Vinnige feite

Groote Kerk, Graaff-Reinet
  • Suid-Afrika se oudste kerk is die Groote Kerk wat in 1665 in Kaapstad gebou is. Dit is steeds een van die vernaamste NG (Nederduitse Gereformeerde) kerke in die land, en is veral bekend vir sy enorme orrel wat, met 5 917 pype, die grootste in Suid-Afrika is. 27
  • Die kleinste Katolieke kerkie in die wêreld is die Llandaff Oratory wat naby Van Reenen op die N3-snelweg tussen Johannesburg en Durban geleë is. Dié kerkie, wat net agt mense kan huisves en ʼn nasionale monument is, is deur Maynard Mathews gebou as ʼn gedenkteken vir sy seun, Llandaff Mathews, wat agt mynwerkers op 19 Maart 1925 in ʼn mynongeluk gered het. 28
  • Die Groot Muur van China, wat oorspronklik oor meer as 21 000 km gestrek het (8 851 km bestaan nog), is ʼn Wêrelderfenisgebied én een van die Sewe Nuwe Wonders van die Wêreld. Het jy geweet die konstruksie van die muur het meer as 2 300 jaar (680 v.C.-1681) geduur? 29
  • Die Jeddah Tower in Jeddah, Saoedi-Arabië, sal met sy voltooiing die hoogste gebou in die wêreld wees. Dié 1 km hoë gebou (met 252 verdiepings!) is deur die Amerikaanse argitek Adrian Smith ontwerp (wat ook die Burj Khalifa ontwerp het) en sal wooneenhede, hotelle en kantore huisves. Dit sal uiteindelik deel vorm van die beplande Jeddah Ekonomiese Stad. Bouwerk staan egter reeds vir ʼn paar jaar stil. 30
  • As dit nie vir rekenaargesteunde ontwerp (“computer-aided design” of CAD) was nie, sou baie van die wêreld se bekendste geboue nie vandag bestaan het nie. Die Sydney-operahuis se ontwerp (deur die Deense argitek Jørn Utzon) is een van die eerstes wat met behulp van CAD getoets is, want mense was nie seker of dié gebou enigsins staande sou kon bly nie. Die ontwerp is oor ʼn tydperk van agt jaar aangepas om nouer en hoër te wees en die Sydney-operahuis is eindelik in 1973 geopen. Dit is sedert 2007 ʼn Wêrelderfenisgebied. 31
  • Die Taj Mahal word beskou as een van die mooiste geboue in die wêreld. Dit is geleë in die stad Agra in die noorde van Indië. ʼn Heerser met die naam Shah Jahan het die Taj Mahal vir sy geliefde vrou, Mumtaz Mahal, laat bou. Dié monument (ʼn mausoleum of groot, statige graftombe) op die oewer van die Yamuna-rivier rus op ʼn vierkantige marmerbasis (voetstuk) wat 7 meter hoog is. Suiwer wit marmer bedek die buitekant van die gebou en in die marmer is verskillende kleure edelstene ingelê. Die Taj Mahal is ook ʼn Wêrelderfenisgebied. 32
  • Die Leunende Toring van Pisa in Italië, wat tussen 1173 en 1372 as kloktoring vir die Pisa-katedraal langsaan gebou is, het nie altyd só baie (sowat 4°) oorgeleun (skuinsgelê) nie. Die sagte grond waarop dit gebou is, asook minstens vier groot aardbewings oor die jare, het veroorsaak dat dit al skuinser begin sak het. Ingenieurs het vir 20 jaar lank gewerk om dit stewiger te maak en glo dit behoort vir nog 200 jaar nie weer te beweeg nie. Meer as 5 miljoen mense klim jaarliks dié Wêrelderfenisgebied se bykans 300 trappies uit. 33
  • In Tom Cruise se rolprent Mission Impossible: Ghost Protocol (2011) klim sy karakter Ethan Hunt die wêreld se hoogste gebou, die Burj Khalifa in Dubai, uit. Tydens die verfilming van dié waagtoertjie is meer as 35 van dié gebou se vensters gebreek! 34
  • Die Atomium in Brussel, België, is een van die bekendste besienswaardighede in Europa. Dit is gebou vir die eerste naoorlogse wêrelduitstalling (EXPO 58). Die nege sfere beeld die atoomstruktuur van ysterkristal uit wat 165 miljard keer vergroot is. Die konstruksie deur ingenieur André Waterkeyn en argitekte André en sy seun Jean Polak sou aanvanklik net vir ses maande in 1958 opgerig wees, maar lok jaarliks duisende besoekers en is in 2006 opgeknap. 35
  • Die Agora-tuintoring (ook genoem Tao Zhu Yin Yuan) in Taipei, Taiwan, is meer as 90 meter hoog en het 21 verdiepings. Wat dié gebou deur die Belgiese ekologiese argitek Vincent Callebaut so spesiaal maak, is dat dit enersyds soos ʼn DNS-string (of heliks) lyk en andersyds verwyder die 23 000 bome, struike en plante op die grondvloer asook op balkonne en terrasse nagenoeg 130 ton se koolstofdioksied per jaar uit die lug! 36
Foto: iStock

