Vinnige feite

  • Die taal wat die meeste in Mpumalanga gepraat word, is siSwati.
  • Naby Mbombela is ʼn kultuurdorpie waar besoekers ʼn tradisionele Swazi-huis kan sien, tuisgemaakte bier kan proe en na tradisionele danse kan kyk.
  • Ndebele-vroue dra graag stapels koperringe om hul nekke en enkels en haal dit nooit af nie. ʼn Ndebele-vrou se juweliersware kan tot 35 kilogram weeg – amper net soveel soos ʼn graaddriekind!
  • Die Ndebele-stam is oor die wêreld bekend vir die manier waarop hulle hul huise met bont patrone versier. Die Britse Lugdiens het selfs tweelingsusters, Emily en Nartha Masanabo, gevra om een van hul vliegtuie met Ndebele-patrone te versier.
  • Die hele dorp Pelgrimsrus is ʼn nasionale monument. Hier kan ʼn mens gaan kyk hoe delwers byna 150 jaar gelede geleef en goud gedelf het. Die geboue is van hout en sinkplaat gebou en met outydse meubels ingerig. Selfs die mense wat daar werk, dra outydse klere.
  • Jock van die Bosveld was nou wel ʼn hond, maar hy het ʼn beroemde inwoner van die Laeveld geword. Sy baas, sir Percy Fitzpatrick, was ʼn transportryer en het ʼn boek, Jock of the Bushveld, oor hul avonture in die wildernis geskryf. Hulle twee het meer as ʼn honderd jaar gelede geleef. Daar is ʼn standbeeld van Jock op Barberton.
  • Die Long Tom-pas het sy naam gekry van die Long Tom-kanonne wat tydens die Anglo-Boereoorlog deur die Boere gebruik is. Meer as 26 000 Afrikaners en 15 000 swart- en bruinmense is tydens die oorlog in konsentrasiekampe dood.
  • Waterval-Boven en Waterval-Onder lê tussen die Elandsrivier-waterval en net ʼn paar kilometer van mekaar af. Die Boerepresident, Paul Kruger, wat in Waterval-Onder gebly het, het glo ʼn klomp goue Krugerponde daar weggesteek, maar niemand kon nog ooit dié skat opspoor nie.
  • Die Sudwala-grotte naby Nelspruit is bekend vir die vreemde ondergrondse rotsformasies wat daar voorkom. Daar is ook belangrike fossiele in dié grotte.
  • Daar is baie wandelroetes en visvangplekke in Mpumalanga en hengelaars kom veral om forel naby Waterval-Boven, Belfast en Dullstroom te vang en kunsvlieghengel te doen.
  • Mpumalanga het meer bosbouplantasies as enige ander provinsie in die land. Dit verskaf nie net hout nie, maar ook suurstof wat die lug skoon hou. Die boomwortels keer ook dat die grond wegspoel en diere en insekte kry kos en skuilplek onder die bome of tussen die takke.
  • Die Blyderivierskeurvallei (oftewel Blyderivier-canyon) is op plekke 800 meter diep. Dit is drie keer dieper as wat die Hillbrow-toring in Johannesburg hoog is. Wind en water het miljoene jare geneem om die rotspieke hul vreemde vorms te gee. Die Blyderivierskeurvallei is die derde grootste skeurvallei ter wêreld.
  • Daar is meer as 270 mere in die Chrissiesmeer-gebied, wat die blyplek van baie soorte watervoëls en paddas is.
  • Die geelbekneushoringvoël is ʼn inwoner van die Laeveld en eet wurms, insekte en knaagdiere. Hulle lyk tog te koddig (snaaks) as hulle roep, want hulle maak hul vlerke oop en sit hul snawels tussen hul pote.
  • Die lelkraanvoël broei in die Hoëveld en maak graag nes in lang gras. Hulle word bedreig, want landerye word gemaak op die plekke waar hulle broei.
  • Die kremetartboom gaar water in sy stam op soos ʼn tenk. Die oudste kremetartboom in die land is 3 000 jaar oud en 45 kinders is nodig om in ʼn sirkel hande om die boom te vat. Maar eintlik is hy nie ’n regte boom nie, maar ’n vetplant –  die grootste ter wêreld!
  • Malaria is ʼn siekte wat deur ʼn muskietbyt veroorsaak word. As jy nie betyds daarvoor behandel word nie, kan dit dodelik wees. Wanneer ʼn mens malariagebiede besoek, moet jy onder ʼn muskietnet slaap, insekdoders gebruik en klere dra wat jou liggaam soveel as moontlik bedek. Dit help ook om vooraf spesiale medisyne te drink. 5
  • Dit is ook hier waar die legendes van koning Salomo en die koningin van Skeba vandaan kom, sowel as die ware verhaal van Jock of the Bushveld deur die Suid-Afrikaanse skrywer sir James Percy Fitzpatrick wat ’n prospekteerder en transportryer in die Oos-Transvaalse Laeveld was.
Foto: iStock
Mpumalanga: Een van die nege provinsies van Suid-Afrika

