Vinnige feite

  • Siener van Rensburg was in 1914 ’n sieklike 50-jarige man. Hy het “visioene” gehad oor die Afrikaners se toekoms. De la Rey en ander was beïndruk deur sy psigiese vermoëns. Dit is moontlik dat hy aan epilepsie gely het en vir die “visioene” verantwoordelik was. 3
  • Drie bekende dominees van daardie tyd, dr. D.F. Malan, ds. H.S. Bosman en ds. C.A. Neethling, het probeer om vir Smuts te oortuig om Jopie Fourie te begenadig, maar hulle kon nie daarin slaag nie. Smuts was oortuig daarvan dat die doodstraf die regte straf vir Fourie was, en hy het dit agterna in die openbaar gesê. Baie mense het hom egter as ’n moordenaar beskou. ’n Voorbeeld hiervan is ’n anonieme Kerskaartjie wat hy in Desember 1915 ontvang het: “Op die herdenkingsdag van die moord op Jopie Fourie wens ons die moordenaar ’n gelukkige Kersfees toe”. 4
  • Jopie Fourie het ’n martelaar geword. Baie Afrikaners het hom as rolmodel gesien, veral toe dit bekend geword het dat hy die nag voor sy teregstelling ’n brief aan sy volksgenote gerig het. Hierdie brief, wat begin met “Getrouwe Afrikaander vrienden en vriendinnen”, sê onder meer: “Wees getrouw aan u tradisies, wees getrouw aan uw volk, aan uw Godsdienst en aan uw God … Skryft op mijn grafsteen deze woorden: Voor God en Vaderland!” 4
  • Die Vroueoptog van 1915 was die eerste groot optog van vroue na die Uniegebou in Pretoria. Daar was ook  ʼn groot optog van Afrikanervroue na die Uniegebou in 1940. Vrouedag – wat jaarliks op 9 Augustus plaasvind – herdenk net die optog van vroue na die Uniegebou op 9 Augustus 1956.
  • Die Rebellie het meer sterftes gehad as die inval in Duitswes-Afrika. In die Rebellie is 322 mense dood en 542 gewond. In die hele ekspedisie om Duitswes-Afrika in te val, is 114 mense dood en 282 mense gewond. 1
Foto: iStock

Die Rebellie van 1914, somtyds genoem die Afrikaner-Rebellie, was ’n opstand teen die regering se besluit van 1914 om aan Brittanje se kant teen Duitsland in die Eerste Wêreldoorlog te veg, en Duitswes-Afrika (later bekend as Suidwes-Afrika en vandag Namibië) in te val.

Aankoms van rebelle onder leiding van kmdt. du Plessis in Jagersfontein.

Wie was betrokke?

Die leiers van die Rebellie was Christiaan Frederik Beyers, die kommandant-generaal van die weermag; Christiaan de Wet, die beroemde Anglo-Boereoorlog (ABO)-generaal; en Manie Maritz en Jan Kemp, albei offisiere in die weermag. Koos de la Rey, nog ’n bekende generaal van die ABO, het ’n vroeë rol gespeel, maar hy is dood voor die Rebellie begin het. 1

Agtergrond

Op 4 Augustus 1914 het Brittanje en sy bondgenote oorlog teen Duitsland en sy bondgenote verklaar. Hierdie stryd sou tot in 1918 duur en staan as die Eerste Wêreldoorlog bekend.

Suid-Afrika se regering in 1914 was die Suid-Afrikaanse Party (SAP), onder leiding van Louis Botha en Jan Smuts. Volgens Suid-Afrika se Grondwet moes Suid-Afrika aan Brittanje se kant veg. Die Britse regering het Suid-Afrika gevra om toe te tree tot die oorlog deur Duitswes-Afrika, wat ’n Duitse kolonie was, in te val. 2

Oorsake van die Rebellie

‘n Knellende droogte het Suid-Afrika in 1914 geteister en daar was grootskaalse armoede onder Afrikaners. Baie mense was ook ongelukkig omdat daar voorkeur aan Engelssprekendes in die staatsdiens en spoorweë gegee is, veral as dit by hoër posisies gekom het.

Die regering het besluit dat die parlement in September 1914 sou stem. Daar was twee kwessies: die een was om aan Brittanje se kant te staan, en die tweede was of dit reg was vir Suid-Afrika om Duitswes-Afrika in te val. 1

Aan die een kant het Botha, Smuts en die leiers van die SAP gevoel dat Suid-Afrika nie eintlik ’n keuse het nie. Meeste kiesers het ook so geglo. 2 Aan die ander kant was daar ’n paar redes waarom talle Afrikaners nie aan die oorlog wou deelneem nie.

