Vinnige feite

  • Ten spyte van Milner se verengelsingsbeleid het hy in 1903 in ’n brief aan Koos de la Rey geskryf: “You can write to me in Dutch, if that saves you trouble, as, though I speak and write that language with difficulty, I read it with perfect ease.” 2
  • Milner was teenwoordig tydens die vredesverdrag van Versailles en was gekant teen die ontoegeeflikheid daarvan. 1
  • Milner is vir sy diens in Suid-Afrika in 1901 tot baron en in 1902 tot burggraaf geslaan. Beide is hoë range in die Britse adelstand. 3

Die Anglo-Boereoorlog (ABO) van 1899-1902 is die grootste en bekendste oorlog in Suid-Afrika se geskiedenis. Die enkele persoon wat die meeste verantwoordelikheid vir die oorlog moet dra, is waarskynlik Alfred Milner, die Britse goewerneur en hoë kommissaris.

Hy was in beheer van sake tussen 1897 en 1905, sekerlik een van die onstuimigste tydperke in Suid-Afrika se geskiedenis.

Grootwordjare

Alfred Milner is op 23 Maart 1854 in Giessen, Duitsland, gebore. Sy ouers was Britte. Sy pa was Charles Milner, ’n lektor in Engelse letterkunde aan die Universiteit van Tübingen. Sy ma, Mary Ierne, was die dogter van ’n belangrike staatsamptenaar. 1

Milner het eers skoolgegaan in Duitsland, en toe matriek voltooi aan die King’s College School in Londen. 2

King’s College School

Hy het ná skool by Balliol College, deel van die Universiteit van Oxford, gaan studeer. Milner was ’n briljante student en het verskeie beurse gewen. 3

Milner het in 1877 sy graad in klassieke letterkunde voltooi. 2

Hy het daarna vlugtig regte gepraktiseer, en is in 1881 tot die balie toegelaat. Hy het daardie beroep egter gou opgegee en homself tot joernalistiek gewend. 1

Milner het aanvanklik as joernalis by The Pall Mall Gazette gewerk, en is gou bevorder.

Balliol College

Politieke loopbaan en staatsdiens

Milner se politieke loopbaan het nie goed begin nie. In 1885 het hy die verkiesing as kandidaat vir die Britse Laerhuis (in Engels: House of Commons) verloor. 2

Hy het hierna in die staatsdiens gewerk. Hy was die privaat sekretaris vir George Goschen, die Britse minister van finansies. In 1899 het Goschen vir hom ’n pos gekry as administrateur in Egipte, op daardie stadium ’n Britse kolonie. 3 Hy het uitstaande werk gedoen en is ook hier vinnig bevorder.

In 1892 het Milner teruggekeer Engeland toe. Hy is as voorsitter van die Raad vir Binnelandse Inkomste aangestel, ’n pos wat hy tot in 1897 sou beklee. 1

Milner was gou een van die mees hoog aangeskrewe amptenare van sy tyd. Hy is dan ook in 1895 tot ridder geslaan. 3

Aankoms in Suid-Afrika

Milner is in 1897 as Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika en goewerneur van die Kaapkolonie aangestel. Hy was dus die belangrikste Britse amptenaar in Suid-Afrika. 2

In 1897 was dít een van die belangrikste poste in die Britse ryk. 3 Probleme in die Transvaal was vir die Britte ’n groot kopseer. Die mislukte Jameson-inval van 1895 het chaos gesaai. 2 Die Uitlanders – meestal Britse immigrante wat op myne gewerk het, maar geen stemreg gehad het nie – en Paul Kruger, die president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), het nie langs een vuur gesit nie. 1 Kruger was uiters wantrouig oor die Britse beleid in Suid-Afrika. 3

Paul Kruger

Milner se doelwitte in Suid-Afrika

Milner se aanstelling was ’n keerpunt in die betrekkinge tussen Brittanje en Transvaal. 4

