Vinnige feite

  • Destyds is die Voortrekkers emigrante-Boere genoem. Die naam Voortrekkers is in 1840 vir die eerste keer gebruik. 7
  • Die Voortrekker-kultuurbeweging vir jongmense se leuse is “Hou Koers”. 1
  • Alle Voortrekkers gedurende die Groot Trek het mekaar aangespreek as Neef of Nig. Hoewel die woord neef/nefie en nig/niggie beteken dat daardie persoon familie is van jou, kom hierdie aanspreekvorm waarskynlik uit die feit dat baie van die Trekgroepe wel familie van mekaar was, maar ook weens ’n gevoel van samehorigheid. In 1933 het die Voortrekkerbeweging van die destydse Kaapland met die tradisie begin om mekaar as neef en nig aan te spreek. Dit is ’n tradisie wat vandag nog voortbestaan. 1
  • Met die Slag van Bloedrivier was die laers nie met doringtakke versterk nie, maar wel met veghekke. 13
  • Waarom het die kakebeenwa so ’n snaakse naam gekry? Die sykant van die wa het byna gelyk soos die kakebeen van ’n dier. 21
  • Het jy geweet die Voortrekkers as kultuurbeweging het ’n eie rolprentburo gehad? Ná afloop van die 1938-Eeufeesvieringe het Die Voortrekkers ’n rolprent oor die gebeure vervaardig, naamlik ’n Nasie Hou Koers. Geld is aan ene Hans Rompel geleen om die rolprent te vervaardig. ’n Chevrolet-bus met die naam, “Oubaas” het die filmspan oral in die land rondgekarwei om ’n Nasie Hou Koers te vertoon. Die vertoning van ’n Nasie Hou Koers het aan die einde van 1941 tot ’n einde gekom en die oorspronklike film is aan die Nasionale Filmraad oorhandig vir veilige bewaring. 1
  • Die grootste struikelblokke was die Oranje– en Vaalrivier wat hul reis onderskep (vertraag) het en die Limpopo-rivierdelta wat met malariamuskiete besmet was. Maar seker die gevaarlikste was die inheemse Afrika-koninkryke waarmee hulle in aanraking gekom het, soos die Zoeloes, Matebeles en Xhosas. 21
  • Het jy geweet daar was ’n paar Britte wat die Voortrekkers tydens sommige veldtogte teen die Zoeloes gehelp het? Hulle was Alexander Biggar (van wie twee seuns deur die Zoeloes vermoor is), eerwaarde Parker en Robert Joyce. Biggar is in die geveg aan die Wit-Umfolozirivier dood. 12
  • Was die Groot Trek werklik groot? Nie wat getalle betref nie. Dit was ook nie enig in sy soort nie. Tydens die Groot Trek was Europeërs, Noord-Amerikaners en Australiërs ook besig om te trek: vooruit en verder weg. In Amerika, byvoorbeeld, was die struikelblokke groter en die afstande baie langer, en die getalsterkte en afstand wat afgelê is, is nie die enigste vereistes van grootheid nie. Nee, die Groot Trek het sy naam verdien omdat dit die sentrale (hoof) gebeurtenis was (en steeds is) van die witmense in Suid-Afrika. 22
Foto: iStock

Dalk is jy lid van die Voortrekkers, ’n kultuurbeweging spesiaal vir die Afrikaanssprekende jeug. Maar voordat hierdie beweging in 1931 gestig is, was daar die Groot Trek wat teen die einde van 1835 begin het. Die mense van die Groot Trek het as die Voortrekkers bekendgestaan. 1

Die Voortrekkers van die 19de eeu (1830’s) was egter nie ’n kultuurbeweging nie, maar ’n groot groep Europese (wit) setlaars wat uit die destydse Kaapkolonie weggetrek het.

Die woord Voortrekkers beteken ‘diegene wat vooruit trek’, ‘baanbrekers’ of ‘pioniers’ – ’n baie gepaste naam omdat hulle die Britse Kaapkolonie in die 1830’s verlaat het om hul eie kolonies verder noord te gaan stig. Hierdie epiese trek staan ​​bekend as die Groot Trek. 2

Maar onthou, hulle was nie deel van die gewone wit trekboere wat in die binneland in die vroeë 1830’s op hul eie of tydelik vir beter weiding vir hul vee rondgetrek het nie, alhoewel daar van dié trekboere later by die Groot Trek aangesluit het. 3

Gerugte van ’n uittog

Kom ons reis terug na die 1830’s en probeer agterkom wie die Voortrekkers nou eintlik was en hoe hulle geleef en oorleef het…

In die 1830’s was die wit Afrikanerboere in die oostelike deel van die Kaapkolonie (nou Oos-Kaap) baie ongelukkig. Onthou, hulle was almal afstammelinge van die Nederlandse setlaars wat die eerste keer in 1652 in dié gebied aangekom het. Maar sedert Brittanje die kolonie in die vroeë 1800’s oorgeneem het, het dinge vir die Afrikanervolk begin skeefloop. 4

Maar voor ons kyk na hoekom die Afrikanerboere so ongelukkig was, moet ons kyk na watter tipe mense hulle was.

As ’n groep, kan die Voortrekkers beslis nie beskou word as avonturiers wat niks gehad het om te doen nie. Óf te verloor nie. Hulle kan eerder as die keur van die grensboere in die Kaapkolonie bestempel word. Dit kan ons agterkom uit ’n brief wat die Kaapse goewerneur, sir Benjamin D’Urban, in 1837 aan Lord Glenelg, die Britse koloniale staatsekretaris in Londen, geskryf het: “Dit is bitter jammer dat ’n groot gedeelte van die boere wat die Kaapkolonie verlaat het, van die fatsoenlikste inwoners was van die distrikte waaruit hulle gekom het en waaraan hulle behoort het… en dat die vertrek van hierdie onverskrokke, geduldige, arbeidsame, ordelike en  godsdienstige mense ’n onberekenbare verlies vir die Kolonie beteken”. 5

Sir Benjamin D’Urban

Vir die kleiner kinders was die Groot Trek waaroor die grootmense so baie gepraat het, aan die begin seker ook ’n heerlike vooruitsig, want enige verandering is vir ’n kind lekker, veral as dit ’n reis insluit. Hulle het geweet daar sal van hul eie familie asook maats en dié se familie saamtrek, asook van die plaaswerkers, plaasdiere en hul troeteldiere.

