Vinnige feite

  • Sebras se habitat is besig om al hoe kleiner te word. Daar is reeds twee lande waar hulle voorheen geleef het, maar waar ‘n mens hulle nie meer aantref nie, naamlik in Lesotho en Burundi. 11 [Lees hier oor habitat.]
  • Nog ’n dier wat strepe op ’n gedeelte van sy lyf het, amper soos die sebra, is die okapi. Hy is eintlik verlangs familie van die kameelperd, maar hy het strepe op sy bene en op sy agterlyf. 12
  • Het jy al gehoor dat ’n voetgangeroorgang in ’n straat ’n sebra-oorgang genoem word? Natuurlik kom hierdie naam van die sebra se strepe af! 3
  • Daar word geglo dat daar in prehistoriese tye sebras in Noord-Amerika kon gewees het wat naby familie van die Grevy-sebra was. 3
  • Is ’n sebra wit met swart strepe? Nee! ’n Sebra se vel is eintlik swart, hy is dus swart met wit strepe. 11

Hierdie gestreepte dier wat amper soos ’n perd of ’n donkie lyk en soms sommer “pajamadonkie” genoem word, is een van die tientalle interessante en besonderse diere in die wêreld. Watter ander dier kan immers spog met ’n vel wat soos gestreepte nagklere lyk? En dan kan ons boonop spog dat dié dier net in Afrika natuurlik voorkom en dat een van die vier spesies of soorte slegs in Suid-Afrika aangetref word.

‘n Mens kan sommer hier noem dat ’n kwagga en ’n sebra eintlik presies dieselfde dier is. Daarom gebruik sommige skrywers die naam “sebra” en ander die naam “kwagga”. Soms gebruik mense selfs die twee name saam. Daar is wel een soort kwagga wat meer as ‘n eeu gelede uitgesterf het. Maar meer hieroor later.

Hoe lyk ’n sebra?

Sebras is inheems aan die suidelike, oostelike en noordoostelike dele van Afrika. Hulle lyk omtrent net soos perde, met stewige lywe, dun bene en ’n lang kop. Hulle het ’n stert met ’n kwas aan die punt en kort maanhare op hul nekke. En dan het hulle natuurlik daardie kenmerkende, gestreepte vel. Oor hierdie interessante strepe vertel ons ook later bietjie meer. 1

Sebras se manlike en vroulike diere word onderskeidelik ’n hings en ’n merrie genoem. En, net soos by ’n perd, noem mens ’n jong sebra ’n vul.

Wetenskaplike naam

Sebras is soogdiere en hul wetenskaplike familienaam is Equidae. Die genus is Equus. 2

Voor 2004 het wetenskaplikes die twee soorte bergsebra as een spesie beskou, maar in 2004 het C.P. Groves en C.H. Bell se navorsing gewys dat hierdie twee soorte genoeg van mekaar verskil dat hulle as twee afsonderlike spesies beskou kan word – dit wil sê Equus zebra zebra en Equus zebra harmannea. 3

Daar is egter steeds wetenskaplikes wat sê dat die twee spesies bergsebras eintlik net subspesies is en nie genoeg van mekaar verskil om elkeen ’n eie spesie te wees nie. 4

Verskillende soorte sebras

In suidelike Afrika kom daar drie spesies voor:

  1. Vlaktekwagga: Equus quagga (in Engels: Plains Zebra). Hierdie sebra word ook die Burchell-sebra of bontkwagga genoem.
  2. Kaapse bergkwagga: Equus zebra zebra (in Engels: Cape Mountain Zebra).
  3. Hartmann se bergsebra: Equus zebra hartmannae (in Engels: Hartmann’s Mountain Zebra). 5
‘n Sebramerrie en haar vulletjie in die Rietvlei-natuurreservaat naby Pretoria.

Die vierde spesie, Grevy se sebra (Equus grevyi), kom in Ethiopië en die noordelike deel van Kenia voor.

‘n Mens kan maklik deurmekaar raak omdat die vier spesies baie eenders lyk, maar daar is tog ’n klompie verskille tussen hulle.

