Vinnige feite

  • Amerika is die oudste erkende demokrasie ter wêreld. Wat interessant is, is dat die woord demokrasie nie eens in die land se grondwet gebruik word nie. Hulle verwys net na hulself as ’n republiek. 3
  • Cleisthenes, ’n staatsman van Athene, word as die Vader van Demokrasie gesien.
  • Burkina Faso is die wêreld se jongste demokrasie. Bhoetan se eerste demokratiese verkiesing het in 2015 plaasgevind. 19
  • Die Republiek van Indië is die wêreld se grootste demokrasie. Een sesde van die wêreldbevolking bly daar. 15
  • ’n Mens moet 18 wees om in Suid-Afrika te kan stem, maar 16 is die minimum stemgeregtigde ouderdom in demokrasieë soos Brasilië, Skotland, Switserland en Argentinië. Daar is ook lande waar jy 21 moet wees om te stem. Dit is in Singapoer, Koeweit en Libanon.
  • In sekere lande (soos Singapoer, Peru en Brasilië) word jy wetlik verplig om te gaan stem.
  • Het jy geweet dat daar jaarliks op 15 September ’n Internasionale Dag van Demokrasie herdenk word? 20
  • Party demokratiese lande het slegs twee politieke partye soos Amerika wat die Republikeine en die Demokrate het, terwyl ander weer ’n veelpartystelsel het. Dit beteken daar is baie politieke partye soos in Suid-Afrika. 15

Gewoonlik so teen die derde kwartaal van die skooljaar, begin skole met die proses om leiers of ’n leerlingraad vir die volgende jaar te kies. Leerders word vir die raad benoem en hul medeleerders en onderwysers kan dan stem vir diegene wat hulle dink die beste kandidate is. As dit só by jou skool werk, word die leiers demokraties verkies. Julle kies dan self wie jul leiers moet wees en dit is presies wat ’n demokrasie is.

Demokrasie is dus ’n stelsel wat vir elke mens wat mag stem, die geleentheid gee om vir die persone wat hulle dink die beste besluite sal maak, te stem. Die woordeboek sê ’n demokrasie is ’n regeringsvorm waar die bevolking van die land self hul leiers kies; dit beteken ook ’n land wat so ’n stelsel het. 1

Die woord demokrasie beteken eintlik “regeer deur die mense”. Dit kom van die Griekse woord demos (mense) en kratos (regeer) en hierdie woord is toentertyd (omtrent in die 5de eeu v.C.) gebruik om ’n politieke stelsel te beskryf. Dié stelsel is in sekere Griekse stadstate soos Athene gebruik. Die Grieke was dus hul tyd ver vooruit, want demokrasie is vandag ’n gewilde regeringsvorm en hulle het al in die antieke tyd geweet dat dit kan werk! 2

Die Grieke se idees oor demokrasie het latere jare mense geïnspireer om te kyk hoe demokrasieë eintlik werk en dis hoe demokrasieë ook in ander lande gewild begin raak het.

Twee vorms van demokrasie

Ons praat gewoonlik van twee hoofvorms van demokrasie. Die eerste een is direkte demokrasie wat in klein gemeenskappe beoefen is. Dit was byvoorbeeld in stadstate, waar dit moontlik was vir byna al die burgers om bymekaar te kom om oor hul probleme te gesels. Hulle kon daar stem vir beleide en wetgewing. As jy byvoorbeeld aan ’n krieketklub behoort waar julle oor jul klubreëls stem, is dit ’n direkte demokrasie. 2

’n Verteenwoordigende demokrasie is een waar ’n gemeenskap te groot is vir al die mense om bymekaar uit te kom, en inwoners kies dan mense om hulle te verteenwoordig. Dink maar hier aan die politieke party waarvoor jou ouers stem. Hulle stem vir ’n party tydens ’n verkiesing en die party verteenwoordig dan jou ouers en die ander kiesers in ons parlement. 2

Demokrasie ontwikkel

Politieke partye se ontstaan kan na die 18de eeu toe teruggevoer word. Dit is wanneer lede van die verteenwoordigende regerings in demokratiese lande hulself in politieke groepe begin verdeel het. Hierdie groepe het mettertyd politieke partye geword. Die hoofdoel van die partye was om kandidate te kies om hulle in die regering te verteenwoordig. 2

Ons is vandag gewoond aan politieke partye en hul doen en late, maar mense het aanvanklik gedink dat hulle nie goed vir demokrasie was nie. Die idee van hierdie partye is eers werklik in die 19de eeu aanvaar.

