Vinnige feite

Christiaan de Wet
  • Christiaan de Wet het aan die geveg by Majuba deelgeneem. Hy het later internasionaal legendaries geword as Boeregeneraal in die Anglo-Boereoorlog. 1
  • Die berg Majuba het onder die Boere as Spitskop bekendgestaan, en onder die plaaslike swart mense as Amajuba – ‘die berg van duiwe’. 3
  • Colley het die aand kort voor hulle die berg bestyg het, aan sy vrou geskryf: “I am going out tonight to try and seize the Majuba Hill, which commands the right of the Boer position, and leave this behind, in case I should not return.” 3
  • Elke Britse soldaat moes sy groot jas, ʼn waterdigte seil, drie dae se rantsoene, ʼn vol waterbottel en ʼn geweer met 70 patrone saamneem teen die berg op. 2 3
  • Dit was vir beide die Britte en die Boere uiters moelik om teen die berg uit te klim. Daar was nie paaie nie. Hulle moes op baie plekke handeviervoet klim, en ʼn hele paar het geval en seergekry. 2 3
  • Vyf jaar later het ʼn Britse skrywer vertel dat Joubert hom die volgende storie vertel het (oorvertel deur J.C. Steyn): “Met dagbreek op Sondag, 75 Februarie, het sy vrou, mev. Hendrina Joubert, opgestaan en ʼn ketel water gaan kook buite die tent. ‘Ek het daar gestaan en na die môrelig gekyk, en bo op die berg het ek mense gesien. Ek het nog ʼn slag gekyk, en toe die generaal toegeroep: ‘Kom gou hier, daar is mense op die kop.’ My man kom buitekant, en hy sê: ‘Dis die versterkings wat ek verwag het.’ ‘Maar man,’ sê ek, ‘vat jou verkyker, het ons mense dan rooi baadjies?’” 4 Dit is tot vandag toe nie seker of hierdie storie waar is nie, maar dis nie onmoontlik nie.
  • Daar moes eintlik ʼn Boerepatrollie die berg beset het die nag wat die Britte hom bestyg het, maar die burgers het verdwaal. 3

Die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) se laaste en beroemdste veldslag was die Slag van Majuba, wat plaasgevind het op 27 Februarie 1881. Die Boere het die Britte beslissend verslaan, en sodoende die oorlog in die Boere se guns beklink. 1

Wat is Majuba?

Majuba is ʼn berg in Natal. Die kruin van die berg is ʼn driehoekige plato van ongeveer ʼn kilometer in omtrek. Indien iemand die berg wou beset, moes hulle die hele kruinrand beset. 1

Die aanloop tot die slag van Majuba

Die Boere het in die oorlog ʼn reeks oorwinnings oor die Britte in Natal behaal. Op 28 Januarie het hulle die Britte by die Slag van Laingsnek verslaan, en toe op 8 Februarie by Schuinshoogte. Daarna was ʼn kort tussenperiode waarin pogings gemaak is om vrede te sluit, maar dit was nie suksesvol nie. In hierdie tyd het een van die beroemdste Britse regimente, die Gordon Highlanders, by die Britse aanvoerder, George Pomeroy Colley, en sy troepe aangesluit. Die Britse kamp was by Mount Prospect. Colley wou ná twee nederlae so gou as moontlik die oorlog beëindig. Daarom het hy besluit om weer tot die aanval oor te gaan. 1 2

Militêre begraafplaas te Mount Prospect, waar generaal sir George Colley begrawe is, met Majuba op die agtergrond

Britse voorbereiding vir die stryd

Colley het besluit die beste manier om die Boere te verslaan sal wees om die berg Majuba te beset, en dan van daar af aan te val. Die Boere was besig om verskansings te bou in die rigting van die berg, en hy wou die berg beset voor die Boere dit kon doen. ʼn Plaaslike swart man het vir Colley vertel dat die Boere Majuba slegs deur die dag, en nie snags, bewaak het nie. 2 3

Dit was vir Colley kritiek dat sy plan ʼn geheim gebly het, sodat hy die Boere kon verras. Hy het slegs twee offisiere van sy plan ingelig. 3 Op Saterdagaand, 26 Februarie, het Colley sy plan begin uitvoer. Ná aandete is ʼn mag van omtrent 600 man, insluitende drie joernaliste asook swart gidse en draers, beveel om halfeen die nag in doodse stilte op parade aan te tree. 3

