Vinnige feite

  • Andries Pretorius is deur die Voortrekkers gevra om uit die Kaapkolonie by hulle aan te sluit toe hulle byna sonder enige leier in Natal was.
  • Hy het ’n baie belangrike rol gespeel in die Voortrekkers se oorwinning by Bloedrivier. Sy kommando van Bloedrivier is die Wenkommando genoem.
  • Hy was betrokke by die onderhandeling tydens beide die Sandrivier- en die Bloemfontein-konvensie.
  • Pretoria is na Andries Pretorius vernoem.

Andries Pretorius word beskou as een van die belangrikste leiers onder Afrikaners tydens die Groot Trek en ook in die 19de eeu. Hy het ’n belangrike rol gespeel onder die Voortrekkers in ’n baie moeilike tyd vir die Groot Trek en het ook na afloop van die Groot Trek voortgegaan om ’n leidende rol as leier en politikus te speel. 1

Biografie

Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius is op 17 November 1798 in die Graaff-Reinet-distrik gebore. Sy eerste huwelik was in 1818 met Christina Petronella de Wit. Hulle het sewe dogters en drie seuns gehad. Sy is in 1848 oorlede terwyl Pretorius met ’n militêre veldtog besig was. Hy is in 1849 met Petronella de Lange getroud. 1

Daar is min bekend van Andries Pretorius se lewe en werk voor 1837. Sy oupa was Johannes Pretorius wat in die sewentiende eeu uit Holland in die Kaap aangekom het. Hy is in 1694 oorlede. Pretorius se oudste seun was ook Marthinus Wessel en hy het later president van die Zuid-Afrikaanse Republiek geword.

M.W. Pretorius

Hy was net lank genoeg op skool om te kon lees en skryf en ook ’n bietjie rekene te kon doen. Dit was wat meesal in daardie tyd gebeur het. Maar hy was ’n slim en begaafde man. 2

Andries Pretorius

Openbare loopbaan

Sesde Grensoorlog

Andries Pretorius se openbare loopbaan het tydens die Sesde Grensoorlog in 1836 begin. Hy is aangestel as die leier van 800 burgers in die burgermag. Hierdie leiersposisie van hom wys vir ’n mens dat die Boere en ook die Britse owerheid hom vertrou het as leier. 1

Pretorius was ’n baie lang man, meer as 2 meter lank en hy was goed gebou. Hy het hard gewerk, was vriendelik en het baie ondernemingsgees gehad. Dit wil sê, hy het vir baie dinge kans gesien en kon planne maak. Hy was ’n suksesvolle boer en het ’n hele paar plase in die Kaapkolonie besit. 3

Andries Pretorius se rol in die Groot Trek

Die Voortrekkers het aan die einde van 1838 baie swaar gekry en hulle was skielik sonder ’n sterk leier. Piet Retief is deur Dingaan vermoor, Piet Uys het in ’n geveg met Zoeloes gesterf, Gerrit Maritz is weens siekte dood en Andries Potgieter wou nie meer in Natal betrokke wees nie. Die Voortrekkers het vir Pretorius, wat toe nog in die Kaapkolonie gebly het, gevra om hulle te kom help. In hierdie stadium was hy ’n suksesvolle boer in die Kaapkolonie en hy het daar ook as leier opgetree. Hy het ingestem en het op 22 November 1838 by die Voortrekkers in Natal aangekom en het dadelik die pos van Kommandant-generaal gekry. 1

Gerhardus Marthinus Maritz

Die Slag van Bloedrivier

Op 24 November het die strafkommando teen Dingaan na Zoeloeland vertrek. Pretorius was nou die leier van 470 mans met 64 waens. Pretorius se sekretaris, Jan Bantjes, het hierdie tog in Junie 1839 in De Zuid-Afrikaan beskryf. Pretorius het die hele veldtog goed beplan en hy het ook die manskappe onder sy bevel goed hanteer. Daar is geen twyfel dat die sukses van die geveg by Bloedrivier aan hom te danke was nie.