Die ABO het 12 jaar tevore geëindig en sommige Afrikaners het nog gevoelens van wraak teenoor die Britte gehad. Verder was Duitsland die Boererepublieke goedgesind tydens die ABO. Een leier het opgemerk dat hy nie kan dink dat die “kinders van die konsentrasiekampe” oorlog teen Duitsland kon maak nie. 3

Die konsentrasiekamp in Potchefstroom tydens die ABO.

Nog ander het gesê dat dit nie gelyk het of Duitswes-Afrika Suid-Afrika sou inval nie, en dus was daar nie ’n goeie rede om hulle aan te val nie. Laastens was daar ’n groot Afrikanergemeenskap in Duitswes-Afrika, en mense soos Christiaan de Wet het vanuit ’n godsdienstige oogpunt geredeneer dat om Duitsland aan te val, sou wees soos om oorlog teen jou naaste te maak. 1

Die stemmery het op 12 September 1914 plaasgevind. Met 91 teenoor 12 stemme is besluit om wel aan Britse kant tot die oorlog toe te tree, en om Duitswes-Afrika in te val. 4

Droom van onafhanklikheid

Meeste Suid-Afrikaners was bereid om te aanvaar dat Suid-Afrika saam met Brittanje in die oorlog moes staan. Die besluit om Duitswes-Afrika in te val, was egter vir sommige onaanvaarbaar. 2

Sommige veterane van die ABO wou nie hê dat Suid-Afrika die Britte moes steun nie. Hulle het gehoop dat die Eerste Wêreldoorlog Brittanje so besig sou hou dat dit hulle ’n kans sou gee om die Boererepublieke op te bou. 4

Sommige van hierdie mense, soos De la Rey, is geïnspireer deur die “visioene” van Siener van Rensburg. Hy het voorspel dat die oorlog tot die herwinning van die Boere se onafhanklikheid sou lei. 3

Aanloop tot die Rebellie

Kemp en Beyers het middel September uit die Unie-weermag bedank, omdat hulle geweier het om aan die inval van Duitswes-Afrika deel te neem. 1

De la Rey was in twee geskeur. Beyers het hom probeer oortuig om aan ’n protes deel te neem, maar sy vrou, Nonnie de la Rey, was daarteen gekant. Sy het geglo haar man het belowe om die regering te ondersteun, en hy moes by daardie belofte hou.

Nonnie de la Rey.

Sy het hom Pretoria toe geneem, waar hy vir Smuts en Botha ontmoet het. Daar het hy vir Botha teen die inval van Duitswes-Afrika gewaarsku, en hom vertel van Van Rensburg se voorspellings. Botha en Smuts wou hom nie steun nie. Hulle het hom wel oorreed om te belowe om nie iets onbesonne aan te vang (te doen) nie. 3

Intussen is ’n vergadering op 15 Augustus 1914 by Treurfontein (Coligny) gereël. Die burgers is aangesê om gewapend soontoe te gaan. By dié vergadering is daar besluit dat die burgers na Pretoria moes gaan. De la Rey was steeds besluiteloos. 1

Rebelle in die tronk.

De la Rey se dood

Beyers en De la Rey het op 15 September 1914 na Potchefstroom vertrek. 4 In Johannesburg het hulle op ’n polisieblokkade afgekom. 2

Die polisie was eintlik op soek na ’n kriminele groep, die Foster-bende, maar Beyers het gedink die polisie soek húlle. Hy het besluit om deur die blokkade te jaag. ’n Polisieman het ’n skoot afgevuur. Die koeël het die grond getref, en toe vir De la Rey. Dit was net een skoot, maar hy is op slag dood. 3

De la Rey en Botha buite die parlementsgebou.

De la Rey se dood het skokgolwe deur die Afrikanergeledere gestuur. 3 Baie mense het gedink sy dood was die regering se skuld, wat nie waar was nie. 4

De la Rey se baadjie met die koeëlgat in.
Beyers se motor waarin De la Rey noodlottig gewond is.

Die Rebellie

Die Rebellie het kort ná De la Rey se begrafnis begin. 4 Teen die einde van Oktober 1914 het De Wet, Beyers, Maritz en Kemp, asook hul ondersteuners, aktief teen die regering se troepe geveg. 1

Daar was genoeg van hulle dat Botha geforseer is om ’n krygswet af te kondig om die Rebellie te onderdruk. 3

‘n Pophuis wat deur genl. de Wet en ander rebelle tydens die Rebellie van 1914 gemaak is.

Die Boere het natuurlik nie daarvan gehou nie en het die krygswet (wat in Engels as martial law bekendstaan) spottenderwys en met afkeur sommer Martjie Louw genoem.

