Vinnige feite

  • Die Handves van Regte gee vir ons Suid-Afrikaanse burgers die reg op toegang tot behuising. Jy het die reg om ’n dak oor jou kop te hê. Jy het ook die reg op gesondheidsorg, kos en water. 9
  • Daar is ook spesiale regte vir kinders in hierdie Handves. Kinders het, onder meer, die reg op basiese voeding, gesondheidsorg, skuiling (’n blyplek), onderwys en maatskaplike dienste. Die Grondwet het baie reëls om kinders en hul regte te beskerm.
  • Die Oos-Kaap is die provinsie in Suid-Afrika waar die meeste gesinne in armoede bly. Landelike gebiede is dikwels die armer gebiede omdat daar minder mense is en hulle nie altyd hulpbronne het wat hulle kan help nie. Volgens ’n 2016-opname het tot 880 000 mense in die Oos-Kaap in armoede geleef. 5
  • Die tien armste lande is Suid-Soedan, Burundi, Sentraal-Afrika-Republiek, Somalië, Demokratiese-Republiek, Mosambiek,  Niger, Malawi, Tsjad, Liberië. 10
  • Die meeste arm lande is in Afrika.
  • Het jy geweet? Daar word meer as genoeg kos in die wêreld vervaardig om vir almal kos te kan gee, maar tog is daar ongeveer 828 miljoen mense wat honger ly. Ongeveer 40% van die mense ly aan erge hongersnood. Ongeveer 9 miljoen mense sterf jaarliks aan hongerverwante oorsake. 11
  • Hongersnood (as mense nie genoeg kos kry nie) word wêreldwyd op konflik in lande (soos oorloë) en klimaatsverandering (soos droogtes of vloede) geblameer. Die Covid-19-pandemie het ook tot hongersnood bygedra, want baie mense het daartydens hul werk verloor en gesinne het broodwinners verloor. ’n Broodwinner is iemand wat vir ’n gesin sorg.
  • In die jaar 2000 het wêreldleiers byeengekom en die Verenigde Nasies se Millennium-ontwikkelingsdoelwitte opgestel. Een van hul doelwitte was om teen 2015 erge wêreldhonger en armoede uit te wis. Hulle het weer bymekaargekom en hierdie keer het hulle doelwitte vir volhoubare ontwikkeling onderteken. Dit is ten doel om teen 2030 hongersnood te verminder, voedselsekuriteit te bereik, voeding te verbeter en volhoubare landbou te bevorder.
Foto: iStock

Jannie bly in ’n spoggerige woonbuurt. Sy ouers het albei topposte en hulle verdien baie goeie salarisse. Hulle het twee splinternuwe motors, bly in ’n luukse huis en het selfs ’n naweekhuis by die Vaalrivier. Hulle het internet, Netflix en Jannie het die jongste iPhone en ’n skootrekenaar wat omtrent als kan doen behalwe koffiemaak.

Hanlie bly weer in ’n woonbuurt waar baie mense swaarkry. Haar pa is tydens die Covid-pandemie afgelê en hoewel haar ma ’n werk het, kry sy nie ’n groot salaris nie. Hulle moes hul enigste motor verkoop het en daar is nie geld vir luukshede (soos internet of TV) of selfs vir lekkernye nie. Hanlie het ook nie ’n rekenaar of selfoon soos Jannie nie. 1

’n Mens kan dus sê dat daar ongelykheid tussen Jannie en Hanlie se huishoudings bestaan. Die woord ongelyk beteken dat hulle nie in alle opsigte dieselfde is nie en dat iets nie op dieselfde vlak is nie.

Ons bly in ’n land met groot ongelykheid tussen dié wat het en dié wat nie het nie. Daar is Suid-Afrikaners wat baie geld het en as ryk beskou word en dan het ons baie Suid-Afrikaners wat nie eens geld vir kos het nie. Hulle word as arm beskou.