Mense is sedert die Bybelse tye (dink byvoorbeeld aan die toring van Babel) voortdurend besig om al hoe interessanter, indrukwekkender én hoër geboue te ontwerp en te bou. Wolkekrabbers van staal, sement en glas wat soos lang arms deur die wolke strek.

Die bekroonde Kanadees-gebore Amerikaanse argitek Frank Gehry het eens op ʼn tyd gesê argitektuur moet ʼn verhaal oor ʼn spesifieke tyd en plek vertel, maar terselfdertyd na tydloosheid (wat nie uitgedien of oudmodies raak nie) streef. 1

Gerard Moerdijk

Iemand wat gewis gestalte (vorm of uitvoering) aan Gehry se woorde gegee het, was die bekende Suid-Afrikaanse argitek Gerard Moerdijk (soms ook Moerdyk gespel). Moerdijk was nie net die argitek (iemand wat geboue ontwerp en teken) van die Voortrekkermonument in Pretoria nie, maar ook van meer as 80 kerke en tientalle ander bekende geboue en huise in Suid-Afrika. 2

Geboorte en vroeë loopbaan

Gerard Moerdijk se ouers, Jan Leendert Moerdijk en Cornelia (née Dorst), het in 1888 van Nederland na Suid-Afrika geïmmigreer. Gerard se pa, ʼn onderwyser, was 21 jaar oud toe die gesin uit Nederland in Suid-Afrika aangekom het. Hulle het dié lang reis aangepak omdat pres. Paul Kruger van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (die ZAR of Transvaal) na onderwysers op soek was. 2

Gerard is op 4 Maart 1890 as Gerard Leendert Pieter Moerdijk op die plaas Zwaershoek in die Nylstroom-distrik (vandag Modimolle) in Limpopo gebore. 3

Tydens die Anglo-Boereoorlog is die tienjarige Moerdijk saam met sy ma, sy twee broers en twee susters in ʼn konsentrasiekamp in Standerton (in vandag se Mpumalanga-provinsie) aangehou. Dit is hier, onder die duim van die Britte, waar sy liefde vir die Afrikanernasionalisme (liefde vir die eie volk of nasie) waarskynlik ontwikkel het. 4

Ná die oorlog het die gesin in Pretoria gewoon, waar sy pa ʼn skool in ʼn tent begin het. Gerard het aanvanklik die Staats Model School bygewoon en uiteindelik in 1909 met lof aan die Pretoria Boys’ High School (toe Pretoria College genoem) gematrikuleer. 4

Die hoofgebou van Pretoria Boys’ High School (wat vroeër Pretoria College genoem is).

