Vinnige feite

  • Die meeste inwoners van Noordwes is Tswanas.
  • Mafikeng is op dieselfde plek gebou waar ʼn Tswanastad, Mahikeng, honderde jare gelede was. Elke Tswanastam het ʼn sekere dier as kenteken. Die kenteken van die koninklike Bafokengstam is die krokodil – hulle glo dat hulle net so sterk en vinnig soos die krokodil is. Ander stamme se diertekens is byvoorbeeld ʼn vis, koedoe of aap.
  • Sol Plaatje was ʼn beroemde Suid-Afrikaner wat nege tale kon praat en ʼn belangrike boek oor ons land geskryf het. Hy het ook Shakespeare-dramas in Tswana vertaal en ʼn organisasie gestig wat later die ANC sou word. Plaatje het in Mafikeng gebly.
  • Potchefstroom is die oudste dorp in Noordwes en is op die oewer van die Mooirivier. Daar is baie nasionale monumente waarna ʼn mens kan gaan kyk, soos die Ou Kruithuis, die Ou Polisiestasie en die Krugeropstal.
  • Die wêreld se grootste platinummyne is in Noordwes; daarom word dit die platinumprovinsie genoem. Platinum het ʼn silwerwit kleur en verkleur of roes nie. Dit word in medisyne, rekenaars en ruimtetuie gebruik.
  • Die Magaliesberg, Hartbeespoortdam en Pilanesberg Nasionale Park gee stadsjapies ʼn plekkie om rus en vrede oor naweke te kry. Die Pilanesberg Nasionale Park is geleë in ʼn gebied wat miljoene jare gelede gevorm is toe ʼn vulkaan daar uitgebars het. Dis een van die grootste wildtuine in die land.
  • Die Anglo-Boereoorlog tussen die Boere en die Britte het in Noordwes begin en is ook daar beëindig. Die oorlog, wat deur Brittanje gewen is, het groot lyding onder mens en dier veroorsaak.
  • By Taung is mensagtige beendere gevind wat oor miljoene jare in rots verander het. Dit word “fossiele” genoem. Dit bewys dat die mens se voorvaders heel moontlik in Afrika gebly het. Daarom word Taung en ander plekke in ons land waar fossiele gekry is die Wieg van die Mensdom genoem.
  • Mense vanoor die hele wêreld kom hou by Sun City en Lost City vakansie. Daar is selfs ʼn nagemaakte strand en ʼn swembad met ʼn masjien wat reusebranders maak.
  • Baie Noordwesters boer met sonneblomme, mielies, sitrusvrugte, katoen en beeste. Van die boere naby Vryburg het van die grootste beestroppe ter wêreld.
  • Groot-Marico is ʼn dorpie naby die Botswanagrens. Die plek is bekend vir die boere se vriendelikheid, ʼn sterk drankie wat mampoer genoem word, en een van die land se beste storievertellers, Herman Charles Bosman, wat hier gebly het. Sy stories het dié klein dorpie wêreldberoemd gemaak.
  • Die waterlikkewaan is die grootste akkedis in Afrika en woon naby riviere in Noordwes. Hulle kan tot 2 meter lank word en vreet vis, krappe en eiers.
Foto: iStock

Hoofstad: Mafikeng 1

Bevolking: 4 122 854 2

Algemene huistaal: Tswana

Dorpe in dié provinsie: Delareyville, Geysdorp, Sannieshof, Lichtenburg, Coligny, Ventersdorp, Christiana, Bloemhof, Wolmaranstad, Makwassie, Ottosdal, Klerksdorp, Orkney, Hartbeesfontein, Stilfontein, Potchefstroom, Fochville, Amalia, Schweizer-Reneke, Leeudoringstad, Slurry, Ottoshoop, Zeerust, Groot-Marico, Swartruggens, Koster, Derby, Brits, Mogwase, Mmabatho, Rustenburg, Mooinooi, Marikana, Broederstroom, Stella.

