Vinnige feite

  • Daar was ’n hele paar onafhanklike swart stamme wat elke kort-kort in dele van die ZAR probleme veroorsaak het. Om die veiligheid van die ZAR te probeer verseker, het Joubert aan baie veldtogte deelgeneem om probleme op te los. Hiermee het hy bewys dat hy ’n sterk militêre leier was. 2
  • Daar is ’n heeltemal nuwe hoofstad vir die nuwe ZAR gestig sodat die drie groepe wat toe onder verskillende leiers bestaan het, almal die hoofstad sou aanvaar. Daardie hoofstad is Pretoria genoem – dié hoofstad is na Andries Pretorius vernoem. 2
  • Soos met alle kinders tydens die Groot Trek het Joubert nie tyd en kans gehad om skool te gaan nie. Kinders het in dié tyd by hul ouers en grootouers geleer. Hy het egter baie gelees, veral boeke oor die regswêreld. Op dié manier het hy homself geskool en van baie dinge geleer. 2
  • Van 1883 tot 1898 het Joubert teen Kruger aan al die presidentsverkiesings deelgeneem, maar elke keer het Paul Kruger die verkiesing gewen. 2
Foto: iStock

Piet Joubert het as kind gedurende die Groot Trek in die Trekgroep van Piet Retief grootgeword. Al was daar nie vir hom geleentheid om skool te gaan nie, het hy ’n groot sukses van sy lewe gemaak én ‘n belangrike rol in die geskiedenis gespeel. Joubert het nie net ’n slim sakeman en bekende militêre leier geword nie, maar ook in twee belangrike oorloë geveg.

Kinderjare en gesin

Petrus Jacobus Joubert (Piet) is op 20 Januarie 1831 in die destydse Kaapkolonie gebore, in die gebied tussen Oudtshoorn en Prins Albert. 1

Sy ma is kort ná sy geboorte oorlede en hy is deur sy ouma en oupa aan sy pa se kant grootgemaak. Hy het saam met hulle getrek toe Piet Retief se Trekgeselskap uit die Kaap weggetrek het. 2

Sy oupa aan sy ma se kant is tydens die Groot Trek in ’n geveg met die Zoeloes dood. 3

Nadat die Groot Trek verby was, het hy in die omgewing van Irene naby Pretoria geboer. Hier het hy sy vrou, Hendrina Johanna Susanna Botha (noemnaam Hendrina), ontmoet. Sy was ook deel van die Groot Trek. Hulle is getroud en het agt kinders gehad. 3

Hulle het later in die Wakkerstroom-distrik op die plaas Rustfontein gaan boer. Piet was ’n goeie boer en het ryk geword uit sy boerdery. 2 Hy was ook ’n handelaar, ’n stigterslid van ’n hele paar maatskappye en het boonop goudaandele besit. Hy was dus ’n goeie sakeman. 4

Generaal Piet Joubert met sy staf.

Drie groepe in die ZAR

Toe die gebied noord van die Vaalrivier in 1852 onafhanklik word as die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), was daar drie verskillende groepe onder verskillende leiers in die gebied:

  • In die noorde het die volgelinge van Andries Hendrik Potgieter in die gebied van die Soutpansberg gewoon.
  • In die ooste het die mense in die Lydenburg-distrik hulself as ’n afsonderlike republiek gesien. Hierdie gebied was vanaf Lydenburg in die noorde tot by die grens van Zoeloeland in die suide.
  • In die omgewing van Potchefstroom en Rustenburg het die volgelinge van Andries Pretorius gewoon.

Die eerste president van die ZAR was M.W. Pretorius, een van Andries Pretorius se seuns.

M.W. Pretorius.

Piet Joubert (deel van die Lydenburg-groep) was saam met Paul Kruger (deel van die Potgieter-groep) twee van die sterk leiers wat gehelp het om die drie groepe as ’n eenheid te laat saamwerk. 2

Pres. Paul Kruger.