As jong man het Gerard as junior tekenaar vir die departement van openbare werke gewerk. Daarna het hy in 1910 by die Architectural Association School of Architecture in Engeland begin studeer en as argitek gekwalifiseer, waarna hy ʼn studiereis deur Europa onderneem en in onder andere Frankryk gestudeer het. Hy is in Italië aan Romeinse en Renaissance-argitektuur blootgestel. 4

Moerdijk was die eerste Suid-Afrikaanse lid van die Koninklike Instituut van Britse Argitekte (Royal Institute of British Architects). In 1913 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en as vennoot by die argitek Frank Emley in Johannesburg aangesluit. Kort hierna wen hy die eerste prys vir die ontwerp van ʼn kerk in Bothaville in die Vrystaat. Hy het weggebreek van die tradisionele manier waarop kerke tot in daardie stadium ontwerp is. 4

Sy eerste kerkontwerp

Bothaville is ʼn klein Vrystaatse dorpie wat as Suid-Afrika se mieliehoofstad bekendstaan omdat dit bykans so ver soos die oog kan sien, deur mielielande omring word. Dié dorp word gekenmerk deur sy talle silo’s (groot, hoë silindervormige houers waarin mielies gebêre of gestoor word) asook die toring van die Nederduitse Gereformeerde kerk (of kortweg die NG kerk). 5

Lede van die NG kerk hier was aanvanklik deel van die Kroonstad-gemeente, maar hulle besluit om in 1891 af te stig (hul eie gemeente te begin). Met Bothaville se sterk landbougemeenskap en gemeentetal (mense in die kerk) wat al meer en meer geword het, het ʼn nuwe kerkgebou nodig geword.

Bouwerk aan die kerk het in 1918 begin. Daar was ʼn paar veranderinge aan die ontwerp, hoofsaaklik aan die toring. Dit is die naweek van 2 tot 4 April 1920 ingewy, in die teenwoordigheid van Moerdijk en die boukontrakteurs, met sy naam wat op die hoeksteen van die kerk as die argitek daarvan pryk.

Die NG Moederkerk in Kroonstad.

Die kerk self is nie in die styl van latere Moerdijk-kerke nie. ʼn Herkenbare kenmerk is die sitplekrangskikking soos ʼn amfiteater rondom die predikant (dominee). Moerdijk het in ʼn boekie wat kort ná die voltooiing van die kerk gedruk is, Kerkgeboue vir Suid-Afrika, geskryf dat niemand in die gemeente ver van die predikant af moet wees nie. In die boekie skryf hy ook oor akoestiek (eienskappe van ʼn ruimte wat die weerkaatsing van geluide betref) en die boumateriaal wat aan die binnekant gebruik moet word.

Die kerk is aanvanklik gebou om 1 200 mense te akkommodeer. Dit is tot 800 verminder toe nuwe banke in 1964 geïnstalleer is. Twee van die oorspronklike banke is in die agterste ry van die balkon gelaat.

Die Voortrekkermonument

Die monument is ter ere van en tot nagedagtenis aan die Voortrekkers gebou. Dié yslike granietstruktuur is opgerig om die Voortrekkers se gelofte aan God te gedenk ná hulle tussen 1835 en 1854 uit die Kaapkolonie weggetrek het. 6

Dit was Moerdijk se ideaal om ʼn monument te ontwerp wat “as ʼn gedenkteken duisend jaar en langer moet staan om aan die nageslagte die geskiedenis en betekenis van die Groot Trek te verduidelik”. Die monument word as Moerdijk se magnum opus (grootste en belangrikste werk) beskou.

Die gedagte om ʼn monument ter ere van die Voortrekkers te bou, is reeds op 16 Desember 1888 bespreek toe pres. Paul Kruger die Geloftedagvieringe by Bloedrivier in Natal (vandag KwaZulu-Natal) bygewoon het. Dit was egter eers in 1931 toe die Sentrale Volksmonumentekomitee (SVK) op die been gebring is dat daar aan dié plan begin werk is. Die SVK is gestig om in beheer te wees van die geldinsameling, ontwerp en oprigting van die monument. Die regering het in 1935 verklaar dat só ʼn monument van nasionale belang is en het ook betrokke geraak by die beplanning en uitvoering van die projek.

