Vinnige feite

  • Die Oos-Kaap is ewe beroemd vir strande om in die somer op te baljaar as vir bergpieke waarop ski-kampioenskappe gehou word.
  • Lank gelede het daar ʼn klomp verskillende stamme in die Oos-Kaap gebly. Hulle het aanvanklik gereeld oorlog gemaak, maar mettertyd een groot groep, die Xhosas, geword.
  • Die Xhosa-taal het baie klik-klanke. Miriam Makeba se beroemde Click Song het die Xhosa-taal aan die wêreld bekend gestel.
  • Deur die eeue het Afrikaanse trekboere, die Engelse setlaars, die Xhosas en die Khoi-Khoi ná baie oorloë geleer om vreedsaam hier saam te leef.
  • Baie van die motors wat in Suid-Afrika gemaak word, kom uit fabrieke in Gqeberha en Oos-Londen.
  • Gqeberha is die grootste stad in die Oos-Kaap en word die Vriendelike Stad genoem. Party mense spot en sê die wind waai so baie daar dat dit ook die Winderige Stad genoem kan word.
  • Oos-Londen se hawe is groot en bedrywig en het sewe verskillende terminale. Daar is byvoorbeeld een vir vraghouers wat op skepe en vragmotors gelaai word en een vir motors wat na ander lande verskeep word. Die grootste graansilo in Suid-Afrika is ook hier.
  • Elke jaar in Julie word daar tien dae lank ʼn nasionale kunstefees in Grahamstad gehou. Beroemdes en gewone mense kom sing, dans en maak musiek of stal hul kuns uit.
  • In die klein dorpie Nieu-Bethesda is die Uilhuis wat aan Helen Martins behoort het. Dié kunstenaar het ʼn gewone huis deur die gebruik van glas en honderde sementbeelde in ʼn sprokieswêreld omskep.
  • Die museum in Oos-Londen het ʼn bewaarde selakant. ʼn Visserman het dit in 1938 naby Oos-Londen gevang. Vroeër het mense geglo hierdie oervis het miljoene jare gelede uitgesterf.
  • Naby Hogsback is ʼn geelhoutboom wat meer as 30 m hoog is. Dit is 9 m in omtrek en as ’n mens ’n kring om die stam sou wou vorm, sal ses volwassenes nodig wees wat hande vat om rondom die boom te staan.
  • Die Addo-olifantpark is amper 100 jaar gelede gestig om te keer dat jagters die laaste 11 olifante in die streek uitroei. Vandag is daar ʼn paar honderd olifante. Selfs miskruiers wat olifantmis in balletjies rol om hul eiers daarin te lê, word hier beskerm – kennisgewingborde langs die pad waarsku ʼn mens om nie die miskruiers dood te ry nie.
  • Die Oos-Kaap spog met die suidelike noorkapper-walvis en dolfyne. Hierdie soogdiere word saam met ander, kleiner seediertjies in kusreservate beskerm.
  • Naby King William’s Town en Cradock kry ʼn mens reuse-erdwurms wat tot 3 m lank word.
  • Hole in the Wall by Koffiebaai is ʼn krans wat soos ʼn eiland in die see staan. In die krans is ʼn groot gat. Die storie lui dat “seemense” die see ingestorm het om ʼn meisie te red. Al wat oorgebly het, was die groot gat.
  • Die Wildekus is ʼn vreedsame gebied sonder groot dorpe, paaie of fabrieke. Mense kom uit alle uithoeke van die wêreld om die groen heuwels, wit strande en lieflike strandmere te sien. Die witmosselkraker is een van die bedreigde spesies wat hier woon. Dié vis gebruik sy sterk kakebeen om mossels en kreef mee oop te maak.
Foto: iStock
Hoofstad: Bisho
Bevolking: 6 676 590 1
Algemene huistaal: Xhosa
Dorpe in dié provinsie: Lady Grey, Aliwal-Noord, Barkley-Oos, Mthatha, Qunu, Port St. Johns,  Koffiebaai, Keimond, Oos-Londen, Port Alfred, Kenton-on-Sea, Gqeberha (voorheen Port Elizabeth), Jeffreysbaai, Kaap St. Francis, Patensie, Stormsrivier, Grahamstad, King William’s Town, Hogsback, Queenstown, Somerset-Oos, Cradock, Graaff-Reinet, Middelburg, Pearston, Jansenville, Willowmore, Aberdeen, Tarkastad, Seymour, Balfour, Stutterheim, Keiskammahoek, Fort Beaufort, Alice, Bisho, Cookhouse en Riebeek-Oos.
Wyle Helen Martin se beeldhouwerk, Nieu-Bethesda
Lighuis by Kaap St Francis

