Vinnige feite

  • Shaka was ’n baie lang man en hy was sterk gebou – waarskynlik die rede dat hy ook ’n baie dapper soldaat was. 1
  • Shaka se stat is Bulawayo genoem en dit was in die Mhlatuze-vallei – ongeveer 27 km van waar die dorp Eshowe vandag is. Daar was ongeveer 1 400 hutte in dié stat. 2
  • Shaka se twee halfbroers het sy liggaam in ’n graanput weggesteek nadat hulle hom doodgemaak het. 1
  • Shaka was vanaf 1816 tot 1828 die koning van die Zoeloes. 2
Foto: iStock

Soms hoor ‘n mens van ’n beroemde persoon of iemand wat baie ryk of baie slim is en dan aanvaar jy sommer hy of sy het goeie kinderdae gehad, dat sy of haar ouers hom of haar gehelp het om suksesvol te wees en dat almal van hom of haar hou.

Met Shaka was dit egter nie die geval nie. Hy was eintlik maar ’n ongelukkige jong seun wat sonder ’n pa grootword en nie juis vriende gehad het nie. Tog het hy, ten spyte van sy kinderdae (en soos vele beroemdes of groot presteerders waarvan ons weet), uitgestyg bo ander en ’n slim en magtige koning geword.

Die jong Shaka

Historici (geskiedskrywers) weet nie presies wanneer Shaka gebore is nie, maar reken dit moes ongeveer in 1787 in die omgewing van Melmoth in Natal (vandag is dit KwaZulu-Natal) gewees het. 1

Shaka was die seun van Senzangakona, heerser (koning) van die Zoeloes, wat toe nog ’n klein stam was. Sy ma se naam was Nandi. Sy was deel van die Langeni-stam wat bure van die Zoeloes was.

Shaka is gebore sonder dat sy ouers eers volgens Zoeloetradisies en -gebruike getroud is. Nandi is uiteindelik as Senzangakona se derde vrou in sy kraal toegelaat. Hierdie feit en ook omdat Nandi van ’n ander stam was, is as ’n skande of sonde beskou. Dit het beslis ’n nadelige invloed op hul seun Shaka gehad en hy is as klein seuntjie gedurig deur die ander kinders gespot. Toe Shaka ses jaar oud was, is Nandi uit die kraal weggejaag. Dit het Shaka se kinderdae nóg moeiliker gemaak. 2

Nandi het later haar seun teruggeneem na die Langeni-stam, maar as gevolg hiervan het hy sonder ’n pa grootgeword en boonop binne ’n stam wat kwaad was vir sy ma oor haar huwelik.

In 1802 het die Langeni-stam ook vir Nandi weggejaag en sy het skuiling gaan soek by die Dletsheni-stam, ’n ondergeskikte stam van die sterk Mthethwa-stam.

Toe Shaka 23 jaar oud was, is hy opgeroep vir militêre diens deur Dingiswayo, koning van die Mthethwa. Hy het vir die volgende ses jaar ’n baie goeie soldaat in die Mthethwa-stam geword. 3

Shaka bou die Zoeloe-koninkryk

Shaka se pa, Senzangakona, is in 1816 dood en Dingiswayo het vir Shaka gestuur om die Zoeloe-stam oor te neem. In daardie stadium was dié Zoeloes ’n klein stam wat net ongeveer 1 500 mense gehad het. Hulle het naby die Wit Umfolozirivier gewoon en was omtrent die kleinste van die meer as 800 Oos-Nguni stamme. Toe Shaka leier word, het dinge verander en die Zoeloes het begin om ’n baie sterk stam te word.

Shaka was van die begin af ’n baie streng heerser. Hy was ook baie wreed en het mense doodgemaak as hulle nie geluister het na wat hy gesê het nie! 3

Nuwe planne vir die Zoeloes se weermag

Shaka was ’n baie slim man en het allerhande planne gemaak om sy soldate beter te laat oorlog voer.

Nuwe wapens

Die Zoeloes se wapens was ’n skild wat van beesvel gemaak is en ’n lang assegaai (dis ’n soort spies) wat na die vyand gegooi is. Die gevegte was gewoonlik vinnig verby en die groep wat die minste soldate gehad het, het gewoonlik oorgegee (opgehou om te veg) nog voor baie soldate gewond is.

