Vinnige feite

  • Sarel Cilliers word ‘Die vader van die Gelofte’ genoem.
  • Cilliers het deelgeneem aan die gevegte by, onder meer, Vegkop, Mosega en Bloedrivier.
  • Cilliers was die eerste persoon wat die Gelofte afgelê het.

Sarel Cilliers was ‘n leiersfiguur tydens die Groot Trek en het ‘n sleutelrol gespeel in die skryf en aflê van die Gelofte.

Hy is op 7 September 1801 in Dal Josafat, Paarl gebore en was die vierde van sewe kinders. Toe hy vyf jaar oud was, het sy ouers na die plaas Blaauwkrans in die Graaff-Reinetdistrik verhuis. Hier het Cilliers grootgeword.

Hy is getroud toe hy 22 jaar oud was en het daarna na die nuwe Hantamwyk in die Colesbergdistrik getrek waar hy geboer het. Hy en sy vrou Anna Francina Viljoen het 11 kinders gehad. 1

Cilliers is ná sy vrou se dood met Aletta Elizabeth Loots getroud en hulle het een seun gehad. 2 Hy sterf op 4 Oktober 1871.

Sarel Cilliers se persoonlikheid

Cilliers was van jongs af diep godsdienstig. Dit skryf hy self in ’n brief van 11 Januarie 1853: “Ik erken dat ik de Heer was zoekende van mijn tiende jaar…” (Ek erken dat ek vandat ek 10 jaar oud was, na die Here gesoek het.)

Tydens die Groot Trek was hy ’n diaken in die kerkraad van eerwaarde Erasmus Smit. Hy was ook in later jare vir 25 jaar lank ouderling in Pietermaritzburg, Winburg en Kroonstad.

Cilliers het dikwels met dr. Andrew Murray kontak gehad en ook huisbesoek saam met hom gedoen. Murray getuig soos volg oor Cilliers: “Onder de vele vrome ouderlingen, uitstekende mannen, die ik gekend heb, staat hij bovenaan” (Ek het baie vrome ouderlinge geken. Sarel Cilliers is van die beste onder hulle.) 3

Andrew Murray as jong leraar

Sarel Cilliers in die Groot Trek

Cilliers het met sy vrou en ses kinders uit die Colesbergdistrik weggetrek om aan die Groot Trek deel te neem. Hy was toe 34 jaar oud. Op pad het ’n aantal families by sy trek aangesluit.

Toe hulle die Boesmansberg in die Transoranje bereik, het sy trek by die trek van Andries Hendrik Potgieter aangesluit. Hulle het oor die Grootrivier (vandag Oranjerivier) getrek en hulle op verskillende plekke in die suidelike dele van die Vrystaat gevestig.

Tregardt-hulle trek oor die Noordelike Drakensberg

Cilliers het hier ’n belangrike rol gespeel in die gevegte teen die Matebeles van Silkaats by Vegkop en Mosega. Cilliers was waarskynlik ook die leier in die Slag van Vegkop.

Slag van Vegkop

Cilliers was een van die mense wat daarteen gewaarsku het dat Dingaan ’n tweede keer besoek moet word om oor grond vir die Trekkers te onderhandel. Toe Retief in elk geval besluit om te gaan, het Cilliers ernstig gevra dat daar net ’n paar mans saam met Retief gaan in plaas van ’n groot groep. Ongelukkig het dit ook nie gehelp nie.

