Vinnige feite

  • Renosterhorings bestaan uit keratien, dieselfde materiaal as waarvan hare en vingernaels gemaak is.2
  • Renosters het drie tone aan elke poot. Hulle vorm deel van die orde Perissodactyla – dit is diere met ’n onewe getal tone. 2
  • Dié diere kan meer as 40 jaar oud word. 2
  • Renosters is die tweede grootste soogdier wat op land leef. Die grootste is die olifant. 3
  • Al is hulle so groot, kan renosters oor ’n kort afstand ’n snelheid van 50 km/h bereik. Hulle kan ook baie skielik vassteek en op die plek omdraai. 2
  • Renosters gebruik nié hul horings om iets uit die grond te grawe nie. 7
  • Swart- en witrenosters se vel is tot 5 cm dik, nog dikker as dié van ’n seekoei. Hierdie dik vel help hulle om koel te bly in die somer en in die winter beskerm dit hulle teen die koue. 11
  • Witrenosters se kalwers word ná ’n dratyd van ongeveer 15 maande gebore en kalwers van swartrenosters ná ongeveer 16 maande. 11
  • Renosters gaan soms dood omdat hul kiestande weens ouderdom afslyt en hulle dan nie meer hul kos goed genoeg kan kou nie. Hulle kan dan nie die kos goed genoeg verteer nie en ook nie genoeg voedingstowwe uit die kos kry nie. 12
Foto: iStock

Hierdie dier wat lyk soos iets uit die prehistoriese tydperk, is kort-kort in die nuus. Ongelukkig is dit nie omdat renosters sulke besondere diere is nie, maar omdat sommige mense só gretig is om hul horings in die hande te kry en hulle daarom die heeltyd deur stropers gejag word. Renosters word só baie gejag dat hulle die gevaar loop om uit te sterf.

Waar kom renosters vandaan?

Die woord “renoster” kom van die Griekse woord rhīnókerōs (in Engels: nose-horned) wat letterlik “neushoring” beteken.

Die eerste renosters het 55 tot 34 miljoen jaar gelede op die aarde geleef – dit was kort ná die tyd van die dinosourusse. Hulle het eers in woude geleef en toe woude naderhand in grasveld (savanne) verander het, het hulle daarheen beweeg.

Die eerste renoster is nie verniet die “reusagtige renoster” genoem nie – hy was 5 meter hoog, het ’n lang nek gehad en ’n allemintige 20 000 kg geweeg! Dit klink of dit nie waar kan wees nie, maar as ’n mens daaraan dink dat die voorgeslagte van leeus wat in daardie tyd geleef het so groot was dat vandag se leeus blykbaar soos ’n huiskat teen daardie eerste leeus gelyk het, verstaan ’n mens hoe die renoster toe so groot kon wees. Hierdie renoster het net een horing gehad wat tot 3 meter lank kon word.

Ná hierdie reuse-renoster het daar wollerige renosters geleef. Hulle het ongeveer 10 000 jaar gelede uitgesterf. 1

Hoe lyk hierdie reusagtige dier?

Die verskillende soorte of spesies renosters het meesal twee horings: ’n korter horing agter en die langste horing voor op hul neuse. By die renosters van Afrika kan die voorste horing meer as ’n meter lank word. Die renosters van Asië se horings is gewoonlik heelwat kleiner. 2

Die renoster se vel is bruingrys. Die vel lyk en voel grof, maar agter hul ore is hul vel fluweelsag as ’n mens daaraan vat. 3 Natuurlik word dit nie aanbeveel dat enigeen dit probeer nie!

Hoewel ’n mens dit nie van ver af kan sien nie, is daar kort regop hare op die vel van renosters.

Renosters kan redelik goed sien, anders as wat mense soms dink. Omdat hul oë aan die kant van hul koppe sit, sien hulle nie so goed na voor nie, maar na die kante toe sien hulle goed. Hulle kan blykbaar ’n mens tot op ’n afstand van 200 meter ver uitken!

Swartrenosters op ’n drafstap.

