Vinnige feite

  • Die naam “San” kom van die Khoi-Khoi se woord saan wat beteken “mense wat veldkos bymekaar maak” of ook “mense sonder vee”. 24
  • Daar is vier groot etniese groepe onder swart Suid-Afrikaners: Nguni, Sotho, Tsonga en Venda. Die Nguni is die grootste groep wat ongeveer twee derdes van die land se swart bevolking is. 6
  • Die Nguni bestaan uit die noordelike en sentrale Nguni (dié wat Zoeloe praat), die suidelike Nguni (dié wat Xhosa praat), die Swazi asook die Ndebele wat hoofsaaklik in Limpopo en Mpumalanga woon. 6
  • Teen 1500 het die Sotho-groepe na die suide en weste versprei en drie afsonderlike groepe gevorm: die Suid-Sotho, Wes-Sotho (Tswana) en Noord-Sotho (Pedi). Daar is groot ooreenkomste tussen die drie groepe in taal, geloof en sosiale strukture. 13
  • Die Swazi maak verskeie musiekinstrumente soos die impalampala (gemaak van die horing van ’n koedoebul) en die makhweyane (’n kalbas wat aan ’n houtboog vasgemaak is). 18
  • Vir die Venda word die Fundudzi-meer in Limpopo as ’n heilige plek beskou. 25
  • Die hoofstad van die Venda-tuisland was Thohoyandou, dit beteken “kop van die olifant” en was ook die naam van ’n vroeëre leier van die Venda. 22
  • Modjadji is ook bekend as die “reënkoningin” en sy behoort aan die Balobedu-stam wat bande met die Noord-Sotho en die Vendas het. Die eerste Modjadji het vanaf 1800 tot 1854 geregeer. Vroeër het Modjadji in afsondering geleef en niemand het haar ooit gesien nie. Sy is elke keer opgevolg deur een van haar dogters. Daar word geglo dat Modjadji reën kan laat val. 26

Sommige lande het net een eenvormige groep mense wat in daardie land woon, sommige lande het sommer baie. Suid-Afrika is ook ’n land wat deur baie verskillende inheemse groepe mense bewoon word – party verskil baie van mekaar en party is weer amper dieselfde.

Die inligting oor die verskillende groepe vertel hoe dit jare gelede onder tradisionele omstandighede was. Vandag word hierdie gebruike deur baie mense nie meer nagevolg nie en is daar ook baie minder verskille tussen die mense van die verskillende inheemse groepe.

Reënboognasie

Hierdie woord is die eerste keer deur biskop Desmond Tutu gebruik en het ’n bekende beskrywing vir Suid-Afrika se inwoners geword. 1

Desmond Tutu

Volgens argeoloë het daar reeds drie miljoen jaar gelede mense in Suid-Afrika gewoon.

Die oudste groep in Suid-Afrika is die San. Hulle was jagters en versamelaars en hul tradisies en gebruike is reeds 10 000 jaar oud. Daar is vandag baie min San-mense in Suid-Afrika oor.

Die Khoi-Khoi is die tweede oudste inwoners van Suid-Afrika.

Die swart groepe het vanaf 1600 uit Sentraal-Afrika (Malawi, Tanzanië, Uganda en Kenia) na suidelike Afrika begin beweeg. Ongeveer teen die jaar 1660 was die Sotho, die Tsonga en die Nguni reeds in Suid-Afrika se binneland. 1

Verskillende tale

Natuurlik sal verskillende groepe mense ook verskillende tale praat.

Zoeloe is die taal wat deur die meeste mense in Suid-Afrika gepraat word. Daarna volg Xhosa, Afrikaans en Engels. Die 11 amptelike tale in Suid-Afrika het ook verskillende dialekte – ’n vorm van die taal wat deur ’n groep van daardie taal se mense gebruik word.