Hier is van die ooreenkomste:

  • Hulle kan ongeveer 35 jaar oud word.
  • Hulle leef gewoonlik in klein troppe wat bestaan uit ’n hings, ’n paar merries en ’n paar jong vullens. ‘n Mens kry ook troppe wat net uit ’n groepie hingste bestaan en dan is daar ook hingste wat op hul eie leef. 5
  • Hulle geluid klink soos ’n gesnork of gerunnik of ’n hoë fluitgeluid om te waarsku wanneer hulle bedreig voel. 5
  • Sommige skrywers is van mening dat die geluid wat sommige sebras maak, klink soos “kwa-ha” en dat dit is waar die naam “kwagga” vandaan kom. 6
  • Die merries kry een vul op ’n slag, nadat sy vir ongeveer 12 en ’n half maande dragtig was.

Hoe verskil die soorte sebras?

Die vlaktekwagga/bontkwagga/bontsebra

Hierdie soort sebra word in Engels die Plains Zebra genoem en sy botaniese naam is Equus quagga. Hy word egter ook die Burchell-sebra genoem. Hulle kom voor in die noordoostelike deel van Suid-Afrika en ook in ’n redelik groot gebied verder noord in Afrika. 5

Hulle verkies grasveld en bossieveld. Hulle is baie afhanklik van water, beweeg selde verder as 12 km weg van water af en eet gras, blare en soms ook peule. 6

Die hingste weeg tussen 290 en 340 kg en die merries tussen 290 en 325 kg. Hulle is dus amper-amper ewe groot. ‘n Mens sien dikwels dat hulle in groepe saam met wildebeeste wei. Hierdie soort sebra se vyande is leeus, jagluiperds en die gevlekte hiëna. 5

Hierdie sebra verskil op ’n paar maniere van die Kaapse bergkwagga of Kaapse bergsebra. Hul maanhare is bietjie langer en hul ore kleiner. Hulle het ook nie ’n wit pens nie. 5

‘n Vlaktekwagga.

Kaapse bergkwagga/Kaapse bergsebra

Die Kaapse bergkwagga se Engelse naam is die Cape Mountain Zebra en sy botaniese naam is Equus zebra zebra. Hulle word slegs in die bergagtige dele van die Oos- en Wes-Kaap aangetref. Hulle verkies grasveld bo bossiesveld en hou nie daarvan om in die bosse langs riviere te leef nie. Hulle vreet gras en soms blare. 6

Die hingste weeg 250 tot 260 kg en die merries 204 tot 257 kg. Hulle is dus so ’n bietjie kleiner as die vlaktekwagga. Hulle verskil verder van die vlaktekwagga omdat hulle ’n losserige keelvel en wit pense het. Hulle het ook ’n bruinoranje stukkie vel net bokant hul swart neuse.

Die Kaapse bergkwagga is gelukkig – hulle het geen natuurlike vyande nie! 5

‘n Kaapse bergkwagga in die Bergkwagga Nasionale Park buite Cradock in die Oos-Kaap.

Hartmann se bergkwagga/Hartmann se bergsebra

Net om ‘n mens nog meer deurmekaar te maak met sebras en kwaggas, is daar nog ’n Hartmann-bergkwagga ook! Sy Engelse naam is Hartmann’s Mountain Zebra en sy botaniese naam is Equus zebra hartmannae. Hy is vernoem na dr. George Hartmann, ’n Duitse aardrykskundige, politikus en ontdekkingsreisiger, wat in 1945 oorlede is

Hulle kom slegs in ’n klein gebied ver noord in die Kaapprovinsie voor en ook verder noord in Afrika. Hulle verkies gebiede waar vlaktes en berge bymekaar kom en wissel tussen die twee soort gebiede na gelang van waar daar kos beskikbaar is. In droogtetye wanneer water skaars is, sal hulle in die grond vir water grawe. Nadat dit gereën het, kan hulle tot 100 km ver trek agter weiding aan. 6

Hulle dieet bestaan uit gras en soms ook fyn takke en bossies. Die hingste weeg van 270 tot 330 kg en die merries van 250 tot 300 kg. 5

Hierdie kwagga het ook swart strepe, maar die ligter strepe is nie heeltemal wit nie – hulle is geelwit. Hulle het ook ’n wit maag soos die Kaapse bergkwagga. Hulle is bietjie groter as die Kaapse bergkwagga en die strepe op hul boude is bietjie smaller as dié van die bergkwagga.