Renosters kan ook goed hoor – hulle kan hul ore amper 270 grade draai om te luister.

Die renoster se brein is nogal klein wanneer ’n mens dit met sy groot lyf vergelyk. Die brein weeg slegs tussen 300 en 400 gram.

Renosters het ’n maag met net een kompartement. Hulle is herbivore en eet gewoonlik gras en blare. Die kos beweeg vinnig deur die maag en word dan hoofsaaklik in die dermkanaal verteer. Die renoster kan 200 tot 400 kg se vloeistof in sy dermkanaal stoor. Renosters het taamlike groot harte. Die hart van ’n witrenoster kan tot 10 kg weeg. ’n Renosterkoei se uier het twee spene en dit sit tussen haar agterpote. 3

Wit renosters en Indiese renosters weeg tussen 1,8 en 2,7 ton, hulle is ongeveer 1,8 meter hoog as ’n mens hul hoogte by hul skouerblaaie meet. Hulle word tussen 3,7 m en 4,7 m lank. 2

’n Indiese renoster en haar kalfie.

Swartrenosters word ongeveer 1,5 meter hoog en hul lywe is ongeveer 3 meter in omtrek. 4

Verskillende spesies renosters

In Suid-Afrika kry ons twee soorte renosters – witrenosters (Ceratotherium simum) en swartrenosters (Diceros bicornis).

’n Witrenoster met ’n afgesnyde horing.
’n Ou en uitgeteerde swartrenoster met ’n duidelike haaklip.

In Asië is daar ook drie soorte renosters: die Indiese renoster (Rhinoceros unicornis), die Sumatraanse renoster (Dicerorhinus sumatrensis) en die Javaanse renoster (Rhinoceros sondaicus).

Suid-Afrika se witrenoster en die Indiese renoster is ongeveer ewe groot. Ons swartrenosters is bietjie kleiner. Daarna volg die Javaanse renoster en dan die Sumatraanse renoster wat die kleinste van al die verskillende spesies is. 2

Twee swartrenosters.

Witrenosters kom voor in Afrika suid van die Sahara (in Engels: Sub-Saharan Africa) – die meeste is in Suid-Afrika met van hulle wat ook in Namibië en Botswana voorkom. Hulle bly in oop bosveld met heelwat bome en waar daar stukke gras is, genoeg skuilplek en water.

Swartrenosters het voorheen wyer voorgekom, ook in ander dele van Afrika. Ongelukkig is hulle getalle baie uitgedun en is daar vandag nie meer soveel van hulle oor nie. 5 Hulle bly in gebiede met digte struike en bome waar daar genoeg water is. 6

Die verskil tussen wit- en swartrenosters

Hierdie name van die twee Suid-Afrikaanse renosters het niks met kleur te doen nie – albei soorte is eintlik bruingryserig.

Kom ons kyk eerste na waar hierdie twee spesies renosters se name vandaan kom. Volgens oorlewering het dit gebeur weens ’n misverstand met taal. Die witrenoster het ’n baie wye bek en die Nederlandse woord vir “wyd” is “wijd”. Engelssprekende mense wat die woord gehoor het, het gedink dit klink soos “white” en het begin praat van “white rhinoceros”, wat toe in Afrikaans natuurlik “witrenoster” geword het. Oor die rede vir die swartrenoster se naam is daar nie duidelikheid nie. Dit is moontlik dat mense maar begin praat het van “swartrenoster” om hom van die witrenoster te onderskei.

Die vernaamste verskille:

Bek
Die witrenoster het ’n baie wyer bek wat ook ’n harde rif het om hom te help om gras mee af te pluk.
Die swartrenoster het ’n driehoekige bolip wat amper soos ’n vinger lyk. Dit help hom om blare in sy mond in te trek wanneer hy wei.

Sy-aansig (as ’n mens van die kant af na die twee renosters kyk): Die witrenoster het ’n knop op sy skouers en die swartrenoster se rug is effens hol.

Ore

Die witrenoster het gepunte ore wat langer as die swartrenoster sʼn is.

Die swartrenoster het ronde ore.

