Vinnige feite

  • Terwyl Maritz op Graaff-Reinet gewoon het, was hy ook wykmeester en moes toesien dat wet en orde in sy wyk (buurt) gehandhaaf word. Hierdie plig het hy met nougesetheid (presiesheid) uitgevoer en selfs nie geskroom om landdros Stockenström te betig oor sy perde wat op onverskillige wyse deur die strate aangejaag word nie omdat dit gevaarlik is en kinders beseer kan word. (Mens wonder wat hy van vandag se motoriste sou gesê het!) 9
  • Die Maritz-gesin se waens het ook twee primitiewe kanonne en vragte boeke gehad. Nie net die groot Statebybel nie, maar verskeie teologiese werke, ‘n paar woordeboeke en talle volumes oor die regte. 1
  • Die ossewa wat Gerrit Maritz vir die Laas-familie gebou het, staan nou in die Voortrekkermonument!
  • Gerrit se ouers, Salomon Maritz en Maria Elizabeth, was daarvoor bekend dat hulle die evangelie onder swart mense verkondig het.
  • By die Slag van Mosega het Maritz se manskappe (soldate) rooi bande om hul hoede gedra. 3
  • Baie Trekkers was mismoedig ná die slag van Italeni en wou Natal verlaat. Die feit dat die Groot Trek nie in Natal doodgeloop het nie, kon aan Maritz se geduld en oorredingsvermoë toegeskryf word. 7
  • Dit is interessant om te kyk hoe oud van die Voortrekkerleiers was: Aan die begin van 1837 was Gerrit Maritz 40 jaar oud, Hendrik Potgieter 44, Piet Retief 56 en Jacobus (Koos) Uys 70. 1

Gerrit Maritz, wat in die meeste geskiedenisboeke deur mense soos Louis Trichardt, Piet Retief en Hendrik Potgieter oorskadu is, is oor die algemeen die mees onerkende (nie juis belangrik nie) Groot Trek-leier. 1

Tog, by sy tydgenote het hy – een van die jongste Voortrekkerleiers – bekendgestaan as ’n godvresende man wat altyd bereid was om sy medemens te help. Hoewel hy kortgebonde was (gou kwaad geword het), het hy van ’n grap gehou en kon hartlik lag. Hy word veral onthou as die leier na wie die Trekkers in hul donkerste uur in Natal opgesien het nadat Retief-hulle deur Dingaan vermoor is, nadat Piet Uys en sy seun gesneuwel het en Hendrik Potgieter Transvaal toe uitgewyk het. Die mense het hom as ’n belese, opgevoede en intelligente persoon beskou. 2

Gerrit Maritz se familie

Gerhardus Marthinus Maritz is in Maart 1797 gebore. Die presiese dag waarop hy gebore is, weet ons nie. Mense het hom Gert of Gerrit genoem.

Sy oupagrootjie se naam was Jan Marits. Hy is in Duitsland gebore en het in November 1717 met ’n skip uit Nederland na die Kaap vertrek. Sy oupa se naam was Johannes Stephanus en sy van is Marits gespel – ons weet nie wanneer die van na ‘Maritz’ verander is nie. 3

Gerrit was een van sewe kinders. Sy pa Salomon Maritz en sy ma Maria Elizabeth (haar nooiensvan was Oosthuizen) het in Graaff-Reinet gewoon. Sy pa was ’n timmerman (skrynwerker). Sy een suster, Susanna Catharina, is later getroud met Erasmus Smit. Van hom hoor mens dikwels as jy oor die Groot Trek lees – hy was ’n predikant vir die Voortrekkers. 4

Gerrit is op 15 Mei 1820 met Angenitha Maria Olivier getroud – hy was 22 en sy was 15 toe hulle getroud is. Uit hierdie huwelik is ses kinders gebore. 1

Voorbereid vir die Groot Trek

Baie van die ondervinding wat Maritz in sy werk gekry het, het hom voorberei vir die leier wat hy later in die Groot Trek sou wees.

