Vinnige feite

  • Afrika is die tweede grootste kontinent op aarde.
  • Die Afrika-land met die grootste landoppervlakte is Algerië.
  • Tussen 1 500 en 2 000 tale word op die kontinent gepraat. Die taal wat deur die meeste mense gepraat word, is Swahili.
  • Die Nyl, wat die langste rivier in die wêreld is, loop deur Afrika.
  • Afrika is die tuiste van die oudste universiteit in die wêreld. Die University of al-Qarawiyyin is die oudste bestaande opvoedkundige instansie (universiteit) wat steeds gebruik word, en volgens die Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie van die Verenigde Nasies (UNESCO) en die Guinness-wêreldrekordboek is dit ook die eerste een waar studente grade kon verwerf. Hierdie ou universiteit het in 1963 deel van Marokko se moderne staatsuniversiteit geword. 1
  • Die wêreld se grootste en warmste woestyn is in Afrika.
  • 50% van Afrika se bevolking is 19 jaar en jonger.
  • Die antieke Grieke en Romeine was die eerste Europeërs wat ontdekkingsreise na Afrika onderneem het.
  • Die Ptolemeïese dinastie het vir byna 300 jaar in Egipte in noordelike Afrika regeer. Al die mans wat in daardie tyd regeer het, se naam was Ptolemeus (Ptolemy), terwyl die vrouens name soos Arsinoe, Berenice en Cleopatra verkies het. 2
  • Daar is ʼn groot verskeidenheid godsdienste in Afrika, waaronder Christendom, Islam, tradisionele godsdienste van Afrika, en nog ander.
  • Die hoogste berg in Afrika is Kilimandjaro, wat 5 895 meter hoog is. Dit is in Tanzanië en is ook ʼn onaktiewe vulkaan, met ander woorde ʼn vulkaan wat “rus”.
  • Afrika bestaan uit 54 erkende lande en twee onafhanklike state met beperkte of geen erkenning nie. 3
Foto: iStock

Afrika in sy geheel gesien, is hoofsaaklik ʼn arm en ylbevolkte vasteland. Die hele vasteland lê in tropiese en subtropiese streke, en sy totale oppervlakte beslaan ʼn landoppervlak van 30,37 miljoen vierkante kilometer of 20% van die landoppervlakte van die aarde. Dit is so groot dat ʼn mens die Verenigde State, China, Japan, Mexiko en baie Europese lande saam daarin kan pas! 4

Die getal mense in Afrika in November 2022 (gebaseer op die jongste skatting van die Verenigde Nasies) is 1 416 713 770. Dit is gelykstaande aan 16,72% van die wêreld se bevolking! 5

Afrika bestaan uit ʼn aantal plato’s en valleie waarvan die vlakke verbasend gelyk en eenvorming is. In die oostelike gedeeltes is ʼn reeks indrukwekkende skeurvalleie, terwyl vulkaniese uitbarstings hoë bergreekse laat ontstaan het. ʼn Tipiese Afrika-landskap bestaan uit hoogliggende plato’s, wuiwende grasvelde, met enkele verspreide bome en struike. Dié oop landstreek is die ideale woonplek vir veral grootwild, en dit lok baie toeriste en natuurliefhebbers na die ongerepte land.

Net ʼn baie klein gedeelte van die vasteland bestaan uit tropiese woude, terwyl die noordelike en suidelike grense se klimaat en plantegroei baie soortgelyk is. Die gehalte van die grond en die klimaat van die vasteland is ʼn uitdaging vir die uitbouing van die onderontwikkelde – en hoofsaaklik landbougerigte – ekonomiese stelsels, van dié Afrika-lande. In sommige streke is mynbou baie winsgewender. Afrika spog met buitengewoon ryk reserwes van sekere sleutelminerale (koper, goud en aardolie). Daar is ook groot moontlikhede vir nywerheidsontwikkeling as die waterkragpotensiaal benut sou word, asook sonkrag en wind as hernubare energiebronne.

