Vinnige feite

 

  • Jameson was onder sy vriende as “Dr. Jim” bekend. 3
  • Jameson se Progressiewe Party het in 1904 die verkiesing gewen omdat die Kaapse rebelle – daardie Kapenaars wat die Boere ondersteun het tydens die Anglo-Boereoorlog – toe nog van hulle stemreg ontneem was. 4
  • Die gedig “If” van die bekende digter Rudyard Kipling (skrywer van The Jungle Book) is deur Jameson se lewe geïnspireer, spesifiek dit wat hy moes oorkom ná die terugslag van die Jameson-inval. 3
  • Jameson is begrawe by die Malindidizimu-heuwel, soms ook deur die Britte genoem ‘View of the World’. Dit is deur Cecil John Rhodes geoormerk as die rusplek vir mense wat Brittanje met lof in Afrika gedien het. 3
Foto: iStock

Sir Leander Starr Jameson (1853-1917) was ʼn dokter en politikus. Hy het berugtheid verwerf as die leier van die Jameson-inval, ʼn mislukte Britse poging om die Transvaalse regering oor te neem in 1895. Jameson was later die eerste minister van die Kaapkolonie, asook die eerste leier van die opposisie in die Suid-Afrikaanse parlement, ná Uniewording in 1910.

Vroeë lewe

Jameson is in Skotland gebore, die elfde en jongste kind van Robert William Jameson en Christian Pringle. Toe hy sewe was, het sy familie na Engeland verhuis, waar hy skoolgegaan en hom daarna as dokter bekwaam het. In 1878 het hy Kimberley toe verhuis, en daar as dokter gepraktiseer. 1

Portret van Leander Starr Jameson se ma
Robert William Jameson

Vriendskap met Cecil John Rhodes en werk vir die BSAC

Jameson se lewe het ná 1886 ʼn groot wending geneem toe hy ʼn hegte vriendskap met Cecil John Rhodes, die skatryk mynmagnaat en latere eerste minister van die Kaapkolonie, begin het. Rhodes het belange dwarsoor Suider-Afrika gehad, en Jameson was ʼn man met baie energie. Jameson het ʼn soort agent vir Rhodes en sy maatskappy, die British South Africa Chartered Company (BSAC), geword. Hy het die gebied waar Suid-Afrika, Botswana en Zimbabwe vandag is, deurkruis om die BSAC se belange te bevorder. 1

Jameson het as BSAC-agent drie keer by koning Lobengula van die Matabele in Bulawayo besoek afgelê. Die koning het vroeër aan Rhodes die konsessie (‘die reg’) gegee om daar goud te myn, en Jameson moes seker maak dat hy nie die konsessie terugtrek nie. Hy het dit reggekry deur die koning vir jig te behandel en sy vriendskap te wen. Jameson het vir Lobengula so beïndruk dat hy ʼn koninklike indoena (‘raadgewer’) geword het. 1

Hy het ook by Gungunyane, die Gaza-opperhoof, besoek afgelê. Gaza was ʼn koninkryk in die oostelike dele van die huidige Mosambiek. Die BSAC wou ʼn pad deur die koninkryk bou om by die Mosambiekse hawens uit te kom. Jameson het vir Gungunyane wapens belowe in ruil vir die reg om die pad te bou. Mosambiek was egter ʼn Portugese kolonie, en die Portugese het die skip gekonfiskeer. Jameson is gearresteer, maar weer vrygelaat. 1

In Mei 1891 het Jameson ʼn konfrontasie gehad met ʼn trekgroep Transvalers onder leiding van L.D. Adendorff. ʼn Plaaslike opperhoof genaamd Chive het vir die Transvalers ʼn konsessie in sy gebied gegee, net noord van die Limpopo-rivier. Jameson het die trekgroep met ʼn BSAC-polisiemag gaan konfronteer en hulle planne beëindig. Dit het nog spanning tussen die Kaap en die Boererepublieke veroorsaak. 1

