Vinnige feite

  • Dit het navorsers tien jaar geneem om ʼn lys te maak van al die skatte wat in Toetankamen se grafkelder gevind is. Bordspeletjies en modelbootjies is onder meer ook saam met die Egiptiese prins begrawe. 43
  • Alec “Wheelbarrow” Patterson het sy bynaam gekry toe hy met al sy besittings in ʼn kruiwa by die goudveld in Pelgrimsrus opgedaag het. Hy het van sy donkie ontslae geraak toe dié hom geskop het. Hy het sy donkie met ʼn kruiwa vervang omdat dit volgens hom ʼn minder gevaarlike en meer moderne manier van vervoer was. Hy het sy kruiwa 1 600 km ver van Kaapstad af tot in Pelgrimsrus gestoot! 44
  • Een van die goue reëls van die delwerskampe in Pelgrimsrus was dat niemand tussen sonsopkoms en sonsondergang op ʼn Sondag mag gedelf het nie. 16
  • Pelgrimsrus was die tweede dorp in Suid-Afrika (ná Kimberley) wat elektrisiteit gekry het. 16
  • Die suiwerheid van goud word in karaat gemeet. Dit is nie moontlik om 100% suiwer goud te kry nie, want daar sal altyd minstens ʼn graad van onsuiwerheid in goud wees. Die suiwerste vorm van goud is 24 karaat (99,9% suiwer) wat beteken daar is geen ander metaal teenwoordig nie. 45
  • Die wêreld se eerste goue muntoutomaat is in 2013 in ʼn hotel in Abu Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate in gebruik geneem. Goudstawe en -munte van tussen 1,5 en 10 g kan by dié masjien gekoop word. Die prys van die munte verander soos die goudprys verander. 46
  • ʼn Gemiddelde menslike liggaam van 70 kg bevat 0,2 mg suiwer goud. As hierdie verfynde goud in ʼn blokkie van suiwer goud verwerk sou word, sal elke sy van die blokkie sowat 0,22 mm groot wees. 47
  • Goud word reeds baie vroeg in die Bybel genoem. In die tuin van Eden was daar ʼn rivier wat in vier sytakke gevloei het. Een van die sytakke (die Pisonrivier) het in die land van Gawila gevloei waar daar groot hoeveelhede suiwer goud was (Gen. 2:10-14). In die laaste boek van die Bybel, Openbaring, word die woord goud 22 keer genoem. Uiteindelik vorm goud ook deel van die nuwe Jerusalem met strate wat van goud gemaak is. 48
  • Olimpiese goue medaljes is tot in 1912 van suiwer goud gemaak. 49 Vandag bevat die medaljes ongeveer 6 g goud en 92% silwer. 50
  • Die waarde van die Krugerrand is nog nooit op die muntstuk aangedui nie, aangesien elke muntstuk se waarde afhang van die huidige goudprys. Sedert die eerste Krugerrand in 1963 uitgereik is, is meer as 60 miljoen Krugerrande van verskillende groottes al gemunt.
Foto: iStock

Dink hoe vaal sou die wêreld sonder goud wees! ʼn Mens kan nie aan juweliersware, medaljes, trofeë en ander versierings dink sonder om aan goud te dink nie. Hoewel goud reeds in die tyd voor Christus ontdek en gebruik is, is dié waardevolle en kosbare metaal eers in die 19de eeu in Suid-Afrika ontdek.

Suid-Afrika is ongelooflik ryk aan natuurlike hulpbronne, met groot reserwes van sommige van die waardevolste metale (soos goud, diamante en koper) wat onder die aarde se oppervlak in ons land gevind kan word. Die eerste noemenswaardige ontdekkings van goud in Suid-Afrika was in 1873 in Pelgrimsrus en in 1884 aan die Witwatersrand. Sedertdien het die mynbedryf baie belangrik vir die land geword en dit dra elke jaar bykans $11 miljard (nagenoeg R200 miljard) by tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP). 1

Goud is een van die waardevolste metale op aarde, maar hoe word dit gevorm, wanneer is dit ontdek en hoe het dit die geskiedenis van Suid-Afrika en die wêreldekonomie vir altyd verander?