Shaka se soldate het nuwe soort spiese – een met ’n lang lem en ’n kort, sterk steel – gekry. Met hierdie nuwe spies of assegaai, moes die Zoeloes tot naby hul vyande gaan omdat hulle die assegaai moes gebruik om mee te steek eerder as om dit te gooi.

Die soldate is ook volgens hul ouderdomme in groepe opgedeel. Die verskillende groepe het saam in verskillende krale gebly en elke groep het hul eie tekens op hul skilde gehad. Verder het hulle verskillende ornamente en hooftooisels gedra sodat ‘n mens kon weet watter soldate aan watter groep behoort. 3

Nuwe taktiek

Shaka het ’n nuwe taktiek ontwikkel wat die Zoeloes in die toekoms in hul gevegte sou gebruik. Met hierdie nuwe plan van Shaka, was sy impie (Zoeloe-regiment) nóg sterker as die impies van die ander stamme.

Die impie word voor ’n geveg in vier groepe verdeel. Die sterkste groep was in die middel. Hulle het reg op die vyand afbeweeg om hulle vas te pen (te keer dat hulle kon beweeg of vlug). Twee ander groepe het soos horings om die vyand beweeg om hulle te omsingel. Die vierde groep was soos ’n ekstra groep soldate wat eers aan die geveg deelgeneem het wanneer dit lyk asof die vyand wil begin vlug. Die impie was onder beheer van indoenas (raadsmanne) wat met handgebare hul opdragte vir die soldate gegee het.

Só ’n impie het tot 80 km op ’n dag beweeg. Hulle het kos gekry by die krale waar hulle verbybeweeg het en hul slaapmatte en die potte waarin kos gemaak is, is deur seuns gedra wat saam met hulle beweeg het. 3

Die Zoeloes vernietig ander stamme

Shaka se doel was om die stamme rondom hom te vernietig en die mense wat oorbly by die Zoeloe-stam in te lyf. Hy het eers al die klein stamme in sy omgewing vernietig. Die eerste was die Langeni-stam. Hy wou wraak neem op almal wat sy lewe so moeilik gemaak het toe hy ’n seun was. Hy het heel eerste daardie mans uitgesoek wat hom so gespot het toe hulle seuns was en hulle doodgemaak.

In minder as ’n jaar het die Zoeloes se getalle vier keer meer geword.

In 1817 is Dingiswayo vermoor. Tot met sy dood was hy steeds Shaka se opperhoof, maar nou kon Shaka doen wat hy wou.

Binne twee jaar het Shaka die twee grootste stamme wat sy teenstanders was – die Ndwandwe- en die Qwabe-stam – ook verower. Daarna het hy begin om die stamme wat suid van die Zoeloe-stam gebly het, te vernietig en te verower.

Teen 1823 was die hele gebied sonder inwoners en die verskrikte mense wat oorleef het, het gevlug. Hierdie oorloë van Shaka se Zoeloes het gemaak dat die plekke waar mense gebly het, tot in die Kaapkolonie beïnvloed en verander is.

Shaka se strooptogte het gestrek vanaf die Drakensberg tot by die see, vanaf die Pongolarivier in die noorde tot die Tugelarivier in die suide. 3

Tradisionele Zoeloe-hutte.

Difaqane/Mfecane

Hierdie verskuiwing van mense is Difaqane/Mfecane genoem. Mfecane is die woord wat deur die Zoeloes gebruik word en Difaqane word deur die Sotho’s/Tswanas gebruik.

Die Mfecane het geduur vanaf ongeveer 1750 tot 1835.

Dithakong Thlaping.

Hierdie gedwonge verskuiwing van mense vanaf hul woonplekke het amper soos golwe deur die suidelike deel van Afrika beweeg. Duisende mense wat deur oorloë verdryf is, was besig om rond te beweeg. Sommige het skuiling by ander stamme gesoek en ander het op hul beurt weer ander stamme aangeval om te kon oorleef. Dit het die samestelling van swart gemeenskappe en die patrone van hoe hulle gewoon het, heeltemal verander. 4

Dink bietjie aan hoe dit werk as ‘n mens met domino’s speel: As jy al die domino-stukke in ’n ry laat regop staan en een van die stukke val om, dan stamp hy die volgende stuk om en so hou dit aan totdat al die stukke omgeval het. Só was dit met die Difaqane – een stam val die volgende een aan en so hou dit aan totdat al die stamme veg en rondbeweeg.