Sommige van die amptelike tale in Suid-Afrika word saamgegroepeer omdat daar baie ooreenkomste tussen die tale is. Nguni is die versamelnaam vir Zoeloe, Xhosa en Swazi. Sotho is weer die versamelnaam vir Pedi, Suid-Sotho en Tswana. 2

Elkeen van hierdie taalgroepe in Suid-Afrika word ook in van ons buurlande gepraat. Byna die hele bevolking in Swaziland praat Swazi, in Lesotho praat die inwoners Suid-Sotho en in Botswana praat heelwat inwoners Tswana. In Zimbabwe is daar weer baie mense wat Venda praat terwyl ’n paar miljoen mense in Mosambiek Tsonga praat. 2

Kyk hoe interessant is dit om te sien hoe ons land se naam in die verskillende inheemse tale geskryf word:

Republiek van Suid-Afrika (Afrikaans)

Republic of South Africa (Engels)

IRiphabliki yeSewula Afrika (Ndebele)

Rephaboliki ya Afrika Borwa (Pedi [Noord-Sotho])

Rephaboliki ya Afrika Borwa (Sotho [Suid-Sotho])

IRiphabhulikhi yeNingizimu Afrika (Swazi)

Riphabliki ra Afrika Dzonga (Tsonga)

Rephaboliki ya Aforika Borwa (Tswana [Wes-Sotho])

Riphabuliki ya Afurika Tshipembe (Venda)

IRiphabliki yaseMzantsi Afrika (Xhosa)

IRiphabliki yaseNingizimu Afrika (Zoeloe) 3

Khoi-San

Die San en die Khoi is twee verskillende groepe wat ’n paar dinge met mekaar in gemeen het. Die term Khoi-San is ’n sambreelterm wat die twee groepe onderskei van ander Bantoetaal-sprekers. Ons gaan nou net kyk na ’n paar van die eienskappe wat eie is aan dié twee groepe (wat die twee groepe van mekaar onderskei).

San

Ongeveer 2 300 jaar gelede het die San geleef in die gebied wat vandag Botswana genoem word. Hulle was jagters en versamelaars – dit beteken hulle het kos in die veld versamel, soos eetbare plante. 4

Die San het baie na aan die natuur geleef omdat hulle so afhanklik was van die natuur om in die veld te kon oorleef. Hulle het geweet waar die plante groei wat hulle kon eet, en hulle het ook geweet dat hulle nie te veel van een soort plant moet insamel nie sodat daar genoeg oorbly om later weer van te gebruik. Hulle was kenners van plante wat as medisyne gebruik kon word. Hulle het ook geweet waar om water te kry in die gebied waar hulle gebly en rondgetrek het. 5

Omdat die San van plek tot plek rondgetrek het, het hulle in grotte of sommer in die oop veld gebly, of anders het hulle skuilings gemaak van materiaal wat hulle maklik in die veld kon kry soos gras, dun stokke en rotse.

Hulle is veral baie bekend vir al die rotstekeninge wat hulle op baie plekke in Suid-Afrika gemaak het. Die kwasse wat hulle gebruik het, is van vere of diere se hare en dun riete gemaak.

Hul verf is gemaak van pigment gemeng met dinge soos eiers, die bloed van diere, kleigrond of water. Die kleure wat hulle gewoonlik gebruik het, was bruin, rooi, wit en geel. Die verskillende kleure is verkry deur verskillende natuurlike stowwe met mekaar te meng. Hulle het byvoorbeeld wit verf gemaak van wit klei of voëlmis, en swart van mangaanminerale en houtskool. Hulle het nooit blou en groen gebruik nie. Die bloed van ’n eland is dikwels met die pigmente gemeng. 6

Met stukkies rots en skerpgemaakte stokke het hulle hul tekeninge gemaak. Santekeninge is veral te sien in die Oos-Kaap in bergagtige dele, waar daar kranse en grotte is. 4

Die San se taal het baie klapklanke wat moeilik is om uit te spreek vir mense wat nie daaraan gewoond is om sulke klanke te maak nie.

