Vinnige feite

President Paul Kruger.
  • Paul Kruger, wat later President sou word, was as jong seun deel van Potgieter se trek.
  • Matabele is die naam wat deur die Sotho vir die Ndebele gebruik is.
  • Die Voortrekkers se gewere is voorlaaiers genoem, en soms het hulle ook gepraat van “Sannas”.
  • Potgieter het die dorp Potchefstroom gestig.

Andries Hendrik Potgieter (meestal slegs genoem Hendrik Potgieter) is op 19 Desember 1792 in Graaff-Reinet gebore. Potgieter se ouers was Petronella Margaretha Kruger en Hermanus Potgieter. 1 In sy leeftyd was hy vier keer getroud en het sewentien kinders gehad, van wie twee by geboorte dood is. 2

Hy sterf uiteindelik op 16 Desember 1852 in Schoemansdal by die Soutpansberg. 2

Potgieter was bekend as een van die belangrikste Voortrekkerleiers, en sy groep Voortrekkers was ook een van die grootste groepe wat na die binneland getrek het.

Potgieter was ʼn lang man van 1,8 meter. Hy was gespierd en stewig gebou. Sy baard en hare was donkerbruin met ʼn rooi skynsel. Hy het blykbaar gereeld ʼn hoed met ʼn breë rand gedra en wanneer dit ʼn formele funksie was, het hy ʼn hoëbolkeil gedra. Hierdie beskrywing is gebaseer op oorvertellings van mense wat hom geken het, asook van ʼn skets wat in ongeveer 1837 gemaak is. 2

Potgieter was skerp van verstand, en hy wou altyd ten alle koste selfstandig en onafhanklik optree. Hy was ook ʼn goeie perderuiter. 3

Die Voortrekkers se vlag.

Potgieter trek uit die Kaapkolonie

Potgieter het in die vierde en vyfde Grensoorloë geveg. Hy was ʼn ryk skaapboer en ʼn persoon met baie invloed in die Tarka-wyk naby die noordoosgrens van die Kaapkolonie. Sy plaas se naam was Kommandodrif. Sy pa en sy oupa was in die laat 18de eeu grensboerpioniers. Die meeste Voortrekkers het uit die Tarka-wyk, waarvandaan Potgieter ook getrek het, gekom. 4

Potgieter het aan die einde van 1835 uit die Kaapkolonie getrek. Saam met hom was ongeveer 200 mense uit die Tarka-omgewing. Sy pa, wat toe 70 was, was ook deel van die geselskap. Hy sou uiteindelik 106 jaar oud word en langer as sy seun leef.

Die begraafplaas in Kerkstraat, Pretoria.

Toe sy Trek in Februarie 1836 by die Oranjerivier kom, was die rivier baie vol nadat dit baie gereën het. Die Trekkers is naby die huidige Bethulie met vlotte oor die rivier. Noord van die Oranjerivier het ʼn paar gesinne van Colesberg by Potgieter se Trek aangesluit. Onder hulle was Sarel Arnoldus Cilliers en ʼn paar gesinne met die van Kruger. Een van hierdie gesinne was dié van Casper Kruger, en sy 11-jarge seun, Paul – wat saam getrek het. Paul Kruger sou later die president van Transvaal word. 3

Andries Hendrik Potgieter en sy tweede vrou, Susanna Maria le Grange.

Die Potgieter-trek het vroeg in 1836 begin om ʼn Voortrekkerbestuur saam te stel. Tydens ʼn vergadering wat noord van die Oranjerivier gehou is, is Potgieter deur al die mans wat teenwoordig was, as kommandant verkies. Aan die einde van 1836 het Potgieter se Trek saam met die Maritz-trek by Thaba ’Nchu besluit oor ʼn bestuur vir die Voortrekkers. In daardie tyd het die Voortrekkers Thaba ’Nchu “Blesberg” genoem. 4

Gerhardus Marthinus Maritz.

Potgieter se Trek het by die Vetrivier aangekom. Hier het Potgieter die grond tussen die Vet- en die Vaalrivier by Makwana, die kaptein van ʼn Barolongstam, geruil. Daarvoor sou Potgieter vir die stam 49 beeste gee, en hy het ook vir hulle gesê dat hy hulle teen Silkaats (Mzilikazi), die koning van die sterk Matabele-stam (Ndebele-stam), sou beskerm. Silkaats het in daardie tyd twee woonplekke gehad – Kapain by die Marico-rivier en Mosega, net so ʼn entjie suid van Kapain. 3

Matebele-krygers tree voor Mzilikazi aan.