Staproete naby die Vredefort Koepel

Die Westelike Mielielande

Noordwes is ʼn streek met mielielande wat in goeie somers van horison tot horison strek. Die streek is ook bekend vir donker stofstorms wat deur westelike stormwinde gebring word. Die reënval styg van die weste na die ooste en die gras groei hoër en groener soos ’n mens van Schweizer-Reneke en Zeerust na Potchefstroom beweeg.

In die meeste dorpe word die geboue, selfs die hoë torings van die NG kerke, deur graansilo’s verdwerg. 3

In die ou Wes-Transvaal het een van die bloedigste veldslae van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) afgespeel. Die leier van die plaaslike kommando’s, generaal Koos de la Rey, was een van die laaste Boeregeneraals wat ingestem het om vir vrede te onderhandel. Die gebied was ook die toneel van verskeie “diamantstormlope”, veral by Lichtenburg en Koster. Diamante is deesdae nie meer van ekonomiese belang nie, maar goud is wel. Verskeie van die land se grootste goud- en uraanmyne lê in die omgewing van Klerksdorp, Stilfontein en Orkney.

Belangrike geskiedkundige figure

Die Leeu van die Wes-Transvaal

Die briljante beoefenaar van guerrilla-oorlogvoering in die Anglo-Boereoorlog, generaal J.H. (Koos) de la Rey, het in die laaste deel van die oorlog die bynaam “Leeu van die Wes-Transvaal” gekry omdat hy herhaaldelik sterker Britse magte uitoorlê het. Hy het ook ʼn aandeel gehad in baie van die Boere se vroeë suksesse, waaronder die Slag van Magersfontein (11 Desember 1899), Donkerhoek (11 Junie 1900) en Silkaatsnek (11 Julie 1900).

In 1900 en 1901 het hy die Britte uit die Wes-Transvaal verdryf sodat die Boere in vrede kon saai en oes. Hoewel hy teen die oorlog gekant was toe dit begin het, het De la Rey ʼn bittereinder geword en saam met generaal Christiaan de Wet die vredesinisiatief in Junie 1901 verwerp, toe die meeste van die Boere wat elders geveg het heeltemal moedeloos was. Daarna het die Britte al hulle pogings op De la Rey toegespits en hulle strategie van “verskroeide aarde” toegepas om sy ondersteuningsbasis en voorraadbronne in die Wes-Transvaal af te sny. Hierdie strategie het beteken dat plase afgebrand is en veetroppe vernietig is sodat daar nie kos vir die boeresoldate beskikbaar was nie.

Generaal Koos de la Rey

Hierdie strategie was so doeltreffend dat die meeste van die Wes-Transvalers teen vroeg 1902 wou oorgee. De la Rey is egter nie afgeskrik nie en hy het sy mense opgeroep vir twee laaste aanvalle op die vyand, wat die oorblyfsels van sy kommando’s wou omsingel. Op 24 Februarie 1902 het die Boere die Britte by Ysterspruit verslaan en groot hoeveelhede voorraad buitgemaak.

Op 7 Maart 1902 het ongeveer 700 burgers lord Methuen se 1 400 soldate by Tweebosch aangeval en hulle swaar verliese toegedien. Lord Methuen is ernstig gewond en gevang. Omdat die Boere nie meer die mediese voorraad gehad het om Methuen se wonde te versorg nie, het De la Rey gereël dat hy na sy eie linies teruggeneem word.

Ná die oorlog was De la Rey aktief in die plaaslike en nasionale politiek. Toe die regering van generaal Louis Botha in 1914, gedurende die Eerste Wêreldoorlog, besluit het om Suidwes-Afrika (die huidige Namibië) namens die Geallieerdes in te val, het De la Rey beswaar gemaak. Generaal C.F. Beyers, sy ou krygsmaat in die Anglo-Boereoorlog, het in protes teen die regering se optrede as hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag bedank. Op 15 September 1914 het die twee manne per motor van Johannesburg vertrek om by Potchefstroom met ou kamerade te beraadslaag oor wat hulle in die krisis te doen staan.

Hulle roete was deur Langlaagte naby Johannesburg waar die polisie ʼn padblokkade opgestel gehad het om die berugte Foster-roofbende te probeer vang. De la Rey het sy bestuurder opdrag gegee om die padblokkade te ignoreer. ʼn Opslagkoeël van die polisie het hom in die hart getref en hy is kort daarna dood.