Die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument het op 16 Desember 1938 plaasgevind. Elf jaar later, op 16 Desember 1949 en teen ʼn totale boukoste van sowat £359 600 (of sowat R720 000 – onthou Suid-Afrika het eers in 1961 van die pond na die rand oorgeskakel), is die monument deur die destydse eerste minister, dr. D.F. Malan, ingewy. Die monument is met die inwyding amptelik deur die regering in ontvangs geneem en aan ʼn beheerraad oorgedra wat dit tot en met 1993 namens die regering bestuur het. Sedertdien word die monument as ʼn niewinsgewende maatskappy (sonder winsbejag of winsoogmerk) bestuur. Die privaat maatskappy se hoofdoel is “om die Voortrekkermonument en omliggende natuurreservaat in ontvangs te neem, te behou en vir die nageslag te bewaar”.

Die Voortrekkermonument is in ʼn Art Deco-styl gebou met elemente van tradisionele Afrika-simboliek wat hulde bring aan die Voortrekkers. Die detail en simboliek in en om die monument is asembenemend. Een voorbeeld hiervan is die sonstraal wat elke jaar op 16 Desember (die dag waarop die Slag van Bloedrivier in 1838 plaasgevind het) om twaalfuur deur die opening in die boonste koepel van die monument op die senotaaf skyn. Moerdijk het destyds ʼn skaalmodel van die monument gebruik om die posisie van die son tydens die opening van die monument in 1949 te bepaal en die monument kan dus met ʼn groot sonwyser vergelyk word.

In Reddersburg in die Vrystaat staan ook een van Moerdijk se monumente. Skuins voor die poskantoor staan ʼn hoë netjies geboude en vierkantige klipmonument. Dit staan as die Groot Trek Eeufeesmonument bekend en is in 1938 onthul. 7

Romanelli, Moerdijk, Postma, Potgieter en Italiaanse marmerkappers.

Op ʼn granietplaat voor op die monument staan geskryf: “Voortrekker Eeufees 1838-1938. Ter herinnering aan die deurtog van die Voortrekker-ossewa deur Reddersburg op die pad van Suid-Afrika. 5 Oktober 1938.” 8

Voor die NG kerk in Middelburg, Mpumalanga, staan nóg een van Moerdijk se monumente en dit staan ook as ʼn Voortrekkermonument bekend. Dit is tydens die Voortrekker-eeufees (1838-1938) onthul. Op die monument staan geskryf: “Ter aandenking aan die gesneuwelde burgers en oudstryders van Middelburg tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902.” 9

Ander werk en nalatenskap

Voor die Voortrekkermonument het Moerdijk ook die Nederduitsch Hervormde kerk in Pretoria in 1935 ontwerp. Hy was ook die ontwerper van bankgeboue, hospitale, stadsale en huise. Sy opdragwerke sluit in die Reserwebank-gebou in Bloemfontein, die Libertas-gebou in Pretoria en die Merensky-biblioteek by die Universiteit van Pretoria.

Libertas, sedert 1994 bekend as Mahlamba Ndlopfu, is in 1934 deur Gerard Moerdijk ontwerp as amptelike woning in Pretoria vir die staatshoof van die Unie van Suid-Afrika.

Laasgenoemde staan deesdae as die Ou Merensky-biblioteek bekend aangesien ʼn nuwe biblioteek intussen gebou is, en bevat ʼn versameling van die beeldhouer Edoardo Daniele Villa se werk. Genl. Jan Smuts het die hoeksteen van hierdie gebou in 1937 gelê en in 1991 is dit tot ʼn nasionale monument verklaar. Dit het daarna ʼn provinsiale erfenisterrein geword, en is in 2012 tot nasionale erfenisterrein verklaar. 4

Merensky-biblioteek, Universiteit van Pretoria

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het Moerdijk in 1936 ʼn erelid gemaak en die Universiteit van Pretoria (UP) het in 1950 ʼn eredoktorsgraad aan hom toegeken. 4

Verskeie geboue op die UP-kampus is deur Moerdijk ontwerp, insluitend die patologie-gebou, die tandheelkunde-gebou en die klubhuis vir die studentevereniging. 2

Hier is nog ʼn rits van sy bekendste ontwerpe:

  • ʼn Hospitaal in Middelburg, Mpumalanga;
  • rondawels by Skukuza in die Krugerwildtuin;
  • die Pretoriuskop-ruskamp in die Krugerwildtuin;
  • die Moedersbond Vrouehospitaal en Kraaminrigting in Arcadia, Pretoria;
  • die Piet Retief-monument in Gqeberha (vroeër bekend as Port Elizabeth) in die Oos-Kaap; en
  • die Sanlam-gebou in Pretoria. 2
‘n Hospitaal in Middelburg wat deur Moerdijk ontwerp is.