Goud deur die geskiedenis

Mense het goud waarskynlik reeds in prehistoriese tye in strome en riviere ontdek. Sonder dat hierdie mense van verskillende dele van die wêreld met mekaar kontak gehad het, het goud een van die waardevolste metale op aarde geword. Sover vasgestel kan word, het mense van vandag se Oos-Europa 4000 v.C. al goud gebruik vir die versiering van voorwerpe. Ander gebruike van goud in daardie tyd was vir die maak van juwele en beelde soos die Goue Kalf wat in die Bybel deur die Israeliete aanbid is. 2

In Egipte is goud gebruik om die tempels en die grafte van belangrike mense te versier. Die grootste ontdekking van goue artefakte (voorwerpe wat in ʼn prehistoriese tyd deur mense gemaak is) is in 1922 deur Howard Carter en Lord Carnarvon gemaak. Meer as 5 000 antieke artefakte is gevind in die grafkelder van Toetankamen, ʼn jong farao wat in die veertiende eeu v.C. oor Egipte geheers het. 3

Baie van hierdie artefakte, soos sy doodskis en sy gesigmasker, was van goud gemaak. 4

Egipte was ook die eerste land wat ongeveer 1 500 jaar v.C. goud as ruilmiddel begin gebruik het. Die sikkel, ʼn muntstuk van 11,3 g wat uit twee derdes goud en ʼn derde silwer bestaan het, is deur die Egiptenare gebruik om met ander lande handel te dryf. 5

Die eerste suiwer goue muntstukke is in Lydia, ʼn land in Asië, rondom 560 v.C. vervaardig. 6

Die Romeine het in 50 v.C. ʼn muntstuk geskep met die naam aureus, afgelei van aurum, ʼn Latynse woord wat “dagbreekglans” of “goud” beteken. Dit is ook waar Au, die simbool vir goud op die periodieke tabel, vandaan kom.

Brittanje begin in 1248 ʼn goue muntstuk met die naam floryn gebruik en in dieselfde tyd begin die Republiek van Florence in Italië met die dukaat. Die dukaat word die gewildste goue muntstuk in die wêreld vir die volgende vyf eeue. 2

Die grootste vonds (ontdekking) van goue artefakte in suidelike Afrika is in 1932 in Mapungubwe op die grens tussen die Limpopo-provinsie in Suid-Afrika, Zimbabwe en Botswana gevind. Die mense van Mapungubwe het reeds in 1200 met lande soos China handel gedryf deur goud en ivoor vir produkte uit China en Indië te ruil. Die bekendste goue voorwerp uit hierdie tyd is waarskynlik die goue renoster. Daar is altesaam 212 kg goue voorwerpe in Mapungubwe gevind, maar die skatte van Mapungubwe is eers ná 1994 bekend gemaak. 7

Hoe word goud gevorm?

Daar is twee teorieë oor hoe goud ontstaan het en albei het met sterre en kernkrag te doen, want dit is die enigste manier hoe ligter en swaarder atome kan saamsmelt.

Volgens die een teorie ontstaan goud wanneer baie helder sterre (ook genoem supernova) ontplof en daar ʼn groot hoeveelheid energie uitgestraal word. Hierdie ontploffing veroorsaak dat ligter atoomkerns swaarder atome vorm (kernfusie) en goud tot gevolg het. Volgens die ander teorie ontstaan goud wanneer uitgebrande sterre (ook neutronsterre genoem) bots en ʼn elektromagnetiese ontploffing veroorsaak. 8

