Vinnige feite

Die Slag van Boomplaats.
  • Andries Pretorius en Andries Hendrik Potgieter het ná die Sandrivierkonvensie in Maart 1852 vrede gemaak, maar is albei kort daarna oorlede.
  • Stephanus Schoeman was só invloedryk dat Zoutpansberg, die enigste dorpie in die noorde, ter ere van hom Schoemansdal genoem is. 1
  • M.W. Pretorius is as president op 1 Junie 1857 beëdig, en op dieselfde dag is die nuwe Transvaalse vlag, die Vierkleur, wat deur ds. Van der Hoff ontwerp is, vir die eerste keer gehys. 4
  • M.W. Pretorius se besluit om hom te laat verkies as president van die OVS beteken hy is die enigste persoon in die geskiedenis wat tegelykertyd die verkose president van twee republieke was. 1
  • President Burgers het die eerste botaniese tuin in die ZAR gestig, waar Burgerspark in Pretoria vandag is. 1
  • Tydens Burgers se presidensie het Transvaal in 1876 ’n amptelike volkslied, “Kent gij dat volk”, aanvaar. Dit is geskryf deur Catharina F. van Rees, ’n Nederlandse vrou. 1
  • Een van die ironieë van die Eerste Vryheidsoorlog tussen Transvaal en Brittanje is dat meeste van die geveg in Natal plaasgevind het.
  • Die Konvensie van Londen van 1884 het met sekere voorwaardes gekom, soos dat die ZAR die Swazi’s se onafhanklikheid moes erken en belowe om die bestaande grense te hou. 2
  • Die naam van die stad Johannesburg kom van die twee mense op die kommissie om die dorp te stig – Christiaan Johannes Joubert en Johann Rissik. 3
  • Op 2 November 1894 het pres. Paul Kruger self die laaste bout ingedraai om die spoorlyn na Delagoabaai te voltooi. Die spoorlyn na Delagoabaai was een van die oudste Boere-ideale, want dit was ’n hawe wat vry was van Britse beheer. Dit was vir Kruger ’n groot voorreg om in enkele ure ’n pad af te lê wat vantevore maande sou duur. Hy is op sy eerste rit vergesel deur Carolus Tregardt, seun van Louis Tregardt, die eerste Voortrekkerleier wie se trek Delagoabaai bereik het. 5
  • Teen 1895 het Pretoria en Johannesburg elektriese ligte gehad – lank voor die meeste Europese stede. 5
  • Die historikus C.W. de Kiewiet het die impak van goud op Transvaal as volg opgesom: “In 1884 was Transvaal skaars solvent; drie jaar later, in 1887, het sy inkomste van £638 000 dié van Natal genader; nog twee jaar later was sy inkomste van £1 500 000 warm op die hakke van dié van die Kaap. Vir elke teensinnige pond wat die ZAR in 1883 gehad het om uit te gee, het dit £25 gehad.” 2
Foto: iStock

Die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR) is allermins die outydse spelling van ons land, (die Republiek van) Suid-Afrika, wat sedert 1994 uit nege provinsies bestaan (Wes-Kaap, Noord-Kaap, Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Vrystaat, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga en Limpopo).

Nee, die Zuid-Afrikaansche Republiek, ook genoem Transvaal, was ’n republiek wat bestaan het tussen 1852 en 1902, in die gebied naastenby tussen die Limpopo- en die Vaalrivier. Dié Republiek is geskep as uitvloeisel van die Groot Trek, en het sy onafhanklikheid verloor ná die Anglo-Boereoorlog in 1902.

Pretoria, Esselenstraat.

Aanloop tot die stigting van die ZAR

Andries Hendrik Potgieter en sy volgelinge, wat deelgeneem het aan die Groot Trek, het hulle in die laat 1830’s in die gebied noord van die Vaalrivier gevestig. Hulle het op die naam Transvaal besluit omdat dié gebied letterlik oorkant of aan die anderkant (“trans”) die Vaalrivier was.