In sy soeke na ʼn outentieke Afrika-styl het hy ontwerpe vir rondawelhuise in Die Boerevrou gepubliseer. Dié ontwerpe het baie gewild in Pretoria geword en is, onder andere, deur die bekende skilder Pierneef gebruik. 10

In 1935 het Moerdijk die boek, Die geskiedenis van boukuns, uitgegee. Geoffrey Eastcott Pearse, ʼn tydgenoot van Moerdijk en ywerige geskiedskrywer oor argitektuur, het in ʼn resensie oor die boek Moerdijk se nasionalistiese skryfwerk veroordeel. Pearse het verwys na Moerdijk se uitlatings soos: “Bykans alle geboue, woonhuise, skole, openbare geboue, is in die eerste 30 jaar ná 1902 net namaaksels van geboue in ander lande”. Pearse meen daar is geen verwantskap of verbintenis met die tradisie, geskiedenis of leefstyl van Suid-Afrikaners nie. 2

Pearse se skerpste kritiek was egter dat Moerdijk nie eens na sir Herbert Baker, ʼn Britse argitek wat ʼn groot uitwerking op Suid-Afrikaanse argitektuur gehad het, verwys het nie.

‘n Jong Gerard Moerdijk.

Baker is bekend vir sy ontwerp van die Uniegebou in Pretoria, die Rhodes-gedenkteken in Kaapstad, die Suid-Afrikaanse ambassade in Londen, Engeland en vele ander. 2

Sylva Moerdijk het oor haar man gesê hy het ʼn groot begeerte gehad om ʼn “ware Afrikaanse styl” te ontwikkel, hoewel dit soms gelyk het of hy streef na ʼn “Afrika-styl”. Moerdijk het Baker se invloed erken, maar dit teengestaan en gesê “groot werke soos byvoorbeeld die Uniegebou kan nooit deel vorm van ons nasie nie” (Kerkgebou 1919). 2

Moerdijk het geglo dat klip uit die onmiddellike omgewing gebruik moet word om mee te bou en het erken dat hy die tegniek van die geheimsinnige bouers van die Zimbabwe-ruïnes en die Egiptenare in die Voortrekkermonument toegepas het. 10 Moerdijk skryf in Die Nuwe Brandwag (ʼn tydskrif vir kuns en lettere) se uitgawe van November 1929: “Wat die optrek van die mure van ʼn kerkgebou betref, is daar geen mooier materiaal as klip nie, soms fyn bewerk, soms ru gelaat, al na die geaardheid van die klip en die karakter van die omgewing.” 11

Moerdijk het vir byna agt jaar lank nog as argitek gewerk ná die inwyding van die Voortrekkermonument en het uiteindelik deur sy loopbaan meer as 80 kerke ontwerp, en veral van agthoekige ontwerpe, koepels, Kaaps-Hollandse gewels en sirkelvormige vensters gebruik gemaak.

In Sunnyside in Pretoria sal jy Gerard Moerdykstraat aantref, wat na dié bekende argitek vernoem is. Dié straat bevat restaurante, kunswinkels en teaters wat reeds in die 19de eeu gebou is.

Moerdijk se vrou, Sylva, was die suster van die politikus Oswald Pirow. 2

Sy het Gerard met sy kantoorwerk gehelp en hulle het drie kinders gehad: een seun, Gerard Michel, gebore in 1920, en twee dogters, Irma Leonora, gebore in 1923, en Cornelia Sylva, gebore in 1930. 10

Gerard en Sylva Moerdijk.

