Vinnige feite

  • Die Afrikaanse naam vir die dier (buffel) kry ons uit Nederlands (buffel) wat dit via Oud-Frans (buffel) uit Latyn (bubalus) gekry het. Die Latynse woord het letterlik beteken “wilde os”. 13
  • Die wetenskaplike genusnaam vir die buffel, Syncerus, is ’n samestelling van twee Griekse woorddele: sun (“saam”) en keras (“horing”). Die naam het te doen met die buffelbul se horings wat so in die middel van sy voorkop saamgroei. 14
  • Een bynaam vir die ouer buffelbulle wat so saam in ’n trop loop, is “dagha boys”. Dit verwys na hul gewoonte om in die modder te rol. Die woord dagha (uitgespreek DA-gha, met daardie gh wat klink soos die g in berge) is oorspronklik ’n Zoeloewoord wat “modder” beteken. 15
  • Kaapse buffels word ook soms die bosmafia genoem, want hulle het ’n gewoonte om wraak te neem as hulle dink iemand het met hulle gemors. Daar is selfs stories van buffeltroppe wat jagters omsingel en bekruip het! 16
  • Buffelkalfies drink aan hulle ma’s soos al die ander soogdiere, maar hulle staan nie, soos bokke, skape of beeste, langs die ma nie. Die kalf staan agter die ma en druk sy kop tussen haar bene in om te soog. Natuurkenners sê dit is omdat die trop die hele tyd beweeg en dit die koei en die kalf in staat stel om by die trop te bly. 14
  • Buffels is goeie swemmers. Hulle sal maklik deur ’n rivier swem as hulle dink die weiveld op die oorkantste oewer is beter. 14
  • Daar is ’n prentjie van ’n buffel op Suid-Afrika se R100-noot.
  • As ’n mens iemand ’n buffel noem, beteken dit die persoon is ongeskik. 17

Die buffel is een van Afrika se Groot Vyf – daardie diere wat vroeër deur jagters beskou is as die belangrikste en/of moeilikste diere om te jag: die olifant, die renoster, die buffel, die luiperd en die leeu. 1 Deesdae beskou toeriste aan Afrika se wildtuine hierdie vyf as die belangrikste diere om te sien.

Voor ons wegspring met feite oor die buffel, moet ons eers net gou die verwarring oor dié dier se naam uitskakel.

Mense noem verskillende diere buffel: Hulle noem die Afrika-buffel, wat in Afrika voorkom, ’n buffel, en hulle noem die waterbuffel, wat in Asië voorkom, ook ’n buffel. Baie mense, veral Engelssprekende Amerikaners, verwys ook na ’n dier in die Verenigde State van Amerika (VSA) as ’n Amerikaanse buffel. Dit is egter nie korrek nie. Die Amerikaanse dier se naam is eintlik bison. 2

Die Amerikaanse bison.

Ons voorouers het dikwels vir diere dieselfde name gegee omdat hulle min of meer dieselfde lyk. Deesdae gebruik wetenskaplikes DNS en ander fyner klassifikasies om tussen diere te onderskei. As ons na die drie diere se wetenskaplike klassifikasie kyk, sien ons duidelik dat hulle almal aan dieselfde familie behoort, maar dat hul genus verskil:

Familie Genus Spesie
Afrika-buffel Bovidae Syncerus Caffer 3
waterbuffel Bovidae Bubalus Bubalis 4
bison Bovidae Bison bison 5

Hierdie artikel gaan net oor die eerste dier: die Afrika-buffel.

Beskrywing

Gewone naam buffel
Wetenskaplike naam Syncerus caffer
Familie Bovidae
Klas soogdier
Dieet herbivoor
Grootte (sonder die stert) 1,3-1,5 m hoog
Gewig 425-870 kg 2

As ’n mens vinnig kyk, lyk buffels byna soos beeste. Albei diere het hoewe en horings, albei wei in troppe, en albei vreet gras. As ’n mens buffels van nader bekyk, kan ’n mens duidelik sien hul horings is anders as beeste s’n. Dit is op grond van hierdie horings dat ’n mens buffels in die veld kan uitken. 6

Die buffelbul se horings kom in die middel van sy voorkop bymekaar. Soos wat die buffelbul ouer word, vorm daar knobbels (in Engels is die naam daarvoor ’n boss) op die horings wat soos ’n harde skild oor die voorkop pas. 6 Eers wanneer ’n buffelbul sewe jaar oud is, is hierdie skild behoorlik ontwikkel. Wanneer twee buffels baklei, beskerm die skild die dier se brein. 2

’n Mens kan ook op grond van die horings sien hoe oud die buffel is en of dit ’n bul (’n manlike buffel) of ’n koei (’n vroulike buffel) is. ’n Volgroeide buffelbul se horings kan van die een punt na die ander wyer as 2 m wees! Buffelkoeie het ook horings, maar die koeie se horings is smaller en korter. Buffelkoeie is kleiner as die bulle – hulle weeg omtrent 100 kg minder as buffelbulle. 6

