Vinnige feite

Britse oorwinning in Saldanhabaai, 1796
  • Die Kaap is in 1806 deur die Britse regering oorgeneem.
  • Brittanje se mense wat in die Kaap regeer het, is goewerneurs
  • Generaal David Baird was die eerste waarnemende goewerneur.
  • Sommige van hierdie goewerneurs het probeer om die inwoners van die Kaapkolonie te laat verengels.
  • John Molteno was die eerste premier van die Kaap.
Foto: iStock

Tussen 1806 en 1872 word die Kaap ʼn Britse Kolonie of Kroonkolonie genoem. (Kroonkolonie verwys natuurlik na die Britse kroon.)

Rede vir oorname

Die Kaap is in 1806 deur die Britse regering oorgeneem. Die Kaap was op hierdie stadium ekonomies en staatkundig nie in ʼn goeie posisie nie; daar was byvoorbeeld geen uitvoerprodukte nie. Volgens Brittanje se handelsbeleid is kolonies slegs gestig om Brittanje self te bevoordeel. Die Kaap was dus vir Brittanje waardeloos op handelsgebied. Die enigste rede vir die anneksasie (gewelddadige inlywing van die land) was omdat Brittanje in die hawens belanggestel het.

Brittanje wou beheer oor die Tafelbaai- en Simonsbaai-hawens kry. So sou hulle kon keer dat ander lande toegang tot geriewe in die Kaapse binneland kon kry. Brittanje het die Kaap slegs as ʼn poort op die pad na Indië beskou en het nie belanggestel om geld te spandeer om die Kaapse binneland te ontwikkel nie. 1 2

Bestuur

Al die mag is in die hande van die goewerneur geplaas – hy moes gewoonlik die opdragte van die Britse regering uitvoer, sonder dat hy sy eie besluite kon neem. Omdat hy nie na die mening van die plaaslike bevolking kon luister nie, was die bevolking baie ontevrede met die Britse owerheid. Dit was die belangrikste oorsaak van die latere Groot Trek uit die Kaap uit. 1

Sedert 1834 het die koloniste (inwoners van die Kaap) geleidelik meer invloed in hulle eie bestuursake gekry, maar die Britse regering se groot invloed op plaaslike wetgewing het eers in 1872 verdwyn.

Goewerneurs wat in die Kaapkolonie geregeer het

Generaal David Baird

Generaal Baird was waarnemende goewerneur. Hy het twee belangrike doelstellings gehad:

Hy moes die kolonie beveilig teen die moontlikheid dat die Franse die Kaap sou wou beset.

Hy moes ook siviele sake in die kolonie ordelik bestuur.2

Graaf James Caledon

In 1807 het graaf James Caledon goewerneur geword. Caledon het die ses distrikte na nege vermeerder. Die nuwe distrikte wat hy gestig het, was Caledon, George en Clanwilliam. In 1811 het hy ook ʼn rondgaande hof ingestel wat in die platteland gereis het om sake te verhoor.1 2

Sir John Cradock

In 1811 is Caledon deur die militaris sir John Cradock opgevolg. Hy het ʼn streng beleid op die Oosgrens gevoer en ook die Vierde Grensoorlog georganiseer. Goewerneur Cradock het probeer om veediefstalle te verminder, en hy het ook probeer om die skeiding tussen die blanke bevolking en die Xhosas te verseker. Filantropiese groepe het sy metodes gekritiseer omdat hulle dit as onmenslik teenoor die Xhosas beskou het. 1 2

Lord Charles Somerset

In 1814 is Cradock deur lord Charles Somerset (aan die bewind van 1814 tot 1826) opgevolg. Die outokratiese optrede van die baie konserwatiewe Somerset het hom in botsing met die Britse immigrante/setlaars wat in 1820 in die Oosgrens-distrikte gevestig is, gebring. Hulle het klagtes na Londen gestuur wat veroorsaak het dat die goewerneur se magte verminder is. In 1825 is ʼn Adviesraad ingestel. Hierdie raad het uit amptenare wat net raadgewende magte gehad het, bestaan. Somerset is in 1826 na Brittanje teruggeroep en is deur Richard Bourke vervang. 1

Sir Benjamin D’Urban

In 1834 is sir Benjamin D’Urban as goewerneur aangestel. Daar was nou ʼn Uitvoerende Raad en ʼn Wetgewende Raad wat uit vier amptenare bestaan het. Daar was ook vyf tot sewe koloniste – wat deur die goewerneur benoem is – in hierdie twee rade.1

