Vinnige feite

  • Die raadsaal van die ZAR op Kerkplein sou eers net twee verdiepings hoog wees, maar president Paul Kruger het opdrag gegee dat dit nóg ’n verdieping moet kry sodat dit nie by die Grand Hotel langsaan afsteek nie! 2
  • Johanna van Warmelo het agt notaboeke vir haar dagboek volgeskryf en daarvan het sewe bewaar gebly, waarin sy veral waardevolle inligting oor die Anglo-Boereoorlog neergeskryf het. 4
  • Marthinus Wessel Pretorius is op 16 Januarie 1857 deur ds. Dirk van der Hoff in Potchefstroom ingehuldig as die eerste staatspresident van die Zuid Afrikaanse Republiek (ZAR). 12
  • In 1903 het Frank Fewster Chamberlain sy winkel in die Moot gebou. Daardie winkel bestaan steeds in Pretoria onder die huidige naam “Chamberlains” en word ook steeds deur familie van Frank bedryf en bestuur. 4
  • Mimi Coertse is reeds vir baie dekades ’n inwoner waarop Pretoria en sy mense baie trots is. Sy het internasionale roem verwerf met haar sang toe sy op 17 Maart 1956 in die Weense Staatsopera haar debuut gemaak in die rol van die Koningin van die Nag, in Mozart se Towerfluit. Deur haar loopbaan het sy hierdie rol meer as 500 keer vertolk. Ná ’n lang loopbaan in die buiteland, het sy in 1973 permanent na Suid-Afrika teruggekeer. Sy het talle gesogte toekennings in die buiteland ontvang en in 1996 het sy ook die FAK Prestige-prys ontvang vir haar bydrae as uitvoerende kunstenaar op musiekgebied. 13
  • Sytze Wopkes Wierda wat in Friesland gebore is, het sedert 1887 vir die Departement Openbare Werke in die stad gewerk en is in 1890 tot hoof van hierdie departement bevorder. Hy het ’n belangrike bydrae gelewer tot die argitektoniese erfenis van Pretoria. 6
  • Die bekende Afrikaanse skrywer Eugène Marais het vir ’n rukkie by Gustav Preller en sy vrou in Blackwood-straat, Arcadia gewoon. Daar was ’n ystertrap waarmee hy na sy kamer toe gegaan het. Hierdie trap is deur Reneè du Plessis, die buurvrou van oorkant die straat, aangekoop toe nuwe eienaars die trap nie meer gebruik het nie. Die trap is vandag steeds by ’n woonhuis in Blackwood-straat te sien. 14
Foto: iStock

Wanneer mens vandag na Pretoria kyk en jou vaskyk in teerstrate en groot geboue so ver as wat die oog kan sien, is dit moeilik om jou te kan verbeel hoe dit gelyk het voor daar mense hier gebly het. Dit was ’n lushof van berge, heuwels, bome, strome en selfs klein riviere soos die Apiesriver.

Kom ons loop terug op die spore van die mense wat daaraan begin dink het om ’n dorp hier te bou en kyk hoe dit ontwikkel het tot die stad wat dit vandag is.

Eerste kerk in Pretoria, op Kerkplein

Die stigting van Pretoria

In 1853 wou die Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) ’n plek in die middel van die land kry waar die Volksraad se sittings gehou kon word. Marthinus Wessel Pretorius, seun van kommandant-generaal Andries Pretorius, was in daardie tyd die leier in die omgewing waar Pretoria later sou wees. Hy het aan die Volksraad voorgestel dat twee plase aan die Apiesrivier – Elandspoort en Daspoort – die geskikte plek sou wees vir die nuwe dorp. Hy was so seker daarvan dat hy sommer self die twee plase gekoop het, maar toe stem die Volksraad aanvanklik (aan die begin) nie saam met hom nie. 1

Hooggeregshof, Pretoria

Hierdie plase het aan J.J.P. Prinsloo en A. van der Walt behoort. 2

Daar sou nog baie water in die see moes loop voor daar uiteindelik eenstemmigheid was oor die stigting van ’n nuwe dorp.

Uniegebou, Pretoria

In 1854 is ’n nuwe gemeente langs die Apiesrivier gestig. Hierdie nuwe gemeente se kerk is gebou op die plek waar Kerkplein vandag is en die gemeente sou uiteindelik tot die stigting van die nuwe dorp lei. Die naam van die gemeente was Pretoria Philadelphia en ds. Dirk van der Hoff was die eerste predikant.