Maar hoe het hierdie goud hul weg aarde toe gevind? Die Witwatersrand in Gauteng, wat met een van die grootste neerslae van goud in die wêreld spog, is binne ʼn 400 km-radius rondom ʼn krater geleë wat gevorm is toe ʼn meteoriet die aarde 2 miljard jaar gelede getref het. Die manier waarop goud aan die Witwatersrand gevorm is, is vir wetenskaplikes ʼn bewys dat ʼn groot gedeelte van mynbare goud (goud wat uit die grond gehaal kan word) op die planeet ontstaan het tydens die impak van asteroïede toe hulle die aarde getref het. 9

Goud kom selfs in die aarde se oseane voor. In elke 100 ton seewater is daar een gram goud, wat beteken dat daar duisende tonne goud in seewater skuil! Dit is egter baie duur om goud uit die oseaan te ontgin. 9

Hoe word goud gemyn?

Die manier hoe goud ontgin word, hang af van waar dit voorkom. Die eenvoudigste manier is deur panspoeling waar die delwer water en gruis van die rivier in ʼn pan beweeg. Omdat die goud swaarder is, gaan lê dit op die bodem van die pan. Die water en ligter gruis word uit die pan gegooi sodat net die gouderts agterbly. 10

Vir die ontginning van goud wat diep onder die aardoppervlak geleë is, word diepskagmyne aangelê. ʼn Vertikale tonnel (dit word ook ʼn skag genoem) word gemaak om tot onder by die erts uit te kom. Langs hierdie skag word gedeeltes uitgekap wat stasies genoem word. Van hier af is daar dwars- en sytonnels van waar mynwerkers die gouderts kan bereik. Die erts, die mynwerkers en die materiaal wat vir die myn nodig is, word met hysbakke langs die skag boontoe gelig. Die erts word van daar met vervoerbande na die behandelingsaanlegte vervoer. 11

Die konstruksie van die myn is baie belangrik omdat baie mense kan sterf indien daar ʼn swak plek in die skagte of tonnels is. Om lewensverlies te voorkom, word die skagte deeglik met staal, beton, pilare en selfs rots gestut. 11

Suid-Afrika het geweldige diep myne. Trouens, agt van die tien diepste myne in die wêreld is in Suid-Afrika. 12 Die Mponeng-goudmyn naby Carletonville op die grens van Gauteng en Noordwes is die diepste ter wêreld. Op die oomblik word goud tussen 3,16 km en 3,84 km onder die grond ontgin. Daar word egter geskat dat ʼn diepte van 4,22 km in die toekoms bereik kan word. 13

By oopgroefmyne, waar die gouderts naby die aardoppervlak is, moet die laag plantegroei, grond of selfs rotse bo die goudneerslag “afgeskraap” word. Dit word gedoen deur plofstowwe te gebruik. Die uiteindelike erts wat ontgin word, word met groot vragmotors, wat tot soveel as 250 ton kan vervoer, verwyder. 11

Eerste ontdekkings van goud in Suid-Afrika

In die 1800’s is goud op verskillende plekke in Suid-Afrika gevind. In die suide van die land het ʼn volstruisboer ʼn goudklont in 1876 in die Millwoodwoud in Knysna gevind. Een van sy volstruise het dit saam met klippies geëet. Teen 1883 was daar ongeveer 200 prospekteerders (mense wat na byvoorbeeld edelmetale soek) van lande soos Australië, Amerika en Brittanje wat hier vir goud gedelf het. 14

Selfs die klein dorpie Prins Albert in die Wes-Kaap het in die 1890’s ʼn stormloop van gouddelwers gehad. Hierdie, en ander liggings in Suid-Afrika, het egter nie groot hoeveelhede goud bevat nie en was ná ʼn kort rukkie uitgeput. 15

Twee plekke wat beslis uitstaan én uitblink as ʼn mens aan die ontdekking van goud in Suid-Afrika dink, is Pelgrimsrus en die Witwatersrand.