In 1954, toe Moerdijk 64 jaar oud was, het hy homself as “ʼn boer-in-my-hart” beskryf en het die plaaslewe op sy plaas Modderpoort in die Waterberg-distrik in Limpopo saam met sy gesin geniet. Daar is diegene wat sê dat die Voortrekkermonument soos Kranskop, agter Moerdijk se plaas, lyk. Toe Moerdijk die Verenigde State van Amerika (VSA) in 1956 besoek het, was hy reeds siek.

Hy is in 1958 in die ouderdom van 68 jaar in die hospitaal in Modimolle aan Parkinson-siekte oorlede. Moerdijk en sy vrou Sylva is in die plaas se begraafplaas op Modderpoort begrawe. 10

15 moderne argitektoniese wonders

  • Burj Khalifa, Dubai, Verenigde Arabiese Emirate (VAE) – Die Burj Khalifa is sedert 2010 die wêreld se hoogste vrystaande struktuur. Dié gebou met sy 160 verdiepings (vloere) is 828 meter hoog en is ontwerp deur die Amerikaanse argitek Adrian Smith. 12
Burj Khalifa
  • The Shard, Londen, Verenigde Koninkryk – Dit is die hoogste gebou in Londen en die Europese Unie, en word as ʼn vertikale stad beskryf. Dié gebou (wat soos sy naam sê, soos ʼn glasskerf lyk) se 95 verdiepings bied sedert 2012 van die beste uitsigte oor die besige Londen. The Shard is deur die Italiaanse argitek Renzo Piano ontwerp. 13
The Shard
  • Manta Resort, Pemba-eiland, Zanzibar – Die Pemba-eiland beskik oor een van die ongelooflikste hotelle ter wêreld wat die geesteskind van Sweedse ontwerpers en ingenieurs was. Hier kan jy ʼn onderwaterslaapkamer bespreek en kyk hoe die visse verby jou bed swem. 14
  • Palm Jumeirah, Dubai (VAE) – Hierdie konstellasie van mensgemaakte eilande wat in die vorm van ʼn dadelpalm gegroepeer is (die nasionale plant van die VAE), word die beste vanuit die lug gesien. Die meesterplan vir dié indrukwekkende eiendomsontwikkeling is deur Helman Hurley Charvat Peacock, ʼn Amerikaanse argiteksfirma, opgestel. 15
Palm Jumeirah
  • Marina Bay Sands, Singapoer – Hierdie gebou (of eintlik drie geboue wat met mekaar verbind is) is glo die duurste vrystaande eiendom ter wêreld. Daar is meer as 2 500 luukse kamers op 55 verdiepings. Die geboue, wat in 2010 geopen is, is deur die bekroonde argitek Moshe Safdie, ʼn boorling van Israel wat ook Kanadese en Amerikaanse burgerskap het, ontwerp. 16
Marina Bay Sands
  • Taipei 101, Taipei, Taiwan – Dié wolkekrabber (wat soos ʼn lang bamboesstok lyk) was met sy voltooiing in 2004 die hoogste gebou ter wêreld en is ontwerp deur C.Y. Lee & Partners, ʼn plaaslike argiteksfirma. Die 101 verdiepings bereik saam met die spits (ʼn lang vertikale punt) ʼn hoogte van 508 meter. 17
Taipei 101
  • Haohan Qiao-brug, China – Hierdie is die wêreld se langste brug met ʼn glasbodem. As jy aan hoogtevrees ly, moet jy eerder verbyhou. Die brug, wat se houtvlakke in 2014 met dik glas vervang is, word nie verniet Dappermansbrug genoem nie! Dit is 300 meter lank en 180 meter bo die Shiniuzhai Nasionale Geologiese Park. 18