Voortrekkers se vlag

Maar die ouer kinders, wat van vroeg al selfstandig was en gehard deur die gevare wat die grensboere al lankal bedreig het, het meer verstaan van die grootmense se ernstige gesels en hul bekommernis oor die veiligheid van hul mense. 2

Voorbereidings vir die Trek

In 1834 het al hoe meer mense daaraan begin dink om uit die Kaapkolonie te trek.

Maar jy wonder seker of die Britse regering – toe hulle begin agterkom die mense is doodernstig om weg te trek uit die Kaapkolonie – hierdie massa-uittog sommer net toegelaat het. En of die Boere nie veel omgegee het wat die Britse regering daarvan sou dink nie.

Nee, die Boere het met hul beplanning ook hieraan gedink, want na regte was hulle nog onder die Britse regering en het nie ’n eie sê gehad in enige besluite wat die land of regering kon beïnvloed het nie. Daarom het Piet Retief op 22 Januarie 1837 sy bekende manifes in die Grahamstown Journal gepubliseer en só die Boere wat wou trek, se griewe (klagtes) aan die Britse regering gestel. 6

Wa se wiel word herstel by Soutpansberg

Die grootste van al die redes (die aanhoudende grensoorloë, gebrek aan grond en arbeid en so meer), was die gehunker na vryheid. ’n Vryheid wat – volgens ’n eie grondwet – sou lei tot ’n veiliger en beter toekoms. 7

Mense wat beplan het om te trek, moes natuurlik eers geld in die hande kry om so ’n groot besluit uit te voer. Die eerste waaraan hulle gedink het, was om hul besittings te verkoop. Baie van die boere was vooraanstaande (ryk) mense en het plase en eiendomme gehad. Maar soos met die meeste mense gebeur het, is hierdie eiendomme verkoop vir baie minder geld as wat dit werd was. 8

As jy dink aan al die voorbereidings vir wanneer julle as gesin na ’n ander huis of dorp trek – of selfs net vir ’n lekker lang vakansie weg van die huis wil gaan – sal jy weet dat ’n groot uittog na die onbekende binneland, nie sommer in ’n japtrap kon gebeur het nie.

Nee, die Groot Trek was ’n georganiseerde, grootskaalse verhuising van sowat 17 000 wit mense met 6 000 gekleurde arbeiders uit die Oosgrens van die Kaapkolonie weens lewensomstandighede wat vir hulle ondraaglik geword het. Daar was ontevredenheid oor die Britse koloniale owerheid (regering), die aanhoudende grensoorloë, ’n gebrek aan grond, arbeidsprobleme en ’n gevoel dat hulle deur die Britse regering onderdruk was. 7

Tog was die Groot Trek nié ’n geval van weghardloop nie. Dit was ’n goed beplande “massa-opstand” (betoging) teen die Britse regering. 7

Andries Pretorius

Grensboere het toe kommissies aangestel wat die moontlikhede vir ’n rustiger en veiliger lewe elders moes ondersoek. ’n Verkenningstog onder Hendrik Scholtz het die Soutpansberg-streek verken; ’n tweede groep onder Andries Pretorius het met ongunstige nuus (nie goed nie) gerapporteer oor Damaraland; en die derde span onder Pieter Lafras Uys het teen die einde van 1834 teruggekom met ’n besonder goeie verslag uit Natal wat die grensboere hoop gegee het. 7

Piet Uys

Binne twee jaar daarná het die uittog van die Voortrekkers begin. Hierdie “wegtrekkers” wat die Groot Trek onderneem het, het later as die ‘Voorste Mense’ of ‘Voortrekkers’ bekendgestaan. 7

Wat moes saamgaan?

Die mense wat wou trek, moes ook baie ander dinge doen om hulself voor te berei. Omdat hulle na die binneland sou trek waar daar nie winkels was nie, moes hulle genoeg voorraad koop en maak om saam te neem.

Die vroue sou uit die aard van die saak sorg vir kos wat nie gou bederf (sleg word) nie, soos beskuit, biltong, gedroogte perskes, koffie, suiker en meer. Daarby moes daar ook klere, linne, beddegoed, kombuisgoed, familie-erfstukke en selfs kleinerige stukke meubels saamgaan. Lees- en skryfboeke is ook nie agtergelaat nie – nie net vir die grootmense nie, maar veral vir die kinders omdat daar nie skole op die Trekpad sou wees nie. Maar veral die Statebybel (die groot leergebonde Bybel) het ’n ereplek in elke wa gehad. Die Voortrekkers was diep gelowige mense en wanneer daar saans boeke gevat is (huisgodsdiens gehou is), het die Trekkers weer moed, hoop en geloof vir die moeilik tog vorentoe gekry. 8

Baie van die Trekkers het natuurlik ook gereedskap soos skroewe, hamers, beitels, vyle, bore, sae en skawe, blaasbalke en selfs hier en daar ’n draaibank (werkbank) saamgeneem, want as iets op pad breek, moes dit tog reggemaak kon word. 6

Hierby moes alles wat vir die waens nodig sou wees, soos rieme en jukskeie, ook vroegtydig gemaak of reggemaak word vir die groot uittog. Baie belangrik was natuurlik wapens soos gewere, lood (om koeëls mee te maak) en kruit (gunpowder) vir jag en selfbeskerming. Landbougereedskap soos grawe, ploeë en ploegskare kon ook nie agterweë bly nie, want indien hulle by ’n veilige staanplek met vrugbare grond sou aankom, kon hulle darem iets saai of plant. 9

Wapentuig giettangetjie en loper

Gelukkig was die ploeë en ploegskare daardie jare nie so groot soos vandag nie, anders sou hulle niks daarvan kon saamneem nie!

Die Kakebeenwa

Kort voor die Trek moes daar ’n groot bedrywigheid onder die wamakers gewees het, want die nuus van die groot klomp mense wat waens benodig het om mee te trek, het seker vinnig versprei.