Die Rebellie was nie baie wyd verspreid nie. Dit was beperk tot klein dele van die Noord-Vrystaat, Noord- en Wes-Transvaal en die Noord-Kaap. 2

Een van die redes waarom dit hierdie gebiede was, was omdat dit in die jare voor die Rebellie hier baie sleg gegaan het. Daar was onder meer drie jaar van erge droogtes. Ná die Rebellie het iemand opgemerk dat “Rebellie vir desperate mense nie so ’n ernstige ding lyk nie”. 3

Omtrent almal wat by die Rebellie betrokke was, was Afrikaners. Die Rebelle self was almal Afrikaners, asook die meerderheid polisielede en regeringsoldate. 2 Botha het opdrag gegee dat slegs Afrikaanssprekende soldate opgekommandeer moet word om die Rebellie te onderdruk. 4

Rebelle in Harrismith.

Die rebelle was nie goed georganiseerd nie. Hulle was verdeeld oor wat presies hulle wou doen. Daar was misverstande tussen die leiers. 4 Hulle het te min ammunisie en voedsel gehad. In sommige dorpe het hulle selfs winkels vir benodighede geplunder. 2 Die rebelle was nie opgewasse om teen die regering se 32 000 manskappe te veg nie. Bowendien het die rebelle geveg soos tydens die ABO – met gewere en perde – terwyl die regering militêre voertuie en masjiengewere gehad het. 3

Mev. Beyers by haar man se graf.

Die Rebellie is binne vier maande onderdruk. Die rebelle het almal gevlug. Beyers het in die Vaalrivier verdrink. De Wet het ná ’n geveg waarin sy een seun gesneuwel het, weswaarts uitgewyk, maar hy is naby Kuruman gevang. Kemp het in die Kalahari oorgegee. Maritz het ontsnap deur na Duitswes-Afrika te vlug. 4

In totaal was daar omtrent 11 000 rebelle, waarvan 7 000 Vrystaters, 3 000 Transvalers en omtrent 1 000 Kapenaars was. 1

Kranslegging by generaal Beyers se graf.

Nadraai van die Rebellie

In totaal het 190 rebelle gesneuwel, asook 132 regeringstroepe. Altesaam 300 rebelle is gewond teenoor 242 regeringstroepe. 1

Die regering wou die rebelle straf. Hulle het egter geweet dat swaar strawwe ongewild sou wees en dat baie mense simpatie met die rebelle gehad het. Al het die rebelle hoogverraad gepleeg en kon hulle erg gestraf word, wou die regering hulle nie té swaar straf nie. 2

Boere in Johannesburg-fort

Jopie Fourie

Een van die Rebellie-leiers is wel swaar gestraf: Jopie Fourie. Hy was ’n lid van die weermag en het ’n rebellegroep gelei sonder om uit die weermag te bedank (soos wat Maritz en Beyers gedoen het). In aanvalle waar hy betrokke was, het daar baie soldate gesneuwel. Fourie is van hoogverraad aangekla. Sy verhoor voor ’n spesiale krygshof het een dag geduur. Hy is ter dood veroordeel. Daar het mense probeer om Smuts te oortuig om Fourie te begenadig, maar Smuts wou nie luister nie. Fourie is die dag ná sy verhoor, op Sondag 20 Desember 1914, tereggestel. 2

Jopie Fourie.

Die lot van De Wet

De Wet is in Junie 1915 in die Hooggeregshof in Bloemfontein aan hoogverraad skuldig bevind, tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis en ’n boete van £2 000 opgelê. Hy het onskuldig gepleit aan hoogverraad, maar wel skuldig aan oproer. Ná sy vonnisoplegging het hy sy verbasing uitgespreek dat sy straf so lig was. Sy boete is binne ’n paar maande deur geldinsameling betaal. Hy is in Desember 1915 vrygelaat, maar het hom daarna op die Vrystaatse platteland gevestig en uit die publieke oog verdwyn. 4

Christiaan de Wet as gevangene.

In daardie jare was Suid-Afrika se geldeenheid die Britse pond. En in 1914 was £1 000 gelykstaande aan wat mens vandag vir £128 250,50 kan koop, met ander woorde sowat R2 598 977! 1

Die ander rebelle se straf

Kemp is tot 6 jaar tronkstaf en ’n £1 000-boete gevonnis. Tussen 4 000 en 5 000 ander rebelle is ook beboet en tronkstraf opgelê. Die meeste van hulle, insluitend Kemp, is teen die einde van 1915 of in 1916 vrygelaat.

Vroueoptog van 1915

Die skuldigbevinding van die Rebellieleiers het tot ’n merkwaardige gebeurtenis in die Afrikanergeskiedenis gelei: die vroueoptog van 1915.

Die vroueoptog se Pretoria-leiers by Hendrina Joubert.