Sir Harry Smith

In 1836 is munisipale rade ingestel. Beaufort-Wes was die eerste dorp waar só ʼn raad in 1837 ingestel is. Goewerneur sir Harry Smith (aan die bewind van 1847 tot 1852) het opdrag ontvang om te sorg dat koloniste meer beheer oor hulle eie landsbestuur moes ontvang. 1

Henry Darling

Op 30 Junie 1854 het waarnemende goewerneur Henry Darling die eerste Kaapse parlement geopen. Daar was nou vir die eerste keer ʼn Wetgewende Raad en ʼn Wetgewende Vergadering in die Kaapkolonie:

Wetgewende Raad: Die hoofregter en 15 lede (agt vir die Westelike Provinsie en sewe vir die Oostelike Provinsie) wat vir 10 jaar verkies is.

Wetgewende Vergadering: Dié Vergadering bestaan uit 46 lede wat vir vyf jaar verkies is. Alle manlike Britse onderdane bó 21 het stemreg gehad. 1

Sir George Grey

Sir George Grey het in 1854 goewerneur van die Kaap en Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika geword. Grey se opdrag van die Britse regering was om die Kaap selfonderhoudend te maak, te sorg dat die Kaap homself teen aanvalle kan verdedig, vrede onder die inboorlinge te bewaar, toesig oor Natal te hou en vriendskapsbetrekkinge met die twee Boererepublieke te handhaaf.

Positiewe dinge wat Grey tydens sy beheersing gedoen het, is soos volg: 1

Spoorlyn vanaf Kaapstad na Wellington
  • In 1859 is die bou van die eerste spoorlyn begin, en dit is in 1863 tot op Wellington voltooi.
  • Nuwe paaie is gebou, en die bestaande paaie is beter in stand gehou.
  • Daar is begin met die bou van ʼn hawe by Oos-Londen en ʼn seehoof vir die Kaapse hawe.
  • In 1857 het hy die Eksamenraad gestig, waaruit die Universiteit van Kaapstad later ontstaan het.
  • Hy het ʼn waardevolle Africana-versameling aan die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad geskenk.
  • Hy het fondse beskikbaar gestel vir die stigting van Grey Kollege in Bloemfontein.
  • Hy het die eerste hospitaal vir die swart bevolkingsgroep – Grey Hospitaal by King William’s Town – gestig.
  • Hy het verskeie nywerheidskole gestig.

Sir Philip Wodehouse

Wodehouse (1811-1887) het Grey in Januarie 1862 opgevolg. Hy het sommer dadelik groot probleme gehad: Daar was ekonomiese depressie en groot staatskuld, en die Oostelike Provinsie wou ook onafhanklik wees van die Kaapprovinsie. Wodehouse het kort-kort met die parlement gebots, en hy is in 1870 deur sir Henry Barkly vervang. 1

Sir Henry Barkly

Barkly wou sorg dat die Kaapkolonie homself moes regeer. Die ekonomie van die Kaap het in hierdie tyd ook verbeter met ʼn goeie mark vir wol en volstruisvere, asook die ontdekking van diamante.

Beleid van verengelsing

Ná Brittanje in 1806 vir die tweede keer die bewind aan die Kaap oorgeneem het, probeer goewerneurs Caledon, Cradock en Somerset op verskillende maniere om te sorg dat die plaaslike bevolking Engels leer praat en skryf.

Hierdie beleid het die volgende ingesluit: 1

  • Engelse amptenare is aangestel.
  • Skotse Presbiteriaanse predikante is ingevoer.
  • Engelse en Skotse onderwysers is ingevoer.
  • In 1822 is gratis staatskole gestig, waar onderwys slegs in Engels aangebied sou word.
  • Vanaf 1 Januarie 1823 kon korrespondensie met die koloniale sekretaris slegs in Engels gevoer word.
  • Vanaf 1 Januarie 1827 sou Engels die enigste taal wees wat in die howe gebruik word.
Perdewa

In 1825 is die Hollandse geldstelsel van riksdaalders en stuiwers deur een van Engelse ponde, sjielings en pennies vervang.

