Vinnige feite

Zoeloe-hutte.
  • In 1822 was Mzilikazi besig om deur die Oos-Transvaal (vandag Mpumalanga) van Shaka af weg te vlug en hy en sy mense het vir ’n ruk gebly waar die dorp Groblersdal vandag is. 4
  • Een van die redes waarom Mzilikazi daarin belanggestel het om meer oor die blankes (wit mense) te leer van wie hy nog net gehoor het, is omdat hy gehoor het van die vuurwapens (gewere) wat hulle gebruik het. 4
  • Difaqane/Mfecane: Hierdie was ’n tydperk vanaf ongeveer 1750 tot in die 1800’s waarin inheemse stamme in die binneland van Suid-Afrika mekaar aangeval en verdryf het. Dit het tot ’n uitgebreide beweging van stamme gelei en het veroorsaak dat kleiner stamme by groter en sterker stamme ingelyf is. Mzilikazi het ’n groot rol in die Difaqane gespeel.
  • In Zimbabwe het Mzilikazi die Shona-stam aangeval en hulle aan hom onderwerp. 6
  • Mzilikazi het sy hoofstat in die Matopo-heuwels Bulawayo genoem. 1
Foto: iStock

Wat ’n vreemde lewe het Mzilikazi (of Silkaats soos hy ook genoem is) nie gehad nie. Vir die grootste deel van sy lewe was daar baie geweld rondom hom. Hy het by sy oupa grootgeword en toe het dié einste oupa Mzilikazi se pa doodgemaak! As volwassene het Mzilikazi voortgegaan met geweld toe hy stamme rondom hom en ook die Voortrekkers aangeval en beroof het om sy eie stam sterker te maak en te laat groei.

Wanneer is Mzilikazi gebore?

Mzilikazi is in ongeveer 1790 in die omgewing van Mkuze (in vandag se KwaZulu-Natal) gebore. Sy naam beteken “Die groot pad”. Die Voortrekkers het hom ook Silkaats genoem en in sommige boeke is sy naam ook só opgeteken. Hy was die seun van Mashobane, leier van die Khumalo-stam. 1

Jeugjare en begin van sy leierskap

Die Khumalo-stam was onder leiding van Mzilikazi se pa, kaptein Mashobane, en hulle was verlangs familie van die Zoeloes. Hulle het naby die Swart-Mfolozirivier gewoon. Hul woonplek was tussen twee sterk groepe wat mekaar se vyande was. Hierdie twee groepe was die Mthethwa onder leiding van Dingiswayo en die Ndwandwe onder die baie sterk leier Zwide.

Zwide was ook die oupa van Mzilikazi omdat sy pa Mashobane met een van Zwide se dogters getroud was. Mzilikazi het in die huis van sy oupa Zwide grootgeword.

Ndebele-krygers val die Tswanas aan.

Toe Mzilikazi se pa, Mashobane, sterf nadat hy deur Zwide (sy skoonpa) vermoor is, het Mzilikazi die kaptein van die Khumalo-stam geword. Toe Dingiswayo ook sterf, het Mzilikazi besluit om nie meer met sy oupa, Zwide, se stam saam te werk nie. Shaka was in daardie stadium ’n baie sterk leier in Dingiswayo se weermag en het die koning van die Zoeloes geword. Mzilikazi het besluit om eerder vir Shaka te ondersteun. In ruil daarvoor sou Shaka vir Mzilikazi en sy Khumalo-stam beskerm.

Mzilikazi was ’n baie goeie soldaat – dapper en vreesloos. Hy het baie gou een van Shaka se raadgewers geword. 1

Shaka.

Shaka en Mzilikazi word vyande

Shaka het vir Mzilikazi vertrou, maar Mzilikazi het sy eie planne in die mou gevoer. Hy wou self ’n groot leier word. Hy wou nie meer ’n onderdaan van ’n ander koning wees nie en hy het planne gemaak om hom en sy mense vry van Shaka se invloed te maak.

