Vinnige feite

  • Braille bestaan uit ’n kode van 63 karakters. Dit is in 1824 deur Louis Braille ontwerp. Hy het op die ouderdom van drie jaar blind geword. 14
  • Wanneer iemand die geur van ’n nuwe boek geniet, het dit ’n naam – dit word bibliosmia genoem. 15
  • Volgens die jongste opname deur die PIRLS (Progress in International Reading Literacy Study), wat in Mei 2023 bekendgestel is, kan 81% van Suid-Afrikaanse kinders wat in graad 4 is, nie met begrip lees nie. 16
  • Op 24 Augustus 1814 het Britse soldate die gebou waarin die Library of Congress (Amerika) was, afgebrand, en die kernversameling van 3 000 boeke is vernietig. 17
  • In die Library of Congress is daar boeke in 470 verskillende tale. 16

Hoe wonderlik is ’n boek – iets wat van papier gemaak is of op ’n skerm gelees kan word en wat ’n hele wêreld in sy bladsye het. Stories van regte mense en diere en dinge van oral in die groot heelal wat jy in jou hande kan vashou. Ook fantasieverhale van denkbeeldige wêrelde en wesens waaroor jy jou kan verwonder, en grappige stories wat jou kan vermaak. Die wonder wat plaasvind wanneer jy ’n boek oopmaak en na die eerste bladsy blaai …

Wat is ’n boek?

Dit klink na ’n vreemde vraag, nie waar nie? Dit is wel belangrik om na die amptelike definisie van ’n boek te kyk omdat nie sommer enige geskrewe dokument ’n boek genoem kan word nie. Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Kulturele en Wetenskaplike Organisasie (UNESCO) definieer ʼn boek as “’n publikasie wat nie as ’n reeks uitgegee word nie en wat ten minste 49 bladsye beslaan”. 1

’n Boek het gewoonlik ’n titelblad waarop die naam van die skrywer, die uitgewer en die publikasiedatum meestal verskyn. Sommige boeke het ’n voorwoord en/of ’n inleiding. In sommige boeke is daar ’n inhoudsopgawe voor in die boek – dit is gewoonlik veral die geval met naslaanwerke. 2

Die belangrikste doel van ’n boek is om te kommunikeer – die persoon wat die boek geskryf het, praat met almal wat daardie boek lees. ’n Boek gebruik skrif of ander vorms van visuele tekens (tekens wat ’n mens kan sien) om ’n boodskap oor te dra. Die gedagte met ’n boek is dus om sy boodskap verder te versprei, dit is nie net vir een leser bedoel nie. 1

Blinde mense het natuurlik hul eie skrif sodat hulle ook boeke kan lees – dit word braille genoem en bestaan uit knoppies in patrone op ’n dikker soort papier wat blinde mense met hulle vingers kan “lees”.

Die vroeë geskiedenis van die boek

Daar was nie van die begin af papier soos ons dit vandag ken nie. Baie eeue gelede is woorde op klip- of kleitablette uitgekerf of uitgekap. Dit is gedoen deur onder andere die mense in Babilonië en Assirië. Voorbeelde van sulke kleitablette dateer uit 3 000 voor Christus. In Egipte is daar in dieselfde tyd op papirusrolle geskryf. Papirus was ’n soort riet waarvan papier gemaak is. In China is boeke gemaak van stroke hout of stroke bamboes wat aanmekaar gebind is om ’n oppervlak te maak waarop geskryf kon word. In die jaar 400 n.C. is die vel van diere gebruik om op te skryf.

Ou Bybel wat dateer uit die 16de eeu

Aanvanklik moes boeke met die hand oorgeskryf word as mense nog ’n kopie daarvan wou hê. Teen die 16de eeu kon mense begin om kopieë van boeke te druk, danksy Gutenberg se drukpers.

In die 19de eeu het die meganisasie van die druk van boeke (om boeke met masjiene te druk) daartoe gelei dat al hoe meer boeke al hoe vinniger gedruk kon word om voorsiening te maak vir die groot vraag na boeke (al hoe meer mense wat boeke wou besit). 1

As mens hierdie paadjie van boeke vanaf die vroegste tye vergelyk met drukkers wat vandag duisende boeke druk, dan besef ’n mens hoe ver daar gevorder is tot waar boeke vandag ’n algemene artikel in byna alle huise is.

Die voordele van lees

As ’n mens lees, moet ’n mens fokus (konsentreer) om regtig in die storie verdiep te raak. Wanneer ’n mens so leer om te fokus wanneer jy lees, help dit jou ook met ander dinge: Jy luister beter na iemand wat met jou praat, en jy kan beter fokus wanneer jy leer.

