Vinnige feite

  • Jou ouers, organisasies, ondernemings en regerings het almal ’n begroting nodig. Dis gewoonlik ’n dokument wat ’n mens optrek waarin jy al jou inkomste en uitgawes noem sodat jy seker kan maak dat jy genoeg geld het om alles te betaal.
  • Die woord begroting (in Engels budget) kom van die Franse woord bougette wat klein, leersakkie beteken. Mense het al hul geld in hierdie sakkies gehou. 10
  • Die woord besigheid kom weer van die woord bisignisse wat in ou Engels angstigheid beteken. Besighede kan eienaars soms nogal angstig maak!
  • Amerika is op die oomblik die rykste land in die wêreld met die hoogste inkomste, maar na verwagting sal China teen 2030 die rykste land wees.
  • In Desember 2023, was Tesla se Elon Musk (wat in Suid-Afrika gebore is!) die man met die meeste inkomste. Bernard Arnault, die eienaar van LVMH (wat onder meer Louis Vuitton en Christian Dior insluit) is in die tweede plek. Hy was die rykste man vir vyf maande in 2023 totdat Musk hom weer verbygevat het. Die syfers verander konstant soos hul ondernemings se aandeelpryse wissel. 11
  • Regerings het baie geld nodig om ’n land en sy mense in stand te hou. Kan jy glo dat die Suid-Afrikaanse regering R1,73 triljoen in die 2019/2020-finansiële jaar spandeer het? Dit was selfs nog meer in die 2021/2022-finansiële jaar. Die regering het toe R2,19 triljoen spandeer. 12
  • Leerwenk: Soms word ’n mens lekker deurmekaar as jy oor netto en bruto inkomste leer. As jy dink aan netto, sê vir jouself net soveel bly oor nadat alles afgetrek is. Só gaan jy dalk makliker onthou dat bruto die een voor aftrekkings is.
Foto: iStock

Jy kry gewoonlik so R300 per maand sakgeld (wat dalk volgens jou hopeloos te min is) en dan kry jy nou en dan ietsie ekstra, soos wanneer jou ouma dalk ‘n R200-noot in ’n koevertjie vir jou gee. Dit is jou inkomste per maand. ’n Inkomste is dus die geld wat jy inkry en in grootmense se geval, is dit gewoonlik ’n salaris.

Uitgawes is weer die geld wat jy uitgee. Wat koop jy met jou sakgeld? Die lekker sjokolade by die skool se snoepie is ’n uitgawe.

Die definisie van inkomste is dus geld wat ’n mens verdien of ontvang, veral vir jou werk. ’n Uitgawe is geld wat ’n mens vir iets betaal, soos vir kos, klere en verblyf. 1

As ’n mens van inkomste en uitgawes praat, kan jy tussen verskillende tipes onderskei. Daar is persoonlike inkomste en uitgawes, ondernemings se inkomste en uitgawes en natuurlik regerings se inkomste en uitgawes.

Persoonlike inkomste

Dit is die geld wat iemand in ’n jaar verdien. As ons van verdienste praat, beteken dit basies ook inkomste. ’n Mens se totale jaarlikse verdienste is ál die geld wat jy vir die hele jaar gekry het. Dit kan jou ouers se salarisse by die werk wees of die geld wat hulle uit beleggings maak.

Beleggings is die geld wat mense gebruik om meer geld mee te maak. As ’n mens geld belê, probeer jy daardeur rente verdien. Rente is die geld wat jy kry vir die geld wat jy ingesit het. As ’n mens ’n aandeelhouer by ’n groot maatskappy is, kan jy ook dividende verdien. Aandeelhouers is mense wat aandele besit terwyl aandele dele is waarin die waarde van ’n plek verdeel is.