Victoria Waterval – Zambië en Zimbabwe

Geografie

Hoewel die ewenaar Afrika feitlik reëlreg in die helfte sny – dit is nou van noord na suid gesien – lê sowat twee derdes van die landmassa in die Noordelike Halfrond. Verreweg die grootste deel van Afrika – meer as twee derdes – lê tussen die Kreefskeerkring en die Steenbokskeerkring, en maak van Afrika die mees tropiese vasteland.

Die Afrika-skild

Kenmerkend van Afrika is die algemene plat voorkoms van die landskap. Die grootste deel van die vasteland bestaan uit valleie en hoë plato’s, met enkele heuwels en berge wat bokant die landskap uittroon. Dié byna plat voorkoms van die landoppervlakte is die gevolg van die hoë ouderdom van ʼn groot deel van die kontinent.

Afrika bestaan uit ʼn groot deel oeroue gesteentes wat in die verre verlede die diepste dele van die berge gevorm het. Met verloop van tyd het die berge deur verwering weggeslyt, behalwe waar daar baie harde gesteentes naby die oppervlak was, wat meer weerstand teen erosie kon bied.

Só ʼn ou geologiese vorming word ʼn skild genoem. Daar is talle aanduidings dat die Afrika-skild, sowel as soortgelyke geologiese skilde – soos dié in Suid-Amerika, Australië, Indië en Antarktika – oorspronklik één groot vasteland, genaamd Gondwanaland, gevorm het.

Die vastelande, soos ons dit vandag ken, het stadig uit mekaar gedryf tot in hul huidige posisies op die aardbol. Volgens dié teorie was die eiland Madagaskar eers deel van Afrika. Weens verskeie vertikale bewegings is die Afrika-skild in ʼn aantal verskuiwingsblokke verdeel, elk met ʼn bovlak en ʼn versonke middelste vlak. In suidelike Afrika is die plato’s hoër as dié wat verder noord aangetref word. Die gemiddelde hoogte in die suidelike deel van die kontinent is sowat 1 000 meter, terwyl die Drakensberge, wat ʼn opvallende randhelling het, hoër as 3 000 meter is. Die Zaïre-bekken (Kongo-bekken) lê sowat 300 meter bo seespieël, terwyl sy hellings omtrent 1 000 meter hoog is.

Noord van dié bekken is die gemiddelde hoogte laer. Die diepste deel van die Sahara-bekken lê onder seespieël. Afrika kan dus as ʼn reeks plato’s en valleie wat trapsgewys van suid na noord daal – met net enkele natuurlike grense tussenin – gesien word.

Slenkdale en vulkane

In die oostelike dele van Afrika het reuseverskuiwings, tesame met vulkaniese uitbarstings, die landskap heeltemal verander. Hier is die landmassa letterlik “gebreek”. Só het lang en diep skeurvalleie (slenke) gevorm, wat deel vorm van ʼn slenkstelsel wat van die Jordaan-dal, deur die Rooisee en Etiopië, na die Shire-vallei in Mosambiek loop.

In Oos-Afrika verdeel die slenkstelsel in twee takke waartussen die aardkors opgedruk is. Op dié plato lê die groot (dog vlak) Victoria-meer (skaars 80 meter diep). Die westelike een van die twee slenkdale, naamlik die Groot Skeurvallei, kan duidelik op ʼn kaart herken word omdat dit ʼn reeks smal, diep mere gevorm het – van noord na suid kry ʼn mens die Albert-meer, die Edward-meer, die Kiwu-meer, die Tanganjika-meer en die Malawi-meer (Njassa-meer).

Die oostelike lyn – wat sy beginpunt by die seestraat van Bab el Mandeb het – is met die eerste oogopslag nie so maklik herkenbaar nie. Die grootste meer wat hier gevorm het, is die Turkana-meer, voorheen bekend as die Rudolf-meer. Hoewel vulkaniese werkinge nog nie heeltemal uitgewoed is nie, het dit vandag nie naastenby die omvang en intensiteit wat dit voorheen gehad het nie. Daarvan getuig die groot, uitgewerkte vulkane wat tot vandag toe Afrika se hoogste berge is. Die hoogste berg is die Kilimandjaro-berg, op die grens tussen Kenia en Tanzanië.

