Vinnige feite

  • Ds. Van der Hoff het op 27 Januarie 1861 die eerste predikant van die Hervormde Kerk in Pretoria in sy amp bevestig (hom amptelik as predikant aangestel). 6
  • In Pretoria-Noord is daar ’n straat wat Van der Hoffstraat genoem word en in Brakpan is daar ’n Hervormde Gemeente in Dirk van der Hoffstraat.
  • In Potchefstroom is daar ’n borsbeeld van Van der Hoff voor die Hervormde Kerk. 7
  • Lidmate van die Gereformeerde Kerk, word ook Doppers genoem. Dit is ’n bynaam wat vandag steeds gebruik word.
  • Vroeër jare is lede van die NG Kerk Gatjieponders genoem. Dit was ’n bynaam wat vandag nie meer dikwels gehoor word nie.

 

Daar is mense uit die geskiedenis wat deur verskillende mense en groepe so verskillend beskryf word, dat dit amper klink asof daar van twee heeltemal verskillende mense gepraat word. Dirk van der Hoff was so ’n persoon. Kyk net na ’n paar van die maniere waarop hy beskryf word: Liberalis, skeurmaker (iemand wat verdeeldheid tussen mense veroorsaak) maar dan ook: patriot, kerkman en staatsman. 1

Omdat hy ’n belangrike rol in Suid-Afrika se geskiedenis gespeel het, moet mens kyk na wat hy gedoen het.

Monument ter herdenking aan ds. Dirk van der Hoff, Potchefstroom

Die jong Dirk in Nederland

Dirk van der Hoff is op 2 September 1814 in Dordrecht in Nederland gebore. Sy pa was Pieter van der Hoff en sy ma Jacoba Botbijl. Sy pa was ’n winkelier.

Hy gaan na ’n Latynse skool in Dordrecht waar hy al sy skoolopleiding in Latyn ontvang! In 1833 begin hy met teologiese studies in Leiden, Nederland. Hy kwalifiseer in 1840 as predikant.

In 1845 trou hy met Anna Maria van Otterloo. Hulle het een dogter en twee seuns gehad. 2

Anna Maria van Otterloo, met wie ds. Van der Hoff in 1845 getroud is

Omdat daar in daardie stadium te veel predikante in die Nederlandse Hervormde Kerk in Nederland was, kon hy nie daar as predikant werk kry nie. Terwyl hy gewag het vir ’n pos as predikant, het hy ’n inkomste verdien deur by ’n boekhandelaar in Amsterdam te werk. Hy het 12 jaar lank gewag om ’n pos as predikant te kry! 1

Dit was in hierdie tyd dat hy daaraan begin dink het om as ’n predikant na Natal of na die Kaapkolonie te gaan. Hy het in daardie tyd ook ’n professor met die van Lauts ontmoet wat hom later gehelp het om genoeg geld te kry om na Kaapstad te kon reis. Hy en sy vrou het op 5 November 1852 in die Kaap aangekom. 2

Onthou dat mense in daardie jare met skepe na ander lande moes reis – daar was toe nog nie passasiersvliegtuie nie!

Vyf maande nadat hulle in die Kaap aangekom het, het hulle na Natal gereis en van daar na Transvaal. Hulle het op 27 Mei 1853 in Potchefstroom aangekom. Ds. Van der Hoff was vir ses jaar lank die enigste predikant in Transvaal en hy was predikant in die gemeente van Potchefstroom tot met sy dood op 9 Oktober 1881. 1

Potchefstroom se Hervormde kerkgebou soos dit sedert November 1891 lyk nadat dit verfraai is met ‘n sinkdak, ‘n daktoring en ingangsportaal

Skeuring in die Hervormde Kerk

Dit is nie maklik om presies te verduidelik waarom soveel mense nie positief oor Van der Hoff gevoel het nie. Dit is genoeg om te verstaan dat daar botsende teologiese standpunte was wat dinge moeilik gemaak het. Maar daar was ook persoonlikheidsbotsings (mense met verskillende persoonlikhede wat nie altyd saamgestem het nie). Dan was daar ook verskillende politieke standpunte. Dit alles het veroorsaak dat daar in die Hervormde Kerk ook verdeeldheid was.