Die land van die setlaars

Die verhaal van die Britse setlaars wat in 1820 in Algoabaai geland het, raak ’n mens. Napoleon Bonaparte van Frankryk is finaal verslaan in die Slag van Waterloo in 1815. Vir Brittanje, die oorwinnaar, het dit ernstige sosio-ekonomiese probleme beteken. Die land was in ʼn diep ekonomiese resessie, ʼn belangrike faktor in die toenemende politieke onrus wat gedreig het om die land te oorweldig. 2

In hierdie omstandighede het die Britse regering maklik geluister na die pleidooie van die Kaapse goewerneur, lord Charles Somerset, om immigrante na die Kaap te stuur. Hulle moes help om die oostelike grensgebiede te bewerk, te bevolk en te help verdedig. Op 12 Julie 1819 het die regering £50 000 bewillig vir ʼn skema wat soveel mense moontlik na Suid-Afrika sou neem. Die eerste van 21 skepe het aan die einde van daardie jaar vertrek.

lord Charles Somerset

Oor die volgende paar maande het sowat 4 000 mans, vroue en kinders, in 60 groepe verdeel en na die onbekende Suid-Afrika vertrek. Ná ʼn dag of twee in ’n tydelike kamp in Algoabaai, is die nuwelinge op eie onkoste per ossewa na hulle toegekende “plase” in die distrik Albanie, of die Zuurveld, vervoer. Dit is die deel van die Oos-Kaap wat deur die Boesmansrivier, die Groot-Visrivier en Grahamstad begrens word. In die eerste vyf grensoorloë teen die Xhosas tot 1819 is die wit boere grotendeels uit hierdie hele gebied verdryf.

Met hulle aankoms op hulle stukkies grond, is die setlaars en hulle besittings op die kaal veld afgelaai. Hulle eerste wonings was tente wat deur die regering aan hulle geleen is. Hulle het dadelik begin ploeg en saai. Met die groentetuine het dit goed gegaan, maar die eerste vier koringoeste was ʼn volslae mislukking. Die setlaars het op die harde manier geleer dat die Suid-Afrikaanse klimaat baie anders was as die matige en voorspelbare Engelse klimaat waaraan hulle gewoond was. Intussen was daar ook sprinkane en wilde diere. En van 1834 tot 1878 moes hulle in nog vier grensoorloë hulleself en hulle plase teen die Xhosas verdedig.

Vir baie was die beproewinge net te veel. Hulle het uitgewyk na dorpe soos Grahamstad en Port Elizabeth waar hulle die neringe en ambagte waarin hulle tuis opgelei was, hervat het. Só het hulle die grondslag gelê vir die tegniese vaardighede waarvoor die Oos-Kaap later beroemd sou word. Dié wat op die plase uitgehou het, het weer die grondslag gelê vir die omvattende landboubedryf wat in die gebied ontwikkel het soos die setlaars stelselmatig agtergekom het watter vee en gewasse geskik is vir die gebied. Een voorbeeld is die pynappelbedryf, wat sy ontstaan in ʼn barbierswinkel in Grahamstad gehad het.

Grahamstad in die 1830’s

Die setlaars se erfenis is nie tot die fisieke beperk nie. Hulle het ʼn besonderse soort moed en deursettingsvermoë, ʼn sin vir regverdigheid en ʼn sterk opvoedkunde tradisie hier gevestig. Waarskynlik die grootste enkele prestasie van hierdie setlaars was dat hulle die begrip van ʼn vrye pers ingevoer het. Die setlaar-digter Thomas Pringle en John Fairbairn het lord Charles Somerset se pogings tot sensuur van hul koerant, South African Commercial Advertiser, sterk teengestaan. Sodoende het hulle die stewige grondslag van persvryheid gelê wat vandag nog geld.