Jy mag dalk vra waar al die waens gemaak is. Volgens die Gedenkuitgawe van die Huisgenoot van 1838 was daar 11 wamakers in Kaapstad asook ’n gietery (’n plek waar metale gegiet word). Maar elke plattelandse dorpie het ook sy eie wamaker of twee gehad en hul besighede kort voor die Trek moes floreer het! 10

Maar mens kan ook nie dink aan die Trekkers se waens sónder hul tente nie.

Die raamwerk van die eerste tente was gemaak van bamboesstokke. Oor dié raamwerk is matte wat van gras gevleg is, geplaas. Bo-oor die matte het eers ’n geoliede seildoek en eindelik ’n waterdigte seildoek gekom. 11

Die tent self was gewoonlik vervaardig (gemaak) van seildoek en gebleikte linne en hierdie groot en harde werk moes die vroue self doen, bo en behalwe al die ander voorbereidings. 10

Hoewel die kakebeenwa baie verskil het van die moderne woonwa of motorwoonwa het die Voortrekkervrou altyd moeite gedoen om die wa gesellig en as ’n (enigste) tuiste in te rig, ’n plek waar haar man kon kom rus ná ’n verkenningstog of ’n jagtog om die laers van vleis te voorsien. Maar dit het ook as skans (skuiling) gedien, soms as “hospitaal” en, as die weer ongunstig was, as klaskamer waar sy haar kinders onderrig het. 12

Kom ons kyk hoe groot die kakebeenwaens was. Sy lengte was van 12 tot 15 voet lank (3,7 tot byna 4,6 meter) en ongeveer drie en ’n half voet wyd (so ’n rapsie meer as een meter). Die staanhoogte binne-in was vyf en ’n half voet (amper 1,7 meter). 11 Sjoe, dis maar kleinerig vir ’n gesin!

Baie belangrik was dat die hout waarvan dit gemaak is – stinkhout, geelhout of ysterhout – kurkdroog moes wees. Hoekom? Met die reise na die dorre, warm klimaat van die binneland het hout wat nie behoorlik droog was nie, baie gekrimp. Die gevolg was ’n wa wat lendelam was en soms onbruikbaar geword het. 11

Die Voortrekkermoeders het gewoonlik agterop die wa gesit met die kleinste kinders en babas by hulle terwyl hulle die ander kinders wat langsaan of agter die wa geloop het, dopgehou het sodat hulle nie iets oorkom nie of “dat hulle nie giftige bessies langs die pad eet nie”. Die kinders was maar altyd op soek na iets soets omdat daar nie winkels met lekkergoed naby was nie. 12

As die pad redelik oop en begaanbaar was, het die Trekgeselskappe gewoonlik in ‘n ry van drie of vier waens wyd beweeg, maar in ‘n enkele ry wanneer daar groot struikelblokke was of die pad baie nou en moeilik. 6

Ja, dis moeilik om jou voor te stel hoe die mense soveel goed – kosvoorraad, ammunisie, klere, breekware, kombuisgoed en huisraad – op ’n paar waens kon gelaai het en so klaargekom het. Baie mense het maar net een of twee waens gehad, hoewel die ryker Trekkers van vyf tot agt waens gehad het.

Die Trekpad

Die kinders (klein en groot) is baie gou ontnugter (het agtergekom) dat die Groot Trek beslis nie ’n lekker kampvakansie is nie, maar ’n “nimmereindigende” reis na ’n verre plek van vrede en veiligheid. Amper iets soos die Beloofde Land waarna Moses en sy volk uitgesien het toe hulle uit Egipte getrek het.

Die kinders was egter nie toegelaat om sommer “wild” groot te word nie en is geleer om beskaafd en godvresend te wees en het verstaan wat dit beteken om hul plig teenoor hul ouers, kerk, volk en vaderland na te kom. 12

Sekerlik die moeilikste en gevaarlikste deel van die reis, was die trek oor die Drakensberge. Mev. Johanna Fick, wat die Groot Trek as kind onder Piet Retief deurgemaak het, vertel: “Ek kan gerus sê dat ek op my voete Natal toe gestap het. Ons kinders moes toulei of ander hulp gee, maar soos ons in die woeste wêreld kom, was ons tog nooit onder die oë van ons moeders uit gewees nie.” 12

Die Trek tot by die Drakensberge het redelik maklik verloop, maar om oor die berge te kom, was baie moeilik en ook gevaarlik. Die Trekkers het byna besluit om dit nie te waag nie omdat hulle bang was hulle maak dit nie, maar die vroue wou dit nie aanvaar nie en het gesê dat die Trek moet voortgaan. Hulle het toe met spanne van 16 of 18 of selfs 20 osse per keer die waens vir kort entjies vorentoe beweeg. Die afgaan aan die ander kant was nóg moeiliker omdat dit steiler was. Daar was ook die heeltyd mis en reën wat dinge vir hulle nog moeiliker gemaak het. 12

Die waens se agterwiele moes afgehaal word en die kinders moes takbosse nadersleep om voor die voorwiele te sit sodat die waens nie bergaf gly nie. Dit was werklik ’n groot gesukkel. Die kinders moes help keer en vashou waar hul kon: voor, langs en agter die wa. Ander moes weer die voortou neem of gereedskap aandra sodat die waens versigtig, stadig en gly-gly oor die afdraande kon kom. 12

Só moeilik het dit gegaan, dat drie Trekkerseuns die groep verlaat het en weggeloop het. Hulle het later weer teruggekeer en al drie is deur hul ouers gestraf. 12 Ja, mens kan jou seker nie werklik indink hoe swaar dit vir die kinders moes gewees het nie.

Volgens oorlewering het hulle dan, wanneer hulle uiteindelik weer kon stilhou, ’n danklied gesing: “Wij danken U, barmhartige God”. 12

Gevare langs die pad

Die lewe was en is nooit sonder gevare nie. In vandag se tyd dink mens aan ongelukke, sportbeserings, diefstal, en so meer. Maar gedurende die Groot Trek was daar nooit ’n dag sonder gevaar of kinders wat nie bang was nie. Bo en behalwe die woeste natuur en wilde diere wat hulle kon verskeur, was daar altyd êrens swart stamme (Zoeloes, Matebeles en Xhosas) wat die laers wou aanval en die Trekkers wou doodmaak.