Potgieter-kommissie en Matabele-stryd

Potgieter het saam met ʼn kommissie van elf mense na die Soutpansberg vertrek om te kyk waar daar moontlikhede vir die Voortrekkers was om te kon boer. Hulle het in Mei 1836 vertrek en ook by Trichardt se Trek aangegaan. Hulle reis het drie maande lank geduur. 4

Terwyl hy weg was, het sy Trek se mense hulle in ʼn groot gebied gevestig, en van hulle het selfs oor die Vaalrivier gegaan. Hierdie optrede het Silkaats bekommer, en hy het besluit om die Voortrekkers aan te val.

Die Matabele het op Sondag 21 Augustus 1836 ʼn groep jagters aangeval wat uit die Kaapkolonie gekom het. Hulle het almal vermoor, en net een persoon, Stephanus Erasmus, kon vlug. Hy het die Liebenberg-familie, wat ook anderkant die Vaalrivier was, gaan waarsku. Ongelukkig wou hulle nie die waarskuwing glo nie. Erasmus het verder gejaag en die waens van Hermanus Steyn en Johannes Botha by Kopjeskraal gaan waarsku. Hier het hulle vinnig hul waens in ʼn laer getrek.

Die Matebele-koning, Mzilikazi (Silkaats).

Die Matabele het die Liebenberg-familie op 23 Augustus aangeval en meer as 40 mense doodgemaak. Hulle het ook die groepe by Kopjeskraal aangeval, maar omdat hulle voorbereid was en ʼn laer getrek het, kon hulle die aanvallers verdryf.

Potgieter het einde Augustus teruggekeer en toe uitgevind wat met sy mense gebeur het. Hy het vir die Trekkers gesê om weer in ʼn suidelike rigting terug te beweeg. Hulle het in Oktober ʼn groot laer getrek tussen die Renoster- en Valsrivier naby die dorp wat vandag Heilbron genoem word. Hierdie plek waar die laer was, is later Vegkop genoem. Hoewel Sarel Cilliers ook betrokke was, stem navorsers saam dat Potgieter die leier was tydens die geveg wat sou volg. 4

Sarel Arnoldus Cilliers.

Die Slag van Vegkop

Middel Oktober het die Matabele die laer aangeval. Vegkop was een van die belangrikste gevegte van die Groot Trek omdat 34 mans daarin kon slaag om ongeveer 3 000 Matabele weg te dryf. Elke Voortrekker het twee of meer voorlaaiers (‘n soort geweer) gehad. Terwyl die mans met die een geskiet het, het sy vrou of ʼn kind die ander een herlaai. Een van die kinders wat só gehelp het om die gewere te laai, was Paul Kruger.

Die Slag van Vegkop.

Toe die Matabele die aanval staak, was twee Voortrekkers dood en 14 gewond. Daar het 430 lyke rondom die laer gelê, en die Voortrekkers het 1 137 assegaaie opgetel.

Die Matabele het ongeveer 5 000 beeste, 50 000 skape en 100 perde van die Voortrekkers saam met hulle gevat. Potgieter was ʼn ryk man, en 5 000 skape, 100 trekosse en 300 van sy beeste was tussen die gesteelde vee. 3

Die baie vee wat deur die Matabele weggejaag is, was ʼn groot verlies. Die Voortrekkers het min kos gehad en hulle moes ook wag vir hulp omdat hulle sonder trekosse nie hulle waens kon beweeg nie. 3 Potgieter se groep mense het uiteindelik hulp gekry van Moroka, hoofman van die Rolong. Hy het vir hulle trekosse geleen waarmee hulle die ongeveer 50 waens na Thaba ’Nchu kon trek. 4

Die Vegkop-monument.

Tweede groot geveg teen die Matabele

Gerrit Maritz se Trek het intussen ook uit die Kaapkolonie uit aangekom. Hy en Potgieter het mekaar by Thaba ’Nchu ontmoet. Daar het hulle ʼn volksvergadering gehou waar hulle ʼn burgerraad van sewe regters gekies het. Maritz is as president-regter gekies en Potgieter was een van die ander ses regters. Potgieter is ook as kommandant-generaal van die hele Trek gekies.