Hartmann se bergkwagga wei soggens en laatmiddag wanneer dit koeler is, en rus bedags in die skaduwee. Net soos met die vlaktesebra is hul natuurlike vyande leeus, jagluiperds en gevlekte hiënas. 5

Hartmann se bergsebra in die Etosha Nasionale Park in Namibië.

Grevy se sebra 

Grevy se sebra (Equus grevyi) is die grootste van die vier spesies. Hul maanhare staan regop en die kop is smaller. Hulle kom in Ethiopië en die noordelike deel van Kenia voor. Hulle het groter ore as ander sebras en hul strepe is smaller. Hulle is vandag baie skaars en word as ’n bedreigde spesie beskou. 3

Hierdie spesie is na Jules Grévy genoem. Hy was ’n president van Frankryk en het in 1882 een van hierdie sebras as geskenk van Menelik II, die keiser van Abessinië (vandag Ethiopië), gekry. 6

Grevy se sebras in die Samburu Nasionale Reservaat in Noord-Kenia.

Die storie agter sebras se strepe

Geen twee sebras se strepe het dieselfde patroon nie. Kan jy glo, uit al die duisende sebras wat leef en wat ‘n mens soms in baie groot troppe bymekaar sien, sal jy glad nie twee kry wat presies dieselfde strepe het nie.

Sebras se strepe verskil net soos mense se vingerafdrukke van mekaar verskil – daar is ook nie in die hele wêreld twee mense wat presies dieselfde vingerafdrukke het nie. 1

Navorsers het vroeër gedink dat sebras se strepe slegs help om roofdiere te verwar wat hulle wil aanval. 7 Vandag meen hulle dat die unieke strepe die diere ook help om mekaar te herken. 8

Interessante navorsing is in 2016 en 2017 in Engeland gedoen. Navorsers het gevind dat bloedsuier-insekte soos perdevlieë makliker op perde sal gaan sit om hulle te steek as wat hulle op sebras sal gaan sit. Hulle het vir perde alternatiewelik gestreepte en effekleurige jasse aangetrek en dan het die vlieë eerder op die perde gaan sit wat net een kleur was as dié wat die gestreepte jasse gedra het. 9

Sebras se strepe help ook om hulle koel te hou. Hulle kan byna 70% van die hitte van die son wegkeer omdat lug met verskillende snelhede oor wit en swart oppervlaktes beweeg – swart absorbeer die lig en wit weerkaats die lig – die sebra se vel maak dus sy eie lugstrome wat hom help om af te koel! 10

Nog dinge om van sebras te weet

Sebras is soogdiere en herbivore. Hul tande is spesiaal aangepas vir hul dieet. Hulle het skerp snytande voor wat die gras afsny en sterk kiestande wat die kos verder fynmaal.

Sebras lyk na taamlik rustige diere, maar ‘n mens moet jou nie laat flous nie. Hulle kan geniepsig byt en kan, soos hul perdeneefs, baie hard skop. Dit is soos hulle hulself verdedig teen roofdiere en dit is ook hoe hingste met mekaar baklei. ‘n Sebra se skop kan inderdaad dodelik wees! Wanneer daar gevaar vanaf ’n roofdier dreig, sal die trop sebras dikwels in ’n kring staan om hulself te beskerm. Indien ’n sebra beseer is, sal die res van die trop ook rondom die beseerde dier gaan staan. 1

Het jy geweet sebras kan selfs ’n leeu doodmaak! 11

Sebras is in die verlede soms mak gemaak. In 1907 was daar ’n dokter in Nairobi, Kenia wat op ’n sebra gery het om sy huisbesoeke te gaan doen. In Londen, Engeland was daar selfs ’n man met die naam lord Rothschild wat vier sebras ingespan het om sy koets te trek! Omdat hulle maklik skrik en ’n onvoorspelbare geaardheid het, werk dit gewoonlik nie om op hulle te probeer ry nie.