Dit is 5 895 meter hoog. Hoewel dit in die middel van die tropiese gebied geleë is, is dit reg deur die jaar met sneeu bedek. Ander uitgewerkte vulkane is Berg Kenia (5 199 meter) en die Elgon-gebergte (4 321 meter), onderskeidelik in Kenia en op die grens tussen Kenia en Uganda. ʼn Ander belangrike bewys van vulkaniese aktiwiteit is die lawa-afsettings wat groot oppervlaktes in Etiopië en die hoogliggende gebiede van Oos-Afrika bedek.

Die Kameroen-gebergte in Wes-Afrika is deur ʼn soortgelyke proses gevorm, maar op ʼn kleiner skaal: In dié gebied het vulkaniese werkinge ʼn groter rol gespeel as verskuiwings en die opstoot van aardkorsdele na bo. Die Kameroen-gebergte loop tot onder die see deur. Daarvan getuig die eilandreeks Fernando Po, Principe, Sao Tomé en Annobón.

Die vorming van bergreekse deur plooiing van die aardkors in die latere geologiese tydperke, het weinig invloed op Afrika gehad, meestal ook net aan die noordelike en suidelike rande. Hierdeur het die Atlas-gebergte in die noordweste gevorm, heel waarskynlik in ongeveer dieselfde tyd as wat die groot bergreekse in Eurasië gevorm is.

’n Kaart van Oos-Afrika wat sommige van die aktiewe vulkane aandui (rooi driehoekies) en die Afar-driehoek in die middel.

Dit is die plek waar drie plate van mekaar af wegbeweeg – die Arabiese Plaat en die twee dele van die Afrika-plaat (die Nubiese en Somaliese dele) wat langs die skeurvallei in Oos-Afrika verdeel. 6

Riviere en mere

Die waterverspreiding van Afrika toon ʼn duidelike patroon wat ooreenstem met die relatief eenvoudige struktuur van die vasteland. Daar is ʼn paar groot rivierbekkens, asook etlike riviere wat nie in die see uitloop nie. Omdat dit in Afrika so min reën, loop sowat een derde van Afrika se water nie uit in die see nie.

Dit geld vir die Sahara en die Kalahari en die hoogliggende droë plato’s in Suid-Etiopië en Noord-Kenia. Die riviere in dié beskutte Oos-Afrikaanse bekken vloei uit in die Turkana-meer. Die groot moerasagtige Tsjaad-meer word waarskynlik ondergronds deur soetwaterstrome gevoed, en die Okavango-moerasse bevat – weens ʼn verdampingsproses – soutwater.

Die vyf grootste riviere van Afrika is die volgende: Nyl, Kongo, Niger, Zambezi en Oranje (Gariep). Hierdie riviere is baie belangrik vir ʼn kontinent waar duisende mense in ekstreme armoede lewe en baie gebiede vreeslik droog is. Afrika se riviere bring lewe in onvrugbare, dorre landstreke waar die water mense in staat stel om voedsel te plant en vis te vang.

Die groot riviere van Afrika het oor baie jare ook ontdekkingsreisigers en sendelinge na Afrika gelok, en dit is tot vandag ʼn bron van interessante feite en verwondering vir enigeen wat in die kontinent se geskiedenis en geografie belangstel.

Victoria-watervalle

Die Nylrivier

Die Nyl is die langste rivier in Afrika, en sommige mense reken dit is ook die langste rivier in die wêreld. (Ander argumenteer dat die Amasonerivier langer as die Nyl is – afhangende van die kriteria wat gebruik word.) Die Nylrivier vloei noordwaarts van Oos-Afrika af deur 11 lande, en dit mond uiteindelik by die Nyldelta aan die kus van Egipte in die Middellandse See uit.