Suid-Afrika is een van die mees ongelyke lande ter wêreld. 2

Volgens die 2006-statistieke spandeer die rykste 10% van die bevolking (inwoners van die land) 8,6 keer meer geld as die armste 40% van die bevolking. Dit beteken dat hulle baie meer geld as die arm mense het. 2

Die broodlyn word ook die armoedelyn genoem en dit is die minimum bedrag wat ’n mens per maand nodig het om in jou basiese voedingsbehoeftes te voldoen. 3

Dit is dus basies die bedrag wat jy nodig het om elke dag te kan eet. As mense onder die broodlyn leef, het hulle nie geld vir kos nie en leef hulle in uiterste armoede. Hulle het nie toegang tot goeie verblyf, gesondheidsorg, skoon water, voedsel en sanitasie nie. Hulle kan gewoonlik nie eens bad of stort in die aand nie en het nie elektrisiteit nie.

Die minimum bedrag wat in Suid-Afrika per maand nodig is om te kan eet, is R760. As iemand dus minder as hierdie bedrag vir kos het, kan ons sê dat hulle onder die armoedelyn (of broodlyn) leef. As iemand minder as R1 058 per maand kry, word hulle as armoedig beskou. 4

Hoe word armoede gemeet?

Statistieke Suid-Afrika gebruik die multidimensionele armoede-indeks om te bepaal of iemand arm is en hóé arm iemand is.

Hulle kyk dus nie net of iemand onder die broodlyn leef nie. Hulle kyk ook na huishoudings se gesondheid: Is daar ’n jong kind wat dalk weens hongerte dood is? Hulle kyk ook na opvoeding en na die aantal jare wat 15-jariges en ouer skool gegaan het. Volgende kyk hulle na mense se lewenstandaard (lees meer hieroor verder in die artikel). Hoe maak die gesin in die huishouding kos en het hulle krag in die huis? Is daar water in die blyplek? Is daar ’n werkende toilet en hoe lyk hul blyplek? Natuurlik moet hulle ook kyk wie werk het en wie nie het nie.  As die telling in die indeks 33,3% en hoër is, word hulle as arm gereken. 5

Hoekom is armoede so ’n groot probleem in Suid-Afrika?

Die armoedeprobleem word grootliks aan sosio-ekonomiese wanbalanse toegeskryf.

Die woord sosio-ekonomies verwys na ’n kombinasie van sosiale en ekonomiese faktore soos behuising en gesondheid. 6

’n Wanbalans is die toestand waar daar nie ’n balans tussen dinge of sake is nie en wat probleme veroorsaak. 1

Nie almal in ons land het dieselfde toegang tot hulpbronne nie. Hulpbronne is die plekke of instellings wat ons kan help. Ons dink hier aan onderwys, behuising, gesondheid en ’n goeie lewenstandaard. Hoekom is dit so? Die nuwe demokratiese regering van Suid-Afrika en die Grondwet wat ons almal se menseregte beskerm, is eers in 1994 geïmplementeer. Jy het seker al die woord apartheid teëgekom en dit verwys na die jare toe nie almal in ons land gelyk behandel is en toegang tot hulpbronne gehad nie. Ongelukkig vat dit nou baie lank om vir die hele bevolking dieselfde toegang tot hulpbronne te gee.

Wat is lewenstandaard?

Tembi bly in ’n dubbelverdiepinghuis en haar ouers het goeie poste en goeie salarisse. Sy is in ’n spogskool en daar is geen tekort aan kos en klere nie. Hulle gaan gereeld weg met vakansie en haar ma laai haar in die oggend by die skool met hul splinternuwe motor af. Tembi doen in die middag vinnig haar huiswerk en kyk dan na haar gunsteling-TV-programme.

Busi bly in ’n informele nedersetting. Haar pa is oorlede en sy bly by haar ma wat by ’n fabriek werk en nie baie geld verdien nie. Busi gaan nooit weg met vakansie nie en sy moet kilometers ver loop om by die skool te kom. In die middag ná skool moet sy met takies help en dan moet sy in die aand haar huiswerk by kerslig doen, want hulle het nie elektrisiteit nie.