Kerkplein

Op 16 November 1855 het die Volksraad die stigting van ’n dorp goedgekeur en die naam Pretoria is daarvoor gekies. Op 1 Mei 1860 is Pretoria amptelik as die hoofstad van die ZAR verklaar. 1

Waar kom die naam vandaan?

In ’n stadium is die naam Pretoriusstad vir die nuwe dorp voorgestel, maar die naam Pretoria was meer gewild. Mense aanvaar meesal dat Pretoria vernoem is na die Voortrekkerleier, Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius. In Oktober 1853 het ds. Dirk van der Hoff inderdaad ook in ’n Kaapstadse koerant geskryf dat die nuwe hoofstad na generaal Andries Pretorius genoem sou word. 3

M.W. Pretorius
Andries Pretorius

Tog was dit eintlik sy seun, Marthinus Wessel Pretorius, wat vir baie lank probeer het om Pretoria as ’n dorp te stig. Daarom is daar navorsers wat dink dat die stad sy naam eintlik by Marthinus Wessel gekry het. 4

Maar wat ook al presies die waarheid is, albei Pretoriusse het ’n belangrike bydrae gemaak tot die geskiedenis van Suid-Afrika en tot dié van Pretoria.

Daar is besluit dat die nuwe gemeente die Pretoria Philadelphia-gemeente sou wees en die naam van kommandant-generaal Andries Pretorius sou vereer. Daar is nie aangeteken wie op die nuwe naam besluit het nie, maar omdat ds. Dirk van der Hoff kennis van Grieks gehad het, word dit aanvaar dat dit hý was wat dit uitgedink het, want die woord “Philadelphia” beteken “broederlike liefde” in Grieks. Pretoria is egter die vroulike verbuiging van ‘Pretorius’ in Latyn. Mense kon dus wonder waarom die naam vroulik is. Die rede was eintlik eenvoudig: Pretoria rym met Philadelphia. 2

Op die tuinparty wat in 1903 in Pretoria gehou is, staan Emily Hobhouse in die wit rok met die swart hoe regs van genl. Beyers en links van genl. Smuts

Vroeë geskiedenis

Die heel eerste twee erwe is aan twee broers verkoop – Kootjie en Hendrik Vermeulen. Die latere Vermeulenstraat is na hulle vernoem. Hulle word beskou as van die eerste inwoners van Pretoria.

Pretoria – krygsgevange Britse offisiere word van die offisiere word van die Staatsmodelskool af na Waterval oorgeplaas

Die eerste huis wat waarskynlik in die latere Pretoria se omgewing gebou is, was moontlik die huis van J.G.S. Bronkhorst wat in 1840 in Fonteinedal gebly het. In hierdie tyd het nóg Boeregesinne hulle ook in die omgewing van Elandspoort gevestig. 4 5

Hoofgebou van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Elandspoort

Volgens sommige bronne was die koms van die Fourietrek in 1848 die begin van werklike vestiging van mense in Pretoria. Toe A.P. van der Walt op 19 Maart 1852 as veldkornet in die omgewing aangestel is, was dit een van die belangrike stappe in die rigting van die stigting van die nuwe dorp. 5

In 1856 was Stephanus Meintjies een van die mense wat gehelp het om die gebied te ontwikkel. Vir sy hulp is hy vereer en ’n nabygeleë koppie is na hom vernoem, naamlik Meintjieskop. Vandag staan die Uniegebou op Meintjieskop! In 1856 het Pretoria bestaan uit die gebied tussen Potgieter-straat in die weste (vandag Kgosi Mampuru-straat), Prinsloo-straat in die ooste (vandag Sisulu-straat), Boomstraat in die noorde en Scheidingstraat in die suide. 4

In hierdie eerste jare van Pretoria se bestaan was daar reeds ’n paar belangrike inwoners, wat later vereer is deur strate na hulle te vernoem: Andries Francois du Toit (landmeter en landdros), Hendrik en Jacobus (Kootjie) Vermeulen, veldkornet Andries van der Walt, Joachim Prinsloo, kaptein Johan H.M. Struben (staatsekretaris), landdros William Skinner en advokaat B.C. Proes. 1