Hulle het die dorp Potchefstroom aan die oewer van die Mooirivier gestig. Hulle het later noordooswaarts na die Ohrigstad-gebied verhuis en teen 1848 na die Soutpansberge. Deur die loop van die 1830’s en 1840’s het al hoe meer Trekkers na dié gebied getrek, en versprei na die hedendaagse Rustenburg, Pretoria, en die gebied rondom die Magaliesberg. 1

Teen die einde van die 1840’s was die Transvalers in drie groepe verdeel: Potgieter se groep in die Soutpansberg, ’n groep in Lydenburg en ’n groep in die Wes-Transvaal, wat ná 1848 onder Andries Pretorius se leierskap was. 1

Daar was konflik tussen die groepe, veral oor watter soort regering hulle wou gehad het. Potgieter se aanhangers wou ’n sterk leier gehad het, waar ander ’n meer demokratiese stelsel wou hê. 1

Andries Hendrik Potgieter.

Die Sandrivierkonvensie van 1852

In 1851 het Pretorius ’n brief aan die Britse regering gestuur waarin hy hulle gevra het om die onafhanklikheid van Transvaal te erken. Die Britte, wat besluit het dat hulle nie verder wou uitbrei nie, het sy versoek toegestaan. 1

Pretorius en Britse afgevaardigdes het by die Sandrivier in die huidige Vrystaat ontmoet. Op 17 Januarie 1852 is die Sandrivierkonvensie onderteken. Hiervolgens het Transvaal amptelik onafhanklik geword. 1

Staatsvorming

Dit het die Transvalers ’n paar jaar geneem om ’n grondwet op te stel omdat hulle so verdeeld was. Andries Pretorius se seun, M.W. Pretorius, het dit in 1857 uiteindelik reggekry om almal te verenig. Hoewel die konvensie reeds in 1852 geteken is, het die ZAR dus eintlik eers vanaf 1857 amptelik as staat bestaan. 1

Die ZAR was ’n demokrasie. Die regering is verkies deur wit manlike burgers. Geen ander bevolkingsgroepe is by die regering betrek nie. M.W. Pretorius is gekies as die eerste president, en die regering het as die Volksraad bekendgestaan. Die hoofstad was Pretoria. Hoewel die naam van die republiek amptelik die ZAR was, is die naam Transvaal meer algemeen gebruik. 4

M.W. Pretorius.

Sosio-ekonomiese omstandighede

Die Transvaalse burgers was meestal boere. Hulle het hoofsaaklik met beeste geboer, maar ook met ander vee, mielies en koring. Sommige het ’n lewe gemaak uit transportry en jag.

In die eerste omtrent twintig jaar van die ZAR se bestaan het dit maar sukkel-sukkel met die ekonomie gegaan. [Lees hier oor ekonomie.] Die mense was arm. Om infrastruktuur soos paaie en treinspore te bou, het die regering geld nodig gehad. Die ZAR het egter nie eintlik ’n inkomste gehad nie, want hulle het nie veel goedere gehad om te verkoop nie. Hul enigste inkomste was uit belasting, maar die burgers was traag om belasting te betaal. 2

Dit is moeilik om te skat hoeveel mense in die vroeëre jare in die ZAR gebly het. Volgens skatting het daar in 1852 omtrent 15 000 wit mense gewoon. 1

M.W. Pretorius.

Kerklike verdeelheid 

Buiten politieke verdeeldheid was daar ook kerklike verdeeldheid. In 1853 het die Hervormde Kerk, wat basies die Pretorius-groep se kerk was, ’n nuwe predikant – ds. Dirk van der Hoff – aangestel. Die Gereformeerde Kerk (die Doppers), onder leiding van die jong Rustenburgse kommandant Paul Kruger, wou nie vir Van der Hoff aanvaar nie. Hulle het hul eie predikant, ds. Dirk Postma, gekry. In die 1860’s is daar ook gemeentes van die Kaapse Nederduitse Gereformeerde Kerk in Transvaal gestig. Hierdie kerklike verdeeldheid sou vir jare daarna verdeeldheid onder die Afrikaners beteken. 1

Die Transvaalse Burgeroorlog

M.W. Pretorius wou graag die ZAR en die Republiek van die Oranje-Vrystaat verenig. Daarom het hy homself in 1859 as president van die Oranje-Vrystaat laat verkies. Sy teenstanders in die Transvaalse Volksraad het geweier dat hy albei republieke se president is en toe hulle hom dwing om te kies, het hy die Oranje-Vrystaat gekies. 1

M.W. Pretorius.

