Vinnige feite

  • Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is meer bekend vir sy Engelse akroniem, SARS. Die SAID is Suid-Afrika se belastinggaarder. Hierdie onafhanklike agentskap administreer die belastingstelsel; vorder belasting en heffings in; en dwing belastingwette af. 12
  • Suid-Afrika se belastingjaar vir individue is altyd van 1 Maart tot die einde van Februarie (28 of 29) die volgende jaar. Maatskappye se belastingjaar strek oor enige 12 maande-tydperk en is dieselfde as hul finansiële jaar.
  • Vanaf 2000 is lugpassasiersbelasting van toepassing op passasiers wat vanaf ’n Suid-Afrikaanse lughawe na ’n bestemming in die buiteland vertrek. Die belasting is nie van toepassing op binnelandse vlugte nie. Dit geld slegs vir passasiers wat die land op ’n internasionale vlug verlaat. Operateurs (lugdienste), geregistreerde agente (wat namens operateurs optree) of huurmaatskappye moet hierdie belasting aan die SAID oorbetaal. 13
  • As mense sterf, dan het hulle gewoonlik ’n testament wat uiteensit wat met hul boedel moet gebeur. ’n Boedel is dit wat die persoon agterlaat, soos eiendom. In Suid-Afrika is boedelbelasting betaalbaar op die boedel van elke afgestorwene wie se netto boedelbedrag meer as R3,5 miljoen beloop. Die netto boedelbedrag is die bedrag wat ná aftrekkings oorbly. Die belasting word teen ’n koers van 20% gehef (2023). 14
  • ’n IRP5-sertifikaat is die belastingsertifikaat wat Suid-Afrikaanse werkgewers aan hul werknemers gee. Die belastingbedrag, wat reeds deur werkgewers namens hul werknemers betaal het, verskyn daarop.
  • ’n ITR12-opgawe is die inkomstebelastingopgawe wat Suid-Afrikaanse belastingpligtiges se inkomste en aftrekkings uiteensit. Dit is alle burgers se verantwoordelikheid om dit jaarliks in te dien.
  • Party mense vul self jaarliks hul belastingopgawes in en ander betaal ’n kenner soos ’n belastingpraktisyn om dit namens hulle te doen.
Foto: iStock

Ken jy die woord belasting? Jy het dalk al gehoor hoe grootmense oor die belasting kla wat al hoër en hoër word en dat die regering nie hul belastinggeld moet mors nie en dit reg gebruik.

Belasting is die verpligte betaling aan die staat of ander owerheidsliggame om uitgawes te dek. 1

Die staat het baie geld nodig om dinge in die land vlot te laat verloop. Daar moet geld wees vir onderwys, gesondheidsorg, behuising, vervoer en veiligheid (beskerming deur die weermag en die polisie). Daar is baie werklose en behoeftige mense in Suid-Afrika en die staat het geld nodig om hulle te help. Hierdie geld word maatskaplike toelaes genoem. Soms verhoog die staat ook belasting op sekere produkte, soos sigarette, om ongesonde gewoontes soos rook te voorkom en om natuurlik hul inkomste te verhoog. 2

Geld wat via belasting ingevorder word, is die hoofbron van inkomste vir regering, maar hulle het gewoonlik ook ander maniere om nog geld te maak, soos beleggings.

As ’n Suid-Afrikaner werk en bo ’n sekere bedrag verdien, is hy of sy belastingpligtig. ’n Mens word dus verplig om belasting aan die regering te betaal. Mense en maatskappye betaal belasting op grond van hul inkomste, wins, verkope, eiendomme, en dies meer. 3

Die belasting wat mense en maatskappye betaal, wissel elke jaar. In Suid-Afrika word die belastingkoerse jaarliks aangepas volgens dit wat in die nasionale begrotingsrede afgekondig word. Die minister van finansies lewer jaarliks ’n begrotingsrede in Februariemaand en vertel hoeveel geld die staat verwag om in te vorder en hoeveel geld hulle verwag om uit te gee.

Die minister gee dan nuwe inkomstebelastingdrempels en belastingskale vir daardie jaar deur.

Die inkomstebelastingdrempel verwys na die hoeveelheid belasting wat mense moet betaal op grond van hul inkomste en ouderdom. Die belastingskaal word weer op mense se inkomste gebaseer en, op grond van die inkomstekategorie waarin hulle val, word daar ’n sekere persentasie van hul salaris vir belasting afgetrek.