Jy kan dus aandele koop as jy ’n deel van ’n maatskappy wil besit. Dividende is die geld wat jy maak as jy in die wins van ’n maatskappy deel. Kan jy nog onthou wat wins beteken? Wins is die geld wat gemaak word as goed verkoop word en die koopprys word daarvan afgetrek. Dalk het jy al ’n entrepreneursdag by die skool gehad en produkte soos oliebolle verkoop. Die oliebolle het R10 vir een gekos en julle het uitgewerk dat dit julle R6 gekos het om een te maak. Om die wins dus uit te werk, is die som: R10 – R6 = R4. Julle het ’n wins van R4 per oliebol gemaak. 2

Persoonlike uitgawes

Dit is al die dinge waarop jy geld spandeer. ’n Mens het kos nodig om te leef, klere om aan te trek en ‘n huis of woonstel om in te bly. Dit kos geld om die krag en water te betaal, om brandstof in jul voertuig te gooi en natuurlik ook om daardie voertuig elke maand te betaal. Dit is alles uitgawes.

Nadat jou ouers jul basiese uitgawes (soos kos, klere, verblyf, skole) betaal het, is daar uitgawes vir dinge wat lekker is om te gebruik, maar nie noodwendig nodig is nie. Jy kan dalk voel dis ’n moet om Netflix te hê, maar dit is eintlik ’n luuksheid.

As jy Ekonomiese Bestuurswetenskappe (EBW) as vak het, het jy dalk al van bates en laste gehoor. ’n Bate is iets wat nuttig en voordelig is en ’n las is skuld. Dit is byvoorbeeld goed om ’n huis te besit en daarom noem ons dit ’n bate, maar as iemand byvoorbeeld baie geld op ’n kredietkaart skuld, is dit ’n las. 3

Daar is twee tipes uitgawes: veranderlike en vaste uitgawes. Vaste uitgawes is die uitgawes wat elke maand betaal moet word soos ’n huis se verbandpaaiement en die versekering, terwyl veranderlike uitgawes van maand tot maand kan verander. ’n Voorbeeld van so ’n uitgawe is as julle gaan fliek of uiteet. 4

Netto vs. bruto

Met inkomstes en uitgawes, word die woorde bruto en netto gereeld gebruik. Sê nou maar jou sakgeld is R300 per maand, is R300 die bruto bedrag, want daar is nog niks daarvan afgetrek nie. As jou ma egter besluit sy gaan geld aftrek, want sy moes al weer vir jou nuwe skoolskoene gekoop het en sy trek R100 daarvan af, is die R200 wat oorbly, die netto bedrag. Netto beteken dus dit wat ná aftrekkings oorbly.

In EBW gaan jy bes moontlik iemand of ’n onderneming se netto waarde moet bereken. Kom ons maak ’n som om te kyk hoe dit werk: Hannes het ’n paar bates en alles saam is ongeveer R1 400 000 werd. Hy skuld egter geld op ’n paar dinge en dié bedrag is R300 000.

As ons sy netto waarde wil uitwerk, moet ons die volgende som doen:
Totale bates – totale laste = R1 400 000 – R300 000 = R1 100 000.

Ons kan nou nog ’n stappie verder gaan om vir Hannes te help. Toon sy netto waarde ’n surplus of tekort? ’n Surplus is die oorskot of dit wat te veel is en ’n tekort is iets waarvan daar nie genoeg is nie. Met geldsake, soek ons beslis ’n surplus en nie ’n tekort nie.

Hannes is gelukkig, want sy netto waarde toon ’n surplus. Dit is ’n positiewe syfer. Daar bly dus nog genoeg geld oor. As Hannes se netto waarde -R1 100 000 was, moes hy ernstig plan gemaak het om sy laste (skuld) te verminder. 5

Ondernemings se inkomste

Ondernemings maak geld deur produkte of dienste te verkoop. Die inkomste wat hulle verdien, word hul omset genoem. ’n Omset is dus die geld wat die onderneming in ’n spesifieke tyd maak. Dis baie belangrik vir ondernemings om tred van hul inkomste te hou, want hulle moet eerstens weet of hulle winsgewend is en dan moet hulle natuurlik weet hoeveel belasting om aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) te betaal. Ondernemings moet aan die regering belasting betaal, want die regering gebruik dit om vir openbare dienste te betaal. 6

Ondernemings moet verder ook rekordhou van inkomste en uitgawes sodat hulle seker maak dat bedrog nie gepleeg word nie. Bedrog vind plaas as mense geld steel.