Hy was ’n hartstogtelike imperialis. 1 Hy het geglo die Britte troon bo alle ander nasies – wit of swart – uit. Die wêreld, aldus Milner, sou ’n baie meer beskaafde plek gewees het as almal onder Britse beheer was. 2

Hy het geglo dat die Britse se mag deur die unifikasie en opkoms van Duitsland bedreig is. Duitsland het ook ’n goeie verhouding met Kruger en die Boere gehad. 1

In Suid-Afrika was Milner ’n voorstander van die federasie van die twee Britse kolonies (Kaapkolonie en Natal) en die Boerepublieke (ZAR en Oranje-Vrystaat [OVS]). Hy wou hulle onder die Britse vlag verenig. Afrikanernasionalisme in die Boererepublieke, met Paul Kruger as die middelpunt, het egter in sy pad gestaan. 4

Milner het die Boere met minagting beskou. 5 Hy het later self erken dat dit sy doelwit was om die heerskappy van die Afrikaners – dus Kruger – te vernietig. 6 Dit wou hy doen deur hul politieke mag te beperk en Suid-Afrika te verengels. 2

Die goud van die Witwatersrand het Suid-Afrika natuurlik ook van allerhoogste belang gemaak. Brittanje sou verkies het om self die goud te beheer. 1

Groen: Zuid-Afrikaansche Republiek
Oranje: Oranje-Vrystaat
Rooi: Republiek Natalia
Pers: Kaapkolonie

Eerste indrukke van Suid-Afrika

Milner het tussen Augustus 1897 en Mei 1898 deur Suider-Afrika gereis om homself vertroud te maak met die gebied. 2

Tydens sy reis is Paul Kruger in Februarie 1898 met ’n groot meerderheid as president van die ZAR herverkies. Dit het Milner laat besef dat hy slegs sy doelwitte deur groot verandering, soos oorlog, sou bereik. 3

Milner het besluit om die Uitlanders se griewe te gebruik om die ZAR onder sy beheer te bring. Hy het dus daarop aangedring dat hulle stemreg kry.

Milner het in Maart 1898 in Graaff-Reinet ’n aanhitsende toespraak gehou. Hy het onder meer gesê dat Boere vir die onrus in die Transvaal verantwoordelik was. 2

Op pad na oorlog

In November 1898 het Milner Engeland besoek. Daar het hy die Britse regering, en veral Joseph Chamberlain, die Britse minister van kolonies, probeer oortuig om teen Kruger op te tree. Op hierdie stadium was die Britse regering nog teen inmenging gekant.

Saam met Joseph Chamberlain in Johannesburg

Milner het intussen met die Boere oor stemreg vir die Uitlanders onderhandel. Kruger was onbuigsaam. Hy het besef Milner se eise was onredelik. 2

Milner het al hoe meer oorlog as onvermydelik gesien. Hy het begin om in Brittanje daarvoor voorbrand te maak. 5

Hy het by die Britse regering vir ’n militêre oplossing vir die probleem van die ZAR gepleit. 1 Hy het byvoorbeeld ’n petisie van die Uitlanders, waarin hulle gekla het oor hoe sleg dit met hulle gegaan het, na die Britse regering gestuur. Hy het Kruger se regering as outokraties en ouderwets uitgebeeld. 2 Hy het aan Chamberlain geskryf: “Daar is geen manier om die probleme in Suid-Afrika op te los nie, behalwe hervorming in Transvaal of oorlog.” 4

Bloemfontein vergadering, 1899 en die laaste maande voor oorlog

Kruger en Milner het mekaar aan die einde van Mei en begin Junie 1899 in Bloemfontein ontmoet. Die vergadering was veronderstel om ’n onderhandeling te wees om oorlog te probeer afweer. 2

Dit was egter ’n mislukking. 2 Kruger was bereid om te onderhandel, maar Milner was nie eerlik oor sy bedoelings nie. 3