Maritz het op Graaff-Reinet gewerk waar hy ’n uitmuntende wamaker was. Hy het vinnig ’n suksesvolle sakeman geword en het ’n leidende rol in die openbare lewe van die distrik gespeel.

Benewens sy wamakery was hy wykmeester, waarnemende veldkornet, eienaar van ’n paar eiendomme, regsverteenwoordiger en raadgewer.

Volgens die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek het die beste en mooiste waens uit Maritz se wamakery gekom. Sy eie sewe spoggerige kakebeenwaens waarmee hy op die Groot Trek was, was blou geskilder en het platboog- of kaptente gehad wat hulle ’n mooier fatsoen gegee het as die ronde tente van die gewone kakebeenwaens. 2

Die mense vertel…

Vandag klink dit vir ons vreemd, maar in die tyd van die Voortrekkers was daar nie altyd foto’s van alle mense nie – ook nie van Maritz nie. ’n Paar illustrasies (tekeninge) is grotendeels gegrond op ’n denkbeeldige portret wat op beskrywings van dié Trekkerleier gebaseer is. Hiervolgens kan ons agterkom hoe mense, dinge en gebeurtenisse op ’n spesifieke tydstip gelyk het. 5

Volgens mense se vertellings in die Gedenkuitgawe van Die Huisgenoot van 1838 het sy voorkoms gewys dat hy ’n “man van betekenis” (belangrik) was. Hy was groot en fris gebou en altyd “nu-modies” (volgens die jongste mode) gekleed met baadjie én onderbaadjie. Sy vaalgrys baard het blykbaar tot sy mooi voorkoms bygedra. Sy hare was altyd kort gesny en hy het soms ’n bolkeil gedra wat van grys velt (wolweefsels) gemaak was. Hoewel stil van geaardheid, het hy ’n sterk persoonlikheid gehad. Daarby was hy godsdienstig en het ook ’n sin vir humor gehad. 6

Ja, woorde kan soos ’n kamera gebruik word en nou kan ons “sien” hoe Gerrit Maritz gelyk het!

Die groot regmaak vir die Groot Trek

Reeds in 1834 het baie mense daaraan begin dink om uit die Kaapkolonie te trek. In hierdie voorbereiding het Maritz ’n belangrike rol gespeel.

Mense wat beplan het om te trek, moes natuurlik hul besittings verkoop. Maritz het ’n hele aantal eiendomme gehad en hy het dit begin verkoop. Soos met die meeste mense gebeur het, is hierdie eiendomme vir baie minder geld as wat dit werd was, verkoop.

Die mense wat wou trek, moes ook baie ander dinge doen om hulself voor te berei. Omdat hulle na die binneland sou trek waar daar nie winkels was nie, moes hulle soveel voorraad as moontlik koop om saam te neem. Maritz self het uit sy werkswinkel goed soos skroewe, ’n blaasbalk en ’n draaibank (werktafel) saamgeneem. Laasgenoemde was na alle waarskynlikheid opvoubaar. Dit was alles toerusting wat hy tydens die trek sou kon gebruik.

Ander voorraad wat Maritz en al die Trekkers moes bymekaar maak, was kos en klere; alles wat vir die waens nodig sou wees soos rieme en jukskeie; gereedskap soos hamers, beitels, vyle, bore, sae en skawe; wapens vir jag en selfbeskerming soos gewere, lood en kruit; en landbougereedskap soos grawe, ploeë en ploegskare (onthou, die landbougereedskap van daardie jare was nie so groot en moeilik om te vervoer soos vandag s’n nie).