Die verdeeldheid het nou tot op ’n brandpunt gekom, en die inwoners het in twee groepe verdeel: Pretorius se ondersteuners was bekend as die Volkslaer, en die Volksraad se ondersteuners die Staatslaer. 1

In 1863 het Jan Viljoen, ’n kommandant van Marico, as leier van die Volkslaer na vore getree. Daar het ’n paar gevegte gevolg. Die grootste was in 1864 net noord van Silkaatsnek, maar dit was onbeslis. Slegs enkele mense is in hierdie gevegte dood. 1

Hierna het Pretorius teruggekom en aangekondig dat hy as president van die OVS bedank het. Die twee kante het ooreengekom op ’n nuwe verkiesing. Pretorius is as president herkies en Kruger as kommandant-generaal. Dit was die einde van die burgeroorlog. 1

Paul Kruger in 1855.

Die presidentskap van T.F. Burgers

Die paar jare ná die burgeroorlog het vreedsaam verloop. Transvaal het steeds arm gebly, en daar was min ontwikkeling. In 1871 het die Volksraad wéér vir Pretorius gedwing om te bedank. Hy het die ontdekking van diamante so swak hanteer dat die ZAR geen baat daarby gevind het nie. 1

Die nuwe president was T.F. Burgers. Hy was ’n Kaapse Afrikaner, ’n geleerde man, en baie geesdriftig. Hy het egter vinnig baie onpopulêr geword. Hy was té idealisties, voortvarend en liberaal vir die Transvalers. Kruger en die visepresident, Piet Joubert, het so min van hom gehou dat hulle albei uit die politiek bedank het eerder as om met hom saam te werk.

Die groot probleem was dat Burgers se idealistiese idees nie aanvaarbaar was vir die uiters konserwatiewe Transvalers nie. Hy wou byvoorbeeld godsdiens in skole verbied. 2 Hy het ook ’n paar foute gemaak wat Transvaal duur te staan gekom het, soos ’n mislukte poging om ’n spoorlyn na Delagoabaai (die hedendaagse Maputo) te bou. 5

Die ZAR en die inheemse bevolking

Swart groepe binne die Transvaalse grense

Die burgers van die ZAR het yl verspreid gewoon tussen verskeie swart gemeenskappe wat gesamentlik heelwat meer in getalle as die Transvalers was, maar geen aandeel in die regering gehad het nie. Die regering wou graag segregasie toepas: elke groep moes homself in sy eie gebied bestuur.

Die swart groepe moes in reservate bly. Die president het egter die opperhoof (regeerder) oor die inheemse groepe gebly. Hy moes die swart mense se tradisionele reg handhaaf, maar wit amptenare is bo hulle aangestel. Nog ’n rede waarom die swart groepe nie burgerskap gekry het nie, is omdat die regering wou keer dat hulle wapens in die hande kry. Die regering was bekommerd omdat daar soveel meer swart as wit mense was. 2

Ná die ontdekking van goud in 1886 het daar al hoe meer swart mense na die ZAR gestroom op soek na werk. Dit het dit basies onmoontlik gemaak om die beleid van segregasie suksesvol toe te pas.

Die Londen Konvensie van 1884 het bepaal dat die ZAR ’n kommissie moes aanstel om die reservate se grense af te baken. Daar is maar min grond opsygesit daarvoor, en sommige groepe het geen grond gekry nie. Die ZAR se burgers was oor die algemeen gekant teen die reservate. Kruger het daarop aangedring, maar omdat die burgers soveel grond as moontlik wou hê, het die reservate baie klein gebly. 2

Swart mense se beweging deur die ZAR sou deur ’n passtelsel beheer word, en hulle kon net in sekere (baie min) omstandighede grond koop. 2

Transvaal en sy swart bure

Die verhouding tussen Transvaal en sy swart bure was ingewikkeld.