Die Nylrivier het twee sytakke – die Wit Nyl en die Blou Nyl. Die Wit Nyl is langer as die Blou Nyl, maar dra net 20% van die water by waar dit naby Kartoem in Soedan saamvloei. Die Blou Nyl ontspring in Ethiopië. Die bron van die Wit Nyl is nog nie bo alle twyfel vasgestel nie.

Mense woon al vir die afgelope minstens sesduisend jaar in die Nylvallei. Dit was vir die vroeë beskawings in Egipte en Soedan die middelpunt van hulle bedrywighede, en ook ʼn area van groot kulturele belang. Die water van die Nylrivier is al vir baie eeue die lewensaar van landbou, kultuur, vervoer, handel en toerisme in Etiopië, Soedan en natuurlik Egipte.

Die Luxor Tempel is ‘n groot Antieke Egiptiese tempel op die oewer van die Nylrivier

Die Kongorivier

Die Kongorivier ontspring in die Chambeshi-rivier noordoos van Zambië, en is 4 700 kilometer lank. Dit vloei deur die Republiek van die Kongo en ook die Demokratiese Republiek van die Kongo. Sytakke van die rivier in die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Kameroen, Tanzanië, Zambië en Angola vorm ook deel van hierdie rivierstelsel. Die Kongorivier mond uit in die Atlantiese Oseaan by Moanda in die Demokratiese Republiek van die Kongo.

Die Kongorivier is die tweede langste rivier in Afrika en die negende langste in die wêreld. Dit is ook die diepste rivier in die wêreld; dit is tot 220 meter diep op sommige plekke. Dit is ook die enigste rivier in die wêreld wat die ewenaar twee keer kruis!

ʼn Mens dink onwillekeurig aan beelde van diere wat in die reënwoude voorkom, soos gorillas, shimpansees, bonobo’s, okapi’s, allerhande soorte ape en bobbejane wat inderdaad aan die oewers van die rivier voorkom. Die Kongo-rivierkom het ook die grootste diversiteit (die meeste soorte) visspesies van enige ander riviersisteem in Afrika.

Die huidige loop van die rivier sluit vandag stroomversnellings, watervalle, moerasse, mere en eilande in. Bote kan slegs vir 160 km op die laer lope van die rivier vaar voordat die 32 groot stroomversnellings, bekend as die Livingstone Falls begin. As ʼn mens egter van Kinshasa af landwaarts gaan, is die rivier vir meer as 2 000 kilometer bevaarbaar. Omdat skepe en bote op die rivier kan vaar, maak dit die vervoer moontlik van goedere soos katoen, koffie, hout, minerale en rubber vanaf plekke waar daar geen paaie is nie.

Daar woon sowat 75 miljoen mense in die stroomgebied van die Kongorivier, en die grootste persentasie van hulle is afhanklik van die rivier vir hulle inkomste.

ʼn Interessante feit is dat die Kongorivier nie ʼn delta (driehoek) vorm waar dit in die see uitmond nie, wat iets besonders is vir so ʼn groot rivier. Die Kongorivier mond uit in die see deur middel van ʼn smal, diep kanaal. Deur die jare het die water se vloei al ʼn onderwater spoelkloof (canyon) uitgekalwe wat 85 kilometer see-in strek en op plekke meer as 1 000 meter diep is.

Die Nigerrivier

Die Nigerrivier ontspring in die berge in die suidwestelike deel van Guinee in Wes-Afrika, en is 4 200 kilometer lank. Dit vloei deur Guinee, Mali, Niger en Nigerië, waar die rivier by die Niger delta uitmond in die Golf van Guinee (Atlantiese Oseaan).

Die Niger is die derde langste rivier in Afrika, en hoewel dit net 240 kilometer van die Atlantiese Oseaan af ontspring, vloei dit nie seewaarts nie. Dit vloei land-in en reguit in die Saharawoestyn in. Dit maak ʼn wye draai en vloei dan suid-oos naby die antieke stad Timboektoe in Mali, en daarna suidwaarts na die Niger Delta, waar dit in die Atlantiese Oseaan (in die Golf van Guinee) uitmond.