Pretoria in die Anglo-Boereoorlog

Reeds in 1895 het dit duidelik geword dat daar oorlog met Brittanje aan die kom was en op 24 Maart 1896 het die regering besluit om agt forte rondom Pretoria te bou om die hoofstad te beskerm. As gevolg van te min fondse, is daar uiteindelik net vier forte gebou. Hierdie forte was Schanskop, Klapperkop, Wonderboompoort, Daspoortrand. 6 7

Johanna Van Warmelo (1876-1964) het dagboek gehou oor die gebeure tydens die oorlog en daaruit kry mens eerstehandse kennis oor hoe gewone mense in Pretoria die oorlog ervaar het. (Johanna se van was nog Van Warmelo tydens die oorlog en ná die afloop van die oorlog is sy met Louis Brandt getroud.)

Johanna van Warmelo

Sy en haar ma het op die plaas Harmonie gewoon, wat vandag die woongebied Sunnyside is. Hul huis was aanvanklik ’n gewilde kuierplek vir bekendes wat toe in Pretoria gewoon het en gedurende die oorlog het dit ook as skuilplek vir Boerespioene gedien. Die huis van die Britse verteenwoordiger was ongeveer 400 meter van Harmonie af en die Van Warmelo-vroue kon gerieflik sommer van hul huis af die bewegings van die Engelse soldate dophou en dit dan weer aan die Boerespioene oordra.

Irene konsentrasiekamp

Op 25 Mei 1900 het Brittanje Pretoria binnegeval en op 5 Junie 1900 het die stad amptelik oorgegee. Johanna het hierdie seremonie wat op Kerkplein plaasgevind het, gaan bywoon.

Baie naby aan waar die Uniegebou vandag is, was daar ’n konsentrasiekamp waarin 650 vroue en kinders aangehou is. By Irene wat in daardie stadium ’n hele entjie buite Pretoria was, was daar ook ’n groot konsentrasiekamp. 4

Inwoners van die Irene-konsentrasiekamp

Enkele van die bekendste landmerke van Pretoria

Pretoria het baie bekende landmerke en besienswaardighede wat landwyd, asook in die buiteland bekend is.

Ons kyk in meer detail na enkele daarvan:

Kerkplein

Generaal M.W. Pretorius het drie Engelse bouers – William Skinner asook twee broers, Louis en Lionel Devereux – gevra om die kerk op Kerkplein asook ander regeringsgeboue te bou. Hy het presies gewys waar die kerk gebou moes word – in die middel van die plein. Dit is natuurlik ook waar die plein sy naam gekry het. Hierdie kerk se stigting is in 1854 goedgekeur en dit is tussen 1854 en 1857 gebou. Dit was ’n eenvoudige saaltipe gebou met dik mure en ’n grasdak. Daar was sitplek vir 700-800 mense, maar reeds met die inwyding deur ds. Dirk van der Hoff in Februarie 1857 was dit duidelik dat die kerk te klein is, en sommige mense het selfs op die balke gesit.

In 1867 is die kerkgebou vergroot deur die aanbou van ’n konsistorie aan die noordekant en nog ’n vleuel aan die suidekant. Die kerkgebou is in September 1882 eers ernstig deur ’n storm beskadig, en nog dieselfde maand deur ’n verwoestende brand verder beskadig. Slegs die trap van die preekstoel en een nagmaaltafel kon gered word. Nadat die eerste kerkgebou afgebrand het, is ’n nuwe kerk gebou en op 23 Januarie 1885 ingewy. Dit het tot 1905 daar gestaan, maar toe gesloop.

Die twee strate wat na en van die plein geloop het, was Kerkstraat wat van oos na wes geloop het en Markstraat wat van noord na suid geloop het. Hierdie straat is vandag Paul Kruger-straat. 4

Kerkstraat, 1890’s

Kerkplein is veral bekend vir die standbeeld van Paul Kruger wat in die middel van die plein staan, omring deur standbeelde van vier Boeresoldate. Rondom die plein staan ook ’n paar pragtige, ou geboue, soos die Paleis van Justisie (hoeksteen in 1897 deur Paul Kruger gelê), die Ou Raadsaal (hoeksteen in 1889 gelê deur Paul Kruger), die ou hoofposkantoor (hoeksteen in 1910 gelê) en die Nasionale Bankgebou, wat in 1891 as die eerste Transvaalse staatsbank die ZAR se fondse geadministrateer het. Dit is ook die laaste gebou waar die legendariese Krugermiljoene blykbaar in geberg was.