“Slim Piet” se betekenisvolle bydrae

Een van die probleme wat die nuwe ZAR gehad het, was dat daar nie genoeg mense was wat die kennis gehad het om ’n nuwe regering aan die gang te kry en hou nie. Daar was min Trekkers wat kennis van regsake en die administrasie van ’n land gehad het. Die drie Voortrekkerleiers wat wel oor dié kennis beskik het, was reeds oorlede – Piet Retief, Gerrit Maritz en Andries Pretorius. Die ZAR het ook nie geld gehad om hulp van buite in te roep nie. 2

Piet Joubert het in hierdie tyd baie vir die nuwe regering en die ZAR beteken. Hy het goeie kennis van besigheid gehad, was welgesteld (ryk) danksy sy suksesvolle boerdery en sakebelange, en dit was dus nie vir hom belangrik wat die staat hom kon betaal nie.

Omdat Joubert homself ook baie oor regsake geleer het, kon hy hierdie kennis gebruik om prokureur-generaal te word. Joubert is in die jare ná 1860 tot die Volksraad verkies as verteenwoordiger van die Wakkerstroom-kiesafdeling.

Hy was altyd baie versigtig wanneer hy besluite geneem het, of dit nou in die politiek, sakewêreld of tydens militêre optredes was. Hy het mettertyd ook as “Slim Piet” bekendgestaan. 2

Pres. Kruger en genl. Joubert in 1880.

Die tyd voor die Eerste Vryheidsoorlog

Die meeste burgers was glad nie tevrede met Brittanje wat in 1877 weer die land geannekseer het nie.

Die drie leiers – wat die Driemanskap genoem is en hierdie ontevrede burgers gelei het – was Paul Kruger, Piet Joubert en M.W. Pretorius. Hulle het vergaderings met die Britse regering gehou en dan terugvoering aan die burgers gegee. Hulle het selfs twee keer na Engeland gereis om oor dié saak te praat. Dit het ongelukkig nie gehelp nie; die Britse regering wou nie hul soldate uit die ZAR terugroep nie.

Die Driemanskap het op 8 Desember 1880 ’n groot volksvergadering by Paardeberg, in die omgewing waar Krugersdorp vandag is, gehou. 5

Hulle het vertel dat Engeland nie die land aan die Boere gaan teruggee nie. Die mense by die vergadering het toe besluit dat hulle op hul eie van vooraf weer die Republiek gaan stig. Hulle het ook geweet dat dit sal veroorsaak dat Brittanje teen hulle gaan oorlog maak.

Paul Kruger is as president verkies en Piet Joubert as kommandant-generaal. Hulle sou Heidelberg as hul hoofstad gebruik omdat die drie belangrikste dorpe van die ZAR – Pretoria, Lydenburg en Potchefstroom – deur die Britte oorgeneem is. 2

Joubert en die Eerste Vryheidsoorlog

Joubert het dadelik begin om vir die oorlog voor te berei.

Hy het gehoor dat generaal Colley van Brittanje planne maak om die Boere vanaf Natal (vandag KwaZulu-Natal) aan te val. Hy het met sy hoofkommando na Laingsnekpas gegaan waar die pad vanaf Natal oor die Drakensberge geloop het. Op 28 Januarie is die Britte in die Slag van Laingsnek verslaan. 6

Die heel belangrikste wat hy in hierdie oorlog gedoen het, was die oorwinning by die Slag van Majuba in 1881. Majuba was ’n baie groot en hoë koppie en die groep wat hierdie koppie beset het, sou baie ver kon sien en oor ’n groot gebied beheer kon kry.

George P. Colley.

In die nag van 26 Februarie 1881 het Joubert die Boeresoldate op verskillende plekke laat waghou om te keer dat die Britse soldate teen die koppie opklim. Van hierdie wagte het aan die slaap geraak en die Britse soldate het in die nag begin opklim.

Joubert se vrou het dikwels saam met haar man op militêre ekspedisies gegaan en op verskillende maniere gehelp. Sy het, soos dit vertel word, eerste die Britse soldate op die koppie gesien. Joubert het gedink dat sy wagte die Britse soldate sou keer en het vir haar gesê dat sy seker bergbokke sien. Sy het toe vir hom gevra: “Dra bergbokke dan rooi baadjies?” (Die Britse soldate het rooi baadjies gedra.) 2

Joubert se soldate het teen die koppie opgeklim en al het die Britse soldate van bo af op hulle geskiet, het dit nie die Boere gekeer nie. Hulle het tot bo geklim en die Britte aangeval. Die Britse soldate het begin vlug en die Boere, wat nou almal op die koppie was, het van bo af op die vlugtende soldate geskiet.

