Vinnige feite

  • Goud is die enigste metaal met ’n geel kleur.
  • Alle goud op aarde kom van meteoriete wat miljoene jare gelede met die aarde gebots het.
  • Die simbool vir goud, “Au”, kom van die ou Latynse naam vir goud, aurum. Dit beteken “oggendgloed”.
  • Ons naam vir die metaal kom van die Proto-Germaanse woord gulþ en Proto-Indo-Europese woord ghel, wat “geel” beteken.
  • Goud is nie reaktief nie, wat beteken dat dit nie deur lug, klammigheid of suur afgebreek word nie.
  • Goud is smaakloos, juis omdat dit nie reaktief is nie.
  • Goud is nie giftig nie, daarom kan dit in tandheelkunde en in kos gebruik word. 20
Foto: iStock

Het jy al opgelet dat die meeste getroude mense ’n ring of ringe aan hulle linkerhand se ringvinger dra? Die ringe is in die meeste gevalle van goud gemaak, en mense betaal nogal baie geld vir hierdie juweliersware, insluitende oorbelle, ringe, armbande en kettinkies.

Dit is dan ook een van die algemeenste gebruike van goud – die mooi kleur, die blink voorkoms en die werkbaarheid (die vermoë om aangepas te kan word – goud is baie rek- en smeebaar) van die metaal maak dit uiters geskik vir juweliersware. Daar is egter baie meer gebruike vir goud as net om mooi goedjies daarvan te maak.

Goud is ’n edelmetaal. Dit beteken dit is ’n metaal met meer waarde as ander metale omdat dit skaars is, dit in verskeie industriële prosesse aangewend word, en dit gebruik word as ’n belegging, aangesien die waarde daarvan vermeerder. 1 Dit is ook feitlik onvernietigbaar, dit kan nie roes nie, en dit kom in die natuur voor in ’n baie suiwer vorm, wat beteken mense kon dit baie eeue lank net so gebruik. 2

Goud speel ook ’n groot rol in ons land se geskiedenis en ekonomie omdat Suid-Afrika een van die wêreld se grootste goudprodusente is. 3

Wanneer en deur wie is dit ontdek?

Goud word al vir soveel eeue gebruik dat dit onmoontlik is om met sekerheid te sê watter mens die metaal vir die eerste keer raakgesien het of dit vir die eerste keer vir iets gebruik het. Daar word gereken dat goud al ongeveer 6 000 jaar gelede gebruik is om ornamente van te maak. Die bekendste voorbeeld is sekerlik die renosterbeeldjie van Mapungubwe. ’n Houtbeeldjie van ’n renoster is met bladgoud oorgetrek en dateer uit ongeveer 1250-1290. 4

Daar is wel bewyse dat goud reeds in die antieke tye in Klein-Asië bekend was. Die legende van koning Midas, wat vir sy gierigheid gestraf is deurdat alles waaraan hy geraak het in goud verander het, speel in Lydia af, die deel van die wêreld wat vandag Türkiye (voorheen Turkye) is. 5 Dit beteken die beskawing wat in daardie tyd in die gebied gewoon het, moes van goud en die waarde daarvan geweet het.

Die eerste volk wat goudmyne gehad het, was die Antieke Egiptenare. Hulle het reeds goud ontgin (uit die grond gehaal) meer as 2000 v.C., voordat hulle nog ’n skrifstelsel ontwikkel het. 6

Sedertdien het elke magtige leier en nasie op aarde goud besit of dit nagejaag. Die soeke na gebiede met groot goudneerslae was een van die groot redes vir die Europeërs se ontdekkingsreise. Dit was ook een van die primêre redes vir die kolonialisasie van hierdie gebiede deur Europese lande – kolonialiseerders soos Spanje, Frankryk, België en Brittanje sou dan die reg hê om goud in die kolonies te ontgin en die geld wat hulle daarvoor kry, in hulle eie lande te gebruik. 7

Elke keer as daar goud in ’n streek ontdek is, was daar ’n goudstormloop. Dit beteken groot getalle mense het holderstebolder na ’n plek gereis om daar goud te gaan soek. Baie van hierdie mense was nie delwers of mynwerkers nie, dit was gewone mense wat ’n geleentheid wou hê om ryk te word. Van die bekendste goudstormlope was: 8

  • Klondike, Kanada (1896-99)
  • Otago, Nieu-Seeland (1861-64)
  • Victoria, Australië (1851-69) en Westelike Australië (1885-93)
  • Minas Gerais, Brasilië (1690’s tot die laat 19de eeu)
  • Nome, Alaska (1899-1909)
  • Tierra del Fuego, Chile (1883-1906)
  • Siberië (1830’s en 1840’s).

