Vinnige feite

  • Die Drommedaris en die Goede Hoope het Tafelbaai op 6 April 1652 binnegevaar en die Reijger op 7 April, die dag waarop Van Riebeeck die eerste keer aan land gegaan het.
  • Van Riebeeck het reeds vroeg begin vra dat amptenare van die VOC toegelaat word om te boer sodat hulle geld uit die boerdery kon verdien en ook kos aan die inwoners van die Kaap voorsien.
  • Van Riebeeck is in 1662 deur die VOC na Batavia verplaas en het die Kaap op 7 Mei op die skip Mars verlaat.
Foto: Shutterstock

Jan van Riebeeck was die stigter van die Nederlandse verversingspos in Tafelbaai in 1652. Hy kan beskou word as die vader van die volksplanting in Suid-Afrika, maar sy eerste besoek aan die Kaap was eintlik heel toevallig (kyk onder Loopbaan).

Biografiese gegewens

Volle naam: Johan (Jan) Anthoniszoon van Riebeeck.

Geboortedatum: 21 April 1619.

Geboorteplek: Culemborg in Gelderland, Nederland.

Huwelik: Op 28 Maart 1649 is hy in die huwelik bevestig met Maria de la Queillerie (1629-1664), die dogter van ʼn predikant.

Oorlede: 18 Januarie 1677.

Loopbaan

Op 19 April 1639 het Van Riebeeck as chirurg in diens van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) na die Ooste vertrek. Die skip waarin hy gereis het, het in Julie 1639 langs die kus van Sierra Leone gestrand, maar hy is ses maande later saam met die oorlewende bemanningslede deur ander VOC-skepe opgelaai. 1

Maria van Riebeeck
Met sy aankoms in Batavia, die hoofstad van die toe Nederlandse Oos-Indië, in Julie 1640 is Van Riebeeck as klerk in die VOC-sekretariaat aangestel. In 1642 was hy die sekretaris van ʼn gesantskap wat na Atjeh, ’n provinsie van die eiland Soematra, gestuur is.

Die volgende jaar is hy met die rang van onderkoopman na die VOC-handelspos op die Japanse eiland Dedjima gestuur. Aan die einde van 1644 is hy aangestel as waarnemende hoof van die handelspos in Tonkin in Indo-China, waar hy in 1646 bevorder is tot die rang van koopman. 1

In 1647 is Van Riebeeck en ʼn paar ander koopmans in die Ooste deur die goewerneur-generaal van Batavia van privaathandel beskuldig en hy is na Batavia ontbied. Hy is nie op al die aanklagte teen hom skuldig bevind nie en het sy rang en salaris behou toe hy na Nederland teruggestuur is.

Ruilhandel

Die skip waarmee Van Riebeeck na Nederland gereis het, die Coninck van Pole, was deel van ’n vloot skepe wat in Maart 1648 die bemanning van die gestrande Nieuwe Haerlem in Tafelbaai opgelaai het. By dié geleentheid was Van Riebeeck vir 18 dae in die Kaap. 1

Toe dit later bekend word dat die bewindhebbers van die VOC beplan om ʼn verversingspos aan die Kaap te stig, het Van Riebeeck sy dienste as hoof van die onderneming aangebied. Hy is met ʼn salaris van 75 gulde per maand en die rang van koopman as hoof, of kommandeur, van die verversingspos aangestel. 1

Stigting van die verversingspos

Op 24 Desember 1651 het die Drommedaris, die Reijger en die Goede Hoope uit die hawe van Texel in Nederland gevaar. Die ander twee skepe, die Walvis en die Oliphant, was te swaar gelaai en het eers later vertrek. Die Drommedaris en die Goede Hoope het Tafelbaai op 6 April 1652 binnegevaar en die Reijger op 7 April, die dag waarop Van Riebeeck die eerste keer aan land gegaan het. Die Oliphant en die Walvis het hul bestemming eers op 7 Mei bereik. 1

