Vinnige feite

Herboude kerk van Kaapstad ingewy (later die Groote Kerk genoem)
  • Die eerste tak van die Afrikanerbond is op 16 Junie 1880 in distrik Hopetown gestig. 6
  • Die Afrikanerbond was een van die eerste georganiseerde politieke partye van enige bevolkingsgroep in die Kaapkolonie. 9 In hierdie opsig was die Afrikaners in die Kaapkolonie die Engelse ver voor. 4
  • Toe die Bond ná 1881 so vinnig gegroei het, het Du Toit verklaar: “Op Amajuba het die Afrikanerbond wortel geskiet.” 6
  • Ná die 1890-verkiesing moes óf Rhodes óf Hofmeyr die eerste minister wees. Hofmeyr het geweier. Rhodes het verkies om onder Hofmeyr te dien, maar het toe maar ingestem. 1 Hofmeyr is inderdaad menige kere gevra om die eerste minister te wees, maar hy het dit elke keer van die hand gewys. 5
  • Hofmeyr se huis in Kampstraat, Kaapstad, is soms die Withuis genoem, en was die Bond se hoofkwartier. Merriman het in 1884 gesê: “Die Withuis is die arbiter van ons lot.” 4

In 1872 het Brittanje vir die Kaapkolonie verantwoordelike regering gegee, met ander woorde die mense in die regering was nou Kapenaars, en nie Britte nie. 1 Al was daar meer Afrikaanssprekende as Engelssprekende inwoners in die Kaap, het Engelssprekendes die regering oorheers. In die 1880s het daar organisasies ontstaan wat begin het om vir Afrikaners se belange te veg. Die invloedrykste van hierdie organisasies was die Afrikanerbond (AB).

Die Afrikanerbond is ‘n politieke organisasie uit die negentiende eeu. Dit moet nie verwar met vandag se Afrikanerbond, wat ontstaan het uit die Afrikaner Broederbond, nie.

Oorsprong

Daar was ’n paar faktore wat gelei het tot die stigting van die Afrikanerbond.

Die Britse anneksasie van Transvaal in 1877 het nasionalisme onder Kaapse Afrikaners laat opleef, en baie van hulle het gevoel dat daar sterker teen Britse imperialisme  geveg moes word. 1 [Lees hier oor nasionalisme]

Die amptelike taal van die staat, in die regering en die skole, was Engels. Afrikaanssprekendes was dus uitgesluit. Baie Afrikaners het inderdaad opgehou Afrikaans of Hollands praat en het heeltemal verengels. 1

Twee organisasies is gestig om Afrikaners se belange te bevorder: Die Zuid-Afrikaansche Boeren Beschermings Vereeniging (BBV) en die Afrikanerbond.

In die 1870’s het Jan Hofmeyr (“Onze Jan”), die redakteur van die tydskrif De Zuid-Afrikaan, 1 die BBV gestig. 2 Dit was ’n organisasie wat die ekonomiese belange van Kaapse boere wou beskerm. 1 Die idee was dat hulle hul ekonomiese belange kon bevorder deur polities saam te staan. 3

Jan Hofmeyr

Hofmeyr was nie ’n Afrikaner-nasionalis nie, en wou Afrikaners en Engelssprekendes saambind. Hy wou wel die Afrikanerkultuur beskerm en meer Hollandse taalregte hê, én hy was gekant teen Britse anneksasie van Transvaal in 1877. Hy het egter geglo Kapenaars moes lojaal aan Brittanje bly. 4

Die BBV het in 1879 aan die verkiesing deelgeneem en heelwat setels gewen. 4 In die Kaapse parlement kon hulle op georganiseerde wyse vir hul regte opgestaan het. 5

Die stigter van die Afrikanerbond was S.J. du Toit, wat vroeër ’n stigterslid van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) was – ’n groep wat Afrikaanse taal en letterkunde wou bevorder. Hul koerant, Die Afrikaanse Patriot, het Afrikaans as taal voorgestaan. 1