Die moderne beskawing het ’n negatiewe uitwerking op die aantal sebras wat vandag nog leef. Sebras word vir hul velle gejag en boonop word die gebiede waar die diere ongestoord kan leef, al hoe kleiner. 3

Sebras se sintuie is goed ontwikkel. Hulle kan baie goed sien en sommige wetenskaplikes dink selfs dat hulle kleure kan onderskei. Omdat hulle oë aan die kant van hul koppe sit, kan hulle wyd rondom hulself sien. Hulle sien ook goed in die nag. Hul ore is groter en ronder as dié van perde en hulle kan baie goed hoor. Wanneer ’n sebra kalm is, staan sy ore regop. Wanneer hy bang is, lê sy ore meer plat na vore. Wanneer hy kwaad is, trek hy weer sy ore na agter. Hulle kan ook baie goed ruik. 3

’n Sebravul kan sommer net ’n paar uur ná geboorte reeds saam met die trop hardloop. Sebras kan tot 65 km per uur hardloop sodat hulle vinnig genoeg is om selfs vir leeus weg te hardloop. 11

Die kwagga wat uitgesterf het

Daar is ’n dier wat “kwagga” genoem is (’n subspesie van die vlaktesebra) en baie, baie lank gelede uitgesterf het.

Hierdie subspesie – die Equus quagga quagga – was deel van die vlaktesebras wat op die vlaktes van die Karoo en die Vrystaat geleef het. Hulle het minder strepe op hul lywe gehad, hulle was bietjie bruiner as ander sebras en hulle het nie strepe op hul pote en mae gehad nie. Ongelukkig is hierdie diere só baie gejag dat daar in die negentiende eeu naderhand niks van hulle oor was nie.

Equus quagga quagga.

In 1987 het die Kwagga-projek afgeskop, waarmee daar probeer word om hierdie diere weer in groot getalle te laat herleef. 11

Twee van die wetenskaplikes wat deel vorm van hierdie projek, is Eric Harley, professor aan die Universiteit van Kaapstad, en Mike Gregor, die leier van die projek. Hulle het velle van hierdie diere wat nog gevind kon word, getoets, en vasgestel dat dié diere deel van die vlaktesebras was.

Daar is reeds ’n aantal diere geteel waarvan die strepe anders lyk as die sebras wat ons vandag ken. 12 Hierdie nuwe kwaggas word Rau-kwaggas genoem en daar is tans ongeveer 200 van hulle. Hulle is vernoem na Reinhold Rau wat die Kwagga-projek begin het. 13

Woordbank

bedreigde spesie Diere waarvan daar baie min in die wêreld oor is en wat moontlik heeltemal kan uitsterf.
dragtig Die tyd tussen bevrugting en wanneer ’n dier se kleintjie, in hierdie geval vulletjie, gebore word.
effekleurige Slegs een kleur.
flous Om te dink dat die dier op een manier gaan optree en dan tree hy heeltemal anders op.
geniepsig Met die doel om iemand seer te maak.
habitat Die gebied waar toestande soos klimaat en voeding reg is vir ’n dier om in te leef.
herbivore Diere wat plante eet.
inheems Die land of plek waar diere natuurlik voorkom.
kwas Klos hare aan die punt van ’n dier se stert.
maanhare Lang hare op die nek van ʼn leeu, perd, donkie of sebra.
onderonsie Wanneer twee diere of mense van mekaar verskil en selfs begin baklei.
ongestoord Sonder om gesteur of gepla te word.
sintuie Vermoë om te kan sien, hoor, ruik, proe (smaak) en voel.
soogdiere Diere wie se kleintjies melk van die ma’s drink.
spesie Soort.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk hier om meer te wete te kom

Pragtige foto’s van sebras se strepe (Kyk ook na die perde met hul gestreepte jasse!)

Kyk hoe waai sebras vlieë weg!

Sebras trek soms baie ver agter weiding aan 

Tien interessante feite oor sebras

Nog prettige sebrafeite

Het jy hierdie geweet?

Gepubliseer op: 17 Augustus 2023 | Bygewerk op 30 November 2023