Vinnige feite

  • Verbruikersgoedere: Dit is goedere wat bestem is vir direkte verbruik deur huishoudings of uiteindelike verbruikers.
  • Kapitaalgoedere:  Dit is die duursame produksiemiddele van die onderneming. Dit is goedere wat nie onmiddellik in die produksieproses opgebruik word nie. Dit word oor meer periodes gebruik om ander goedere en dienste voort te bring.
  • Semifinale goedere: Byvoorbeeld meel waarvan brood gemaak word.
Foto: iStock

Goedere is materiële dinge wat ’n mens kan sien, aanraak en koop. Dit is dinge wat mense benodig om aan hul behoeftes en begeertes te voldoen.

Byvoorbeeld, die klere wat jy aanhet en die kos wat jy vir middagete eet. 1

Goedere kan in drie kategorieë opgedeel word: 2

  • Verbruikersgoedere: Dit is goedere wat bestem is vir direkte verbruik deur huishoudings of uiteindelike verbruikers. 3

  • Kapitaalgoedere:  Dit is die duursame produksiemiddele van die onderneming. Dit is goedere wat nie onmiddellik in die produksieproses opgebruik word nie. Dit word oor meer periodes gebruik om ander goedere en dienste voort te bring. 3

  • Semifinale goedere: Byvoorbeeld meel waarvan brood gemaak word. 2

Dienste is dinge wat gedoen word om iemand te help en nie tasbaar is nie. 2 Dit is afsonderlike identifiseerbare, ontasbare en behoeftebevredigende aktiwiteite. 3

Voorbeelde hiervan is die munisipaliteit wat ’n diens lewer deurdat daar lopende water by die kraan uitkom as jy dit oopdraai of ’n mediese diens wat deur ’n dokter gelewer word as hy jou ondersoek, ’n  diagnose maak of opereer.

Dienste word opgedeel in persoonlike dienste byvoorbeeld dokters, prokureurs en droogskoonmakers en kommersiële dienste byvoorbeeld banke, die poskantoor, en taxi- bus-, of treinvervoer. 2

Voorbeeld van kommersiële dienste

Besigheidsektore

’n Sektor is ’n afdeling of gebied van iets of die manier waarop besigheidsaktiwiteite gegroepeer kan word. 1

In die ekonomie is daar drie hoofsektore:

Primêre sektor

Die primêre sektor word gesien as die eerste laag van die ekonomie. Natuurlike hulpbronne word direk in hierdie sektor gebruik. Dit is hoofsaaklik die ontginning van grondstowwe en vind meestal in landelike gebiede plaas. Grondstowwe word geproduseer wat net so gebruik word of wat na die sekondêre sektor gestuur word om goedere te produseer. 2

Voorbeelde hiervan is boerdery, visserye, bosbou, mynbou en jag.

Sekondêre sektor

Die sekondêre sektor is die tweede laag van die ekonomie. Dit is hoofsaaklik die vervaardigingsproses wat meestal in die industriële areas voorkom, en as nywerhede bekendstaan. In hierdie sektor word die grondstowwe uit die primêre sektor gebruik om produkte vir menslike gebruik te verwerk of te vervaardig. 4

Voorbeelde hiervan is skole vir opvoedkundige dienste, hospitale vir gesondheidsorg, banke en geldbestuursdienste, regsfirmas, restaurante, die toerismebedryf en vermaak. 4

Tersiêre sektor

Die tersiêre sektor is die derde vlak van die ekonomie. In hierdie ekonomiese sektor word die voltooide produk of diens aan die publiek verkoop of aangebied. Die tersiêre sektor het produkte van die primêre en sekondêre sektor nodig.

Voorbeeld hiervan is skole vir opvoedkundige dienste, hospitale vir gesondheidsorg, banke en geldbestuursdienste, regsfirmas, restaurante, die toerismebedryf en vermaak.