Maritz self het baie boeke saamgeneem. In hierdie versameling was natuurlik ’n Bybel, baie regsboeke en selfs woordeboeke. Maritz was ’n vooruitbeplanner, presies, netjies, voorbereid. Dat hy al die wetboeke ingepak het, toon dat hy gevoel het dat dit selfs in die wildernis nodig was om behoorlike administrasie te hou. 1

Die verskillende trekgroepe

Die belangrike Trekjaar was 1836. Die meeste Voortrekkers het in hierdie jaar die Kaapkolonie verlaat. Trichardt het met sy trek van honderd waens en sewehonderd mense die beskawing vir die destydse wildernis verruil. 2

Trichardt-trek: waband opsit by Soutpansberg

In drie jaar se tyd het ongeveer 12 000 mense uit die Kaapkolonie weggetrek omdat hulle nie meer onder die Britse bewind (’n ander woord vir regering) wou leef nie. 2

Só het van die groepe weggetrek: In 1835 is Louis Trichardt en Lang Hans (Janse Van Rensburg) weg uit die Kaap. In September 1836 het Gerrit Maritz se groep hul osse ingespan en die lang tog begin. In 1837 is Retief en Uys se groepe die binneland in, min wetende van al die swaarkry en veldslae wat op hul wag. 1

Retief verlaat die Kaapkolonie

Maritz se trekroete

Maritz het vanaf Graaff-Reinet vertrek. Sy roete het verby die volgende dorpe gegaan, maar party van die dorpe het in daardie tyd nog nie die name gehad wat hulle vandag het nie: Graaff-Reinet – Middelburg (Kaap) – Steynsburg – Burgersdorp – Aliwal-Noord – Thaba Nchu – Winburg – Vegkop – Suikerbosrand naby die huidige Heidelberg in Gauteng – Natal (vandag KwaZulu Natal). 7

Honderd waens en 700 mense

Daar was naastenby 100 waens in Maritz se groep en 700 mense. Onder hulle was ongeveer 200 mans wat kon oorlog maak en die Trekgroep kon verdedig. Daar het ook ’n hele aantal werkers as deel van die groep saamgegaan.

Maritz en sy vrou Angenitha Maria het saam met hul ses kinders getrek. Die oudste, Salomon Stephanus, was 15 jaar oud. In die dae van die Groot Trek was ’n seun van 15 jaar al byna oud genoeg om die werk van ’n volwasse man te doen. Die tweede seun, Cornelis Johannes Francois, was 13 jaar oud en kon ook reeds help met die versorging van die vee en ander take doen.

Maritz se ma het ook saam getrek. Ander lede van die groep was Maritz se drie broers en hul gesinne asook sy suster en haar man, Erasmus Smit. Erasmus het later as ’n predikant tydens die trek opgetree, hoewel hy nie as ’n predikant opgelei was nie.

Erasmus Smit

Vanne van die mense wat in Maritz se groep was, is, onder andere, Rudolph, Oosthuizen, Scheepers, Retief en Hammes. Francois Retief was die oudste broer van Piet Retief en was een van die belangrike persone in Maritz se trek.

Die Trek het stadig gevorder omdat die ossewaens nie vinnig kon beweeg nie. Die Trekgroep was baie groot en dit het bygedra tot die stadige pas. Daar was baie vee en om al die diere veilig deur riviere te laat trek, was allermins maklik! 1

Die eerste Voortrekkerbestuur

In November 1836 het die groep by Thaba Nchu uitgekom. Hier het die Maritz-groep ook die Trekgroep van Hendrik Potgieter gekry.

Op 2 Desember 1836 is daar in die laer van Potgieter ’n vergadering gehou waar ’n bestuur van sewe lede verkies is. Hierdie eerste bestuur het bestaan uit Maritz, Potgieter, J.G.S. Bronkhorst, C.J. Liebenberg, P.J. Greyling, Daniël Kruger en S. Janze van Vuuren. Maritz word verkies as voorsitter en hoof van die bestuur en Potgieter as laerkommandant. Uit die aard van Maritz se regskennis moes hy sorg dat wette gemaak word en ook help met, onder meer, boedels wanneer iemand tydens die trek gesterf het. 5

Hendrik Potgieter

Strafekspedisie teen Mzilikazi

In Januarie 1837 het twee groepe Voortrekkers onder leiding van Maritz en Potgieter na Mosega (die tuiste van die Matabeles) vertrek om hulle te straf vir die aanval op die Voortrekkers by Vegkop en ook om van die gesteelde beeste terug te kry.