Mungo Park, ʼn Britse ontdekkingsreisiger, het in 1795 en 1804 ontdekkingsreise van die bron tot die mond van die rivier onderneem. Hy het probeer om met ʼn boot die hele lengte van die rivier te roei en het dikwels moeilikheid gekry van die plaaslike stamme wat sy boot kort-kort aangeval het wanneer hy by hulle verbygeroei het. Park se geselskap was goed bewapen en het die aanvalle afgeweer, maar ongelukkig het sy boot tydens een van die aanvalle op die rivier se oewer vasgesit. Hy moes uitspring en het verdrink. So het daar ongelukkig niks gekom van sy poging om die riviermond te bereik nie. Die twee Britse broers, Richard en John Lander, het uiteindelik in 1830 bevestig dat die Nigerrivier in die Atlantiese Oseaan, via die Niger Delta uitmond.

Die grootste deel van die Nigerrivier is bevaarbaar, met ander woorde, bote kan daarop vaar, maar groter handelskepe word tot die benedelope beperk en kan slegs op die rivier vaar wanneer die watervlak hoog is. Kleiner bote kan gemaklik oor die hele lengte van die rivier vaar, en dié waterweë word al vir baie eeue gebruik om handelsware te vervoer.

Net voordat die rivier Timboektoe bereik, word die rivier vlakker. Dan sprei die water uit en vorm etlike strome, moerasse, kanale en mere wat met mekaar verbind is. Dit is die binneste Niger Delta, wat ʼn vrugbare oase in die omringende droë Sahel van Mali vorm. Die delta kom seisoenaal in vloed, en dit is weer belangrik vir die landerye, asook ʼn geliefkoosde plek vir duisende voëls.

Die Zambezirivier

Hierdie groot rivier van 2 574 kilometer lank ontspring in Mwinilunga in noordwestelike Zambië. Dit vloei deur die Demokratiese Republiek van die Kongo, Angola, Zambië, Namibië, Zimbabwe en Mosambiek, en dit mond uit in die Indiese Oseaan by Mosambiek.

Die Zambezi is die langste rivier wat ooswaarts in Afrika vloei. Dit word as taamlik ongerep en onontdek beskou. Die rivier is die tuiste van baie natuurlewe, asook derduisende diere en voëls.

Omdat die land so plat is, vloei die rivier taamlik stadig. Op sekere plekke is die rivier so vlak dat dit vloedvlaktes van tot 25 kilometer wyd vorm. Min mense woon aan die bolope van die rivier, en die feit dat die rivier jaarliks sy oewers oorstroom, het ʼn groot invloed op mense se lewens omdat hulle elke keer hul huise en diere na hoër gebiede moet verskuif.

Die Britse sendeling en ontdekkingsreisiger David Livingstone het die Zambezi langs sy middel- en onderste lope verken, en in 1855 het hy die Victoria-waterval, ook bekend onder die plaaslike mense as Mosi-oa-Tunya (‘die rook wat donder’) ontdek. Die waterval is minstens 1 500 meter wyd en vorm die grootste gordyn van vallende water in die wêreld. Dit is ook een van die sewe natuurlike wonders van die wêreld.

Twee yslike damme – die Kariba en die Cahora Bassa – is in die rivier gebou om die vloei van die water te beheer en om hidroëlektrisiteit op te wek. Dit het groot veranderinge aan die ekosisteme van die Zambezi-vloedvlaktes veroorsaak.

Tiervis is volop in die Zambezirivier en hengelaars kom van oral in die wêreld om hierdie besondere visse met hulle skerp tandjies – wat hulle nie sommer laat vang nie – wél te vang.

