Vinnige feite

  • Die springbok is in 1780 die eerste keer beskryf deur die Duitse dierkundige August Wilhelm von Zimmermann. 3
  • Springbokke is endemies aan Suider-Afrika, dit wil sê hulle kom nêrens anders in die wêreld natuurlik voor nie. 5
  • Springbokooie steek hul lammers gedurende die dag weg en eers wanneer hulle ongeveer een maand oud is, sluit hulle by die trop aan.
  • In die natuur is leeus, jagluiperds en die gevlekte hiëna die springbok se grootste vyande. 5
  • Ander vyande is diere soos wildehonde en wildekatte. Jong springbokke word soms ook deur sekere soorte groot roofvoëls gevang. 2
  • Natuurlik kan ‘n mens ook mense as hul vyande insluit, want springbokke word gedurende jagtogte vir hul vleis (biltong) en hul mooi velle geskiet.
  • Springbokke maak nie baie geluide nie. Soms sal hulle mekaar met ’n lae bulkgeluid groet en wanneer hulle skrik, maak hulle ’n hoë snorkgeluid. 2
  • Daar is al snelhede van tot 88 km per uur gemeet wanneer ’n springbok regtig vinnig hardloop! 10
Lewcock, R. 1963. Early Nineteenth Century Architecture. in South Africa. A.A. Balkema Kaap.76

Wanneer ’n mens die woord “springbok” hoor, dink ’n mens nie altyd aan die bok met dié naam nie. Sportliefhebbers, en veral die duisende mense wêreldwyd wat van rugby hou, sal dalk heel eerste aan ons gerekende nasionale rugbyspan dink. Kom ons loer egter bietjie van naderby na dié pragtige bok wat Suid-Afrika se nasionale dier is.

Waar kom die naam vandaan?

Die springbok het sy naam te danke aan die feit dat hy ’n paar keer ná mekaar hoog in die lug kan spring. Soms is hierdie spronge tot 2 meter hoog! 1 Hy is dus regtig ’n bok vir sports wat kán spring!

Hierdie spronge van die springbok word pronk genoem. Die bok spring met al vier pote hoog die lug in terwyl hy sy rug krom maak en sy pote reguit hou. Hy spring nie net reguit boontoe nie, maar soms ook ver vorentoe.

Terwyl die bok so pronk, is daar ’n flap of ’n gedeelte van die vel op sy rug – wat dubbelgevou is met wit hare aan die binnekant – wat oopvou. Hierdie wit hare word weggesteek deur die bruin hare op die res van die springbok se rug en ’n mens kan dit eers sien wanneer daardie vel met die gepronkery oopvou. 2

’n Mens sien hierdie strook wit hare veral mooi as jy van agter af na die springbok kyk terwyl hy pronk. In die video onderaan die artikel kan jy sien hoe mooi ʼn springbok lyk as hy pronk.

Manlike springbokke word ramme genoem en vroulike springbokke is ooie. Klein springbokkies word lammers genoem.

Wetenskaplike klassifikasie van die springbok

Klas: Mammalia (soogdier)

Orde: Artiodactyla

Familie: Bovidae

Subfamilie: Antilopinae

Genus: Antidorcas

Spesie: Antidorcas marsupialis (A.m) 2

Daar is drie subspesies springbokke wat hoofsaaklik in velkleur mekaar verskil.

  • Die m. angolensis se vel is bruin tot geelbruin met breë, donkerbruin strepe op hul gesigte. Hulle het ook ’n bruin kol op die neus.
  • Die m. hofmeyri is ligbruin met smal, donkerbruin strepe op die gesig. Op hul sye is die strepe donkerbruin tot swart. Soms is daar ’n dowwe kol op hul neuse.
  • Die A.m. marsupialis het ’n ryk, neutbruin kleur met dun, ligte strepe op die gesig. Hul neuse is wit of het bruin merke. 2

Die A.m. marsupialis het hoofsaaklik in die Suidwes-Kaap voorgekom, die A.m. hofmeyri in die suide van Namibië en Botswana, en die A.m. angolensis in die noorde van Namibië en Angola. 3

Prof. Terry Robinson, ’n wetenskaplike, meen egter dat daar eintlik geen liggaamsverskille of genetiese verskille tussen die springbokke van Namibië, Botswana en die Karoo bestaan nie en dat daar eintlik net een spesie is, sonder subspesies. Die enigste duidelike verskil is dat die springbokke wat in verskillende gebiede woon, se gewig van mekaar verskil, maar dit word veroorsaak deur verskille in klimaat en die kos wat hulle vreet.

