Vinnige feite

  • Limpopo is bekend vir sy hoë berge en digte woude. Die hoofstad Polokwane se naam beteken “Plek van veiligheid” in Sepedi. Meer as die helfte van die inwoners praat Sepedi.
  • Mapungubwe Nasionale Park het 800 jaar gelede ontstaan toe slawe, goud en ivoor verruil is vir krale, skulpe en materiaal. Dit herinner ons daaraan dat beskawings in Afrika bestaan het lank voordat mense uit Europa hierheen gekom het. Vandag is dié gebied sowel ʼn nasionale park as ’n Wêrelderfenisgebied.
  • Voortrekkers het plase gesoek en uit die Kaapkolonie na Limpopo vertrek. Hulle het gewere gehad en vir vleis en ivoor gejag. Sommige Voortrekkers het gedink hulle het die begin van die Nylrivier in Egipte gekry en ʼn dorp met die naam Nylstroom gestig. Dit is tans bekend as Modimolle.
  • Elke jaar met Paastyd reis meer as ʼn miljoen lidmate van die Zion Christian Church met busse en taxi’s na Moria, naby Polokwane, waar spesiale kerkdienste gehou word. Lede van dié kerk mag nie rook, alkohol drink of varkvleis eet nie. Lidmate kan aan ʼn silwer ster met die letters ZCC uitgeken word.
  • Kolonel James Stevenson-Hamilton het jare lank baie hard gewerk om die Krugerwildtuin ʼn veilige plek vir diere te maak. Omdat hy so streng was, het die swart mense hom “Skukuza” genoem, wat beteken “Die man wat skoon vee”. Hy en sy vrou is in die Krugerwildtuin begrawe.
  • Die Balobedu-stam (of Lobedu) word altyd deur ʼn koningin regeer wat Modjadji genoem word. Hulle glo sy het die mag om dit te laat reën of die reën te laat ophou.
  • Prehistoriese mense het 3,3 miljoen jaar gelede in die Makapansgat-grotte gewoon. Volgens wetenskaplikes het hulle vleis, vrugte en ander plante geëet.
  • Twee miljoen jaar gelede het vulkane Limpopo ʼn baie gevaarlike plek gemaak, maar darem ook minerale soos yster, koper en diamante in die grond agtergelaat.
  • Daar is warmwaterbronne by Bela-Bela en Tshipise naby die Soutpansberge. Baie mense glo dit is gesond om in die warm water te swem omdat dit minerale en soute bevat.
  • Die dorp Thabazimbi se naam beteken “Berg van yster”. Yster word by Thabazimbi ontgin en gebruik om enigiets van treine en kastrolle tot spelde en yslike vliegtuie te maak.
  • Crooks Corner is ʼn plek in die noorde van die Krugerwildtuin waar Suid-Afrika, Mosambiek en Zimbabwe se grense bymekaarkom. Wilddiewe en ander boosdoeners het altyd hier oor die grens gesluip om die polisie te ontglip.
  • Maroelabome dra in die somer vruggies wat so groot soos tafeltennisballetjies is. Dit bevat baie vitamien C en is voedsaam. Baie mense maak jellie en konfyt daarvan. Olifante en bobbejane is ook lief daarvoor.
  • Mopaniewurms is ʼn spesiale lekkerny en word gerooster of gedroog. Dit smaak neuterig en bevat proteïene wat baie gesond is.
Foto: iStock

Hoofstad: Polokwane (voorheen Pietersburg)

Bevolking: 5 926 724 1

Algemene huistale: Noord-Sotho, Tsonga en Venda.

Dorpe in dié provinsie: Musina (Messina), Makhado (Louis Trichardt), Mara, Vivo, Polokwane (Pietersburg), Sionstad Moria, Haenertsburg, Mokopane (Potgietersrus), Roedtan, Groblersdal, Marble Hall, Mookgophong (Naboomspruit), Modimolle (Nylstroom), Vaalwater, Lephalale (Ellisras), Bela-Bela (Warmbad), Thabazimbi, Northam, Sun City.

Die Bosveld

Die bosveld beslaan die grootste deel van Limpopo. Die hoogte bo seespieël wissel van 750 tot 1 400 m en die jaarlikse reënval van 350 mm in die weste tot net meer as 600 mm in dele van die noordooste. Die somers is warm en die winters relatief matig.

Die Bosveld is beeswêreld. Enkele gewasse, meestal geharde graansoorte soos sorghum en graansorghum, word op klein skaal verbou, dikwels onder besproeiing, veral aan die oewers van die Limpoporivier in die verre noorde.

