Vinnige feite

  • Het jy geweet? Die asteroïed wat ongeveer 2 023 miljoen jaar gelede die aarde getref en die vorming van die Vredefortkoepel veroorsaak het, het die Witwatersrand sy goud gegee. 1
  • Johannesburg is die grootste stad in Suid-Afrika. Dis ook die mees dig bevolkte stad op aarde wat nie langs water (see, rivier of meer) geleë is nie. 18
  • Johannesburg word ook Egoli genoem, wat ‘Plek van goud’ beteken. 9
  • Johannesburg beslaan (lê versprei oor) 2 300 vierkante km. Dit is groter in oppervlakte as Sydney, Londen en New York en net so groot soos Los Angeles. 9
  • Daar is ongeveer 10 miljoen bome in Johannesburg wat dit die wêreld se grootste mensgemaakte woud maak. Johannesburg het ook baie en pragtige jakarandabome al word Pretoria die Jakarandastad genoem. 9
  • Johannesburg se eerste burgemeester was Johannes de Villiers. 3
  • Het jy geweet? Die eerste poskantoor in Transvaal was by Ferreira se kamp in Johannesburg ingerig om alle pos van die Witwatersrandse goudmyne te hanteer. 19

Dorpe en stede word om baie verskillende redes gestig. Dikwels is dit een of ander belangrike ontdekking wat veroorsaak dat ’n dorp of stad gestig word.

Kom ons kyk hoe dit met Johannesburg gebeur het en hoe dit van ’n dorp tot Suid-Afrika se grootste stad ontwikkel het.

’n Stad word gebore

Hoewel niemand dit toe geweet het nie, is die stad wat Johannesburg sou word, gebore met die woorde van ’n Australiër met die naam George Harrison: “I come from the newly discovered goldfields Kliprivier, especially from a farm owned by a certain Gert Oosthuizen. I have a long experience as an Australian gold-digger, and I think it is a payable goldfield.”

Op 24 Julie 1886 het Harrison hierdie verklaring by die kantoor van die staatsekretaris in Pretoria afgelê oor die voorkoms van goud op Oosthuizen se deel van die plaas Langlaagte. 1

Geen wonder dit het die grootste goudstormloop in die wêreld se geskiedenis aan die gang gesit en die geboorte van Johannesburg aangekondig nie!

Mense het reeds vanaf 1884 op plase in die omgewing van die Witwatersrand na goud begin soek. Van die eerste mense wat goud gevind het, was Fred Struben en L.D.C. Geldenhuys. In dieselfde tyd het George Walker en George Harrison eintlik per ongeluk op die plaas Langlaagte rotslae met goud in gevind. Daar is eers later vasgestel dat dit die hoofrif van die Witwatersrand was. Teen daardie tyd het Harrison reeds sy kleim verkoop.

Langlaagte se naam was eers Langeleegten. In 1853 het ’n Voortrekker, Matthys Johannes Smit, hierdie grond gekoop. Dit is later in twee helftes verdeel en toe was die eienaars Gert Engelbrecht en twee Oosthuizen-broers.

Johannesburg treinstasie, uitlanders op beestrokke

Die nuwe delwery is in September 1886 geproklameer deur J.B. Robinson, ’n mynmagnaat, wat die Oosthuizens se grond gekoop het. Die plaas Randjeslaagte sou later die middelpunt van Johannesburg word. Dit was staatsgrond wat die boere eers as waardeloos beskou het en nie wou koop nie. 2

Met hierdie ontdekking van goud, is ’n nuwe stad gebore, een wat later die Goudstad genoem sou word.

Johannesburg, 1890

Die ekonomiese betekenis van die goud

Hoewel die goud aanvanklik gesorg het vir inkomste vir die Transvaalse regering, het Afrikaners nie die kapitaal, kennis of ervaring gehad om die goud ten volle te ontgin nie. Daarom het die myne uiteindelik aan kapitaliste behoort. [Lees meer oor kapitalisme.]

Teen 1898 was hierdie mense hoofsaaklik die myneienaars, naamlik:

Wernher, Beit & Co. – 34 myne.

Eienaars: Julius Wernher (’n Duitser) en Alfred Beit (’n Duitse Jood). 3

Gold Fields of South Africa Company – 29 myne

Eienaar: Cecil John Rhodes (finansier, staatsman en ryksbouer, eerste minister van die Kaapkolonie (1890-96) en stigter van die reuse-diamantmaatskappy De Beers Consolidated Mines, Ltd.) 4

Cecil John Rhodes

Barnato Group of Companies – 21 myne.

Eienaar: Barney Barnato (finansier, diamantmagnaat en goudbaron). 5

Barney Barnato

Anglo French – 13 myne.

Adolf Görz & Company – 7 myne.

Eienaar: Adolf Goerz, oftewel Görz (’n Duits-Suid-Afrikaanse myningenieur). 6

S. Neumann & Co. – 10 myne.

Eienaar: Sigismund Neumann (mynmagnaat en finansier aan die Witwatersrand). 7

Randfontein Estates Gold Mining Company (1890) wat die grootste individuele onderneming op die Rand en een van die grootste in die wêreld was. Daarby die Randfontein Estates, die Robinson Myn en die Robinson Deep – altesaam 11 myne.