Lugfoto van die Zambezirivier

Die Oranjerivier

Die Oranjerivier ontspring in die Drakensberge by Mount aux Sources in Lesotho, en dit is 2 092 kilometer lank. Dit vloei deur Lesotho en Suid-Afrika en mond uit in die Atlantiese Oseaan. Die rivier vloei weswaarts en loop eers in die Gariepdam en daarna in die Vanderkloofdam, wat albei yslike opgaardamme is, wat water aan die droër streke van die land verskaf. Die water word ook gebruik om hidroëlektrisiteit op te wek.

Verder stroomaf vloei nog ʼn groot Suid-Afrikaanse rivier, die Vaalrivier, by die Oranjerivier in. Kort voordat die rivier Keimoes bereik, verdeel dit in twee en vorm die bekende Kanoneiland, waar boere al baie jare woon en boer. Daarna vloei die twee lope weer saam.

Die rivier se onderste lope, of die Benede-Oranje, soos dit ook bekend staan, vloei deur verskeie droë en semi-woestyngebiede. Hier voorsien die rivier water vir besproeiingskemas wat die kweek van gewasse soos onder andere graansoorte, druiwe, olywe, neute en dadels moontlik maak.

Omdat daar soveel diep ravyne (klowe), stroomversnellings en ook die bekende Augrabies-waterval in die rivier is, kan bote nie op die Benede-Oranjerivier roei of vaar nie. Sandbanke en stroomversnellings blokkeer die rivier 30 kilometer van waar dit in die see uitmond, wat dit vir bote onmoontlik maak om van die see se kant af op die rivier te vaar of te roei. ʼn Interessante feit is dat die Eureka-diamant – die eerste diamant wat in Suid-Afrika gevind is – naby Hopetown in die rivier ontdek is. Tot vandag toe word spoeldiamante nog dikwels in die rivier en veral by die monding gevind, waar verskeie diamantmyne in bedryf is. 7

Klimaat en natuurlike plantegroei

Omdat die ewenaar deur Sentraal-Afrika (die middel van Afrika) loop, is die patroon van die klimaat en plantegroeistreke wat in die Noordelike Halfrond lê, in ʼn groot mate dieselfde as in die Suidelike Halfrond. Dat dit nie heeltemal dieselfde is nie, kan toegeskryf word aan die feit dat die noordelike deel baie wyer is, en net deur die smal Rooisee van Eurasië se landmassa geskei word, terwyl die invloed van die Indiese Oseaan tot diep in die binneland van suidelike Afrika waargeneem kan word.

Die belangrikste verskil tussen die noorde en die suide is dat die wêreld se grootste woestyn – die Sahara – in die Noordelike Halfrond is, terwyl die woestyngebiede van Suider-Afrika (die Namib en die Kalahari) baie kleiner is. Die simmetrie van die noordelike en die suidelike helftes word daarby ook verbreek deur die hoë plato’s, en dit beïnvloed ook die reënvalpatroon en temperatuur. Behalwe vir die verskille tussen die hoogliggende en die laerliggende dele, word die klimaatsverskille van Afrika hoofsaaklik bepaal deur verskille in reënval en nie deur verskille in temperatuur nie.

Lugfoto van die woud en rivier in Tansanië, naby Kilimanjaro

Temperatuur speel natuurlik ook ʼn rol, maar (behalwe by die hoogste bergpieke) dit verander nie die feit dat Afrika feitlik regdeur die jaar warm bly nie. In die tropiese dele van Afrika word die seisoensverskille in reënval deur die ekwatoriale laagdrukstelsel bepaal, wat ʼn baie hoë reënvalsyfer tot gevolg het. In die winter beweeg dié reënsone noord, en in die somer van die Suidelike Halfrond beweeg dit suid. ʼn Strook weerskante van die ewenaar bly regdeur die jaar onder die invloed van dié reëngordel.

