
- Oorlogvoering het deur die jare baie verander. Die Arabiere en Europeërs het in die 1300’s wapens uitgevind wat buskruit gebruik het. Weermagte het in die 1800’s masjiengewere begin gebruik en bomme in die 1900’s. Vandag word daar konstant nuwe wapens ontwikkel.
- Die SA Militêre Hospitaal (Robertshoogte) in Pretoria is amptelik in 1930 geopen. Die naam is later na 1 Militêre Hospitaal verander. Daar is ook ’n 2 Militêre Hospitaal in Wynberg.
- Altesaam 254 666 Suid-Afrikaners van alle bevolkingsgroepe het gedurende die Eerste Wêreldoorlog diens gedoen.
- Altesaam 334 324 voltydse Suid-Afrikaanse vrywilligers het gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die Unieverdedigingsmag gedien.
- Tydens die Tweede Wêreldoorlog is ’n Suid-Afrikaanse nuusblad Springbok in Kaïro gedruk en gratis aan alle Suid-Afrikaanse troepe verskaf.
- Die 70ste herdenking van die Slag van Delvillebos is in 1986 in Frankryk op die openingsdag van die Delvillebos-gedenkmuseum (11 November 1986) herdenk.
- Gimnasiums is vir seuns gestig om tussen die ouderdomme van 16 en 23 te leer hoe om wapens te hanteer sowel as om hulle fisiek vir die weermag, lugmag of vloot voor te berei. Die militêre gimnasium is op 1 November 1949 gestig en opleiding het op 1 Februarie 1950 begin.
- Die Militêre Akademie, ’n tak van die Militêre Kollege, is op 1 April 1950 gestig. So ’n akademie is ook op 1 Februarie 1956 op Saldanhabaai in die Kaap geopen.
- Die Suid-Afrikaanse Vrouevloothulpdiens is in Oktober 1943 gestig. Daar was ongeveer 280 Suid-Afrikaanse vroue wat tydens die Tweede Wêreldoorlog diens gedoen het.
As ’n mens wil uitvind hoe die eerste weermag in Suid-Afrika gevorm is, moet jy ver in die verlede terugkyk. Terug tot in 1652 toe Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het. Maar voor ons uitvind hoe als begin het, moet ons eers kyk na wat ’n weermag is.
’n Weermag is ’n groot georganiseerde groep soldate wat opgelei word om te veg. Hul hoofrol is om ’n land in tye van oorlog te beskerm. As ’n ander land jou land binneval, moet jou land se weermag julle kan beskerm. ’n Land se gewapende magte bestaan nie net uit ’n weermag nie, maar ook gewoonlik uit ’n lugmag en vloot.
Van Riebeeck se soldate
Jan van Riebeeck het nie in 1652 alleen na die Kaap gekom nie, hy het ’n hele span gehad en daar was ook soldate wat uit twee groepe bestaan het. Die eerste groep was professionele soldate en die tweede groep het uit ’n burgerlike mag bestaan. Van Riebeeck wou ’n verversingspos in die Kaap begin, en die soldate moes dit beskerm.
Teen die jaar 1681 was daar al ’n verdedigingsmag wat uit 300 mans bestaan het. Daar was mense met range soos ’n kaptein, luitenant en paar sersante en korporaals. Hulle het swaarde, pistole en muskette gehad en die soldate het die fort, en later die kasteel en ander regeringseiendom, beskerm.
Die soldate was in die 18de eeu ook by Saldanhabaai, Robbeneiland, Valsbaai en by Mosselbaai gestasioneer om die kus te beskerm.
Kolonel C.J. van de Graaff het in 1781 soldate van Nederland, Frankryk en Switserland gekry om ’n groter garnisoen te vestig.
Die soldate moes in die 1800’s die Kaap teen Britse invalle verdedig het, soos in die Slag van Muizenberg wat in 1795 plaasgevind het. Die soldate het ook in 1852 in een van die grensoorloë geveg.