Khoi-Khoi

Die Khoi-Khoi het ná die San in suidelike Afrika inbeweeg. Hulle was veeboere. Hulle was ook die eerste van die inheemse groepe wat met wit mense in aanraking gekom het nadat die wit mense in die Kaapkolonie aangekom het. 4

Die Khoi-Khoi het vee soos bokke, beeste en skape aangehou en hulle moes heeltyd rondbeweeg om genoeg weiding vir hul vee te vind. Hulle het net vir ’n paar weke op dieselfde plek gebly voor hulle weer verder moes trek. Dit het beteken dat hulle alles wat hulle besit het, saam met hulle moes kon dra op hul trekdiere (beeste) wanneer hulle verder trek.

Khoi-vroue

Hul huise moes dus ook lig genoeg wees om saam te dra en moes maklik gebou en weer afgebreek kon word. Nou wonder jy seker hoe hulle dit kon regkry. Hul huise was uit dun pale gebou wat met rietmatte toegemaak is, dus kon hulle dit afbreek (sonder dat dit stukkend raak) en maklik vervoer.

Hul potte en panne was van hout gemaak en het handvatsels gehad waarmee dit op die diere se rûe vasgebind kon word.

Vee was vir die Khoi-Khoi ’n teken van rykdom. Dit is omdat vee gesorg het vir kos, klere en ook vir vervoer. Die klere was natuurlik saggebreide beesvelle wat hulle om hul lywe gedraai en vasgebind het. Hulle het dikwels diere se vet aan hul lywe gesmeer om te wys hoe ryk hulle is.

Die Khoi-khoi het nie sommer hul eie vee geslag vir kos nie. Vee is die meeste van die tyd net geslag vir belangrike geleenthede soos begrafnisse en troues. Vir vleis het hulle bokke gejag of hulle het vee geëet wat doodgegaan het of wat hulle van hul bure gesteel het.

Hulle gebruik verskillende dialekte van dieselfde taal wat nie baie van mekaar verskil nie. Hierdie taal het baie klapklanke net soos dié van die San. 4

Khoi-woning

Zoeloe

Die Zoeloes is die grootste van die etniese groepe in Suid-Afrika.

Volgens mondelinge oorlewering kom die woord “Zoeloe” van die naam van die oorspronklike voorvader in die Zoeloe se koninklike voorgeslag in ongeveer 1670. 7

Die Zoeloes was eers net ’n klein stammetjie, maar onder hul koning Shaka, het hulle in die 19de eeu gegroei tot ’n sterk Zoeloe-koninkryk. 8

Mpande se krygers

Shaka het jong mans bymekaargemaak en hulle opgelei in sy nuwe gevegstegnieke (manier van oorlog maak). Sy militêre veldtog het baie geweld veroorsaak en baie mense van hul blyplekke af weggedryf. Binne 12 jaar het Shaka dit reggekry om een van die magtigste koninkryke te stig wat nog ooit in die hele Afrika gevind is.

Hierdie sterk Zoeloeryk het begin swakker raak toe Shaka in 1828 deur sy lyfwag, Mbopha, en sy twee halfbroers Dingaan en Mhlangana vermoor is. 6

Dingaan

Tradisionele Zoeloegodsdiens het bestaan uit die aanbidding van voorvadergeeste, maar hulle het ook geglo aan ’n skeppergod, hekse en towenaars. Die koning was verantwoordelik daarvoor om reën te maak en hy het ook seremonies waargeneem voor planttyd, in oorloë of wanneer daar droogte of hongersnood was. 6

Die Zoeloes was tradisioneel graanboere en hulle het ook groot veetroppe aangehou. 7

Shaka

Hoofman Mangosuthu (Gatsha) Buthelezi het vir baie jare ’n baie belangrike rol in die politiek van die Zoeloes en ook van Suid-Afrika gespeel. Buthelezi was ook ’n familielid van die koning van die Zoeloes, koning Goodwill Zwelithini, wat in 2022 oorlede is. 6