Mzilikazi se kans het gekom toe Shaka hom en sy soldate in 1822 gestuur het om die Sotho-kaptein, Ranisi, aan te val. Hulle het die Sotho’s aangeval en hul vee (beeste) gesteel. Die reël was dat sulke vee wat van ander stamme gebuit is, vir Shaka gegee moes word. Mzilikazi het die vee egter vir homself gehou en in Junie 1822 het hy en sy onderdane gevlug omdat hulle geweet het dat Shaka hulle sou straf. 1

Mzilikazi bou sy eie koninkryk

Sover as wat Mzilikazi en sy onderdane beweeg het, het hulle mense doodgemaak en besittings gebuit. Hy het die sterkste mans gebruik om as soldate by hom aan te sluit en die vroue het hy as vrouens vir sy soldate saamgeneem. Sy besittings het al meer geword, terwyl sy status en mag ook groter geword het. In hierdie tyd was daar meer jong Sotho’s as Zoeloes onder sy onderdane.

Hierdie aanvalle van Mzilikazi op ander stamme was deel van die Difaqane-tydperk in die binneland van Suid-Afrika. 1

Wie was die Matabele en die Ndebele?

Die groepe mense wat in die Hoëveld gebly en Sotho gepraat het, het mense wat Nguni gepraat het, “maTebele” genoem. Die Nguni-sprekers het hulself Ndebele genoem. Toe Mzilikazi in die Hoëveld aangekom het, is die naam Matabele vir sy soldate gebruik. Die ander stamme was baie bang vir die Matabele omdat hulle so wreed was. Een van die wrede dinge wat Mzilikazi en sy soldate gedoen het, was om kaptein Thulare se Pedi-stam oor te neem en vyf van sy nege seuns dood te maak.

Ndebele-krygers.

Mzilikazi het ook die Bakwena-stam oorweldig en baie wreed teenoor hulle opgetree. Hy het voortgegaan en al die Tswana-groepe in die gebied aangeval en vermoor.

Aan die begin van 1832 het die Matabele verder gegaan met hul strooptogte. Hulle het die statte van die Rolong en die Hurutshe aangeval en verwoes.

Hierdie tydperk is later deur geskiedenisskrywers die tyd van die Matabele-oorloë genoem. 1

‘n Ndebele-kraal.

Mzilikazi bou militêre vestings

Tussen 1827 en 1832 het Mzilikazi vir hom drie militêre vestings gebou. Die grootste was Kungwini wat langs die Apiesrivier aan die voet van die Wonderboomberg was – dit wil sê in die noordelike deel van die huidige Pretoria. The tweede is Dinaneni genoem, noord van die Hartbeespoortdam, en die derde was Mhlahlandlela naby Rustenburg.

Mfekane-vlugtelinge het in bome gewoon.

Later het Mzilikazi nog drie vestings gebou. Die een was die stat Mosega. Die tweede was ’n vesting wat hy by Tshwenyane gebou het en naby die Groot Maricorivier het hy ’n baie groot vesting met die naam Kapain gebou.

In hierdie stadium was die hele gebied vanaf die Vaalrivier in die suide tot waar die Krokodil- en Limpoporivier in die noorde saamvloei, Mzilikazi se koninkryk.

Teen 1829 het die Matabele-stam gegroei tot ongeveer 70 000 mense. 1

Mzilikazi en Robert Moffat

In 1830 het Robert Moffat ‘n besoek aan Mzilikazi gebring. Hy was ’n Skotse sendeling wat tussen 1821 en 1870 onder die Tswana-volk sendingwerk gedoen het.

Moffat het Mzilikazi as ’n vriendelike persoon beskryf wat sjarmant, aantreklik en waardig was. Volgens Moffat sou hy nooit geglo het dat Mzilikazi so wreed kon wees as hy nie self gesien het hoe dié koning mense doodmaak nie. Mzilikazi het ’n groot bewondering vir Moffat gehad. Hy het hom die Koning van Kuruman genoem.

In 1835 het Moffat weer vir Mzilikazi besoek. Toe Moffat noem dat hy hout vir sy nuwe kerk in Kuruman soek, het Mzilikazi self saam met hom gegaan om na goeie hout te soek.

Moffat het die koning weer in 1854, 1857 en 1859 besoek. Mzilikazi se gesondheid het agteruitgegaan en volgens Moffat was hy later nie meer so ’n gevreesde leier soos vroeër nie.