Dit was nog donker die oggend van Dinsdag 17 Januarie 1837 toe die eerste skoot deur die Voortrekkers afgevuur is. Die Matabeles het glad nie die aanval verwag nie en hulle is heeltemal oorweldig. Dié wat nie doodgeskiet is nie, het gevlug. Daar is uiteindelik meer as 400 Matabeles dood en nie een van die Voortrekkers nie. Die stat is verwoes en die Voortrekkers het ongeveer 7 000 beeste saam met hulle teruggeneem. 1

Matebele-koning, Mzilikazi

Aankoms van Piet Retief

Op pad terug na Thaba Nchu het Potgieter en Maritz ’n uitval oor die verdeling van die buit gehad en hierdie twis is vererger toe Piet Retief en sy trek in April 1837 daar aangekom het. Op Maandag 17 April is daar ’n groot vergadering in Maritz se laer gehou. 1

Met die verkiesing van ’n nuwe regering, oftewel bestuur, is Potgieter nie ingesluit nie; Maritz is as regter-president verkies (party bronne sê magistraat) en Retief as goewerneur. Daar was ook onenigheid oor die trekrigting wat ingeslaan moes word; Maritz het hom by Retief, wat na Natal wou trek, geskaar, maar terselfdertyd het hy saamgestem met Potgieter dat die Matabeles se mag eers finaal gebreek moes word. 8

In Desember 1837 het Maritz en sy volgelinge die Drakensberge by De Beerspas oorgesteek en in Noord-Natal het hulle weer by Retief, wat vooruit getrek het, aangesluit.

Retief wou Dingaan vir ’n tweede keer besoek om oor grond te onderhandel. Maritz was ontevrede met Retief se besluit om self na Dingaan se kraal te gaan, want hy het nie die Zoeloekoning vertrou nie. Maritz het tussen die Trekkers rondgegaan om mense af te raai om saam met Retief te gaan omdat hy bekommerd was en gemeen het dat soveel mans se afwesigheid die verdediging van die laers sou verswak. Hy het ook gesê dat Retief die hoofleier van die Voortrekkers was en homself nie in gevaar moes stel deur weer na Dingaan te gaan nie.

Zoeloekoning Dingaan

Uiteindelik het Retief tóg met ongeveer 60 mans vertrek (sommige bronne beweer dit was meer).

Gelukkig was dit Maritz se agterdog teenoor Dingaan wat gemaak het dat sy laer wat langs die Boesmansrivier gestaan het, nie heeltemal onvoorbereid was soos die ander toe die Zoeloes die Trekkers in Februarie 1838 in Natal aangeval het nie. 7

Meningsverskille duur voort

Op Saterdag 3 Februarie 1838 het Retief by Dingaan se vesting, uMgungundlovu, aangekom. Soos ons weet, is Retief en almal wat saam met hom was, deur Dingaan se soldate doodgemaak.

Hierna het die Zoeloes in die rigting van die Voortrekkers beweeg om hulle aan te val. Die families wat by Bloukransrivier en Moordspruit gestaan het, is eerste aangeval en uitgemoor.

Bloukrans

Maritz het bekommerd geraak toe Retief nie terugkeer nie en hy het die Voortrekkers begin voorberei op ’n aanval. Toe die Zoeloes wel sy laer bereik, was hy en sy mense voorbereid en hulle kon hulself teen die Zoeloes verdedig.

Die Voortrekkers was nou naby hul eindbestemming, maar die aanvalle deur die Zoeloes kon alles verongeluk. Maritz het oral hulp gesoek by van die ander trekke en baie van die groepe het saamgekom om te kom help om vir eens en vir altyd (finaal) van Dingaan en sy Zoeloes ontslae te raak. Daar was vier laers waaruit die mans vir die kommando gekies sou word: Maritz se laer, Retief se laer wat nou deur Piet Greyling gelei is, die laer van Potgieter en die laer van Uys.