Nog voorbeelde:

Primêre sektor Sekondêre sektor Tersiêre sektor
Mielieboerdery Fabriek waarin mielieprodukte vervaardig word. Handelaars soos kruidenierswinkels wat mieliemeel verkoop.
Myne Staalwerke, platinumvervaardigers, diamantsnyers. Juwelierswinkels; staal wat na konstruksiemaatskappye gaan vir bouwerk.
Houtkappers Saagmeule, meubelfabrieke. Handelaars soos meubelwinkels. Meubels word aangewend in huise, skole en besighede. Skole wat opvoedkundige diens verskaf, wend skoolbanke en stoele aan wat verkry is vanaf meubelfabrieke.
Skaapboerdery Slaghuise en wolfabrieke Handelaars soos kruidenierswinkels en klere- winkels asook restaurante wat ’n diens aan die publiek lewer. 5
Katoenboerdery, beesboerdery, hoederboerdery, gewasseboerdery. Linnevervaardigers, matrasfabrieke, meubelvervaardigers, verskaffers van voedsel in grootmaat. Hotelle en gastehuise waar gaste oorbly tydens vakansies of reise. 5

Produsente en verbruikers

Produsente is mense wat hulpbronne gebruik om goedere te maak of dienste te lewer. 2 Die produsent lewer dus die produkte. Byvoorbeeld, ’n boer is ’n produsent. Na gelang van waaruit die boerdery bestaan, verwys ons na die boer as ’n vleisprodusent, eierprodusent, mielieprodusent, ensovoorts. 1

Verbruikers is mense wat goedere en dienste koop of gebruik. 2

Byvoorbeeld, die meeste mense wat in huise woon en daagliks vervoer moet gebruik tot by die werk, skool of winkel, is verbruikers van kruideniersware, elektrisiteit en brandstof. 1

Huishoudings in die ekonomie

Huishoudings speel ’n baie belangrike rol in die ekonomie, deurdat ’n huishouding as die besluitnemer gesien word van die ekonomie. ’n Huishouding kan bestaan uit ’n individu, ’n gesin of familie wat gesamentlike inkomste verdien en besluite daarvolgens neem. Elke persoon wat deel vorm van die ekonomie, behoort tot ’n huishouding.

Lede van ’n huishouding verbruik goedere en dienste volgens hul behoeftes. Daarom word hulle verbruikers genoem. Die besteding aan goedere en dienste word verbruiksbesteding genoem. In die goederemark is dit hoofsaaklik huishoudings of verbruikers wat bepaal wat geproduseer moet word.

Huishoudings is wel ook produsente omdat hulle goedere produseer of dienste bied waarvoor hulle weer ’n inkomste ontvang. Met die inkomste in die vorm van salarisse of lone, word die produsente dan weer verbruikers wat goedere of dienste aankoop om aan hul eie behoefte en begeertes te voldoen.

Huishoudings word daarom die basiese eenheid van ekonomiese produksie en verbruik genoem. 6

Verantwoordelike verbruik van goedere en dienste

Dit is belangrik dat verbruikers goedere en dienste met verantwoordelikheid moet verbruik, sonder om skade aan ander mense of die omgewing aan te rig. Deurdat die ontginning van natuurlike hulpbronne deel vorm van die produksieproses, is dit belangrik om in ag te neem dat baie van hierdie hulpbronne niehernubaar is nie. Rots, minerale, metale, uraan en fossielbrandstowwe soos ruolie, steenkool en natuurlike gas is voorbeelde van niehernubare hulpbronne. Fossielbrandstowwe 7

Voorbeelde van verantwoordelike verbruiking:

  • Waterbesparing – deur ’n kraan nie onnodig lank te laat loop nie.
  • Energiebesparing – deur energiebesparende gloeilampe te gebruik in plaas van gewone gloeilampe.
  • Elektrisiteit – deur ’n lig af te sit as jy nie in daardie vertrek is nie.
  • Herwinningmateriale soos papier, plastiek, blik en glas kan weer herwin word.

Woordbank

ekonomie Die stelsel waarvolgens ‘n land se goedere vervaardig en geld gebruik word. 8
huishoudings huisgesin; familie 1
hulpbron Enigiets wat tot nut van die mens is, veral met betrekking tot bestaansmiddele. 1
lone Die betaling wat jy kry vir werk wat jy gedoen het. 8
produseer Maak; vervaardig. 1
produsente Iemand wat produkte vervaardig of lewer. 1
salarisse Die betaling wat ‘n werknemer gereeld, elke week of maand, ontvang. 8
sektor ’n Afdeling of gebied van iets of die manier waarop besigheidsaktiwiteite gegroepeer kan word. 1
verbruikers Iemand wat iets gebruik en vir ’n produk of diens betaal. 8

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 Februarie 2022 | Bygewerk op 15 Maart 2024