Vinnige feite

  • Piet se pa, Koos Uys, was ’n baie godsdienstige man en het die bynaam Koos Bybel gehad. In Oktober 1837 het Koos ’n kerk (met modder en gooipleister) by Kerkspruyt naby Thaba Nchu laat bou. Om die eerste nagmaalsdiens van die Voortrekkers noord van die Oranjerivier te gedenk, het hy sy naam met ’n beitel op ’n groot klip uitgekap. Hierdie klip word in die Bloemfontein-museum bewaar. 2
  • Een van Piet Uys se broers – sy bynaam was Swart Dirk – het ’n tou wat van ’n eland se vel gemaak is, gebruik om ’n dorp uit te meet! Daardie dorp se naam is vandag Wakkerstroom. 7
  • Piet Uys se seun Dirkie Uys was net 12 jaar oud toe hy gesterf het terwyl hy sy pa in ’n geveg teen die Zoeloes probeer red het.
  • Terwyl Piet nog in die Oos-Kaap gebly het, het hy in Grahamstad en Uitenhage aan perderesies deelgeneem – ook saam met Britse offisiere! 1
  • Uys wou nie vir Piet Retief en Gerrit Maritz as leiers erken nie. Hy en sy mense het besluit dat niemand anders ’n leier van die Uys-trek sou wees nie. 1
  • Ná die Slag van Bloedrivier is Uys se beendere bymekaargemaak en op hul familieplaas, Uysdoorns, by Pietermaritzburg begrawe. Hy is later in die distrik van Utrecht herbegrawe. 1
  • Piet Uys se weduwee het in 1842 ’n plaas in die distrik van Port Natal (vandag Durban) by die Volksraad van die Republiek van Natal gekry. 1
  • Dick King, by wie Piet Uys raad gevra het oor die hantering van die Zoeloes, is in Engeland gebore. Hy en sy gesin het saam met die 1820-setlaars na Suid-Afrika gekom. Toe Britse soldate in Mei 1842 deur Boeresoldate vasgekeer is, het Dick op sy perd van Durban na Grahamstad gery om daar hulp by ander Britse soldate te gaan soek. Hy het in net 10 dae altesaam 950 km ver gery! Hy het die boodskap oorgedra en die soldate kon vanaf Port Elizabeth betyds per skip na Durban kom die vasgekeerde soldate te help. In Durban is daar ’n standbeeld van Dick op sy perd sodat mense sy heldedaad kan onthou. 8
Foto: iStock

Piet Uys was ’n baie bekende Voortrekkerleier wat ’n dapper man en ’n goeie leier vir sy mense was. Omdat hy egter daarvan gehou het om dinge op sý manier te doen, het hy dikwels met ander leiers gebots. Hoewel mense sy dapper dade onthou, word hy ongelukkig ook onthou oor die baie hartseer manier waarop hy gesterf het.

Piet Uys se volle name was Petrus Lafras Uys, maar almal het hom Piet genoem. Hy is op 23 Oktober 1797 op die plaas Potberg in die Swellendam-distrik in die huidige Wes-Kaap gebore. 1

Piet Uys.

Byname onder die Uys-familie

Die Uys-gesin het voor die Groot Trek naby die huidige Humansdorp in die Oos-Kaap geboer en het ook in Uitenhage gewoon waar Piet se pa, Koos Uys, ’n aantal besighede gehad het.

Toe Piet 18 jaar oud was, is hy met sy niggie Alida Maria Uys getroud. Hulle het drie seuns gehad. 2

Van toeka se tyd het Afrikaanssprekende mense daarvan gehou om iemand ’n bynaam te gee wat gewoonlik die karakter of voorkoms van só ’n persoon beskryf het, of ’n gebeurtenis waarby dié persoon betrokke was. Piet Uys se pa, Koos, het die bynaam Koos Bybel gehad. Twee van Piet se broers ook byname gehad. Dirk Cornelis was bekend as Swart Dirk, en Johannes Zacharias as Jannie Gyselaar. Sy ander broers se name was Cornelisjanse, Jacobus Johannes (Cobus) en Wessel Hendrik.