Die grootste goudstormloop ooit was in Suid-Afrika. In 1884 is goud op ’n plaas in die Witwatersrand-gebied (in vandag se Gauteng) ontdek. Op daardie tydstip was die getal inwoners in die distrik 600, en hulle was boere wat plase daar gehad het. Vyf jaar later was daar meer as 100 000 inwoners en oor die 50 groot mynmaatskappye in dieselfde gebied. 9

Die ontdekking van enorme goudriwwe in die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR) was ook die rede vir die Anglo-Boereoorlog (1899-1904). Brittanje het toe reeds die Kaapkolonie en Natal gekolonialiseer, en die koloniale reus was nie van plan om hierdie nuwe rykdom reg langs sy ander twee kolonies deur sy vingers te laat glip nie. Ná die oorlog en die Vrede van Vereeniging was die voormalige ZAR met al sy goud ’n Britse kolonie. 10

Aansig van die Randse goudmyn.

Waar kom dit voor?

Goud word op elke kontinent in die wêreld ontgin, buiten Antarktika. 11 Die drie lande met die meeste onontginde goud is Australië, Rusland en Suid-Afrika. 12

Die lande in die wêreld wat jaarliks die meeste goud produseer, is China, Australië, Rusland en Kanada, in daardie volgorde. 13 Die lande in Afrika wat jaarliks die meeste goud produseer, is Ghana, Suid-Afrika, Soedan, Mali en Burkina Faso, in daardie volgorde. 3

Waarvoor word dit gebruik?

Goud word vir ’n hele paar goed gebruik:

Juweliersware

Omtrent die helfte van die goud wat jaarliks ontgin word, word vir juweliersware gebruik, en omtrent al die goud wat hersikleer (weer gebruik) word, word vir juweliersware gebruik. Dit beteken omtrent 78% van die goud wat jaarliks verwerk word, word in juweliersware aangewend. Selfs die 3300 jaar oue masker van die Egiptiese farao Toetankamen bestaan uit goud. 14

Die eenheid waarmee die suiwerheid van goud beskryf word, is karaat. Suiwer goud is 24 karaat (24K), maar suiwer goud is te sag om juweliersware van te maak – die stukke sal te maklik krap of buig. Daarom meng goudsmede (kunstenaars wat goud in juweliersware omskep) ander metale by die suiwer goud in om ’n allooi (metaalmengsel) te maak. Goue juweliersware word met ’n stempeltjie gemerk. As ’n mens op ’n stuk goue juweliersware sien dit is 12K, beteken dit die helfte van die metaal is goud (12/24). As jy sien die stuk is 18K, beteken dit driekwart van die metaal is goud (18/24). 15

Geld

Goud word al vir meer as 6 000 jaar as ruilmiddel in handelstransaksies gebruik. Dit is egter moeilik om klein stukkies goud se waarde korrek te bepaal, en dit is nóg moeiliker om vir goedkoop produkte met goud te betaal. Dink nou net hoe jy sou gesukkel het as jy vir ’n sjokolade by die snoepie met goud moes betaal! Hoeveel goud het jy nodig? Wat gebeur as jy te veel goud het en jy moet kleingeldgoud kry? Hoe weet die snoepietannie dis regte goud wat jy vir haar gee?

Muntstukke het ontstaan om dié probleem op te los. Die eerste munte is geslaan (vervaardig) in opdrag van koning Croesus van Lydia (ken jy die uitdrukking “So ryk soos Croesus”?). Munte word gestandaardiseer (elke munt voldoen aan presies dieselfde standaard en het presies dieselfde eienskappe), en dit beteken ’n handelaar weet hoeveel die goud werd is wat in só ’n munt is. Aanvanklik is goud en silwer vir munte gebruik, maar vandag gebruik ons ander metale en papiergeld as ons winkel toe gaan. 13

Suid-Afrika se bekendste goue munt is die Krugerrand. Hierdie munt bevat presies een ons trooisgewig goud, die eenheidsmaat waarmee goud vir juweliersware gemeet word. (Karaat dui aan hoe suiwer die goud is, trooisgewig dui aan hoe swaar die goud is.) As ’n belegger met ander woorde ’n Krugerrand koop, besit hy of sy presies een ons goud. 16

Goud as rugsteun vir geldeenhede

Dit is die regering van enige land se werk om die munte en papiernote vir daardie land se geld te maak. Vir baie lank was hierdie geld ’n voorstelling van die goud wat die regering besit het. As jy ’n papiernoot van R100 in jou hand gehou het, het dit beteken jy besit ’n deel van daardie goud ter waarde van R100. Ons noem hierdie stelsel die goudstandaard.