  • Die Bayterek, Kazakstan – Dié indrukwekkende 105 meter hoë monument wat in 2002 in die hoofstad Astana voltooi is, is deur Britse argitek Norman Foster ontwerp om ʼn volksverhaal oor die mitiese boom van die lewe en ʼn towervoël van geluk (genaamd Samruk) voor te stel, wat sy eier (wat 22 m in deursneë is!) in die mik van twee takke van ʼn populierboom gelê het. 19
Bayterek
  • Die Guggenheim-museum, Bilbao, Spanje – Argitek Philip Johnson het dié Frank Gehry-meesterstuk beskryf as “die indrukwekkendste gebou van ons tyd”. Dit bevat versamelings van moderne en kontemporêre Europese en Amerikaanse kuns en die gebou self, wat in 1997 geopen is, word as ʼn abstrakte kunswerk beskou. Daar is ook takke van dié museum in New York in die VSA en Venesië in Italië. 20
Die Guggenheim-museum in Spanje.
  • Die Louvre, Abu Dhabi (VAE) – Die Louvre in Abu Dhabi met sy kenmerkende silwer koepeldak is in 2017 ingewy en is die resultaat van ʼn vennootskap tussen Frankryk en die VAE. Baie kunswerke van die Louvre in Parys, Frankryk, en ander Franse museums word hier uitgestal. Die gebou, wat deur die argitek Jean Nouvel ontwerp is, is ʼn simfonie van sement, water en die speelse weerkaatsing van lig. 21
Louvre, Abu Dhabi
  • Die Sheikh Zayed-moskee, Abu Dhabi (VAE) – Dit is die grootste moskee in die VAE wat in 2007 geopen is en het die grootste Persiese tapyt ter wêreld. Die mure het marmer- en perlemoen-invoegsels en die gebou spog met ontwerpelemente van reg oor die wêreld. Die moskee se oorspronklike argitek was Yusef Abdelki van Sirië en kan tot 50 000 mense op ʼn slag huisves. 22
Sheikh Zayed-moskee
  • Die Petronas-torings, Kuala Lumpur, Maleisië – Die Petronas-torings is die wêreld se hoogste tweelingstruktuur (twee identiese geboue). Die geboue se 88 verdiepings, wat tot ʼn hoogte van 451,9 meter styg, word met ʼn brug verbind en is deur die argitek Cesar Pelli ontwerp. Dit is in 1996 geopen. 23
Petronas-torings
  • Ferrari World, Abu Dhabi (VAE) – As ʼn mens aan Ferrari dink, dink jy aan Formule 1-renmotors en baie spoed. Ferrari World is die grootste binnenshuise pretpark op die planeet en die eerste Ferrari-temapark. Dié tuiste van die vinnigste en hoogste pretparkritte in die wêreld is deur Benoy Architects ontwerp en in 2010 geopen. 24
Ferrari World
  • Nasionale Sentrum vir Uitvoerende Kunste, Beijing, China – Dié indrukwekkende gebou met sy operahuis, konsertsaal en teaters is deur die Franse argitek Paul Andreu ontwerp en in 2007 geopen. Die gebou is ʼn koepel van titanium en glas, en ontwerp om te lyk soos ʼn eier wat op water dryf, of ʼn reusewaterdruppel. 25
Nasionale Sentrum vir Uitvoerende Kunste, Beijing
  • Die Tokio Skytree, Japan – Dié gebou, oftewel televisie-uitsaaitoring, is 634 meter hoog (die hoogste in Japan) en ʼn bekende baken in Tokio. Aan die voet van die toring is ʼn inkopiesentrum en akwarium. Twee uitkykpunte (onderskeidelik 350 en 450 meter hoog) bied asemrowende uitsigte oor die stad. Die gebou is deur die Japanse argitektuurfirma Nikken Sekkei ontwerp en in 2012 geopen. 26
Tokio Skytree