Ten spyte van al hierdie pogings het Brittanje se goewerneurs nie daarin geslaag om die Afrikaanssprekende bevolking werklik te laat verengels nie. Veral in die binneland waar die bevolking min met die owerheid in aanraking gekom het, het die meeste Afrikaners aan hulle taal getrou gebly. Dit was veral in die kerk waar Afrikaans-Hollands voortgeleef het: In 1849 het die kerk sy eie blad, De Kerkbode, uitgegee, en in 1859 is daar ook ʼn teologiese opleidingsinstansie in Stellenbosch gestig. 1 2

Grensboere ontmoet Britse setlaars, 1820

Die grondwet van die Kaapkolonie

In 1872 is ʼn grondwet saamgestel waarmee die Kaapkolonie homself kon regeer. Die goewerneur was van toe af slegs ʼn verteenwoordiger van die Britse regering en moes met die goedkeuring van die plaaslike ministers optree. Die eerste kabinet is op 1 Desember 1872 saamgestel, met John Molteno as premier.1

Kaapse parlement, ongeveer 1872

Slawe

Daar is van die begin af slawe in die Kaap gebruik. In Kaapstad self het manlike slawe in groentetuine gewerk. Op die plase het hulle in wingerde en op die landerye gewerk. Die vroue het as kokke en kinderoppassers gewerk. Slawe se kinders was speelmaats vir hulle meesters (eienaars) se kinders.

Vinnige feite oor slawe

Tussen 1652 en 1808 is ongeveer 63 000 slawe na die Kaap ingevoer. Hierdie slawe het vanaf Afrika, Madagaskar, Indië en Indonesië gekom. 1

Denemarke was die eerste land wat slawehandel verbied het (1792). In Brittanje is die Society for Effecting the Abolition of the Slave Trade gestig (1787). Hierdie organisasie het soveel invloed gehad dat slawehandel in 1807 in die Britse Ryk afgeskaf is. 1

Moslem-slawe

Slawe is tydens veilings op Kerkplein (Kaapstad) verkoop. 3

Vanaf 1823 is ʼn reeks regulasies ingestel om slawe te beskerm. Slawe mag van toe af net vir 12 ure in die somer en vir 10 ure in die winter gewerk het. 2

In 1833 is wetgewing ingestel wat bepaal het dat alle slawe in die Kaap vanaf 1 Desember 1834 vry sou wees. 1

Khoi

Die posisie van die Khoi – wat inheemse inwoners was – het van die van die slawe verskil. Aan die begin van die 19de eeu het die meeste Khoi in die Kaap reeds nie meer in stamme saamgewoon nie, maar het as arbeiders tussen die wit bevolkingsgroepe gewoon. 1 2

Goewerneur Caledon het in 1809 ʼn proklamasie uitgevaardig wat bepaal het dat Khoi ʼn vaste woonplek moes hê en dat hulle slegs met ʼn pas van een plek na ander kon trek. Vervolgens het goewerneur Cradock in 1812 die inboekstelsel ingevoer. Dit het bepaal dat Khoi-kinders wat tot hul agste jaar op ʼn boer se plaas gewoon het, 10 jaar lank by die boer ingeboek word. Sendelinge het nie hierdie inboekstelsel goedgekeur nie omdat hulle dit as bedekte slawerny gesien het. In 1828 is alle bestaande wetgewing ten opsigte van die Khoi opgehef, en hulle is op gelyke voet met die wit bevolkingsgroep geplaas. 1 2

Verwesterse Khoi

Kolonialisme

Kolonialisme vind plaas wanneer groot en invloedryke lande kleiner lande op ander plekke in die wêreld begin beheer. Europese lande wat lande ver van hulle eie grense af só oorgeneem en beheer het, was onder andere Spanje, Portugal, Brittanje, Frankryk en Nederland. Die kleiner lande of kolonies is dan op alle vlakke van die samelewing oorheers. Hulle moes ook hulle grondstowwe en landbouprodukte aan die koloniale owerheid (die land wat hulle beheer het) afstaan.
Grahamstad in die 1830’s

Woordbank

kolonies ʼn Land wat deur ʼn groter land oorgeneem is, is dan ʼn kolonie van die groter land genoem. 4
koloniste Inwoners van die land wat ʼn kolonie van ʼn groter land was.
goewerneur Die titel wat gebruik is vir die regeerders uit Brittanje wat in die Kaap geregeer het.
filantropiese Iemand wat die lyding en armoede van ander probeer versag, veral deur liefdadigheid.
Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 6 Oktober 2021 | Bygewerk op 7 Maart 2024