Mense het die nodigheid van hierdie partye begin insien, want nie alle mense dink dieselfde oor dinge nie. Vandag word daar geglo dat politieke partye ’n noodsaaklike deel van ’n demokrasie is. 2

In die 18de en 19de eeu het die meeste politieke leiers ook gedink dat nie alle volwassenes moes stem nie, want nie alle mense is ewe intelligent en verantwoordelik nie. Hulle het egter ook begin insien dat elke regering ’n sekere infrastruktuur gereed moet hê om sy burgers te beskerm. Daar moet byvoorbeeld iets soos ’n Handves van Regte wees (wat die land se inwoners se menseregte beskerm) en sekere regulasies soos dat ’n tweederdemeerderheid nodig is om belangrike wetgewing goed te keur.

Die aantal demokratiese lande het in die 20ste eeu vinnig toegeneem en teen die begin van die 21ste eeu was meer as een derde van die wêreld se lande volwaardige demokrasieë.

Teen die einde van die 19de eeu is dit algemeen aanvaar dat partye ‘n noodsaaklike instelling in enige demokrasie is.

Eienskappe van ’n demokrasie

  • Daar is vry en regverdige verkiesings en alle burgers in die land (vanaf ’n sekere ouderdom) mag stem vir wie hulle wil. 3
  • Burgers se geslag, ras en dies meer beïnvloed nie of hulle mag stem of nie.
  • Die leiers van demokratiese lande soos presidente mag net vir ’n sekere termyn dien. Hulle kan dus nie vir jare en jare die leier van ’n land wees nie. (Tensy hul herverkies word.)
  • Die mag van die regering lê in die hande van die burgers, hetsy direk of deur hul verkose verteenwoordigers.
  • Die meerderheid van stemme tel die meeste, maar die regte van die minderheid moet beskerm word. Dit beteken dat al wen jou politieke party nie, moet jou regte ook in ’n demokrasie beskerm word. 4
  • Die menseregte van ’n land se inwoners soos vryheid van spraak, vryheid van godsdiens, gelykheid en dies meer moet beskerm word.
  • Die party wat aan bewind is, het ook net sekere magte. Hulle kan nie net besluite na willekeur maak nie.
  • Daar is respek vir die oppergesag van die wet in demokratiese lande. Mense wat wette oortree, word gestraf en howe beslis oor wat met hulle gebeur.
  • Grondwette is ‘n manier hoe moderne demokrasieë verseker dat mense se regte beskerm word en dat regerings nie in tiranieë (gewelddadige heerskappye) verander nie.

Eerste Grondwet

Die heel eerste geskrewe grondwet was die Magna Carta wat in 1215 deur die Engelse koning King John onderteken is. Dit het politieke regte van burgers verseker. 5 Daar is vier bestaande oorspronklike kopieë van die Magna Carta van 1215. Twee daarvan word gehou in die katedraalkerke waar hulle oorspronklik vir bewaring neergesit (die Lincoln- en Salisbury-katedraal) en die ander twee is in die British Library in Londen. 6

Suid-Afrika se demokrasie

Suid-Afrika het in 1994 ’n demokrasie geword toe die eerste demokratiese verkiesing gehou is. Vir die eerste keer in die land se geskiedenis is ál die bevolkingsgroepe in die land toegelaat om te stem.

Die ANC het die verkiesing met ’n 62%-meerderheid gewen en Suid-Afrika is in nege provinsies verdeel. Dit het die vier bestaande provinsies en tien swart tuislande vervang. President Nelson Mandela, die leier van die ANC, was die eerste demokraties verkose president. 7

Demokratiese leiers

Wat is ’n demokratiese leier? Wel, ’n demokratiese leier kan eerstens iemand wees wat demokraties verkies is, maar gewoonlik as ’n mens van ’n demokratiese leier praat, verwys ons na die manier hoe hy (of sy) regeer of die land bestuur. Hoe doen hy dinge?

Daar word dikwels na ’n demokratiese bestuurstyl in die werkplek verwys en dus kan ons sien dat demokratiese leiers nie net tot die regering beperk is nie. Daar kan demokratiese leiers in jou skoolraad, by jou ouers se werk, by jul kerk of in jul sportspan wees.