Die eerste kerkgebou op Kerkplein in Pretoria ná die vergroting. So het hy gelyk tot hy verniel is in ‘n storm in 1872 en kort daarna afgebrand het “deur ‘n vernielende hand”

Slegs ’n paar maande nadat hy in Potchefstroom aangekom het, het die Eerste Algemene Kerkvergadering saam met lede van die Volksraad besluit om nie deel te vorm van die Kaapse sinode nie. Toe hy in Transvaal aankom, is ds. van der Hoff ten gunste daarvan (hy het gedink dis die regte ding om te doen) dat die Transvaalse gemeentes by die Kaapse sinode ingelyf moet word. Maar hy het gou agtergekom dat die meeste mense in Transvaal self nie by die Kaapse sinode ingelyf wou word nie.

Tog was daar mense wat toe geglo het dat dit ds. Van der Hoff se skuld was dat die Transvaalse Hervormde Kerk nie by die Kaapse NG Kerk wou inskakel nie. Hulle het gedink dat hy dalk teologies te liberaal was en nie by die meer konserwatiewe Kaapse kerk wou inskakel nie. 1

Mense se ontevredenheid met Van der Hoff het lidmate van die Hervormde Kerk en NG Kerk ontevrede gemaak. In 1859 het ’n aantal lidmate van die Hervormde Kerk weggebreek en onder leiding van ds. D. Postma die Gereformeerde Kerk gestig. Daar was dus uiteindelik in al drie die susterkerke mense wat nie met hom saamgestem het nie. Hier moet mens egter noem dat daar wel tussen hierdie twee kerkleiers – Van der Hoff en Postma – ’n goeie verhouding was en dat hulle met mekaar saamgewerk het. 2

Die tweede kerkgebou van die Hervormde gemeente Rustenburg, in 1945 geskilder deur A. Reynolds, vyf jaar voor dit gesloop is. Die hoeksteen van dié kerk is in 1864 gelê

Daar was predikante in Transvaal wat destyds ook gedink het dat ds. Van der Hoff te liberaal was. Die gemeente van Lydenburg het so sterk daaroor gevoel dat hulle in 1854 van die Hervormde Kerk afgeskei het.

Hierdie gemeente het sommer in 1866 vir die tweede keer van die Hervormde Kerk afgestig. 1

Navorsers verduidelik egter dat daar politieke redes was waarom Lydenburg se gemeente afgestig het en dat dit nie werklik deur ds. van der Hoff se standpunte veroorsaak is nie. 3

Daar was in elk geval spanning tussen die mense in Wes-Transvaal (waar Van der Hoff in Potchefstroom gewoon het) en die mense in Oos-Transvaal. Dit was dus waarskynlik ook nie slegs kerklike sake wat die Lydenburg-gemeente se afstigting veroorsaak het nie. 2

Die ou Nederduitsch Hervormde kerk op Rustenburg. In 1894 is ‘n hofsaak gevoer oor die besitreg van dié kerk waarna dit weer volledig in besit van die NH Kerk gekom het. Dié kerkgebou op die geskiedkundige kerkplein is omstreeks 1950 gesloop om plek te maak vir die bestaande kerkgebou

Die Lydenburg-gemeente, en ook ander gemeentes wat daarna gestig is, het bekendgestaan as die NG Kerk (Nederduits Gereformeerde Kerk) in Transvaal. 4

Van der Hoff was vir die res van sy lewe ongewild in die Oos-Transvaalse kerkgemeenskap. Daar was in hierdie tyd ook uit Wakkerstroom klagtes oor hom. Ook die mense van die NG Kerk was nie tevrede met hom nie en het gedink dat hy veroorsaak het dat daar ’n skeuring in die Kerk gekom het.