Doop van babas in die Uys-laer.

Twee van Piet se seuns het ook byname gehad: Jacobus Johannes is Kruppel Koos genoem en Petrus Lafras het die bynaam Piet Hlobane gehad. Sy ander seun was Dirk Cornelis (Dirkie).

As Voortrekkerleier was Piet die bekendste van die ses seuns. Tog het van sy ander broers later ook hul voetspore in die geskiedenis gelaat. Kom ons kyk wat hulle gedoen het:

Cobus was een van vier laerkommandante tydens die Slag van Bloedrivier. Een van Piet se seuns, Piet Hlobane, het ook hier geveg. Hy was toe net 11 jaar oud. Swart Dirk en Jannie Gyselaar het ook by Bloedrivier geveg.

Swart Dirk het tot op die ouderdom van 96 geleef. In 1859 het hy ’n dorp met die naam Uysenburg gestig. Later is die naam na Marthinus Wesselstroom verander, en vandag is dit die dorp Wakkerstroom in Mpumalanga. Hy was ’n baie goeie beesteler en is vandag nog bekend as die persoon wat die Drakensberger-beesras begin het. Sommige mense het hierdie ras ook Uysbeeste genoem.

Swart Dirk is in die historiese begraafplaas in Wakkerstroom begrawe en van sy nageslag bly vandag steeds in die distrik.

Kommandant Petrus Lafras Uys (1827-1879) en twee van sy seuns.

Persoonlikheid en karaktereienskappe

Daar is skrywers wat van mekaar verskil as dit kom by die beskrywing van Piet se persoonlikheid en karaktereienskappe. Sommige van hulle skryf dat Piet Uys effens hardkoppig was en vinnig kon optree sonder om vooraf aan moontlike gevare te dink (impulsief). Hy het soms glo ook vinnig sy humeur verloor.

Tog was Piet Uys ’n intelligente persoon met baie selfvertroue en ‘n goeie spreker. Sy dapperheid tydens die gevegte aan die Oosgrens het op ’n jong ouderdom van hom ’n leier onder die Boere gemaak. Terwyl die meeste Voortrekkerleiers heelwat ouer as hy was, is Piet reeds as ’n Voortrekkerleier erken toe hy nog nie eens 40 jaar oud was nie.

Hy het goeie verhoudinge met die Engelse inwoners van die omgewing gehad en was onder andere vriende met die Engelse goewerneur sir Benjamin D’Urban en kolonel Harry Smith.

Sir Benjamin D’Urban.

Piet se formele skoolopleiding was redelik kort, maar tog kon hy briewe en dokumente in duidelike en goeie taal skryf. Hy het ook oor ‘n goeie kennis van buitelandse gebeure (dinge wat in ander lande gebeur het) beskik.

Hy het aan ’n hele paar van die Grensoorloë deelgeneem en daardeur bekendheid verwerf vir sy leierskap. 2

Sir Harry Smith.

Rol in die vroeë jare van die Groot Trek

Piet Uys was een van die eerste leiers onder die grensboere wat daaraan begin dink het om na die binneland te trek. Dit is moontlik dat hy reeds in 1829 vir die eerste keer die binneland besoek het om na moontlike blyplek te kyk. 3

In September 1834 het Piet en ’n groep van 21 mense ’n verkenningstog na Natal (vandag KwaZulu-Natal) aangepak om ’n ooreenkoms met die Zoeloes aan te gaan oor grond vir die Voortrekkers. Hulle het Port Natal (vandag bekend as Durban in KwaZulu-Natal) besoek waar hy, onder andere, raad by die alombekende Dick King gevra het oor wat die beste manier is om met die Zoeloes te onderhandel. 2

Dick King

Uys het Dingaan ontmoet en is vriendelik ontvang. Om grond te verkoop, was egter iets wat nie in die Afrika-tradisie bestaan het nie – die Zoeloes het nog nooit voorheen enige grond verkoop nie. Dingaan het wel ingestem om verblyfreg op die grond (teen betaling) aan Uys se mense te gee. Hy is toe eers terug Kaapkolonie toe om dié goeie nuus aan sy mense oor te dra. Dingaan se ooreenkoms met Uys was dat dit kon gebeur wanneer Uys later weer terugkeer na Natal.