As een van dié stamme dan aanstorm, moes die kinders haastig hul speelgoed neergooi om te help takke (meestal doringtakke) kap en nadersleep om die laer te versterk. Die groter seuns moes help skiet en die meisies moes hul moeders help om koeëls (van gesmelte lood) in koeëlvorms te giet en gewere te laai – dit alles terwyl die assegaaie om hulle fluit! 12

Slag van Zwartkopjes

In sulke tye het niemand hul klere saans uitgetrek nie, want sou ’n inboorlingstam die laer aanval, was daar nie tyd om eers na jou klere te gaan soek nie. En uit vrees vir ’n aanval, moes alle lampe en vure geblus word en almal moes in die donker hul lêplek kry, terwyl dié wie se beurt dit was, brandwag moes staan (waghou). 12

Kamp opslaan

Die Trekkergesinne het al om die twee of drie dae stilgehou en behoorlik kamp opgeslaan. Maar hierdie kampopslanery was allesbehalwe die soort kamp wat ons ken. Jy en jou maats of broers en susters kan gewoonlik dadelik gaan speel, want julle hoef nie vuurmaakhout te gaan soek en in stukke te kap nie, want dit kry mens sommer by die kampwinkel wat byna alles verkoop: van tandeborsels, toiletpapier, vuuraanstekers, opwasmiddel tot vars groente, vleis, melk en roomys. En onthou, daar was ook nie elektrisiteit vir die kampyskas of selfs mikrogolfoond nie.

Nee, dit was harde werk. Daar moes vir brandhout gesoek word, die osse en perde moes uitgespan word en water en voer (gras) kry. Dit was dan ook die seuns se werk om die vee bedags op te pas. 13

Die waens moes altyd in ’n laer getrek word vir veiligheid teen wilde diere of vyandiggesinde inboorlingstamme. Die oop stuk grond binne die laer het as ’n bymekaarkomplek asook werkplek gedien. Daar was ook ’n skepplek vir drink- en kookwater en ’n wasplek om hulself te was. Dis moeilik om jou ’n lewe in te dink sonder krane met vars water of badkamers. 13

Elke laer het ’n laerkommandant gehad. Hy moes baie dinge doen: ’n geskikte kampplek aanwys, toesig hou oor die manier waarop daar getrek word, sorg dat dissipline en die nodige tug (straf) gehandhaaf word. Hy was ook verantwoordelik vir die sindelikheid (higiëne) en het gesorg dat die laervullis gereeld verwyder moes word. Daar word geglo dat die nakoming van dié gesondheidsmaatreëls baie siektes voorkom het. Hy het dan ook gesorg vir die veiligheid van die laer en dat die brandwagte saans op hul pos was en dat die vee (binne tydelike krale van doringtakke) veilig is. En voor die kamp opgebreek en verder getrek is, het die laerkommandant eers verkenners uitgestuur om seker te maak dat die gebied en Trekpad veilig is. 13

Maritz se kommando in Namakwaland

In baie geskiedenisboeke word vertel van hoe die laers veilig gemaak is. Eers is die waens aan mekaar gehaak met doringtakke wat in die openinge tussen en onder die waens gepak is sodat dit moeilik sou wees vir enige iemand om binne die laer te kom. Maar soms was daar nie doringbome in die omgewing nie en dan het hulle veghekke – gemaak van leer met houtsporte weerskante – gebruik. Dit het goed gewerk en die “hekke” kon agterna weer opgevou en saamgeneem word, wat natuurlik baie tyd gespaar het met die volgende kamp opslaan. 13

Met die aankoms by ’n kampplek moes die kaptente voorberei word vir die nag, want dit was die slaapplek vir die vroue, meisies en klein kinders. Die mans en ouer seuns moes buite op die grond slaap. 12

Doop van babas in die Uys-laer

Gedurende hierdie tyd kon die vroue nie lekker rus en ontspan nie. Nee, die ma’s moes klere regmaak, was en stryk (met ’n swaar gegote yster wat op die buitevuur warmgemaak is) en seep maak van al die onbruikbare vet wanneer daar skaap, bees of vark geslag is. Hulle moes ook koffie brand en broodbak in uitgegrawe mierneste of holtes in grondwalle. Die pa’s se plig was om velle te looi vir die maak van skoene. 12

Ten spyte van goeie higiëne in die kampplek was die kinders weens die koue, die wind en weersomstandighede op die Trekpad gedurig blootgestel aan siektes soos masels en kinkhoes en die ma’s kon maar net troos en veral bid – soms sonder medisyne en altyd sonder dokter. 12

Onderrig in die veld

Mens sou dink dat die kinders (veral die kleiner kinders) nie kon lees of skryf nie omdat hulle nie kon skoolgaan nie. Maar elke ma het gesorg dat sy haar kinders leer – amper soos tuisonderrig, maar sonder al die skoolvakke van vandag.

Elke Voortrekkerma het haar kinders onderrig uit skoolboekies wat saamgeneem is soos, onder meer, Trap der Jeugd, Sluiter se liedere en natuurlik die Bybel. 12

Met die lees en voordra of sing van gedeeltes uit enige boek – ook die Bybel – het dit goed gegaan, maar met die skryf heelwat stadiger – doodeenvoudig omdat die ink skaars was en die kinders dit nie “mog mors” nie. In daardie tyd is daar met die punt van ’n gansveer wat in ink gedoop is, geskryf. 12

Soms het die kinders “goedjies” (waarskynlik donkerkleurige blare, stokkies, gras, ens.) gekook en self “ink” gemaak waarmee hulle in skooloefeningboeke (wat saamgeneem is), kon skryf. Jy kan dink hoe spaarsamig hulle ook met papier was, want daar was geen winkel om die draai nie! 12

En juis omdat die skryfgereedskap so skaars was, is die skryfkuns ongelukkig baie verwaarloos. 14

Een van die mense wat saam met Louis Trichardt getrek het, was ene mnr. Pfeffer wat ’n onderwyser was. Toe die trek by die Soutpansberge aankom het, het hulle ’n klein skooltjie gebou waar die 21 kinders onder 16 jaar kon lesse kry. 15