Buthelezi was vanaf 1953 tot sy dood op 9 September 2023 ’n hoofman van die Buthelezi-familie. Hy het die Inkatha yeNkululeko yeSizwe party in 1975 gestig. Hierdie party het later die Inkatha Vryheidsparty geword. Hy was vanaf 1970 tot in 1994 hoofminister van die Zoeloe-tuisland wat later KwaZulu sou heet. Hy het in 1994 deel geword van die eerste demokratiese parlement en was van 1994 tot in 2004 minister van binnelandse sake. 9

Mangosuthu Buthelezi

Xhosa

Die Xhosas is die tweede grootste inheemse groep in Suid-Afrika. Hul taal word ook Xhosa of isiXhosa genoem en dit is een van die 11 amptelike tale in die land.

Hoewel almal Xhosa praat, is daar ’n hele paar dialekte wat deur Xhosa-sprekers gebruik word. Van hierdie dialekte is isiMpondo, Thembu, Bomvana, Rharhabe, Gcaleka, Bhaca, Cele, Hlubi, Mpondimise, Xesibe, Ntlangwini en Ngqika en Mfengu.

Van hierdie dialekte se name is ook die name van verskillende groepe of stamme. 10

Iets wat belangrik is om oor die Xhosas te weet, is dat die voormalige president Nelson Mandela ’n Xhosa en ’n lid van die Thembu-stam was. Suid-Afrika se volkslied “Nkosi Sikelel’ iAfrika” (in Afrikaans: “God seën Afrika”) is ’n Xhosalied wat in 1897 deur ’n onderwyser, Enoch Sontonga, geskryf is. 9

Nelson Mandela

Geskiedkundige bewyse wys dat die Xhosas die Oos-Kaap sedert ongeveer 1593 of selfs vroeër bewoon het. Teen die middel van die 17de eeu het die Thembu-stam in die omgewing van die Nbashirivier gewoon en die oorspronklike Xhosa-stam het in die omgewing van die Keirivier gewoon. 11

In vroeër jare was die Xhosas beesboere. Hulle het hul beeste goed versorg omdat beeste ’n teken van rykdom en status was. Beeste is as lobola gebruik en is ook gebruik as offerande aan die voorvadergeeste. 9

Hierdie gebruike word vandag steeds nagevolg, veral in die plattelandse gebiede.

Die Xhosas is bekend vir hul inisiasieskole vir jong seuns. Mens lees byna elke jaar in die koerante van hierdie seremonies in die Oos-Kaap. Die seuns wat na hierdie skole gaan, word abakwetas genoem. Hulle bly vir ’n paar weke afgesonderd in hutte, weg van hul familie. Hul liggame word met wit klei gesmeer en daar is baie taboes en reëls wat hulle in hierdie tyd moet nakom. Hulle moet ook met groot respek teenoor die senior mense by dié skool optree. Op verskillende stadiums in hierdie tyd, word daar gewoonlik ’n bok geslag. 9

Xhosavroue dra altyd ’n vorm van hoofbedekking (kopdoek) om respek te betoon aan die hoof van die gesin – hul pa of hul man. Die verskillende stamme se tradisionele klere én kleure het verskil om hulle van mekaar te onderskei (om te wys aan watter stam hulle behoort). 10

In 1953 het die Suid-Afrikaanse regering verskillende tuislande vir die inheemse groepe geskep en vir die Xhosa-sprekende mense is Transkei en Ciskei geskep. Hierdie twee gebiede het in 1994 ophou bestaan toe die nuwe regering in Suid-Afrika aan bewind gekom het. 9

Ou Lesotho-kleihutte

Noord-Sotho (Pedi)

Die Noord-Sothos word soms ook die Transvaalse Sotho, Pedi of Bapedi genoem. Hulle is die grootste van die drie Sotho-groepe.