Lees help met ’n mens se woordeskat. Wanneer jy lees, sien jy die heeltyd nuwe woorde en jy leer ook presies wat woorde beteken wat jy reeds gehoor of gelees het. ’n Groter woordeskat help ’n mens natuurlik ook om makliker te leer en dit help jou ook om beter met ander mense te kommunikeer (te gesels). 3

Die ontstaan van die Internet het nie beteken dat die geskrewe woord nie meer belangrik is nie. Woorde is steeds baie belangrik. Ons skryf dalk nie meer briewe met ink op papier nie, maar dink net hoeveel e-posse word elke dag in die wêreld rondgestuur – sosiale briewe en ook e-posse oor werk. Ook wanneer jy iets moet doen soos om ’n videovertoning saam te stel vir ’n kongres of ’n kursus wat aanlyn deur duisende mense gevolg kan word, moet jy steeds woorde gebruik.

Lees help jou nie net om beter te kan leer nie, dit gee jou ook ’n goeie algemene kennis.

Lees is oefening vir jou brein – hoe meer jy lees, hoe beter gaan jy lees.

Lees gebeur nie altyd net wanneer ’n mens iewers alleen is nie, maar dit is ook ’n belangrike sosiale aktiwiteit (waar mense saam kuier). Dink maar aan dinge soos boekklubs of gedigtegroepe waar groepe mense bymekaar kom om boeke of gedigte te bespreek. By biblioteke word daar ook storie-ure gehou waar groepe kinders bymekaar kom om na stories te luister.

Mense wat lees, kan beter spel. Dit is eintlik maklik om te verstaan hoe dit werk – hoe meer jy lees, hoe meer woorde sien jy en dan onthou jy hoe hulle gespel word. Om reg te kan spel, bly steeds belangrik. As jy eendag gaan aansoek doen vir werk, en jy kan nie reg spel nie, vertoon dit nie goed vir jou voornemende werkgewer nie. 4

Hoe meer jy lees, hoe beter gaan jy lees. Net soos in sport, is oefening in lees ook belangrik: Hoe beter jy lees, hoe lekkerder word dit om te lees.

Lees help om jou verbeelding sterk te maak en ’n mens het verbeelding nodig om planne te maak in die lewe. 5

Boeklees kan jou wiskundepunte verbeter. In 2015 het die Ohio-staatsuniversiteit ’n studie gedoen waarmee bewys is dat kinders wat lees, se wiskundepunte beter is as die van kinders wat nie lees nie.

Antjie Krog (een van Afrikaanse se bekendste digters) het by geleentheid gesê: Maak nie saak hoe arm nie, ’n kind wat lees, is ’n bevoorregte kind. Maak nie saak hoe verlate of verwaarloos nie, ’n kind wat lees, is ’n gekoesterde kind.” 6

Biblioteke

’n Mens kan darem nie van boeke praat sonder om te kyk na die huis van boeke nie – ’n biblioteek natuurlik.

Oudste biblioteke in die wêreld

Die oudste biblioteek wat aan mense bekend is – die Ashurbanipal-biblioteek – is iewers gedurende die 7de eeu ná Christus gestig. Dit was in Nineve, wat vandag in Irak geleë is, en het ongeveer 30 000 tablette bevat wat volgens onderwerpe georganiseer was. Argeoloë het later hierdie biblioteek se inhoud ontdek, en die meeste daarvan word vandag in die Britse Museum in Londen bewaar.

Hierdie tablette was nou nie dit wat ons vandag as ’n tablet ken nie! In die vroegste tye is inligting onder meer op kleitablette geskryf omdat daar toe nog nie iets soos papier was nie.

Britse Museum, Londen

Die tweede oudste biblioteek in die wêreld was in Alexandrië en is in 323 voor Christus gebou. Dit het gebeur toe Ptolemy I Soter ’n sentrum vir opleiding in Alexandrië wou stig. Hierdie biblioteek het op ’n stadium meer as 500 000 papirusrolle gehad oor onderwerpe soos geskiedenis, die regte, wiskunde, wetenskap en letterkunde. 7

Groot biblioteke in die wêreld

Die grootste versameling van boeke is in die British Library in Londen. Hierdie biblioteek het net minder as 200 miljoen items. Hier kry ’n mens ’n kopie van elke boek wat nog ooit in die Verenigde Koninkryk en Ierland gedruk is. Daar word ook elke jaar nog 3 miljoen nuwe boeke en ander geskrewe dokumente in hierdie biblioteek opgeneem. 8

British Library, Londen

Die tweede grootste biblioteek in die wêreld is die Library of Congress in Amerika. In hierdie biblioteek is daar meer as 173 miljoen boeke. Hierdie biblioteek is reeds in 1800 gestig. 9

Fiksie- en niefiksieboeke

Niefiksieboeke word geskryf om feite oor te dra, maar wanneer ’n mens fiksieboeke lees, moet jou verbeelding jou help om die storie te kan “sien”. Fiksieboeke gee ’n beskrywing van denkbeeldige mense, dinge en gebeure. Daarom moet jy self besluit presies hoe die dorp lyk waarin die storie afspeel, en jy moet jou verbeel hoe koud dit is as jy ’n storie lees waarin die skrywer skryf oor dinge wat in die sneeu gebeur.

