Vinnige feite

Zoeloes val by die Slag van Isandlwana aan
  • Die Zoeloes het nie eintlik beplan om die Britte by Isandlwana aan te val nie. Dit was nuwemaan en hulle het geglo mens veg nie op ’n dag wanneer dit donkermaan is nie. 1
  • Die monument wat die Slag van Isandlwana gedenk, bestaan uit ’n reusagtige voorstelling van ’n Zoeloe-vegter se halssnoer of isiQu, die Zoeloe-ekwivalent van ’n oorlogsmedalje. Uitsonderlike dapper krygers is toegelaat om só ’n halssnoer te dra. Dié halssnoer in brons rus op ’n ronde voetstuk, en neem die vorm ’n bul se horings aan. Dié “horings” se punte wys na die heuwel waar die krygers gesterf het. Rondom die basis is ’n aantal “slaapkussings” of “komberse”, wat simboliseer dat die krygers “slaap”. Die kunstenaar is Gert Swart. 1
  • Die keiserlike prins Napoléon Eugène Louis Jean Joseph Bonaparte (ook bekend as Louis-Napoleon) en enigste kind van keiser Napoleon III, het tydens die oorlog in die Britse magte gedien. Hy het egter op 1 Junie 1879 gesneuwel toe Zoeloe-soldate ’n verkenningspatrollie waarvan hy lid was, oorrompel het. 4
  • By die Slag van Ulundi, het die Zoeloes die aanstormende Britte Impi yaso Cwecweni (‘Die skitterende leër’) genoem vanweë die son se refleksie vanaf hul blink gepoleerde uniformknope, medaljes en lanse asook hul wapperende vlaggies. 2
  • Ná die Slag van Ulundi het baie Britse soldate soeweniers (gedenkstukke) gevat, soos een Britse soldaat, Charles Norris Newman, geskryf het: “After the battle we took and divided the trophies of war, including their native dress, arms, and accoutrements, and we keep them yet, as most prized and hardly won trophies”. Dit maak dit duidelik dat die Britte wel groot respek vir die Zoeloes gehad het. 2
  • Met die afbrand van oNdini, is die Inkatha, ’n heilige simbool vir die Zoeloe-nasie, vernietig. Die Inkatha is ’n sterk saamgevlegde krans van gras en is volgens gebruik op die kop geplaas om die gewig van ’n swaar las te dra en te verlig. Dié spesifieke Inkatha was in ’n hut van die koninklike Zoeloe-huis weggesteek. Zoeloe-konings het geglo die Inkatha het aan hulle magte gegee om te regeer. Daarom het die Inkatha vandag nog groot betekenis in die Zoeloe-kultuur aangesien dit die geestelike en politieke magte van Zoeloe-konings verteenwoordig. 1
  • Die KwaZulu-kultuurmuseum is op die terrein van oNdini geleë. 2

Die meeste van ons weet van die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 toe die Boere teen die Britte geveg het. Maar almal weet dalk nie dat die Britte ook  teen die Zoeloes oorlog gevoer het nie.

Die Anglo-Zoeloeoorlog was ’n stryd tussen Brittanje en die Zoeloe-koninkryk van koning Cetshwayo in 1879. Die Zoeloes het ’n roemryke oorwinning behaal in die eerste geveg by die Slag van Isandlwana. Hulle is egter uiteindelik verslaan, en dit het die einde van die Zoeloe se onafhanklikheid beteken.

Cetshwayo

Aanloop tot die stryd

In die 1870’s het Brittanje besluit al die verskillende gebiede en mense van Suid-Afrika onder Britse beheer te verenig. Dit het die inheemse groepe ingesluit, want die Britte wou hulle as werkers op die myne hê. 1 Die Zoeloe-koninkryk was die sterkste inheemse groep in Suid-Afrika, en dus die grootste moontlike struikelblok vir die Britse planne. 2

Sir Bartle Frere het in 1877 die Britse Hoë Kommissaris vir Suid-Afrika geword. Op 11 Desember 1878 het hy ’n ultimatum aan die Zoeloes gestel wat onmoontlik was om na te kom: hulle moes die wapen neerlê en Cetshwayo moes sy mag prysgee. Indien daar nie aan hierdie ultimatum sou voldoen word nie, moes hulle gereedmaak vir oorlog. 1

Die uitbreek van die oorlog

Die Zoeloes het die ultimatum geïgnoreer. Op 11 Januarie 1879 het 17 000 Britse troepe onder leiding van generaal Chelmsford (Frederick Augustus Thesiger, 2de Baron) Zoeloeland binnegeval. Die Britte het gedink dit gaan ’n vinnige oorlog wees, want die inval (so het hulle gedink) sou die Zoeloes laat versplinter. Meeste Zoeloes het hulle egter aan die kant van koning Cetshwayo geskaar. 3

