Vinnige feite

  • Die regerende African National Congress- (ANC-)party in Suid-Afrika se ideologie was uit die staanspoor Afrika-nasionalisme. Oudpresident Nelson Mandela het eens gesê dat die ANC staan vir die konsep van vryheid en vervulling vir Afrika-mense in hul eie land. 6
  • Daar is baie gevalle waar nasionalisme tot slegte dinge in die wêreld gelei het. Nasionalisme is byvoorbeeld gebruik om imperialisme (die politieke beleid van ʼn staat om ander gebiede onder sy mag en invloed te bring) en kolonialisasie (groot state wat minder ontwikkelde lande oorheers) te regverdig, en Adolf Hitler het nasionalisme gebruik om die Duitsers aan sy kant te kry en het toe gruwelike misdade gepleeg.
  • Swart nasionalisme was ook ʼn politieke en sosiale beweging in die jare sestig en sewentig in die VSA. Die beweging het ten doel gehad om ekonomiese mag te kry en om swart mense in die land ʼn gevoel van gemeenskap te gee. 7
  • Toe Japan die Russiese Ryk in 1905 verslaan het in ʼn stryd oor grondgebied, het dit groot gevolge gehad. Die oorlog het hoop vir diegene in kolonies (lande wat deur ander lande besit word) gegee dat hulle ook hul bewindhebbers kon oorwin. 8
  • Het jy geweet dat die Eerste Wêreldoorlog ook deur nasionalisme begin is? ʼn Serwiese nasionalis het in 1914 die aartshertog Franz Ferdinand, die hoof van die Oostenryk-Hongaarse Ryk, vermoor. Oorlog is net daarna verklaar. 8
  • Joodse nasionalisme of Sionisme het in die 19de eeu ontstaan soos Europese Jode na hul tuisland of Sion getrek het. Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog en ná die Joodse volksmoord, is daar besluit dat ʼn Joodse staat gestig moet word in die Palestynse gebied wat die Britte eers beheer het. Die Israelse staat is gevolglik in 1948 gestig. 8
  • Ná die val van die Berlynse muur in 1989 en later die Sowjetunie is nuwe onafhanklike lande gestig. Die voormalige Joegoslawië was die tuiste van Kroatiese Katolieke, Ortodokse Serwiërs en Bosniese Moslems. Massanasionalisme en etniese vyandskap tussen die groepe het begin versprei en tot konflik gelei waarin honderde duisende mense dood is. 8
Foto: iStock

Was jy al by ʼn wedstryd waar die Springbokke gespeel het? Al was jy nog nooit daar nie, is ek seker jy weet hoe dit by só ʼn stadion lyk en hoeveel mense die Springbokke ondersteun. Hulle trek Springboktruie aan, en Suid-Afrikaanse vlae wapper trots. Hulle wys hul ondersteuning, want hulle is trots daarop om Suid-Afrikaans te wees.

As jy van Suid-Afrika afkomstig is, is jou nasionaliteit Suid-Afrikaans, en as jy baie lief vir jou land en lojaal daaraan is, is jy patrioties. Patriotisme is ʼn gevoel van trots, liefde en lojaliteit teenoor jou land. 1

Nasionalisme is ook die liefde en trots vir jou eie land en nasie, maar met die behoefte om onafhanklik te wees.

Dit klink baie dieselfde, nè?

Die meeste mense stem saam dat nasionalisme wel patriotisme so ʼn bietjie verder vat, en dit is dikwels deel van die ideologie van nasionalistiese politieke partye of groepe. ʼn Ideologie is die idees en sienings wat die grondslag van politieke partye vorm.

In ons moderne wêreld is nasionalisme niks nuuts nie. Baie lande se burgers is lojaal aan hul land of aan hul etniese groep. Baie geskiedkundiges sê wel dat nasionalisme een van die belangrikste faktore is wat die moderne geskiedenis gevorm het en steeds vorm. 2

Nasionalisme kan positief wees omdat dit mense ʼn gevoel van samehorigheid of solidariteit gee, maar die keersy is dat mense dikwels dan ook blind vir hul land se foute kan wees of dat hulle dink dat hul land of kultuur beter as ander s’n is. 2

Waar het dit begin?

Die Puriteinse Revolusie in die middel van die 1600’s in Engeland word gesien as die eerste keer toe nasionalisme regtig na vore getree het. Dit het ook die Amerikaanse en Franse nasionalisme in die 1800’s geïnspireer. Amerikaanse koloniste het in die laat 1700’s met hul stryd vir onafhanklikheid en individuele regte begin. Dit het gelei tot die Amerikaanse Revolusie in 1775 en hul onafhanklikheidsverklaring in 1776. Dit het weer die Franse Revolusie van 1789 beïnvloed. 3

‘n Illustrasie van die Franse Revolusie, een van die eerste betekenisvolle manifestasies van nasionalisme.