’n Springbokrammetjie in die Kalahari.

Volgens hom het Karooboere al probeer om springbokke van Namibië en van die Kalahari af na hul plase te bring, maar dit het nie gehelp om hulle groter te maak of hul gewig te verhoog nie. Nadat die “ingevoerde” bokke ’n paar jaar in die Karoo is, is hulle net so klein soos die Karoobokke. 3

Waar kom springbokke voor?

Toe die eerste setlaars hier aangekom het, was daar springboktroppe met honderdduisende bokke in die troppe. Hierdie reusetroppe is vinnig deur jagters uitgeroei en vandag kom springbokke meestal net in nasionale, provinsiale en private natuurreservate voor. Springbokke aard goed in droë gebiede en kom dus meestal in die boonste, sentrale en westelike dele van Suid-Afrika voor. 4

Jare gelede is die springbokke in die Vrystaat, Wes-Transvaal (vandag Noordwes) en die Suid-Kaap amper heeltemal uitgeroei. Hulle is later weer daar hervestig. 3

Hoe lyk die springbok?

Springbokke het ’n wit gesig met ’n donker streep wat vanaf elke oog tot by die bek loop. 5

Die springbok se pragtige kleur maak dat ’n mens hom sommer van ver af raaksien. Die boonste deel van sy lyf het amper ’n kaneelkleur terwyl sy maag wit is. Aan weerskante van sy lyf is daar ’n breë donkerbruin streep wat vanaf die voorste pote tot by die agterste pote loop.

Daar is ’n paar verskille tussen ramme en ooie. Die ramme is natuurlik groter en weeg meer as die ooie. Die ooie se horings is dunner en korter as dié van ramme. Springbokramme kan tot 50 kg weeg en ooie tot ongeveer 37 kg. 1

Springbokke is 96 tot 115 cm lank en hul hoogte wissel van 80 tot 90 cm. Hulle het kort wit sterte met ’n bruin klos aan die punt. Hul sterte word 15 tot 30 cm lank. 4

Wat eet ʼn springbok?

Springbokke is herbivore en hulle vreet plante en gras. Veral wanneer die reënseisoen aanbreek, hou hulle van die nuwe groen gras wat dan begin groei. Hulle vreet ook blomme soos dié van die Akasiaboom. 1

Springbokke is baie goed aangepas by die droë dele van die land waar hulle bly. As daar water is, drink hulle water, maar hulle kan ook vir lang tye oorleef sonder om water te drink en kry dan hul vog slegs uit die plante en blare (en soms ook wortels) wat hulle vreet. 6

Nasionale dier

Die springbok is nie sommer net ’n gewone dier nie. O, nee, hy is belangrik genoeg om Suid-Afrika se nasionale dier te wees! Ken jy al die verskillende nasionale simbole van Suid-Afrika?

Nasionale dier: Springbok (Antidorcas marsupialis)
Nasionale voël: Bloukraanvoël (Anthropoides paradisia)
Nasionale vis: Galjoen (Coracinus capensis)
Nasionale blom: Koningsprotea (Protea cynaroides)
Nasionale boom: Egte Geelhout (Podocarpus latifolius) 7

Springbokke wat rugby speel

Kom ons kyk bietjie na die springbokembleem wat vir die nasionale rugbyspan gebruik word.

Die Springbokspan in Nieu-Seeland in 1912.

Navorsers en skrywers stem nie saam oor wie heel eerste besluit het dat die springbok die embleem vir ons nasionale rugbyspan moet wees nie.

Volgens F. A. van der Merwe was daar reeds in 1903 ’n vergadering van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad waar daar in die notule aangeteken is dat die embleem ’n springbok moes wees. Daarna was die rugbykaptein Paul Roos se span die eerste rugbyspan wat in 1906 in die buiteland gaan toer het en Springbokke genoem is. 8

Paul Roos se span was die eerste rugbyspan wat in 1906 in die buiteland gaan toer het en Springbokke genoem is.

Daar was ook twee broers met die van Blignaut wie se suster op hul sportklere ’n springbok geborduur het omdat hulle gereeld springbokke gaan skiet het. Hierdie broers, Piet en Philip, het in 1895 in Londen aan die Engelse atletiekkampioenskappe gaan deelneem. Hul familie is oortuig dat dit by dié twee broers is dat Paul Roos die idee gekry het dat die springbok rugby se embleem moet wees. 7

’n Ander storie oor hoe die springbok die embleem vir rugby geword het, was dat die kaptein, Paul Roos, met die rugbytoer in 1906 in Engeland besluit het dat die span ’n naam moet kry voordat die Engelse sommer hul eie naam vir die span uitdink. Hy het toe besluit hulle moet “Springbokke” genoem word.