Woordbank

Anglo-Boereoorlog Oorlog tussen die twee Boererepublieke, die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR of Transvaal) en die Republiek van die Oranje-Vrystaat, en die Britse Ryk wat van Oktober 1899 tot Mei 1902 in Suid-Afrika geveg is.
argitek Ontwerper van geboue en bestuurder van die uitvoering van die ontwerpe; boumeester.
Art Deco Gewilde Europese en Amerikaanse kunsstyl van die 1920’s en 1930’s, gekenmerk deur eenvoudige vorms/fatsoene
edelsteen Kosbare steen wat in ʼn spesiale vorm geslyp en veral in juweliersware gebruik word; edelgesteente (soos smaragde, robyne, saffiere en diamante).
eerste minister Hoof van ʼn verkose regering of van ʼn kabinet in sekere regerings.
ekologie Verhouding van lewende organismes tot hul omgewing.
erfenisterrein Plek wat vorige geslagte en die geskiedenis gedenk; nalatenskap; terrein waar voorwerpe, geboue, ens. besigtig kan word.
Geloftedagvieringe Vroeër, amptelike benaming vir die openbare vakansiedag op 16 Desember, tans Versoeningsdag.
gemeente Al die lede saam van ʼn kerk onder een kerkraad.
gewels Boonste, driehoekige gedeelte van ʼn muur, ingesluit tussen twee hellende en snydende dakvlakke.
Groot Trek Die massa-migrasie, vanaf 1835, van Kaapse Nederlandssprekende burgers na die Suid-Afrikaanse binneland om onder meer weg van Britse beheer af te kom.
hoogtevrees Akrofobie; vrees wat sommige mense ondervind as hulle hulself op ʼn hoë plek bevind, soms gepaardgaande met duiseligheid.
immigreer Van ʼn ander land kom om jou permanent in ʼn land te vestig.
koepel Bolvormige dak, veral van ʼn kerk/moskee/ens.
konsentrasiekamp Kamp waar politieke gevangenes en ander mense wat nie soldate is nie, aangehou (en dikwels wreed behandel) word, veral gedurende ʼn oorlog.
magnum opus Groot/belangrike werk in die kuns/musiek/letterkunde, dikwels as die betrokke kunstenaar/skrywer se heel belangrikste werk beskou.
meesterstuk Werkstuk waardeur iemand bewys dat hy/sy ʼn meester op sy/haar vakgebied is; iets voortrefliks; kunswerk van hoë gehalte.
mausoleum Groot, statige graftombe; praalgraf; eregraf.
moskee Islamitiese tempel of plek van aanbidding.
museum Gebou waarin voorwerpe van kuns of wetenskap versamel en uitgestal word.
namaaksels Iets wat nagemaak is; vervalsing.
nasionalistiese Oordrewe nasionaal (van, eie aan, of tipies van/vir ʼn nasie; nie uitheems/vreemd nie).
Parkinson-siekte ʼn Chroniese siekte gekenmerk deur spierstyfheid, spierverswakking, gebrekkige en stadige bewegings en tremor (bewing). ʼn Beduidende persentasie pasiënte kan ook kognitiewe inkorting (insluitend demensie) ontwikkel.
patologie Vertakking van die mediese wetenskap wat die aard en die oorsake van siektes behandel; siekteleer.
Renaissance Afgelei van ʼn Latynse woord wat hergeboorte beteken; tydperk in die geskiedenis ná die Middeleeue.
resensie Beoordeling van ʼn boek/kunswerk/opvoering/ens.
ruïnes Gebou wat in puin verval het; bouval; puinhoop.
senotaaf Die woord senotaaf is ontleen aan die Griekse woorde kenos wat “leeg” beteken en taphos wat “graf” beteken. ʼn Senotaaf is dus ʼn leë graf.
simboliek Wat simbole bevat/gebruik; ʼn bepaalde idee verteenwoordig/uitbeeld.
tydloosheid Nie aan tyd gebonde; onafhanklik van tyd.
vennoot Iemand wat saam met ʼn ander werk; saam handel dryf tot onderlinge voordeel.
wolkekrabbers Besonder hoë gebou; toringgebou.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer oor argitektuur te leer

Dit sou vandag meer as $1 miljard kos om die Groot Piramide in Giza in Egipte te bou

Ongelooflike argitektoniese meesterstukke reg oor die wêreld

Hoe die wêreld se hoogste gebou, die Jeddah Tower, sal lyk wanneer dit voltooi is

Vyftien van die vreemdste argitektoniese strukture in die wêreld

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 12 Julie 2022 | Bygewerk op 11 April 2024