Die Franse en Amerikaanse Revolusies word as die eerste betekenisvolle manifestasies van nasionalisme gesien. 2

Die Eerste Wêreldoorlog in die vroeë 1900’s het tot ʼn golf van nasionalisme gelei. Die Ottomaanse, Habsburgse en Russiese Ryke het tot ʼn val gekom, en lande soos Oostenryk, Hongarye, Tsjeggo-Slowakye, Pole, Joegoslawië, Roemenië en Turkye is gebore. 2

Loopgrawe met sandsakke tydens die Eerste Wêreldoorlog in België.

Later in die 1900’s het nasionalisme ook in Afrika en Asië gegroei. Europese lande het groot gedeeltes van hierdie kontinente gekolonialiseer, en mense het daarteen begin opstaan. Hulle wou hul eie lande regeer en wou nie meer buitelandse beheer hê nie. Hierdie nasionalisme het tot revolusionêre leiers – soos Kemal Atatürk in Turkye, Mahatma Gandhi in Indië, en Sun Yat-sen in China – gelei.

Mahatma Gandhi het hom vir nasionalisme en die onafhankelikheid van Indië beywer.

Ná die Eerste Wêreldoorlog het die Nazi-leier Adolf Hitler ʼn nuwe soort fanatiese nasionalisme in Duitsland tot stand gebring: een wat tot ʼn menseslagting en die Tweede Wêreldoorlog gelei het. Ná die oorlog het nuwe vorme van nasionalisme verskyn, en dit is grootliks gedryf deur die strewe na onafhanklikheid. Mense wou hul eie lande en hul eie identiteite hê. 3

Heelwat lande in Asië en Afrika, wat eers deur die Britse Ryk, Frankryk en ander Europese lande beheer is, het ná die oorlog onafhanklikheid verkry. 2 Só is Indië, Algerië, Indonesië, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Botswana gebore.

Nasionalisme was ook in die laat 1900’s en vroeë 2000’s ʼn groot faktor met die skeiding van Tsjeggo-Slowakye en Joegoslawië.

Nasionalisme vandag

Nasionalisme is ʼn faktor wat dikwels tot konflik lei. ʼn Goeie voorbeeld is die Midde-Ooste waar daar al vir baie jare konflik tussen Israel en die Palestyne bestaan. Die Palestyne soek selfbeskikking (outonomie) en hul eie grondgebied. Daar is nog nasies, soos die Palestyne, wat nie hul eie lande het nie. Dink byvoorbeeld aan die Baske van Frankryk en Spanje, en die Koerde van Suidwestelike Asië. 2

Daar is vandag ʼn toename van nasionalistiese sentiment om die wêreld heen. ʼn Voorbeeld hiervan is die omstrede onttrekking van Brittanje aan die Europese Unie. Een van die redes hiervoor is dat baie Britte voel dat hulle hul eie nasionale identiteit moet terugkry.

Die Verenigde State van Amerika (VSA) is nog ʼn voorbeeld. Die omstrede oudpresident Donald Trump het die Amerikaanse verkiesing in 2016 gewen omdat hy Amerikaners se gevoel van nasionalisme aangewakker het. Sy bekende slagspreuke was “Make America great again” en “America first”.

Ons sien ook in China hoe nasionalisme die grondslag van hul regering is en hul president, Xi Jinping, wil daarom van China die wêreld se voorste ekonomiese moondheid (onafhanklike, welvarende land) maak. 3

Nasionalisme in Suid-Afrika

Afrikaner-nasionalisme het ʼn groot impak op Suid-Afrika en sy toekoms gehad, maar dit was natuurlik nie die enigste nasionalisme op die kontinent nie. Soos vroeër genoem, was daar ʼn golf van nasionalisme in Afrika, wat tot die onafhanklikheid van baie lande gelei het.

Daar was sekere gedeelde kenmerke tussen Afrikaner-nasionalisme en swart nasionalisme, byvoorbeeld albei groepe het gevoel dat buitelandse magte nie inheemse bevolkings moet regeer nie. 4

As ons na Afrikaner-nasionalisme kyk, is dit belangrik om die geskiedenis in ag te neem. Verskillende faktore het daartoe bygedra, en Afrikaners se jare lange stryd vir onafhanklikheid (van Britse bewind) was een van die groot motiveerders vir nasionalisme.

