Vinnige feite

  • Die woord Christus is afkomstig van die Griekse woord Christós wat weer afkomstig is van die Hebreeuse woord Mashiaḥ of Moshiach wat beteken ‘Gesalfde’ (Anointed One) of ‘Uitverkorene’ (Chosen One). Jesus Christus word dus ook die Messias genoem.
  • Deur stories (gelykenisse) het Jesus waarhede by die mense tuisgebring. Hy wou hê dat hulle die stories wat Hy vertel, moet onthou, verstaan en toepas.
  • Die Verenigde State van Amerika is die land waar die meeste Christene woon – ongeveer 250 miljoen, of sowat 80% van die totale bevolking.
  • Nadat Jesus aan die kruis gesterf het, het die gordyn (voorhangsel) wat in die tempel die allerheiligste van die heiligste geskei het, geskeur. Dít dui op die nuwe verbond wat Jesus se dood meebring deurdat Christene vrylik toegang tot God het en nie meer deur die hoëpriester, soos dit in die antieke tyd die gebruik was, met God hoef te praat of sonde te bely nie.
  • Jesus het twaalf dissipels gehad aan wie Hy sy leringe oorgedra het en wat hom bygestaan het in sy bediening op aarde. Sy laaste opdrag aan sy dissipels voordat Hy opgevaar het na die hemel, is dat hulle moet voortgaan om die evangelie te verkondig. In die 1983-vertaling staan daar in Matteus 28:19-20 geskryf: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Christene is mense wat glo in die boodskap en leringe van Jesus Christus. 1 Hulle is aanhangers van die Christelike godsdiens en behoort dus tot die Christelike geloof. As iemand aan die Christelike geloof behoort, word gesê dat hy of sy deel is van die Christendom en ook as Christen sy/haar Christenskap moet uitleef.

Die Christendom is die wêreld se grootste godsdienstige groep – ongeveer een derde van die algehele bevolking behoort tot hierdie groep. Dit is nagenoeg 2,2 miljard Christene. Hierdie geloof word in elke land in die wêreld aangetref. 2

Wat Christene glo

Christene glo in die leringe van Jesus Christus en probeer daarvolgens leef en handel. Jesus se leringe, asook ander gebeure en getuienisse, is opgeteken en bekend as die Bybel wat deur elke Christen as ’n handleiding en riglyn gelees en bestudeer word vir die toepassing van die Christelike geloof.

Jesus Christus is die Seun van God en is deel van die almagtige drie-enige God: die Vader, Seun en Heilige Gees. Jesus het ongeveer 2 000 jaar gelede as mens op die aarde gewoon. Die maagd, Maria, het geboorte geskenk aan Jesus nadat die engel Gabriël aan haar verskyn het om aan haar die nuus oor te dra dat God haar uitverkies het om Jesus se ma te wees.

Jesus het op die ouderdom van ongeveer dertig sy roeping op aarde begin uitleef deur mense te bedien met leringe uit die Skrif, gelykenisse, wonderwerke in die Naam van die Vader, duiweluitdrywing en die genesing van ’n menigte mense.

Ongeveer drie jaar later het Jesus aan die kruis gesterf en is begrawe. Maar ná drie dae het Hy opgestaan uit die dood, net soos die profete dit vooraf bekendgemaak het. Die kruisdood is die manier waarop Jesus verlossing vir die mensdom bewerkstellig het, wat beteken dat God die mens se sondes kan vergewe en hulle daarom nie as sondaars hoef te sterf nie, maar as vrygekooptes wat die ewige lewe kan beërwe. Christene glo aan die ewige lewe, die hemel, waarna Jesus opgevaar het ná sy opstanding om aan God se regterhand te heers.

Hierdie geloof is vir elke mens bedoel, ongeag ouderdom, ras of taal. Almal het die reg om Jesus aan te neem as persoonlike Saligmaker (Redder) en sodoende ’n Christen te word wat dan gesien word as God se kind en erfgenaam wat deel het aan sy koninkryk. Op grond van God se genade is dit ’n ope uitnodiging vir enige iemand om die Christelike geloof aan te neem, vergifnis vir sy sonde te ontvang en aanspraak te maak op die ewige lewe. 2

Liefde vir God, jou medemens en jouself, is die fondament van Christenskap. Christene glo in God se liefde vir sy kinders en streef daarna om sy liefde tasbaar teenoor hul naaste uit te leef. Hulle glo ook dat God vir elkeen van sy kinders ’n baie spesiale en unieke plan hier op aarde het om hul roeping (’n spesiale taak) ten volle uit te leef. Christene word toegerus met Godgegewe talente wat deur die Bybel as gawes van die Gees beskryf word. 2

Die Bybel

Die Bybel is ’n boek wat deur Christene gelees word waarin hulle leiding kry deur die Heilige Gees om hul Christenskap uit te leef. Die Bybel is deur God geïnspireer en die waarde en belangrikheid daarvan is om mense in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en die regte lewenswyse te kweek. 3

Die woord Bybel kom van die ou Egiptiese benaming vir die materiaal wat van die stam, en later die bas van ’n papirusplant, gemaak is. Hierdie materiaal wat in plat repe kruis en dwars oor- en aanmekaar geheg is, was die eerste soort skryfpapier. Later het die Grieke die woord biblio 4 (wat kom van die Griekse woord biblíon wat ‘boek’ beteken) gebruik.