Prospekteerders en Pelgrimsrus

Die eerste groot ontdekking wat ʼn goudstormloop in Suid-Afrika veroorsaak het, was in 1873 toe goud op die plaas Geelhoutboom naby Sabie in vandag se Mpumalanga gevind is. Dit was nie lank daarna nie of ʼn gouddelwer met die naam Alec “Wheelbarrow” Patterson ontdek goud in ʼn rivier ʼn entjie verder. Hy het eers die nuus probeer stilhou, maar toe ʼn ander delwer, William Trafford, ook goud in dieselfde stroom ontdek, het die nuus soos ʼn veldbrand (vinnig) versprei.

Daar is vandag nog mynbedrywighede in die heuwels rondom Pelgrimsrus.

Binne ʼn jaar was daar ongeveer 1 500 delwers wat goud in hierdie omgewing gesoek het. Delwers se kleims was ongeveer 47 x 47 m groot. Altesaam 21 winkels, 18 kroeë, drie bakkerye en ʼn klomp permanente huise is binne drie jaar ná die ontdekking van goud gebou. Die delwers het die dorp Pelgrimsrus genoem omdat hulle ná baie jare se soeke (rondreis soos ʼn pelgrim) na rykdom uiteindelik hier hulle rus gevind het. 16

Die goud wat aan die beginjare in Mpumalanga ontdek is, was slegs goudstof, ook bekend as alluviale goud (spoelgoud), wat in die stroompies en riviere van die omgewing gevind is. Tussen hierdie goud was daar ook groot stukke goud. Een van die grootste goudklonte het meer as 6 kg geweeg. 16

Ná die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) is mynaktiwiteite in Pelgrimsrus hervat. Tussen 1913 en 1914 is rekordhoeveelhede gemyn met winste van meer as R550 000, ʼn groot bedrag geld vir daardie tyd (vandag sou dit meer as R60 miljoen werd wees). 17

Vanaf 1914 het die goud al hoe minder geraak en in 1972 het die laaste myn hier toegemaak. Tog was dit steeds nie die einde van Pelgrimsrus nie. In 1986 is die hele dorp as ʼn nasionale monument verklaar en in 1999 het Transvaal Gold Mining Estates ʼn myn hier oopgemaak. Daar is vandag steeds mynbedrywighede in die heuwels rondom Pelgrimsrus. 16

Woelinge aan die Witwatersrand

Pelgrimsrus se goud was min in vergelyking met die ontdekking wat prospekteerders naby vandag se Johannesburg gemaak het. 18

Vandag is Johannesburg – die grootste finansiële sentrum in Afrika – die tuiste van sowat 6 miljoen mense. Nou weet jy hoekom daar ook na Johannesburg as Egoli, ʼn Zoeloe-woord wat “Plek van goud” beteken, verwys word! 19

Die Witwatersrand is deel van Gauteng, wat vir ʼn kort rukkie die PWV-provinsie genoem is, ʼn akroniem vir Pretoria, Witwatersrand en Vereeniging/Vaaldriehoek. 20 Die “Rand” (“reef” in Engels) is bekend daarvoor dat dit die bron is van 48 000 ton (sowat 40%) van alle goud wat al op aarde gemyn is. 21 Uraan word sedertdien ook hier as neweproduk ontgin. 22

Goud is vir die eerste keer in Junie 1884 deur Jan Gerrit Bantjes aan die Witwatersrand ontdek op die plaas Vogelstruisfontein. In September van dieselfde jaar het die Struben-broers goud op die plaas Wilgespruit, naby vandag se Roodepoort, ontdek. Die twee broers het die plek “Confidence Reef”-myn genoem. 23

Jan Bantjes

Daar was egter nie baie goud op dié riwwe nie en deesdae is almal dit eens dat die hoofgoudrif te danke is aan George Harrison, wat in Julie 1886 goud op die plaas Langlaagte ontdek het. Teen Augustus 1886 is ʼn mynkamp, met sowat 3 000 inwoners, opgerig en teen 8 September van daardie jaar is goud reeds op nege plase gemyn. 23

Langlaagte, 1886.