Toe daar Britse kolonies was, het die kolonies ook verskillende verdedigingsmagte gehad wat in die Anglo-Boere– en Vryheidsoorloë geveg het. 1
Die vroeë 1900’s
Die Unie van Suid-Afrika het in 1910 ná die Anglo-Boere- en Vryheidsoorloë tot stand gekom. Die nuwe regering het die Unie-Verdedigingsmag (UVM) op die been gebring. Dit het al die kolonies se gewapende magte saamgesnoer.
Generaal Jan Smuts was in daardie stadium die minister wat vir die land se verdediging verantwoordelik was en hy het op 1 Julie 1912 die Suid-Afrikaanse Wet op Verdediging onderteken.
Dit het tot die stigting van ’n burgermag, kommando’s en die Suid-Afrikaanse Leër gelei. Dié wet is op 14 Junie 1912 geproklameer.
Wet no. 13 van 1912 het bepaal dat mans tussen die ouderdomme van 17 en 60 opgeroep kon word om in die Weermag diens te doen. Die mans wat opgeroep is, moes militêre opleiding ondergaan het. Die mans wat nie gevra is om diens te doen nie, moes ook hul deel doen deur by skietverenigings aan te sluit sodat hulle daar kon leer hoe om te skiet en die land te verdedig as dit moet.
Die Unie se departement van verdediging is in Julie 1912 gestig en hulle het ’n hoofkwartier in Pretoria gestig. Hulle het ook die Suid-Afrikaanse Militêre Skool begin en die skool is later die SA Militêre Kollege genoem.
Die UVM is in 1914 getoets toe onluste by steenkoolmyne in Dundee uitgebreek het en dit vinnig na ander dele van die land, soos Johannesburg, Kaapstad en Durban, versprei het. Die UVM het saam met die Staande Mag en Burgermageenhede die staking onderdruk.
Kort voor lank het die Eerste Wêreldoorlog (1014-1918) uitgebreek en die Britse regering het die Unieregering gevra om in Duitswes-Afrika (vandag Namibië) in te beweeg om dit in besit te neem. Intussen was daar Afrikaners wat nie wou hê dat die Unieregering die Britte moes help nie, want die oorloë tussen die Britte en Boere was nog vars in hul geheue. En boonop het hulle die Duitsers as Afrikaners se bondgenote gesien.
’n Rebellie het uitgebreek en die UVM is gestuur om dit te onderdruk. Die laaste van die rebelliemagte het in Februarie 1915 oorgegee. Die UVM het hul veldtog in Duitswes-Afrika hervat en het die Duitsers suksesvol aangeval. Dit het op 9 Julie 1915 tot ’n einde gekom toe die Duitse magte oorgegee het. Ongeveer 67 000 lede van die UVM het aan die veldtog deelgeneem. Slegs 266 Suid-Afrikaners het gesneuwel.
Suid-Afrika het ook vrywilligers gevra om saam met die Britse magte oorsee te gaan veg. Hulle is opgelei en het van 1916 tot 1918 aan die Wesfront in Frankryk diens gedoen. Daar was sowat 20 000 Suid-Afrikaanse vrywilligers wat in Frankryk geveg het. Nog ’n groep is in 1916 na Egipte gestuur waar hulle in ’n hewige veldslag geveg het. Die Suid-Afrikaners in Frankryk het aan gevegte in onder meer die Trones-woud, Bernafay-woud, Longueval en Delvillebos deelgeneem. Die Suid-Afrikaners het groot verliese in die Delvillebos-veldslag gely en uit ’n totaal van byna 4 000 mans het daar slegs 29 offisiere en 751 manskappe oorgebly.