Oppervlakte: 76,495 vierkante kilometer

Bevolking: 4 039 939 (volgens die 2017-sensus). Na raming behoort dit in 2023 sowat 4 816 908 te wees. ”1″

Algemene huistale: Swazi, Zoeloe en Ndebele.

Hoofstad: Mbombela (Nelspruit)

Distrikte: Gert Sibande; Nkangala; Ehlanzeni ”7″

Dorpe in dié provinsie: Volksrust, Wakkerstroom, Piet Retief, Amsterdam, Chrissiesmeer, Lothair,  Lochiel, Steynsdorp, Carolina, Badplaas, Machadodorp, Waterval-Boven, Waterval-Onder, Dullstroom, Lydenburg, Ohrigstad, Sabie, Graskop, Blyderivierspoort, Steelpoort, Burgersfort, Pelgrimsrus, Witbank (Emalahleni), Middelburg, Bethal, Ermelo. 2

Universiteite: Universiteit van Mpumalanga, Tshwane-Universiteit van Tegnologie (TUT) Mbombela-kampus en die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) Nelspruit-kampus. ”8″

Mbombela

Geografies

Mpumalanga is die tweede kleinste van Suid-Afrika se nege provinsies en is in die noordoostelike deel van die land geleë – voorheen bekend as Oos-Transvaal. Op 24 Augustus 1995 het Oos-Transvaal en omliggende Bantoestans (Bantoetuislande) verenig en hul naam verander na Mpumalanga. ”9″

Die provinsie strek van die Hoëveld, ’n grasveldplato in die weste, tot by die Drakensberge in die ooste. Die laer gebiede, wat die Laeveld genoem word, het subtropiese plante en bome. Daar is groot vlaktes met doringbome, en valleie met digte woude, watervalle en mere. Die sytakke van die Limpoporivier vloei ooswaarts deur die provinsie. ”18″

Die woord Mpumalanga beteken letterlik ‘Plek waar die son opkom’ in Zoeloe. Dit is baie gepas, want Mpumalanga is Suid-Afrika se mees oostelike provinsie. En, soos by die Wieg van die Mensdom, is dit ook hier waar die son oor die heel eerste mense opgekom het, aangesien die oudste oorblyfsels wat aan die mens bekend is, hier gevind is. ”6″

Die Hoëveld

Die Hoëveld beslaan die grootste deel van Mpumalanga. Sy hoogte bo seespieël wissel van 1 200 m tot 1 800 m. Plantegroei is hoofsaaklik boomlose savannes (grasvelde); reënval wissel van so min as 400 mm in die verre suide tot 900 mm in die noordooste. Dit is ʼn somerreënvalgebied en reën val dikwels in die vorm van swaar donderstorms. Winters is gewoonlik ʼn opeenvolging van matige wolklose dae, maar dit kan snags bitter koud word, veral in die suide.