Liggaamsposisie

Die witrenoster se kop is meeste van die tyd grond toe gebuig omdat hy gras op die grond eet. Omdat die swartrenoster blare en takke eet, is sy kop gewoonlik gelig, min of meer op die hoogte van sy skouers.

Horings

Die witrenoster se horings is groter en swaarder en die voorste horing is baie groter as die agterste een. By die swartrenoster gebeur dit soms dat die agterste horing naderhand groter word as die voorste een.

Mis

As mens in die veld loop en kyk na die renosters se mis, is die witrenoster se mis donker en bestaan net uit gras.

Die kleur van die swartrenoster se mis is ligter en daar is altyd klein takkies in. 5

Geaardheid

Die geaardheid van die twee renosters verskil ook van mekaar. Witrenosters is rustiger diere as swartrenosters. 7

Swartrenosters beweeg meer rond en is meer temperamenteel as witrenosters.

Kalwers

Nog ’n verskil is dat die witrenoster se kalwers voor die koei loop. Swartrenosters se kalwers loop agter die koei. Swartrenosters wei meestal naby riviere waar die plantegroei ruig is. Die koei maak op hierdie manier eintlik die pad oop vir die kalf wat agter haar deur die plantegroei loop. Só kan die koei haar kalf beskerm teen gevaar wat moontlik in die ruie plantegroei kan skuil. 6

Die renoster se horings

Renosters se horings is nie horings soos ander diere s’n nie. By beeste en bokke groei ’n deel van die dier se skedel in die horing in. By renosters is daar ’n baie sterk groeiplaat wat aan die skedelbeen vas is en dit is waaruit die horing groei. Hierdie groeiplaat móét baie sterk wees omdat hy baie stampe en stote moet kan verduur – soos wanneer twee renosters baklei en mekaar met hul horings stamp.

Hierdie horing bestaan uit keratien – dit is ook waarvan mense se hare en naels gemaak is en waarvan beeste se kloutjies gemaak is. Die horings is solied en nie hol soos die horings van beeste en bokke nie. 8

ʼn Renoster se horing kan weer groei as dit afgebreek het. Hul horings kan byvoorbeeld afbreek wanneer hulle met mekaar veg. Maar wanneer die horing uitgesny word, soos dikwels tydens wrede stroping gebeur, kan dit nie weer groei nie. 2

Horings groei 4 tot 6 cm per jaar wanneer dit afgebreek het. 7

Wetenskaplikes wat navorsing gedoen het op renosters voor en nadat hulle onthoring is, kon nie vasstel dat dit enige negatiewe uitwerking op die renoster se geestestoestand het nie. Dit lyk nie asof die renosters regtig agterkom dat die horing af is nie en dit lyk ook nie asof dit hulle pla nie. Hulle optrede teenoor ander renosters is dieselfde voor en nadat hul horings verwyder is. Hierdie navorsing is in die Mankwe Natuurreservaat by Pilanesberg gedoen. 7

Hoe renosters met mekaar kommunikeer

Renosters is in die algemeen stil diere – hulle brul nie soos leeus of trompetter soos olifante nie. Maar hulle maak tog ’n aantal geluide om met ander renosters te kommunikeer.

Hulle maak ’n soort blaas- of hyggeluid – veral wanneer koeie en kalwers met mekaar kommunikeer. Wat interessant is, is dat hierdie geluid eie is aan elke koei en kalf sodat die kalf weet dat dit sy ma is wat hy hoor wanneer sy hierdie geluid maak!

Wanneer ’n renoster ’n soort snorkgeluid maak, beteken dit dat daar gevaar dreig.

Bulle maak ’n grom- of knorgeluid wanneer hulle mekaar dreig en koeie maak ook hierdie geluid wanneer ’n bul nader kom en sy hom nie naby haar wil hê nie.

Nog ’n geluid wat hulle maak, is ’n soort fyn skreeugeluid, amper soos die geluid wat ’n walvis maak. Dis gewoonlik wanneer hulle opgewonde is oor iets soos wanneer renosterwesies weet dat hulle melk gaan kry. 9

Twee witrenosters sê mekaar die stryd aan.