ʼn Belangrike uitsondering is die gebied wat as die Springbokvlakte bekendstaan. Dit is ʼn groot en uitgestrekte vlakte weerskante van die hoofpad na die noorde, tussen Bela-Bela (Warmbad) en Mokopane (Potgietersrus) waar groot hoeveelhede grondbone, sonneblomsaad, sorghum en mielies in goeie jare op droëland verbou word.

Die Bosveld is ook een van die streke wat oor die meeste minerale ter wêreld beskik. Die Bosveld Stollingskompleks, ʼn buitengewoon ryk pieringvormige geologiese formasie, strek oor ʼn gebied van ongeveer 50 000 km2, en bevat ʼn groot deel van die wêreld se reserwes van belangrike minerale soos platina, chroom, vanadium, nikkel, vloeispaat (fluoriet) en andalusiet. Die kompleks sluit ook die Merensky-rif in, die wêreld se rykste bron van platina en die platina-groep metale. 2

Belangrike geskiedkundige plekke

Mapungubwe, vesting van goud

Ongeveer 70 km wes van Musina, waar die Shasherivier – die grens tussen Zimbabwe en Botswana – in die Limpopo vloei, is ʼn sandsteenkoppie met die naam Mapungubwe. Hierdie eertydse vesting van mense uit die Steentydperk is deur die plaaslike stamme met ontsag bejeën. Dit het later geblyk dat dit ’n argeologiese skatkamer is. 3

Die eerste ontdekkings is op 31 Desember 1932 deur E.S.J. van Graan en ʼn paar vriende, wat tydens ʼn jagtog teen die koppie uitgeklim het, gemaak. Bo-op die koppie het hulle afgekom op droë klipmure, groot erdepotte, ystergereedskap, koperdraad, glaskrale en -armbande, goue ornamente, juweliersware en ander ornamente. Hulle het ook menslike beendere hier ontdek.

Greefswald, die plaas waarop die ontdekkings gedoen is, is onder die aandag van die staat en die Universiteit van Pretoria gebring. Hulle argeologiese ondersoeke het gewys dat die terrein dié van die eerste handelskoninkryk en goudvervaardigingskultuur suid van die Limpoporivier was. Dié kultuurvondse is met radiokoolstofdatering op sowat ʼn duisend jaar geskat (ongeveer 950-1290 n.C.).

Wetenskaplikes van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) en die Mapungubwe-museum, by die Universiteit van Pretoria, het met hierdie navorsing die verhaal vertel van die geskiedenis van inheemse metaalkunde (goud) in Suider-Afrika.

Die ontdekkings sluit ‘n septer, ‘n bak, ‘n hooftooisel, die bekende Mapungubwe goue renoster en verskeie ander dierevorme in. Veral die bak, septer en die renoster het ikonies geword in Suid-Afrika se inheemse kultuurerfenis. In 1997 is hierdie voorwerpe tot nasionale skatte verklaar en het in 2002 amptelike simbole geword van die hoogste orde van uitnemendheid in Suid-Afrika, die Orde van Mapungubwe.

Ander artefakte dui daarop dat die inwoners van Mapungubwe oorsese handelskontakte anderkant die ooskus gehad het. Daar was, onder meer, krale van glas uit Indië, Egipte en Arabië en aanduidings van moontlike handelsbande tot so ver as China en Maleisië. In latere uitgrawings by Mapungubwe, en by ʼn aangrensende terrein bekend as K2, is die oorblyfsels van meer as ʼn honderd mense van albei geslagte en alle ouderdomme gevind.

Die Mapungubwe Nasionale Park (voorheen bekend as die Vhembe Dongola Nasionale Park) is vandag ’n Wêrelderfenisgebied en is ingesluit in die nuwe Limpopo-Shashe Oorgrensbewaringsgebied wat ontwikkel word. 4

Die verbode meer

Die Fundudzi-meer in die Mutale-rivier, aan die voorheuwels van die Soutpansberg, is Suid-Afrika se enigste ware meer. Die meeste ander “mere” is óf varswaterstrandmere – soos by die Wildernis aan die suidkus en St. Lucia aan die noordkus van KwaZulu-Natal – óf panne.

Die Fundudzi-meer is eeue gelede geskep toe ʼn grondverskuiwing die loop van die Mutale-rivier versper het. Hierdie meer speel ʼn groot rol in die godsdiens en legendes van die Venda-volk (ook bekend as Bavendas) wat in dié geweste woon.