Die veldtog in Frankryk en Egipte het altesaam 4 454 Suid-Afrikaanse lewens geëis en meer as 10 000 soldate is gewond. 1
Laaste dekades van die UVM
Die ekonomie was in die jare twintig en dertig wankelrig en dit was ’n moeilike tyd vir die UVM. Hulle moes poste sny, departemente verklein en het selfs in 1934 besluit om die SA Vlootdiens te ontbind. Daar is wel ’n Spesiale Diensbataljon (SDB) gestig om opleiding aan werklose jongmense te verskaf wat glo ’n groot sukses was. 2
Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) het die Verdedigingsmag vrywilligers gewerf en troepe is per trein en skip na die oorlogsfront gestuur. Die eerste Suid-Afrikaanse Brigade het in 1940 in Oos-Afrika aangekom. In April 1941 het die gesamentlike Britse en Suid-Afrikaanse magte ná hewige gevegte met die Italiaanse magte Addis Abeba (toe die hoofstad van Abessinië, nou Ethiopië) beset. Die Suid-Afrikaanse Lugmag het heelwat suksesse in Oos-Afrika behaal en het 71 Italiaanse vliegtuie afgeskiet en nog meer op die grond vernietig. Suid-Afrikaanse troepe het ook in 1944-1945 in Italië geveg.
Daar is 73 Suid-Afrikaners in die Oos-Afrika-veldtog dood. Die veldtog in Noord-Afrika het van 1941 tot 1942 plaasgevind en hulle het daar Britse magte ondersteun om teen die Duitsers te veg. Daar was drie hewige gevegte wat sowat 500 Suid-Afrikaanse lewens geëis het. Tydens ’n geveg by Tobruk is altesaam 10 722 Suid-Afrikaners krygsgevange geneem.
Die veldtog in Noord-Afrika het enorme verliese vir die Suid-Afrikaners beteken. Die getal ongevalle in Noord-Afrika het 23 625 beloop.
Die Suid-Afrikaners het ook van 1944 tot Mei 1945 aan die laaste offensief deelgeneem om Italië te verower. Ná hewige gevegte is daar op 18 April 1945 ’n groot oorwinning oor die Duitsers behaal.
Die UVM het ook in Italië geveg en meer as 4 000 Suid-Afrikaners is beseer. Daar het 753 soldate in dié stryd omgekom.
Daar is in 1941 Suid-Afrikaanse vroue gewerf om diens tydens die Tweede Wêreldoorlog te doen. Dit was onder leiding van generaal Jan Smuts se vrou, Issie. Sy het vroue aangemoedig om in die oorlog te help en talle Suid-Afrikaanse vroue het gevolglik by die Weermag aangesluit.
Die UVM het net tot 1958 dié naam gedra. Dit is daarna na die SA Weermag verander. 3
Die SA Weermag
Die SA Weermag se nuwe naam is voorafgegaan deur ’n nuwe verdedigingswet wat in 1957 onderteken is. Dit was die Nuwe Verdedigingswet Wet 44 van 1957. Dit het die voormalige Uniemag, die burgermag, kommando’s en die Suid-Afrikaanse Permanente Mag in die Suid-Afrikaanse Weermag verenig.
Die hoofkwartier was in Pretoria en die hoofdoel van die Weermag was om Suid-Afrika se grondgebied te beskerm.
Dit was in daardie tyd apartheid in Suid-Afrika en die Weermag is ook gebruik om die polisie ten tyde van stakings en oproer, soos die Sharpeville-betoging, by te staan.
Die jare sestig tot sewentig was ’n dekade van groot uitbreiding in die Weermag. Die land het in 1961 ’n republiek geword. Baie Afrikastate het ook in daardie tyd onafhanklik geword en hulle het die internasionale gemeenskap gevra om ’n wapenverbod teen Suid-Afrika weens sy destydse apartheidsbeleid in te stel.
Die regering het besluit om die Weermag te vergroot en talle burgermageenhede is gestig. Opleiding is ook verskerp om seker te maak dat weermaglede gevegsgereed sou wees. Daar is ook spesialis-gevegsgroepe gestig.