Die Hoëveld is bes moontlik die mees produktiewe streek in die land. Die meeste van die land se mielies word hier verbou. Die streek dra ook ʼn omvattende reeks ander produkte tot die nasionale spens by, naamlik bees- en skaapvleis, graansorghum, sonneblomsaad, grondbone, aartappels en ander groente. Die Hoëveld is boonop ʼn skatkamer vol minerale. Die land se grootste steenkoolmyne is in Mpumalanga geleë en Eskom se grootste kragsentrales is ook hier. Emalahleni is die steenkoolhoofstad van Afrika: 22 steenkoolmyne in ʼn gebied van 50 km by 40 km lewer die helfte van Suid-Afrika se totale steenkoolproduksie van meer as 150 miljoen ton per jaar. Die steenkool kom voor in some van 3 m tot 6 m dik en hoogstens 300 m onder die aardkors. Dit word maklik meganies gemyn. 3

Die Hoëveld

Die groot platorand

Benewens die wonderskone landskappe, ravyne (klowe) en bergpieke, spog die gebied ook met van die grootste aangeplante woude in die wêreld, veral in die omgewing van Graskop en Sabie. Dis ook hier waar die grootste goudstormlope in die geskiedenis van die land plaasgevind het. Die Transvaal se eerste lonende goudneerslae is in 1884 by Barberton gemyn. Op Pelgrimsrus het delwers reeds in die 1870’s enkele goudklonte uitgehaal wat in vandag se geld honderde duisende rand werd sou wees. 3

Pelgrimsrus

Die naam van die dorp Pelgrimsrus beteken letterlik dat die pelgrims (reisigers) wat almal prospekteerders (goudsoekers) was, hier kom rus en voorrade kom aanvul het. Baie van hulle het natuurlik gebly om na goud te soek.

Pelgrimsrus is iets soos ’n lewende museum, ’n herinnering aan die streek se goudstormloop gedurende die 19de eeu. Dit is ‘n fassinerende klein dorpie waarvan die geskiedenis terugdateer na die 1870’s toe spoelgoud in ’n spruit op ’n plaas met die naam Ponieskrantz ontdek is. Pelgrimsrus, Mac-Mac, Spitzkop en Eersteling is in September 1873 amptelik tot goudveld verklaar.

Binne maande ná die verklaring het ervare gouddelwers selfs van Kalifornië, Australië en Nieu-Suid-Wallis opgedaag om hul kleim af te steek. Teen September 1874 was 4 282 lisensies uitgereik. Die goudkoors het duisende mense aangesteek wat na die spruite, riviere en valleie van die Laeveld getrek het. Die 1870’s was die bloeityd van Pelgrimsrus. ”17″

Daar is steeds plekke buite die dorp waar mens kan sien waar die delwers gegrawe het. Besoekers word gewys hoe spoelgoud toentertyd met panne gewas (gespoel) is. Die herskepping van hoe ’n delwerskamp en -dorp en sy mense gelyk het, neem jou werklik terug na die verlede en jy voel kompleet of jy een is van die gemeenskap van daardie tyd. ”6″

Pelgrimsrus is in 1986 tot ’n nasionale monument verklaar. Pelgrimsrus is deel van die Unesco-wêrelderfenis in die kulturele kategorie en is ‘n wonderlike besienswaardigheid vir reisigers wat Suid-Afrika se skilderagtige Panorama-roete verken. ”25″

Dié dorpie is een van net ʼn paar in die wêreld wat in sy geheel tot nasionale monument verklaar is, en sal nooit verander of verder ontwikkel word nie. 3

Pelgrimsrus

Long Tom-pas

Die Long Tom-pas wat Lydenburg op die Drakensberg-plato met Sabie op die platorand verbind, is een van die skouspelagtigste hoofpaaie in die land en sy kruin (2 150 m) is een van die hoogste punte wat deur ʼn hoofpad bereik word. Van Sabie klim die R37 meer as 1 000 m om dan weer 670 m na Lydenburg te daal.