Jan Bantjes

Op Saterdag 15 Desember het hulle tot by die Ncomerivier gevorder waar hulle ’n laer gevorm het. Die laer is op ’n baie goeie plek getrek – aan die een kant was ’n baie diep sloot en aan die ander kant die Ncomerivier. Die geveg het op Sondag 16 Desember 1838 plaasgevind. 4

Daar was ongeveer 10 000 Zoeloekrygers wat in groepe op die laer afgestorm het, maar hulle is elke keer deur die Voortrekkers teruggedryf. Nadat daar vir ongeveer twee uur geveg is, het Pretorius die bevel gegee dat die hekke van die laer oopgemaak moes word. Toe het perderuiters op die Zoeloes afgejaag en hulle uiteindelik verdryf. 2

Pretorius het sy kommando agter die Zoeloes laat aanry. Hulle het gery tot by Dingaan se stat Umgungundlovu wat ongeveer 70 km vanaf Bloedrivier was. Die stad was heeltemal verlate en afgebrand. Op die koppie waar Retief en sy mense vermoor is, het hulle die verweerde leertas gekry waarin die ooreenkoms tussen Retief en Dingaan nog was. Volgens hierdie ooreenkoms het Dingaan die land tussen die Tugela- en Umzimvuburivier en tussen die see en die Drakensberge aan die Voortrekkers gegee. 1

Andries Pretorius op perd gewond by Bloedrivier

Daar het soveel Zoeloes in die Ncomerivier geval, dat die water ’n rooierige kleur gekry het. Dit is waar die naam Bloedrivier ontstaan het. Aan die kant van die Voortrekkers is slegs drie mans gewond waaronder Andries Pretorius self. Daar is ongeveer 3 000 Zoeloes dood in die geveg. 3

Pretorius se kommando het nou bekendgestaan het as die Wenkommando. 1

Verdrag tussen Retief en Dingaan

Britse anneksasie van Natal

Engeland het Natal in 1842 geannekseer. Pretorius en die Boere het teen die Engelse geveg wat gestuur is om Natal te beset. Hoewel die Boere aan die begin sukses behaal het, moes hulle uiteindelik oorgee. Pretorius het na Grahamstad gereis en met sir Henry Pottinger vergader om te kyk of hy die Boere se onafhanklikheid kan terugkry, maar kon dit nie regkry nie.

Die Trekkers het Natal vanaf 1842 begin verlaat. Pretorius het aanvanklik probeer om aan te pas by die nuwe omstandighede onder Engelse bewind. Later het die lewe in Natal baie moeilik geword. Boere se vee is gesteel sonder dat daar teen die diewe opgetree is. Pretorius se gesin moes in ’n stadium van hul plaas af vlug.

Daarom het hy in 1848 ’n groot groep Voortrekkers oor die Drakensberge gelei na Transvaal, waar hy op sy plaas aan die Magaliesberg gaan bly het. 2

Port Natal

Brittanje annekseer die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier

Toe Pretorius en sy mense besig was om Natal te verlaat, het sir Harry Smith – toe goewerneur van die Kaap – hom kom ontmoet. Hy het vir Pretorius gesê dat dit nie help om oor die Drakensberge weg te trek nie omdat Brittanje ook die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier gaan beset. Dit het hulle op 3 Februarie 1848 gedoen en die gebied die Oranjerivier Soewereiniteit genoem. 1

Die Slag van Boomplaats

Pretorius is deur die Boere in Winburg gevra om ’n kommando daarheen te bring en hulle teen die Engelse te help. Hy het Winburg beset en die Brit, majoor HD Warden, uit Bloemfontein verjaag. Pretorius is deur die Britte voëlvry verklaar en ’n prysgeld van 2 000 Britse pond sou deur hulle betaal word vir die persoon wat hom gevange sou neem. Hy het nou reeds die rang van generaal gehad.

Hy het met 1 000 gewapende burgers na die Vrystaat gegaan om teen die Engelse te veg. Ongelukkig het die Boere op 29 Augustus 1848 die Slag van Boomplaats verloor. Dit is tussen die huidige Trompsburg en Jagersfontein.

Pretorius se eerste vrou Christina is oorlede terwyl Pretorius hier geveg het.