Daar moes ’n leier in die plek van Retief gekies word – die drie kandidate was Maritz, Potgieter en Uys. Op 28 Maart 1838 het die vergadering plaasgevind en Potgieter en Uys is ná lang gesprekke albei as leiers met gelyke status verkies. Maritz was nie tevrede met die besluit nie omdat hy gesê dat daar nie twee leiers kan wees wat in ’n gevegsituasie besluite moet neem nie.

Die kommando van 347 mans het op 6 April 1838 vertrek. Op 10 April was daar by Italeniberg ’n geveg met die Zoeloes en is die kommando verslaan (hulle het verloor) sodat hulle na die laer moes terugvlug. Piet Uys en sy seun Dirkie en nog nege mans het in die Slag van Italeni gesneuwel.

Maritz het wel nie ’n marteldood gesterf soos Piet Retief of was nie ’n held soos Dirkie Uys nie, maar deur sy stille kragtige optrede lewer hy feitlik net so ’n groot bydrae tot die geskiedenis van ons volk.

Hy was gesien as die stut en steunpilaar van die Groot Trek. Hy was die man wat orde uit chaos kon skep, wat wanhoop en verwarring met berusting en hoop vervang. 8

Daarom moes Maritz weer planne maak om die Voortrekkers wat oorgebly het, veilig te hou. Op 7 Mei 1838 het hy met 150 mans na Port Natal vertrek en op 21 Mei was hy terug met voorrade vir die laer se mense. Ongelukkig het Maritz tydens die tog (reis) na Natal siek geword en het daarna gesukkel om weer heeltemal gesond te word.

Hy het in Junie 1838 sy laer na die Klein Tugelarivier verskuif en die laer goed versterk teen aanvalle. Daar is ook water uit die rivier na die laer gelei en die Voortrekkers het selfs met landerye begin.

Maritz se gesondheid het steeds agteruitgegaan en hy het besef dat dit hom nie beskore sal wees om sy mense in die deurslaggewende oorwinning aan te voer nie.

Liggaamlik verswak, het hy op Sondag 23 September 1838 in sy laer aan die oewers van die Klein Tugelarivier gesterf. Op sy lippe was dié sugting: “Dit het met my gegaan soos met Moses; ek het die beloofde land gesien, maar bewoon sal ek dit nie”. Hy was maar net 41 jaar oud. 2

Graf van Gerrit Maritz, Bloukrans. Oorlede op 23 September 1838. Sy stoflike oorskot is al hier op 16 Desember 1895 herbegrawe
Onthulling van die Gerrit Maritz-gedenkteken by Saailaer, naby Estcourt