Arriveer in Bloemfontein

Milner het aan Kruger ’n ultimatum gestel, met die hoop dat Kruger se regering sou ineenstort. 1

Ná die vergadering het Kruger omtrent al die voorwaardes in die ultimatum aanvaar. Dit was egter te laat. Milner het nie meer belang gestel nie. Hy het dit reggekry om die Britse regering te oortuig dat oorlog nodig was. Hy het self geglo dit gaan ’n kort oorlog wees, waarin hulle vinnig die Boere se mag sou breek. 1

Uitbreek van die ABO

Brittanje het op 8 September troepe na Suid-Afrika begin stuur. Die troepe het na die Natalse grens met die ZAR begin optrek. 2

Die Boere het finaal besef dat toegewings net tot nuwe eise sou lei. 1 Hulle het op 9 Oktober ’n ultimatum aan die Britte gestuur waar in hulle geëis het dat die troepe teruggetrek word. 4

Die Britte het dit geïgnoreer. Oorlog het op 11 Oktober 1899 uitgebreek. 1

Milner het die oorlog gekry wat hy wou gehad het. 2

Boere wat by Elandslaagte gevange geneem is word deur Britse soldate na gevangeneskap gelei

ABO

Milner was vol vertroue dat die Britte spoedig sou seëvier. Hy het geglo dat die Boere eenvoudige vyande was wat nie teen beroepsoldate staande sou bly nie. 5

Hierdie hoop is egter vinnig beskaam.

Brittanje het wel die Boererepublieke in Oktober 1900 geannekseer. Die Boere het egter daarna met ’n guerrillastryd begin wat meer as 18 maande sou duur. 2

Ná die anneksasie is Milner as administrateur van die geannekseerde Oranjerivier- en Transvaal-kolonies aangestel. 1 Hy het die betrekking as hoë kommissaris behou, maar het afstand gedoen van die goewerneurskap van die Kaapkolonie.

Hy het alreeds in hierdie tyd met sy planne vir heropbou en verengelsing ná die oorlog begin.

Milner het die idee van konsentrasiekampe gesteun. Hy was egter gekant teen die verskroeideaardebeleid, wat hy as barbaars en ondoeltreffend bestempel het. Hy was ook teen die mishandeling van Boeregesinne en gedwonge internering gekant. Hy was deeglik bewus daarvan dat Brittanje van die skuld vir die sterftes in die kampe moes dra. 1

Ná Milner die administrasie van die kampe in November 1901 oorgeneem het, het die sterftesyfer in die kampe begin daal. 4

Die Britte het die oorlog gewen, en Milner was een van die ondertekenaars van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902. 2

Melrosehuis, waar die vredesverdrag onderteken is

Na-oorlogse beleid

Milner is op 21 Junie 1902 as goewerneur van Transvaal en op 23 Junie 1902 as goewerneur van die Oranjerivierkolonie ingehuldig. 2

Milner en Christiaan de Wet tydens die Vrede van Vereeniging

Naoorlogse doelwitte

Milner se doelwitte staan soms as Milnerisme bekend, en het ingesluit:

  • Om Britse opperheerskappy te vestig, deur die algehele verengelsing van die Afrikanervolk en Britse immigrasie na Suid-Afrika. 4
  • Om die regstelsel te moderniseer
  • Om landbou te moderniseer
  • Om handel op te bou
  • Om nywerheidsaktiwiteite te skep. 2

Milner het 12 Oxford-gegradueerdes na Suid-Afrika laat kom om hom te help om die land te administreer. Omdat hulle so jonk was, het hulle as Milner se Kindergarten bekend gestaan. 1 Sommige van hulle was wel begaafd, maar hulle was ook onervare en dikwels arrogant. 7

Milner se Kindergarten

Milner moes die land weer opbou ná die oorlog. Dit was ’n reusetaak:

  • Tienduisende mense is deur die oorlog verplaas – vlugtelinge, bannelinge en krygsgevangenes ingesluit. 2
  • Die vervoerstelsel en baie infrastruktuur is beskadig en soms vernietig.
  • Daar was ’n droogte en kostekorte.
  • Daar was arbeidstekorte.
  • Skadevergoeding moes betaal word. 2

Hy moes boonop probeer om verset teen sy regering te bowe te kom. 1

Suksesse

Milner het in sommige areas goeie diens gelewer:

  • Hulle het hulp aan Boere verleen en Uitlanders gehelp om na die myne terug te keer. 1
  • In Februarie 1902 het hy die Vrystaat en Transvaal se spoorweë verenig. 2 Dit het die grondslag gelê vir die vereniging van die spoorweë van al vier kolonies. 1
  • Die boustene is verskaf vir die latere opkoms van nywerhede. 4
  • Hy het selfregerende munisipaliteite bevorder en opruim van agterbuurtes
  • Die Randse Waterraad is gestig om water aan myne en nywerhede te voorsien.
  • Die Departement van Bosbou is gestig, wat ook ten behoewe van landbou gewerk het.
  • Tegniese kolleges is gestig. Die onderwysstelsel het gou aan twee keer soveel mense as vantevore onderwys verskaf. Omdat die skole Engels was, was daar egter sterk teenstand hierteen. 1

Mislukkings

Milner het twee foute gemaak wat sy doelwitte in die wiele gery het: hy het gedink die oorlog gaan kort wees, en dat daar massa immigrasie van Britte ná die oorlog sou wees. 1

Van meeste van sy planne het nie veel gekom nie:

  • Afrikanernasionalisme het ná die oorlog gebloei.
  • Die ekonomie het te lank gevat om te herstel, en te min Britte het na Suid-Afrika geïmmigreer. 3

Om arbeidstekorte die hoof te bied het hy Chinese werkers ingevoer om op die myne te kom werk. Dit het tot ’n teenreaksie in Engeland en groot ontevredenheid onder Suid-Afrikaanse werkers gelei. 2

Op rassegebied het hy die Suid-Afrikaanse Naturellekommissie (beter bekend as die Lagden-kommissie) aangestel om een beleid vir al vier kolonies te skep. 1 Die kommissie was Milner se geesteskind en meeste lede was Engelssprekend. Die kommissie het gebiedskeiding tussen wit en swart voorgestel, en die grondslag gelê vir die segregasie van die 20ste eeu. 8

Milner wou nie selfregering vir die Boere toelaat nie. Hy het vroeg vir Boereleiers soos Louis Botha, Jan Smuts en Koos de la Rey posisies in sy regering aangebied, maar hulle het dit van die hand gewys. Hy het gou besef dat selfregering onafwendbaar was. 2

Milner wou skole gebruik om sy beleid van verengelsing af te dwing. 6 Engels sou die enigste amptelike taal in skole wees, en kinders sou die geskiedenis van die Britse ryk leer.

Hierdie plan het presies die teenoorgestelde uitwerking gehad as wat hy gehoop het. Boereleiers het hul eie skole opgerig of kinders het bloot nie skool bygewoon nie. Boonop is Afrikanernasionalisme daardeur aangevuur. 9

Nalatenskap in die Transvaal en Vrystaat

Milner het die grondslag gelê vir ’n doeltreffende administrasie. Maar sy doelwitte het hy nie bereik nie: die Boere het polities herleef, maar die ekonomie nie. 1

Verlaat Suid-Afrika

Teen 1905 was dit duidelik dat Milner se planne nie sou uitwerk nie. Hy het dus bedank en Johannesburg op 2 April 1905 verlaat.