’n Groep vroue, onder leiding van Hendrina Joubert, het ’n brief in koerante laat publiseer, waarin hulle vroue gevra het om saam met hulle aan ’n optog deel te neem. Die doel van die optog was om ’n versoekskrif aan die regering te oorhandig. Hulle versoek was dat De Wet vrygelaat moes word en dat die ander rebelle wat gevonnis is, amnestie moes kry. 4

Vrouebetogers van Natal.

Die optog het op 4 Augustus 1915 in Pretoria plaasgevind. Tussen 3 000 en 6 000 vroue het aan die optog deelgeneem, wat meer as 65 000 vroue van oor die hele land verteenwoordig het. Die vroue het op Kerkplein bymekaargekom, en in stilte in rye van sewe na die Uniegebou gestap. Daar het hulle die versoekskrif aan ’n verteenwoordiger van die regering oorhandig. 4

Vrouebetogers by die Uniegebou in Pretoria.

Hoewel die regering nie aan die vroue se versoeke toegegee het nie, het die optog het ’n belangrike gevolg gehad – dit het tot ’n opwelling van ‘n volksgevoel onder die Afrikaners gelei. Dit was ook die ontwaking van die Afrikanervrou as polities aktiewe figuur. Dit het onder meer gelei tot die stigting van die Vroue Nasionale Party. 4

Vroue op Kerkplein voor die optog.

Die digter Jan F.E. Celliers het die bekende gedig, “By die Vrouebetoging”, daaroor geskryf:

Stil! Berei jul hart as ten gebede

en suiwer daaruit weg wat wêrelds is,

om aan te hoor die naam wat ek wil noem – die

eerste hier op aarde na die naam van God

die Skepper, God die Albehoeder –

die naam is … Moeder!

Die grond is heilig waar haar voete gaan – op

kamervloer, in moordkamp, oor die straat, want

haar is Jesus’ liefde-taak vertroud,

wat offer bring van eie vlees en bloed.

Ek sien haar swyend gaan op steile pad,

half duisel nog van nagte deurgewaak,

en wankel-tredend, elke tree ’n pyn,

na soveel gaans aan liefdewerk gewy.

Ek sien haar wag, geduldig, sonder woord,

soos sy al honderd jaar gewag het en gely,

ek sien haar wen, deur lye net soos Hy;

ek sien haar wen, vir man en seun en broeder,

want haar naam

is Vrou, en Moeder!

Helpmekaarfonds begin

Die insameling wat gehou is om die rebelle se boetes te betaal, het soveel geld opgelewer dat hulle die geld ook vir ander goed kon gebruik. Dit het die Helpmekaarfonds geword. Die geld is onder meer gebruik om behoeftige studente se studiegelde te betaal. 2

Die Rebellie het die verdeling onder die Afrikaners tussen die SAP en die NP vererger. 1

Die SAP (Smuts en Botha se party) het baie steun verloor, veral oor hul besluit om Duitswes-Afrika in te val, en ook hul besluit om Jopie Fourie tereg te stel. Terselfdetyd het die Nasionale Party (NP) onder J.B.M. Hertzog se steun, baie gegroei omdat Hertzog met die rebelle gesimpatiseer het. In die verkiesings ná die Rebellie het die NP se steun baie gegroei. 2

Woordbank

amnestie Algemene kwytskelding van straf of vervolging.
bondgenote Iemand wat hom verbind om ‘n ander te help.
epilepsie Siekte wat ‘n persoon sy bewussyn laat verloor en laat neerval.
gesneuwel Om in ʼn oorlog deur die vyand doodgemaak te word.
Grondwet Wet wat in hooftrekke die regeringsvorm van ‘n staat, die funksies van staatsorgane en die verpligtinge en regte van die burgers bepaal.
hoogverraad Misdadige optrede om die regering van die staat waaraan die persoon trou verskuldig is, omver te werp.
kolonie Gebied wat ‘n oorsese besitting van ‘n ander land is.
kommandant-generaal Die opperste bevelhebber van ‘n weermag.
krygshof Militêre hof wat oor oorlogsmisdrywe vonnis moet vel.
martelaar Persoon wat doodgemaak word om ‘n oortuiging.
onbesonne Om haastig en sonder behoorlike deurdagtigheid op te tree.
opstand Verset op ‘n groot skaal.
parlement Liggaam in ‘n land met die hoogste wetgewende gesag.
psigiese Wat op die geestelike of siel betrekking het.
rebel Iemand wat hom teen die wettige gesag versit; opstandeling, dwarstrekker, koppige mens.
tereg te stel Die doodstraf voltrek.
veterane Persoon met baie jare se militêre ondervinding.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die Afrikaner-Rebellie van 1914

Die Rebellie van 1914

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 22 Julie 2022 | Bygewerk op 27 Februarie 2024