Woordbank

administrasie Om iets te beheer of te bestuur.
afgevuur ’n Gelaaide vuurwapen afskiet; die sneller te trek.
allermins Geensins, glad nie, hoegenaamd nie, nie in die minste nie.
beitels ‘n Breë, skerppuntige ysterstaaf. Word gebruik om ’n dun lagie (gewoonlik hout) te verwyder.
belese Iemand wat baie gelees het; groot kennis uit boeke verkry het; geleerd; letterkundig.
berusting Kalmte, aanvaarding van iets waarvan jy nie hou nie.
beskore As iets jou nie beskore is nie, beteken dit daardie iets is nie vir jou bedoel of bestem nie.
betig Iemand aanspreek, berispe; raas, teregwys, uitskel, vermaan, waarsku.
beweer Volhou dat iets so is; as beweer word dat iets so is, beteken dit nog nie dat dit wel so is nie;
blaasbalk ’n Werktuig wat lug uitblaas deur dit saam te pers. Dit word gewoonlik gebruik om ’n vuur te stook (beter te laat brand).
buit Goed wat van die vyand verower (gevat) is.
deurslaggewende Beslissend, oorheersend; finaal, oortuigend.
donkerste uur Die uiterste nood. Die hoogste nood.
draaibank ’n Werktuig waarmee voorwerpe gedraai word terwyl daar aan hulle gewerk word. Houtbakke word byvoorbeeld so gemaak.
eens en vir altyd Finaal, vir altyd.
evangelie Christelike geloof; die leer en boodskap van Christus.
fris Gesond; gespierd, stewig gebou, sterk.
godsdienstig Om in God te glo en Hom te dien.
grotendeels Hoofsaaklik, meestal.
hartlik Uit die hart uit; lekker/bly/gelukkig lag.
illustrasies Tekening, skets, prent, voorstelling, afbeelding.
jukskeie ’n Houtpen wat aan weerskante van ’n trekos se nek deur gate in die juk gesteek word om die juk in plek te hou. Die twee jukskeie word onder die os se keel met ’n strop aan mekaar vasgebind.
kandidate Persone wat beskikbaar is om vir ’n pos of ’n werk gekies te word.
kommando Klein groep soldate wat opgelei is om vinnig teen die vyand se soldate op te tree.
kortgebonde Iemand wat gou kwaad word.
kruit Mengsel wat kan ontplof en wat gebruik word om vuurwapens te laat skiet en vuurwerke mee af te skiet.
laer Kamp wat met waens deur Voortrekkers in die veld gemaak word.
marteldood ’n Gewelddadige dood sterf.
meningsverskil Van mening/opinie verskil, nie saamstem nie; nie ooreenkom/ooreenstem nie; rusie maak.
nougesetheid Baie presies, noukeurig.
onderhandel Om ’n saak te bespreek sodat mense daaroor kan besluit.
ondervinding Om kennis te kry deur dinge te doen of te sien.
onenigheid Twis, rusie (ook tweedrag genoem).
onerkende Wanneer iemand nie die lof kry wat hy verdien nie.
oorredingsvermoë Aansporing, motivering, oortuiging.
oorskadu Iemand nie juis raaksien of belangrik ag nie; As ander meer uitblink as jy, oorskadu hulle jou.
oorweldig Verower, oorwin, oorrompel, oormeester.
pas Die spoed of tempo waarteen iets gedoen word.
regsverteenwoordiger Regsgeleerde wat namens ‘n kliënt in hofsake en regshandelinge optree; administrateur of trustee in die boedel van ‘n oorledene of van ‘n persoon wat nie regsbevoegdheid het nie.
rieme Toue wat uit ’n beesvel gesny word.
sin vir humor Iemand het ’n sin vir humor wanneer hulle iets wat snaaks is, kan raaksien en daarvoor lag.
geskaar Aansluit by iemand, jou voeg by iemand of ’n groep; ondersteun, kant kies.
sneuwel Op die slagveld sterf.
status Iemand van status beteken om belangrik te wees in die sakewêreld of gemeenskap.
steunpilaar Iemand wat mense ondersteun of hulp verleen en op wie mens kan vertrou.
sugting ’n Jammerklag, ’n laaste hunkering na iets voordat daardie persoon sterf.
teologiese werke Boeke wat handel oor die Christelike geloof.
terselfdertyd Gelyktydig, op dieselfde tyd.
timmerman Skrynwerker, iemand wat houtwerk doen.
tog ’n Reis wat onderneem word.
twis Baklei, rusie maak, stry.
uitgewyk Weggaan, padgee, ’n plek verlaat.
uitmuntende Uitstekend, puik, eersteklas.
uitval Twis, rusie, onenigheid, woordewisseling.
veldkornet ’n Soort amptenaar in plaaslike regering, wat mens veral in die 19de eeu gekry het.
verslaan ’n Neerlaag toedien, oorwin.
vesting ’n Versterkte stad of stat; skuilplek.
volumes Boekdele of bundels.
wamaker In die tyd toe die Voortrekkers geleef het, was die beroep van ’n ‘wamaker’ baie belangrik. Daar was nog nie motors nie en ’n wa wat deur ’n span osse getrek is, was ’n baie belangrike vervoermiddel. 10
wanhoop Toestand van radeloosheid, verlies van hoop of vertroue.

Interessante video’s oor ossewaens

Oor woorde en uitdrukkings wat met waens te doen het.

Só trek osse ’n wa (10:47 min)

Die ossewa wat Gerrit Maritz vir die Laas-familie gebou het.

Teken jou eie ossewa!

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 6 September 2022 | Bygewerk op 27 Februarie 2024