Drommedaris
Tafelbaai, 1683

Van Riebeeck se opdragte

  • Bou ’n fort groot genoeg vir ongeveer 80 mense.
  • Plant vrugtebome en voedselgewasse.
  • Ruil vee met die Khoi-Khoi.
  • Maak die verversingspos selfversorgend en hou onkostes so min as moontlik.
  • Bou ’n mas waarmee seine na skepe gestuur kon word om hulle veilig die baai te laat binnevaar.
Tafelbaai, ongeveer 1660

Negentig mense, onder wie 15 vroue en kinders, het saam met Van Riebeeck aan die Kaap agtergebly. Dié mense was amptenare, nie boere nie, en nóg Van Riebeeck nóg die VOC het op hierdie stadium daaraan gedink om van die Kaap ’n kolonie te maak. 1

Die bou van die fort

Bouwerk aan die fort het op 10 April 1652 begin. Mense wat kon bou was skaars en die fort is eers aan die einde van 1653 voltooi. Die sieketrooster het reeds op 4 Junie 1652, twee dae voor die geboorte van sy seun, toestemming ontvang om met sy gesin in die fort te begin woon.

Die fort is Goede Hoope genoem en die vier hoeke van die fort is na die vier ander skepe in die stigtingsvloot vernoem.

Swaar reëns het dele van die fort kort-kort laat instort en in Junie 1655 het Van Riebeeck self erken dat dit besig was om te verbrokkel en verstewig moes word. Vir die VOC was dit egter belangriker dat hulle wins uit die verversingspos moes maak as om in vredestyd ’n fort te laat oorbou. 1

Probleme in die Kaap

Teen die einde van 1652 was daar reeds ʼn goed gevestigde tuin en vee is by die Khoi-Khoi geruil. Toe die eerste retoervloot uit Batavia in Maart 1653 in die Kaap aankom, kon Van Riebeeck aan hulle genoeg vars voorrade verskaf. 2

Van Riebeeck se fort en tuine, ongeveer 1660

Daar was egter net te veel probleme om die Kaap selfversorgend te maak:

  • Die eerste koringlande is deur die wind verniel.
  • Hulle kon nie daarin slaag om rys te kweek nie en groot hoeveelhede rys moes daarom ingevoer word.
  • Die uitvoer van robbevelle was onsuksesvol.
  • Geen minerale rykdomme is in die Kaap gevind nie.
  • Die amptenare wou nie ekstra werk doen sonder om iets in ruil daarvoor te kry nie.
  • Daar was probleme met die plaaslike Khoi-Khoi wat vee gesteel het. 3
Jan van Riebeeck se landing (voorstelling)

Vryburgers

Van Riebeeck het reeds vroeg begin vra dat amptenare van die VOC toegelaat word om te boer sodat hulle geld uit die boerdery kon verdien en ook kos aan die inwoners van die Kaap voorsien. Omdat die inwoners van die Kaap al hoe meer geword het, het die VOC na sy voorstelle begin luister. 3

In ʼn brief gedateer 12 Oktober 1656 het die VOC hom opdrag gegee om agt tot tien mans vry te stel en te laat boer. Hulle het gehoop dat dit sou help om die Kaap selfversorgend te maak. In Februarie 1657 het Van Riebeeck nege vrybriewe uitgereik. Dit het beteken dat die amptenare vrygestel is van hul pligte en nou “vryburgers” genoem is. Hierdie vryburgers het elkeen ʼn stuk grond aan die oewer van die Liesbeeckrivier ontvang, in ’n gebied toe genaamd Amstel. Die vryburgers moes hul produkte teen ʼn vasgestelde prys aan die VOC verkoop. Hierdie produkte moes voedsel verskaf aan die mense in die Kaap asook aan die skepe wat by die Kaap verbygevaar het. 3

Produkte wat oorgebly het, kon hulle onder mekaar verkoop of uitvoer. Hulle kon hul inkomste aanvul deur jag, visvang, biermakery en deur varke en pluimvee aan te hou. Teen 1658 was daar reeds 15 vryburgers.