Regerings gebruik deesdae nie meer die goudstandaard nie, dit het te omslagtig (ingewikkeld) geword. Maar baie regerings en gewone mense wat hulle geld wil belê, koop goudstawe en hou dit iewers in ’n kluis. 13

Industriële gebruike

In hierdie veld word goud die meeste in elektronika gebruik. Elektroniese toestelle gebruik baie keer strome met lae spanning, wat baie maklik onderbreek kan word as daar korrosie (roes) by die kontakpunte voorkom. Omdat goud ’n baie doeltreffende geleier is, en dit nie roes nie, is komponente wat goud bevat, baie betroubaar. Die meeste selfone, rekenaars, GPS’e en sakrekenaars het baie klein hoeveelhede goud in. 13

Tandheelkunde

Daar is bewyse dat “tandartse” van 1 000 jaar gelede al goud gebruik het om hulle pasiënte se tande aan mekaar vas te bind of te stop. In die 1970’s het die hoë goudprys daartoe gelei dat ander stowwe vervaardig is, maar baie tandartse en pasiënte verkies goud in hulle krone, brûe en stopsels, omdat hulle glo dit is op die lang duur gesonder. 13

Mediese veld

Goud word in die mediese veld aangewend vir die behandeling van gewrigsrumatiek en sekere soorte kanker. Dit word ook in sekere instrumente gebruik omdat dit nie roes nie en dit ’n betroubare geleier is. Veral lewensondersteunende instrumente soos pasaangeërs (’n klein masjientjie wat ’n persoon se hartslag beheer) en stente (’n toestel wat are rek en oophou) bevat dikwels goud. 13

Ruimtevaart

Dit is baie duur om ruimtereise te onderneem, en dit is belangrik dat die toestelle wat ’n mens daarvoor gebruik, betroubaar is. Goud word in ruimtetuie se stroombane gebruik, juis omdat dit so ’n betroubare geleier is. Dit word ook in ’n dun lagie buite op die ruimtetuie gebruik om infrarooistraling te reflekteer en die temperatuur binne-in die ruimtetuig te stabiliseer. Sonder hierdie lagie goud sal die swart dele van die ruimtetuig te veel hitte absorbeer. 13

Toekennings en simbole

Omdat goud so waardevol is, word toekennings en koninklike en kerklike simbole dikwels daarvan gemaak. Die medaljes wat die wenners van Olimpiese items kry, is byvoorbeeld van goud gemaak. Die Oscar-beeldjies is van brons gemaak en met goud bedek. Die meeste krone en kroonjuwele van konings en koninginne is goud. Baie van die simbole wat ons in religieuse (godsdienstige) plekke soos kerke, tempels en moskees sien, is van goud gemaak. Die feit dat hierdie dinge alles van goud gemaak is, dui aan dat ons waarde heg aan die betekenis agter hierdie toekennings en simbole. 13

Glasmakery

In ouer soorte glas is goud as ’n pigment gebruik om ’n rooi kleur aan die glas te gee. In moderne tye word ’n dun lagie goud gebruik op glas wat hitte moet weerkaats, soos groot geboue waarvan die buitekant heeltemal glas is, asook ruimtevaarders se gesigskerms. 13

Bladgoud

Omdat goud smeebaar en rekbaar is, kan ’n mens ’n baie dun blaadjie daarvan maak en dié blaadjie dan op voorwerpe aanbring, sodat die voorwerp heeltemal met goud bedek is. ’n Mens sien hierdie soort bladgoud dikwels byvoorbeeld in die koepels van ou kerke of ander religieuse geboue, en op voorwerpe wat eintlik van iets anders gemaak is, maar moet lyk asof dit van goud is, soos die Britse koninklike koets. Sommige sjefs versier selfs van hulle disse met bladgoud. 13 Die minarette (torings van ’n moskee) van die wêreldbekende Sheikh Zayed Groot Moskee in Abu Dhabi is ook met bladgoud versier.

Basiese eienskappe van goud

Atoomgetal (getal protone in die kern): 79

Simbool op die periodieke tabel: Au

Relatiewe atoommassa (Ar): 196,96657

Fase van materie teen kamertemperatuur: Vaste stof

Kookpunt: 3 080 °C

Smeltpunt: 1 064 °C 2

’n Nota oor atoommassa

’n Massaspektrometer kan gebruik word om atoommassa akkuraat te bereken. Wetenskaplikes het ’n standaardmassa van 12 ame (atoommassa-eenheid) aan die koolstofatoom (koolstof-12) toegeken. Die massa van koolstof-12 is 1,99 x 10-26 kg, en ander atome se massa kan relatief tot hierdie atoommassakonstante bepaal word.