Die kabelkarretjie naby Hartbeespoortdam

Oom Schalk van die Marico / Herman Charles Bosman

Herman Charles Bosman, die eerste ernstige humoris in die Suid-Afrikaanse Engelse letterkunde, het in 1925  ʼn driejaar-onderwysdiploma in Johannesburg behaal. Die volgende jaar het hy by ʼn plaasskooltjie op Zwingli, sowat 50 km noord van Zeerust en naby die Botswana-grens, begin skoolhou. Bosman se kommentaar: “Ek is bly ek het nie die vierjaarkursus gevolg nie, hulle kon my dalk heeltemal oor die grens gegooi het, dalk in Mosambiek of selfs die Nubiese woestyn.”

Hy het slegs ses maande op Zwingli skoolgehou. Dit was egter lank genoeg om die materiaal vir sy beroemde Oom Schalk Lourens-stories te versamel waarin hy die Bosveld van Groot-Marico en sy onvergeetlike karakters verewig het.

Tydens sy eerste vakansie tuis, op 17 Julie 1926, het hy in ʼn woordewisseling met sy stiefbroer David Russell betrokke geraak. ʼn Skoot het geklap en David het dood bly lê. Bosman is aan moord skuldig bevind en op die ouderdom van 21 jaar ter dood veroordeel. Hy is ná ’n bietjie meer as vier jaar begenadig en het daarna ʼn loopbaan in die joernalistiek gevolg.

Waarskynlik die bekendste onder die boeke wat hy self uitgegee het, is Mafeking Road, ʼn bundel kortverhale; en Cold Stone Jug, ʼn relaas van sy verblyf in die tronk.

Diamantkoors slaan weer toe

Die grootste diamantstormloop in Suid-Afrika – by Lichtenburg in 1926 – het by Jacobus Voorendijk begin. Hy was die seun van die posmeester wat Sannieshof na sy vrou vernoem het.

Op 13 Maart het hy heiningpale op sy plaas Elandsputte naby die huidige Bakerville geplant toe ʼn arbeider vir hom ʼn klippie bring wat hy gedink het ʼn diamant is. Nie Jacobus of sy pa het iets van diamante geweet nie. Saam het hulle die klip na die plaaslike wetenskaponderwyser geneem, wat dit die hele naweek in ʼn houer vol suur laat lê het. Maandagoggend het almal geweet – die onbeskadigde klip in die suur was beslis ʼn diamant!

Fortuinsoekers het in hulle duisende op Elandsputte toegesak. Binne een jaar was meer as 300 000 mense aan die werskaf in die area wat tot openbare delwery verklaar is. Die hoofkwartier was ʼn  nuwe myndorpie met die naam Bakerville. By een geleentheid, wat in Maart 1927 deur die polisie georganiseer is, het meer as 30 000 mense oor die veld gehardloop in een enkele “stormloop” om kleims af te steek.

In die eerste drie jaar was daar byna elke dag ongeveer 150 000 mense wat op hulle kleims van 14 meter by 14 meter gegrawe, gewas en gepan het. Dit het so ʼn digte stofwolk veroorsaak dat motoriste helder oordag hulle hoofligte moes aanskakel. Verskeie stene van baie goeie gehalte is gevind. Teen die tyd toe die groot stormloop ná ongeveer tien jaar doodgeloop het, is ongeveer 7 miljoen karaat diamante uitgehaal.

Min delwers was egter gelukkig. Die meeste het in haglike omstandighede geleef, en die delwerye verlaat met hulle drome aan skerwe. Onder dié wat wel ʼn fortuin gemaak het, was die Voorendijks – hulle het 15% van die waarde van alle vondste gekry, asook 50% van alle kleimgelde, en hulle het water teen 6 pennies per vat van 50 liter aan die delwers verkoop. Daar word gesê dat hulle binne drie maande 45 000 pond gemaak het. 4

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 Februarie 2022 | Bygewerk op 6 Maart 2024