Vinnige feite

  • Dié dier se Afrikaanse naam is nogal eienaardig, want hy is nie ’n perd nie en ook nie lui nie. As ’n mens egter na die woord se etimologie kyk, verstaan ’n mens waar die naam vandaan kom. Ons kry ons woord luiperd uit Nederlands (luipaard) wat dit via Oudfrans (leupart) uit Latyn (leopardus) gekry het. Die Latynse woord is ’n samestelling van die woord leo (leeu) en pardus (panter). Die Romeine en Grieke het in Antieke tye geglo ’n luiperd is ’n kruising tussen ’n leeu en ’n panter. 8
  • Die luiperd is een van die Groot Vyf – die ander vier is die Afrika-olifant, die buffel, die renoster en die leeu. 9
  • Luiperds is die kleinste van die groot katte. Die tier is die grootste, dan ’n leeu, dan ’n jaguar, dan ’n jagluiperd en dan ’n luiperd. 10
  • Luiperds is vinnig en rats. Hulle kan 58 km/h hardloop (jagluiperds is die vinnigste landsoogdiere en kan 120 km/h hardloop). Luiperds kan ook 6 meter ver in ’n enkele sprong spring, en hulle kan 3 meter in die lug opspring. 10
  • Luiperds het hul eie taal. Hulle brul nie soos leeus nie, hulle maak ’n soort growwe blafgeluid om met ander luiperds te kommunikeer. Hierdie geluid kan tot amper drie kilometer ver gehoor word. Soos ander katte, spin (in Engels: “purr”) hulle as hulle gelukkig is, en grom as hulle kwaad is. 10
  • Daar is ’n prentjie van ’n luiperd op Suid-Afrika se R200-noot, en Suid-Afrika het ook ’n silwermunt van 1 fyn ons silwer gemaak met ’n luiperd daarop.
  • In die Disney-film The Jungle Book is Mowgli se mentor, Bagheera, ’n swart luiperd.
Foto: iStock

Die luiperd is ’n mediumgrootte roofdier, met ’n soepel lyf, sterk bene en lang stert wat hy gebruik om sy balans te hou. Dié besonderse dier se kenmerkende eienskap is natuurlik sy kolle. 1

Die luiperd is ’n lid van die katagtiges (in Latyn: Felidae), en behoort aan dieselfde genus (Panthera) as die leeu, die tier en die jaguar. 2

‘n Jaguar.

Die jaguar het ook kolle, maar as ’n mens mooi kyk, sien ‘n mens dat die kolle verskil. Albei diere se kolle vorm ’n roset. Dit is ’n sirkelvorm met kartelrandjies wat so genoem word omdat dit na ’n roos lyk. (Ons noem ook daardie linte wat by tentoonstellings of wedrenne vir wenners gegee word rosette.) Jaguars se kolle het ’n kolletjie in die middel van die roset. ’n Luiperd het nie ander merke in die roset nie. 3

Sri Lankaanse luiperd.

Beskrywing

Gewone naam luiperd
Wetenskaplike naam Panthera pardus
Familie katagtiges
Klas soogdier
Dieet karnivoor
Grootte (sonder die stert) 100-190 cm
Gewig 30-90 kg 1

Luiperds se kleur hang van hul omgewing af. As die diere op grasvlaktes voorkom, is hulle gewoonlik ligbruin met donkerder kolle, terwyl luiperds wat in bosse en woude voorkom, dikwels baie donker is. 1

Die luiperds wat ons hier in Suid-Afrika ken, is gewoonlik so ’n gelerige bruin met swart kolle. Die donker luiperds kom meestal in Asië se woude voor, en ons verwys dikwels in Afrikaans na hulle as “panters” (in Engels: panthers).

