Vinnige feite

  • Flink is ’n digitale tydskrif van die FAK wat van 2017 tot 2021 maandeliks gratis verskyn het. Artikels oor ’n groot aantal Afrikaanse kunstenaars het in die verskillende uitgawes van Flink verskyn. Hulle sluit in mense soos Jannie du Toit (die laaste uitgawe van Desember 2021), Susanne Beyers, Appel, Jan Blohm, Dozi, Steve Hofmeyr en Joshua na die reën (eerste uitgawe in Augustus 2017). 11
  • Tussen 1937 en 1979 is ongeveer 200 000 sangbundels versprei. 4
  • C.J. Langenhoven het in 1921 “Die Stem van Suid-Afrika” in sy bundel Eerste Skoffies op die pad van Suid-Afrika gepubliseer. 3
  • Enkele van die mense wat reeds die FAK se erepenning ontvang het, is die digter T.T. Cloete, die aktrise en rolprentmaker Katinka Heyns, president C.R. Swart en dr. D.F. Malan, voormalige eerste minister van Suid-Afrika. 12
  • Nadat ’n brand op 24 Oktober 2023 die inhoud van die Ampie Bosman Kultuurhistoriese museum in Lichtenburg vernietig het, het die FAK dit wat nog oorgebly het, gaan haal om te bewaar. 14

Soms gebeur dit in die geskiedenis dat ’n paar mense begin saamdink aan ’n probleem en ’n oplossing kry wat vir baie jare daarna nog ’n groot invloed op mense en op hulle kultuur het. So het dit gebeur toe die FAK gestig is.

Die FAK in ’n neutedop

Gestig op 18 Desember 1929

Eerste voorsitter: N.J. van der Merwe

Voorsitter tans (2023): Danie Goosen

Besturende direkteur tans (2023): Danie Langner

Aantal lede in 2023:  20 658 1

Leuse: Handhaaf en Bou.

Eerste uitvoerende komitee

Waarom die FAK nodig was

In 1929 het ’n groep Afrikaners in Johannesburg besef dat Afrikaans as taal in die handel (die sakewêreld) en in die staatsdiens afgeskeep word, selfs al was dit in daardie stadium as amptelike taal erken. Hulle het gesê dat verengelsing nie gekeer kon word nie omdat daar nie een organisasie was wat kon help dat alle verenigings met mekaar kon saamwerk nie. Daar was ’n sterk organisasie nodig. 2

Die doel van die FAK was dus om mense en organisasies wat eenders gedink het oor dinge en wat bymekaar gehoort het, bymekaar te bring. Hierdie mense was mense wat Afrikaans as taal wou handhaaf en wat die Afrikanerkultuur op ’n positiewe manier wou uitbou (laat vooruitgaan). Dit is dan waar die leuse van die FAK vandaan gekom het: Handhaaf en Bou. 3

Stigting van die FAK

Op 18 en 19 Desember 1929 het 317 afgevaardigdes ’n taal- en kultuurkonferensie in Bloemfontein bygewoon om die FAK te stig. Dr. N.J. van der Merwe is as voorsitter verkies. 2

Hy was tot en met sy dood op 11 Augustus 1940 die voorsitter van die FAK. 3

Enkele belangrike datums en bakens op die FAK se pad

1930

Vir die FAK was dit baie belangrik om Afrikaans as taal te handhaaf en hulle het besef dat daar woordelyste nodig was. Daar is toe woordelyste opgestel oor ’n hele klomp onderwerpe soos motors, kruideniersware, skoenmakers, landbou en fotografie. Ook vir sport is daar woordelyste saamgestel vir onder meer rugby, sokker, krieket, skyfskiet, boks, swem, tennis, atletiek en talle ander sportsoorte. 3

Mens moet onthou dat Afrikaans toe nog ’n jong taal was – dit was dus nodig om sulke lyste op te stel.

1931

Daar is ’n Sentrale Volksmonumentekommissie gestig. Hierdie kommissie was uiteindelik verantwoordelik vir die oprigting van onder meer die Voortrekkermonument in Pretoria, die Bloedriviermonument, die Voortrekkermonument in Winburg en die Retiefstandbeeld by die Geloftekerk in Pietermaritzburg. 3

1931

Die FAK het in 1931 ’n kompetisie van stapel gestuur om ’n volkslied vir Suid-Afrika te vind. C.J. Langenhoven se gedig Die Stem van Suid-Afrika is as die wenner aangewys. 3

C.J. Langenhoven

1939-1945

Die FAK stig tydens die Tweede Wêreldoorlog die Boere-Noodhulpfonds om hulp te verleen aan gesinne wat geïnterneer was of in huisarres geplaas is. Na afloop van die oorlog het die organisasie ook geld en voorraad ingesamel vir mense wat hulp nodig gehad het in lande soos Duitsland, Nederland en België. 3

1951

Die huis waarin president Kruger gesterf het, word aan die FAK oorgedra. Hierdie huis is in die dorp Clarens in Switserland en word sedert 1910 as ’n museum bedryf. 3

1951 en vorentoe

Die FAK doen deur die jare baie belangrike werk om die gebruik van Afrikaans in die staatsdiens te bevorder.