Bronne verskil hieroor, maar volgens sommige bronne is ’n familielid by Dingaan gelaat as ’n teken dat Uys se bedoelings eerlik was en dat hy wel sou terugkeer. Een bron noem dat dit Uys se een seun was, terwyl ’n ander bron beweer dat dit een van Uys se jonger broers was (die een wat Jannie Gyselaar genoem is). Hierdie seun het egter baie na sy mense verlang en is ná twee weke agter die Trekkers aan. Twee van Dingaan se soldate het saam met hom gereis totdat hy veilig by sy mense was.

Toe Uys terug was in die Kaapkolonie, moes hy eers aan die Sesde Grensoorlog deelneem. Dit het dus langer geneem om na Natal terug te keer as wat aanvanklik die plan was. 4

Die Sesde Grensoorlog.

Piet Uys trek uit die Kaapkolonie

Hoewel Piet se pa, Koos, deel van hul trekgroep was, was hy reeds in sy sestigs en Piet het eintlik as die leier van die groep opgetree. 4

Piet het in Desember 1836 sy plaas verkoop en in April 1837 het hy en sy groep van ongeveer 100 Trekkers Uitenhage verlaat. 2

Die negatiewe gebeure tydens die Sesde Grensoorlog het hom finaal laat besluit om te trek. Die regering het tydens dié oorlog onder meer perde, vee en waens opgekommandeer sonder om die eienaars daarvoor te betaal. Uys en sy familie het baie geld as gevolg hiervan verloor. 3

Op 29 Junie 1837 het die Uys-trek by die groot Voortrekkerlaer by die Sandrivier aangekom. Piet Retief is intussen tot goewerneur verkies en  die Voortrekkers het ook reeds ’n grondwet opgestel. Piet het egter geweier om Retief as leier te aanvaar. Omdat hy reeds met Dingaan kontak gemaak het, het hy waarskynlik gedink dat hy die leier moes word. Hy wou hê dat daar ’n demokratiese verkiesing van leiers moet wees sodra die Trekkers in Natal aankom. 2

Kort ná sy aankoms by die ander Voortrekkers het Uys saam met Hendrik Potgieter op ’n veldtog teen die Matabeles, wat steeds ’n gevaar vir die Trekkers in Transvaal was, vertrek. Hul veldtog was suksesvol en hulle het daarin geslaag om die mag van Mzilikazi (Silkaats), die Matabele-koning, te breek. Toe hulle terugkeer na waar die ander Trekkers was, het dié groep reeds na Natal vertrek. Uys en sy Trekgroep was dus nie deel van die eerste Trekkers wat in Natal gaan bly het nie.

Nadat Retief en van sy mense deur Dingaan vermoor is, het Uys en Potgieter met hul groepe na Natal vertrek om ’n strafekspedisie teen Dingaan te lei omdat Dingaan die Voortrekkers by Bloukrans aangeval en doodgemaak het. 3

Dirkie Uys se heldedaad     

Met hierdie strafekspedisie wou nóg Potgieter nóg Uys die ander een as leier aanvaar. Daarom is besluit dat elkeen sy eie mense sou lei en dat Gerrit Maritz as laerkommandant in die laer sou bly. Potgieter en Uys was albei dapper mans, maar hulle het baie verskillend gedink oor hoe om dinge te doen. Potgieter was baie versigtig en sou nie onnodig gevaarlike dinge doen nie. Uys, daarenteen, sou makliker in ’n gevaarlike situasie ingaan.