John Fairbairn, politikus

Ná die Britte het die Duitsers gekom. In 1858 en 1859 is sowat 5 000 Duitsers in Brits Kaffrarië (in die omgewing van Oos-Londen) gevestig.

Stadsaal in Oos-Londen
Gqeberha

Verskillende streke

Die Transkei

In die tyd van afsonderlike ontwikkeling, of apartheid, onder die NP-regering het Transkei op 27 Oktober 1976 “onafhanklikheid” verkry en ’n tuisland – ’n selfregerende gebied – geword. Net voor die eerste demokratiese verkiesing in April 1994 is die gebied weer by Suid-Afrika ingelyf en só het dit deel geword van die Oos-Kaap-provinsie.

Transkei

Topografies word Transkei in drie hoofstreke verdeel: die hooglande in die weste na die Drakensberge toe wat sowat 1 800 m bo seespieël lê, die sentrale plato met golwende groen heuwels, en ʼn smal kusstrook (die beroemde Wildekus). Die jaarlikse reënval in die grootste deel van die streek is 750 mm. Die sentrale plato het baie standhoudende riviere wat diep klowe en valleie in die landskap insny. Die klimaat is subtropies aan die kus en matig op die plato en in die voorheuwels. 3

Die Wildekus, wat oor 250 km strek – van Keimond in die suidweste tot by Port Edward in die noordooste – is een van die mees afgesonderde gebiede in die land. Die warm Agulhas-seestroom loop langs die kus verby en maak swem in die see byna heeljaar moontlik.

Die Kamdeboo

Die Kamdeboo word min of meer deur Graaff-Reinet, Pearston, Somerset-Oos, Jansenville, Willowmore en Aberdeen begrens. Hoewel die landskap en klimaat onverbiddellik is, was dit een van die eerste gebiede waar wit setlaars hulle gevestig het – tot anderkant die suidelike en westelike bergreekse wat die groot binnelandse plato omsoom.

Reënval in die Kamdeboo wissel van 300 mm in goeie jare tot 75 mm in slegte jare. Die gebied word gedreineer deur die Sondagsrivier en sy vele sytakke, soos die Voëlrivier in die ooste, en die Kamdeboo, wat in die berge met dieselfde naam noordwes van Aberdeen ontspring. Dit is angorabokwêreld en lewer verreweg die meeste van die land se sybokhaar.

Dorpe van die Kamdeboo

Daar is meningsverskille oor die betekenis en herkoms van die naam Kamdeboo. Dit is ʼn Khoi-uitdrukking wat óf “groen hoogtes” óf, meer waarskynlik, “groen holte” beteken. Volgens J.F. Mentz, wat in 1769-1770 in hierdie gebied gereis het, was daar ʼn holte in die berge met ʼn “groen seekoeigat” wat die Khoi Kamdeboo genoem het.

Kaapse Middelland

Wat losweg as die Kaapse Middelland beskryf word, is die gebied waar menige grensoorloë afgespeel het. Baie van die gehuggies en dorpe het in die 19de eeu ontstaan as ʼn fort of vesting wat die Britte gebou het om wit setlaarboere en hul vee teen strooptogte deur die Khoi- en Xhosa-stamme te beskerm.

Die streek is prima veewêreld. Kuddes vleis- en melkbeeste kom oral voor, en die getalle daarvan word al hoe groter soos mens suid en oos in die rigting van die berge beweeg. Van die land se beste merino- en Dohne-merinoskape word hier aangetref.

Die Amatoleberge (“plek van gespeende kalwers”) en ander bergreekse en hulle valleie met vele voetslaanpaaie is gewilde vakansiebestemmings.