Die eerste groot mynmaatskappy, die Witwatersrand Gold Mining Company, is op 14 September 1886 gestig. 23

Aan die einde van 1889 is daar ontdek dat die goudrif nie net van oos na wes strek nie, maar ook afwaarts met groot ertswaardes. Die meeste maatskappye het egter steeds op oppervlakmynbou gefokus en die enigste mynskagte was op Jubilee- en Langlaagte-eiendomme. 23

Binne ʼn jaar nadat goud in Johannesburg ontdek is, het daar sowat 7 000 inwoners aan die Rif gebly, met 3 000 inwoners in Johannesburg. Teen 1895, skaars vyf jaar later, was daar reeds 102 000 inwoners in Johannesburg. 23

Diep in ‘n goudmyn by Langlaagte naby Johannesburg, 1920’s.

Het jy geweet? Die geldeenheid van Suid-Afrika word die “rand” genoem weens die mineralerykdom van die Witwatersrand. 24 Die ontdekking van goud in die Vrystaat gebeur eers baie jare later in April 1939 naby Odendaalsrus. Vandag is die Vrystaat ʼn belangrike goudproduserende provinsie. 25

Lees gerus ook hierdie nuttige tydlyn oor die ontdekking van goud in Suid-Afrika.

Gevolge van die ontdekking van goud

Vir gewone mense het die ontdekking van goud die moontlikheid van vinnige rykdom beteken. Vir lande in Europa en die Verenigde State van Amerika (VSA) was goud baie belangrik, want dit het hul geldeenhede ondersteun. Die goudstandaard het beteken dat indien ʼn land papiergeld wou laat druk, moes hulle met goud daarvoor betaal. Daar moes met ander woorde dieselfde hoeveelheid goud in die regering se bankkluise wees as die waarde van die geld wat gedruk is (en in omloop was). Indien ʼn land nie self goud gehad het nie, moes hulle goud laat invoer. 26

Die belangrikste gevolg van groot goudneerslae in die 19de eeu in Australië, Noord-Amerika, Rusland en suidelike Afrika was die beweging (migrasie of verskuiwing) van mense na hierdie gebiede. Hierdie beweging het die ontwikkeling van kommunikasie en vervoertegnologie in daardie tyd versnel, asook die invloed van die VSA en Brittanje op die wêreld. 27

Telegraafpale, stoomskepe en spoorweë is ontwikkel; klein hawens het groot sentra vir goedere en immigrante geword (soos Melbourne en San Francisco); en mynkampe het in ʼn oogwink groot stede geword (byvoorbeeld Johannesburg in Suid-Afrika en Denver in die VSA). 22

In Suid-Afrika was die gevolge van die ontdekking van goud reusagtig. Voor die ontdekking van diamante en goud was Suid-Afrika ʼn landbousamelewing. Mense het hul eie kos verbou (gekweek of geplant) en hul eie klere gemaak. Toe die diamant- en goudmyne begin floreer en stede rondom die myne opgerig word, was daar groter afhanklikheid en ʼn behoefte aan dinge wat gekoop kon word. Mense het geld nodig gehad om dinge te koop en moes dus werk kry. 28

Die ontdekking van goud en diamante in Suid-Afrika het ook die verbetering van die vervoerstelsel nodig gemaak. Tot in daardie stadium is goedere tussen die myndorpe en die hawens met ossewaens vervoer, maar dit was te stadig. Die gereedskap het te lank geneem om tot daar te kom. Eers is die paaie vir die ossewaens verbeter. Daarna is die eerste spoorweë aangelê wat die goudmyne van die Witwatersrand en die diamantmyn in Kimberley aan die hawens verbind het. 23

Treine het dit vir mense makliker gemaak om by die myne te gaan werk. Nie net vir Suid-Afrikaners nie, maar ook vir buitelanders wat van die hawens na die binneland vervoer kon word. 29