Daar is vandag steeds mense wat dink dat ds. Van der Hoff vir die verwydering tussen die verskillende Kerke verantwoordelik was. Mense sal waarskynlik nooit heeltemal hieroor saamstem nie.

Terwyl talle mense ds. Van der Hoff gekritiseer het, was daar ander wat sê dat hy met toewyding, opoffering en deursettingsvermoë die land waarheen hy verhuis het, se mense vir 28 jaar gedien het deur hulle te troos, te inspireer en moed in te praat.

Ds. A.J. Begemann, eerste Hervormde predikant van Pretoria, en sy eggenote. Hy was een van twee predikante wat in 1861 na Transvaal gekom en ds. Van der Hoff se taak makliker gemaak het

Suid-Afrika in die 1850’s en daarna

Kom ons kyk bietjie wat in hierdie tyd in die geskiedenis van Suid-Afrika gebeur het.

Dit was die jaar 1852 toe ds. Van der Hoff in die land aangekom het. In dié tyd – toe hy predikant in Transvaal was en boonop die enigste predikant – was Transvaal nog besig om in ’n nuwe vaderland te ontwikkel. Mens moet daarom daaraan dink dat die land besig was om op staatkundige, sosiale en kerklike gebied te ontwikkel. Daar sou gevolglik stryd en onenigheid onder die mense wees omdat alles besig was om te groei. Vir ’n predikant kon dit nie altyd maklik gewees het nie omdat hy en sy werk ook deur al die nuwe ontwikkelinge geraak sou word. 3

Hy het in ’n pioniersgemeenskap beland en hy moes in kerksake asook op staatkundige, onderwys- en maatskaplike gebied leiding gee en het eintlik baanbrekerswerk verrig. 5

Van der Hoff se belangrike bydrae

Op kerklike gebied

Hy het orde gebring in die oorblywende gedeelte van die Voortrekkerkerk. Omdat hy tot in 1961 die enigste predikant in Transvaal was, het hy in 1857 ’n voorlopige Kerkwet opgestel en daarna het hy ook gehelp om die eerste amptelike Kerkwet van 1862 asook die hersiene Kerkwet van 1869 op te stel. 5

Prof. U.G. Lauts, wat hom besonder beywer het vir hulp aan die Voortrekkers in Transvaal, het ds. Van der Hoff in Nederland bereid gevind om as predikant daarheen te gaan

Van der Hoff moes in die hele Transvaal werk – ’n baie groot gebied vir net een persoon! Hy het kerke gevestig in onder meer die Suikerbosrand, in die omgewing van die huidige dorpe Wolmaransstad, Bloemhof, Makwassie en Christiana, in Pretoria, Klerksdorp, Rustenburg en ook in die omgewing van die dorpe Volksrust en Wakkerstroom. Omdat hy soveel plekke moes besoek, moes hy vir lang tye reis en dit was meeste van die tyd met ’n ossewa. In hierdie tyd was die gebiede waardeur hy moes reis, nog onherbergsame wêreld met baie gevare. Hy het byvoorbeeld twee keer sy arm en een keer sy been gebreek tydens hierdie reise. Dit het veroorsaak dat hy vir ’n tyd lank moes sit terwyl hy gepreek het. 2

Dink net ’n bietjie hoe moeilik dit vir ’n predikant – eintlik enige iemand – moes wees om met ’n ossewa so ver van plek tot plek te moes ry en dan nog jou arm en been ook te breek sonder om naby ’n dokter of hospitaal te wees!