Vandag praat wetenskaplikes van die relatiewe atoommassa (Ar). Hierdie waarde het geen eenheid nie, want dit is slegs ’n syfer wat aandui hoeveel maal groter een atoom van die spesifieke element is as een twaalfde van die massa van ’n koolstof-12-atoom. 17

Bohr-model

Die Deense wetenskaplike Niels Bohr (1885-1962) het ’n atoommodel voorgestel. Hierdie model word soms die planetêre atoommodel genoem. 18 Die elektrone beweeg in hul spesifieke energievlakke al óm die kern. Deur die aantal energievlakke en elektrone te tel, kan die atoom maklik uitgeken word. 19

Die Deense wetenskaplike Niels Bohr.

’n Atoom is die kleinste deeltjie van ’n chemiese element wat selfstandig of in verbinding met ander atome kan bestaan. Atome bestaan weer uit kleiner deeltjies wat subatomiese deeltjies genoem word. Daar is drie soorte subatomiese deeltjies, naamlik elektrone, protone en neutrone. Die goudatoom het ’n atoomgetal van 79. Dit beteken dat die atoom 79 protone het. Atome het ’n neutrale lading, en daarom is daar ook 79 elektrone wat óm die kern beweeg. Dit het ook 118 neutrone wat saam met die protone in die kern voorkom. 16 Goud het 41 bekende isotope, waarvan een stabiel is en die res radioaktief.

Woordbank

allooi ’n Materiaal wat gemaak word deur ’n metaal met klein hoeveelhede van ander metale of niemetale te vermeng.
atome Die kleinste deeltjie van ’n chemiese element wat selfstandig of in verbinding met ander atome kan bestaan.
atoomgetal Die getal protone in die kern van die atoom.
atoommassa Word ook massagetal genoem. Dit is die totale aantal protone en neutrone in die kern van die atoom.
edelmetaal Metaal wat nie roes nie, veral goud/silwer. ’n Metaal met meer waarde as ander metale omdat dit skaars is, verskeie toepassings het en ’n belegging is.
elektrone Baie klein, negatief gelaaide deeltjies (partikels) wat in die energievlakke van ’n atoom rondbeweeg. Elektrone maak die vorming van chemiese verbindings moontlik. 14
element Dit is ’n stof wat saamgestel is uit atome wat dieselfde atoomgetal het.
goudneerslae Goudbron, bedding, goudaar; daar waar goud gevind word.
goudsmede Ambagsman wat goud tot voorwerpe verwerk.
goudstandaard Geldstelsel waarvolgens goud die enigste standaard vir waardebepaling uitmaak deurdat die nasionale geldeenheid ’n sekere gewig aan goud voorstel en banknote vrylik ingewissel kan word vir goue standaardmunt, en die in- en uitvoer van goud ook vrylik kan geskied.
goudstormloop Mense wat holderstebolder na ’n plek reis om goud te soek.
isotope Enigeen van twee of meer vorme van ’n element wat dieselfde atoomgetal (protone) en eenderse chemiese eienskappe het, maar waarvan die atoommassa en radioaktiewe gedrag verskil. Die aantal protone en elektrone is dus dieselfde, maar die aantal neutrone verskil.
korrosie Verwering deur roes/water/wind/gas of ander stowwe.
munte is geslaan Munte vervaardig.
neutrone Neutrale deeltjies (partikels) wat geen elektriese lading het nie en saam met protone in die kern van die atoom voorkom. ’n Neutron en proton het dieselfde gewig. 14
ontgin Delf, myn.
pasaangeërs Masjientjie wat ’n persoon se hartslag beheer.
periodieke tabel Dit is die tabel van die elemente, gerangskik volgens toenemende atoomgetal, sodat elemente met soortgelyke eienskappe in dieselfde vertikale kolom voorkom.
protone Positief gelaaide deeltjies (partikels) wat in die kern van ’n atoom voorkom en die elektrone in posisie hou. Atome het ewe veel protone as elektrone en het dus ’n neutrale lading. 14
gestandaardiseer Iets met ’n bepaalde standaard laat ooreenstem, veral om eenvormigheid, gehalte en reëlmatigheid te verseker.
stente Toestel wat are rek en oop hou.
verbinding  Dit is die samevoeging van ongelyksoortige atome tot molekules.
werkbaarheid Die vermoë om aangepas te word.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die geskiedenis en gebruike van goud

Hoe goud op aarde beland het en dit deesdae vervaardig word

Hoe word goud ontgin en verwerk?

Foto: iStockFoto: Stefan Heunis Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 Februarie 2024 | Bygewerk op 28 Februarie 2024