Dorpe wat in hierdie gebied val, is Queenstown, Tarkastad, Seymour, Balfour, Stutterheim, Keiskammahoek, Fort Beaufort, Alice, Hogsback, King William’s Town, Bisho, Cradock, Cookhouse en Riebeek-Oos.

Gubudam, Stutterheim

Geskiedkundige gebeure

Die eerste van vele republieke

Teen die laaste dekade van die 18de eeu was die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie, wat toe die Kaapkolonie besit het, byna bankrot. Die Nederlanders het byna geen beheer oor die verste uithoeke van die kolonie gehad nie en kon nie meer die inwoners van Graaff-Reinet teen die strooptogte van die San uit die noorde en sekere Xhosa-stamme uit die ooste beskerm nie.

Sake is in Februarie 1795 op die spits gedryf toe ʼn aantal burgers van Graaff-Reinet landdros H.C. Maynier en sommige van sy amptenare ontslaan en hulle eie administrasie ingestel het. Só is die eerste van vele republieke gebore wat die wit pioniers veral in die 19de eeu sou uitroep in hulle pogings om onafhanklikheid van die Kaap, Amsterdam en later Londen te verkry.

Graaff-Reinet

Slagtersnekrebellie

Ongeveer 15 km suid van Cookhouse gaan die pad verby ʼn gedenknaald vir vyf mans wat op 9 Maart 1816 op hierdie plek opgehang is vir hulle aandeel in wat bekend geword het as die Slagtersnekrebellie teen die regering van die Kaapkolonie.

Frederik Bezuidenhout, wat langs die Baviaansrivier noordoos van vandag se Cookhouse geboer het, se Khoi-skaapwagter het herhaalde klagtes van mishandeling by die owerhede op Cradock en Graaff-Reinet teen Bezuidenhout ingedien. Bezuidenhout het gevra dat die saak deur die plaaslike veldkornet op sy plaas opgelos word. Dit is nooit gedoen nie, maar ʼn peloton Pandoers (bruin soldate) onder bevel van wit offisiere is gestuur om hom in hegtenis te neem. Bezuidenhout is in Oktober 1815 doodgeskiet in ʼn grot waarheen hy gevlug het om te keer dat hy gevang word. Op sy begrafnis het sy broer, Hans, wraak gesweer.

Die veldtog om Bezuidenhout se dood te wreek, is toe deur Hendrik Prinsloo, ʼn twissoeker van Bruintjieshoogte naby die huidige Somerset-Oos, gekaap. Hy het dit verdraai in ʼn halfgebakte poging om die Britte met die hulp van die Xhosas die land uit te dryf. Vroeg in November 1815 is ʼn rebellemag van ongeveer 60 man uit die omgewing gevorm. Die owerhede het gereageer deur ʼn gewapende mag te stuur wat daarin geslaag het om die voorbok, Prinsloo, op 13 November in hegtenis te neem. Die res van die rebelle het toe na Van Aardtspos gery, ʼn militêre pos waar Prinsloo aangehou is en die huidige gedenkteken staan. Hulle eis dat Prinsloo vrygelaat moet word, is geweier. Daarna het hulle ʼn eed afgelê dat hulle die rebellie tot sy einde sou volhou.

In die volgende paar dae het die meeste van die rebelle egter óf oorgegee óf gedros. Die leiers is tot in die omringende heuwels agtervolg waar die meeste op 29 November gevange geneem is. Die uitsondering was Hans, broer van Frederik Bezuidenhout – hy en sy vrou en seun het besluit om weerstand te bied. Hy is doodgeskiet en sy gesinslede is gewond.

In die verhoor op Uitenhage is ses van die leiers van die rebellie ter dood veroordeel. Een is begenadig en die ander vyf is aan ʼn enkele galgtou by Van Aardtspos opgehang. Die tou het gebreek terwyl vier nog gelewe het. Die omstanders, wat beveel is om die teregstelling as ʼn afskrikmiddel by te woon, het om genade vir die mans gepleit, maar dit het op dowe ore geval en die vier mans is afsonderlik gehang.