In 1951 het die FAK by die destydse Departement van Poswese beswaar gemaak omdat telefoongidse slegs in Engels beskikbaar was. In 1951 het die FAK begin om Afrikaanse spyskaarte aan hotelle beskikbaar te stel en in 1956 het die Spoorweë met die FAK saamgewerk om Afrikaanse spyskaarte op al hul treine te kry.

Die FAK het deur soortgelyke projekte ook die gebruik van Afrikaans by instansies soos die lugdiens, die Aptekersvereniging en die Onderwysdepartement bevorder. 4

1953

Daar word ’n spesiale komitee gestig om met die buiteland te skakel. As deel van hierdie aksie is FAK-publikasies aan immigrante beskikbaar gestel, volkspeletoere is na Europa gereël en sedert 1956 is daar ook Afrikaanse boeke en tydskrifte na universiteite, ambassades en biblioteke in lande soos Spanje, Duitsland, Nederland en Kanada gestuur. 4 [Lees hier oor volkspele.]

1963-1993

Die amptelike tydskrif van die FAK, Handhaaf, verskyn vir die eerste keer in 1963. Hierin word artikels oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe geplaas soos onder meer onderwys, geskiedenis, politieke sake, die pers en ontwikkeling van taal.

Teen 1990 het die tydskrif ’n ledetal van 100 000 gehad. In 1993 is die druk van die tydskrif gestaak, onder meer omdat drukkoste te hoog geraak het. Vandag kan die tydskrifte gebruik word om navorsing te doen oor die manier waarop Afrikaners gedink het tussen die jare 1963 en 1993. 4

Voorblad van die tydskrif, Flink

Samewerking oor landsgrense

Die FAK werk saam met mense in Namibië vir wie dit ook belangrik is om kultuur te bevorder. ’n Groep Afrikaners in Namibië het die Netwerk vir Afrikanerbelange in Namibië gestig.

Hierdie groep werk saam met die FAK om op die grondslag van die Christelike geloof die Afrikanerkultuur te bevorder. Hulle beywer hulle ook gesamentlik dat die Afrikaanse taal behou moet word in Suid-Afrika en ook in Namibië. 5

Die FAK se sangbundel

Jare gelede was daar min huise in Suid-Afrika waarin daar Afrikaans gepraat is waar jy nie ’n FAK-sangbundel sou kry nie. Baie mense het sommer gepraat van “Die FAK” wanneer hulle van die sangbundel gepraat het.

Die heel eerste sangbundel het in 1937 verskyn. In hierdie eerste bundel het daar 314 Afrikaanse liedere verskyn.  In 1961 het ’n hersiene uitgawe van die bundel verskyn met 400 liedere. 3

In Maart 1979 verskyn die derde uitgawe van die sangbundel weer met dieselfde 400 liedere en ’n oplaag van 15 000. 4

In 2009 is daar begin met die beplanning van ’n volgende bundel wat sou verskyn met die sangbundel se 75ste verjaardag. Hierdie bundel sou slegs nuwe liedere bevat en daar is weer besluit om slegs 400 liedere in die bundel op te neem. Die bundel het in 2012 verskyn met liedere in ses verskillende afdelings: Immergroen en populêr; Kleinkuns; Kinders; Geestelik; Kunsliedere en Koorwerke. 6

Toe die 2012-Sangbundel verskyn het, het Pieter Malan in Rapport die volgende geskryf: “Dis seker veilig om te sê dat geen versameling van ikoniese Afrikaanse boeke volledig sal wees sonder vier titels nie: Die 1933-vertaling van die Bybel, S.J.A. de Villiers se Kook en genietGroot verseboek en die FAK-Sangbundel. Al vier hierdie kultuurskatte het ’n groot bydrae gelewer om ons Afrikaanse taal en Afrikanerkultuur te ontwikkel.” 3

Die sangbundel het ’n trotse geskiedenis wat tot vandag (in 2023) steeds voortduur. Daar word tans beplan aan ’n volgende, hersiene bundel. 1

Geskiedenisprojek

In 2019 het die FAK saam met die organisasie se 90ste verjaardag ’n geskiedenisfonds bekendgestel. Die doel van die fonds is om Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Hierdie geskiedenis moet heldeverhale vertel waarop kinders trots kan wees en waaruit hulle ook kan leer oor foute wat gemaak is.

Hierdie fonds wil:

  • Afrikanergeskiedenis bevorder;
  • Afrikanermonumente wat reeds bestaan herstel en bewaar;
  • nuwe monumente bou;
  • ʼn internetmuseum vir Afrikanergeskiedenis uitbou; en
  • belangrike Afrikanerfeesdae en historiese gebeure vier.

Die FAK doen reeds baie om geskiedenis te bevorder. 7

Die FAK het vanaf ongeveer 2014 ’n hele klomp belangrike herdenkings van geskiedkundige gebeure ondersteun. ’n Paar hiervan is die Groot Trek se 175ste herdenking, die Vrouemonument se 100ste bestaansjaar en die 100ste herdenking van die 1914-Rebellie.