In 1891 is Jameson deur die Britse regering as die hoofmagistraat van Mashonaland – ʼn gebied in die noorde van die huidige Zimbabwe – aangewys. Hy moes wet en orde daarstel. Hy het gemengde sukses gehad. Sy pogings om ʼn effektiewe plaaslike regering in te stel, was redelik suksesvol. Sy ondergeskiktes – die Britse amptenare onder sy beheer – het egter alles bederf deur onnodig geweld te gebruik om orde te probeer handhaaf. 1

In Julie 1893 was Jameson betrokke by ʼn grensoorlog tussen die BSAC en die Matabele. Die BSAC het Matebeleland binnegeval en Lobengula se magte oorwin, waarna Jameson vir ʼn ruk lank as die heerser oor Matebeleland opgetree het. Hy het vir die Matabele reservate opsygesit, en hy het die grond in plase opgedeel om aan wit setlaars wat aan die oorlog deelgeneem het, te gee. Gedurende sy tyd in beheer het Jameson baie energiek te werk gegaan – hy het dorpe aangelê, skole en howe opgerig, myne inspekteer, paaie laat bou, asook twiste en sake verhoor. 1

In Oktober 1895 het Jameson die hoof van die strook land op die grens tussen Betsjoeanaland (vandag se Botswana) en die Transvaal geword. Dit is van hier af waar Jameson sy alombekende inval in die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR) geloods het. 1

Die Jameson-inval

In die 1890’s het die Transvaalse Boere al hoe meer anti-Brits geword. Cecil John Rhodes, wat teen hierdie tyd die premier van die Kaapkolonie was, het besluit dat dit tyd was om die Boere te onderwerp. Hy het in 1895 met Joseph Chamberlain, die Britse koloniale sekretaris (die Britse regeringslid in beheer van Brittanje se kolonies), en die Randlords – die mans wat mynbou van goud en diamante op die Witwatersrand beheer het – gekonkel. 2 [Lees meer hier oor die Randlords.]

Die plan was dat die inval (wat deur Jameson gelei sou word) op dieselfde tyd sou plaasvind as ʼn Uitlander-opstand in Johannesburg. Die chaos moes vir Brittanje ʼn verskoning gee om die Transvaal oor te neem sodat hulle die Uitlanders kon “beskerm”. 1

Teen Kersfees 1895 het die mense wat die opstand in Johannesburg moes reël, koue voete gekry. Rhodes het toe besluit om die inval te kanselleer, maar Jameson het nie daardie boodskap ontvang nie. 3 Dus het hy op 29 Desember 1895 met 510 soldate, agt masjiengewere en drie veldkanonne die Transvaal naby Marico ingeval. 1 Dit was ʼn klaaglike mislukking, onder meer omdat Jameson nie ʼn ervare militêre aanvoerder was nie. 2

Op 2 Januarie het die Transvaalse bevelvoerder, generaal Piet Cronjé, Jameson se troepe naby Krugersdorp oorrompel. Daarmee was die inval verby. 1

Generaal Piet Cronje

Jameson en sy troepe is deur die Transvaalse regering aan Brittanje uitgelewer. ʼn Britse hof het hom tot 15 maande tronkstraf gevonnis. Hy is egter ná ʼn paar maande weens swak gesondheid vrygelaat. 1

Die Jameson-inval was nie Jameson se idee nie, maar hy was nóú betrokke by die beplanning daarvan. Die Kaapse parlement het hom ook skuldig bevind, maar hulle het die meeste blaam op Rhodes se skouers geplaas. Jameson het ontken dat hy op Rhodes se bevele opgetree het, en volgehou dat hy die grens op eie inisiatief oorgesteek het. 1

Ná die inval

Tussen 1879 en 1899 was Jameson meestal in Rhodesië (vandag se Zimbabwe) doenig met Rhodes se planne, soos die aanlê van die Kaap-tot-Kaïro-telegraaflyn. Toe die Anglo-Boereoorlog op 11 Oktober 1899 uitbreek, het hy hom na Natal gehaas, en hy was in Ladysmith tydens die beleg van dié dorp (toe die Britte die dorp met al sy mense van die res van die land afgesluit het). Hier het hy as dokter gepraktiseer totdat hy self siek geword het. 1