Met die koms in 1861 van onder andere ds. G.W. Smits (na Rustenburg) het ds. Van der Hoff se arbeidsterrein heelwat kleiner geword

Onder sy leiding het die Nederduits Hervormde Kerk gegroei totdat dit in 1878 ’n welvarende kerklike gemeenskap van 19 500 lidmate was wat toe sewe predikante gehad het. In hierdie jaar vier die Hervormde Kerk ook Van der Hoff se 25 jaar in diens van die Hervormde Kerk in Suid-Afrika. 2

Op staatkundige gebied

Hy het nie net in die kerk belangrike dinge gedoen nie. Hy het ook gehelp skryf aan die eerste grondwet van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en gehelp met die aanlê van Pretoria as hoofstad. Hy en sy broer het die Vierkleur as vlag ontwerp. Toe die vlag vir die eerste keer in Potchefstroom, Rustenburg en Pretoria gehys word, tree hy as predikant by dié geleenthede op. Vir hierdie geleenthede het hy ook ’n vlaglied geskryf wat as ’n eerste soort volkslied gebruik is. 5

Die Transvaalse Vierkleur, wat ds. Van der Hoff ontwerp het, is die eerste keer op 6 Januarie 1857 op Potchefstroom en op 23 Februarie 1857 op Pretoria gehys. Op 18 Februarie 1858 het die Volksraad die Vierkleur tot die amptelike vlag van die Zuid-Afrikaansche Republiek verklaar

In 1881 is hy deel van die vrywording van sy tweede vaderland toe Brittanje die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) amptelik erken en hy skryf ook ’n paar feesliedere. 2

In die onderwys

In 1853 het die Volksraad die Van der Hoff-reglement vir onderwys aanvaar. Volgens hierdie dokument moes die kerk toesig hou oor die onderwys. Toe die Transvaalse Grondwet in 1857 aanvaar word en die onderwys die verantwoordelikheid van die staat word, is Van der Hoff as voorsitter van die kommissie van onderwys verkies. Hy het hierdie posisie tot in 1867 beklee. 2

’n Kerkleier sterf

Ds. Dirk van der Hoff sterf op 9 Oktober 1881 in Potchefstroom. Sy begrafnisdiens word waargeneem deur ds. N.J. van Warmelo wat tydens die diens aan hom hulde bring (positiewe en goeie dinge oor iemand sê). 2

Ds. N.J. van Warmelo

Van der Hoff kon soms opvlieënd raak en het ook soms kras uitsprake gemaak. Maar hy was baie lojaal aan die Hervormde Kerk en ook aan die ZAR en die Afrikaner se ideale om vry te wees. Hy het sy aangenome land en mense vir meer as 28 jaar gedien in omstandighede wat nie altyd maklik was om in te leef en te werk nie. 1

Van der Hoff se grafsteen in die Alexanderpark-begraafplaas, Potchefstroom

Woordbank

baanbreker Iemand wat voorloop, die pad oopmaak vir ander om te volg.
deursettingsvermoë Wanneer iemand deurdruk om iets te doen totdat dit voltooi of afgehandel is.
hulde bring Iets moois/positiefs van iemand sê; lof toeswaai.
inlyf As lid van ’n groep of gemeenskap opneem.
inspireer Iemand aanmoedig om iets te doen.
konserwatief Iemand wat nie hou van verandering of nuwe idees nie.
kras Om oordrewe streng te wees; om te streng/kwaai te praat).
liberalis Iemand wat nie beheer word deur of glo in gevestigde en tradisionele opvattings nie.
lojaal Om getrou aan iemand of iets te wees.
onherbergsame ’n Plek waar daar nog nie mense woon nie en waar dit nie maklik is om te woon nie.
opoffering Om dinge prys te gee, daarsonder klaar te kom omdat jy jou medemens wil dien.
opvlieënd Iemand wat gou kwaad word.
patriot Iemand wat sy of haar vaderland liefhet.
pionier Een van die eerste mense wat na ’n nuwe land of gebied gaan en daar begin woon en werk.
reglement Die bepalings of reëls van ’n organisasie.
susterkerke Die NG Kerk, Hervormde Kerk en Gereformeerde Kerk word die drie susterkerke genoem.
teologiese studies Om vir ’n predikant te leer.
toewyding Om ’n taak met oorgawe aan te pak, dit so goed as moontlik te doen. 8

Lees hier meer

 

Gepubliseer op: 9 Februarie 2023 | Bygewerk op 15 November 2023