Diensplig
Die regering het op 1 Januarie 1968 ’n nuwe nasionale dienspligstelsel ingestel. Dit het beteken dat alle wit (en medies geskikte) manlike burgers vanaf 18-jarige ouderdom vir militêre diensplig in aanmerking gekom het. Hulle het ook diens in die Burgermag van vier jaar tot tien jaar verhoog.
Selfs buitelanders moes diensplig doen. ’n Wet is in 1967 ingestel waarvolgens jong buitelanders, wat minstens vyf jaar in Suid-Afrika gebly het, diensplig moes doen. Die wet is in 1978 verander sodat mense wat twee jaar in die land gewoon het, vir nasionale diensplig opgeroep kon word.
Vrywillige militêre diens is in 1973 vir bruin mense ingestel en 21 Bataljon, die eerste swart staandemageenheid, is ook gestig. 4
Suid-Afrika het in daardie jare, sedert die Eerste Wêreldoorlog, Suidwes-Afrika (vandag Namibië genoem) beheer, maar nie almal was gelukkig daarmee nie. Van die mense daar was nie gelukkig dat hulle onder Suid-Afrika en sy apartheidsregering se beheer was nie en het besluit om teen hulle op te staan.
Die Grensoorlog
Die organisasie Swapo (South West African People’s Organisation) het in 1960 ontstaan en hul militêre vleuel is PLAN (People’s Liberation Army of Namibia) genoem. Die militêre vleuel het begin om aanvalle van stapel te stuur en die Suid-Afrikaanse weermag moes die Grens beskerm. Die Angolese Burgeroorlog het in 1975 uitgebreek. Angola was toe nog ’n kolonie van Portugal en burgeroorloë het ook in sy ander kolonies, Mosambiek en Guinee Bissau, uitgebreek.
Suid-Afrika het gevolglik met Operasie Savannah in Suid-Angola begin. Die hoofdoel daarvan was glo om te keer dat die oorlog na Suidwes-Afrika uitbrei. Oorlog was gou-gou onderweg en Angola het hulp van die toe kommunistiese lande Kuba en Rusland ontvang.
Suid-Afrika het daar besef dat hulle nuwe wapentuig nodig het en hulle kon nie nuwes van oorsee af aankoop nie omdat daar as gevolg van die apartheidsbeleid ’n wapenverbod teen die land was. Die Verenigde Nasies se veiligheidsraad het in November 1977 ’n verpligte internasionaal wapenboikot teen Suid-Afrika ingestel. Dit het beteken dat geen land wapens aan Suid-Afrika kon verkoop nie.
Dit het tot die totstandkoming van die Krygstuigkorporasie van Suid-Afrika (Krygkor) gelei. Krygkor het ontstaan sodat die land sy eie wapens kon vervaardig.
Daar is aanvanklik slegs klein gewere en ammunisie vervaardig, maar daar is later besluit om ook onder meer pantservoertuie, vuurpylstelsels, missiele en militêre voertuie te vervaardig.
Suid-Afrika het in die jaar 1977 begin om jong mans vir diensplig van een jaar op te roep. Die vorige stelsel van vrywillige uitbreiding wat in 1974 ingestel is, was nie juis suksesvol nie en is uitgefaseer. In Januarie 1978 is daar besluit om die nasionale dienspligtydperk van 12 maande na 24 maande te verleng.
Die Grensoorlog van 1966 tot 1989 geduur. Die laaste Suid-Afrikaanse soldate het Angola op 30 Augustus 1988 verlaat en die oorlog was amptelik op 19 Mei 1989 verby.
Nuwe regering, nuwe weermag
Die eerste demokratiese verkiesing het in 1994 in Suid-Afrika plaasgevind en só ’n nuwe era ingelui. Die nuwe bedeling het veranderinge in alle staatsdepartemente gemaak, onder meer die departement van verdediging. Die nuwe Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het op 27 April 1994 tot stand gekom.