Trek oor die noordelike Drakensberg

Opgeleide onderwysers was natuurlik baie skaars. Sekere bronne beweer daar was slegs sewe of agt onderwysers om die sowat 2 000 kinders van die Trek te onderrig, maar daar was na alle waarskynlikheid veel meer. Hier en daar was ’n vrygemaakte slaaf wat in die slawetyd saam met die kinders skoolgegaan het en hom nou aan die onderwys gewy het. Een so ’n slaaf, Barnard Hobbel, wat ook ’n “Kristen” (outydse woord vir Christen) was, het in Natal sy baas se kinders leer lees en skryf. 14

Daar was darem dikwels ook vroue wat les gegee het in “fraaie handwerk”. 14

Die onderwysers se salarisse het uit die aard van die saak afgehang van hoeveel kinders in sy “klas” was. Geld was egter baie skaars en dikwels het meester (die onderwyser) vee as vergoeding gekry. Party van hierdie onderwysers het egter net vir kos en klere gewerk. 14

’n Tent of gedeelte van ’n tent het gedien as klaskamer en planke bo-oor kissies en veldstoeltjies was die kinders se skoolbanke en -stoele. Uit vere is penne gesny en stukkies lood is gebruik as potlode. Ink is gemaak uit ’n mengsel van kruit en ’n sekere soort gekookte bessie wat as kleur gedien het. 14

Die leer van die ABC was die wegspringplek in die aanvangstadium – die kinders moes dit ook van agter na voor kon opsê! Ná die ABC-boekie was daar die Trap der Jeugd wat die kinders gewoonlik met hul saamgedra het om so dikwels as moontlik te lees. Sodra hulle vlot daaruit kon lees, het die Bybel hul vernaamste leesboek geword. 14

Die bekende Borstius-vraeboek vir katkisante moes hulle ook gebruik en die antwoorde uit die hoof leer. 16 Daarna is ander, moeiliker boeke gebruik totdat hulle gereed was om as lidmate van die kerk aangeneem te word. 14

Omdat die staat nie meer direkte toesig oor die onderwys kon uitoefen nie, was daar van tyd tot tyd ook “skurke” wat hulle as onderwysers voorgedoen het en daarvoor betaal wou word. Maar die moeders het dit gou agtergekom en hul kinders eerder self geleer, veral as dit by Godsdiensonderrig gekom het. Sodanige onderwysers moes help in die kamp, maar het dikwels gedurende skoolure “gerook, knope uitgesny of testamente en geslagsregisters uitgeskryf”. 14

Voorblad van De Natalier

Was daar tyd vir speel?

Nou wonder jy seker waarmee die Voortrekkerkinders gespeel het. Daar was tog nie winkels naby nie en nog minder was daar TV of videospeletjies. Die meisies het wel ’n pop of twee saamgeneem.

Die reeds genoemde mev. Fick wat die Trek as kind deurgemaak het, vertel: “O, ons het baie mooi poppe gehad, die ‘vaderlandske’ poppe”. Dié poppe was geverfde houtpoppe uit Holland, die vaderland van die eerste wit mense in die Kaap. 12

Die Voortrekkervroue en -kinders en het self ook mooi lappoppe van stukkies oorskietmateriaal gemaak. Die poplyfies is met gras gestop en gesiggies is op die skoongewaste vliese (buite-om ’n dier se lewer of niere), geteken. Die hare was meestal van lanfer (swart, gekreukelde materiaal vir rouklere wanneer iemand gesterf het) wat ook die bewys was dat daar maar altyd ’n gesin was wat iemand aan die dood moes afstaan. Van hierdie oorspronklike Voortrekkerpoppe is vandag in die Voortrekkermuseum in Pietermaritzburg te sien. Wat baie hartseer is, is dat sommige van hierdie poppe se rokkies met bloed bevlek is – dis bitter moeilik om jou ’n prentjie voor te stel van ’n vlugtende dogtertjie, nog met haar pop in die arms, wat deur ’n Zoeloe-assegaai deurboor word. 12

Andersins moes die kinders maar self speletjies uitdink of hul eie speelgoed maak. 12

Daar word vertel dat die Voortrekkerkinders (soos alle kinders maar maak), hul ouers en die grootmenslewe om hulle heen in hul spel nageboots het. Die seuns het waentjies gemaak en die meisies klein wit tentjies wat bo-op die wa moes kom. Klei-osse of dolosse is voor die waentjies ingespan. ’n Dolos is ’n hakbeentjie van ‘n skaap- of bokpoot wat in die plek van “speel-osse” gebruik is. Wanneer die poppetrek dan by ’n “staanplek” uitkom, is daar “uitgespan” en klein los tentjies is van stukkies materiaal of gebreide leer en stokkies gemaak. 12

Die seuns het ook met kleilatte en slingers (ketties) gespeel en soms veldrotte of voëls met ’n handgemaakte pyl en boog geskiet. 12

Wat het die Voortrekkers geëet?

Jy wonder seker hoe die Voortrekkers hul kos in die hande gekry het, want daar was nie winkels of supermarkte langs die Trekpad waar Ma gou suiker, meel en eiers vir pannekoek kon gaan koop nie. En in daardie tyd was daar ook nie iets soos kitskos nie.

Tog, hulle het beslis nie net van water en droë brood gelewe nie…

Die Voortrekkers het produkte soos koffie, suiker, sout, meel en droë kos (boontjies, ertjies, lensies en beskuit) saam met hulle op die Trek geneem. Vars produkte soos mielies, boontjies, pampoen, koring, patats, aartappels, waatlemoene en heuning het hulle op die Trekpad van die plaaslike stamme geruil. 17

Trekkerkinders het graag wildevrugte en bessies gepluk of wildeheuning gesoek waarmee hulle tameletjies kon maak. Hulle het ook graag karringmelk of dikmelk gedrink en veral van tuisgemaakte gemmerbier gehou. 17

Die Trekkers was baie lief vir vleis en het dit gebraai, gekook of biltong daarvan gemaak. Mielies was ’n stapelvoedsel en baie gesinne het in die aand mieliepap geëet. Gestampte mielies (stampmielies) was ‘n baie gewilde kos van die Voortrekkers en veral die kinders het saans koue stampmielies met karringmelk geëet. 17

Die Voortrekkers het oor oop vure (gewoonlik op die grond) gekook en ’n kookskerm van takke en bossies gemaak om die wind weg te keer. 18