Soos in die ander lande waar goud ontdek is, is die plaaslike inwoners se lewe omvergewerp en hulle het dikwels nie in die rykdom wat die ontdekkings gebring het, gedeel nie. 23

Die ontdekking van goud en diamante het indirek tot die Anglo-Boereoorlog gelei. Die goudvelde van die Witwatersrand was aan die einde van die 19de eeu onder beheer van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR of Transvaal). Brittanje, wat reeds beheer oor Natal en die destydse Kaapkolonie gehad het, wou Transvaal en die Vrystaat ook annekseer (vir hulle self vat of beheer). Die ZAR sou egter nie so maklik beheer oorgee nie en in 1899 breek die oorlog tussen Engeland en die Boererepublieke uit. Tydens die oorlog is baie van die boere se plase vernietig (afgebrand), wat gesinne gedwing het om in die stede en in die myne ʼn toekoms te probeer bou. 30

Die verskuiwing van mense uit die platteland na die stede of dorpe word verstedeliking genoem. Verstedeliking het probleme soos armoede en misdaad meegebring omdat daar nie vir almal genoeg werk was nie. 31 ʼn Verdere gevolg van die ontdekking van goud, wat jare later eers onthul is, is die skade wat myne aan die omgewing aangerig het. Hoewel die herstel van die omgewing waarin ʼn myn voorkom deesdae baie belangrik is, het mynmaatskappye hulle destyds nie veel daaraan gesteur nie. 32

Die goudstandaard

Die goudstandaard, wat vanaf 1821 deur lande oor die wêreld heen gebruik is om die waarde van geldeenhede te bepaal, het ná die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) ʼn knou gekry. In daardie tyd kon dit nie werklik as standaard gebruik word nie, omdat goudproduksie altyd afhanklik is van die omstandighede waarin die wêreld is. In hierdie stadium het politieke alliansies verander, internasionale skuld het verhoog en regerings se finansies het gekwyn. Hoewel die goudstandaard nie dadelik opgehef is nie, het dit in die lug gehang tydens die oorlog – ʼn teken van die goudstandaard se onvermoë om standvastig te bly in goeie én slegte tye. Dit was duidelik dat lande iets meer buigsaam nodig gehad het waarop hulle hul ekonomie kon baseer. 33

Brittanje was die eerste land wat in 1931 nie meer die goudstandaard gebruik het nie en die VSA het in 1933 gevolg. 28 Switserland het dit eers in 1999 laat vaar. 34

Die goudstandaard is vervang deur fiat-geld of ongedekte geld, ʼn begrip wat gebruik word om ʼn geldeenheid te beskryf wat gebruik word op grond van ʼn regering se bevel, oftewel fiat. Daardie geldeenheid moet as betaling aanvaar word. In die VSA is die dollar fiat-geld, vir Brittanje is dit die pond en vir Suid-Afrika is dit die rand. 28

Die voordeel van die goudstandaard is dat dit inflasie verhoed. Regerings en banke kan nie die geldvoorraad manipuleer (m.a.w. te veel papiergeld druk) nie. Die goudstandaard maak ook seker dat wisselkoerse stabiel (bestendig) bly. 28

Die nadeel van die goudstandaard is dat die aanbod van goud nie kan voldoen aan die aanvraag nie en dit is ook nie buigsaam in moeilike tye nie. Dit is boonop baie duur om goud te myn en mynbou het ʼn negatiewe invloed op die omgewing. 28

Hoewel geen land vandag meer die goudstandaard gebruik nie, het lande steeds baie goud in voorraad om in moeilike tye te gebruik. Die VSA het met 8,1 ton waarskynlik die grootste hoeveelheid goud in voorraad in die wêreld. 35