Hoewel die meeste grensboere niks met die rebellie te doen wou hê nie, was hulle gebelg oor die strawwe vonnisse en die wreedheid van die teregstellings. Hierdie gebeure is later genoem as een van die redes vir die Groot Trek.

Robert Gordon, pionier van die merinowolbedryf

Sowat 8 km noord van Aberdeen is ʼn lae koppie met die naam Gordonskoppie waar ʼn gedenkteken hulde bring aan kolonel Robert Jacob Gordon, ʼn 18de-eeuse Nederlandse soldaat van Skotse herkoms. Hy was ’n ontdekkingsreisiger, natuurkundige en grondlegger van die merinowolbedryf in die Groot Karoo.

Hy is in 1777 van Nederland na Kaapstad verplaas en in 1782 as die bevelvoerder van die garnisoen daar aangestel. Van 1777 tot 1780 het hy drie ontdekkingsreise na die binneland onderneem: na die Oranjerivier noord van die Sneeuberge, oor die Roggeveld, en met die weskus langs na die Oranjerivier. In hierdie omswerwinge het hy twee keer oor die vlaktes van die Kamdeboo getrek.

Gordon se reisdagboeke het ná sy dood spoorloos verdwyn en is eers byna 170 jaar later, in 1964, in die argief van die graafskap Staffordshire ontdek. Die dagboeke, saam met ʼn verhandeling oor die Khoi en byna 400 tekeninge van landskappe, plante, diere en Khoi, asook die eerste kaarte en sketse van die Oranjerivier, is vandag die eiendom van die Rijksmuseum in Amsterdam.

Dit was Gordon wat die Oranjerivier sy naam gegee het. Hy was ʼn vriend en bewonderaar van prins Willem V van Oranje, en op sy reis van 1779 het hy die rivier na hom vernoem.

Portret van Willem V, prins van Oranje

Deur sy vriendskap met die prins van Oranje het Gordon onbewustelik die grondlegger van die merinowolbedryf in sowel Suid-Afrika as Australië geword. In 1789 het die koning van Spanje twee ramme en vier ooie van die beroemde Escorial-stoetery aan die prins van Oranje geskenk, wat hulle vir Gordon gegee het omdat Gordon met wolskape aan die Kaap wou eksperimenteer.

Toe Gordon ses jaar later in 1795 dood is, is die skape en hulle nageslagte opgeveil. ʼn Paar is gekoop deur die bemanning van twee skepe wat onderweg na Australië was. Dit was die begin van Australië se merinowolbedryf. In later jare het Suid-Afrikaanse telers afstammelinge van daardie merino’s uit Australië ingevoer om die plaaslike bloedlyn te verbeter.

Teen die einde van sy lewe moes Gordon ʼn onmoontlike keuse tussen twee lojaliteite maak. Toe Nederland in 1795 deur Frankryk beset is en die Bataafse Republiek geword het, het prins Willem na Brittanje, toe vyand van die Bataafse Republiek, gevlug en alle kommandeurs van die kolonies, ook Gordon aan die Kaap, opdrag gegee om die Britte as bondgenote teen die Franse te beskou. Omdat hy lojaal was aan die Huis van Oranje, het Gordon slegs simboliese weerstand gebied teen die Britse ekspedisiemag wat gestuur is om die Kaap te beset. Hy is deur die meeste Nederlanders en selfs sommige van die Engelse as ʼn lafaard uitgekryt en het selfmoord gepleeg.

Die Wes-Kaapse dorp Gordonsbaai is na hom vernoem.

Ou katedraal in Grahamstad

Natuurverskynsels en plekke om te besoek

Skatkamer van fossiele

Sowat 200 miljoen jaar gelede was die Groot-Karoo, en veral die vlaktes van die Kamdeboo, ʼn reusemoeras waarin prehistoriese reptiele van alle groottes voorgekom het. Die klimaat het geleidelik verander en die modder het tot rots verhard. Dit het ʼn skatkamer geword van die fossielreste van daardie vroeë inwoners van ʼn gebied wat vandag klaarblyklik geleidelik besig is om in ʼn woestyn te verander.