Wanneer die Voortrekkervroue brood of beskuit wou bak, is ’n miershoopoond gebruik. ’n Groot miershoop is dan gesoek, uitgehol en daarin vuurgemaak. Nadat die broodpanne ingesit is, is die opening met klei toegestop totdat die brode gaar was. 18

Kleredrag tydens die Groot Trek

Sommige mense dink dat die Voortrekkers net ou en vaal klere wat stukkend of vol toiings was, gehad het om op die Trekpad te dra. Hoegenaamd nie. Onthou, baie van hierdie Voortrekkers wat uit die Kaapkolonie getrek het, was ryk boere. Mense soos, onder andere, Gerrit Maritz en Piet Retief het blykbaar pakwaens gehad – spesiaal vir hul besittings soos klerasie, materiaal, ekstra beddegoed, linne en selfs allerlei fyn vroueklere, kantwerk en sy. Daar was wel armer mense onder die Trekkers, maar oor die algemeen was die Trekkers betreklik bemiddeld. Ja, natuurlik daar was ’n tyd toe almal in ellende verkeer het, maar ons moet ons die Voortrekkers voorstel soos hulle daar by hul vertrek uit die Kolonie uitgesien (gelyk) het. 19

Gerrit Maritz
Piet Retief

Die Voortrekkervrou

’n Kenmerkende eienskap van die Voortrekkervrou was haar netheid. Sy het meeste van die klere van die huisgesin gemaak – alles met die hand, want daar was nie naaimasjiene nie. En as mens kyk na die Voortrekkerklere wat in die Voortrekkermuseum bewaar word, kan jy sien hoe netjies en mooi dit afgewerk was.

Die vroue se tabberds (rokke) was volgens die vroeë Victoriaanse modestyl. Die lang, wye rokke was geplooi met ’n nousluitende lyfstuk en ’n halsdoekie (byna soos ’n materiaalserp) is gewoonlik daarby gedra. Die moue was nousluitend en lank tot op die hand, of korter tot oor die elmboog. Die lang moue het ’n stukkie kant onderaan gehad of ’n valletjie van dieselfde materiaal.

Tuithoedjies was destyds in die mode, maar die Voortrekkervroue het die meer doeltreffende kappie, wat hulle self ontwerp het, gedra. Omdat hulle meestal op pad was, het dié kappie hul gesigte teen die son en weer beskerm en hul “mooi gelaatskleur bewaar”.

Elke vrou het ’n voorskoot gedra om haar klere so lank as moontlik skoon en netjies te hou. Die voorskote was ’n wit bandvoorskoot, maar soms is daar deftiger en pragtig versierde voorskote gedra. In die Voortrekkermuseum in Pietermaritzburg is daar ’n handgeborduurde swart satynvoorskoot te sien.

Die middeljarige en ouer vroue het rokke met ’n los lyf gedra, maar omdat ’n vrou maar altyd graag wil mooi lyk, het hulle dit versier met ’n breë materiaalband om die middel, of met koordlint met ’n versierde gespe of groot strik.

Die groot verskil tussen die Voortrekkers se alledaagse en beste klere was natuurlik die materiaal. Hul beste klere is dus van sy, satyn, brokaat en fluweel gemaak. Die mooi klere is ook kisklere genoem, waarskynlik omdat hul beste klere in ’n kis gehou is.

Snuifdosie

Wat interessant is, is dat mans én vroue soms velklere gedra het, maar dit natuurlik by uitsondering en wanneer die nood druk.

Die skoene van die Voortrekkervrou het net onder haar lang rok uitgesteek en haar kouse kon jy glad nie sien nie. Volgens Trichardt se dagboek, het die skoolmeester, Daniël Pfeffer, skynbaar die vroue se skoene gemaak, alhoewel sommige hul skoene by smouse langs die pad gekoop het (al was dit glo nie so mooi nie). 19

Kinders se kleredrag

Die klere van die dogters (soos die meisies tóé genoem is), was min of meer op dieselfde patroon as die klere van die jonger dames gemaak. Die rokkies was egter korter, hoewel dit steeds tot heelwat onder die knie gehang het. 19

Na alle waarskynlikheid het die jong seuns se klere soos dié van hul pa’s gelyk – sonder die spoggerige baadjies of onderbaadjies.

Voortrekkerkinders

Die Voortrekkermans

As mens lees van die spoggerige trou-onderbaadjie van Sarel Cilliers en onthou hoe netjies Gerrit Maritz altyd in sy “sakemansklere” met onderbaadjies en sy hoë bolkeil gelyk het, is dit duidelik dat die Voortrekkermans ook maar daarvan gehou het om by groot geleenthede spoggerig aan te trek. Party van hul baadjies was van swart, bruin, groen of selfs mostertkleurige fluweel gemaak. Die baadjie en onderbaadjie was dikwels met sy of satyn omgeboor. Maar fluweel was skaars en molvel meer algemeen. Hul werksklere was dus van wolvel of growwe materiaal.

Voortrekkerkleredrag

Die pronkkledingstuk van die mans was hul onderbaadjies. In die Voortrekkermuseum kan mens sien hoe deftig die syonderbaadjie van Sarel Cilliers was en ook dié van kommandant Andries Pretorius.

Daar was eintlik twee soorte mansdrag: die ouderwetse lang klapbroek en kort baadjie daarby of die langer baadjie met ’n broek sonder klap. Sommige Voortrekkers het kruisbande by dié broek gedra. Die mans het gewoonlik nie sokkies gedra nie, maar wel wanneer hulle die een of ander geleentheid bygewoon het.

Hul hemde was min of meer soos die manshemde van vandag waarby hulle driehoekige nekdoeke gedra het. Die deftiger hemp het ’n borsstuk gehad waarby hulle ’n strikdassie (soms uit leer gesny) gedra het.

Die hoed van ’n Voortrekkerman was van strooi of leer gemaak en uitgevoer met sis of linne. Die rand was meestal breed, maar daar was ook hoede met ’n smal rand of hoë bol.

Wat nogal opvallend is, is dat die Voortrekkers se klere nie net besonder goed gemaak is nie, maar van goeie smaak getuig – iets wat nie altyd van die hedendaagse modes gesê kan word nie! 19

Cilliers se broek na die Slag van Vegkop

Sosiale lewe op die Trek

Hoewel die Trekkers ver van die Kaapkolonie en hul alledaagse lewe was, het hulle tog hul gewone lewe op die Trekpad probeer voortsit. Mens hoor en lees meestal van die swaarkry, ontberings, veldslagte, siektes en dies meer, maar tóg was daar ’n ander, vroliker sy van hul lewe.