Aan die Sabie-kant is daar uitgestrekte plantasies (bloekom en denne) terwyl die wêreld aan die Lydenburg-kant redelik kaal is. Die Voortrekkers noord van die Vaalrivier het vir lank die ideaal gehad om ʼn vervoerroete te vind na Lourenço Marques (vandag Maputo) in Delagoabaai, ʼn hawe ver van Britse beheer. Hulle het ʼn stap nader daaraan gekom toe Lydenburg in 1850 gestig en goud in 1873 daar gevind is. Die Indiese Oseaan was net 200 km ver. Die togryers (transportryers) het gou hul eie weg gebaan, wat die hawepad genoem is.

Die belangrikste struikelblok na die see was die Drakensberg. In 1871 het die Transvaalse Volksraad op aandrang van president T.F. Burgers £3 000 bewillig vir die bou van ʼn pad oor hierdie gedugte versperring. Die kontrak is aan Abraham Espag toegeken en die meeste van die werk is met pik en graaf gedoen. Die eerste waens wat die nuwe pad gebruik het (wat op baie plekke die ou hawepad gevolg het), het in 1874 uit Delagoabaai in Lydenburg aangekom. Die pas wat vandag gebruik word, is op 22 Julie 1953 geopen. By dieselfde geleentheid het dit die naam Long Tom gekry om ʼn beroemde veldslag in September 1900 tussen Boer en Brit langs hierdie pad te gedenk. 4.

Maar hoekom Long Tom? In April 1897 het Suid -Afrika vier van hierdie kanonne en 8 800 kanonkoeëls van Schneider & Co, Le Creusot, Frankryk, gekoop. Die kanonne was by die vier forte rondom Pretoria gestasioneer. Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) is hierdie kanonne met hul lang 4,2 meter-lope deur die Boerekommando’s as veldartillerie teen die Britse leër gebruik. Die Britte het die Creusot-oorlogskanonne die “Long Toms” genoem. Daar is ’n monument met twee replikas van die Creusot-kanon en is 21 km van Sabie langs die Lydenburg-pad (R37) geleë. Dié monument is die plek waar twee van hierdie kanonne van 8 tot 11 September 1900 vir die laaste keer deur die Boere teen die Britse leër gebruik is. ”27″

Landskap van die Long Tom-pas

Blyderivier-skeurvallei

Die Blyderivier-skeurvallei (canyon) is een van Suid-Afrika se geologiese wonders en is die derde grootste canyon ter wêreld naas die Grand Canyon in die Verenigde State en die Visrivier-skeurvallei in Namibië. Met sy 26 kilometer rooi sandsteenberge, wat ’n watermassa omring, is dit die grootste groen skeurvallei op die planeet vanweë sy welige subtropiese blare, diep skeure en steil kranse. ”16″

Ook te siene as jy hier is, is die Drie Rondawels (drie rotsformasies wat soos drie hutte lyk), God’s Window (’n pragtige uitkykpunt ), The Pinnacle (’n bekende rotsformasie en van waar jy ook ver oor die uitgestrekte Laeveld kan uitkyk), en die Bourke’s Luck-maalgate, beter bekend as Bourke’s Luck Potholes. ”6″

Bourke’s Luck Potholes

Die Laeveld

Mbombela is die provinsiale hoofstad en word beskou as ’n poort na die Laeveld.

Beperk tot breë valleie laer as 1 000 m bo seespieël, is die Laeveld wat baie mense as die regte Afrika beskou. In hierdie laagliggende subtropiese klimaat groei beide breëblaarbome en doringbome in relatief oop bosveld, afgewissel met lang gras en baie wild.

Verder noord  is die klimaat warmer en die plantegroei verander na mopaniebosveld. Heel noord oorheers groot kremetartbome die landskap. Het jy geweet die kremetartboom (Adansonia digitata), is die grootste vetplant ter wêreld? Daar bestaan baie mistiek (geheimsinnigheid), legendes en bygelowe oor dié boom wat lyk asof hy onderstebo staan. Tog is dit ’n boom wat kos, water, skuiling en selfs verligting van siekte kan verskaf.

’n Groot deel van die Krugerwildtuin val in hierdie bioom (spesifieke streek met eiesoortige klimaat, fauna en flora). Die skeiding tussen die Bosveld (Streek in die voormalige Transvaal) en die Laeveld is egter ietwat vaag.