Demokratiese leiers maak nie net besluite sonder om hul mense te raadpleeg nie. Hulle luister na ander mense se menings en neem aktief deel aan besprekings met hul span, en dit lei gewoonlik tot positiewe verhoudings. ’n Goeie demokratiese leier weet hoe om ’n positiewe omgewing te skep waar almal se stem gehoor kan word, maar hoewel hy aan spanwerk glo, bly hy as die leier verantwoordelik vir alles wat gebeur. 8

Demokratiese leiers in die politiek

As ’n mens na demokratiese bestuurstyle kyk, het ons vele voorbeelde in Suid-Afrika se geskiedenis.

Die Boereleier Andries Pretorius (1798-1853) was bekend vir sy uitstaande leierskap en is selfs buite Afrikanergeledere gerespekteer. Pretorius het veral met die Slag van Bloedrivier vir sy leierskap en takt bekend geword. Hy het daarna vele leiersposisies beklee en het ook ’n rol in die kroning van ’n Zoeloekoning gespeel (die Zoeloes het hom gerespekteer). Hy was betrokke in die skep van ’n sentrale regering noord van die Vaalrivier en by die ondertekening van die Sandrivierkonvensie op 17 Januarie 1852. Hierna het die Britse owerheid die onafhanklikheid van die gebied noord van die Vaalrivier erken. Pretorius was by uitstek iemand wat eenheid nagestreef het en is as ’n goeie leier gesien.

Andries Pretorius

Jan Brand (1823-1888) het vele leiersrolle beklee. Hy was ’n advokaat in die Hooggeregshof van Kaap die Goeie Hoop, ’n regsprofessor, lid van die Kaapse parlement en later die president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat. Brand het hard daaraan gewerk om vrede tussen die Vrystaat en die Basotho te bewerkstellig en is as ’n wyse leier bestempel. Ná die Anglo-Boereoorlog het hy gehelp om vredesonderhandelinge te bemiddel en is selfs deur Brittanje tot ridder geslaan.

(Dit beteken dat hy sir Brand genoem kon word). Nie alle Afrikaners was gelukkig oor die ridderskap nie, want hulle was nog baie kwaad vir die Britte. Brand was egter so ’n bekwame leier dat hulle hom weer tot president verkies het. Die Vrystaat is deur die politieke wetenskaplike, lord Bryce, as ’n modelrepubliek bestempel en dit is glo aan Brand se leierskap te danke. 9

Jan Brand

Generaal Koos de la Rey (1847-1915) wat tydens die Anglo-Boereoorlog (Vryheidsoorlog) geveg het, word as ’n baie goeie leier bestempel en is selfs deur Britse bevelvoerders (sy destydse vyand) gerespekteer. Sy manskappe het hom bewonder en hy is as ’n eerlike en regverdige leier bestempel. 10

Koos de la Rey

Marthinus Theunis Steyn (1857-1916) word beskou as die eerste moderne Afrikanerleier. 11 Alhoewel Steyn se huistaal Engels was, het hy hom beywer vir die vooruitgang van die Boere. Sy gewildheid het gelei tot sy verkiesing as staatspresident in 1896. Selfs Kitchener het hom beskou as “kop en skouers bo die res”. 12 Ná die oorlog het Steyn ’n groot bydrae gelewer dat Afrikaners nie in moedeloosheid en ellende verval het nie.

Miskien is dit juis sý bydrae wat die mees permanente invloed op die Afrikanervolk gehad het. 12 In 1906 het Steyn hom beywer vir ‘n groter, verenigde Suid-Afrika en sy mening oor talle sake uitgespreek, soos toekomstige kapitaal, die openbare dienste, taalregte, spoorweë en protektorate. Steyn sal onthou word as ‘n eerlike, gematigde, maar ferm leier wat deur sy eie mense én sy teenstanders gerespekteer is. Sy versoenende benadering om verskillende standpunte te verenig tydens ’n uitgerekte tydperk van omwenteling in die geskiedenis van die Vrystaat is sowel plaaslik as internasionaal bewonder.

M.T. Steyn

Generaal Louis Botha (1862-1919) is een van die Afrikanerleiers wat ook internasionaal bekend was. Hy was ’n Boeregeneraal en het ná die oorlog ’n prominente leier in Transvaal geword. Botha het in 1910 die eerste minister van die nuwe Unie van Suid-Afrika geword. Hy was ook ’n kampvegter vir vrede en word as ’n demokratiese leier beskou weens sy eerlikheid en regverdigheid. Sy manskappe het glo vir hom saak gemaak en hy het na hulle geluister. Hy wou eenheid tussen die mense van Suid-Afrika skep. 13

Louis Botha

Nelson Mandela, met die bynaam Madiba (1918-2013), het sy lewe daaraan gewy om in diens van die mensdom te wees – as ‘n menseregte-advokaat, ‘n internasionale vredemaker en die eerste demokraties verkose president van ‘n vry Suid-Afrika. Hy was boonop die land se eerste swart staatshoof en sy presidentskap het geduur vanaf 1994 tot 1999. 14 Mandela was ’n Suid-Afrikaanse anti-apartheids- en menseregteaktivis en politieke leier.