Paleis van Justisie

Uniegebou

Die hoeksteen van die Uniegebou is op 26 November 1910 gelê en die gebou is in November 1913 voltooi. Hierdie indrukwekkende gebou is deur die baie bekende argitek sir Herbert Baker ontwerp. Hy het van 1862 tot 1946 geleef.

Herbert Baker

Daar is twee ander plekke vir die Uniegebou se staanplek oorweeg: Muckleneuk-rif aan die teenoorgestelde kant van die stad, asook die plek waar die stadsaal later gebou is. Twee van die mense wat Meintjieskop verkies het, was sir Herbert Baker self, en generaal Jan Smuts, wat deel van die Unieregering was. 3

Die Uniegebou is teen die suidelike hang van Meintjieskop gebou. Omdat dit so ’n geweldige groot gebou is, is twee boukontrakteurs gebruik om daaraan te bou – M.C.A. Meischke asook Messrs Prentice and Mackie. Daar was 465 ambagsmanne en 800 werkers wat met die bouwerk gehelp het.

Kom ons kyk bietjie na nóg van die statistiek oor hierdie groot gebou wat oor ’n deel van Pretoria uittroon: Daar was 40 000 sakkies sement, 14 miljoen stene, 74 000 kubieke meter beton en ongeveer 400 kubieke meter graniet nodig. Die gebou is ’n hele 275 meter lank, die twee vleuels asook die Amfiteater is elk 90 meter lank. 4 6

Daar is ’n hele paar standbeelde van belangrike persone uit die geskiedenis van Suid-Afrika in die tuine van die Uniegebou. Die mees prominente (opvallende) is dié van Nelson Mandela – ’n meer as lewensgroot standbeeld wat naby die bopunt van die tuine geplaas is.

Voortrekkermonument

Die Voortrekkermonument wat so bonkig op sy koppie staan aan die suidwestekant van Pretoria, kan met reg een van die belangrikste bakens van die stad genoem word. Hierdie monument is gebou om die Voortrekkers wat die Kaapkolonie tussen 1835 en 1854 verlaat het, te vereer. ’n Hele paar plekke in die land is oorweeg om die monument daar te bou, maar uiteindelik is besluit dat dit in Pretoria moet staan. Die baie bekende Gerard Moerdijk is as die argitek aangestel.

Voortrekkermonument

Die eerste sooi is op 13 Julie 1937 gespit en die hoeksteen is op 16 Desember 1938 gelê. Nadat die bouwerk gedurende die Tweede Wêreldoorlog gestaak moes word, is dit weer hervat en die monument is op 16 Desember 1949 ingewy. Klippe uit die steengroewe naby die Soutpansberg en marmer uit die marmergroewe van Marble Hall is gebruik vir die bouwerk en vir die vloer van die Heldesaal. 8

Die monument is steeds ’n groot aantrekkingskrag – vir Suid-Afrikaners en ook vir buitelandse toeriste. Die hoogtepunt van ’n besoek aan die monument is elke jaar op 16 Desember wanneer die son presies om 12:00 deur ’n klein gaatjie in die koepelvormige dak skyn om op die senotaaf heel onder in die senotaafsaal van die monument hierdie woorde te verlig: “Ons vir jou Suid-Afrika”.

Ander bekende bakens in die stad

Die Botaniese Tuin in die ooste van die stad bestaan reeds sedert 1874 en is vandag steeds ’n gewilde plek vir mense om te gaan stap, ontspan of funksies te hou.