Volwasse buffels se pels is swart. Kalfies (die jong buffeltjies) is ligbruin. 2

Soorte Afrika-buffels

Die buffel is inheems aan Afrika en wetenskaplikes het vier duidelike subspesies geklassifiseer. 7 Die klassifikasie is gemaak hoofsaaklik op grond van die diere se kleur, hul grootte en die vorm van die horings. 6

Kaapse buffel (S. c. caffer) Die buffel wat ons hier in Suid-Afrika ken. Dit is die grootste van die vier subspesies. 6
Woudbuffel (S. c. nanus) Ook bekend as die dwergbuffel. Kleinste van die vier subspesies. Kom hoofsaaklik in die reënwoude van Sentraal- en Wes-Afrika voor. 8
Wes-Afrika-buffel (S. c. brachyceros) Rooibruin, donkergrys of swart met liggrys horings wat boontoe krul. Kom voor in Senegal. Guinee, Mali, Ivoorkus, Ghana en Benin. 9
Sentraal-Afrika-buffel (S. c. aequinoctialis) Ook bekend as die Nylbuffel. Kleiner en ligter as die Kaapse buffel. Kom voor in Sentraal-Afrika: Sentraal-Afrikaanse Republiek, Tsjaad, Suid-Soedan en Ethiopië. 9
Die Kaapse buffel.

Verspreiding en habitat

Soos wat die naam aandui, is Afrika-buffels inheems aan ons vasteland. Dit beteken die diere kom natuurlik hier voor. Lank voor mense ingemeng het in die verspreiding van diere en plante, was Afrika buffels se natuurlike woonplek.

Buffels kan in enige streek voorkom waar daar permanent water en gras is, daarom tref ons hulle hoofsaaklik aan in savanna (grasvlaktes), bosveld en bos. 9 Die woudbuffel kom selfs in reënwoude in Midde-Afrika voor. 8

Buffels het daagliks water nodig om die gras wat hulle eet, te verteer. Daarom sien ’n mens dikwels troppe buffels naby rivierlope of watergate. Hoe minder water ’n bepaalde gebied het, hoe kleiner is die trop buffels wat daar woon. Streke waar daar min of geen water is nie, kan nie in buffels se daaglikse behoeftes aan water en kos voorsien nie. Daarom sien ons nie buffels in woestyne soos die Sahara of die Namib nie. 9

Gewoontes

Buffels is, net soos beeste, herkouers en tropdiere. Dit beteken hulle wei en beweeg in ’n groep. ’n Trop bestaan gewoonlik uit tussen 50 en 500 diere, maar as dit goed gereën het en daar is baie gras, kan ’n mens meer as ’n duisend buffels op ’n slag sien. Herbivore bly gewoonlik in groepe ter wille van veiligheid, want in ’n groep is daar meer beskerming teen roofdiere soos leeus, luiperds, wildehonde en hiënas. As ’n mens ’n klein groepie buffels of ’n enkellopende dier sien, is dit gewoonlik ouer bulle wat uit die trop gestoot is nadat hulle ’n bakleiery verloor het. 6

As ’n mens foto’s van buffels soek, kom ’n mens dikwels af op een waar die buffel heeltemal met modder bekoek is. Op van hulle se rûe ry daar selfs ’n renostervoëltjie saam. Die modder en die voëltjie is daar vir dieselfde rede: Dis om van bosluise ontslae te raak. 2 Bosluise is nie net lastige parasiete nie, hulle is ook draers van siektes soos bosluiskoors.

Koeie is nege maande lank dragtig, en die kalfies word regdeur die jaar gebore. Hulle kruip nie, soos leeu- en luiperdwelpies, weg wanneer hulle klein is nie, hulle is deel van die trop sodra hulle kan staan. Omdat hulle nie so vinnig soos die res van die trop kan wegvlug van gevaar nie, is hulle kwesbaarder vir ’n aanval van roofdiere. Dit is hoekom die kalfies in die middel van die trop bly, en die ouer, sterker diere aan die buitekant wei. 10 Buffels is egter bekend daarvoor dat hulle nie vir roofdiere skrik nie. As die trop ’n kalfie of ’n ander lid van die trop hoor skree, gaan staan hulle om die kleintjies, en hulle sal selfs ’n stormloop veroorsaak. Die trop sal maklik ’n hele trop leeus aanval en selfs doodmaak as die leeus een van hulle bedreig. 2

Buffels is bekend vir hul knorrige geaardheid. Gewonde buffels word beskou as die gevaarlikste dier van die Groot Vyf, omdat hulle maklik die jagter sal aanval. 11