Dit het verskeie afdelings saamgesnoer, soos die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW); die weermagte van die voormalige tuislande (Transkei, Bophuthatswana, Venda en Ciskei) en die militêre vleuels van die African National Congress (ANC) en die Pan Africanist Congress (PAC), onderskeidelik bekend as umKhonto weSizwe (MK) en die Azanian People’s Liberation Army (APLA), asook sekere selfverdedigingseenhede in KwaZulu-Natal (KwaZulu-Natal Self-Protection Forces, KZNSPF).
Die Nasionale Weermag word deur Suid-Afrika se departement van verdediging oorsien met ’n visie van doeltreffende verdediging vir ’n demokratiese Suid-Afrika. 5
Die SANW het sedert 1994 aan verskeie vredesendings van die Verenigde Nasies, Afrika-unie en Suider-Afrika Ontwikkelingsgemeenskap in Afrika deelgeneem. Hulle het ook al telkens saam met ander lande aan vredesmagoefeninge deelgeneem. SANW-lede word ook in tye van onrus ontplooi om die polisie met die handhawing van wet en orde te help.
Die SANW het sedert 1994 aan verskeie vredesendings van die Verenigde Nasies, Afrika-unie en Suider-Afrika Ontwikkelingsgemeenskap in Afrika deelgeneem. Hulle het ook al telkens saam met ander lande aan vredesmagoefeninge deelgeneem. SANW-lede word ook in tye van onrus ontplooi om die polisie met die handhawing van wet en orde te help.
Die SA Lugmag is op 1 Februarie 1920 gestig met sir Pierre van Ryneveld as die direkteur van lugdienste.
Die Lugmag se eskader vliegtuie is grootliks moontlik gemaak deur die Britse regering wat in 1919 besluit het om ongeveer 100 vliegtuie uit die oorlogsvoorraad aan die Unie-regering te skenk. Die Lugmag het ’n stuk grond vir hul eerste vliegveld by Swartkop gekoop en het in 1922 gehelp om onluste tydens ’n groot mynwerkerstaking aan die Rand te stop.
In 1937 het die Lugmag ’n nuwe opleidingstelsel vir leerlingvlieëniers begin en is aansienlik vergroot. Die Britse Lugmag het ook in 1938 200 vliegtuie aan die Suid-Afrikaanse Lugmag geskenk en die vliegtuie is vir opleiding gebruik.
Vloot
Suid-Afrika se eerste onafhanklike vloot, die Suid-Afrikaanse Vlootdiens (SAVD) is amptelik in 1922 gestig, maar ’n mens kan sê dat die grondslag daarvoor met die Port Elizabeth Marine Vrywilligersbrigade gelê is. Die Brigade is in 1961 gestig en het hande met die Natal Marine Vrywilligersgroep gevat om ’n groter groep te stig. Hierdie groep het kanonne beman om die stad Durban te beskerm. Daar is later ’n soortgelyke groep in Kaapstad gestig en die eenhede het op 1 Julie 1913 saamgesmelt en die Koninklike Marine Vrywilligerreserwe (SA) is gestig. 6
Die Britse regering het ’n waarnemingskip en twee mynveërs aan die Vloot geskenk. Die Vloot het die skepe HMSAS Protea, HMSAS Sonneblom en HMSAS Immortelle genoem. Die SA Vlootdiens is egter in die jare dertig ontbind omdat daar nie geld was om dit in stand te hou en werknemers te betaal nie.
Hoewel die Vlootdiens ontbind was, is hulle egter gevra om in die Tweede Wêreldoorlog diens te doen. Daar is daarom op 15 Januarie 1940 ’n SA Verdedigingsmag ter See gestig. Die mag se eerste rol was om skepe te bekom en bemanning op te lei. Vrywilligers is gevra om aan te sluit en omdat daar nie op daardie tydstip bote beskikbaar was nie, is walvisbote en treilers sommer as oorlogskepe gebruik!
In 1942 het die SA Verdedigingsmag ter See en die Britse Koninklike Marine Vrywilligerreserwe saamgesmelt om die SA Seemag te vorm. In Oktober 1942 het die Duitsers duikbootaanvalle op skeepsroetes om die Kaap van stapel gestuur en 13 handelskepe is gesink. Die nuutgestigte SA Seemag het reddingsdienste aan die oorlewendes van skepe gelewer.
