Vinnige feite

Doop van babas in die Uys-laer.
  • Dirkie Uys was ’n 15-jarige tiener toe hy saam met sy pa op kommando vertrek het om teen Dingaan se Zoeloes te gaan veg.
  • Piet Uys en Andries Hendrik Potgieter was die twee Voortrekkerleiers tydens die geveg by Italeni.
  • Die strafekspedisie het uit ’n berede kommando van 347 Voortrekkermans bestaan.
  • Tydens die Slag van Italeni het 10 Voortrekkers gesneuwel.
  • Dirkie het ’n broer Piet gehad. Op 28 Maart 1879, 31 jaar later, het ’n soortgelyke gebeurtenis hom by die Slag van Hlobane in Natal afgespeel – ook in ’n geveg teen Zoeloes. Hierdie Piet Uys het ook ’n seun genaamd Dirkie gehad. Op daardie dag was hierdie Dirkie ook saam met sy pa in die geveg, maar hierdie keer was dit die seun wat agtergebly het. Toe sy pa dit bemerk, het hy teruggejaag om sy seun te probeer red, net soos sy broer Dirkie jare gelede probeer het om hul pa te red. Ook hierdie keer is pa en seun saam gedood. 1
Foto: iStock

Dalk het iemand al vir jou gesê jy is ‘n held. Soos wanneer jy dapper genoeg is om ‘n spinnekop met jou kaal hande te vang en weer in die tuin gaan terugsit. Of as jy iemand wat moeilik loop, oor die straat help en sy of haar inkopiesakke dra. Baie mense sê weer vir ‘n aantreklike seun of man “Hy is my held!”. ‘n Mens gebruik ook die woord held as jy iemand bewonder soos sportsterre, akteurs, glanspersone, en ander. Dit kan selfs jou ma of pa of enigiemand wees na wie jy opkyk.

Kommandant Petrus Lafras Uys (1827-1879) en twee van sy seuns.

Volgens die woordeboek is ‘n ware held iemand wat groot dapperheid toon en wie se dade in die geskiedenis opgeteken word.

Die helde waarvan ons in geskiedenisboeke of die media lees, is meestal grootmense. Maar Dirkie Uys was ’n seun van net vyftien jaar, en sy heldedaad is een van die mooistes en beroemdstes in die Afrikanergeskiedenis. 1

Wie was Dirkie?

Dirk Cornelis Uys (Dirkie), die seun van Petrus Lafras Uys en Alida Maria Uys, is op 3 Maart 1823 in Swellendam gebore. 2 Min het sy ouers geweet dat sy naam eendag in die Afrikanergeskiedenis opgeteken sal word!

Piet Uys.

Die strafekspedisie en aanloop tot die geveg

Ná die slagting van Piet Retief en sy manne deur Dingaan op 6 Februarie 1838 is ‘n aantal Voortrekkerlaers ook deur die Zoeloe-impies aangeval. Die meeste Voortrekkers wou in daardie stadium uit die destydse Natal (vandag word dit KwaZulu-Natal genoem) wegtrek. Maar die Voortrekkervroue het daarop aangedring dat Dingaan gestraf moet word vir sy brutale aanvalle by Bloukrans en Moordspruit. 1

Die Zoeloekoning Dingaan.
Piet Retief.

Hierdie Voortrekkers het die ander trekke, veral dié van Piet Uys en Hendrik Potgieter in die Oranje-Vrystaat, om hulp gevra.

Hierdie twee kommando’s het opgetrek, een onder Potgieter en die ander onder Uys, want Potgieter en Uys was nie een bereid om onder die ander een se bevel te staan met die strafekspedisie teen Dingaan nie. Daarom is besluit dat elkeen sy eie mense sou lei. Piet Uys sou ook die leier wees van Gerrit Maritz en oorlede Piet Retief se mense. Gerrit Maritz sou in die laer agterbly as laerkommandant.

Gerrit Maritz.

Die besluit om die kommando in twee te deel, was nie ’n goeie strategie (aanvalsplan) nie, want een sterk kommando sou waarskynlik beter teen die Zoeloes gevaar het as twee kleiner kommando’s.