Die militêre Ontruiming van Zoeloeland, ‘n blok op die pad

Die Britse magte het aanvanklik uit ’n samevoeging van Britse en Natalse soldate bestaan, en omtrent die helfte van dié mag was van die Natal Native Contingent, met ander woorde swart soldate onder wit offisiere. Hulle het Zoeloeland in drie kolonne ingeval – een van Transvaal af, een suid deur Eshowe, en een in die middel deur Rorkesdrif en die Mzinyathi-rivier. 3

Isandlwana

Die middelste kolon, onder bevel van generaal Chelmsford, het opgeruk na oNdini, Cetshwayo se hoofstat. Hulle het by die Isandlwana-heuwel kamp opgeslaan. 2 Om hulle vir die stryd voor te berei is Zoeloe-soldate eers met tradisionele medisyne besprinkel. Daarna het hulle onder leiding van hoofman Ntshingwayo kaMahole Khoza en hoofman Mavumengwana kaNdlela Ntuli opgetrek om hul koninkryk te gaan verdedig. Cetshwayo het hulle verseker hulle sal die Britte in een dag verslaan. 1

Die Britte by Isandlwana het nie geweet waar die Zoeloes se hoofmag was nie. Hulle het nie geweet waar die Zoeloes se hoofmag was nie. Dit as gevolg van ’n stukkie briljante Zoeloe-taktiek, naamlik om in klein groepies rond te beweeg met die doel om die vyand te verwar. 2

Toe Chelmsford ’n groepie Zoeloe-soldate teëkom, het hy verkeerdelik gedink dat dit die Zoeloe se hoofmag was. Hy het die helfte van sy soldate agter hierdie troepe aangestuur. 1 Die res het by Isandlwana onder kolonel Henry Pulleine agtergebly. 2 Hierdie mag het nie ’n aanval verwag nie, en dus nie verskansings opgerig of laergetrek nie. 1

Die volgende dag het kolonel A.W. Durnford met nog ’n afdeling soldate daar aangekom om die bevel oor te neem. Durnford was dapper, maar onverstandig. Hy het ’n groepie Zoeloe-soldate oorhaastig agtervolg en toe onverwags op die hele Zoeloe-amabuthu van 20 000 troepe afgekom. 2

Die Zoeloes het nie beplan om daardie dag aan te val nie, maar nadat die Britte hulle gewaar het, het hulle nie ’n keuse gehad nie. Die Britte was egter totaal onvoorbereid en hul troepe was wyd uitgesprei.

Die Zoeloes het blitsig in hul bekende horingformasie opgeruk. Ten spyte van groot verliese, het hulle dit reggekry om die Britte se voetsoldate te omvleuel en van agter af aan te val. Die Britte het onder aanhoudende Zoeloe-aanvalle probeer terugval na hul kamp toe. Na minder as drie uur was die geveg verby en die Zoeloes het as oorwinnaars uit die stryd getreë. 3

Die paar Britse oorlewendes, met die Zoeloes op hul hakke, het oor die nek van die heuwel gevlug en die pad na Rorkesdrif in die Mzinyathi- (Buffels-) rivier gevat. 2

’n Derde van Chelmsford se vegkolon het gesneuwel: 52 offisiere, 727 wit soldate en 471 van hul swart soldate. Die Zoeloes was genadeloos: hulle het geem gevangenes geneem of lewens gespaar nie. Hulle het ook alles in die Britse kamp gebuit. 1

Rorkesdrif

Dieselfde aand het die Zoeloes die Britte by Rorkesdrif, ‘n gefortifiseerde Britse pos, aangeval. Cetshwayo het die aanval verbied maar is deur sy halfbroer geïgnoreer. Die aanval het 12 uur lank geduur, maar die Zoeloes kon nie die Britse pos oorneem nie. 3 Die les van Rorkesdrif was dat die Zoeloes sou sukkel om ’n gefortifiseerde pos oor te verower. Dit het ook gewys wat ’n klein mag met sterker vuurkrag kon doen. Die Zoeloes het 500 man hier verloor. 1

Die oorlog duur voort

Die Britte wou die loesing by Isandlwana wreek en het versterkings aangevra. Teen einde Maart 2 het daar nog sowat 9 000 Britse soldate aangekom. 3 Dit het Chelmsford in staat gestel om ‘n nuwe aanslag op Zoeloeland te loods. 1

Die Zoeloes het hierna twee nederlae gely. Op 29 Maart by Khambula het hulle vir om en by vier uur lank ‘n Britse fort en laer aangeval. Dit het egter nooit gelyk of hulle sou wen nie, en hulle moes uiteindelik vlug. 2 000 Zoeloes is hier dood en sowat 1 000 noodlottig gewond. 3 

Op 2 April het die Zoeloes die Britte by Gingindlovu aangeval. Die Britte het hier laergetrek en loopgrawe gegrawe. Die Zoeloe-aanval is met kragtige, gefokusde geweervuur afgeweer, onder meer van die Britte se Gatling-masjiengewere, wat op 1 000 m akkuraat kon skiet. Die geveg was binne ’n uur en ’n half verby. Meer as 1 000 Zoeloes het gesterf. 3