Wanneer jy besig is om ’n storie te lees, dan trek die storie jou in, en dit voel of jy die karakters leer ken. Naderhand voel jy saam met die karakters – as hulle huil, as hulle lag, as daar slegte dinge met hulle gebeur. As die karakters mense is wat heeltemal anders as jy leef, dalk in ’n ander gemeenskap of land, dan leer dit jou om te dink aan hoe ander mense leef. Dit maak jou oë oop vir ander moontlikhede, verbreed jou verwysingsraamwerk, en kan selfs help om empatie te leer.

President Barack Obama, voormalige president van die VSA, het dit so beskryf: “Lees help ons om die pas te verminder en perspektief te kry, en gee ons die geleentheid om in iemand anders se skoene te staan – twee bitter kosbare dinge.” 10

Verskillende genres (boeke met spesifieke temas)

Verskillende menings bestaan oor hoeveel verskillende genres daar is waarin boeke ingedeel kan word. Boeke word in verskillende kategorieë (genres) verdeel gebaseer op onder meer die vorm en temas waaroor daarin geskryf word. Sommige mense praat van 50 genres, sommiges van 107, en in Amazon word daar gepraat van meer as 16 000 genres. Hier onder word slegs enkele van die belangrikstes gelys. 11 12

Fiksie Niefiksie
Avontuurverhale Geskiedenis
Distopiese fiksie Godsdienstige lektuur
Fantasie Filosofie
Historiese fiksie Fotografie
Kinderverhale Kook
Kortverhale Natuur
Magiese realisme (Outo)biografieë
Misdaad- of speurverhale Politiek
Romanses Selfhelpboeke
Rillers Sport
Wetenskapfiksie Tuinmaak

Boeklees teenoor die digitale wêreld

Ons is bevoorreg om in ’n wêreld te leef waarin inligting op ’n klomp verskillende maniere in die hande gekry kan word. Nie baie jare gelede nie, moes ’n mens alle inligting in fisiese boeke gaan naslaan (opsoek) en oplees. Vandag druk ’n mens net ’n paar knoppies op jou selfoon of rekenaar en kry so inligting oor enige moontlike onderwerp onder die son. Ook storieboeke kan ’n mens op allerhande digitale (elektroniese) maniere lees.

Die lees van papierboeke kan egter steeds voordele inhou. Wanneer ’n mens die bladsye self moet omblaai, bevorder dit onder meer dinge soos jou tassintuig. Lesers van papierboeke is ook meer geneig om op die woorde en die inhoud te fokus, as om te wonder watter beeld hulle volgende gaan sien wanneer hulle met die muis op iets klik. 4

Beste boeke

Om te besluit watter boeke beter as ander is, is ’n moeilike taak. Mense se smaak is onder meer betrokke, en smaak is ’n moeilike ding om te meet. Tog word daar soms probeer om so ’n lys op te stel.

In die Wes-Kaap is 2 000 gebruikers van biblioteke in 2011 gevra om uit 700 verskillende boeke die gewildste 100 boeke te kies. ’n Bietjie meer as die helfte van die 100 boeke was Afrikaanse boeke, en die eerste ses boeke op die lys was ook Afrikaanse boeke. 13

Boekwinkels stel ook dikwels lyste van hul gewildste boeke saam om kopers te lei en te lok. Rondom Kersfees kry mens gewoonlik geskenkidees wat boeke insluit, want ’n boek is altyd ’n goeie geskenk!

Woordbank

argeoloë Deskundige navorser wat die oorblyfsels van kulture uit die vroeëre tye bestudeer.
biografie ’n Lewensverhaal van iemand wat dikwels deur iemand anders op skrif gestel word.
definisie Noukeurige omskrywing van ’n woord.
empatie Om jou in iemand anders se skoene te plaas en sodoende te verstaan hoekom hy of sy iets doen.
fiksie Literatuur, veral prosa, wat ’n beskrywing van denkbeeldige mense, dinge en gebeure gee; romanliteratuur.
genres Literatuursoort.
gekoesterde Goed versorg of vertroetel.
naslaanwerke Om inligting in ’n woordeboek, ensiklopedie of aanlyn te soek; opsoek.
niefiksie Letterkunde wat nie in die verbeelding geskep is nie, maar die werklikheid weergee, soos wetenskaplike werke, geskiedskrywing en (outo)biografieë.
outobiografie ’n Lewensverhaal van iemand wat deur hom/haar self op skrif gestel word.
perspektief Manier van dink wat beïnvloed word deur jou eie omstandighede en ervaring.
verbeelding Wanneer ’n mens iets waaraan jy nie kan vat nie of nie met jou oë kan sien nie, vir jouself kan voorstel, dit met jou “verbeelding kan sien”.
woordeskat Die aantal woorde wat ’n mens ken en kan gebruik. 18

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor boeke

Kyk hier na verskillende vorme van stories en boeke

Foto: iStock
Gepubliseer op: 6 Junie 2023 | Bygewerk op 24 November 2023