Die riviere hier vloei breed en stadig en is soms aan die einde van die droë seisoen nie meer as ’n aantal groot poele nie, en dis dan wanneer die wild rondom die paar bekende waterbronne saamdrom. ”21″

Natuurreservate

Die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin

Een van nege botaniese tuine in Suid-Afrika, is die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin wat een van die grootste versameling vyebome huisves. Dit is ook die tuiste van die grootste mensgemaakte Afrika-reënwoud en lê binne ongeveer 160 ha aan beide kante van die Krokodilrivier. Hierdie twee kante word deur twee brûe verbind.

Rotsformasies in die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin

Die tuin het toegewyde natuurbewaarders wat ’n belangrike rol speel in die bewaring van bedreigde plantspesies. Hierdie tuin het ook ‘n kritieke rol gespeel in die vestiging van ’n broodboom-genebank.

Meer as 2 600 plantspesies word hier bewaar. ”26″

Laeveld Nasionale Botaniese Tuin

Kruger Nasionale Park

In die hartjie van die Laeveld lê ‘n wildreservaat soos geen ander…

Die Krugerwildtuin is een van die grootste en bekendste wildreservate ter wêreld en is groter as Israel! Die byna 2 miljoen hektaar grond wat oor 352 kilometer (20 000 vierkante kilometer) van noord na suid langs die Mosambiekse grens strek, bied ‘n byna onbeskryflike natuurlewe-ervaring.

Die Krugerwildtuin is in 1898 gestig, ná ’n twaalf jaar lange stryd deur president Paul Kruger om die Laeveldse natuurlewe te bewaar – vandaar die park se naam. Besoekers kan hier die onvoorspelbaarheid en eindelose wildernis van Afrika ervaar.

Die Park is ook die tuiste van Suid-Afrika se bekende Groot Vyf, te wete die leeu, olifant, buffel, renoster en luiperd.

Hoekom is hierdie diere dan die Groot Vyf genoem? Dit was oorspronklik ’n jagterm wat deur die sogenaamde “wit jagters” gebruik is in die jagbloeityd van die 19de en vroeë 20ste eeu, toe professionele jagters soveel moontlik trofeë in so ’n kort tyd as moontlik ingepalm het. Almal, van Amerikaanse presidente tot Europese koninklikes en staatshoofde, het na Afrika gekom om ’n groot, gevaarlike dier te skiet, waarskynlik omdat dié jag ’n oorgangsrite was om ’n gesoute jagter te word.

Die Groot Vyf het vinnig bekend geword as die gevaarlikste diere om te voet te jag, en die naam Groot Vyf, het vasgesteek. Gelukkig word die meeste “skietery” vandag deur ’n kameralens gedoen. ”22″

Die Park is ’n landskap van kremetartbome, koorsbome, knoppiesdorings, maroela- en mopaniebome en waar jy ook die Klein Vyf aantref (Hier is die Engelse benamings belangrik):  Die rhino beetle (’n miskruier met ’n horing op die voorkop), ant lion (mierleeu wat sy lokvalkratertjie in die sand maak), buffalo weaver (buffelwewer wat die deurmekaar neste in doringbome maak), leopard tortoise (bergskilpad wat alombekend is) en elephant shrew (die klaasneusie, wat redelik onbekend is). ”23″

Wat voëls betref, vind jy die Groot Ses, naamlik die bromvoël, breëkoparend, swartaasvoël, visuil, gompou en die saalbekooievaar. Daarbenewens het die Wildtuin meer spesies soogdiere as enige ander Afrika-wildreservaat. ”24″

Visuil
Bromvoël
Gompou

Sudwala-grotte

In die Krokodilriviervallei, naby Mbombela, is die Sudwala-grotte. Dié grotte is in die 19de eeu deur Swazi-prins Somquba ontdek. Die grotte strek oor meer as 30 kilometer lank waarvan sowat 600 meter bereikbaar is. ”18″

Dié grotte is meer as 240 miljoen jaar oud, en daar word gereken dat mense vir ten minste meer as ’n miljoen jaar in die grotte gebly het – van hul gereedskap wat oorgebly het, word by die grotingang uitgestal. ”12″

Sudwala-grotte

Mpumalanga, die toeristeparadys

As jy op soek is na ’n toeristebestemming wat werklik anders is, is Mpumalanga die perfekte plek. Dit is een van die mees diverse (uiteenlopende), historiese en kulturele gebiede in ons land en die natuurskoon is by tye onbeskryflik.