Soorte luiperds

Daar is subspesies luiperds, wat ons onderskei op grond van hul voorkoms en waar hulle in die wêreld voorkom. Ons luiperds is Afrika-luiperds (Panthera pardus pardus). 4

Die luiperds wat in ander dele van die wêreld voorkom, lyk anders en het ander name:

Afrika-luiperd (P. p. pardus) Inheems aan Afrika suid van die Sahara.
Amur-luiperd  (P. p. orientalis) Kom voor in die verre oostelike dele van Rusland en noordelike China.
Arabiese luiperd (P. p. nimr) Word aangetref op die Arabiese Skiereiland.
Indiese luiperd (P. p. fusca) Kom voor op die Indiese subkontinent, in Mianmar en Tibet.
Indo-Chinese luiperd (P. p. delacouri) Inheems aan Suidoos-Asië en suidelike dele van China.
Javaanse luiperd (P. p. melas) Kom net voor op die eiland Java in Indonesië.
Persiese luiperd (P. p. saxicolor) Kom voor in die ooste van Turkye, die suide van Rusland, Iran en die Hindu Kush.
Sri Lankaanse luiperd (P. p. kotiya) Inheems aan Sri Lanka. 5

Jy het dalk al gehoor dat ons in Afrikaans verwys na ’n luiperd én ’n jagluiperd (in Engels: cheetah), wat ’n mens laat dink dat ons twee verskillende soorte luiperds in Suid-Afrika het. Hierdie name is misleidend. Ons voorouers het soms aan diere op grond van hul voorkoms name gegee eerder as op grond van hul wetenskaplike eienskappe. Die luiperd en jagluiperd het albei kolle, daarom het die oumense waarskynlik gedink dis twee soorte van dieselfde dier, maar dis nie die geval nie.

‘n Jagluiperd.

Die diere is wel albei katagtiges, maar jagluiperds is nie lede van die Panthera-genus nie. Die jagluiperd het ’n genus en spesie van sy eie: Acinonyx jubatus. As ’n mens die diere wetenskaplik ondersoek, sien ’n mens heelwat verskille raak, maar die maklikste manier om te weet watter een jy sien as jy hulle in die veld teëkom, is om na die gesig te kyk. Die jagluiperd het swart strepies aan weerskante van sy neus. As ’n mens vinnig kyk, lyk dit asof daar swart trane teen die jagluiperd se neus afgeloop het. Die luiperd het nie sulke strepies op sy gesig nie. 6

Die Afrika-luiperd.

Verspreiding en habitat

In 1750 het luiperds oor feitlik die hele Afrika suid van die Sahara voorgekom, en daar was groot luiperdbevolkings in Arabië, Klein-Asië, Sentraal-Asië, Indië, China en Mantsjoerye. Teen 2019 het luiperds egter ongeveer 75% van hul natuurlike habitat verloor.

Luiperds kom deesdae voor in bewaringsgebiede soos die Krugerwildtuin, die Kgalagadi-oorgrenspark, Hwange en die Serengeti, en in bergagtige streke soos die Himalajas en die Atlas-gebergtes in Noord-Afrika, waar die mens se invloed nog beperk is.

Daar is in ons land wel nog luiperds wat vry rondbeweeg in landelike gebiede, maar hierdie luiperds word dikwels doodgemaak omdat hulle vee en honde vang. 7

Gewoontes

Luiperds is jagters. Hulle sal hul prooi in die lang gras bekruip en bespring, maar hul manier om hul prooi te oorrompel, is eintlik om die prooi onverhoeds te betrap. Die luiperd se kolle is veral baie goeie kamoeflering in die skadu van bome. Luiperds sal dikwels op ’n boomtak vir bokke, vlakvarke, bobbejane en ander prooi lê en wag, en dan die prooi uit die boom bespring. Luiperds sleep dikwels die prooi terug in die boom in om te keer dat leeus en aasdiere soos hiënas en jakkalse die prooi afneem. 1

Luiperds is ook sterk swemmers en baie tuis in die water. Hulle sal maklik in riviere en damme gaan soek na vis, krappe en ander diere wat in en rondom die water woon. 1

Die luiperd is ’n alleenloper. Dit beteken hy beweeg nie, soos wildehonde en leeus, in ’n trop nie.