Hy het sy opvolger gewaarsku dat die Afrikaners gaan probeer om politieke mag te kry en ’n nie-Britse staat te stig. Hy was korrek, maar daar was min wat hulle kon doen om dit te keer. 1

Saam met sy personeel in die Kaapkolonie

Terug in Engeland

Ná sy terugkeer het Milner in Brittanje in die privaat sektor gewerk. Hy was lid van die Britse Hoërhuis (in Engels: House of Lords) en was ook ’n gewilde spreker oor die Britse ryk. 1

Tydens die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) was Milner op verskeie komitees. In 1916 is hy as lid van die Britse krygsraad aangewys. In April 1918 is hy tot minister van oorlog bevorder, 2 en in Desember 1819 tot minister van kolonies.

Hy het hierdie pos tot op 7 Februarie 1921 beklee. 1

Terug in Londen

Persoonlike lewe en dood

Milner het op 26 Februarie 1921 met Violet Georgina, ’n weduwee en dogter van ’n admiraal, getrou. 1

Milner het op 13 Mei 1925 in sy huis in Sturry Court naby Canterbury in Engeland gesterf. Hy was 71 jaar oud. 10 Hy het moontlik gesterf aan encephalitis lethargica, ’n soort virus, 1 of van ’n tsetsevlieg byt. 2

Evaluasie

Milner was nie ’n goeie leier óf diplomaat nie. Hy is deur historici beskryf as “ongeduldig, outokraties en onverdraagsaam”, 1 “afsydig en arrogant,” 5 “koud en afgetrokke … hardkoppig en siende blind [en] wrewelrig jeens kritiek.” 7

Sy een positiewe nalatenskap was dat die administratiewe stelsel wat hy geskep het, briljant was. Die staatsdiens was professioneel en goed opgevoed. 11 Hy het ’n staat geskep wat gereed was vir die nywerheidskapitalisme wat later in die eeu sou volg. 7

Milner het niks gedoen om die belange van swart, bruin of Indiërgroepe te beskerm nie. Hy het dit waarskynlik nie as dringend gesien nie, en was bang dat dit die wit groepe van hom sou vervreem. 1 In die proses het hy gehelp om die grondslag vir die segregasiebeleid van die twintigste eeu te lê.

Milner kon op die ou end nie sy politieke magstryd met die Boere wen nie. 7 Omdat hy die Boere geminag het, kon hy nie op gelyke voet met hulle onderhandel nie. Hy was reg in sy besef dat die Transvaal die voedingsbodem was vir die nasionalisme wat die Britte uit Suid-Afrika sou dryf. Sy pogings om dit te stop, het egter die triomf van Afrikanernasionalisme verseker. 1