Bewaringstatus

Daar is ’n organisasie wat spesies oor die wêreld heen monitor om te bepaal of die spesie se voortbestaan bedreig word. Dié organisasie se naam is die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (in Engels: International Union for the Conservation of Nature). Hierdie unie het ’n lys waarop hulle aandui hoe naby of ver die bepaalde spesie van uitsterf is, en volgens hierdie organisasie is buffels dwarsoor Afrika “amper bedreig” (in Engels: near threatened). 7

Dit klink vreemd, want ons het netnou gesê daar is troppe van duisende buffels, maar die diere se bewaringstatus word bepaal op grond van die groei of daling in getalle. Oor die afgelope 30 jaar het die diere se getalle só afgeneem dat baie wetenskaplikes glo hulle is al eintlik bedreig. 7

Soos baie ander diere, is die buffel se grootste uitdaging die mens. Plase en ander menslike ontwikkeling veroorsaak dat hul natuurlike weiplekke opgebreek en al hoe minder word. Omdat buffels so groot en aggressief is, breek hulle ook maklik deur grensdrade, en dan kom hulle in konflik met mense. Buffels is natuurlik ook die teiken van stropers, wat hulle jag en doodmaak vir hul vleis. 7

Afgesien daarvan is buffels vatbaar vir veesiektes soos bek-en-klouseer en beestuberkulose. In die 1890’s het ’n verwoestende veesiekte wat met Europese beeste na Afrika gebring is, die runderpes, amper 90% van die buffelbevolking in Afrika uitgewis. 6

Sommige wetenskaplikes meen een spesifieke buffelspesie het al uitgesterf: Die langhoring-Afrika-buffel het blykbaar tot 4 000 jaar gelede nog in Afrika voorgekom, maar die mens en klimaatsverandering het veroorsaak dat hierdie diere uitgesterf het. 12

Woordbank

aantref Kry.
aggressief Die eienskap dat die ding maklik baklei.
bekoek Die eienskap dat iets hompe van iets anders op het.
bekruip Stadig nader kom sodat die vyand nie daarvan weet nie en makliker aangeval kan word.
dagha In Afrikaans eintlik bouklei; die woord kom uit Zoeloe waar dit beteken “modder”.
daling ’n Afname; iets wat minder word; iets wat ondertoe gaan.
DNS Die afkorting vir deoksiribonukleïensuur, die stof in elke lewende organisme waarin die unieke eienskappe van die spesie opgeneem is.
draers ’n Organisme wat ’n siekte aan ander organismes kan oordra, sonder om self die siekte te kry.
dragtig Die eienskap van ’n vroulike dier dat sy kleintjies dra; die woord vir mense is “swanger”.
enkellopende Die eienskap om alleen (enkel) te wees.
genus ’n Wetenskaplike klassifikasie laer as familie en hoër as spesie.
herbivore Plantvretende dier (ʼn vleisvretende dier word ʼn karnivoor genoem).
herkouers Grasvretende dier met verskeie pense wat die gras ’n paar keer moet kou om dit behoorlik te verteer.
in staat stel Moontlik maak.
inheems Die eienskap dat die dier of plant natuurlik in ’n bepaalde gebied voorkom.
klimaatsverandering Verandering in die klimaat in streke as gevolg van ’n geleidelike styging in die temperatuur van die aarde se atmosfeer.
knobbels ’n Harde knop.
knorrige Kwaai; aggressief; bakleierig.
kwesbaarder Die eienskap dat dit maklik seergemaak kan word.
mafia ’n Italiaanse woord wat min of meer beteken “bende”.
monitor Nagaan, veral met behulp van statistiek.
omsingel ’n Kring om ’n vyand maak, gewoonlik om hulle uit alle kante te kan aanval sodat hulle nie kan vlug nie.
parasiete ’n Organisme wat nie sy eie kos soek en inneem nie, maar op ’n ander organisme teer deur byvoorbeeld die gasheer se bloed uit te suig en so voedingstowwe te kry.
pels ’n Dier se vel met hare.
permanent Altyd; die eienskap dat dit nie weggaan nie.
roofdiere Diere soos leeus, luiperds en wolwe wat ander diere eet; karnivoor.
skild Die deel van ’n soldaat se pantser; ’n harde, ondeurdringbare plaat wat ’n soldaat in sy hand gehou het en waarmee hy die pyle en swaarde van sy vyand kon afweer.
soog Melk drink aan ’n ma.
stormloop ’n Onbeheerste gehardloop in ’n rigting.
stropers Diewe wat wilde diere vang.
troppe ’n Groep diere, dikwels ouers en kleintjies, wat saam in ’n bepaalde gebied hou ter wille van oorlewing.
tropdiere ’n Dier wat in ’n trop voorkom.
verwarring Toestand wat ontstaan omdat ’n mens nie seker is wat aangaan nie.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Weet jy hoe ’n buffel klink?

Kyk hoe maklik is dit om ʼn buffel te teken!

Gepubliseer op: 3 Augustus 2023 | Bygewerk op 30 November 2023