Hierdie nederlaag het ’n negatiewe uitwerking op Pretorius se status as Voortrekkerleier gehad.  Hy het egter steeds kontak behou met die Afrikaners suid van die Vaalrivier en het ook die politieke gebeure goed dopgehou. 2

Slag van Boomplaats

Sandrivier-konvensie: Onafhanklikheid vir Transvaal

Op 17 Januarie 1852 was Pretorius die leier van ’n afvaardiging wat twee Britse kommissarisse op die plaas van Piet Venter aan die Sandrivier ontmoet het. Tydens hierdie vergadering het Brittanje die onafhanklikheid van die gebied noord van die Vaalrivier erken. Hierdie ooreenkoms het bekendgestaan as die Sandrivier-konvensie.

Nou het die Voortrekkers gekry wat hulle doel met die Groot Trek was – hul vryheid in ’n eie onafhanklike staat. 2

Die Bloemfontein-konvensie: Onafhanklikheid vir die Oranje-Vrystaat

Pretorius wou baie graag hê dat die Oranjerivier die grens moes wees vir die onafhanklike gebied van die Voortrekkers. Daar was vroeg in 1853 reeds gerugte dat die Britte die gebied noord van die Oranjerivier aan die Voortrekkers wil teruggee. Pretorius het daarom vir koningin Victoria gevra om alle grond wat vroeër aan die Voortrekkers behoort het, aan hulle terug te gee.

Koningin Victoria

Dit het toe ook gebeur toe sir George Clerk en verteenwoordigers van die Voortrekkers op 23 Februarie 1854 ’n ooreenkoms aangegaan het. Dit is die Boemfontein-konvensie genoem en so het die Oranje-Vrystaat ontstaan.

Ongelukkig is Pretorius op 23 Julie 1853 oorlede. Hy kon dus nie hierdie oorwinning van die Voortrekkers beleef nie al het hy hard daarvoor gewerk. 2

Bloemfontein, 1850’s

Hoe word Andries Pretorius onthou?

Hier is enkele voorbeelde van eerbetoon en erkenning aan Pretorius vir alles wat hy in sy lewe gedoen het – eers vir die Voortrekkers en daarna om onafhanklikheid te verkry.

  • Pretoria is na Andries Pretorius vernoem.
  • By die Voortrekkermonument in Pretoria is een van die figure wat op die hoeke van die Monument opgerig is, ’n standbeeld van Pretorius.
  • By Graaff-Reinet is daar in 1943 ’n monument ter ere van Pretorius opgerig. Die monument is net buite die dorp op die N9 na Middelburg en is deur die bekende beeldhouer Coert Steynberg ontwerp. Hy het ook osse deel van die standbeeld gemaak omdat trekosse so ’n belangrike rol gespeel het deur die Voortrekkers se waens tydens die Groot Trek te trek. Op die monument is die volgende woorde wat Pretorius in 1848 aan Harry Smith gesê het: “Eenmaal sal daar wel ’n wiel oor ons wêreld rol wat vir u en vir my onkeerbaar is” 5
  • In 1955 is daar ’n standbeeld van Pretorius op sy perd voor die Stadsaal in Pretoria opgerig. Die beeldhouer was weer Coert Steynberg. 6

Andries Pretorius-huis in die Voortrekkerkompleks,Pietermaritzburg. Die verskuifde en herboude grasdak-dubbelverdiepinghuis van Andries Pretorius dateer uit 1843

Woordbank

geannekseer Wanneer een land (gewoonlik ’n groter en sterker land) ’n ander land by sy eie gebied inlyf, dit wil sê deel maak van die groter land.
konvensie Formele ooreenkoms, veral tussen verskillende lande.
voëlvry Iemand wat deur enigeen vervolg (of gevang) kan word en nie deur die wet beskerm word nie. Dikwels is daar ’n losprys op so ’n persoon se kop. Dit wil sê die persoon wat hom of haar vang en aan die owerheid oorhandig, kry ’n beloning.
kommando ’n Gewapende mag wat deur die Voortrekkers of deur die Boere tydens die Anglo-Boereoorlog saamgebring is.
bewind Beheer, bestuur of regering. Voorbeeld: Die ANC het in 1994 die bewind in Suid-Afrika oorgeneem. 7

Kyk na die volgende om nog meer te leer

 

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 3 Junie 2022 | Bygewerk op 27 Februarie 2024