Op die suid en suidoostelike grens het die ZAR redelik goeie verhoudings met die Swazi- en die Zoeloebevolking gehad. Die Swazi’s het inderdaad die ZAR ondersteun in hul gevegte met die Pedi’s. Die stryd met die Pedi-stamme het gegaan oor grond en belasting, en het gelei tot ’n oorlog tussen 1876 en 1877. 2 Daar was ook Transvalers betrokke by die Anglo-Zoeloeoorlog van 1879. 1

Op die wesgrens was daar botsings met Tswana-stamme soos die Kwena en die Rolong. Die swart groepe wou hê dat hul selfstandigheid erken word. Die ZAR het egter gevoel dat die swart groepe moes aanvaar dat die regering oppermagtig was. 1

In die noorde was die stryd met die Ndebele’s onder Mokopane bloedig. Die Transvalers het uiteindelik by Makapaansgat in die Strydpoortberge die Ndebele’s beleër. Die Ndebele’s het geweier om oor te gee en baie van hulle is van honger en dors dood. Hierna het die Ndebele’s verder noord uitgewyk. 1

In die Soutpansberg-gebied het die burgers van die 1860’s af met die Vendas slaags geraak, wat tot openlike stryd uitgeloop het. Die Vendas het die oorhand gekry en die burgers moes Schoemansdal ontruim en suid vlug. Die Vendas het die hele dorpie vernietig. 1

Anneksasie van Transvaal en Eerste Vryheidsoorlog

In 1877 het ’n Britse amptenaar, sir Theophilus Shepstone, Transvaal geannekseer. Die Britte wou ’n konfederasie in Suid-Afrika skep. Die Transvalers was só verdeeld dat hulle skaars protes aangeteken het. Hulle het wel deputasies na Brittanje gestuur om teen die anneksasie te protesteer, maar die deputasies was onsuksesvol. 2

Theopilus Shepstone.

Ongelukkigheid oor die anneksasie het egter opgebou. In Desember 1880 het dit tot ’n vergadering by Paardekraal gelei. Onder leiding van Paul Kruger het die Transvalers besluit om te veg vir hul vryheid. Dit het gelei tot die uitbreek van die Eerste Vryheidsoorlog. 2

Na die Britse anneksasie van die Transvaal. Soldate kyk hoe die vlag opgehys word.

Die oorlog het net ’n paar maande geduur. Die Boere het al die veldslae gewen. Die laaste was die Slag van Majuba waar die Boere die Britte oortuigend verslaan het. Volgens die Pretoriase Konvensie het Transvaal susereiniteit ontvang, waar hulle beheer sou hê oor hul binnelandse (maar nie buitelandse) sake. Die Boere was nie gelukkig hiermee nie, en in 1884 is die Konvensie van Londen geteken, waarvolgens Transvaal sy onafhanklikheid teruggekry het. 1

Die Slag van Majuba.

Die tydperk tussen 1881 en 1899

Die anneksasie was op administratiewe vlak goed vir die ZAR – die Britse regering het die finansiële en administratiewe aspekte van die regering verbeter. 2

Ná 1881 het Paul Kruger as leier en simbool van die Afrikaner na vore getree. Gedurende sy presidentskap, wat in 1883 begin het, het Transvaal uiteindelik die spoorlyn na Delagoabaai klaargemaak, iets wat ’n ideaal was vir die Transvalers. Daar is ook ander spoorlyne gebou. 1

Die ontdekking van goud

In 1886 het die koers van die ZAR se toekoms onomkeerbaar verander toe die rykste goudrif in die wêreld aan die Witwatersrand ontdek is. Daar het onmiddellik ’n dorp ontstaan – Johannesburg. Buite- en binnelanders het na die goudvelde gestroom. Dit was vir die ZAR ’n seën, maar ook ’n las. 1

Die arm Transvaal was nou skielik ryk. Vir die gewone mense was daar werkgeleenthede en markte vir hul landbouprodukte, en die regering het skielik ’n groot inkomste gehad. 1 Dit het die regering toegelaat om die infrastruktuur te verbeter: skole, paaie, brûe, spoorweë (om die stede met hawens te verbind) en telegraafverbindings is gebou en uitgebrei. 3