Eienaar: Joseph B. Robinson (Hy koop die oorspronklike plaas Langlaagte van die weduwee Oosthuizen en word een van die grootste magnate op die goudveld. 8

Johannesburg se naam

Daar is verskillende menings oor presies waar Johannesburg se naam vandaan gekom het. Een van die verduidelikings is dat president Paul Kruger glo vir Johann Rissik (landmeter-generaal) en sy vennoot, Christiaan Johannes Joubert, gevra het wat hulle die nuwe dorp gaan noem. Toe antwoord Johann Rissik dat beide hy en Christiaan die naam Johannes as een van hulle name het en dat Johannes ook een van die president se name is. Dus het hulle besluit op ‘Johannesburg’ as die naam. 9

Dit word toe algemeen aanvaar dat die naam wel van die naam van die twee landmeters afgelei is.

Johann Rissik

Vroeë geskiedenis

Die dorp is deur die landmeters op vyf plase uitgelê – Braamfontein, Turffontein, Langlaagte, Doornfontein en Randjeslaagte. Die suidelike grens van die dorp was waar Commissionerstraat vandag is.

In Oktober 1886 was daar 600 inwoners in die nuwe dorp. Hulle het in Ferreira se kamp op Turffontein en die Natalkamp op Doornfontein gewoon. Die eerste kampleier was kolonel Ignatius Philip Ferreira wat ook ’n diamantdelwer en avonturier was. Hy was die leier van die delwerskomitee.

Doornfontein

Die wêreld het kennis geneem van die ontdekking van goud en mense het na Johannesburg begin stroom. Die strate het almal van noord na suid of oos na wes geloop en die meeste geboue is van hout en yster gebou. Kleims is gekoop en verkoop en maatskappye is gestig. Daar het byna elke dag ’n nuwe myn of ’n ingenieurswerkswinkel ontstaan.

Langlaagte

Duisende immigrante het na Johannesburg gekom en die voedselmark vir boere het geweldig gegroei. Die aanlê van nuwe spoorlyne is ook deur die baie nuwe intrekkers bevorder.

In 1888 is daar ook ’n skool en hospitaal gebou terwyl die eerste teater – The Globe – ook gestig is.

The Globe

In dieselfde jaar (1888) het die volgende myne goud begin produseer: Ferreira, Robinson, Village Main Reef, City Suburban en Crown.

Hennen Jennings, ’n Amerikaner kom in 1889 na die Witwatersrand as raadgewende myningenieur vir H. Eckstein en Kie. Jennings se teoretiese kennis en praktiese vaardigheid as ingenieur motiveer hom om ’n aanleg vir Crown Mines te ontwerp wat meer van elektriese krag gebruikmaak as dié op enige ander myn. Hy was ook verantwoordelik vir die uitleg van die ondergrondse myne en  bogrondse aanlegte van die Robinson-, Ferreira-, Crown Reef-, New Heriot-, City and Suburban-, Village Main Reef- en New Modderfontein-myn. Deur sy deeglike werk as ’n myningenieur en effektiewe leierskap het hy wesenlik bygedra tot die ontwikkeling van die goudmynbedryf aan die Witwatersrand, veral mynbou in diepte.

Poskoets in Brakpan, 1952

Teen 1892 was daar reeds 40 000 mense in Johannesburg en in 1905 het die bevolking aangegroei tot 150 000.

In 1905 is daar ook vir die eerste keer spoeltoilette in gebruik geneem. Tot in daardie stadium was daar honderde waens wat deur muile getrek is en wat elke nag emmers met rioolafval van huise af weggery het. 10

Die begin van die kerklewe in Johannesburg

Die eerste NG (Nederduits Gereformeerde) erediens in Johannesburg was ’n opelugdiens wat in 1886 in die skaduwee van ’n wilgerboom gehou is. Dit was naby die terrein waar die Abraham Kriel-kinderhuis en ook die kerkgebou van die NG kerk Langlaagte later gebou sou word.

Abraham Kriel

Die eerste gemeente, die NG gemeente Johannesburg is op 14 Augustus 1887 gestig.

Die NG gemeente Johannesburg-Oos is in 1895 gestig en een van die lidmate was genl. Jan Smuts, wat in daardie stadium ’n jong staatsadvokaat was. 10

Jan Smuts

George Harrison Park

Die George Harrison-park in Johannesburg is gestig om die ontdekking van goud deur Harrison te gedenk. Die plek waar die park geleë is, vorm deel van twee kleims (nr. 19 en nr. 21) wat aan George Harrison en sy vennoot, George Walker, toegeken is. Albei hierdie kleims was deel van die plaas Langlaagte. Die terrein is in 1944 as ’n nasionale monument verklaar. 11

Ongelukkig is die terrein oor die afgelope aantal jare verwaarloos en nie onderhou nie. Daar is ook onwettige myners (zama-zamas) wat hulle daar gevestig het en wat verder probeer om goud daar uit te haal. 12

Kyk op die park se Facebookblad na ’n foto van die beeld in die park. 