ʼn Breë sone aan weerskante van hierdie hoëreënvalgordel ondervind ʼn baie droë en ʼn baie nat seisoen. Vir ʼn gedeelte van die jaar heers daar dan ʼn tropiese reënklimaat, terwyl dit die res van die jaar oorwegend droog is. Hierdie streek word dan beïnvloed deur die subtropiese hoogdrukgordels wat noord en suid van die vogtige ekwatoriale sone voorkom en ook gedurende die loop van die jaar van noord na suid verskuif. Hoe verder daar van die ewenaar beweeg word, hoe langer word die droë seisoen, omdat die reënstrook sy invloed vir ʼn korter tyd uitoefen.

In Afrika is daar geen topografiese grense wat een klimaatsone van ʼn ander skei nie, daarom is die klimaat wisselvallig, veral tydens die droër seisoene. Die reëngordel beweeg nie volgens riglyne nie, en daarom is die begin van die reënseisoen moeilik voorspelbaar – een jaar is dit vroeg, die volgende jaar laat. Soms val daar baie reën, dan weer minder. Die sones met wisselende droë en nat seisoene beweeg geleidelik oor na die woestyngebiede waar stortbuie baie selde voorkom. In die suidelike deel van die vasteland is die woestyn relatief klein. Die Namib-woestyn – wat aan die kus van Namibië lê – is uiters droog. Die Kalahari in Botswana en Suid-Afrika is in der waarheid eerder ʼn halfwoestyn.

Die reusagtige Sahara in die noorde word stadigaan groter, en dit brei veral na die suide uit omdat baie min reën voorkom. Dit vorm deel van ʼn droë gordel wat tot diep in Asië strek. ʼn Middellandse See-klimaat – ʼn klimaat wat bestaan uit droë, warm somers, en koeler, nat winters – oorheers in die noordweste van Afrika en die suidwestelike punt van Suid-Afrika. Die klimaatstreke bepaal die plantegroeistreke wat in Afrika voorkom.

Fauna en flora

Afrika het nie so baie oerwoude soos wat mens sal dink nie. Die grootste deel van sy oppervlakte bestaan uit uitgestrekte vlaktes, woestyne en savannes. Gedeeltelik is dit die natuurlike gevolg van prehistoriese vulkaniese uitbarstings. Die vulkaniese afsettings is net deur ʼn dun lagie grond bedek waarin bome hulle moeilik kan vasanker.

Baie ou kokerbome

Die mens het dié toestand later aansienlik laat toeneem deur brande, oorbeweiding en ander bedrywighede wat erosie bevorder. Die klimaat het ook sy invloed laat geld. Die afgelope miljoen jaar het die klimaatstoestande drie keer gewissel van vogtig en nat tot droog. Só het die eens uitgebreide tropiese reënwoud al hoe kleiner geword. Aan die ander kant het die veranderinge in die klimaat die dier- en plantsoorte gedwing om hulle by die nuwe omstandighede aan te pas. Só het ʼn groot verskeidenheid fauna en flora ontwikkel.

Tropiese reënwoude groei in die natste dele, in die hartjie van die Zaïre-bekken en die kus van Wes-Afrika. Aan die nat, oostelike randhelling van die plato kom daar subtropiese woude voor. Rondom die oerwoud strek die vogtige savanne of grasvlakte met hoë, wuiwende gras en hoë bome. Namate die klimaat droër word, groei die gras, en selfs die bome, laer as gewoonlik.

Kitwa, Uganda

Die bome met laer kruine begin hul blare in die droë seisoene verloor. Doringbosse en akasias is kenmerkend van die droë savanne. Hoe nader daar aan die grense van die woestyn beweeg word, hoe yler word die plantegroei. ʼn Klein gedeelte van Afrika – minder as 10% – is heeltemal bar. Die boomlose grasveld in die binneland van Suid-Afrika sorg vir uitstekende landboumoontlikhede.

Tropiese reënwoude

Die tropiese reënwoude kom voor in gebiede waar die reënval meer as 1 500 millimeter per jaar is. Weens die vogtigheid en hoë temperature reg deur die jaar is daar altyd ʼn immergroen en baie weelderige, digte plantegroei. In Afrika word reënwoude hoofsaaklik langs die Weskus aangetref. Daar is nie ruimte vir groot diertroppe nie, en die meeste soogdiere wat daar voorkom, is alleenlopers.