Die anneksasie (besitneming of inlywing van ʼn gebied of land) van die Kaapkolonie het tot die Groot Trek gelei, aanleiding gegee tot die latere Anglo-Boereoorlog tussen die Britte en die Boere – waartydens talle Afrikaners dood is en swaargekry het in konsentrasiekampe – en dan is hordes Boere-soldate ook nog ná die oorlog in ballingskap weggevoer (gedwing om sy/haar land te verlaat). [Lees hier oor die krygsgevangenes tydens die Anglo-Boereoorlog.]

Begrafnis in ‘n konsentrasiekamp.

Die stryd was ook nie dadelik ná die oorlog verby nie, want baie mense het daarna gesukkel om weer op die been te kom. Talle plase is verwoes en mense is in uiterste armoede gedompel.

Die Unie van Suid-Afrika is op 31 Mei 1910 ingelui, maar die verdeeldheid onder die Afrikaner-gemeenskap was sommer gou-gou duidelik. Baie Afrikaners was bitter oor die Britse oorlog en het soos tweederangse burgers in hul eie land gevoel.

‘n Kaart van die eertydse provinsies van Suid-Afrika.

Toe die Eerste Wêreldoorlog aanbreek, het die Britse regering Louis Botha se regering gevra om Duits-Suidwes-Afrika (vandag Namibië) binne te val. 5 Sekere Afrikaners was ten gunste daarvan, maar talle nie, want hulle wou nie die Britte met hul oorlog help nie. Daar was sterk kulturele en familiebande tussen sommige Afrikaners en die inwoners van Duits-Suidwes-Afrika, en hulle het gevolglik gevoel dat dit soos verraad teen hul eie mense sou wees. ʼn Afrikaner-rebellie, wat die regering omver wou werp, het vorm aangeneem. Die historikus Noel Garson het genoem dat die rebellie mense wat nie voorheen nasionaliste was nie, in nasionaliste verander het.

Daar was ook ander krisisse ná die Eerste Wêreldoorlog, soos ʼn sukkelende ekonomie en werkloosheid. Baie mense het op die rand van hongersnood geleef. Daar was wydverspreide arbeidsonrus, en ʼn groot staking op 1 Januarie 1922 aan die Witwatersrand het tot baie sterftes en verwoesting gelei.

Tussen 1900 en 1930 het talle swart en wit mense verstedelik. Baie Afrikaners het van die platteland na stede getrek, en baie van hulle het nie skoolopvoeding of vaardighede gehad om in die stede werk te kry nie. Dit het tot grootskaalse armoede gelei. 5

Daar was destyds baie min Afrikaners met ondernemings. In 1937 het die Johannesburgse koerant Die Transvaler beraam dat daar nie meer as 20 Afrikaner-ondernemings in die stad was nie. Baie min Afrikaners was geskoold en het goed betalende beroepe gehad. In 1939 was net 3% van Afrikaners in topposte (soos maatskappyeienaars of direkteure), 4% was rekenmeesters, 11% was regsgeleerdes, 15% was mediese dokters en 21% was joernaliste. Minder as ʼn kwart van die senior poste in die regering is deur Afrikaners beklee. 5 Slegs ʼn kwart van die vakleerlinge in geskoolde ambagte was Afrikaners.

Dit was boonop in die tyd van ʼn wêreldwye ekonomiese krisis. Die Groot Depressie het in 1929 met die val van die aandelebeurs in New York begin, en dit het baie vinnig na die res van die wêreld uitgekring.

Suid-Afrika was ook nie gespaar nie, en ʼn lang droogte het dinge net verder bemoeilik. Baie oeste is vernietig, en vee het gesterf. Dit het nog boere genoop (gedwing) om hul plase te verlaat en stede toe trek. En, soos jy kan raai, het dit net tot groter armoede gelei. Dit was die agtergrond waarteen nasionalisme afgespeel het.

Die ontwikkeling van die taal Afrikaans het verder tot nasionalisme bygedra. Afrikaans is in 1925 as amptelike taal erken, en Afrikaans het flink vanaf die jare dertig gegroei. Die taal is meer en meer as onderrigmedium gebruik, en baie boeke en gedigte het ook verskyn. Die Bybel se eerste Afrikaanse vertaling het in 1933 verskyn, en Afrikaanse mense het trots op hul herkoms, geskiedenis en kultuur begin word. Talle boeke oor die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog het verskyn, en die Boere-vegters is as helde gesien. Dorpe en strate is na hulle genoem. Dit was ook die tyd toe Afrikaner-organisasies – soos die Voortrekkers en die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) – gestig is.