’n Aantal belangrike datums vertel Johannesburg se geskiedenis

1886
Die Australiër George Harrison ontdek goud op die Witwatersrand. 13

1887
Op 24 Februarie verskyn die eerste Johannesburgse koerant, The Diggers News. Op 17 Oktober verskyn The Eastern Star, later bekend as  14

1888
Die Johannesburg Lighting Company word gestig, die eerste telefone word geïnstalleer en water word vir die eerste keer met pype na huise gelei. 7

1892
Die eerste trein vanaf die Kaap kom in Johannesburg aan. 7

1893
Die Johannesburg openbare biblioteek open in ’n sinkplaatgebou.

In die 1890’s
’n Aantal groot mynmaatskappye beheer die gebied se goudmyne en verseker uitgebreide rykdom vir die maatskappye se eienaars.

1899-1901
Vertroebelde (wanneer mense van mekaar verskil) verhoudinge tussen die mynmagnate, Engelssprekende immigrante en die Transvaalse regering lei tot onmin en later tot die Anglo-Boereoorlog wat veroorsaak dat Brittanje beheer oor Johannesburg oorneem. 6

Generaal Botha en sy krygsraad bespreek die verdediging van Johannesburg

1922
’n Mynwerkersopstand oor lewensomstandighede lei tot die dood van ongeveer 200 mynwerkers. Op 4 Oktober word die Universiteit van die Witwatersrand ingewy. 7

1928
Johannesburg word tot ’n stad verklaar.

1955
Die South African Congress Alliance kom in Kliptown (Soweto) bymekaar om die Vryheidsmanifes (Freedom Charter) te aanvaar. Ongeveer 2 000 polisiemanne word gebruik om swart, bruin en Indiër-inwoners uit Sophiatown te verwyder na plekke soos Soweto en Lenasia ooreenkomstig die destydse regering se beleid oor groepsgebiede en apartheid.

1963
Soweto (South Western Townships) word amptelik as ’n woongebied vir swart Suid-Afrikaners geproklameer.

1970
Johannesburg brei teen ’n vinnige tempo uit en verskeie hoë toringgeboue word opgerig. Ook Sandton City word gebou op grond wat eers plase was.

1976
Die Soweto-opstand vind plaas. 6

1981
’n Nuwe koerant, The Sowetan, verskyn op straat. 7

1990
Nelson Mandela spreek op 13 Februarie ’n volgepakte sokkerstadion (vandag die FNB-stadion) toe nadat hy vrygelaat is.

1994
Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing word gehou en die nuutverkose president Mandela vestig hom in Houghton. Hier is hy ook in 2013 oorlede. 6 [Lees meer hier oor demokrasie.]

1995
Die Springbokke wen die wêreldbeker in rugby in die eindstryd op Ellispark in Johannesburg (vandag Emirates Airline Park) 15 en in ’n onvergeetlike oomblik verskyn die destydse president Mandela saam met die Springbokke op die veld om die beker aan Francois Pienaar, die Springbokkaptein, te oorhandig. 6

2004
Die Konstitusionele Hof word in Braamfontein ingewy.

Konstitusionele Hof van Suid-Afrika

2010
Die opening- en afsluitingseremonie van die Fifa-wêreldbeker-sokkerwedstryd word by Soccer City (tans die FNB-stadion) in Soweto gehou. 6

2013
Die eindstryd vir die -sokkertoernooi word by Soccer City aangebied. 16

2022
Die bevolking van Johannesburg in 2022 is 6 065 000 –  2,33% meer as in 2021. 17

2023
Daar woon 6,198,000 mense in Johannesburg2.19% meer as in 2022. 17

Woordbank

advokaat ’n Regsgeleerde wat in die hoër hof kan verskyn en mense daar kan verdedig.
avonturier Iemand wat van avonture en opwindende dinge hou.
demokraties Wanneer die regering van ’n land deur al die inwoners van die land verkies word.
immigrante Mense wat van ander lande af ’n land binnekom om daar te kom bly.
kapitaliste ’n Kapitalis is iemand wat baie geld/kapitaal besit, veral geld wat in die sakewêreld gebruik word.
kleim ’n Stuk grond waarin daar moontlik waardevolle minerale of edelstene (soos diamante) kan wees.
landmeter ’n Persoon wie se werk dit is om land of grond op te meet en dan ’n kaart daarvan te teken.
onmin Onenigheid, wanneer mense sterk van mekaar verskil.
proklameer Amptelik bekend maak of aankondig. 20

Video’s

Johannesburg se geskiedenis en ontwikkeling.

Johannesburg soos uit die lug gesien.

So lyk die O.R. Tambo-lughawe vandag

Tien interessante plekke in Johannesburg

Per bus deur Johannesburg

 

 

Foto: PixabayFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 21 November 2022 | Bygewerk op 6 Maart 2024