Aan die ander kant was daar nou ’n klomp buitelanders (uitlanders) binne Transvaal se grense. Hulle het nuwe opinies, kulturele gebruike en politieke idees gebring. Die myne en myndorpe het ongelukkig ook grootskaalse bevolkingsgroei, rasseskeiding, en probleme soos drankmisbruik, diefstal en prostitusie tot gevolg gehad. 3

Die goudvelde was ’n mengelmoes van mense: buitelanders, ongeskoolde Afrikaners (grootliks arm en wat meestal in die vervoerbedryf en steenmakery gewerk het), asook ongeskoolde swart werkers, Indiërs, bruin mense en Chinese. 3

Die Transvaalse regering het die goudvelde besonder goed bestuur, veral in lig van die feit dat Johannesburg so vinnig gegroei het. Daar was doeltreffende belastingreëls en mynbouregulasies. Kruger het ’n reeks monopolieë toegelaat wat pryse opgestoot het. Hy wou ook nie vir die uitlanders stemreg gee nie.

Hierdie uitlanderstemregkwessie en veral ander optredes en gebeure soos die Standplaasskandaal wat die delwers of mynwerkers benadeel het, het Kruger egter in ’n swakker lig gestel as wat die mense wou toegee of van geweet het. 1

In 1895 was die wit bevolking 245 000, waarvan 70 000 uitlanders (veral Engelse) was. Die swart bevolking was ongeveer 625 000.

Die politieke gevolge van die ontdekking van goud vir die swart gemeenskappe was nóg strenger onderwerping. Hulle is beskou as ’n bron van goedkoop arbeid. Daarom is hul politieke onafhanklikheid beëindig, die reservaatstelsel en beperkinge op swart mense se beweging uitgebrei, en belasting ingestel om hulle te forseer om te werk. 3

Die uitlandervraagstuk en Jameson-inval

Sommige uitlanders, waarvan die meeste Britse burgers was, het begin kla oor die manier hoe die Transvaalse regering hulle behandel. Kruger wou nie vir hulle stemreg gee nie omdat daar so baie van hulle was. In 1894 was daar 75 000 uitlanders teenoor 150 000 plaaslike burgers. Hy was bang dat hulle die politieke mag sou oorneem en Transvaal op ’n skinkbord vir Brittanje sou gee. 1

Cecil John Rhodes, 1899.

In 1895 het die uitlandervraagstuk uitgeloop op die Jameson-inval. ’n Groep mense, onder leiding van die eerste minister van die Kaapkolonie, Cecil John Rhodes, het saamgesweer om ’n opstand te bewerkstellig onder die uitlanders sodat hy kon ingryp en die Transvaalse regering kon oorneem. Die plan, wat bekendstaan as die Jameson-inval, het klaaglik misluk. 1

Dit het gelei tot die versuring van die Boere se verhouding met Brittanje. Dit het ook gelei tot ’n opwelling van Afrikanernasionalisme en ’n nouer band tussen die Vrystaat en Transvaal. 3

Sir Leander Starr Jameson, 1899.

Aanloop tot oorlog

In 1897 het sir Alfred Milner die Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika geword. Milner was bang dat die ZAR se ekonomiese mag sou veroorsaak dat die Boere, pleks van die Kaapkolonie wat onder Britse beheer was, die hele gebied waar Suid-Afrika vandag is, sou oorheers. Dit kon die Britte nie toelaat nie. Kruger was bekommerd oor Milner se houding, dus het hy begin om die ZAR te versterk. Hy het dit gedoen deur ’n bondgenootskap met die Vrystaat te sluit en ook om gewere en kanonne te begin invoer. Kruger het probeer om ’n oorlog te verhoed deur met Milner te onderhandel. Milner wou egter nie sy eise, soos stemreg vir die uitlanders, laat vaar nie. Dit was vir Kruger duidelik dat die Britte Transvaal wou oorneem. 2

Milner, 1897.