Mzilikazi het Moffat se seun, John Moffat, toegelaat om ’n sendeling in Matabeleland te word. 1

Die Skotse sendeling Robert Moffat.

Gevegte met die Voortrekkers

Vroeg in 1836 het twee groepe Voortrekkers, dié van Louis Trichardt en Van Rensburg, in Matabele-gebied inbeweeg. Hulle is deur die Matabele’s aangeval. Later was daar nog gevegte tussen die Voortrekkers en die Matabele-stam.

Op 16 Oktober 1836 het die Matabele Hendrik Potgieter se laer by Vegkop aangeval. Die Voortrekkers was te sterk en die Matabele’s moes hul aanval staak. Ongelukkig het hulle al die Voortrekkers se vee gebuit.

Op 17 Januarie 1837 het Potgieter die Matabele’s by Mosega aangeval en die stat vernietig. 1

In November 1837 het die Trekkers van Potgieter, Gerrit Maritz en Piet Uys ook ander Matabele-statte langs die Groot Maricorivier vernietig. In nege dae se tyd is hierdie statte van Mzilikazi vernietig: Mezeg, Maaierskraal, Kapain, Lotteringskop en Tweedepoort. Meer as 3 000 Matabeles is tydens hierdie gevegte dood, terwyl nie een Voortrekker gesneuwel het nie. 2

Piet Uys.

In hierdie stadium was daar slegs 15 000 van Mzilikazi se onderdane oor. 1

Omdat Mzilikazi bang was dat die Trekkers hom heeltemal gaan oorwin, het hy verder noordwaarts getrek. Hulle het oor die Limpoporivier getrek en daarna in twee groepe verdeel toe hulle in die gebied kom wat vandag Botswana en Zimbabwe is. Hy en sy mense het tussen die Limpopo- en Zambezirivier gaan bly en later het hierdie gebied die naam Matabeleland gekry. Mzilikazi word as die stigter van die Ndebele in Zimbabwe beskou. 3

Mzilikazi se laaste jare

Twee jaar nadat Mzilikazi na Zimbabwe getrek en sy mense in twee groepe verdeel het, het die twee groepe weer met mekaar in aanraking gekom. Die een groep het intussen Mzilikazi se oudste seun as hul leier verkies.

Toe Mzilikazi hoor dat sy raadsmanne ’n opvolger vir hom gekies het, het hy hulle na Bulawayo ontbied. Hy het hulle daarvan beskuldig dat hulle hom verraai het en het hulle almal laat doodmaak. Hy het ook beveel dat al sy seuns doodgemaak moet word sodat daar nie nog iemand is wat in sy plek as leier gekies kon word nie.

Een van Mzilikazi se vrouens, Fulatha, het egter hul seun Lobengula weggesteek sodat hy nie doodgemaak kon word nie.

Mzilikazi het hierna voortgegaan om die ander stamme wat naby gewoon het, aan hom te onderwerp sodat hulle die Ndebele-taal en -kultuur aangeneem het.

Op 9 September 1868 is Mzilikazi by Ingama, naby Bulawayo, dood. Lobengula is in 1870 in sy plek as koning gekies. 1

Woordbank

bondgenoot ’n Staat (of groep) wat hulp aan ’n ander staat beloof het indien hulle aangeval word.
gebuit Iets wat geroof is – dit gebeur meeste van die tyd deur geweld te gebruik.
in die mou gevoer Om iets te beplan sonder om vir ander daarvan te sê.
onderdaan Inwoner van ’n land wat gehoorsaam moet wees aan die regering van daardie land.
status Iemand se posisie tussen ’n groep mense – as iemand status het, is daardie persoon om verskillende redes (rykdom, geleerdheid, ens.) iemand wat bewonder word.
strooptogte Die ander woord vir strooptog is rooftog. Dit word gewoonlik gebruik wanneer ’n land se vyande die land binnekom en daar ’n strooptog uitvoer.
vestings Woonplekke wat versterk is en waar die ondersteuners of onderdane van ’n leier woon.

Kyk dié video’s om meer te leer

Die geskiedenis van Mzilikazi

Mzilikazi en sy mense

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 31 Augustus 2022 | Bygewerk op 3 November 2023