Cilliers se broek na die Slag van Vegkop

Ná die moord op Retief, toe Dingaan sy impi’s gestuur het om die Voortrekkerlaers aan te val, het Cilliers saam met vyf mans met perde van laer tot laer gejaag om die laers se mense te waarsku. 3

Bloukrans

Sarel Cilliers se rol in die Gelofte

In November 1838 is Andries Pretorius as hoofkommandant van die strafkommando teen Dingaan aangewys. Terwyl hy met sy kommando op pad na Zoeloeland was, het hy met sy manskappe en kommandante die moontlikheid van ‘n gelofte aan God bespreek. Hulle het almal daarmee saamgestem. 4

Daar is ook bronne wat noem dat dit Cilliers se optrede was wat vir Pretorius die gedagte van ’n gelofte gegee het. Tydens die kommando se trek na Zoeloeland het drie Trekkers saans beurte gemaak om die aandgodsdiens waar te neem. Cilliers was een van hulle en sy preke uit die Ou Testament het moontlik vir Pretorius aan ’n gelofte laat dink.

Dit is nie seker wie die Gelofte geskryf het nie, maar dit was waarskynlik Cilliers. Hy word ook meesal ‘Die vader van die Gelofte’ genoem. 5

Sarel Cilliers was die persoon wat die Gelofte op Sondag 9 Desember 1838 in ’n gebed vir die eerste keer afgelê het. Dit het gebeur by die spruit wat vandag Wasbankspruit genoem word. Hy het op ’n kanon gestaan terwyl hy dit gedoen het. Die Voortrekkers het daarna elke aand die Gelofte afgelê tot en met die geveg met die Zoeloes.

In die Gelofte is die volgende belowe: “Dat as God die Trekkers sal help om die geveg te wen, hulle en hulle nageslag dié dag sal onthou en herdenk en dat hulle ’n kerk sal bou ter ere van God. 4

Sarel Cilliers-monument in Kroonstad

Na afloop van die Groot Trek

Ná die oorwinning by die Slag van Bloedrivier het die Voortrekkers na Pietermaritzburg verhuis, en in 1840 het Cilliers en sy gesin na ‘n plaas in Welgevonden (nou Colbourn), 26 km noord van Howick in Natal, verhuis. Deur hout van die bome op sy plaas te verkoop kon hy ‘n goeie inkomste maak. 6

Cilliers dien dan ook op die raad van die Republiek van Natalia. Ná die Britse anneksasie onttrek hy hom van die politiek

In 1847 het hulle na die plaas Doornkloof in die distrik Lindley in die Vrystaat verhuis. Hier het Cilliers vir byna 25 jaar ’n belangrike rol in die kerk en kerksake gespeel. Cilliers is op 4 Oktober 1871 op Doornkloof oorlede. 1

Sarel Cilliers as skrywer

Cilliers het tydens die oorlog ’n joernaal gehou. Hy het ook baie briewe geskryf wat behoue gebly het.

In die joernaal is daar veral inligting oor die Groot Trek. Hy vertel daarin van die geveg by Vegkop en daaruit kan mens, onder meer, aflei dat hy daar as leier opgetree het. Hy skryf ook oor die redes waarom die Trekkers uit die Kaapkolonie getrek het. 3

Slag van Vegkop

Verering van Sarel Cilliers

In Kroonstad se hoofstraat is ’n monument ter ere van Sarel Cilliers opgerig. Die monument staan voor die Nederduits Gereformeerde kerk en is op 16 Desember 1950 onthul. Dit was toe 112 jaar ná die Slag van Bloedrivier. 1

Daar is ook strate en skole na Cilliers vernoem. Hier is ’n paar voorbeelde:

  • Sarel Cilliersstaat in Benoni.
  • Sarel Cilliers High School in Glencoe.
  • Sarel Cilliers Primêre en Sekondêre skool in Koppies, Vrystaat.
  • Die brug oor die Valsrivier buite Kroonstad word die Sarel Cilliersbrug genoem. 2
Sarel Cilliersstraat, Colesberg
Sarel Cilliersbrug oor die Valsrivier, Kroonstad

Woordbank

impi ’n Groep Zoeloe-soldate.
Transoranje trans beteken ‘oorkant’ of ‘anderkant’. Die woord beteken dus letterlik ‘anderkant die Oranje’.

 

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 2 Junie 2022 | Bygewerk op 20 Maart 2024