Die uitreiking van die vrybriewe was ʼn belangrike gebeurtenis in die geskiedenis van Suid-Afrika omdat die aard van die verversingspos daardeur verander is. Dit was die begin van ʼn permanente wit bevolking aan die Kaap. Hul getalle het toegeneem en dit het nodig geraak om die gebied waarin hulle gewoon het, uit te brei. Vryburgers is uiteindelik ook toegelaat om ander soort werk buiten boerdery te doen. Sommige was vakmanne, ander entrepreneurs en professionele persone. Teen 1702 was daar 1 368 vryburgers. 3

Die instelling van vryburgers het beteken dat die samestelling van die Kaap se bestuursliggaam, die Politieke Raad, ook moes verander en vryburgers insluit. Steven Jansz van Wageningen en Hendrik Boom was die eerste twee vryburgers in hierdie raad. 4

Van die vryburgers het naderhand ongelukkig geraak omdat hulle tevrede moes wees met die lae pryse wat hulle vir hul produkte betaal is. Later is hulle ook verbied om hul produkte aan skepe en die Khoi-Khoi te verkoop. Van Riebeeck was in ’n moeilike posisie. Hy het geweet dat die vryburgers nie altyd reg behandel is nie, maar hy moes ook die opdragte van die VOC uitvoer. 4

Dagboekinskrywing

Botsings tussen vryburgers en Khoi-Khoi

Van Riebeeck het kort ná sy aankoms in die Kaap met die Khoi-Khoi begin handel dryf. Daar het egter konflik ontstaan omdat groepe van die Khoi-Khoi begin het om vee en gereedskap van die nedersetting te steel. Van Riebeeck het die probleem probeer oplos deur die strydende groepe fisies van mekaar te probeer skei deur ’n heining tussen hulle op te rig.

Toe Van Riebeeck begin om vee en ander boerderyprodukte van die vryburgers te koop, het die konflik tussen die Khoi-Khoi en die vryburgers vererger. Die handel met die vryburgers het die inkomste van die Khoi-Khoi verminder. Die Khoi-Khoi het ook gevoel hulle kon nie meer soos voorheen oral rondtrek nie omdat vryburgers nou op van die grond geboer het.

Nadat een van die vryburgers deur die Khoi-Khoi vermoor is, het botsings ontstaan wat eers in April 1660 beëindig is. 4

Kaapse Khoi, 1657

Van Riebeeck vertrek uit die Kaap

Van Riebeeck is in 1662 deur die VOC na Batavia verplaas en het die Kaap op 7 Mei op die skip Mars verlaat. In November 1665 het hy die pos van sekretaris van die Raad van Indië aanvaar en het hierdie pos tot en met sy dood op 18 Januarie 1677 beklee.

Wat het Van Riebeeck vir die Kaap beteken?

Daar is verskillende menings oor wat Van Riebeeck vir die nedersetting aan die Kaap beteken het. Sommige navorsers is krities oor wat hy gedoen het, terwyl ander positiewe dinge oor hom sê.
Gedurende sy tien jaar in diens van die VOC in die Kaap, was hy ’n getroue amptenaar. In moeilike en vreemde omstandighede het hy gewys dat hy kon aanpas en hy was ’n goeie onderhandelaar. Hy het landbou aan die Kaap bevorder en die mense wat ná hom gekom het, is daardeur bevoordeel. 4

Kaapkolonie, ongeveer 1690

Woordbank

vryburgers Wanneer ’n amptenaar van die VOC toestemming gegee is om nie meer sy gewone pligte te doen nie, maar te begin boer vir sy eie inkomste. 5
entrepreneurs Iemand wat sy of haar eie besigheid/onderneming begin. 5
Khoi-Khoi Hierdie twee name word albei deur skrywers gebruik. Sommige skrywers gebruik ook net die benaming Khoi. 5
privaathandel Wanneer ’n persoon wat ’n salaris ontvang teen die reëls van die werkgewer sy of haar inkomste aanvul deur privaat handel te dryf. 5

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video om nog meer te leer

Ons geskiedenis in ‘n skatkis

Foto: iStockFoto: iStockvFoto: iStock
Gepubliseer op: 3 November 2021 | Bygewerk op 5 Maart 2024