Fundudzi-meer

Die naam Fundudzi, wat beteken ‘Die meer wat ʼn kraal bedek’ is ontleen aan ʼn legende. Volgens dié legende was hierdie gebeurtenis ‘n vloek vir ‘n kraal wat geweier het om kos en skuiling aan ‘n verbygaande persoon wat melaats was te gee. Die meer se water het die kraal oorspoel en heeltemal bedek, en die mense glo steeds dat hulle soms nog die gille en geweeklaag van die slagoffers en die gebulk van beeste kan hoor.

Hulle glo ook dat die meer die tuiste van die groot Luislanggod is wat hulle oeste beheer en wat hulle jaarliks moet tevrede hou deur bieroffers op die water uit te giet. Die meer, 5 km by 3 km, is ook vol krokodille wat die Venda-volk as heilig beskou. Niemand word sonder spesiale toestemming van die plaaslike owerheid naby die meer toegelaat nie.

Makapansgat

In September 1854 het ʼn groep van 28 Voortrekkers (mans, vroue en kinders) suidwaarts van Schoemansdal in die Soutpansberg beweeg. Hulle het onder kameeldoringbome by die drif in die Nylrivier, ongeveer 8 km van die huidige Mokopane, uitgespan en gerus.

Hier is hulle onverwags deur ʼn groep Tlou-krygers van die hoofmanne Makapan en Mapela oorval. Elke man, vrou en kind is doodgemaak om redes wat nog onduidelik is. Sommige historici meen dat die Tlou-stamme aanstoot kon geneem het aan die onbewustelike verbreking van een of ander plaaslike gebruik deur die Voortrekkers wat onder leiding van Hermanus Potgieter gestaan het. Die kinders se koppe is glo teen die stamme van twee kameeldoringbome pap geslaan. Hierdie bome is later saam met die monument omhein.

Moontlik met die wete dat die Voortrekkers wraak sou neem, het hoofman Makapan 2 000 van sy volgelinge gelei na wat vandag as Makapansgat bekendstaan, sowat 25 km noordoos van Mokopan. Dit is naby die plek waar die eerste goud by Eersteling gevind is.

Hierdie kalksteengrotte het ʼn dubbele ingang, die een bokant die ander. Hulle loop ineen en lei na reusegrotte waarin hoofman Makapan geglo het hy en sy manne kan oorleef op die water en graan wat hulle saamgeneem het.

ʼn Burgerkommando, onder leiding van Piet Potgieter en M.W. Pretorius, het hierdie grotte beleër. Van tyd tot tyd het die burgers die grotte bestorm, maar hulle is telkens deur akkurate geweervuur uit die donkerte van die grotte teruggedryf. Tydens een van hierdie aanvalle is Potgieter doodgeskiet en veldkornet Paul Kruger, later president van Transvaal, het sy lewe gewaag om die liggaam uit die vuurlinie te verwyder. 5

M.W. Pretorius

Die beleg het byna 30 dae geduur. Toe die geweervuur van binne feitlik stil was, het die burgers die ingang bestorm. Binne het ʼn verskriklike gesig op hulle gewag. Oral was die gedeeltelik ontbinde lyke van ongeveer 1 500 Tlou-krygers wat van die honger en dors omgekom het. Die ander 500 het waarskynlik vroeg in die beleg in klein groepies in die donker uitgeglip.

Die Makapansgat is vandag ʼn argeologiese en paleontologiese skatkamer van groot waarde. Die vondste sluit fossieloorblyfsels van die aapmens, Australopithecus africanus, asook van baie diere, veral ape en bobbejane, in.

Die grotte is onder die toesig van die Bernard Price Instituut vir Paleontologiese Navorsing van die Universiteit van die Witwatersrand, en ʼn permit moet verkry word om dit te besoek. Die grotte is tot Wêrelderfenisgebied verklaar en ’n deel van die vallei waarin dit geleë is, is nou ʼn natuurlike en wetenskaplike monument.

Woordbank

ikonies Iemand of iets wat merkwaardig of besonders is.
septer Staf van ’n koning of ’n vors.
beleg Wanneer ’n groep mense deur die vyand afgesluit of ingesluit word en nie kan ontsnap nie. 6

Lees hier meer oor die Fundudzi-meer

Kyk na die hierdie video’s en foto’s om nog meer te leer

Hier kan jy kyk na foto’s kyk van Makapansgat

Makapansgat

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 17 Februarie 2022 | Bygewerk op 5 Maart 2024