Stephanus Jacobus du Toit

Du Toit het besef dat daar meer as ’n taalgenootskap nodig was om taalregte te verkry. Belangrike besluite is gemaak deur politieke leiers en dus was politieke mag nodig. 6

‘n Uitgawe van Die Afrikaanse Patriot

In 1879 en 1880 het hy die Afrikanerbond gestig, met takke in die Kaapkolonie en enkeles in die Boererepublieke (Transvaal en Vrystaat). 2 Hy het die Bond, soos wat mense daarna verwys het, beskryf as ’n organisasie “waar almal wat Afrika as hul vaderland erken, saam kan woon en werk as broers van een huis, of hulle Engels, Hollands, Frans of Duits is…” 4 Du Toit was ’n nasionalis en populis. Hy wou ’n verenigde Suid-Afrika hê, onder Afrikaner beheer en vry van Britse imperialisme. 1

Die Bond het ’n stadige begin gehad, maar die opwelling van volksgevoel ná die Boere se oorwinning oor die Britte by die Slag van Majuba in 1881 het lidmaatskap laat ontplof. 4 Die Bond het gou die grootste party in die Kaapse parlement geword. 3

Slag van Majuba

Die vroeë populariteit van die Afrikanerbond was ’n goeie aanduiding van die opkoms van Afrikanernasionalisme. 7

Die Bond se doelwitte was die opvoeding van Afrikaners, om te probeer keer dat Afrika se belange vir Brittanje s’n opgeoffer word, en dat die Kaapse ekonomie nie deur Engelse banke oorheers sou word nie. 4

Samesmelting, 1883

Daar was kompetisie tussen die BBV en die Bond, veral in die Wes-Kaap. 1 Die BBV was meestal ekonomies, die Afrikanerbond polities, maar hul belange het oorvleuel, en die leiers het mekaar teengestaan. Hulle het hemelsbreed verskil: Hofmeyr wou nie lei deur vooruit te stap nie, maar wou op die agtergrond bly en die sake van daar af reël. Du Toit wou lei van voor af. Hy en Hofmeyr kon nie leierskap gedeel het nie. 8

Geesdrif vir die BBV het egter stadig begin kwyn, 2 terwyl die Bond gegroei het. Daar was in 1881 so baie Bond-takke in die Vrystaat dat hulle ’n kongres gehou het met die bekende regter F.W. Reitz as voorsitter. 1

F.W. Reitz

In 1882 het Du Toit Transvaal toe getrek. In 1882 is konferensies gehou waar lede van beide verenigings samesmelting bespreek het. Hofmeyr het gedink dat hy die Bond sou kon gebruik om die Afrikanergemeenskap te mobiliseer om vir hulle belange te veg. 4 Daar was egter konflik tussen die Bond en die BBV-lede. Hofmeyr het dus besluit dat dit beter sou wees as hy ’n lid van die Bond was. Hy het ’n tak van die Bond in Kaapstad gestig, sodat hy as lid van die Bond die organisasie kon oorneem en beheer. 1

In 1882 by ’n konferensie in Cradock is die idee van samesmelting aanvaar en hulle het besluit om ’n grondwet op te stel wat by ’n volgende konferensie aanvaar sou word. 1 Hofmeyr het ’n toespraak gehou waarin hy sy standpunte uiteengesit het: die Bond sou nie aan die leiband van die Britte loop nie, maar daar was ook nie sprake van wegkom van Britse gesag af nie. Hy wou ook één nasie skep, waar Engelse en Hollandse belange kon saamsmelt. 8

Die samesmeltingskongres is gehou in Richmond in Mei 1883. 1 Altesaam 116 takke van die Bond en 16 takke van die BBV het saamgesmelt. 6 Die BBV het gevolglik ontbind. Die nuwe grondwet is aanvaar, 1 en Hofmeyr is as leier verkies. 2 Die naam Afrikanerbond is gehou, maar dit was eintlik ’n nuwe politieke organisasie, met nuwe doelstellings. 8