Die Bybel is in ’n Ou en Nuwe Testament verdeel – testament dui op die woord verbond. Die Ou Testament bestaan uit 39 boeke en handel oor gebeure voor die koms van Jesus, terwyl die Nuwe Testament 27 boeke bevat en fokus op Jesus se tydperk op die aarde asook die leringe en handelinge van die eerste Christene nadat Jesus opgevaar het na die hemel. Die volledige Bybel is deur ongeveer 40 skrywers geskryf oor ’n tydperk van 1 500 jaar. Die Ou Testament is oorspronklik in Hebreeus en Aramees geskryf en die Nuwe Testament in Grieks.

Voor Johannes Gutenberg, 5 uitvinder en skepper van die drukpers op die toneel gekom het, is die Bybel met die hand oorgeskryf – eers op lang rolle (velle) en later op velle wat vierkantig gesny is en aan die een kant aanmekaar geheg is. So ’n handgeskrewe boek is ’n kodeks genoem.

Gutenberg het later sy pers gebruik om ‘n uitgawe van die Bybel te druk; hierdie Bybel is die eerste volledige bestaande boek in die Weste, en dit is een van die vroegste boeke wat met verskuifbare lettertipes gedruk is.

Die Bybel is later uit die oorspronklike tale vertaal sodat meer mense dit kon verstaan en in hul moedertaal kon lees. Die oudste vertaling waarvan ons vandag kennis dra, is die vertaling van die Ou Testament uit Hebreeus (en Aramees) in Grieks. Hierdie vertaling is ongeveer 250 v.C. in Alexandrië (Egipte) voltooi. Woorde en frases wat Jesus tydens sy tyd op aarde gebruik het, is in hierdie vertaling aangehaal. 6

Teen die 8ste eeu n.C. is die Bybel, of gedeeltes daarvan, reeds in sewe tale vertaal. Vandag is die volledige Bybel in meer as 704 tale vertaal en duisende mense wêreldwyd word deur die evangelie (afgelei van die Griekse woord euangelion 7 wat ‘goeie nuus’ beteken) bereik en verryk. 8

Gebruike wat deel vorm van Christenskap

Nagmaal

Nagmaal is ’n gebruik onder Christene waartydens wyn of druiwesap en brood geneem word as ’n sakrament (teken) van Christene se verbond met Jesus Christus. Die wyn of druiwesap is die teken van Jesus se bloed wat deur sy kruisdood mense simbolies reinig van hul sonde om vrygekoop in ’n lewende verhouding met Hom te staan. Deur die simbool van Jesus se bloed kan Christene Jesus vir liggaamlike genesing vertrou omdat daar deur sy wonde vir sy volgelinge genesing is. 9 Die brood is die teken van Jesus se liggaam wat vir Christene simbolies is van die brood van die lewe. 10

Doop

Wanneer iemand Jesus aanneem en ’n kind van God word, kies daardie persoon om met water gedoop te word. Doop word as teken gebruik om aan te dui dat iemand ’n nuwe mens word in Christus deur die sonde simbolies af te was. 11

Hierdie is ’n gebruik wat deur verskillende denominasies van kerke op verskillende maniere uitgevoer word. Hoewel babas nog nie self kan besluit of hulle Jesus wil aanneem nie, word hulle gedoop omdat die ouers die verbond erken en vir God liefhet. 12

Kerke en aanbidding

Die eerste kerke word in die Bybelboek van Handelinge beskryf. Deur al die jare het kerke afgestig en verskillende denominasies is gevorm. Hoewel die verskillende denominasies se kerke elk sy eie naam het, word die Christelike geloof steeds beoefen, maar met ’n verskil in gebruike soos of kinders of volwassenes gedoop word en hoe die gebruik van nagmaal aangewend word. (Hoe gereeld en op watter manier.)

Die drie-enige God word op Sondae in kerke aanbid deur lof- en aanbiddingsliedere. ’n Pastoor of predikant lewer ’n boodskap (preek) om die gemeente te leer en te bemoedig. Baie kerke het ook ’n spesiale kinderkerk, waarin die boodskappe en leringe van die Bybel op ’n makliker manier en met praktiese aktiwiteite aan kinders oorgedra word. 13

Aanbidding is deel van ’n Christen se daaglikse lewe waarvan gebed, die lees van die Bybel en lofprysing ’n belangrike rol speel. 9

Spesiale Dae

Kersfees

Kersfees is die herdenking van Jesus Christus se geboortedag. Dit is een van die belangrikste vierings op Christene se kalenders en hierdie herdenking val jaarliks op 25 Desember, hoewel dit nie die presiese datum is waarop Jesus gebore is nie. 9

Paasfees

Paasfees is die herdenking van Jesus se kruisiging, maar ook sy opstanding (ná drie dae) uit die dood. Gedurende hierdie tyd dink Christene met waardering en dankbaarheid terug aan die vrymaking van hul sonde danksy Jesus se koms na die aarde. Die fees staan ook as Goeie Vrydag en Opstandingssondag bekend en word gewoonlik in April gevier. 9

Woordbank

verbond ooreenkoms 1
kruisdood ’n Kruisdood is ’n antieke gebruik waarvolgens iemand gesterf het aan ’n kruis wat van hout aanmekaar gesit is. 14 Die beskuldigde wat aan ’n kruis moes sterf, is aangesien as ’n misdadiger wat in die openbaar verneder moes word. 2
evangelie Die evangelie is die geskrewe verhaal van Christus, opgeteken in die eerste vier boeke van die Nuwe Testament van die Bybel: Matteus, Markus, Lukas en Johannes. Die evangelie staan ook bekend as die leer van Christus – met ander woorde, om die evangelie te verkondig. 1
denominasies Klas, groep of kerkgenootskap 1

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 2 Desember 2021 | Bygewerk op 27 Maart 2024