Interessante gebruike van goud

Goud se eienskappe soos buigbaarheid en smeltbaarheid, asook die feit dat dit ʼn goeie geleier van elektrisiteit is, maak die wêreld se gewildste edelmetaal ideaal vir ʼn verskeidenheid van gebruike en produkte: 36

  • Juweliersware: Nagenoeg 46% van die goud wat wêreldwyd geproduseer word, word vir die maak van juwele gebruik.
  • Beleggings: Van die beste maniere om in goud te belê, is die aankoop van goudmunte of -stawe. Die Suid-Afrikaanse Krugerrand is die goudmunt wat wêreldwyd die meeste gebruik word vir beleggings. Die eerste 22 karaat-Krugerrand is op 3 Julie 1967 gemunt.
  • Tandheelkunde: Goud word onder meer vir vulsels en krone in tandheelkunde gebruik omdat dit so maklik ingesit kan word en ook nie allergieë veroorsaak nie.
  • Medisyne: Goud word gebruik in die behandeling van kanker, tuberkulose en artritis. In lagoftalmos, ʼn toestand waar ʼn persoon nie sy of haar oë volkome kan toemaak nie, word daar ʼn klein bietjie goud in die boonste ooglid geplaas om die persoon te help om sy of haar oë te kan knip.
  • Ruimtevaart: Goud word aan die binnekant van ruimtetuie gebruik om ruimtevaarders teen infrarooistrale en hitte te beskerm.
  • Elektroniese toestelle: Goud is ʼn doeltreffende geleier en is dus perfek om in stroombane te gebruik. ʼn Klein hoeveelheid goud word in die meeste elektroniese toebehore soos selfone, televisies en GPS’e gebruik. Danksy goud se vermoë om digitale data of inligting vinnig en akkuraat oor te dra, kan dit ook in die meeste skoot- en lessenaarrekenaars gevind word.
  • Erkenning: Goud word as ʼn manier gebruik om erkenning aan prestasies te gee deur medaljes, beeldjies en trofeë daarvan te maak. Die Oscar-beeldjies en Olimpiese medaljes bevat onder meer goud.

Goud vandag in Suid-Afrika en die res van die wêreld

Na raming is tussen 40% en 50% van die wêreld se goud wat gemyn is, aan die Witwatersrand gemyn. 37 In 1975 het Suid-Afrika 40% van die wêreld se goud verskaf. Sedert 2005 het die produksie van goud met 54% verminder totdat Suid-Afrika in 2010 in die derde plek ná China en Australië as grootste goudproduserende lande in die wêreld ingeskuif het. 38

China was in 2022 die grootste produsent van goud in die wêreld, gevolg deur Australië, Kanada en Rusland. Ghana is die grootste produsent van goud in Afrika. 39

Die diepte van Suid-Afrika se myne is waarskynlik die grootste rede hoekom Suid-Afrika nie meer so baie goud aan die wêreld kan verskaf nie. Die koste om die konstruksie van myne te verander, is geweldig hoog. 40 AngloGold Ashanti se Mponeng-goudmyn, suidwes van Johannesburg, Gauteng, is die diepste myn ter wêreld. Delwing vind op tussen 3,16 en 3,84 km ondergronds plaas en daar is planne om eindelik ʼn diepte van 4,27 km te bereik. 41 Op dié diepte is die rotstemperature tussen 50 °C en 60 °C! 42

Daar is tans 86 aktiewe goudmyne in Suid-Afrika, waarvan 40 ondergronds is. Die meeste myne kom steeds aan die Witwatersrand voor. Hierdie goudreserwes strek oor 56 km van Bedfordview aan die Oos-Rand deur Johannesburg en Roodepoort tot by Krugersdorp aan Gauteng se Wes-Rand. Goud word ook in Barberton in Mpumalanga, Kuruman in die Noord-Kaap, die Vrystaat- en die Noordwes-provinsie gevind. 33