Sy onderhandelinge in die vroeë 1990’s met Suid-Afrikaanse pres. FW de Klerk het gehelp om die land se apartheidstelsel van rasseskeiding te beëindig en het ‘n vreedsame oorgang na ’n meerderheidsregering ingelui. 15 Hy het ook geglo aan vergifnis en versoening. 6 Mandeladag word jaarliks op 18 Julie (Mandela se geboortedag) gevier. Alle landsburgers van Suid-Afrika word op daardie dag aangemoedig om 67 minute van hul tyd te spandeer in diens van ander in nood.

Hierdie 67 minute simboliseer die 67 jaar wat Nelson Mandela hom beywer het vir geregtigheid, gelykheid en menseregte vir almal. 13 Mandela en de Klerk is in 1993 gesamentlik met die Nobelprys vir Vrede toegeken. 6

Nog iemand wat oor taal- en rassegrense as ’n goeie leier gesien is, is generaal Constand Viljoen (1933-2020), wat eens op ’n tyd die hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag was. Hy het ’n kritiese rol in die oorgang na demokrasie gespeel en is as een van die “helde van ons demokrasie” bestempel. Hy is ’n “soldate-soldaat” genoem wat ook die respek van sy ondergeskiktes geniet het. 16

Nelson Mandela

Prof. Thuli Madonsela (gebore in 1962) is ’n baie bekende leiersfiguur in Suid-Afrika. Madonsela was eens op ’n tyd die Openbare Beskermer van Suid-Afrika en is vandag die voorsitter van die Regsfakulteit Trust vir maatskaplike geregtigheid aan die Universiteit Stellenbosch.

As Openbare Beskermer, was Madonsela vreesloos om korrupsie oop te vlek en dis op grond van haar destydse verslag dat die Zondo-kommissie van ondersoek gestig is. Madonsela, wat al telkens vir haar werk vereer is, gee altyd eer aan die span mense wat saam met haar gewerk het.

Thuli Madonsela

Dr. Rina Venter (gebore in 1938) was die eerste en laaste Afrikanervrou wat van 1989 tot 1994 in die Suid-Afrikaanse kabinet gedien het. Sy was die voormalige minister van gesondheid en welsynsdienste en sy het nie gehuiwer om op te staan vir dit wat sy voel reg is nie. Sy het geglo dat Suid-Afrika se probleme opgelos kan word deur eers al die maatskaplike probleme te takel. Maatskaplike probleme is kwessies soos armoede, swak huislike omstandighede en swak onderwys. 17

Rina Venter

Wêreldwye demokrasieë

Athene (Griekeland)

Griekeland, soos ons dit vandag ken, het nie in die 4de en 5de eeu v.C. bestaan nie. Dit het uit honderde klein, onafhanklike stadstate bestaan. Een van daardie stadstate was Athene (wat vandag Griekeland se hoofstad is). Die staatsman Cleisthenes het die inwoners van Athene gelei om ’n demokrasie te ontwikkel wat nagenoeg twee eeue geduur het.

’n Belangrike instelling vir hierdie demokratiese regering was hul vergaderings. Volwasse mans het ongeveer 40 keer per jaar vergader en kon dan stem deur bloot net hul hande op te steek.

’n Reeks gebeure het egter hierdie demokrasie tot ’n einde gebring. Eers was daar ’n groep Spartane wat hulle omvergewerp het, maar ’n jaar later het die Atheners darem weer hul regering teruggevat. Teen 321 v.C. is Athene deur Macedonië oorgeneem en die regering is verander. Die inwoners wat nie genoeg geld gehad het nie, was nie deel van die Vergadering nie. Teen die tyd dat die Romeine Athene teen 146 v.C. oorgeneem het, was daar bitter min van Athene se demokrasie oor. 2

Rome (Italië)

In min of meer dieselfde tyd wat daar ’n demokrasie in Athene was, was daar ook ’n demokrasie in Rome. Die Romeine het hul regering respublica (‘republiek’) genoem en dit beteken ‘iets wat aan die mense behoort’. Die demokrasie in Rome het tot die einde van die 1ste eeu v.C. geheers tot dit deur die Romeinse Ryk oorgeneem is.