Op 2 Januarie 1837 het Potgieter met sy kommando vertrek op pad na die Matabele, en op 3 Januarie het Maritz hom gevolg. Hulle het op 17 Januarie by Mosega aangekom en die Matabele aangeval. Daar is meer as 500 Matabele doodgemaak, en die Voortrekkers het 7 000 beeste teruggekry. Potgieter en Maritz het nie saamgestem oor hoe die beeste verdeel moet word nie. Hulle persoonlikhede was só verskillend dat hulle met mekaar gebots het. 3

Matabele finaal verslaan

Piet Retief het in April by die groep Voortrekkers aangesluit en is as leier gekies. Hy wou van die begin af na Natal toe trek. Potgieter het hiervan verskil. Hy wou so ver as moontlik van die Engelse weg trek en hy het geweet dat daar reeds Engelse handelaars in Port Natal was. Hy het dus verwag dat Brittanje hul gesag na Natal sal wil uitbrei. Potgieter en Maritz wou ook eers die mag van Silkaats en sy Matabele finaal vernietig. 3

Piet Uys het intussen ook by die groep Trekkers aangesluit, en in Oktober 1837 het Potgieter en Uys vertrek om Silkaats finaal te verslaan. Die geveg het op 4 November 1837 begin en vir nege dae lank geduur. Die Matabele is verslaan, en hulle het uit die gebied gevlug. 4

‘n Britse kamp by Port Natal.

Die Slag van Italeni

Ná die moord op Retief deur Dingaan het die Voortrekkers in Natal hulp by Piet Uys en Andries Potgieter gevra. Albei het met hulle Trekkers na Natal gegaan. Hulle wou nie as een groep onder een leier veg nie en het in twee groepe na Dingaan se stat vertrek. Op 6 April 1838 het hulle die geveg by Italeni verloor toe Piet Uys se kommando in ʼn hinderlaag gelei is en moes vlug. 3

Piet Uys.

Potgieter vestig hom in Noord-Transvaal

Daar was van die Voortrekkers wat gesê het dat Potgieter die skuld moet kry vir die neerlaag by Italeni. Dit het hom baie ontstel, en hy het Natal verlaat en Transvaal toe getrek. Hy het daarna die dorp Potchefstroom gestig wat vandag in die Noordwes-provinsie is. 2

Nadat Andries Pretorius vir Dingaan verslaan het, kon die Voortrekkers ʼn eie Voortrekkerstaat in Natal stig en het die Republiek Natalia tot stand gekom. Daar is ook ʼn Volksraad saamgestel. Dit was vir die Volksraad belangrik om die Voortrekkers in Natal en die Voortrekkers onder Potgieter by Potchefstroom as ʼn eenheid saam te voeg. Pretorius is toe gestuur om met Potgieter te gaan gesels. Dit het daartoe gelei dat die Voortrekkers op 2 Februarie 1841 in een republiek saamgevoeg is. Potgieter was die militêre bevelvoerder van die Voortrekkergebied wat wes van die Drakensberg was. 4

Die vlag van die Republiek Natalia.

Omdat Potgieter steeds bekommerd was oor Britse oorheersing, het hy met ʼn groep Voortrekkers van Potchefstroom na Ohrigstad getrek. Daarna het hy nog verder noord getrek en in 1848 by Schoemansdal gaan bly. Dit was in die gebied wes van waar die dorp Louis Trichardt vandag is. Hoewel daar drie verskillende groepe Voortrekkers was, elk met ʼn eie leier, was Potgieter vir sy mense die leier van al die Voortrekkers in Transvaal. 4

Op 16 Desember 1852 is Potgieter by Schoemansdal oorlede. Dit wat hy vir die Voortrekkers en oor die algemeen ook vir die nageslag en die land beteken het, sal nie sommer vergeet word nie.

Hoe word Potgieter onthou en vereer?

  • Potgieter is een van vyf Voortrekkerleiers wat vereer word in ʼn tuin wat in 2021 by die Voortrekkermonument begin is en waar die belangrikste trekroetes uitgebeeld word.
  • Potgieter is een van die hoekfigure by die Voortrekkermonument.
  • Daar is strate met die naam Hendrik Potgieter in onder andere Centurion, Alberton, Nelspruit en Klerksdorp.
‘n Huis in Hendrik Potgieterstraat, Klerksdorp.

Woordbank

pioniers Een van die eerste mense wat na ʼn nuwe land of gebied trek en daar begin woon.
assegaaie ʼn Soort spies wat deur die Matabele as wapens gebruik is.
hinderlaag ʼn Wegkruipplek waarvandaan ʼn mens sy vyand onverwags aanval.
neerlaag Om deur iemand oorwin of verslaan te word (ook nederlaag).
stat tradisionele Afrikadorp wat bestaan uit hutte, dikwels volgens ’n bepaalde patroon gerangskik.
laer ‘n Aantal waens wat teen mekaar getrek is in die veld om mense en diere teen ’n vyand te beskerm.

Lees dié artikels om meer te leer 

Gepubliseer op: 9 Junie 2022 | Bygewerk op 25 Oktober 2023