Die ‘nuwe’ Afrikanerbond

Ná Du Toit se vertrek kon Hofmeyr die vertroue van die meerderheid Kaapse Afrikaners wen, en onder sy leiding het die Bond ’n kragtige politieke organisasie geword. 8

By Richmond is die volgende besluit: “Die Bond … beskou dat almal, van waar af hulle ook kom, wat Suid-Afrika se welvaart hoog ag, daartoe behoort.” 5 Die Bond het dus gefokus op ’n wyer nasionalisme wat ook Engelssprekendes ingesluit het. 9 Hulle wou lede van alle groepe lok: Afrikaner én Engelsman, boer én besigheidsman. 3 Hulle wou Afrikaners dwarsoor Suid-Afrika saamsnoer, 10 maar hulle het hulle nie beywer vir onafhanklikheid van Brittanje nie. 6

Hofmeyr was baie gematig. Hy het met die Boere geïdentifiseer, maar terselfdertyd was hy baie gesteld op lojaliteit teenoor Brittanje. 1 By die samesmelting is lojaliteit aan die Britse kroon bewys toe drie hoera’s vir “Our Honourable Queen” met groot entoesiasme uitgeroep is. 4 Koningin Victoria was toe die koningin van Engeland.

Koningin Victoria

Die Bond se werksaamhede in die Kaapkolonie, 1880-1890

Alhoewel daar genoeg Afrikaners was om ’n meerderheid in die regering te hê, was Hofmeyr tevrede dat die Britse minderheid die regering beheer het, solank die regering die belange van Afrikaners beskerm het. 8 Die Bond se plan was om die regering te beïnvloed deur lede van die Bond in die parlement te hê. 1

Alhoewel die Bond se beleid nie altyd duidelik of oortuigend was nie, het hulle hul tog beywer vir ’n paar sake: die beskerming van boere se belange, godsdiens in skole, beskerming van wit kiesers teen swart kiesers, 5 en taal en kultuurkwessies. 1

Die Bond het eerste ministers ondersteun wat die Bond se belange vooropgestel het, en het hul ondersteuning onttrek wanneer iets nie in hul doelstellings ingepas het nie. 5 Hulle het vir sir Thomas Charles Scanlen as eerste minister ondersteun, 5 en gedurende sy bewind (1881-1884) is ’n wet aanvaar wat Hollands as amptelike taal naas Engels erken het. 10 Belasting op brandewyn is ook laat vaar. 1

In 1884 was hulle egter ongelukkig met die Scanlen-regering se grensbeleid, 5 en hulle het hul ondersteuning onttrek. Scanlen moes as gevolg daarvan bedank en hy is vervang deur sir Thomas Upington, eerste minister tussen 1884 en 1886, en ’n bondgenoot van die Bond. Die Bond het vir Upington en sy opvolger, sir Gordon Sprigg (eerste minister tussen 1886 en 1890), ondersteun, onder meer as gevolg van hul beleide oor doeane en spoorweë, wat Kaapse boere en handel beskerm het teen die Transvaal. 5

Gordon Sprigg

Verhouding met Kruger

Die Bond het nooit oor die hele Suid-Afrika steun gehad nie. Die kolonies was té verskillend. 1 In die Transvaal en Vrystaat het Afrikaners geregeer, so die Afrikaners daar het nie ’n spreekbuis soos die Bond nodig gehad nie. 8 Hul ekonomiese doelwitte was ook heeltemal verskillend.