Op 5 Maart 1838 het hulle toe met ’n berede (soldate wat op perde ry) kommando van 347 mans opgetrek om die Zoeloes te gaan aanval en ook om die vee te gaan haal wat van die Voortrekkers afgeneem is. Onder hulle was kommandant Piet Uys se seun, Dirkie. 1

Potgieter en Uys was albei dapper mans, maar hul geaardhede het baie van mekaar verskil. Potgieter was baie versigtig en sou nie onnodig gevaarlike dinge doen nie. Uys, aan die ander kant, sou weer makliker in ’n gevaarlike situasie ingaan. 1

Andries Hendrik Potgieter.

Die Slag van Italeni

Hulle het drie dae lank gery op pad na Dingaan se stat en nêrens het die Zoeloes hulle gehinder nie. Maar die Zoeloe-spioene het na alle waarskynlikheid die Voortrekkers gesien aankom en dit aan Dingaan gaan vertel. Dingaan het dadelik sy Wit Skilde (die ouer Zoeloes) en die Swart Skilde (die jong Zoeloes) bevel gegee om die Voortrekkers te gaan voorlê.

Op die derde dag vandat die kommando vertrek het, kry hulle die vyand in sig en ’n geveg breek uit by Italeni, anderkant die Buffelsrivier op pad na Umgungundlovu. 3

Die Voortrekkers het aanvanklik goed gevaar in die geveg en die Zoeloes het begin vlug. Sommige getuies het vertel dat Potgieter onrustig was en die burgers gewaarsku het om nie die Zoeloes agterna te sit nie. Maar Uys en sy manne het wel die Zoeloes tussen twee koppe deur gevolg. 4

Wat die Voortrekkers nie geweet het nie, is dat daar teen die koppe en in die kloof duisende Zoeloes agter rotse en in slote geskuil het. Toe die Uys-kommando in die kloof kom, het daar van alle kante Zoeloes opgespring en hulle omsingel. Dit was ’n dodelike hinderlaag omdat die Zoeloes aan alle kante van die kommando was. Die Voortrekkers het dapper geveg, maar hulle was in ’n baie slegte en gevaarlike situasie.

’n Deel van die Uys-kommando wou omdraai en vir hulle ’n pad oopskiet om uit te kom, maar daar was net te veel Zoeloes vir die verdeelde Voortrekkerkommando.

Piet Uys self is met ’n assegaai in die sy gesteek. Hy het die assegaai uitgetrek en gery na ’n ander Voortrekkersoldaat, Jan Meyer, wie se perd geval het. Hy kon daarin slaag om hierdie man saam met hom op sy perd te tel en onder die Zoeloes uit te jaag in die rigting van die res van die kommando.

Hy was egter baie swak en twee van die Voortrekkers moes hom van weerskante in die saal regop hou. Hy het besef dat hy hul lewens ook in gevaar stel as hulle saam met hom moes ry. 4

Dirkie Uys se heldedaad

Dodelik gewond en sterwend beveel kommandant Uys dat sy manne, en ook Dirkie, moet vlug en hulself red. Maar sy seun was baie dapper en lojaal. Toe Dirkie sien hoe die Zoeloes op sy pa toesak, het Dirkie, volgens oorlewering, sy perd omgedraai en geskree “Ek sal saam met my pa sterf!” en op die Zoeloes afgestorm. Vir geen oomblik het hy geweifel nie. Sy plek was daar by sy pa om hom te help, al kos dit ook sy eie lewe.

Dirkie het, so word vertel, drie Zoeloe-krygers geskiet, wat hulle vir ’n rukkie gestuit en laat terugtrek het, maar hulle het weer aangestorm gekom en hom met assegaaie gesteek tot hy van sy perd afgeval het. Dirkie het langs sy pa geval, waar hulle albei met assegaaie doodgesteek is. Hierdie weergawe van gebeure word op een van die historiese friese in die Voortrekkermonument uitgebeeld.

Die Vlugkommando

Die kommando wat hier van die Zoeloes af moes wegvlug, het hierna as die Vlugkommando bekendgestaan. Geskiedenisskrywers stem saam dat die twee groepe Voortrekkers wat elk onder sy eie leier – Uys en Potgieter – aan die geveg deelgeneem het, daartoe bygedra het dat die Voortrekkers hierdie slag verloor het en moes vlug.