Iemand wat byvoorbeeld R200 000 per jaar verdien, se belastingaftrekking verskil van iemand wat R500 000 per jaar verdien. Met ander woorde, ’n groter persentasie word van ’n hoër inkomste afgetrek. 4

As jy nie jou belasting betaal nie of oor jou inkomste jok, kan jy in groot moeilikheid kom en dit word belastingontduiking genoem. Jy kan boetes opgelê word en selfs tronk toe gestuur word.

Waar kom belasting vandaan?

Belasting kom uit die antieke tye toe mense goedere en dienste aan ’n regeerder gegee het in plaas van geld. Boere het byvoorbeeld ’n deel van hul oeste as belasting gegee.

Die owerhede van antieke Rome het egter belasting in die vorm van geld ingewin.

Belasting het deur die jare al hoe belangriker vir lande geword, hoewel burgers nog nooit regtig daarmee gelukkig was nie.

Die koloniste wat die Amerikaanse Revolusie in 1775 begin het, was kwaad omdat hulle belasting aan Brittanje moes betaal, maar geen stemme in die parlement gehad het. ’n Onregverdige belastingstelsel was ook een van die redes van die Franse Revolusie wat in 1789 begin het. Baie regerings het in die 1900’s begin kyk na nog maniere om geld te maak sonder om belasting te verhoog. 5

Twee hooftipes belasting

Ons praat van indirekte en direkte belasting. Direkte belasting is die belasting wat mense direk aan die regering betaal. ’n Voorbeeld hiervan is inkomste- en maatskappybelasting.

Indirekte belasting is die belasting wat die regering hef deur middel van ’n onderneming of diensverskaffer, soos belasting op toegevoegde waarde, aksyns en brandstof.

’n Paar bekende tipe belastings

Aksyns

Aksynsbelasting is die belasting op verbruiksmiddele wat binnelands voortgebring of verbruik word.

Die inkomste-genererende oogmerk (doel) van aksynsbelasting is om die regering se uitgawes vir onderwys, behuising, gesondheidsorg, ensovoorts deur die jaarlikse begroting te finansier. Maar nóg ’n oogmerk is om die belasting te gebruik as instrument om die gebruik van bepaalde produkte (soos alkohol, sigarette, plastieksakke, brandstof, ens.) wat potensieel skadelik is vir die omgewing en burgers se gesondheid, te ontmoedig. 6

Dié belasting se meer bekende naam is sondebelasting. Aksynsbelasting is dus die indirekte heffings en belastings wat op sekere produkte, soos hierbo genoem, gehef word. Hierdie produkte kan óf plaaslik gemaak óf ingevoer word. 7

Belasting op toegevoegde waarde (BTW)

Dit is die belasting wat op alle produkte en dienste gehef word, met die uitsluiting van produkte en dienste wat noodsaaklik is.

Die Wet op Belasting op Toegevoegde Waarde het in 1991 in Suid-Afrika in werking getree. Voor BTW, was daar ’n gewone verkoopsbelasting in Suid-Afrika en BTW is as ’n kragtiger verbruiksbelasting gesien. Dié tipe belasting het vir die eerste keer sy verskyning in 1954 in Frankryk gemaak. Vandag maak meer as 160 lande wêreldwyd van ’n BTW-stelsel gebruik. BTW word ook goedere-en-dienste-belasting genoem. 8

In Suid-Afrika behels BTW dat 15% op die meeste goedere en dienste gehef word (2023).

Daar is sekere produkte en dienste wat van BTW vrygestel word. ’n Mens betaal byvoorbeeld nie belasting op, onder meer, skoolgeld of mieliemeel nie. Dit word as noodsaaklik beskou en word so goedkoop as moontlik gehou sodat arm mense dit ook kan bekostig.

Dividendbelasting

As mense aandele in ’n maatskappy besit, word hulle aandeelhouers genoem. As die aandele goed presteer, word daar geld aan die aandeelhouers uitbetaal. Die geld word dividende genoem en die aandeelhouers deel dus in die wins van die maatskappy waarin hulle belê het. Hierdie dividende is egter belasbaar en ons noem dit dividendbelasting. 1

Inkomstebelasting

Maatskappye trek self belastinggeld van hul werknemers se salarisse af. Hulle stuur dan die geld vir die regering. Mense betaal belasting op grond van die hoeveelheid geld wat hulle verdien en hul ouderdom. Dus, hoe hoër jou salaris, hoe hoër is die belastingbedrag wat jy moet betaal.

Aan die einde van die belastingjaar moet mense hul belastingopgawes voltooi en dit by die belastinggaarder indien. Daardie tydperk van indiening word die belastingseisoen genoem.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is Suid-Afrika se belastinggaarder. Die belastingopgawe is die vorms wat die regering ’n goeie idee gee van hoeveel geld mense maak en watter aftrekkings hulle het. Sekere aftrekkings kan geëis word sodat mense minder belasting hoef te betaal.