Die begin van ʼn politieke loopbaan

In Mei 1900 is hy verkies tot lid van die Kaapse parlement. As gevolg van die Jameson-inval het hy nie ʼn gul ontvangs gehad nie. Hy het egter eers in 1902 die kwessie aangespreek. In ʼn toespraak in die parlement het hy na die Jameson-inval as ʼn “afskuwelike inval” verwys het. Hy het bygevoeg dat hy reeds vir sy “groot flater” geboet het, en dat dit “nou maar deur gewone mense met ʼn regverdigheidsin vergeet kan word.” 1

In hierdie tyd is hy ook gekies as ʼn direkteur van De Beers, Rhodes se mynmaatskappy. Ten spyte van die feit dat Rhodes se reputasie onherstelbare skade gely het as gevolg van die Jameson-inval, het Jameson deurentyd met Rhodes vriende gebly. Hulle was onder meer saam in Kimberley, Rhodesië, Brittanje, Egipte en Kaapstad. Jameson het vir Rhodes tydens sy laaste siekbed in Muizenberg versorg, tot met sy dood in 1902.

Leier van die Progressiewe Party en Kaapse premier

In Maart 1903 het hy die leier van die Progressiewe Party (vanaf 1908 die Unioniste Party) in die Kaapkolonie geword. Die Progressiewe Party het die 1904-verkiesing gewen, en Jameson het die Kaapse premier geword. 1

John X. Merriman

Jameson was uitgesproke pro-Brits, en baie Kapenaars was bang dat sy regering ʼn wig tussen die Afrikaans- en Engelssprekendes sou dryf. Hulle vrese was ongegrond. Jameson het in 1904 vir meeste Afrikaner-rebelle amnestie gegee – met ander woorde, hy het hulle vrygeskeld van straf. In 1905 het hulle die Skoolraadwet (School Board Act) aanvaar, waarvolgens primêre onderwys vir wit kinders verpligtend gemaak is, en bruin kinders se skooltoegang beperk is tot sendingskole. Hierdie beleid was populêr onder die wit bevolking. Laastens het die regering ook alles in hul vermoë gedoen om tweetaligheid op skool en in die staatsdiens te bevorder. 1

In 1908 het Jameson se party die verkiesing teen die Suid-Afrikaanse Party verloor, en hy is deur John X. Merriman as premier vervang. Jameson was ʼn afgevaardigde by die Nasionale Konvensie – waar Uniewording bespreek is – en hy was lid van die deputasie (groep mense) wat die Uniegrondwet na Londen toe geneem het vir goedkeuring deur die Britse parlement. 1

Leander Starr Jameson by die Nasionale Konvensie, Durban, 1908

Uniewording in 1910 het meeste Engelssprekende Suid-Afrikaners vir Jameson se Unioniste Party gestem. Jameson het toe ook die eerste leier van die opposisie geword, wat beteken sy party was die tweede grootste in die parlement. 1

Jameson het in 1911 ʼn baronetskap van die Engelse koningshuis ontvang. In 1912 het hy besluit om uit die politiek te bedank, en teruggetrek Engeland toe vir gesondheidsredes. Hy het betrokke gebly by die doen en late van die BSAC, waarvan hy in 1913 die voorsitter geword het. 1

Jameson was in die laaste paar jare van sy lewe sieklik, en hy het in 1917 in Londen gesterf. Hy was 64 jaar oud. 1

Persoonlike lewe

Jameson het nooit getrou nie. Hy was ʼn man met geweldige energie, maar min woorde. Hy is uiteindelik langs Rhodes in die Matobo-heuwels naby Bulawayo begrawe. 1

Leander Starr Jameson

Woordbank

amnestie Algemene kwytskelding van straf of vervolging. 5
jig Siekte wat tot pynlike gewrigsontsteking lei.
konfiskeer Beslag lê op iemand se goedere.
konsessie Vergunning deur ʼn owerheid om te myn of ʼn gebied te ondersoek of verken vir mynboudoeleindes.
ondergeskiktes In ‘n minder belangrike posisie as iemand anders.
Randlords Kapitaliste wat die goud- en diamantmynboubedrywighede in Suid-Afrika beheer het.
telegraaflyn Die lyne vir ʼn elektriese seintoestel wat boodskappe oor groot afstande kon stuur.
Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 29 September 2022 | Bygewerk op 26 Februarie 2024