Luiperds is ook, soos die meeste katte, nagdiere. Dis een van die redes waarom dit so spesiaal is om ’n luiperd te sien. Hulle jag in die nag en slaap meestal in die dag, en dan ook nog in ’n boom waar hul pels hulle tussen die blare kamoefleer. 7

Die wyfie kan enige tyd van die jaar dragtig raak. Sy het gewoonlik twee welpies in ’n werpsel. As hulle klein is, is hulle grys, en sy steek hulle in gate in die grond weg, totdat hulle oud genoeg is om uit te kom sodat hulle kan leer jag. Die welpies bly gewoonlik twee jaar lank by hul ma, daarna beweeg elkeen in sy eie rigting en is die luiperdwyfie weer alleen. 2

Bewaringstatus

Daar is ’n organisasie wat spesies oor die wêreld heen monitor om te bepaal of die spesie se voortbestaan bedreig word. Dié organisasie se naam is die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (in Engels: International Union for the Conservation of Nature). Hierdie unie het ’n “rooilys” waarop hulle aandui hoe naby of ver die bepaalde spesie van uitsterf is, en volgens hierdie organisasie is luiperds wêreldwyd “kwesbaar” (in Engels: vulnerable). 7

Dieselfde organisasie het egter aangedui dat die Sri Lankaanse en Persiese luiperd se getalle só afgeneem het dat hulle bedreig is. Die Amur-luiperd, die Arabiese luiperd en die Javaanse luiperd is kritiek bedreig. Dit beteken hulle is baie naby aan uitsterf. 7

‘n Persiese luiperd.

Daar is selfs luiperds wat al uitgesterf het. Een só ’n luiperd was die Zanzibar-luiperd wat teen die middel van die 1990’s as uitgestorwe verklaar is. ’n Ander is die Anatoliese luiperd wat in Turkye, Iran, Irak, Pakistan en omstreke voorgekom het. Die laaste van hierdie diere is in 1974 doodgemaak. 1

Woordbank

afneem Vat.
alleenloper ’n Dier (of mens) wat nie saam met ander leef nie; ’n dier wat nie in troppe leef en jag nie.
dragtig Die eienskap van ’n vroulike dier dat sy kleintjies dra; die woord vir mense is “swanger”.
etimologie Die geskiedenis van ’n woord.
kamoeflering Die eienskappe van ’n dier of ’n voorwerp wat dit vir die teenstander wegsteek; by diere dikwels kolle, strepe of kleur wat die dier met die omgewing laat saamsmelt.
mentor ’n Ouer, meer ervare persoon wat aan ’n jongeling raad gee.
misleidend Die eienskap dat dit ’n mens mislei of verwar.
nagdiere ’n Dier wat in die nag jag en rondbeweeg en in die dag slaap.
onverhoeds te betrap Verras; betrap voor die ander party tyd het om te reageer.
oorrompel Met mag oorweldig en oorwin.
pels Die vel met sagte hare van party (roof)diere.
prooi Die ding wat gejag word, veral deur ’n roofdier.
rats Die vermoë om vinnig te beweeg, veral van een plek na ’n ander.
roset ’n Sirkelvormige voorwerp met ’n kartelrand wat dit na ’n roos laat lyk.
soepel Die eienskap dat ’n mens of dier maklik en elegant beweeg.
welpies ’n Luiperdbaba.
werpsel Babas van soogdiere wat op een slag gebore word.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Luiperds en hul gedrag

Hoor hoe ’n luiperd ’n ander luiperd roep

Die verskillende subspesies en elkeen se status op die rooilys

Die verskil tussen ’n luiperd en ’n jagluiperd

Teken só ʼn luiperd met die jaartal “2023”

Teken ’n jagluiperd met “5 X”

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 19 Julie 2023 | Bygewerk op 24 November 2023