Shaka se oorloë was nie die enigste oorsaak van die Difaqane nie, daar was ook ander oorsake, maar ons kyk hier net na Shaka se rol daarin. 5

‘n Groep krygers.

Shaka se kontak met wit setlaars

Die eerste wit setlaars het in 1824 in Port Natal aangekom. Hulle was handelaars en het kontak met Shaka gemaak. Shaka was baie geïnteresseerd in die wit mense se leefwyse en al die vreemde voorwerpe wat hulle gebruik het en hy het hulle toegelaat om daar te bly. Twee van hierdie eerste setlaars was Henry Francis Fynn en Nathaniel Isaacs wat Zoeloe leer praat en baie oor die Nguni se geskiedenis neergeskryf het. 3

Shaka se ma sterf

Shaka se ma, Nandi, sterf in 1827. Haar dood was vir Shaka ’n baie groot slag. Só erg was dit vir hom dat hy duisende Zoeloes laat doodmaak het en sy mense verbied het om vir die volgende jaar enige mielies en ander gewasse te plant. Hulle mag ook nie melk gebruik het nie. Hy wou hê dat almal saam met hom moes hartseer wees oor sy ma se dood. Hierdie bevel van Shaka dat die mense niks kon plant nie, het veroorsaak dat daar uiteindelik te min kos vir die mense was. 3

Shaka se eie broers maak hom dood

Omdat Shaka baie keer wreed was teenoor sy onderdane en veral omdat hy ná sy ma se dood sulke vreemde en wrede dinge gedoen het, was dit vir sy mense moeilik om lojaal aan hom te bly.

Hy het in hierdie tyd sy weermag uitgestuur om seker te maak dat die mense in sy koninkryk saam met hom oor sy ma se dood treur.

Terwyl die soldate almal weg was, het sy halfbroers, Dingaan en Mhlangana, die kans gebruik om hom te vermoor. Op ’n dag in September 1828 (sommige meen dit was die 22ste) het sy twee broers hom doodgesteek.

Shaka is nooit getroud nie en het nie ’n erfgenaam gehad nie. Omdat hy nie ’n erfgenaam gehad het nie, het Dingaan in sy plek koning van die Zoeloes geword. 2

Woordbank

heerser ’n Persoon wat regeer, hoogste maghebber (soos ’n koning, keiser, minister, ens.)
historici (Enkelvoud: historikus). ’n Deskundige op die gebied van die geskiedenis; iemand wat die geskiedenis te boek stel, geskiedskrywer
hooftooisels Versierings om op ’n mens se kop te sit, in Shaka se tyd was dit gewoonlik van vere en krale gemaak.
impie Die woord vir die leër van die Zoeloes; Zoeloe-regiment.
indoenas Raadsman onder inheemse stamlede; ringkop.
lojaal Om getrou te wees aan iets of iemand.
opgeroep Mans word opgeroep om in ’n weermag diens te doen, dit wil sê dit is ’n bevel om iets te doen.
ornamente Iets wat versier of mooi maak.
skild ’n Effens gebuigde ovaalvormige skyf wat van metaal, of leer of hout gemaak is en wat ’n soldaat voor hom hou om hom te beskerm teen ’n ander soldaat wat hom aanval.
strooptogte Rooftog. Dit word gewoonlik gebruik wanneer ’n land se vyande die land binnekom en daar ’n strooptog uitvoer; plundering.
taktiek Oorlogsplan, krygsplan, aanvalsplan; die kuns om soldate in ’n geveg op die beste manier te rangskik en te gebruik.
teenstanders Vyand, opponent; ’n persoon of groep wat teen ’n ander persoon of groep wil veg.
vas te pen Keer dat ’n mens, dier of groep nie kan beweeg of vlug nie; vang, betrap, in ‘n hoek jaag of dryf, vastrek, vasvang.
verower Om iets in jou besit te kry deur daarvoor te veg.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Shaka – van kind tot koning

Leer in sewe minute nog meer van Shaka

Die graf van Shaka se ma, Nandi

Shaka se nuwe gevegsmetode

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 16 Augustus 2022 | Bygewerk op 2 November 2023