Die FAK het ook reeds talle geskiedenisprojekte van stapel gestuur. Onder hierdie projekte tel onder meer die herstel van president Jan Brand se familiekerkhof wat saam met kultuurorganisasies in die Vrystaat gedoen is. Die organisasie was betrokke by Jaap Steyn se geskiedenisdagboek asook talle kindervriendelike geskiedkundige publikasies. Daar is ’n aantal geskiedeniskonferensies aangebied en ook talle geskiedenisartikels geskryf. Die FAK het ook president Paul Kruger se graf herstel nadat dit gevandaliseer is. 7

Danie Langner en Jaap Steyn

Afrikaanse Liedjietuin

Het jy al ooit gehoor van ’n liedjietuin? ’n Tuin is mos eintlik vir blomme en gras en bome, of hoe?

Maar daar skep die FAK toe ’n baie besondere liedjietuin en as jy ooit die kans kry, gaan loer gerus hoe dit lyk. Die tuin is op die terrein van die Voortrekkermonument by die FAK se kantoor. Die tuin self is ’n lushof met pragtige roosbome, groot bome en ’n groen grasperk. Wat dit besonders maak, is die Afrikaanse liedjieskrywers wat daar vereer word. Daar is ’n groot klomp Afrikaanse liedjies wat op granietblokke gedruk is en in die tuin uitgestal word. 8

Nog ’n lekkerte is dat hierdie liedjies op die granietblokke bekendgestel word deur sangers wat ’n konsert onder die sterre aanbied wanneer ’n nuwe liedjie onthul word.

Liedjietuin

FAK-toekennings

Die FAK gee deur ’n aantal toekennings erkenning aan mense wat prestasies lewer op verskillende terreine. Klik gerus op die skakels hier onder en kyk of jy van die name herken van mense wat reeds toekennings ontvang het. Wys dit sommer vir jou ma, pa, ouma, oupa of enige volwassene wat vir jou meer sal kan vertel oor van die mense in die lyste.

Spesiale projek in 2023

In 2023 spits die FAK hom daarop toe om die verwoesting van monumente en erfenisterreine te keer. Talle van hierdie monumente en terreine is in 2022 beskadig en vernietig. Hier volg enkele voorbeelde.

  • Die Ou Presidensie in Bloemfontein is erg verwaarloos.
  • Die standbeeld van Louis Botha voor die Parlement in Kaapstad is beskadig.
  • Die graf van die skryfster Alba Bouwer in Riversdal is beskadig.
  • Die letters van die Andries Pretorius-standbeeld voor die Pretoria-stadsaal is afgesteel.
  • Barry Hertzog se graf is geplunder en die gedenksteen is afgesteel.
  • Jopie Fourie se borsbeeld op sy graf in die Pretoria Heldeakker is weg.
  • Gerard Moerdijk se graf is beskadig.
  • Die Krugersdorp Fort se dak het inmekaar geval.
  • Die Strijdom-huis se dak het inmekaar geval.
  • Winburg Voortrekkermonument is oorgroei en verlate.
  • Standerton-konsentrasiekampbegraafplaas se beelde is gebreek.
  • Die Anglo-Boereoorlog-begraafplaas in Bela-Bela word gereeld verniel.
  • Die Lichtenburg-museum is heeltemal vervalle. 10
Jopie Fourie se graf
Wolraad Woltemade se standbeeld

Woordbank

afgevaardigdes Iemand wat na ’n vergadering of byeenkoms gestuur word om die standpunt van ’n groep daar te stel.
geïnterneer Iemand word geïnterneer wanneer hy as gevangene aangehou word, veral in ’n bewaakte kamp. Dit gebeur gewoonlik tydens ’n oorlog.
geplunder Iets wat beskadig is en waarvan dele gesteel is.
grondslag Dit waarop iets berus, die beginsel of fondament.
handhaaf Om iets in dieselfde toestand te hou, te sorg dat dit nie gebreek of verniel word nie.
huisarres Wanneer iemand verplig word om net in sy huis te bly. Mens kan sê dis amper soos met die Covid-19 pandemie van 2020 toe mense net hul huise kon verlaat wanneer dit noodsaaklik was.
ikoniese Iets wat merkwaardig en besonders is.
lushof ’n Baie mooi tuin.
oplaag Die aantal eksemplare of kopieë wat van ’n boek gedruk word.
gevandaliseer Om iets doelbewus te verniel en te beskadig.
verengelsing Om te verengels is om Engels te word. Mens kan byvoorbeeld sê: “Die kinders sal gou verengels in ’n Engelse skool”.
vervalle Dit verwys gewoonlik na ’n gebou wat verwaarloos is en uitmekaar begin val.
volkspele ’n Soort volksdans wat Afrikaanse mense in die verlede dikwels gedoen het en wat sommige mense vandag steeds doen. 13

Lees hier meer

Kyk hierdie video’s

Die FAK vier 90 jaar

 

 

 

 

 

 

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 Augustus 2023 | Bygewerk op 15 April 2024