In 1943 is die SA Vrouevloothulpdiens begin en die SA Seemag het in 1944 sy eerste oorlogskepe gekry. Die Seemag het ook nuwe bote in hierdie tydperk gekry. Dit was die HMSAS Good Hope en die HMSAS Natal. Laasgenoemde het op 14 Maart 1945 ʼn vyandige duikboot gesink.
Die SA Seemag het hulle tydens die Tweede Wêreldoorlog baie goed van hul taak gekwyt, en baie van hulle het eerbewyse ontvang.
Die Seemag het op 1 Mei 1946 deel van die UVM geword. Die naam is in Januarie 1951 na die Suid-Afrikaanse Vloot verander en die Simonstad-vlootbasis is op 2 April 1957 aan die Vloot oorgedra.
Nuwe struktuur
Die SA Vloot en Lugmag se struktuur het ook met die koms van demokrasie en ’n nuwe regering verander.
Die Vloot het in 1979 ’n tak van seesoldate (mariniers) gevestig om Suid-Afrikaanse hawens te beskerm. Dit was tydens die Grensoorlog. Die seesoldate is ook in Suidwes-Afrika ontplooi. Die Grenskonflik het in 1989 geëindig en omdat die begroting vir verdediging gesny is, het die Vloot besluit om die seemag te ontbind.
Met die koms van demokrasie het die Vloot ook verander en deel van die nuwe Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) geword.
Woordbank
ammunisie | Enigiets waarmee ʼn mens kan skiet, bv. bomme, patrone, kruit. |
apartheid | Amptelike, rassistiese beleid van die Nasionale Party-regering (1948-1994) waarvolgens Suid-Afrikaners in rassegroepe geskei is. |
bataljon | Soldate-eenheid. |
betoging | Optog/demonstrasie om ontevredenheid oor ʼn aangeleentheid te toon. |
bondgenote | ’n Groep mense wat mekaar bystaan. |
brigade | Afdeling van ’n leër. |
burgermag | Die deel van die verdedigingsmag van ’n land wat nie deel is van die staande mag (permanente en heeltydse mag) nie. |
buskruit | Ontplofbare mengsel wat in vuurwapens gebruik word. |
demokratiese | ’n Regeringsvorm deur verteenwoordigers wat deur die hele bevolking gekies is, en gekenmerk word deur vryheid van spraak, van die individu, van die reg en van die media. |
diensplig | Verpligte aansluiting by die weermag, waartydens jong mans vir ’n bepaalde tyd militêre opleiding ontvang en in oorloë moet veg. |
ekonomie | Stelsel waarin die handel, produksie, ens. van ’n land of streek verkeer. |
era | Tydperk in die gesiedenis. |
eskader | Lugmageenheid wat uit vliegtuie bestaan. |
fort | Versterkte militêre bouwerk/vesting; skans. |
garnisoen | Aantal troepe wat ’n versterkte plek, veral ’n fort, beset. |
geproklameer | Amptelik bekendgemaak of aangekondig. |
gesneuwel | Om in ʼn oorlog deur die vyand doodgemaak te word. |
gestasioneer | Tydelike basis/plek waar soldate gebly het |
gewerf | Oorhaal om krygsdiens te doen, inskryf vir diensplig; ompraat, oorhaal om lid van ’n organisasie te word. |
grens | Die plek waar die SA Grensoorlog plaasgevind het: in die noorde van Namibië (destyds Suidwes-Afrika) en in die suide van Angola – hierdie gebied was dieoperasionelegebied. |
hoofkwartier | Basis of die plek van waar jy iets reël. |
kaptein | Offisier in die leër of polisie met ’n rang net bo dié van luitenant en net onder dié van major; bevelvoerder in ’n regiment. |