Hulle woon hoofsaaklik in die Pretoria-omgewing, asook in Limpopo. Hul tradisionele woongebied was tussen die Olifants- en Steelpoortrivier in Limpopo. Daar word aanvaar dat hulle ongeveer 500 jaar gelede vanaf Sentraal-Afrika na suidelike Afrika verhuis het. 12

Die Pedi het in die vroeë 19de eeu ’n bloeitydperk beleef onder koning Thulare, maar daarna is hulle deur Mzilikazi aangeval en oorwin. Mzilikazi was die persoon wat uiteindelik die Ndebele- of Matabele-stam sou stig. 11

Onder tradisionele omstandighede was die wonings van die Noord-Sotho groepe wooneenhede of hutte wat in ’n semisirkel gegroepeer is. Dit is ’n kgoro genoem.  So ’n kgoro het gewoonlik bestaan uit mans wat familie was, en so ʼn kgoro is gewoonlik begin deur ’n seun van ’n hoofman.

Die hoofman is kgoši genoem en hy het uitvoerende en regsplegende mag gehad – hy het dus die wette gemaak en het ook alle belangrike besluite geneem. 11

Beeste was baie belangrik – nie net as voedsel nie, maar ook omdat beeste ’n status-simbool was. Beeste is ook gebruik vir die betaling van ’n bruidskat, of lobola. 13

In 1972 het die Suid-Afrikaanse regering die Lebowa-tuisland vir die Noord-Sotho geskep. Hierdie tuisland het in 1994 ophou bestaan toe ’n nuwe Grondwet aanvaar is. 11

Suid-Sotho

Die Suid-Sotho woon hoofsaaklik in die Vrystaat, maar ook in Gauteng en die Oos-Kaap, terwyl daar ook klein groepe in Namibië en Zambië woon. 14

Daar is nie baie inligting bekend oor die vroeë Sothomense se oorsprong en geskiedenis nie, maar daar word vermoed dat ystersmede wat vermoedelik Sotho’s was, vanaf die agtste eeu in die Phalaborwa-omgewing en vanaf die 11de eeu in die omgewing van die Melville-koppies in Johannesburg gewoon het.

Argeoloë het bewyse gevind dat Sotho-sprekende mense in plekke soos die huidige Gauteng, Noordwes en Botswana geleef het. Volgens hierdie bewyse kom die Sotho-/Tswana-sprekende mense waarskynlik oorspronklik van Tanzanië af. 13

In 1953 het die Suid-Afrikaanse regering tuislande geskep vir die inheemse groepe. Mense wat Suid-Sotho gepraat het en nie in Lesotho gewoon het nie, is in QwaQwa hervestig (daarheen verskuif). Die hoofstad van QwaQwa was Phuthaditjhaba. 13

Die Suid-Sotho se kultuur, hul sosiale organisasie, taal en godsdiensgebruike stem baie ooreen met dié van die Noord-Sotho en die Tswana. 13

Hul opperwese (amper soos ’n god) word Modimo genoem. Mense kommunikeer met Modimo deur die voorvadergeeste oftewel badimo, en hierdie badimo word tydens rituele feeste vereer. Hulle glo dat hierdie voorvadergeeste mense wat van hulle vergeet of hulle nie met respek behandel nie, siek kan maak of teenspoed bring. 13

Enkele van die belangrike stamme van die Suid-Sotho is die Taung (tau beteken “leeu”), Tlhaping (tlhapi beteken “vis”), Tloung (tlou beteken “olifant”) en Kwena (kwena beteken “krokodil”). 13

Sotho was een van die eerste Afrikatale wat ook ’n skryftaal geword het . Daarom is daar baie literatuur in Sotho. In Sotho kry mens onder meer hierdie dialekte: Fokeng, Kwena, Phetla, Phuti en Pulana. 13

Tswana (Wes-Sotho)

Die Tswanas word soms ook Wes-Sotho genoem, maar Tswana is die naam wat die meeste gebruik word.