Nadat die SAID die opgawes afgehandel het, word mense verwittig dat hulle óf nog geld moet inbetaal (as hulle te min belasting deur die jaar betaal het) óf geld terugkry (as hulle te veel betaal het of as daar aftrekkings is wat geëis kan word).

Kapitaalwinsbelasting

Kapitaalwinsbelasting (KWB) is nie ’n afsonderlike belasting nie, maar vorm deel van die inkomstebelasting. As ’n mens ’n bate verkoop en jy maak ’n wins daarop, dan word dit kapitaalwins genoem. Hierdie kapitaalwins is dan belasbaar en dit geld vir individue, trusts en maatskappye. 9

Maatskappybelasting

Maatskappye moet belasting betaal op grond van die hoeveelheid geld wat hulle maak. Hoe groter hul wins, hoe meer geld moet hulle aan die belastinggaarder betaal.

Volgens die Wet op Inkomstebelasting (1962) moet die volgende maatskappye belasting betaal (dit is egter nie tot hierdie lys beperk nie): genoteerde en ongenoteerde openbare maatskappye (genoteer beteken dat dit amptelik op die aandelebeurs verskyn), privaat maatskappye, beslote korporasies, koöperasies, kollektiewe beleggingskemas, kleinsakekorporasies, beheerliggame, aandeelblokmaatskappye, rustende maatskappye, en openbare welsynsorganisasies. 10

Voorlopige belasting

Hierdie belasting nie ’n afsonderlike belasting nie. Dit is net ’n ander metode om verskuldigde belasting te betaal en mense moet dit betaal indien hulle enige ander inkomste buiten ’n vaste salaris ontvang. Mense wie se salaris dus nie maandeliks deur werkgewers afgetrek word nie, moet voorlopige belasting betaal. Dit sluit byvoorbeeld ook geld in wat jy op beleggings maak en die wins wat jy maak as jy eiendom verhuur.

Belastingpligtiges moet minstens twee bedrae gedurende die belastingjaar vooruit betaal. Dié bedrag word bereken op belastingpligtiges se beraamde inkomste. 11

Woordbank

aandele ’n Deel wat iemand in ’n saak, eiendom of onderneming het/besit.
akroniem Letternaam; “Eskom” word soos ’n woord uitgespreek en is dus ’n akroniem.
aksynsbelasting Belasting op verbruiksmiddele wat binnelands voortgebring of verbruik word; ook sondebelasting genoem wanneer dit produkte wat gesondheidsrisiko’s inhou, insluit.
bate Dit is ’n besitting wat iemand tot sy voordeel kan aanwend.
belasbaar Dit is wanneer ’n mens onderworpe is aan belasting, m.a.w. jy moet belasting betaal.
belasting Dit is die verpligte betaling aan die staat of ander owerheidsliggame om uitgawes te dek.
belastinggaarder ’n Amptenaar wat namens die staat die belasting moet invorder; belastingontvanger.
belastingontduiking Dit is wanneer iemand nie sy belastingverpligtinge nakom nie.
belastingopgawe ’n Opgawe van inkomste wat aan belasting onderworpe is en gedurende ’n bepaalde tydperk ontvang is.
belastingpligtig As ’n mens verplig word om belasting aan die regering te betaal.
boedel Dit is iemand se nalatenskap.
boetes Geldstraf (geld wat jy moet betaal) om ’n oortreding goed te maak.
burgers Die inwoners van ’n land.
dividende Die aandeel in die wins wat aan aandeelhouers uitbetaal word.
genereer Om te maak/in te bring.
ingewin Om te maak/in te bring.
korporasie Verenigde groep persone wat gemagtig is om as een op te tree.
koöperasie n Koöperatiewe/samewerkende onderneming.
genoteer Om ’n maatskappy se naam op die aandelebeurs te kry/openbaar te maak.
oogmerk Doel, ideaal, mikpunt.
owerheidsliggame Regeringsinstansies.
revolusie Opstand teen die gesag/owerheid.
staat Die regering.
toegevoegde waarde   Dit is die waarde van ’n produk (of diens) waarmee die waarde van genoemde produk/diens tydens verwerking styg tot op die oomblik dat dit aan die verbruiker verkoop word.
verskuldigde Betaalbaar, uitstaande, verplig om skuld te betaal.
verwittig In kennis stel, laat weet; meedeel.

Lees hierdie artikel om belasting beter te verstaan

Kyk hierdie video’s oor belasting

Wat is belasting?

Hoekom belasting (in alle lande!) belangrik is

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 11 November 2022 | Bygewerk op 23 Januarie 2024