Die enigste wapens wat hulle kon vat, was hulle gewere. Colley wou hê dat hulle ook Gatling-gewere en kanonne saamneem, maar hulle kon nie ʼn manier kry om dit teen die berg op te vervoer nie. 2

Boere inval in Natal Transport waens met Majuba in agtergrond

Die besetting van die berg deur die nag van 26 Februarie was ʼn uiters moeilike taak. Daar was gidse om die roete aan te wys, maar dit was donker, en die terrein was vir hulle onbekend. Die eerste soldate het kort ná halfvier op Sondagoggend, 27 Februarie, die bergtop bereik. Soos wat hulle daar aangekom het, is die soldate al om die kruinrand geplaas, ongeveer 10 tot 15 meter uitmekaar uit. 1 2

Charlestown, Majuba, Julie 1900

Tot dusver was die Britte suksesvol, maar hulle het nou twee foute gemaak. In die eerste plek is baie soldate só geplaas dat hulle nie by die berg kon afkyk nie. Sommige was so ver van die kruinrand af dat hulle nooit enige Boere teen die berg kon sien opklim nie. Die Boere sou dus die berg kon klim sonder dat die verdedigers hulle gesien het. In die tweede plek het Colley nie sy soldate beveel om skanse te bou om hulleself te verdedig nie, omdat hy gedink het dat hulle te moeg was en eerder moes rus. 2 3

Die Boere se reaksie

Colley het ʼn goeie roete gekies om die berg te bestyg, want die Boere se nagwagte het hulle nie deur die nag opgemerk nie. 1 Dit was eers ná sonop dat die Boere die Britte op die berg gesien het, onder meer omdat die Britte op ʼn groep Boere wat teen die hange van die berg opgery het, begin skiet het. 3 Sommige van die Highlanders het ook op die kruinrand gestaan, hulle vuiste in die lug gewaai en op die Boere geskree. 2

Charlestown met Majuba in die agtergrond

Die Boere se aanvoerder was kommandant-generaal Piet Joubert. Hy was vir ʼn oomblik paniekerig, maar het herstel en toe besluit dat die burgers die Britte op die berg moet gaan aanval. 1 Veggeneraal Nicolaas Smit het die eerste groep vrywilligers na die laer hange van Majuba gelei. 3 Die Boere het eers gedink die Britte gaan hulle van bo af met hulle kanonne bestook, want hulle het natuurlik nie geweet die Britte het nie kanonne daar bo nie. Toe dit duidelik word dat hulle nie so aangeval gaan word nie, het meer en meer burgers hulle gaan aansluit by die groep wat Majuba aangeval het. 3

Generaal Piet Joubert

Die Boere het in drie groepe opgedeel. 150 burgers in twee aanvalsgroepe onder bevel van kommandant Joachim Ferreira en assistent-veldkornet Stephanus Roos het die noordelike helling van die berg begin uitklim. ʼn Tweede groep van so 200 man het die suidoostelike hang begin uitklim. 1 2

ʼn Derde groep het van die voet van die berg af op die Britte wat oor die kruinrand geloer het, geskiet. Hulle het van vroeg af aanhoudend geskiet. 3

Laer by Charlestown, Majubaberg

Dit het gemaak dat die Britte nie oor die kruinrand wou kyk om op die burgers wat besig was om op te klim, te skiet nie. Die konstante dekvuur van onder af was deurslaggewend in die Boere se oorwinning. Dit het gemaak dat die Britte nie besef het het dat die Boere al hoe nader aan die kruin gevorder het nie. 2

Die Britte het wel hier en daar van die Boere raakgesien en op hulle geskiet, maar die burgers het baie goed geskuil, só goed dat dit nog ʼn rede was waarom die Britte nie besef het hoe hoog hulle al geklim het nie. 1 In elk geval het die Britte, en veral Colley, geglo hulle posisie op die berg was te goed, en hulle was dus houtgerus. 3

Die geveg op die kruin

Toe die burgers reg onder die kruinrand was, moes die onderste burgers ophou skiet omdat die gevaar was dat hulle hul eie makkers sou tref. Die Britte het aangeneem dit beteken die aanval is gestaak. Dit was egter glad nie so nie. 1 Colley het selfs op híérdie stadium nie geglo dat die Boere beplan het om die kruin aan te val nie. 3