Ná die Zoeloe-nederlae by Rorkesdrif, Khambula en Gingindlovu moes Cetshwayo se magte die aftog blaas. Dit was duidelik dat hulle nie die oorlog kon wen nie. Cetshwayo het sy weermag verbied om gefortifiseerde poste aan te val. Hy het ook probeer om met die Britte oor vrede te onderhandel, maar sonder sukses. 2

Die Slag van Ulundi

In Julie het Chelmsford weer met ’n groot mag na oNdini opgeruk. 1 Die plan was om vir Cetshwayo te vang en die hart uit die Zoeloe-nasie te haal. 3

Op 4 Julie het die Britte die Wit Umfolozirivier gekruis en in vierkantige formasie op ’n vlakte aangetree, gereed vir ’n aanval. 3 Chelmsford het aspris die Zoeloes op die oop grond aangevat, want hy wou ’n punt maak: met gekonsentreerde geweervuur kon die Britte die Zoeloes op enige plek wen. 2

Die Slag van Ulundi het 09:00 die oggend begin. Die Zoeloes het, soos gewoonlik, in hul horingformasie aangeval. Sommige het gewere gehad, maar hulle was nie ervare skutters nie en kon nie akkuraat skiet nie. Die Britte se formasie was dig genoeg, en hul Gatling-gewere, kanonne en aanhoudende geweervuur was dodelik. 1

Die geveg het ’n uur en ’n half geduur. Toe die Zoeloes se aanval begin afneem, het Chelmsford sy berede troepe losgelaat om die vlugtende Zoeloe te jag. Die gewondes is doodgesteek. Dit was ’n slagting. 2 Tussen 1 000 en 1 500 Zoeloe-krygers het gesneuwel, waarvan sowat die helfte vermoor is terwyl hulle gevlug het. 3

Die Slag van Ulundi was vir die Britte ‘n beslissende oorwinning en vir die Zoeloe-stam ’n verpletterende nederlaag. 1

Die lot van die Zoeloe

Die Britte is van die slagveld by Ulundi af oNdini toe, waar hulle die hoofstat afgebrand het. Cetshwayo het noord gevlug, maar is agt weke later in die Ngome-woud gevang en na die Kaapkolonie verban. 2 Die res van die Zoeloes is aangesê om na hul huise terug te keer en voort te gaan met hul lewe. 1

Op 1 September 1879 en ná Cetshwayo se inhegtenisneming, het sir Garnet Wolseley, die nuwe Britse bevelvoerder in Natal, die Zoeloe-koninkryk in dertien gebiede verdeel. Elkeen sou onder ‘n Zoeloe-hoofmann staan. Hierdie 13 gebiede was amptelik onafhanklik, maar in effek onder Britse gesag. 3

Die hoofmanne is deur die Britte aangestel en was in werklikheid aan die Britte onderhorig. 3 Ongelukkigheid oor hierdie besluit sou in die daaropvolgende jare nog baie bloedvergieting en oorloë in Zoeloeland tot gevolg hê.

Fort Pearson Oorlogsbegraafplaas

Woordbank

Amabuthu Die amabutho is Zoeloe-regimente (militêre eenhede / krygers). Tydens oorloë was die amabutho die voorste verdedigingslinie om die land, vroue en kinders teen indringers te beskerm. (Enkelvoud: Ibutho).
briljante Puik, besonder goed, baie slim.
gebuit Goed van die vyand vat/steel.
gefortifiseerde Van forte/vestings voorsien; met forte versterk.
inheemse Wat in die land self voorkom.
loopgraaf ’n Lang, smal voor wat in die grond gegrawe word, gewoonlik tydens ’n oorlog sodat soldate daarin kan skuil en daaruit kan skiet.
omvleuel Rondom die vleuel van ’n vyand se stelling beweeg; met ‘n vleuelbeweging omsingel.
onderhorig Afhanklik, ondergeskik.
onverstandig Sonder insig; dom, dwaas.
roemryke Glorieryk, beroemd, bewonderenswaardig, gedenkwaardig, prysenswaardig.
taktiek Strategie, krygsplan, aanvalsplan.
ultimatum ’n Dreigement wat sê as iemand nie doen wat jy sê nie, gaan hy/sy gestraf word.
verban Iemand dwing om ’n land/plek vir goed te verlaat en op ’n ander plek te gaan woon.
verskansings Verdedigingsmuur of heining; Iets waaragter ’n mens kan skuil/wegkruip.
versterkings Aanvulling, vermeerdering van krygsmagte, hulpmag, hulptroepe.
voorwendsel ’n Vals ekskuus, gebruik om die ware rede vir iets weg te steek. 5

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die Anglo-Zoeloeoorlog

Die Zoeloeoorloë (Isandlwana) – interessante dokumentêr.

Voorstelling van die Slag van Isandlwana (22 Januarie 1879)

Deel 1:

Deel 2:

Gepubliseer op: 4 November 2022 | Bygewerk op 8 Desember 2023