Nog ’n verduideliking oor die naam: In daardie dae moes die rugbyspan nog met ’n skip na Engeland reis en nie met ’n vliegtuig nie. Iemand het toe blykbaar vir Paul Roos gevra of die span gereed en fiks sal wees om ná so ’n lang seereis te speel. Hy het blykbaar na die span gewys wat juis besig was met ’n oefening en gesê: “Natuurlik sal hulle reg wees. Kyk, hulle spring rond soos ’n trop springbokke!”

Die Springbokspan in 1906.

Hierdie eerste embleem het tot in 1936 dieselfde gebly. Van 1937 tot in 1962 het die embleem bietjie anders gelyk en in 1963 is daar ’n rugbybal by die springbok op die embleem bygevoeg.

In 1963 het die Suid-Afrikaanse Rugbyraad vir die eerste keer kopiereg op die embleem geregistreer. In 1992 is daar vier proteas by die embleem gevoeg en in 1996 het dit weer verander toe die springbok vir die eerste keer na regs “gekyk” het.

In 2008 het die regering besluit dat die Springbok deur ’n protea vervang moet word as die nasionale rugby-embleem. Van toe af was die protea links op die rugbytruie en die springbok regs. Soms is die springbok ook op die trui se mou geplaas. 9

Die Springbok-embleem op ‘n ondersteunerstrui.

Die Springbokembleem verteenwoordig krag, ratsheid en veerkragtigheid, en die Bokke, soos Suid-Afrika se nasionale rugbyspan ook genoem word, het die Wêreldbeker reeds vier keer gewen: in 1995, 2007, 2019 en 2023.

Die eerste toets tussen Suid-Afrika teen Australië tydens die Wallabies-toer van Suid-Afrika en die destydse Rhodesië (vandag Zimbabwe). Hier druk Danie Craven druk ‘n drie vir Suid-Afrika.

Omstredenheid oor die embleem

Die ANC-regering het reeds verskeie keer probeer om die Springbokembleem te verbied omdat hulle dit as ’n simbool van apartheid beskou. Hierdie teenkanting teen die embleem duur steeds voort.

Woordbank

geborduur Manier van naaldwerk doen waarmee prentjies of tekens op materiaal gemaak word.
embleem ’n Embleem is die teken wat ’n sportspan gebruik vir die lede van daardie span om te wys dat hulle aan daardie span behoort.
flap Los gedeelte – mens praat ook van ’n tentflap en dan is dit die los gedeelte van die tent wat kan oop- en toemaak.
herbivore Diere wat leef deur plante te vreet.
klos Los hare aan die punt van ’n dier se stert.
kopiereg Wanneer iemand iets ontwerp het, behoort daardie ontwerp aan die persoon en kan dit geregistreer word sodat iemand anders dit nie sonder toestemming of betaling kan gebruik nie.
nasionale simbole Nasionale simbole word vir ’n land gekies omdat dit dinge is wat kenmerkend is van die land en ook inheems is; dit is dinge waarop die mense van die land trots is.
omstredenheid Iets waaroor mense nie saamstem nie en wat maak dat hulle met mekaar stry.
pronk Om oor iets te spog waarop mens trots is.
simbole Tekens wat lande of sportspanne gebruik om te wys aan watter land en span hulle inwoners of lede behoort.

Kyk hier na pragtige foto’s

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Kyk hoe pronk hierdie springbokke

Klein springbokkies kan ook al spring en pronk

Interessante springbokfeite

Só lyk die strook wit hare wanneer ‘n springbok pronk

‘n Bok vir sports!

Springbokke in die Etosha Nasionale Park

Só uitoorlê springbokke ʼn jagluiperd

(Foto: Sabinet African Journals. (2011). The spatial patterns of Tswana stone-walled towns in perspective. Beskikbaar by: https://journals.co.za/doi/abs/10.10520/EJC94127 [Datum van gebruik: 24 Aug. 2021][foto: Sabinet African Journals. (2011). The spatial patterns of Tswana stone-walled towns in perspective. Beskikbaar by: https://journals.co.za/doi/abs/10.10520/EJC94127 [Datum van gebruik: 24 Augustus 2021] journals.co.za]Lewcock, R. 1963. Early Nineteenth Century Architecture. in South Africa. A.A. Balkema Kaap.76
Gepubliseer op: 26 Oktober 2023 | Bygewerk op 13 Februarie 2024