Die Mei 1924-uitgawe van die Afrikaanse vrouetydskrif Die Boerevrou. Dit was die eerste Afrikaanse vrouetydskrif – verskeie ander sou in die jare daarna volg, insluitende Sarie Marais (later bekend as Sarie) en Rooi Rose.

Afrikaanse mense het begin om allerlei kultuurdae en historiese hoogtepunte te vier, soos toe die Groot Trek 100 jaar oud was. Duisende mense het die geleentheid bygewoon en in tradisionele Voortrekkerdrag fees gevier.

Die prys van goud het in 1933 skerp begin styg, en dit het as ʼn sneller vir ekonomiese groei opgetree. Dit het ʼn groot bydrae daartoe gemaak om wit armoede te verlig en ook om Afrikaner-onderwys te verbeter. Só het Christelike Nasionale Onderwys ook later die grondslag vir onderwys geword.

Die FAK eerste uitvoerende komitee in 1919.

Afrikaners het begin om instellings en ondernemings wat deur Afrikaners besit word, te ondersteun, en Afrikaner-boere het hulp begin kry om hul plase weer op te bou. Afrikaners is aangemoedig om aan Afrikaner-vakbonde te behoort. ʼn Groot poging is aangewend om die Britse dominansie (oorheersing) van die ekonomie om te keer.

Die Afrikaner-broederbond was ʼn organisasie met die uitsluitlike doel om Afrikaner-belange uit te brei en Afrikaners in topposte in sake en politiek te kry. Hulle wou die Afrikaner Nasionaliste aan bewind kry. Baie van die Afrikaanse hooggeplaastes van destyds was lede van dié organisasie.

Afrikaners is ook gevra om geld by Afrikaanse ondernemings te belê, en dit het verdere momentum vir Afrikaanse ondernemings gebied.

Met die aanbreek van die Tweede Wêreldoorlog was daar weer eens verdeeldheid onder Afrikaners. Sekere Afrikaners was gekant teen Suid-Afrika se deelname aan die oorlog (veral aan die Britte se kant), terwyl ander weer gevoel het dat die land deel daarvan moet wees. Daar was allerlei bewegings teen die oorlog, soos die organisasie Ossewabrandwag wat Nazi-Duitsland bewonder het.

Die Nasionale Party het die nasionale verkiesing in 1948 gewen, en dit is as ʼn oorwinning van nasionalisme gesien. Hulle het die Afrikaner-stem gewen omdat hulle beloof het om die Afrikaner te help, op te hef en slegs hulle belange te bevorder. Die Afrikaner Nasionaliste was toe aan bewind, en dit het so gebly tot die eerste demokratiese verkiesing in 1994. D.F. Malan het toe gesê dat die land aan die Afrikaners behoort het. Die Afrikaner Nasionaliste het apartheid ingestel, wat sekere bevolkingsgroepe uitgesluit het en tot streng wette gelei het.

D.F. Malan

Woordbank

anneksasie Besitneming of inlywing, gewoonlik van ʼn gebied of land.
ballingskap ʼn Situasie waarin iemand gedwing word om sy/haar land te verlaat en in ʼn ander land te gaan woon.
burgers Inwoner van ʼn stad of staat.
ideologie Die idees en sienings wat die basis van ʼn politieke en ekonomiese bestel vorm.
imperialisme Die politieke beleid van ʼn staat om ander gebiede onder sy mag en invloed te bring.
gekolonialiseer Die oorheersing van groot state oor ander, minder ontwikkelde lande, veral in vorige eeue.
nasionaliste Iemand wat lief vir en trots op sy eie land en nasie is en wat die  behoefte het om onafhanklik te wees.
Nasionalis ’n Nasionalis met ’n hoofletter is ’n lid/ondersteuner van die Nasionale Party (NP) in Suid-Afrika.
kolonies ʼn Land wat deur ʼn ander land besit en oorheers word.
regering Die bestuur van ʼn land.
revolusie ʼn Situasie waarin mense van ʼn land baklei om die bestaande regering met ʼn regering van hul keuse te vervang.
verstedelik As mense van die platteland na die stede trek.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Hoe word nasionalisme gedefinieer?

Wat is nasionalisme?

Afrikaner-nasionalisme

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: AfriForum UitgewersFoto: iStock
Gepubliseer op: 14 Maart 2023 | Bygewerk op 26 Februarie 2024