Botaniese Tuin

Die bekende Wonderboom is deur Hendrik Potgieter so begin noem. Hierdie reuse-wildevyboom het meer as duisend jaar gelede begin groei. Die boom het 13 stamme, is 23 meter hoog en sy takke is versprei oor 50 meter. Jare gelede het die boom skadu verskaf aan tot een duisend mense op ’n keer of 22 ossewaens met 20 osse voor elke wa. Hierdie besonderse boom is in die Wonderboom-natuurreservaat by die Magaliesberg in die noorde van Pretoria. 4

Die bekende Wonderboom

Krugerhuis is die huis waarin president Paul Kruger vanaf 1884 tot 1900 gewoon het. Die adres daarvan was destyds Kerkstraat 60 en dit was ongeveer een kilometer wes van Kerkplein geleë. 9

Krugerhuis

Die huis is deur die argitek Tom Claridge ontwerp en deur die sakeman A.H. Nellmapius gebou. Omdat die sement wat toe gekoop kon word nie baie sterk was nie, is die sement wat hulle gebruik het, met melk aangemaak om dit sterker te maak! Hierdie huis was een van die eerste huise in Pretoria wat elektrisiteit en ’n telefoon gehad het. In 1925 is die huis deur die Unie van SA aangekoop en daar is begin met planne om die huis as museum in te rig. Op 10 Oktober 1934 is die Kruger Museum geopen en in 1936 is die Krugerhuis as ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. 9 10

Krugerhuis-museum
‘n Vertrek in die Kruger Museum

Freedom Park is op Salvokop geleë, nie baie ver van die Voortrekkermonument af nie. Die uitstallings by die monument vertel ’n storie wat oor 3,3 miljard jaar strek en daar is ook ’n Tuin van Herinnering waar erkenning gegee word aan mense wat bydraes gemaak het tot die vryheid van die land. 11

Freedom Park

Die Erasmuskasteel is in 1903 deur Jochemus Erasmus gebou. Sy plaas se naam was toe Garstfontein en hulle was groot beesboere wat Pretoria se mark van vleis voorsien het. Vandag word hierdie besondere gebou steeds in stand gehou – so aan die rand van die woongebied Erasmuskloof langs die Delmaspad. 4

Erasmuskasteel, Pretoria

Die Pretoria Dieretuin is die grootste in die land. Die dieretuin is in 1892 begin toe die eerste diere daar gehuisves is. 4

Pretoria Dieretuin

Besondere argitektuur en bewaring

Pretoria se argitektoniese karakter is in die vroeë jare van die stad se bestaan bepaal deur Nederlanders wat deur president Paul Kruger laat kom is om hom te help om die administrasie van die ZAR te help vestig. Hulle was onder andere Sytze Wierda, Wilhelm (Wim) Johannes De Zwaan en Francois (Frans) Soff. Pretoria se ampsgeboue soos die Ou Raadsaal en die Paleis van Justisie op Kerkplein, is van die mooiste geboue in die land. Wierda was ook betrokke by die bou van die Staatsdrukkery en die besonderse Weskoppies Hospitaal. Van hierdie hospitaal vir mense met geestessiektes, het Wierda gesê dat dit ’n plek moet wees waar pasiënte simpatiek en menslik behandel moet word. Hierdie hospitaal is in 1896 deur hom ontwerp.

Ou Raadsaal
Weskoppies Hospitaal

Nog ’n Nederlander, Klaas van Rijsse, het dieselfde tradisie in die bou van kerke voortgesit. Hy het byvoorbeeld “Oom Paul se kerk”, die Gereformeerde kerk van Kerkstraat-Wes, ontwerp, asook die Grootkerk in Bosmanstraat waarin drie van die land se presidente ingehuldig is.

Grootkerk

Geboue wat deur Sir Herbert Baker ontwerp is, sluit in die Uniegebou, die gebou in die militêre basis Voortrekkerhoogte (wat eers Roberts Heights genoem is en tans Thaba Tshwane heet), asook die Boereforte wat rondom Pretoria gebou is. 6

Thaba Tshwane

Rondom die baie mooi Burgerspark in die middestad is pragtige herehuise gebou. Ongelukkig was daar in daardie jare nie groot klem op die bewaring van historiese geboue gelê nie en die meeste daarvan het plek gemaak vir woonstelgeboue. Gelukkig het Melrosehuis behoue gebly, waarin die Vrede van Vereeniging wat ’n einde aan die Anglo-Boereoorlog gebring het, op 31 Mei 1902 onderteken is. Dit is vandag ’n museum. 12

Melrosehuis

Daar was vir baie jare ’n stryd om die historiese geboue rondom Kerkplein behoue te laat bly (te bewaar en te keer dat hulle afgebreek word). Aan die een kant was Pretorianers wat die geboue wou bewaar en aan die ander kant was politici en burokrate wat nie dieselfde menings gehad het nie. Op 26 Julie 1975 het 10 000 Pretorianers op Kerkplein bymekaargekom om vir die behoud van hierdie geboue te pleit. Hierdie poging het geslaag en die geboue is bewaar. 6

Jakarandabome

Pretoria word nie verniet die Jakarandastad genoem nie – hierdie pers blom is beslis die stad se bekendste simbool. Dit lok toeriste in Oktober en inspireer gedigte en liedjies, soos Koos du Plessis se lied “Pretoria” en Valiant Swart se “Jakarandastrate”.