Woordbank

aanhitsende Om iemand aan te moedig om iets te doen, gewoonlik iets kwaads.
adelstand Edeles, hooggeplaastes.
administrasie Die bestuur van iets.
administrateur Die hoof van ʼn gebied wat in beheer is van hoe dit bestuur word.
afgetrokke Om nie aandag te gee van wat rondom jou aan die gang is nie.
admiraal ’n Vlootoffisier van ’n hoë rang / hoof van die vloot.
Afrikanernasionalisme Liefde vir die Afrikanervolk en die begeerte om deur Afrikaners regeer te word.
afstand gedoen Om iets op te gee.
agterbuurtes Baie swak en arm woonbuurt.
aldus Soos gesê is deur iemand.
amptenare Persone wat vir die regering werk.
arbeidstekorte Wanneer daar nie genoeg werkers is nie.
arrogant Verwaand en hoogmoedig.
balie Versamelnaam vir alle advokate; wanneer iemand tot die balie toegelaat word, word hy toegelaat om as advokaat te praktiseer.
bannelinge Mense wat uit hul land verban is.
baron ʼn Edelman laer as ʼn graaf.
begaafd Slim; met baie talente.
beleid Plan/program/wet vir die bestuur van ʼn land.
beroepsoldate ’n Soldaat wat betaal word om te veg en dit as hul werk doen.
beurse Bedrae geld wat aan ʼn student geskenk word vir verdere studie; studiebeurs.
burggraaf Adellike titel bo baron.
chaos Wanorde, deurmekaarspul, warboel, verwarring, ordeloosheid.
die hoof te bied Te beveg.
diplomaat Iemand wat sy land verteenwoordig en op taktvolle wyse met iemand kan onderhandel.
federasie Wat bestaan uit ʼn groep state wat hul eie sake bestuur, maar beheer word deur ʼn nasionale regering.
geannekseer Om besit van ’n gebied te neem.
gebiedskeiding Om verskillende mense te dwing om in verskillende gebiede te bly.
geesteskind Iemand se idee/uitvindsel.
geminag Geen respek vir iemand hê nie; op iemand neersien.
gepraktiseer Jou beroep beoefen; werk.
goewerneur Die titel wat gebruik is vir die regeerders uit Brittanje wat in die Kaap (en later die Transvaal en Vrystaat) geregeer het.
griewe Klagtes.
grondslag gelê Om dit waarop iets berus, daar te stel.
groot kopseer Probleem.
guerrillastryd Dis ʼn ongewone wyse waarop oorlog gevoer word. Tydens aanvalle val klein groepies soldate vinnig aan en beweeg dan weer vinnig terug na hul skuilings.
hartstogtelike Wanneer iemand sy/haar werk met energie en met oorgawe doen omdat so ’n persoon baie van sy/haar werk hou.
heerskappy Tydperk waartydens iemand heers.
hervorming ʼn Stelsel/wet/organisasie/ens. verbeter deur baie veranderings daaraan aan te bring sodat dit doeltreffender/regverdiger funksioneer.
hoë kommissaris Die verteenwoordiger van Brittanje in Suid-Afrika.
hoog aangeskrewe Voortreflik, uitmuntend, uitstekend.
hoop is egter vinnig beskaam Om teleurgesteld te wees.
ingehuldig Iemand ’n belofte laat aflê om sy/haar werk goed te doen.
immigrasie Iemand uit een land wat permanent in ’n ander land gaan woon.
imperialis Voorstander van die politieke beleid van ’n staat om ander gebiede onder sy mag en invloed te bring.
in die wiele gery Belemmer, kniehalter; ongedaan maak.
infrastruktuur Die basiese strukture en stelsels wat ’n land of organisasie nodig het om behoorlik te funksioneer, byvoorbeeld paaie, ’n spoornetwerk, banke, ens.
internering As gevangene aanhou, veral in ʼn bewaakte kamp.
Jameson-inval Poging deur ’n groep Britte onder leiding van sir Leander Starr Jameson om die Transvaalse regering in te neem.
jeens Ten opsigte van.
joernalistiek Joernaliste is mense wat berigte/artikels vir koerante, tydskrifte, radio of TV opstel of skryf en die joernalistiek is die werk of vak wat daarmee te make het.
kandidaat Iemand wat hom- of haarself beskikbaar stel vir ’n verkiesing tot ’n posisie in die openbare lewe, soos byvoorbeeld die posisie van ’n politikus.
keerpunt Tydstip wanneer daar ’n beslissende verandering plaasvind.
Kindergarten Kleuterskool.
komitees Groep mense wat vir ’n sekere doel aangestel is.
konsentrasiekampe ʼn Kamp waar gevangenes in ʼn oorlog deur die vyand aangehou word, in hierdie geval meestal Boerevrouens en kinders gedurende die Anglo-Boereoorlog.