Tembi het beslis ’n goeie lewenstandaard terwyl Busi se lewenstandaard nie so goed soos Tembi s’n is nie.

Lewenstandaard is die vlak van rykdom en gemak wat mense het. As ons wil bepaal of iemand ’n goeie of swak lewenstandaard het, is daar ’n paar dinge om in ag te neem. Het hulle eerstens ’n werk en hoeveel geld kry hulle? Het hulle geld vir hul basiese behoeftes (soos kos, klere en blyplek)?

Waar bly hulle en hoe leef hulle? Hoe lyk die omgewing waarin hulle bly? Is hul woonplek veilig? Het hulle toegang tot skole en hospitale of klinieke?

As almal net ’n werk kon kry …

Een van die grootste probleme in Suid-Afrika, is die hoë werkloosheidskoers. Die werkloosheidskoers is syfers wat vir ons sê hoeveel mense nie werk het nie. As mense nie werk het nie, is dit ’n groot probleem, want dan kry hulle nie ’n inkomste nie en kan nie dinge koop of betaal nie. In die derde kwartaal van 2023, was daar 7,8 miljoen werklose mense in SuidAfrika. 7 Dit is ’n klomp mense wat nie werk het nie.

Een van die dinge wat mense kan help om werk te kry, is om hulle met goeie vaardighede toe te rus. As mense beter opgelei word, kan hulle ’n beter werk kry en ’n salaris verdien. As daar meer mense is wat salarisse verdien, kan die regering meer belasting kry om mense te help en as meer mense geld verdien, is dit weer goed vir die ekonomie.

Die regering publiseer gewoonlik jaarliks ’n lys van kritiese vaardighede waaraan daar ’n tekort in die land is. Kritiese vaardighede verwys na die tekort aan sekere werke wat belangrik in ons land is. Daar is dus nie genoeg mense wat opgelei is om dié werke te doen nie. 8 Hierdie poste is dikwels in velde soos ingenieurswese, inligtingstegnologie en wetenskap. As jy eendag wil gaan studeer, maar nie seker is wat jy presies wil doen nie, is dit goed om na hierdie lys te gaan kyk sodat jy weet watter werke in aanvraag is.

Woordbank

bevolking Die inwoners van ’n land of plek.
broodlyn Die minimum bedrag wat per maand nodig is om in iemand se voedingsbehoeftes te voldoen.
broodwinner Dit is iemand wat vir ’n gesin sorg.
gesondheidsorg Mediese behandeling en dienste.
hongersnood Dit is ’n toestand waartydens daar lank ’n ernstige gebrek aan kos bestaan.
huishoudings Die gesin of familie en die bestuur of reëlings van ’n huis of ’n gesin.
klimaatsverandering Die verandering van die klimaat oor ’n tydperk.
lewenstandaard Die koste van dinge wat jy nodig het om van te lewe en die vlak van gemak en welvaart wat jy ervaar.
maatskaplike dienste Dienste wat met die samelewing te make het.
sanitasie Die stelsel en toerusting wat gebruik word om plekke skoon te hou, veral deur riool en ander afval te verwyder.
sosio-ekonomiese Dit ontstaan as almal nie toegang tot opvoeding, gesondheidsorg (klinieke en hospitale) en behuising het nie.
statistieke Dit is ’n metode waarin syfers gebruik word om inligting weer te gee.
wanbalans Die toestand waarin daar nie ’n balans is tussen dinge of sake nie.
volhoubaar Waarmee ’n mens lank gaan volhou. 1

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Armoede en ongelykheid

Hierdie mense probeer om met een dollar per dag in Guatemala te oorleef! Dit gee ’n nuwe perspektief op armoede

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 23 Februarie 2022 | Bygewerk op 15 April 2024