Ondernemings se uitgawes

Elke onderneming het ander uitgawes. ’n Haarsalon sal byvoorbeeld baie ander uitgawes as ’n skryfbehoeftewinkel hê. Daar is wel sekere uitgawes wat kan ooreenstem, soos dat ondernemings lone en salarisse moet betaal. Belasting is ’n uitgawe en natuurlik moet hulle betaal vir die produkte of materiale wat hulle nodig het. Ondernemings moet ook betaal vir die perseel waar hul kantore of fabrieke is en die krag en water wat hulle gebruik. Dan is daar nog toerusting soos rekenaars, meubels en skryfbehoeftes.

’n Bakkery sal weer toerusting soos oonde en die onderhoud daarvan hê om te betaal terwyl ’n klere-onderneming materiaal moet koop. Dan is daar ook nog uitgawes soos versekering, paaiemente op lenings, internetverbindings en telefoonlyne. Ondernemings moet ook dikwels betaal vir die opleiding van hul personeel en hulle moet geld vir bemarking betaal. Advertensies is ’n voorbeeld van bemarking en dis belangrik, want jy wil hê mense moet van jou onderneming weet en dalk wil jy ook spesifieke produkte bemark. 7

Regerings se inkomste en uitgawes

’n Regering kry eerstens sy inkomste uit die belasting wat die burgers van die land betaal. Verder kry hulle ook belasting van die produkte waarmee handel gedryf word en daar is selfs belasting op petrol en diesel. Daar is allerhande tipe belastings soos die belasting wat ondernemings moet betaal, en dan is daar kapitaalwinsbelasting (wins van die verkoop van bates), en belasting wat op invoere betaal word. 8

Die regering het ’n swetterjoel uitgawes wat hulle moet betaal. Hulle moet geld gee vir skole, die polisie, die weermag, tronke, howe, hospitale, behuising, energie (soos vir Eskom), vir paaie en spoorweë. Hulle moet ook geld hê vir die beskerming van die omgewing en dan moet hulle geld gee vir die mense wat nie vir hulself kan sorg nie. Daar is uitgawes vir kinderhuise, ouetehuise, en die mense wat nie werk het nie, moet ook ’n toelaag kry. 9

Die president van Suid-Afrika lewer elke jaar in Februarie ’n staatsrede. Dit is ’n toespraak waarin hy gesels oor hoe dit met die land gaan en watter planne die regering vir die land het. So twee weke ná sy toespraak, is dit weer die minister van finansies se beurt om te gesels. Hy deel dan die regering se begroting met die land. ’n Begroting is ’n skatting van uitgawes en inkomste. Die minister sê hoeveel geld hulle verwag om in te kry en hoeveel geld hulle verwag om uit te gee.

Woordbank

aandele Een van die gelyke dele waarin die waarde van ’n maatskappy verdeel is.
aandeelhouers Iemand wat aandele in ’n maatskappy besit.
begroting ’n Skatting van uitgawes wat aangegaan moet word.
belasting ’n Gedeelte van jou maandelikse salaris wat aan die staat betaal word vir openbare dienste.
belegging Enige manier waarop geld gebruik word om rente daarop te verdien of ’n wins te maak.
bronne Daar waar jy iets vandaan kry.
bruto Sonder dat uitgawes en belasting afgetrek word.
dividende ’n Gedeelte van die wins wat aan aandeelhouers van ’n maatskappy betaal word.
luuksheid Verbruikersgoedere wat weelderig en duur is.
omset Dit is ’n besigheid se inkomste.
netto Wat oorbly nadat alle ander bedrae of kostes afgetrek is.
rente Bedrag geld wat jy ekstra moet betaal vir geld wat jy vooruit geleen het of die geld wat jy verdien vir geld wat jy belê het.
surplus Iets waarvan daar ’n oorskot is (te veel is).
tekort Iets waaraan daar te min is.
verdienste Inkomste, veral ’n salaris of loon, wat deur ’n individu verdien word.
wins Geld wat jy maak in besigheid deur byvoorbeeld iets te verkoop en dan die koste (geld wat jy daarvoor betaal het) daarvan af te trek. 

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk na die volgende video’s om nog meer te leer

Wat is inkomste en uitgawes?

Wat is ’n begroting?

Die verskil tussen netto en bruto inkomste

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 24 Februarie 2022 | Bygewerk op 18 Maart 2024