Daar het dikwels groot groepe onbekendes by die laers aangekom en nuwe vriendskappe is gesluit. Of soms was dit familie of ou bekendes wat onverwags opgedaag en aangesluit het. Dan is daar gesellig verkeer, kos gemaak en stories uitgeruil. 20

Jag

Vir die mans was die lekkerste (en ook belangrikste) vermaaklikheid om te gaan jag. Daar is gereeld jagpartye gereël om leeus te skiet om hul vee te beveilig. Hoewel die leeujag ’n gevaarlike spulletjie was, is die leeuvel as ’n soort ereteken van die jag beskou. In Natal was daar ook olifante en seekoeie in die riviere wat baie gevaarlik was. Hartbeeste, blouwildebeeste, elande, renosters en bokke van allerlei soorte moes deur middel van ’n georganiseerde jagtog geskiet word om hul vleisvoorraad aan te vul.

Hans de Lange, baasverkenner van die Voortrekkers het ná die groot moorde ’n skietbaan gemaak waar almal kon gaan skyfskiet om hul bedrewenheid as skutte te oefen. Om oor groot afstande raak te skiet, was van die uiterste belang omdat mense se lewens daarvan afgehang het. 20

Pret en sport vir die kinders

Die Voortrekkerkinders het hulle besig gehou deur met handgemaakte speelgoed die Groot Trek na te boots. Hulle het klein “roetes” binne of digby die laer in die grond getrek vir die “ossewaens”, kompleet met “tente” en “Voortrekkers”. Ander kere, as dit veilig is, het hulle in die veld gaan speel, kleilat gegooi, of selfs met ’n handgemaakte pyl en boog gaan skiet.

Skyfskiet, toutrek en jukskei gooi was weer die sportsoorte waaraan veral jongmense deelgeneem het en ’n skeidsregter moes toesien dat die spel volgens die reëls verloop. 20

Uitnodigings

In Erasmus Smit se dagboek word daar vertel van ’n heerlike groot maaltyd wat mev. Oosthuizen (die moeder van die held van Van Rensburg-koppie) voorberei het. Perdewaens is uitgestuur om die goewerneur en ander genooides van Piet Retief se laer na Maritz s’n oor te bring. Sy vertel: “Ek glo hulle het ’n hele paar heildronke met die ou Kaapse wyn op die leiers van die Trek ingestel. Ek glo ook daar moes ’n hele paar toesprake gewees het!”.

Dis te verstane dat die lewe van die vroue minder avontuurlik was. ’n Voortrekkervrou se plig het in en om die wa gelê – sy moes was, stryk en klere maak, kinders onderrig en drie maaltye per dag gereed hê, al was die porsies soms klein. Gelukkig het die vroue saam naaldwerk gedoen en kon hulle bietjie gesels en gesellig verkeer. 20

Danse

Moenie vir een oomblik dink die Voortrekkers kon nie dans nie! Daar is dikwels gedans, veral op verjaardae en bruilofte (troues). En ook nie sonder musiek nie… daar was gewoonlik ’n viool, kornet (’n koperblaasinstrument, baie soos ’n trompet), fluit en akkordeon (trekklavier of groot soort konsertina). Verder is daar hartlik saamgesing.

Die gewildste danse was die vastrap (’n vinnige vrolike volksdans, byna soos die barn dance) wat meestal deur die jongmense gedans is. Die kadriel, ook bekend as kotiljons (’n dans vir vier pare wat uit vyf bewegings bestaan) en kontradans (’n dans wat deur vier of agt pare uitgevoer word) was effens meer grasieus en die ouer mense het weer hiervan gehou. En dan was daar natuurlik die wals, wat ’n stadiger dans op driemaat is. 20

Troues

’n Bruilofsfees was sekerlik een van die grootste sosiale gebeurtenisse om na uit te sien. Behalwe ’n heerlike maaltyd wat met sorg voorberei is, is daar altyd gou-gou ’n gelyk stuk grond skoongevee om as dansvloer te dien sodat die groot opskop kan begin.

Só ’n burgerlike huwelik is gewoonlik voltrek deur ’n kommissaris, met ander woorde ’n regsbeampte soos, byvoorbeeld, Gerrit Maritz. Eers daarna – en wanneer die egpaar weer by ’n dorpie uitkom – is hulle in ’n kerk deur ’n predikant in die huwelik bevestig. 20

Kerkbyeenkomste

Een van die moeilikste dinge vir die diep gelowige Voortrekkers was om hul kerk en die kerklewe van die gemeentes in die Kolonie agter te laat. Hoewel daar nie kerke naby was nie, het daar soms ’n sendeling of twee by die Trek aangekom om ’n diens te lei. Sommige van die Trekkers het sommer self gepreek, soos Sarel Cilliers in Maritz se laer, en op Sondae is daar met groot eerbied kerk gehou in die laer. Hoewel hierdie dienste op die beoefening van godsdiens gefokus het, was dit ook ’n dag van mooi aantrek, lekker eet en rustige samesyn. Selfs die kinders het na Sondae uitgesien omdat hulle met sang en die voordra van Bybelverse aan die diens kon deelneem.