Op 6 April 1838 het die berede kommando (soldate wat op perde ry), wat uit 347 mans bestaan het, die laer in twee groepe verlaat op pad na Dingaan se stat. Op 11 April is hulle by Italeni in ’n hinderlaag (lokval) gelei. 5

Hulle het op ’n groep Zoeloes afgekom wat gevlug het. Sommige getuies vertel dat Potgieter onrustig was en die burgers gewaarsku het om nie agter die Zoeloes aan te gaan nie. Uys en sy manne het wel agter die Zoeloes aangegaan en hulle skielik tussen duisende Zoeloes bevind wat voor en langs hulle uit die lang gras opgestaan het. Die Trekkers het hulle onwetend in ’n lokval vasgeloop! 6

Grafmonument van die leier, Piet Uys, voor die N.G. Kerk in Utrecht.

Uys se kommando kon vinnig omdraai en vir hulle ’n pad tussen die Zoeloes deur oopskiet. Daar is egter tien Trekkers doodgemaak en Piet Uys is ernstig gewond. Sy seun Dirkie het omgekyk en gesien hoe sy gewonde pa deur die Zoeloes omring was. Hy het sy perd omgedraai en teruggejaag om sy pa te gaan help. Hy het twee Zoeloes doodgeskiet, maar is self deur assegaaie doodgesteek. Hierdie heldedaad van Dirkie Uys het van hom ’n kinderheld gemaak wat altyd onthou sal word. 5

Woordbank

aanvanklik In die begin.
beesras Dit word gebruik vir verskillende soorte beeste – soos Afrikaners, Herefords, Jerseys
en Drakensbergers.
beesteler ’n Boer wat met ’n sekere soort bees boer en seker maak dat die gehalte van al sy beeste baie goed is.
berede Te perd. Soldate/polisie wat op perde ry.
demokratiese ’n Soort regering met lede wat deur die hele land se mense gekies is.
ekspedisie Lang reis wat deeglik beplan is, veral na ’n onbekende en gevaarlike plek.
gyselaar Iemand wat deur die vyand gevange gehou word en later vrygelaat word op sekere voorwaardes.
godsdienstige ‘n Mens sê iemand is godsdienstig wanneer so ’n persoon in God glo.
hardkoppig Eiesinnig, iemand wat nie graag na raad luister nie en dinge doen soos hy of sy dit wil doen.
impulsief Vinnig optree of reageer sonder om vooraf goed daaroor te dink.
kolonie Gebied wat deur ’n ander land beheer word.
kruppel As jy mank loop.
lokval Om ’n plan te maak om iemand te vang, oorrompel of vas te trek sonder dat hy/hulle dit vooraf weet of agterkom.
onderhandel Wanneer twee mense of groepe ’n saak bespreek sodat hulle uiteindelik ’n besluit kan neem waarmee albei saamstem.
opgekommandeer Wanneer iemand/mense vir militêre diens opgeroep of beveel word om aan te sluit of iets te doen, sê mens hy/hulle word opgekommandeer.
Oosgrens In die jare voor die Groot Trek begin het, was daar baie gevegte op die Oosgrens van die Kaapkolonie tussen boere wat daar geboer het en Xhosa-stamme van oorkant die grens.
Port Natal Die dorp Port Natal is in 1824 gestig deur handelaars wat van die Kaap af gekom het. In 1835 is die naam verander na Durban toe dit vernoem is na sir Benjamin D’Urban wat vanaf 1834 tot 1937 goewerneur van die Kaapkolonie was.
strafekspedisie Wanneer ’n groep mense vertrek om ’n ander groep wat iets verkeerd gedoen het, te gaan straf.
verkenningstog Om te gaan kyk wat in ’n vreemde gebied of land aangaan voordat mense besluit om daarheen te verhuis.

 

Foto: iStockFoto: Jackie Grobler-versamelingFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 30 Augustus 2022 | Bygewerk op 22 April 2024