Vroeg in die 1880’s wou die Vrystaat en Transvaal ’n doeane-unie met die Kaapkolonie gehad het wat in- en uitvoerkoste sou verminder, maar die Bond het dit teengestaan omdat die Kaapse boere nie met Vrystaatse boere wou kompeteer nie. Ná die ontdekking van goud in 1886 het die ekonomiese mag in Suid-Afrika na die Transvaal geskuif. Nou wou die Bond weer ’n doeane-unie hê, maar Paul Kruger, die president van die Transvaal, het dít en ’n treinspoor na Kaapstad teengestaan. 1

Paul Kruger

Kruger se houding het die Bond in Cecil John Rhodes, die Kaapse eersteminister ná 1890, se arms ingestuur. Rhodes wou Britse gesag na die noorde toe uitbrei, iets wat die Transvaal sterk teengestaan het. 1 Kruger was woedend oor die samewerking tussen Hofmeyr en Rhodes, 4 en toe hulle mekaar in 1888 ontmoet, het Kruger in die openbaar vir Hofmeyr toegesnou: “Jy’s ’n verraaier, ’n verraaier vir die Afrikanersaak.” 2

Cecil John Rhodes

Jan Brand, die president van die Vrystaat, was ook baie agterdogtig teenoor die AB. Hy het gevoel dat hulle ‘n staat binne ‘n staat wil stig. John X. Merriman het ‘n paar dae later dieselfde idee in ‘n toespraak geuiter.

Jan Brand

Die Bond en swart stemreg

Swart mense in die Kaapkolonie het stemreg gehad. Hofmeyr het egter nie swart mense as lid van die Suid-Afrikaanse nasie gesien nie. Meeste Bondlede was boere en het dus werkgewers (wit boere) se belange bo werknemers (swart mense) geplaas. Die Bond wou swart inwoners uit wit gebiede skuif en besteding op swart opvoeding verlaag. 1

Toe die Kaap die Transkei (nou deel van die Oos-Kaap) in 1885 geannekseer het, was daar skielik 80 000 potensiële nuwe swart kiesers, wat waarskynlik nie vir die Bond sou stem nie. Die Bond wou dus hoër stemregkwalifikasies hê. Teen 1891 het hulle dit reggekry om beperkings op stemreg te implementeer, soos geletterdheidstoetse en inkomste. Dit het omtrent die hoeveelheid swart mense wat in aanmerking gekom het vir stemreg, gehalveer. 4

Hofmeyr het egter nooit probeer om swart mense te ontkieser nie. Hy het ook nie Ahmed Effendi, ’n Kaapse bruin man, in 1892 gestop om lid van die parlement te word nie. 1 Hy het probeer om swart en bruin kiesers se stem te werf, maar wou hulle nie as partylede hê nie. 3 In realiteit het baie min swart en bruin mense vir die Bond gestem.

Die Bond en Cecil John Rhodes

Rhodes het besef dat die Afrikanerbond die meeste mag in die parlement gehad het, en het aktief probeer om die Bondlede sy bondgenote te maak. Daarom het hy vir Hofmeyr gesteun oor die inperking van swart stemreg, die gelykstelling van Hollands, 2 en die opheffing van belasting. 4 In ruil daarvoor het hy hulle steun gesoek vir sy uitbreiding van Britse invloed na die noorde. 3

Hofmeyr het besef dat die belange van boere en myne ooreengestem het: albei het goedkoop, betroubare werkers nodig gehad. 4 Die Bondlede se steun het Rhodes in staat gestel om in 1890 die eerste minister van die Kaapkolonie geword. 10 Hofmeyr en Rhodes het ooreengekom om te werk vir ’n verenigde Suid-Afrika onder die Britse vlag, met die Kaapkolonie as dominante mag. 2

Ná die ontdekking van goud het heelwat Bondlede met aandele in mynmaatskappye begin spekuleer. Rhodes het in ’n mate van die Bondlede omgekoop, deur aan hulle goedkoop aandele – wat nie aan die publiek beskikbaar was nie – in sy mynmaatskappy, De Beers, te verkoop. Hofmeyr het self in Augustus 1895 ’n klomp aandele gekoop, wat Rhodes later as ammunisie gebruik het om Hofmeyr te probeer forseer om te doen wat hy wou hê. 1