Model van die Geloftekerk
Voortrekkers voor Geloftekerk, Pierneef

Woordbank

aanspreekvorm Hoe jy iemand noem.
afstammeling Nasaat of nakomeling. Van wie jy jou herkoms kry.
akkordeon Trekklavier of groot soort konsertina.
arbeidsame Iemand/mense wat baie hard werk.
avonturier Geluksoeker, waaghals.
baanbreker Iemand wat die weg berei of die voortou neem, voorloper.
bederf (Kos) wat sleg of oud word en dan nie meer gebruik kan word nie.
bedrewenheid Behendigheid, bevoegdheid, vaardigheid; om iets goed te doen.
bemiddeld Met die nodige lewensmiddele; gegoed.
bestempel Noem, aandui, beskryf.
blaasbalk ’n Werktuig om lug saam te pers en uit te blaas sodat ’n vuur lekker vlamvat.
boeke gevat Aandgodsdiens hou.
bolkeil  ’n Pluiskeil, pluishoed, dopkeil, hardebolkeil. ’n Hoed wat ’n bolvorm het.
brandwag Waghou sodat ander mense veilig is
breekware Borde, koppies, pierings van porselein of glasware wat breek as dit val.
brokaat      Dik systof (materiaal) deurwerk en versier met goud– en silwerdraad.
doeltreffende Effektief, doelmatig, geslaagd.
draaibank ’n Werktafel soos in ’n werkswinkel waarop dinge gemaak of reggemaak kan word.
elders   Op ’n ander plek.
epies Groots; van geskiedkundige belang.
fatsoenlik Ordentlik, beskaafd, goedgemanierd.
floreer Suksesvol wees; goeie sake doen.
gehard In staat wees om moeilike omstandighede te verduur.
gelaatskleur Velkleur.
gesellig Aangenaam, huislik, vrolik.
gietery ’n Plek waar gesmelte lood in vorms gegiet word om voorwerpe te vorm.
godsdienstig Om te glo in God; ’n Christen.
griewe Klagtes.
grondwet Die hoofwet van ’n regering.
Groot Trek Massa-uittog van Boere, veral aan die Oosgrens van die destydse Kaapkolonie.
grootskaalse Uitgestrekte, baie groot; omvangryk, wydverspreid.
handhaaf Om iets in stand te hou, soos byvoorbeeld orde, reëls, ens.
huidige Soos dit op die oomblik is.
huisraad Meubels.
japtrap Baie gou; vinnig.
jukskei Die houtpen in die juk van ’n trekdier.
kadriel ’n Outydse (Victoriaanse) dans vir vier pare wat uit vyf bewegings bestaan.
keur Die beste.
kisklere Jou beste of mooi klere.
kleilat ’n Outydse speletjie waar jy ’n slap wilgertak se blare afstroop, ’n stukkie modder/klei aan die punt sit en die tak soos ’n sweep vorentoe gooi om iets met die klei (wat met die swaaibeweging afval) te probeer raakgooi.
kontradans ’n Victoriaanse dans wat deur vier of agt pare uitgevoer word.
kornet ’n Koperblaasinstrument, baie soos ’n trompet, maar met ’n sagter klank.
kruit Plofstof in poeiervorm.
lanfer Fyn sy-, wol- of katoenmateriaal met fyn kreukels (gewoonlik swart)
leergebonde     ’n Boekomslag van leer; met leer gebind.
manifes ’n Uitvoerige verklaring oor die doel en strewe van ‘n party of groep, bekendmaking
na regte Eintlik; volgens wet.
nimmereindigend Iets wat nie ophou nie; sonder einde aanhou.
omgeboor Om ’n stukkie materiaal om die rand van ’n kledingstuk te vou en dit dan vas te werk.
onberekenbare Wat nie bepaal/bereken/vasgestel kan word nie.
onderskep Verhinder, in die pad van iets kom.
ondraaglik Jy kan dit nie verduur of uithou nie.
ontnugter Na die werklikheid terugbring.
onverskrokke Dapper, glad nie verskrik wees nie.
massa-opstand Mense kom in opstand (betoog) as hulle ontevrede is, veral met die regering.
ordelik Netjies, sindelik, gedissiplineerd.
owerheid Die regering.
pionier Iemand wat baanbrekerswerk doen, die weg baan/berei, die pad oopmaak.
ploegskare Beitelpuntige en mesagtige onderdeel van ‘n ploeg wat in die grond indring en die grond lossny.
porsie   Skeppie.
pronk Spoggerig wees.
riem ’n Smal, lang strook leer.
rouklere Begrafnisklere (gewoonlik swart).
setlaars Iemand wat hom in ‘n nuwe land, kolonie of streek vestig; nedersetter, immigrant.
sindelikheid Om skoon en netjies te wees.
sis Katoenstof met klein ontwerpies daarop gedruk; sisrok.
skans ’n Skerm waaragter jy kan skuil.
skut Iemand wat skiet.
sodanige Hulle; sulke mense, so ’n persoon.
spulletjie ’n Affêre, gedoente.
stapelvoedsel Die vernaamste voeding.
tabberd ’n Aandrok of beste rok.
tameletjie ’n Soort lekkergoed gemaak van suiker. Die Voortrekkers moes maar wildeheuning gebruik.
tog Reis.
toiings Iets wat baie stukkend of verflenterd is;
tug Straf of dissiplineer.
uit die hoof leer Iets baie goed ken en dit sonder boek kan herhaal.
uitgevoer Voering insit (gewoonlik van lap/materiaal)
uittog ’n Vertrek, wegreis; eksodus.
vastrap ’n Vinnige vrolike dans, iets soos die bekende barn yard-dans.
verkenningstog ’n Reis met die doel om ’n vreemde plek te ondersoek.
vermaaklikheid Iets wat vermaak/pret verskaf.
voltrek Sluit, voltooi (huwelik)
vooraanstaande Welbekend, belangrik; hooggeplaaste persone.
voortou Leiding neem; lei
Voortrekkers Deelnemer aan die Groot Trek
vooruitsig Hoop, verwagting; waarna uitgesien word.
wals Dans op driemaatslag.
woeste Waar daar ontoeganklike hoë berge en diep klowe is; onherbergsame dele waar daar gewoonlik niemand woon nie; die ongetemde (wilde) natuur. 23

Lees die volgende artikel om nog meer van die Voortrekkers uit te vind

Kyk die volgende video’s om meer te leer oor die lief en leed van die Voortrekkers

Voorbereiding vir die Groot Trek en die lewe op pad (argiefmateriaal, dus is die beeld nie baie duidelik nie, tog baie interessant).

Die kakebeenwa wat uit die Groot Trek behoue gebly het (deur Gerrit Maritz gebou).

Luister na die outydse liedjie “Die ossewa” deur Charles Jacobie.

Tipiese dansmusiek van die Voortrekkers deur David de Lange.

Die Voortrekkerlewe uitgebeeld (musiek: “Die Stem” in Frans gesing).

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: Jackie Grobler-versamelingFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 17 Februarie 2022 | Bygewerk op 27 Februarie 2024