Nut van renosters vir ander diere

Omdat swartrenosters in digte plantegroei langs riviere wei, maak hulle paadjies waarin ander diere ook kan loop. Daar is dikwels ander herbivore wat naby witrenosters wei. Wanneer die witrenosters klaar gewei het, is die gras korter en dan kan bokke wat van kort gras hou, makliker vreet. Daarom sien ’n mens dikwels verskillende grasvretende diere saam wei. Sommige eet net die sade aan die bokant van die grashalms, ander die middelste deel van die halms en ander eet weer net die kort gras naby die grond. 5

Hoe erg is renosterstropery in Suid-Afrika?

Altesaam 80% van die wêreld se renosters is in Suid-Afrika. Suid-Afrika is echter ook die land waarin die meeste renosters gestroop word. Aan die einde van 2020 was daar 2 809 renosters in die Krugerwildtuin. In die tweede helfte van 2022 was daar net 2 458 oor. Daar word ten minste een renoster per dag in Suid-Afrika doodgemaak. 9

Vanaf 2013 tot 2022 het die renosters in die Krugerwildtuin met 60% afgeneem. In die eerste ses maande van 2023 is 231 renosters in Suid-Afrika doodgemaak. Van hierdie renosters was 42 in die Krugerwildtuin, 143 in KwaZulu-Natal, 46 in privaat reservate en 143 in provinsiale reservate. 10

Lees hier meer oor renosterstropery. (WEET-artikel).

Woordbank

afslyt Korter en stomper word van baie gebruik.
allemintige Iets wat baie groot is.
dermkanaal Spysverteringskanaal.
fluweelsag Iets was so sag is soos die materiaal wat fluweel genoem word.
gretig Wanneer iemand iets graag wil doen.
herbivore Diere wat plantmateriaal eet.
keratien Horingstof waaruit hare en naels opgebou is.
kompartement Mens sê dat iets in kompartemente verdeel is as dit uit verskillende dele bestaan.
misverstand Wanneer mense mekaar verkeerd verstaan.
omtrek Die afstand reg rondom ’n voorwerp.
onthoring Om ’n dier se horings te verwyder.
oorlewering Wanneer iets van geslag tot geslag deur mense oorvertel word.
prehistoriese tydperk ’n Tydperk duisende jare gelede, vóór die era waarvan antieke geskiedskrywers rekord gehou het.
rif Verhewe rand op ʼn dier se liggaamsdeel.
ruig Wanneer bome en plante dig teenmekaar groei.
skedel Beendeel van ’n werweldier se skelet (geraamte) wat die brein omsluit; kopbeen.
spene Tepels aan die melkklier van ʼn soogdier.
spesies Klassifikasies vir diere en plante.
stropers Mense wat diere onwettig jag omdat hulle dele van daardie diere wil verkoop.
temperamenteel Wanneer ’n dier of mens se gedrag onvoorspelbaar is en hy of sy maklik kwaad word.
uier Klierryke melkorgaan van soogdiere waaraan die kleintjies voed deur middel van spene/tepeltjies.
uitgedun Minder gemaak.
uit te sterf Wanneer diere soveel gejag word dat daar uiteindelik niks van hulle bly leef nie.
verduur Om iets te verdra, duld of aanvaar.
wei Die woord waarmee beskryf word wanneer herbivore eet.

Kyk dié leersame video’s

Verskillende renosters en verskille tussen renosters

Leer hier oor die vel van renosters

Animasie-video wat wit- en swartrenosters vergelyk

’n Renosterkoei beskerm haar kalfie

Witrenoster besig om te wei

Kyk hoe veroorsaak renosters ’n groot verkeersopeenhoping in die Krugerwildtuin!

Renosters wat baklei

20 interessante feite oor renosters

Beskerming van renosters

Interessante feite oor swartrenosters

Só kommunikeer renosters met mekaar

Luister hier na renosters se geluide

Renosters in Indië

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockGrafika: Hildegard BrummerFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 November 2023 | Bygewerk op 12 Februarie 2024