Die Tswanas bly in Suid-Afrika en ’n klein gedeelte woon ook in Botswana. In Suid-Afrika bly hulle meestal in die omgewing van die voormalige Bophutatswana-tuisland in vandag se Noordwes, hoewel mens natuurlik Tswana-sprekers oor die hele Suid-Afrika aantref. Die Tswana-taal toon baie ooreenkomste met Suid-Sotho en ook met Noord-Sotho. Die tradisionele Tswana-kultuur het ’n ingewikkelde regstelsel met howe gehad. 15

Van die belangrike stamme onder die Tswana is die Hurutshe, Kgatla, Kwena, Rolong, Tlhaping en Tlokwa.

Die Tswanas het nie baie duidelike gebruike en uiterlike versierings of kleredrag wat hulle van ander groepe onderskei, soos byvoorbeeld die geval is met van die Ngunigroepe (Xhosa, Zoeloe en Swazi) of die Ndebele, nie.

Bophuthatswana is die tuisland wat in 1977 vir die Tswanas geskep is. 16

In die dae toe daar deur die internasionale gemeenskap ’n kulturele boikot teen Suid-Afrika was en kunstenaars uit ander lande nie hier kon kom optree nie, het sulke kunstenaars wel by Sun City kom optree omdat dit in die destydse Bophuthatswana gebou is.

Swazi

Die Swazi’s kry hul naam van hul koning Mswati II wat in 1839 koning geword het. 17

Die Swazi’s bly hoofsaaklik in Swaziland, in Mpumalanga en ook in Mosambiek. Die Swazi-taal vorm saam met Zoeloe en Xhosa deel van die Nguni-taalgroep. 18

In die Swazi-kultuur word die politieke en ekonomiese mag gedeel tussen die manlike heerser wat sy posisie oorgeërf het en sy ma, of ’n vroulike plaasvervanger vir sy ma. Hierdie vroulike lid van die Swazi word die koninginmoeder genoem. Poligamie word beoefen (dit word so gedoen) en ’n man betaal ’n bedrag geld aan sy bruid se familie voor hy met haar trou – lobola.

Die Swazi se leier word ’n koning genoem en die koning se verskillende vroue en hul kinders woon elkeen in hul eie koninklike stat. Hierdie wonings is deur die woongebied versprei.

Daar is ook ’n stelsel waar mans volgens hul ouderdomme in groepe ingedeel word. Van hierdie groepe word verwag om sekere dienste aan die koning te lewer. 17

Die huidige koning van die Swazi’s is Mswati III. Sy titel is Ingwenyama, wat leeu beteken, en die koninginmoeder se titel is Indlovukati, wat vroulike olifant beteken.

Die Swazi’s wat buite Swaziland woon, staan nie onder die gesag van die Swazikoning nie. 19

Tsonga

Die Tsonga word ook Shangaan of selfs Shangaan-Tsonga genoem. Hierdie laaste term behoort liewer nie gebruik te word nie omdat dit verwarring veroorsaak. Die naam Tsonga kom vanaf die woord ronga wat beteken “vanaf die ooste”. 20

Die Tsonga woon in die suide van Mosambiek, dele van Zimbabwe en Swaziland, asook in die noordelike dele van Suid-Afrika. 21 Die Tsonga in die noorde woon verspreid oor sewe distrikte: Giyani, Malamulele, Hlanganani, Ritavi 1, Ritavi 2, Lulekani en Mhala. 19

Hul taal is deel van die Niger-Kongo se tale. Dit het ontstaan uit Zoeloe, Tonga wat in Mosambiek gepraat word, asook Tembe. Daar is vier taalgroepe binne die Tsonga-taal – Tshwa (wat in Mosambiek gepraat word), Ronga (Mosambiek), Tembe (wat in die Ingwavuma-distrik van KwaZulu-Natal gepraat word) en die Tsonga wat in die noorde gepraat word. 19

Die oorspronklike Tsonga-stamme het vanaf die 16de eeu tot 1824 in die suide van Mosambiek gewoon toe die Shangana (genoem na hul leier Soshangane) voor Shaka se aanvalle uit Zoeloeland na Mosambiek gevlug het. Die Shangana het die Tsonga aan hulle onderwerp (oor hulle geregeer). Die Tsonga bestaan dus uit Tsonga-groepe wat na die noordelike en sentrale deel van die land gevlug het, asook Shangaan-groepe in die suidelike deel. 19