Die Zoeloe-leër het die vlugtende Voortrekkers agtervolg. Net voor sononder is die Voortrekkers deur die Buffelsrivier en van daar terug na die laers.

J.H. Steenkamp, wat ook aan die geveg deelgeneem het, se mening is dat Potgieter se kommando nie ’n keuse gehad het nie en moes vlug om te keer dat hulle ook deur die groot Zoeloe-mag omsingel word. 3

Piet Uys was die enigste Voortrekkerleier wat tydens ’n geveg met swart stamme doodgemaak is. Saam met Piet en sy seun Dirkie, het nog 8 Voortrekkers in hierdie geveg gesneuwel. 2

Hierdie onbaatsugtige daad van Piet Uys se tienerseun, Dirkie Uys, het van hom een van die grootste helde gedurende die Groot Trek gemaak. 

Die Uys-familiewapen.

Hoe word Dirkie Uys onthou?

Oral in ons land vind ons skole, strate of gedenktekens ter ere van die kinderheld Dirkie Uys. ’n Paar hiervan word in die volgende provinsies uitgelig:

Wes-Kaap

  • In Somerset-Wes is daar in Kerkstraat ’n gedenkmonument ter ere van Dirkie Uys. Dit is in die vorm van ’n ossewa wat bo-op ’n geboude klipmuur staan.
  • Die Hoërskool Dirkie Uys vind ons in Moorreesburg.
  • In Goodwood is daar die Dirkie Uys-gesondheidsorgkliniek vir mense in die omliggende gebied.
  • In baie dorpe is daar strate met die naam Dirkie Uys, insluitend Hermanus en Franschhoek.
Die Dirkie Uys-monument in Somerset-Wes.

Gauteng

  • In die senotaafsaal van die Voortrekkermonument in Pretoria is daar ’n uitbeelding in een van die friese van die geveg waarin Dirkie Uys gesterf het. 4
  • In Johannesburg is daar die Laerskool Dirkie Uys. Dié skool was ’n laerskool in die Johannesburgse voorstad Orchards en het in 1928 ontstaan as die Norwoodse Afrikaansmediumskool. Vandag staan dit bekend as die Orchards Primary School/Laerskool Dirkie Uys.

KwaZulu-Natal

  • In Durban (KwaZulu-Natal) vind ons die Laerskool Dirkie Uys.
  • Nog ’n skool in Durban heet die Durban Academy/Akademie – Hoërskool Dirkie Uys.
  • ’n Derde skool/jeugkamp in Durban heet die Dirkie Uys Primary School Youth Camp.
Laerskool Dirkie Uys.

Vrystaat

  • In Warden kry ons die Intermediêre Skool.

Woordbank

aanvanklik Aan die begin, met die wegtrek.
afgespeel Plaasgevind, gebeur.
assegaai ’n Werpspies met ‘n steel en plat metaalpunt waarmee die Zoeloes geveg het.
brutale Skokkend, barbaars, uit die bose, grusaam, gewelddadig, moorddadig.
glanspersone Iemand wat ’n luukse/weelderige/uitspattige lewe geniet; lewe in hoë kringe (belangrike en ryk mense).
hinderlaag ’n Wegkruipplek waaruit die vyand onverwags aanval; valstrik, strik, lokval; jou vyand inwag, bekruip.
impies Zoeloe-soldate, Zoeloe-regiment.
kolf Die houtgedeelte van ’n geweer wat mens teen jou skouer vasdruk wanneer jy mik om na iets te skiet.
lojaal Getrou aan iemand/’n beginsel/’n belofte/’n regering of volk; opreg.
omsingel Afskerm, afsny, omring.
onbaatsugtige Selfloos, onselfsugtig, selfopofferend.
oorlewering Wat van geslag tot geslag mondeling oorgedra is.
slagting Moord op groot skaal; ’n bloedbad.
gesneuwel Op die slagveld sterf.
strafekspedisie Krygsonderneming om ‘n opstandige bevolking vir sekere misdade te straf.
strategie Aanvalsplan.
geweifel Aarsel, huiwer, twyfel; Onseker, besluiteloos wees.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video oor die verhaal van Dirkie Uys

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 4 Augustus 2022 | Bygewerk op 2 November 2023