Die Romeinse Ryk was ’n monargie met ’n keiser as die leier daarvan. 2

Noord-Europa en Engeland

Daar was ook in ongeveer die jaar 800 ’n vorm van direkte demokrasie in noordelike Europa. Maar soos meer probleme kop uitgesteek het en al hoe meer gemeenskappe gevorm is, het hulle verskillende vergaderings byeengeroep. Die direkte demokrasie het gevolglik in ’n verteenwoordigende demokrasie verander. 2

Die Middeleeue was omtrent ’n besige tyd in Europa met ’n paar regeringstelsels wat gevestig is. Die regeringstelsel wat seker die beste voorbeeld van ’n verteenwoordigende demokrasie is, was Engeland se parlement. Dit het gegroei met toenemende besluite wat gemaak moes word. Teen die 15de eeu was daar twee huise in die parlement en albei huise moes nuwe wetgewing aanvaar voor dit finaal deur die koning goedgekeur kon word. Ons kan egter nie sê dat die parlement toe al demokraties was nie, want sekere mense in die land mag nie gestem het nie, soos arm mense en vroue. 2

Amerika

Die Britse kolonies in Noord-Amerika het hul eie stelsel van verteenwoordigende demokrasieë ontwikkel, maar toe gebeur die Amerikaanse Revolusie (1775-1783) en al die kolonies smelt saam en word Amerika, ’n onafhanklike land. Die nuwe land was enorm en daarom was demokrasie slegs moontlik deur verteenwoordigende regerings.

Nes in Brittanje, was dit ook nie ’n ware demokrasie nie aangesien al die burgers nie mag gestem het nie. Vroue en swart Amerikaners kon eers later stem. 2

Besondere leiers in die buiteland

Daar is ook twee demokratiese leiers van die buiteland wat verdien om genoem te word.

Dr. Konrad Adenauer (1876-1967) was die eerste kanselier van Wes-Duitsland (die Bondsrepubliek Duitsland), ‘n amp wat hy vir 14 jaar beklee het – hy is drie keer herkies (1953, 1957, 1961). Gedurende hierdie tydperk het die land herstel van die Nazi-diktatuur en Europa se sterkste ekonomie is gebou. Sy optrede en hantering van kwessies soos die Berlynse Muur en die Koue Oorlog, het hom ‘n leidende rol in Europa besorg. In 1946 word Adenauer die stigter en leier van die Rhineland CDU (Christen Demokratiese Unie)-party in die Britse sone. 18

Generaal Dwight Eisenhower (1890-1969). As Amerikaanse opperbevelvoerder van die Geallieerde magte in Wes-Europa tydens die Tweede Wêreldoorlog, het Dwight D. Eisenhower die massiewe inval van die Nazi-besette Europa gelei wat op D-dag (6 Junie 1944) begin het. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was hy bekend daarvoor dat hy nie alleen besluite geneem het nie, maar kwessies met sy span bespreek het. Hy het ook geglo dat ’n mens nooit die blaam moet verskuif nie en dat leierskap daaruit bestaan om verantwoordelikheid te aanvaar vir dinge wat verkeerdgaan. 6

Woordbank

adellikes Iemand wat tot die adelstand behoort (’n hoë stand in die samelewing). 21
burgers Mense wat lede van ’n stad of staat is. 17
demokrasie ’n Regeringsvorm deur verteenwoordigers wat deur die hele bevolking gekies is, en gekenmerk word deur vryheid van spraak, van die individu, van die reg en van die media. 17
monargie ’n Staat geregeer deur ‘n monarg; alleenheerskappy. 22
parlement Dis ’n liggaam in ’n demokratiese bestel, wat dikwels uit twee huise bestaan. Die lede word deur die mense van die land verkies. 17
regering Die bestuur van ’n land. 17
republiek ’n Regeringsvorm waarby die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers. 17
stadstate Klein staat wat slegs ‘n stadsgebied omvat, bv. Monaco. 23
verkiesing ’n Geleentheid waar stemgeregtigde kiesers hulle verteenwoordigers vir ’n parlement, stadsraad, munisipaliteit, ens. kies. 17

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Wat is ’n demokrasie?

Verskillende regeringsvorms

Wat is demokratiese leierskap?

Wat is die Magna Carta?

Vertaling/om as tolk op te tree

Demokrasie vir kinders

Wat is demokrasie?

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 12 Mei 2022 | Bygewerk op 11 April 2024