Kamdeboo

Dr. Robert Broom, ʼn Skot, het hom in 1900 in Pearston as ʼn mediese praktisyn gevestig. Sy belangstelling in fossiele is deur die jong wetenskap van paleontologie en Charles Darwin se evolusieteorie geprikkel en hy het begin om fossiele in die distrik en verder weg te versamel. Later het hy dié fossiele gebruik om te bewys dat hierdie prehistoriese soogdieragtige reptiele van die Groot-Karoo – sowat 600 spesies altesaam – die voorgeslagte van alle warmbloedige wesens op aarde was.

Dit was ook Broom wat later “Mevrou Ples”, die sogenaamde vermiste skakel in die evolusie van die mens, in die Sterkfonteingrotte naby Krugersdorp ontdek het.

Addo: Plek van die Olifante

Die Addo Olifant Nasionale Park, ongeveer 70 km noord van Gqeberha in die Sondagsriviervallei, is in 1931 gestig om die Oos-Kaapse of Addo-olifant van gewisse uitwissing te red. Die Addo-olifant is kleiner en dra minder ivoor as dié van Midde-Afrika se groot savanne-streke, maar is dieselfde spesie. Net die bulle het tande.

Die digte Addo-bos was eeue lank die tuiste van ʼn paar honderd van hierdie diere, asook verskeie ander wildspesies soos die swartrenoster, buffel en etlike boksoorte. Die plantegroei van die park, byna alles eetbaar, is ten volle verteenwoordigend van die digte, immergroen Addo-bos met ʼn blaredak hoogstens 3,5 m bo die grond. Die algemeenste bome en plante is die geharde spekboom, nieshout, ghwarrie, melkhout, kinderbessieboom en baie soorte vet-, rank- en slingerplante.

Al hoe meer boere het hulle mettertyd op die buitewyke van hierdie bos gevestig en teen die vroeë 20ste eeu was daar geen sprake meer van vreedsame saambestaan tussen die boere en die olifante nie.

Die olifante het heinings, waterinstallasies, bome en bewerkte landerye verwoes en in 1919 het die administrateur van die Kaapprovinsie ʼn professionele jagter gehuur om die hele trop uit te wis. Binne ʼn jaar het hy sowat 120 geskiet en slegs 15, wat in ondeurdringbare dele van die bos gaan skuil het, het oorgebly.

Omdat die aanvanklike 7 000 ha wat opsygesit is nie omhein was nie, het die olifante voortgegaan om naburige plase te stroop en groot skade aan te rig. Eksperimente met ʼn elektriese omheining is in 1934 begin, maar dit het misluk. Tien jaar later het Graham Armstrong, ʼn veldwagter in die park, voorgestel dat ʼn heining van ou hyserkabels en tremspore gemaak word. ʼn Eksperimentele heining van 687 m wat in 1951 opgerig is, was so ʼn groot sukses dat ongeveer 2 500 ha van die park uiteindelik vir die uitsluitlike gebruik van die olifante omhein is. Die kabels en spore vir die heining van 18,5 km is deur private maatskappye geskenk.

Addo Olifant Nasionale Park

Die trop van ongeveer 200 olifante deel vandag hul tuiste met ʼn paar seekoeie, swartrenosters, verskeie algemene soorte bokke en meer as 170 voëlsoorte. Onder die dierelewe is die unieke miskruier wat nie kan vlieg nie en selde buite Addo gesien word.

Plantspesies wat algemeen hier voorkom, is verskillende soorte heide en protea, speldekussing, boegoe, bergseder, die Suurberg-speldekussing en -broodboom, en die alomteenwoordige aalwyn. Geelhout, assegaai, ysterhout en witstinkhout kom in die bosstreek voor, en spekbome in die vallei-bosveld. Diere soos die vaalribbok, rooiribbok, sebra, bosbok, grysduiker, die bedreigde bloubokkie, koedoe en blou-ape kom hier voor. Opvallend onder die voëls is die Knysna-loerie en die kroon- en witkruisarend. 4

In die 1990’s is die park noordwaarts en ooswaarts uitgebrei om die voormalige Suurberg (Zuurberg) Nasionale Park in te sluit. Hierdie park (20 780 ha) is in 1985 in drie dele teen die hange van die Suurberge gevorm. Daar is drie veldsoorte wat hier voorkom – vals fynbos, immergroen Alexandria-kusbos en valleibos.