Die Anglo-Boereoorlog

Die Anglo-Boereoorlog het op 11 Oktober 1899 uitgebreek tussen Transvaal en Vrystaat aan die een kant en die Britte aan die ander kant. Die oorlog het op 31 Mei 1902 geëindig met die ondertekening van die Vrede van Vereeniging. Transvaal het die oorlog verloor. Die Britse beleid van ’n verskroeide aarde en konsentrasiekampe, en die Boere se beleid van ’n onverskrokke guerrillaoorlog, het gemaak dat die Boere met eer uit die stryd getree het. 1

Burgers in hulle kamp buite Ladysmith.
Melrosehuis waar die vredesverdrag onderteken is.

Die einde van die ZAR

Die ondertekening van die Vrede van Vereeniging aan die einde van die Anglo-Boereoorlog het amptelik Transvaal se onafhanklikheid beëindig. Transvaal het ’n kolonie van Brittanje geword, en sou een bly tot in 1910. Toe het Transvaal een van die provinsies van die Unie van Suid-Afrika geword, en Pretoria een van die hoofstede. Transvaalse leiers sou ook ’n leidende rol speel in die regering van die Unie van Suid-Afrika. 1

Woordbank

afgevaardigde Iemand wat deur ‘n groep gestuur is om hulle êrens te verteenwoordig.
beleër ‘n Stad/stat/vesting met ‘n leër/soldate omring om dit tot oorgawe te dwing.
burgeroorlog Oorlog tussen partye van een volk.
demokrasie ’n Land is ‘n demokrasie as sy hele bevolking die reg het om te stem.
deputasies Om iemand te stuur om jou te verteenwoordig.
Doppers Afrikaner wat die tradisionele Calvinistiese godsdiens en lewens- en wêreldbeskouing in ere hou; lid van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika; ook as eng en bekrompe/ konserwatief/preuts beskou.
ekonomie Die stelsel waarvolgens ‘n land se goedere vervaardig en geld gebruik word.
grondwet Die basiese stel wette waarvolgens ‘n land regeer word.
guerrillaoorlog Ongereelde oorlog onafhanklik gevoer deur afsonderlike troepeafdelings; oorlog by wyse van strooptogte, sabotasie, hinderlae, ens.
kommandant-generaal Die opperste bevelhebber van ‘n weermag.
konserwatiewe Wat nie hou van verandering of nuwe idees nie.
liberaal Bereid om ander mense se idees te aanvaar en te respekteer.
monopolieë ’n Reg wat ‘n maatskappy het om alleen met ‘n bepaalde produk handel te dryf.
nasionalisme Die begeerte van ‘n groep mense (van dieselfde volk/dieselfde taal, ens.) om hul eie, onafhanklike land te vorm.
onverskrokke Dapper, koelbloedig, kordaat, manhaftig, sonder vrees.
opstand Verset teen ‘n owerheid.
pas Verlofbrief, vrybrief om toegang tot sekere gebiede te beheer.
regulasies ’n Reël of voorskrif wat ‘n mens moet nakom.
reservate Gebied wat vir ‘n spesiale doel opsygesit word.
segregasie Apartheid, rasseskeiding, -verdeling; diskriminasie.
slaags geraak Veg, baklei, aanval, beveg, verdedig.
solvent In staat om sy geldelike verpligtings na te kom; in die besit van bates wat sy laste dek.
susereiniteit Opperheerskappy van ‘n staat oor ‘n gedeeltelike onafhanklike ander staat.
transportry Goedere vervoer.
uitgeloop As gevolg hê, lei tot.
uitgewyk Padgee; vlug, die hasepad kies; wegbeweeg, vertrek.
uitvloeisel Gevolg, resultaat; effek.
veldslae Geveg tussen twee groepe soldate
versuring Verbittering.
voortvarend Geneig om dinge vinnig/impulsief aan te pak, sonder om vooraf goed daaroor te dink.
yl Ver van mekaar.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié videos om meer te wete te kom

Só klink die volkslied van Transvaal (“Kent gij dat volk”)

Die Jameson-inval

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 4 Augustus 2022 | Bygewerk op 18 April 2024