Grafsteen van Kapt. Maud gesneuwel op Majuba

Om eenuur die middag het die burgers die kruin van die berg bereik. Dit was vir die Britte ʼn totale verrassing. 3 Die voorste burgers het dodelik op die verdedigers van die noordelike kruinrand begin skiet. Die Britse soldate was so verbaas dat hulle verskrik na die middel van die kruin gehardloop het. Die Britte was hierna vir die res van die geveg op die agtervoet. 1

Majuba, 1900

Die geveg het nie lank geduur nie – tussen 10 en 20 minute. Die Boere het aanhou skiet op die Britte wat teruggeval het. Colley het probeer om ʼn verdedigingslinie op te stel. Dit was egter gemik daarop om die aanvallers van die noorde af te keer. Hierdie poging het geëindig toe die Boere die oostelike kruinrand berek het het en op die verdedigingslinie se flank begin skiet het. Hierna het die Britse verdediging totaal verbrokkel. 1

Britse offisiere en soldate het na die suidelike kruinrand gehardloop om weg te kom. Baie is raakgeskiet. Colley is noodlottig getref. Die troepe wat dit tot by die rant gemaak het, het teen die steiltes afgehardloop terug na hulle kamp toe. ʼn Paar het oor die kranse getuimel en hulle doodgeval. Die Boere het aangehou skiet totdat daar geen verdediding op die berg oor was nie. 1

Generaal Colley se graf

Die afloop van die stryd

Die vlugtende Britte was teen vyfuur die middag terug by hulle kamp by Mount Prospect. Hulle het onmiddelik begin gereed maak om dit teen ʼn aanval te beskerm. Die Boere wou die kamp aanval, maar digte mis en later reën het toegesak en dit onmoontlik gemaak. 1 2

Gedenkteken by Majuba

Aan Boerekant is een burger dood, een aan wonde oorlede, en vyf is lig gewond. Aan die Britse kant het 6 offisiere en 86 ander soldate gesneuwel, en 9 offisiere en 125 ander soldate is gewond. 53 is as krygsgevangenes geneem. 46% van die Britte wat op Majuba was, is dood of beseer. 2 Dit was vir die Britte ʼn verpletterende nerderlaag. 3

George P. Colley

Gevolge van Majuba

Majuba was die laaste geveg van die Eerste Vryheidsoorlog en het die oorlog in die Boere se guns beklink. 1 Majuba het ʼn simbool geword. Vir die Boere was dit ʼn simbool van oorwinning en onafhanklikheid van die Britte. 1 Dit was ook vir die Boere ʼn duidelike aanduiding van God se ondersteuning in hulle stryd vir vryheid. 3 Vir die Britte was dit ʼn simbool van hulle nederlaag wat gewreek moes word. Omtrent 20 jaar later, gedurende die Anglo-Boereoorlog, sou hulle hul kans kry.

Kaart van Slag van Majuba, 27 Februarie 1881

Woordbank

beset Om beheer oor ʼn plek te neem en dit met wapens te beskerm.
beslissend Deurslaggewend.
flank Die sy- of agterkant van ʼn weermag.
Gatling-gewere Hoëvuurtempo-multiloopgeweer.
kruinrand Die kant van die boonste gedeelte van ʼn berg.
linie ʼn Verdedidingslyn.
noodlottig Iets wat die dood tot gevolg het.
parade Plek waar troepe aantree.
plato Plat hoogvlakte met steil hellings.
tuimel Onderstebo val.
veldslag Geveg tussen vyandelike magte in die veld.
verskansings Iets soos ʼn muur waaragter ʼn mens jou kan verskans.
regimente ‘n Afdeling soldate onder die bevel van ’n kolonel of ’n luitenant-kolonel.
dekvuur Wanneer een groep skote op die vyand skiet sodat ‘n ander groep hul gewere kan herlaai of weg kom.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die Slag van Majuba

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die Slag van Majuba

Die Slag van Majuba

Die Slag van Majuba (1881) – die oorwinning van die Boere

ʼn Bondige oorsig oor die Boere-oorloë

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 7 Junie 2022 | Bygewerk op 27 Februarie 2024