Alhoewel baie van die Tsonga aan die christelike geloof behoort, volg baie nog hul tradisionele godsdiens na. Daarvolgens moet mense deurlopend aandag gee aan die behoeftes van die voorouergeeste. Siekte en ongelukke word gewoonlik aan toordery of aan die straf van die voorvadergeeste toegeskryf, omdat iemand verkeerd opgetree het. 20

By die Tsonga gee die pa van die bruidegom geskenke aan die pa van die bruid. Hoewel poligamie steeds voorkom, kom dit nie meer by jong mense voor nie. So ’n poligame gesin bly saam in ’n kraal. Die status van die verskillende krale van een man se vroue, word bepaal deur die volgorde waarin hy met die vroue getrou het. Die vrou met wie hy eerste getrou het, is gewoonlik die hoofvrou. 19

Die tuisland waarin die Tsonga saam met die Shangaan gewoon het, was Gazankulu.

Ndebele

Die eerste hoofman van die Ndebele wat in die geskiedenis bekend is, was Mafana. Hy is opgevolg deur Mhlanga en toe deur sy seun Musi. Aan die begin van die 1600’s het Musi besluit om weg te trek van sy familie en hy het naby die huidige Pretoria gaan woon. Toe Musi sterf, het sy twee seuns baklei oor wie leier moet word en die stam het in twee gedeel – die Manala en die Ndzundza. 22

Die Ndebelevroue is bekend vir die veelkleurige ornamente wat hulle dra. Hierdie ornamente wys ook die status van die vrou in die gemeenskap. Vroeër jare het die vroue koper en geelkoperringe rondom hul nek, arms en bene gedra. Hierdie ringe is eers verwyder nadat die vrou se man gesterf het. Hoe meer ringe ’n vrou gedra het, hoe ryker was haar man! 21

Die Ndebele is baie bekend vir die veelkleurige patrone wat op hul wonings geverf word. Hierdie ingewikkelde geometriese patrone word geverf sonder om ’n liniaal te gebruik! Die Ndebele is ook bekend vir die kralewerk wat hulle maak. Daarin word ook ingewikkelde patrone gebruik. 21

In tradisionele gemeenskappe is geglo dat siektes veroorsaak word deur ’n vloek wat oor iemand uitgespreek is. Tradisionele genesers moes siektes probeer genees deur medisyne te gee of deur dolosse te gooi. Tradisionele genesers is Izangoma genoem en hulle kon met die voorvadergeeste kommunikeer. 21

Venda

Die Vendas het vroeër in die omgewing van die Soutpansberg in Limpopo gewoon. Hul woongebied grens aan Mosambiek, Zimbabwe, die Limpopo-rivier en die Nasionale Krugerwildtuin. 23

Die taal wat die Vendas praat, word Venda of Tshivenda genoem en vorm deel van die Niger-Kongo-tale.

Daar is sterk ooreenkomste tussen Venda en Shona, terwyl baie woorde uit Sotho ook gebruik word. Navorsers sê dat Venda ontstaan het uit twee vroeë Shona-dialekte wat gepraat is deur mense wat naastenby in 1200 en toe weer in ongeveer 1450 in die Soutpansberg-omgewing ingetrek het. Hier is die taal ook beïnvloed deur ’n vroeë vorm van Sotho wat gepraat is deur mense wat toe daar gewoon het. 22

Die Vendas is nie ’n homogene groep nie, maar is saamgestel uit verskillende stamme wat oor die laaste 600 jaar in die Soutpansberg-omgewing gewoon het. Die geskiedenis van die Venda kan deur argeoloë teruggevoer word na ongeveer 900 jaar gelede. Die grootste van die dorpe wat deur die inwoners van hierdie gebied gestig is, was Mapungubwe. Mapungubwe was die hoofstat van ’n groot en belangrike koninkryk wat vanaf die Soutpansberg in die suide tot die Matopo-heuwels in Zimbabwe gestrek het.