Tussen 1890 en 1895 het dit met die Bond voorspoedig gegaan. In die 1894-verkiesing het Rhodes en die Bond 58 uit 76 setels gewen. 4 Die Bond het geveg vir die groei van Hollands buite die parlement en daar het heelwat koerante in Hollands verskyn. Lidmaatskap het gegroei, selfs onder Engelse mense. 1

Blomkrans wat die Afrikanerbond vir die begrafnis van dr. H.F. Verwoerd laat maak het. “Wees sterk” is met blomme uitgespel

Die Jameson-inval en pad na die Anglo-Boereoorlog (ABO)

Die Jameson-inval het die samewerking tussen die Bond en Rhodes beëindig. 3 Die Bond het Rhodes, die hoofaanstigter van die inval, se optrede as verraad teen die Afrikanervolk as geheel beskou. 10 Hofmeyr was platgeslaan. Hy het besef die bondgenootskap was dood en dat indien hy nie vinnig aksie sou neem nie, dit sou lyk of hy ook skuldig was. 1

Arrestasie van Leander Starr Jameson, na die Jameson-inval

Hofmeyr het onmiddelik ’n boodskap van ondersteuning aan Kruger gestuur. Hy het die Britse regering gedwing om in die openbaar te verklaar dat hulle teen die Jameson-inval gekant was en dit sou ondersoek. Hy het ook probeer om oorlog-opstokers tot vrede te bring. Deur sy positiewe optrede ná die inval het hy dit reggekry om die aantygings van korrupsie en pro-imperialisme voor 1895 teen die Bondlede te laat verdwyn. 1

Die 1898-verkiesing is vurig beveg, maar die Bond, in samewerking met gematigde Engelssprekendes soos W.P. Schreiner, wat ook eerste minister geword het, het geseëvier. 10 Daar was heelwat Bondlede in Schreiner se kabinet en hy sou nie kon regeer sonder die ondersteuning van die Bond nie. 8

W.P. Schreiner

Tot in die 1890’s was die meerderheid Kaapse Afrikaners lojale onderdane van die Britse Ryk, en hulle is “Victoria se Afrikaners” genoem. 7 Toe die ABO in 1899 uitgebreek, het hulle lojaal gebly. Ten spyte van oomblikke van oplewing van Afrikanernasionalisme, soos ná die Jameson-inval, was die interne bande van Afrikanerskap nie genoeg om te maak dat die Kapenaars die Boererepublieke sou ondersteun nie. 1

Dit beteken egter nie dat daar geen samehorigheidsgevoel was nie. Hofmeyr het aan die Britse eerste minister geskryf dat suidelike en noordelike Afrikaners aan mekaar verbonde was deur al die bande van gemeenskaplike afkoms, taal en godsdiens. Hulle het ondertrou en was vriende. Hy het geskryf: “Hulle onregte is ons onregte en dienste wat aan hulle gedoen is, is dienste aan ons gedoen.” 3

Die Afrikanerbond ná die oorlog

Die Britte se aksies gedurende die ABO het Afrikanernasionalisme aangevuur en baie Afrikaners in die Kaap finaal teen die Britte laat draai. Vroeg in die 1900’s het die Bond ’n alliansie gevorm met ’n klein groepie anti-imperialiste onder John X. Merriman se Suid-Afrikaanse Party (SAP). In 1908 het hulle met ’n oorweldigende meerderheid die verkiesing gewen. Merriman het die Kaapse eerste minister geword. 11

John X. Merriman

Die einde van die Bond

In 1910 het die Bond saam met ander Afrikanerpartye, insluitende die ou SAP van die Kaap, Het Volk van Transvaal en die  van die Vrystaat, verenig om die Suid-Afrikaanse Nasionale Party te vorm. 11