kolonies | Gebied waar ʼn groep mense hulle in ʼn nuwe land gevestig het en ʼn gemeenskap gevorm het wat geheel of gedeeltelik afhanklik is van die moederland; gebied wat deur ʼn ander land oorheers word; oorsese besitting; nedersetting. |
kommando’s | Gewapende mag. |
korporaals | Onderoffisier met ’n rang laer as ’n sersant. |
krygsgevange | ʼn Soldaat wat deur die vyand gevang en opgesluit word, meestal in ʼn krygsgevangenekamp. |
leër | Troepe met wapens, ’n krygsmag. |
lugmag | Afdeling van weermag wat die lugruim moet verdedig/beskerm. |
luitenant | Offisier laer in rang as kaptein; ondersteuner/helper. |
manskappe | ’n Ander woord vir soldate. |
missiele | Selfaangedrewe of afstand(s)beheerde wapens wat ʼn plofkop bevat en, nadat dit afgevuur is, na ʼn spesifieke teiken beweeg. |
muskette | Gewere wat jare terug gebruik is, het tipies ’n lont gehad. |
mynveërs | ’n Skip wat seemyne opruim. |
offensief | Aanvallende optrede. |
offisiere | Persone wat in die leër of vloot bevel voer. |
onluste | Voorvalle van burgerlike onrus; oproer; woelinge; beroeringe, dikwels met geweld. |
ontplooi | Oor ʼn bepaalde gebied versprei of op ʼn bepaalde plek plaas om ʼn taak te verrig. |
oorlogsfront | Die plek waar die vyandige leërs veg. |
oorsien | Toesig hou. |
oproer | Verste teen die landsowerheid; opstand. |
pantservoertuie | Militêre voertuie wat beskerming bied teen koeëls. |
professionele | Wat verband hou met ’n beroep, m.a.w. jy kry ’n salaris vir dit wat jy doen. |
Rand | Munteenheid in die tiendelige muntstelsel van Suid-Afrika met ’n waarde van honderd sent. |
rebellie | ʼn Georganiseerde poging om met geweld ʼn land se regering te verander of ʼn nuwe leier aan te stel. |
saamgesnoer | Tot ’n eenheid verenig. |
sersante | Persone in die weermag onder die rang van ’n luitenant (offisiere van die laagste rang). |
staandemageenheid | Permanente en heeltydse mag. |
staking | Die weiering van werkers om met hul werk voort te gaan, veral om beter diensvoorwaardes te probeer verkry. |
troepe | Gewone soldate sonder enige rang. |
uitgefaseer | Geleidelik afskaf, beëindig, onttrek. |
unie | Die naam van ʼn verbond of vereniging. Suid-Afrika was van 1910 tot 1961 ʼn Unie. |
van stapel gestuur | Van die begin af. |
veldslag | Geveg tussen twee leërs in ’n oorlog. |
verversingspos | ʼn Verversingspos of verversingstasie moes water en vars groente en vrugte aan die verbyvarende skepe voorsien. |
visie | Toekomsverwagting. |
vleuel | Leërafdeling, militêre flank. |
vloot | Versameling van ’n aantal skepe wat saam vaar, bymekaarhoort. |
wankelrig | Onbestendig, nie stabiel nie. |
wapenverbod | ’n Bevel dat geen wapens verkoop mag word nie. |
weermag | Gesamentlike land-, see- en lugmag wat ’n land verdedig. |
Lees hierdie artikels om meer oor ons land se weermag te leer
- Hoekom het ʼn land ’n weermag nodig?
- Meer oor die Suid-Afrikaanse weermag
- Inligting oor die Grensoorlog
- Geskiedenis van Suid-Afrika se weermag
Video’s
Suid-Afrika se militêre geskiedenis
Die Grensoorlog
Só is Suid-Afrika se soldate in die 1980’s opgelei waar sukses deur dissipline bereik is (selfs in die opmaak van ʼn soldaat se bed!)
Suid-Afrikaanse soldate in 1999
Die SA Weermag: gister en vandag