Die tuisland Venda is in 1979 geskep vir mense wat Venda gepraat het en het in 1994 ophou bestaan. 22

Die Vendas glo in die bestaan van voorvadergeeste en ’n godheid wat Raluvhimba genoem word. In die dag kan Raluvhimba gesien word as arende wat hoog in die lug sweef en in die nag word hy gesien in verskietende sterre. Hy beheer die reën en dis die verantwoordelikheid van die kaptein om dit te laat reën deur offers aan Raluvhimba te bring. Wanneer daar siekte of ’n ongeluk gebeur, word dit deur die voorvadergeeste veroorsaak en word die waarsêer gevra om uit te vind wat die oorsaak is. 22

Woordbank

bloeitydperk Voorspoedige tyd.
boikot ’n Georganiseerde optrede teen ’n land of groep om byvoorbeeld niks van so ’n land of groep te koop nie of nie teen hulle aan sport deel te neem nie. Soms is die boikot so ernstig dat mense van daardie land nie lande deur wie hulle geboikot word, mag besoek nie.
demokratiese ’n Regering of land is demokraties wanneer daar onder meer vryheid van spraak is en die lede daarvan aan die regering mag deelneem.
dialekte Die taal van ’n sekere gebied of groep wat nie dieselfde is as die standaardvorm van die taal nie.
dolosse ʼn Dolos (dolosse) is bene van dooie diere wat deur tradisionele genesers gebruik is om waar te sê of voorspellings te maak; Voortrekkerkinders het daarmee gespeel.
eenvormige Twee dinge is eenvormig wanneer dit dieselfde aard of vorm het, dus nie van mekaar verskil nie.
geometriese Iets is geometries wanneer dit bestaan uit sirkels, vierkante, reghoeke en driehoeke wat in patrone gerangskik is.
homogene ’n Homogene bevolking het dieselfde oorsprong en gebruike en voorkoms.
inheemse Iets is inheems wanneer dit natuurlik in ’n land of gebied voorkom.
inisiasieskole Die plek waar jong mans oor die gebruike van die groep waaraan hulle behoort geleer word.
lobola Geskenk wat deur ’n man aan sy bruid se familie gegee word.
onder die gesag  Wanneer jy onder die gesag van iemand staan, word jy deur hom/haar regeer of gelei.
oorlewering Mense wat dinge vir hul kinders vertel en hulle weer vir húl kinders.
ornamente Versiering om mens mooi te laat lyk.
pigment Poeierige of korrelrige kleurstof wat algemeen voorkom in die weefsels van diere en plante.
poligamie Wanneer ’n man met meer as een vrou trou.
skryftaal Taal waarin mense boeke ens geskryf het, soms word ’n taal net gepraat en word daar nie in daardie taal geskryf nie.
stat ’n Tradisionele Afrikadorp wat bestaan uit hutte, dikwels volgens ’n bepaalde patroon gerangskik.
status Iemand se posisie of stand wanneer dit vergelyk word met die mense rondom die persoon.
taboes Iets/dinge wat mens nie mag doen nie.
toegeskryf Veroorsaak deur.
tradisionele Om iets te doen soos dit altyd deur ’n sekere groep gedoen is.
vloek Wanneer iemand doelbewus iemand anders wil leed aandoen en dan wens dat so ’n persoon iets moet oorkom.
voorvadergeeste Familie wat reeds oorlede is.
weiding Gras wat beeste en skape vreet.
ystersmede Mense wat yster gesmelt en voorwerpe daaruit gemaak het.

Foto’s en leesstof

Video’s

Danse deur Zoeloe-kinders

Tradisionele Swazi-musiek en -kleredrag

Kyk hier hoe die Balobedu (Modjadji se mense) leef

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 7 November 2023 | Bygewerk op 3 April 2024