Op 7 Desember 1911, by ’n kongres in Kaapstad, het die Afrikanerbond amptelik ontbind. Die mosie van ontbinding is deur die afgevaardigdes met applous aanvaar. Daar was slegs een lid wat teen ontbinding gestem het. 5

Evaluering

Du Toit se idee om ’n Bond te stig wat Afrikaners uiteindelik sou verenig, is nie in die negentiende eeu verwesenlik nie. Afrikanernasionalisme het gegroei as gevolg van Britse aksies, soos die anneksasie van die Transvaal en die Jameson-inval, eerder as iets wat die Bond gedoen het. 9

Hofmeyr het dit reggekry om vir die grootste deel van die tydperk tussen 1881 en 1910 sy party in ’n posisie van mag te hou. Hulle het goeie suksesse gehad, soos die gelykmaking van Hollands, beskerming vir boere, minder belasting, en die beskerming van hul posisie teen die oorrompeling van die swart stem. Ten spyte hiervan was die Bond nooit regtig indrukwekkend nie. Hulle het nie regtig ’n vaste program gehad nie, en die Afrikaners was te verdeeld. 5

Hofmeyr was ’n skerpsinnige politikus. Merriman het na hom as die “Mol” verwys: “Jy sien hom nooit werk nie, maar elke nou en dan is daar ’n hopie grond wat bewys is van sy aktiwiteite.”

Rhodes het hom beskryf as “sonder twyfel die bekwaamste politikus in Suid-Afrika”. 4 Hy het deurentyd verkies om agter die skerms te bly, en om spanning tussen Engels- en Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners te verminder. 1 Dít het hy suksesvol reggekry.

Woordbank

aanstigter Iemand wat iets (gewoonlik ’n verkeerde ding) aanblaas. Opruier, aanhitser; aanvoorder.
geannekseer Om ’n gebied oor te neem.
arbiter ‘n Onpartydige persoon wat besluit hoe ‘n rusie/geskil tussen mense vreedsaam opgelos moet word; skeidsregter.
bondgenoot Helper, medestander.
doeane Belasting op in- en uitvoergoedere.
geletterdheid Om te kan lees en skryf.
genootskap ’n Vereniging waarvan die lede dieselfde doel het.
grondwet Die reëls wat bepaal hoe ’n organisasie bestuur word.
imperialisme ’n Politieke stelsel waarin een land oor baie ander lande regeer.
korrupsie Oneerlike optrede, veral deur iemand met mag.
kwalifikasies Die bevoegdheid om iets te kan doen.
lojaliteit Toestand van getrou aan iemand of iets wees.
gematig Nie oordrewe nie.
mobiliseer Aan die gang sit, in werking stel of aanwakker. 12
nasionalisme Die begeerte van ’n groep mense (van dieselfde volk, met dieselfde taal, ens.) om hul eie, onafhanklike land te vorm.
ontbind Ophou om te bestaan.
ontkieser Mense van hul stemreg ontneem.
opstokers Iemand wat mense tot openbare protes en geweld opstook; aanhitser.
populis Iemand wat die belange van gewone mense eerder as dié van ’n bevoorregte elite dien, ondersteun of verteenwoordig.
samehorigheidsgevoel Wat bymekaar hoort/pas, of om iets ’n gemeenskaplike doel te doen.
setels ’n Bepaalde gebied (en die mense wat daar woon) wat deur iemand in die parlement verteenwoordig word.
skerpsinnige Met ’n slim verstand; ’n helder oordeel.
spekuleer Iemand wat goed koop en verkoop in die hoop om gou ’n wins te maak.
spreekbuis Iemand wat namens iemand anders of ’n groep praat. 13

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die Afrikanerbond

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die Afrikanerbond

Wat presies is imperialisme?

Die ontstaan van Afrikaans

Wat is nasionalisme?

Afrikaner-nasionalisme

ʼn Kort reis deur Rhodes se lewe

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 21 Julie 2023 | Bygewerk op 7 Maart 2024