Die lys van besienswaardighede is lank, maar hier is ’n paar wat uitstaan:

Histories

Daar is honderde plekke met antieke rotskuns van die San wat dui op die bestaan van die Boesman selfs nog voordat die Nguni-volk van die noorde af gemigreer het. Die streek is gedefinieer deur verskillende stamgroepe se grense, wat intussen verander het namate hulle nuwe groepe met ander stamme gevorm het.

Die Mpumalanga-mense was eeue lank nomadiese krygers (soldate) wat deur die gebied gereis het op soek na grond vir hul beeste en veiligheid vir hul stamme.

Kultuur

Die klein dorpie Siyabuswa in Mpumalanga se kulturele hartland is die tuiste van die Kghodwana Cultural Village waar jy die laaste 1 000 jaar van Ndebele-geskiedenis tot in die moderne tyd kan volg. Die mense in hierdie streek is taalkundig verwant aan KwaZulu-Natal se Zoeloe-stam en die Ndebele-stam van Zimbabwe. ”10″

Tradisie

Tradisie speel steeds ’n belangrike rol in die lewe van baie Suid-Afrikaners. Omdat ons land ’n regering met ’n staatspresident het, is ons nie altyd bewus van die koninklike families in ons land nie.

Die regering werk só saam met die konings van sekere stamme:

Die Departement van Tradisionele Sake het die mandaat om toesig te hou oor kwessies wat met tradisionele sake verband hou en die ontwikkeling van tradisionele gemeenskappe te ondersteun. Daarbenewens poog die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers (NHTL) om die rol van tradisionele leierskap in die land te bevorder en as ’n adviesraad vir die nasionale regering op te tree. ”13″

Die huidige Ndebele-koning, Makhosoke II, is een van Suid-Afrika se regerende monarge. ”14″

Natuurskoon

Watervalle

Bo en behalwe die wondermooie plekke wat reeds genoem is, is daar pragtige watervalle in Mpumalanga, onder meer die Sabie-waterval, die Bridal Veil-waterval, Elandsrivier-waterval en Mac-Mac se tweelingwaterval. ”18″ Het jy geweet dat die Mac-Mac-waterval eens op ’n tyd slegs een waterstroom was wat na benede gestort het? Gouddelwers in die gebied het die oorspronklike enkele stroom probeer oopskiet om die gouddraende rif waaroor dit val, te probeer bereik. Dit het veroorsaak dat ’n oorblywende rotspunt die stroom in twee verdeel het. ”20″

Minder bekend, maar net so betowerend, is die Kadishi Tufa-waterval. Soos die water teen die rotswand afloop, is daar ’n treffende ooreenkoms met trane wat teen ’n gesig afloop. Om hierdie rede word dit die “Huilende gesig van die natuur ” genoem.

Die Kadishi is die tweede hoogste tufsteenwaterval ter wêreld is. Toefa of tufsteen is ’n poreuse (absorberende) rotssoort. Toefa-watervalle neem miljoene jare om te vorm. ”15″