Die eerste twee jakarandabome is in 1888 by die woning van Jacob Daniël Celliers by Myrtle Lodge, Celliersstraat 146 geplant. Hierdie tuin vorm vandag deel van die Laerskool Oost-Eind in Sunnyside. Vandag word hierdie twee bome omhein om hulle te beskerm.

Die botaniese naam is Jacaranda mimosaefolia en die bome is oorspronklik uit Brasilië afkomstig.

Met die 51ste herdenking van die bestaan van Pretoria, is daar ernstig begin om jakarandabome langs die stad se strate te plant. As deel van hierdie veldtog is die eerste bome in die destydse Koch-straat (vandag Bosman-straat) asook in Arcadiapark geplant.

In 1911 het ’n ingenieur wat in diens was van Pretoria se munisipaliteit, voorgestel dat jakarandabome langs 60 km van die stad se strate geplant moet word. Sy naam was Frank Walton Jameson en ’n straat is later na hom vernoem. Teen 1955 was jakarandabome langs nie minder nie as 448 km van Pretoria se strate geplant!

Mense ken almal die pragtige pers blommetjies van die jakarandabome. Min mense weet dat daar ook wit jakarandabome op ’n paar plekke in Pretoria groei. Hierdie bome kan in Herbert Baker-straat in Groenkloof gesien word terwyl daar ook ’n paar in die Wonderboompoort-gebied staan. 1 Ook in Waterkloofrif staan daar ’n enkele wit jakarandaboom op ’n straathoek.

Wit jakarandaboom
Groenkloof

Volgens kenners is daar tans minstens 65 000 jakarandabome in Pretoria, waarvan sowat 37 000 die sypaadjies versier. Jakarandas wat ’n natuurlike dood sterf word vervang, en vir die wat weens ontwikkeling en bouwerk verwyder word, word nuwes elders in die stad geplant. 1

Woordbank

aanvanklik Aan die begin.
argitektoniese Volgens die eise van die boukuns.
bonkig Stewig en groot.
burokrate Amptenaar wat baie streng aan reëls vashou.
debuut Eerste optrede (toneelspeler/sanger/ens.) eerste openbare verskyning, optrede of skeppingswerk.
eenstemmigheid In alle opsigte saamstem/ooreenkom; eenparigheid.
eerstehandse kennis Betroubare en volledige Inligting, dikwels van ’n ooggetuie (iemand wat

iets self sien gebeur het).

forte Versterkte militêre bouwerk. Hierin kon soldate teen die vyand skuil en terselfdertyd op die vyand skiet sonder dat hulle self raakgeskiet kon word.
herehuise Groot deftige woning van ʼn gegoede (ryk) persoon; pronkwoning, villa.
historiese Wat op die geskiedenis betrekking het; geskiedkundig.
klem lê (op iets) Iets as baie belangrik beskou.
konsentrasiekamp Kamp waar vroue en kinders gedurende die Anglo-Boereoorlog deur die Engelse aangehou is.
lushof Pragtige gebied met baie mooi plantegroei.
nasionale gedenkwaardigheid Plek of huis of gebou wat belangrik is vir die geskiedenis en wat deur die

regering vir die nageslag bewaar word.

politici Iemand wat hom/haar met politiek bemoei of dit as beroep beoefen; staatsman, staatkundige.
prominente Opvallend, opmerklik, uitstaande; duidelik sigbaar.
senotaaf Grafmonument vir iemand/mense wat elders begrawe lê (soos in die Voortrekkermonument).
nog baie water in die see moes loop Dit sou nog lank neem. 15

Lees meer

Kyk hier

Tien besienswaardighede in Pretoria

Die Uniegebou

Krugerhuis

Botaniese Tuin

Voortrekkermonument

Bewaring van die Voortrekkermonument

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 Junie 2023 | Bygewerk op 24 April 2024