krygsgevangenes ʼn Soldaat wat deur die vyand gevang en opgesluit word, meestal in ʼn krygsgevangenekamp.
krygsraad Wanneer leiers in oorlogstyd vergadering hou om te besluit hoe hulle verder moet oorlog maak.
lektor Iemand wat by ’n universiteit (of soortgelyke instelling) klasgee.
letterkunde Kuns in geskrewe vorm, wat poësie, prosa en drama insluit.
minagting Geen respek vir iemand hê nie; op iemand neersien.
minister ʼn Politikus wat aan die hoof staan van een van die departemente van ʼn land se regering.
moderniseer Volgens die nuwe smaak/styl/eise/modes inrig of verander.
munisipaliteite Besturende liggaam van ’n stad/dorp, wat deur belastingbetalers gekies word; stadsraad.
langs een vuur gesit Mense wat nie met mekaar oor die weg kom nie.
nywerheidsaktiwiteite Besighede soos fabrieke wat produkte produseer.
nywerheidskapitalisme Ekonomiese stelsel waar wins wat gemaak word, in nywerhede die belangrikste aspek is.
onafwendbaar Iets wat nie gekeer kan word nie.
onstuimigste Wanneer daar sterk wind en storms is.
ondoeltreffend Om nie effektief of geslaagd op te tree nie.
onervare Iemand wat nie baie kennis en vaardighede het nie, want hulle het iets nog nie baie gedoen nie.
ontoegeeflikheid Iemand wat bereid is om ander tegemoet te kom en te help.
opperheerskappy Die hoogste gesag wat daar is.
ouderwets Uit die mode en outyds.
outokraties Om op te tree asof jy al die mag het om te regeer.
petisie Versoek aan die owerheid in skriftelike vorm.
privaat sektor Besighede wat nie deel is van die regering nie.
privaat sekretaris Manlike persoon wat vir ’n politieke leier administratiewe take voltooi.
professioneel Om so te werk en op te tree dat ander aan hom/haar dink as bekwaam, betroubaar en respekvol.
segregasie Dit was die maatskaplike of politieke bestel in Suid-Afrika waarvolgens rasse geskei is.
siende blind Iemand wat nie die kwaad of probleme rondom hulle wil raaksien nie.
skadevergoeding Vergoeding in geld (of goed) van skade wat gely is.
staatsdiens Die gesamentlike departemente wat die administrasie van ʼn staat behartig.
stemreg Die reg om te stem wat elke volwasse burger in die land het.
toegewings Bereid om iets op te gee om iemand anders tegemoet te kom.
tot ridder geslaan Dit is ʼn eerbewys wat deur die koning of koningin van Engeland gegee word vir ʼn persoon wat baie goed presteer; die persoon ontvang ridderskap. Dié persoon kry dan die titel “sir” voor sy naam.
triomf Oorwinning; groot/besonderse sukses.
tsetsevlieg Giftige vlieg in tropiese en subtropiese streke van Afrika, waarvan die steek dodelik is vir huisdiere, en wat slaapsiekte veroorsaak by die mens.
ultimatum ’n Dreigement wat sê as iemand nie doen wat jy sê nie, gaan hy/sy/hulle gestraf word.
unifikasie Samevoeging in ’n unie.
verengels Engels maak of word, angliseer.
verskroeideaardebeleid Volgens hierdie beleid het die Britse soldate plase afgebrand en vee doodgemaak om die Boere te probeer dwing om op te hou met die Anglo-Boereoorlog.
vertroud te maak Om met iets bekend te word of vaardig in iets te word.
virus ’n Baie klein organisme wat sekere siektes kan veroorsaak.
vlugtig Kortliks, nie in detail nie.
voedingsbodem Toestand wat dit moontlik maak dat iets ontwikkel en waaruit mense krag put.
voorbrand Jou voorberei vir iets/voorbereidings tref.
voorsitter Die leier van ʼn organisasie.
voorstander Iemand wat iets voorstaan; pleitbesorger; verdediger; beskermer; aanhanger.
wantrouig Wanneer jy nie mense vertrou nie.
wrewelrig Ergernis, ontevredenheid.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Alfred Milner

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Alfred Milner

Alfred Milner se groot vyand was Paul Kruger

Wat was die Anglo-Boereoorlog

Milner was gekant teen die groei van die Afrikaanse taal. Waar kom Afrikaans vandaan?

Hoe het dit gelyk tydens die Anglo-Boereoorlog?

Milner se oorlog?

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 18 April 2024 | Bygewerk op 30 September 2024