Mac-Mac-waterval

Woordbank

Bantoestans ’n Bantoestan – ook bekend as Bantoe-tuisland, Suid-Afrika-tuisland of Swart Staat, is enige van 10 voormalige gebiede wat deur die wit regering van Suid-Afrika aangewys is as sogenaamde nasionale tuislande vir die land se swart mense (deur die regering geklassifiseer as Bantoes); bevolking gedurende die middel tot laat 20ste eeu.
bioom Spesifieke streek of groep streke met eiesoortige klimaatstoestande, asook met eiesoortige plante en diere wat hulle by die besondere toestande aanpas.
bloeityd Tydperk waarin iets voorspoed of ’n hoogtepunt beleef.
Boesman Ou benaming vir die San; lid van die swerwende Afrikaanse inboorlingras, nou hoofsaaklik beperk tot die Kalahari.
Bosveld Lae, warm, bosryke dele in die noorde van SA; streek in die voormalige Transvaal.
bygelowe Geloof aan wonderdadige werkings of verskynsels.
gedefinieer Om iets noukeurig te beskryf/omskryf.
delwers ’n Goud- of diamantgrawer
gedug Gevaarlik, angswekkend; met ’n ontsagwekkende/gevrees(de) reputasie.
gesoute Ervare, bekwaam.
goudneerslag Goudbron, bedding, goudaar; daar waar goud gevind word.
graansorghum Graansoort met ’n ronde, meestal rooierige korrel, ’n vername voedingsmiddel in Suid-Afrika.
Hoëveld Hooggeleë, grasryke en kaal plato van die voormalige Transvaal (teenoor die Laeveld, ’n laaggeleë streek met ’n subtropiese klimaat); oostelike Mpumalanga en noordoostelike Limpopo.
kleim Afgepende stuk grond van ’n bepaalde grootte waarin na minerale of edelgesteentes gedelf word.
legendes Verhaal wat op volksoorlewering berus.
lonende Winsgewend.
mandaat Lasbrief, bevelskrif, volmag; beheer.
meganies Werktuiglik; om iets met behulp van werktuie te doen.
gemigreer  Van die een streek na ’n ander, gewoonlik warmer gebied of beter weiding gaan.
minerale Waardevolle stof wat deur ontginning uit die aarde gehaal word; delfstof, erts.
mistiek Geheimsinnigheid, verborgenheid, raaiselagtigheid.
monarge Alleenheerser (koning, keiser, ens.).
nomadiese Rondtrekkend, swerwend.
omvattende Insluitend; breedvoerig.
oorgangsrite ’n Seremonie of gebeurtenis as inlywing tot ’n volgende stadium of status – in hierdie geval om te bevestig dat jy nou ’n ervare jagter is.
plato Plat, hoogliggende streek, hoogland, tafelland.
platorand Afgaande, kransagtige rand van ’n plato.
prospekteerders Iem. wat (as beroep) oral op plekke en in die aardlae rondsoek na ertse, minerale of edelgesteentes.
ravyne Afgrond, bergkloof, skeur.
 reputasie Dit waarvoor iets/iemand bekend is.
savannes Grasvlakte, ook bontveld genoem.
seespieël  Seevlak; veral gebruik as grondslag/maatstaf vir die bepaling van die hoogte/diepte/ligging van plekke, nl. bo of onder seespieël.
subtropiese  Tussen tropies en gematig (klimaat); baie warm.
skouspelagtig Wat die oog tref, treffend, opvallend, groots, asembenemend, pragtig, besonder mooi, verruklik, verstommend, verbasend, oorstelpend, oorweldigend, indrukwekkend, manjifiek.
spoelgoud Alluviale goud; klein stukkies goud tussen ander klippies of gruis wat gewoonlik in spruite, strome, riviere aangetref word.
toefa Rots van growwe tekstuur van vulkaniese of ander oorsprong; poreuse (absorberende) rots.
toentertyd In daardie tyd; destyds.
trofeë Oorwinningsteken of prys. In hierdie geval word die vel, kop, horings, of tande van ’n wilde dier wat geskiet is, as oorwinningsteken van die wildjagter uitgestal sodat ander dit kan sien.
togryers Transportryer, rondtrekkende handelaar.
gedugte versperring Blokkeer, afsluit, toemaak; om toegang/deurgang/voortgang te keer of belet; ontoeganklik maak.

Lees die volgende interessanthede oor Mpumalanga

Kyk hierdie video’s oor Mpumalanga

Reis deur Mpumalanga!

’n Kykie in die Sudwala-grotte.

Die bekende Long Tom-pas

Pelgrimsrus, die delwersdorpie waar die tyd gaan stilstaan het

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 24 Februarie 2023 | Bygewerk op 18 Maart 2024