Die toekoms van goud in Suid-Afrika is gelukkig nog lank nie verby nie. Met die verbetering van tegnologie, vaardighede en tegnieke, wag daar ongeveer 15 miljoen onse goud om uit ou mynhope te ontgin. Nuwe myne soos die Burnstone-myn naby Johannesburg behoort vir die volgende 25 jaar nog goud op te lewer. Daar is ook die Doornkop South Reef-myn wat na verwagting 82 ton goud oor ʼn tydperk van 20 jaar kan lewer. 38

Woordbank

alliansies Vereniging/verbond tussen mense/volke; bondgenootskap.
alluviaal Grond wat deur lopende water weggespoel is/word; spoelgoud.
antiek Baie oud; uit die ou tyd.
artefak Eenvoudige voorwerp wat deur mense in ʼn prehistoriese tyd gemaak is en wat argeologiese of historiese waarde het.
atoom Kleinste deeltjie van ʼn chemiese element wat selfstandig of in verbinding met ander atome kan bestaan.
delwer Persoon wat na minerale, veral diamante, grawe.
edelmetale Metaal wat nie roes nie, veral goud/silwer.
erts Metaalhoudende delfstof.
farao Titel van die konings van Ou Egipte.
fiat Bevel; beslissing.
goudstandaard Geldstelsel waarvolgens goud die enigste standaard vir waardebepaling uitmaak deurdat die nasionale geldeenheid ʼn sekere gewig aan goud voorstel en banknote vrylik ingewissel kan word vir goue standaardmunt, en die in- en uitvoer van goud ook vrylik kan geskied.
grafkelder Gemesselde vertrek, soms (gedeeltelik) onder die grond, waarin lyke in doodskiste weggelê word in plaas van in grafte in die grond begrawe te word.
hulpbron Enigiets wat tot nut van die mens is, veral met betrekking tot bestaansmiddele.
immigrante Iemand wat van elders af ʼn land binnekom om hom/haar blywend/permanent daar te vestig; inkomende landverhuiser.
inflasie Waardevermindering van geld, veral deur die grootskaalse uitgee van ongedekte papiergeld.
kernfusie Samesmelting van ligtere atome om swaarderes te vorm, met vrystelling van ontsaglike hoeveelhede energie; ʼn kernreaksie wat die grondslag vorm van die waterstofbom.
kleims Stuk grond waarin moontlik waardevolle minerale/edelstene kan wees, (veral in die ou dae) deur ʼn delwer afgepen sodat hy/sy daarin kan delf.
neutronsterre Ster wat hoofsaaklik saamgestel is uit neutrone, vermoedelik onder eie swaartekrag saamgetrek het uit ʼn gewone ster, sy draaimomentum behou en al vinniger begin draai het totdat ʼn draaiperiode van tussen 4 sekondes en enkele tientalle millisekondes bereik is.
prospekteerders ʼn Terrein ondersoek om te kyk of daar ertse/olie/ens. is.
reserwes Wat teruggehou word om later te gebruik; noodvoorraad.
skag Vertikale uitgrawing wat toegang gee tot ʼn myn.
supernova Nuwe, uitsonderlik helder ster – met lig tot 100 miljoen keer sterker as dié van ons son.
uraan Wit, metallieke, smeebare, radioaktiewe element, die vernaamste bron van radium. Uraan is noodsaaklik vir die vrystelling van atoomenergie.
verstedeliking Die verskuiwing van die bevolking vanaf landelike na stadsgebiede.
wisselkoerse Koers waarteen die geldeenheid van een land vir dié van ʼn ander land verruil kan word. 51

Lees dié artikels om nog meer oor goud te leer

Kyk hierdie video’s om meer oor goud te wete te kom

Só het die graftombe van Toetankamen gelyk

Binne die wêreld se diepste goudmyn in Suid-Afrika

Hoe die waarde van ʼn dollar bepaal word

ʼn Liedjie oor een van die delwers in Mpumalanga in 1893

 

 

 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 Julie 2022 | Bygewerk op 3 April 2024