Die huidige uitbreidingsprogram beoog die skepping van ʼn nuwe Addopark (370 000 ha) wat noordwaarts sowel as suidwaarts na die see strek, tesame met ʼn marienereservaat van 120 000 ha. Die park sal die tuiste van die Groot Vyf van die diereryk word – leeus, luiperds en buffels sal hulle aansluit by die olifante en renosters wat reeds daar is.

Bergkwagga Nasionale Park

Die Bergkwagga Nasionale Park (6 536 ha) is in 1937 op die plaas Babylonstoren 27 km wes van Cradock aan die noordelike hange van die Bankberg (2 012 m) gevestig om een van die skaarsste diere op aarde te beskerm. Teen daardie tyd was daar net ses bergkwaggas oor in ʼn streek waar troppe van honderde in die 19de eeu gewei het.

Die eerste 13 jaar het die diere glad nie aangeteel nie. In 1950 het ʼn plaaslike boer, H.J. Lombard, sy trop van 11 bergkwaggas aan die park geskenk. Die geboorte van die eerste vul drie jaar later het wêreldwyd koerantopskrifte gehaal.

Die bergkwagga, die kleinste van Suider-Afrika se sebraspesies, beweeg rats oor die ongelyke rotswêreld. Die dier word tot 1,45 m hoog by die skouers en weeg tussen 250 kg en 300 kg. Die breë swart-en-wit-strepe is kenmerkend en verskeie dwarsstrepe oor die kruis vorm ʼn roosterpatroon op die agterstewe. Digte, smaller swart strepe volg op mekaar op die bene tot by die hoewe.

Die park is tans die tuiste van ongeveer 230 bergkwaggas, asook aansienlike getalle van die mees algemene antiloopspesies en klein roofdiere. Die teelprogram het met die jare saam besonder suksesvol geword: baie pare bergkwaggas is al na ander parke oral in die land oorgeplaas.

ʼn Belangrike kenmerk van die park is die kultuurhistoriese museum waar uitstallings die lewenstyl van die wit pionierboere van die 19de eeu en vroeër uitbeeld. Daar is 30 argeologiese persele in die park waar artefakte gevind is wat tienduisende jare oud is.

Skeepswrakke aan die Wildekus

Deur die eeue het die Wildekus die begraafplaas geword van talle ongelukkige skepe, waarvan sommige met skatte uit die Ooste belaai was. Die meeste van hierdie skatte is nooit gevind nie.

Die Portugese, die eerste Europeërs wat die Kaapse roete na die Ooste gebruik het, het meer verliese as enige ander nasie gely. Die eerste aangetekende wrak is dié van die Sao Joao (St John) in Junie 1552. Daarna het die Sao Bento in 1554 by die mond van die Mtatarivier en die Santo Alberto in 1593 naby die Hole in the Wall gesink.

Seker die bekendste skeepswrak is die Britse Grosvenor, wat op 4 Augustus 1782 naby Port Grosvenor gestrand het. Daar was 150 bemanningslede en passasiers aan boord en volgens die vragbrief, ʼn fortuin in staafgoud. Die 136 oorlewendes het in groepies verdeel wat afsonderlik gaan hulp soek het. Ses matrose het ʼn plaas naby die hedendaagse Gqeberha bereik. ʼn Soekgeselskap het nog 12 oorlewendes gevind. Ondanks vele bergingspogings is net ʼn paar kanonne en ʼn paar goud– en silwermunte gevind. Van die kanonne is een elk na die Ou Fort in Durban, die park by Port St Johns en die Royal Hotel op Lusikisiki gebring en twee is in die Mthatha-museum.

Kyk hier

Hier kan jy meer lees oor die Addo Olifantpark en ook na foto’s kyk

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 21 Februarie 2022 | Bygewerk op 6 Maart 2024