Uiteindelik is 92 soldate en offisiere van die ongeveer 570 Britse soldate wat by Majuba geveg het,  dood. Onder die offisiere wat gesterf het, was generaal Colley. Aan die Boere se kant is net twee burgers dood. 6

Joubert maak weer reg vir oorlog

Teen 1899 was die Boere reg vir die oorlog wat sou kom. Die weermag is vergroot en hulle het nuwe en goeie wapens gekry. Net die beste wapens is uit Europa ingevoer, soos Creusot-kanonne (ook bekend as Long Tom-kanonne) 7 uit Frankryk en Mauser-gewere uit Duitsland. Daar is forte reg rondom Pretoria gebou en oproepinstruksies (boodskap om reg te maak om vir die oorlog op te daag/aan te meld) is aan al die burgers gestuur. 2

Joubert se rol in die Anglo-Boereoorlog

Toe die oorlog in 1899 uitgebreek het, was Joubert reeds 65 jaar oud. Vir daardie tyd was dit nogal oud, veel “ouer” as wat 65 vandag is. ‘n Mens moet onthou dat hy toe reeds aan die Groot Trek deelgeneem het. Hy het ook reeds een oorlog en baie ander kleiner veldslae (gevegte) agter die rug gehad. Hy was as kommandant-generaal die bevelvoerder van die oorlog, maar vir hom was verdediging belangriker as aanval.

Die Boere-kommando by Wakkerstroom in 1881.

Een voorbeeld van sy manier van oorlogvoering, het in Oktober 1899 gebeur. Op 30 Oktober het die Britse soldate die Boere op twee plekke, Modderspruit en Nicholsonsnek, aangeval. Op albei plekke is die Britte teruggedryf. Dit was die werk van twee offisiere wat toe nog taamlik jonk was en wat later baie bekend sou word – generaal Louis Botha en generaal Christiaan de Wet. As die burgers die Britse soldate agtervolg het, kon die oorwinnings nog groter gewees het, maar Joubert het nie só ’n opdrag gegee nie. Toe Louis Botha hom daardie aand vra waarom hulle nie die vyand agtervolg het toe hulle gevlug het nie, het hy geantwoord: “Dis onchristelik om ’n vlugtende vyand te agtervolg!” 8

Op 17 Maart het die Boere in Kroonstad ’n krygsraadsvergadering gehou. Van die persone wat teenwoordig was, was onder andere presidente Kruger en Steyn asook generaals Joubert, De la Rey en De Wet. Hulle het besluit om voort te gaan met die oorlog, maar om geen ossewaens meer saam met die burgers te laat trek nie en net perde te gebruik. Dit sou beteken dat die Boerekommando’s vinniger kon beweeg.

In hierdie stadium was Joubert reeds vir ’n tyd siek. Hy is net tien dae ná die vergadering in Kroonstad op 28 Maart 1900 oorlede. 7

Boere byeen vir ‘n dankdiens ná hulle oorwinning by Stormberg.

Hoe word Piet Joubert onthou?

  • In Polokwane is daar ’n Generaal Piet Joubert-skool.
  • In Krugersdorp, Vanderbijlpark en Sasolburg is daar strate met die naam Piet Joubert.
  • Daar is ’n standbeeld van Piet Joubert by Fort Schanskop buite Pretoria.
  • In 1980 is ’n posseël uitgereik met die gesigte van Piet Joubert, Paul Kruger en M.W. Pretorius daarop.

Woordbank

geannekseer Besit neem van iets of ’n gebied of land by jou eie land inlyf.
ekspedisies ’n Reis wat lank en gevaarlik is en wat vooraf baie goed beplan word. Dis gewoonlik ’n reis na ’n onbekende plek wat ook gevaarlik kan wees.
forte Sterk gebou wat vir militêre redes gebou word en wat vir verdediging gebruik word.
handelaar Iemand wat handel dryf, wat koop en verkoop.
kommando Klein groep soldate wat opgelei is om vinnig teen die vyand se soldate op te tree.
krygsraad Wanneer leiers in oorlogstyd vergadering hou om te besluit hoe hulle verder moet oorlog maak.
rooi baadjies Omdat die Britse soldate rooi baadjies gedra het, is hulle “Rooibaadjies” genoem.
Volksraad Die liggaam wat die wette maak in ’n gebied. Die lede van die Volksraad word verkies deur die inwoners.

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 31 Augustus 2022 | Bygewerk op 27 Februarie 2024