Hulle is gewoonlik sku diere wat snags aktief is. Een van die grootste inwoners van die reënwoud is die okapi (verwant aan die kameelperd) en die reusebosvark. Die sterkste aapsoort is die gorilla. Die laaglandgorilla van Nigerië, Kameroen en die Kongo, en die berggorilla van Uganda en die vulkaangebied van die oostelike Kongo, kom tot op ʼn hoogte van 4 000 meter voor. Die sjimpansee kan heel gemaklik in die grasvlaktes leef, maar is in die oerwoud beter teen mense beskerm. Die reënwoud het ook talle belangrike, bruikbare plante opgelewer, soos die oliepalm, die tropiese kola- en die koffieboom.

Savannes

Dat Afrika steeds die woonplek van die groot soogdiere is, is te danke aan die savannes, asook die uitgestrekte grasvlaktes met verspreide boomgroepe. Ondanks die bedreiging wat die mens inhou, floreer reusetroppe wildsbokke, sebras en buffels nog hier in die ongerepte dele van Afrika. Hul getalle word deur leeus, luiperds, jagluiperds, hiënas, wildehonde, jakkalse en ander roofdiere beheer.

Kamele in die Merzouga woestyn, Marokko

Kameelperde, renosters en Afrika-olifante is ook bewoners van die grasvlaktes, hoewel daar ʼn soort olifant is wat net in die bosse bly. Die voëllewe bied ʼn besondere verskeidenheid. Nêrens ter wêreld is daar so baie roofvoëls soos in Afrika nie, en dit wissel van reuse-aasvoëls wat op groot karkasse leef, tot klein dwergvalke wat net insekte vreet. Die grootste voël ter wêreld – die volstruis – wat tot drie meter lank word, word net in Afrika se savannes of grasvlaktes aangetref.

Onder die kenmerkende bome en struike wat wyd voorkom, is sekere akasiasoorte en die kremetartboom (Adansonia digitata), ook bekend as die aapbroodboom of die onderstebo boom (wanneer die blare afgeval het). 8

Woestyne

Die grootste woestyn in Afrika is die Sahara. Die yl plantegroei bestaan uit xerofiete of woestynplante, wat hulle op een of ander manier by die droogtetoestand aangepas het. Hier kan ʼn onderskeid tussen grondwaterplante en reënvalplante getref word. Grondwaterplante het baie lang wortels om die diep ondergrondse water te kan bereik.

Aalwyne kan hulle byvoorbeeld besonder goed by sulke toestande aanpas. Reënvalwaterplante oorleef op hulle beurt weer deur middel van hul sade wat hul ontkiemingskrag vir jare kan behou. Wanneer dit wel reën, blom die reënplante binne ʼn byna ongelooflik kort tyd. Honderdduisende dadelpalms en ander vrugtebome word by oases aangeplant. Daarom is die plantegroei daar altyd weelderig. Die oorspronklike oaseplantegroei – wat waarskynlik uit struike soos die wilde-olyf (Nerium oleander), en bome soos die suurdadelboom (Tamarindus indica) bestaan het – het feitlik verdwyn.

Namibwoestyn

Die gebrek aan voedsel en skuiling bemoeilik die groter soogdiere se lewens. Diere soos die jagluiperd, die hartbees, die damhert (ʼn wildsboksoort) en die sierlike gemsbok, is óf heeltemal uitgeroei, óf deesdae baie skaars in die woestyngebiede.

Die sandheuwels van die Kalahari-woestyn is met geharde grassoorte toegegroei, veral vingergras en ander soorte soetgras. In die valleie groei die sogenaamde lewende klippe (woestynplante wat baie soos klippe lyk), maar hier eindig die ooreenkoms: Die beskermde planthuid sorg daarvoor dat baie min vog ontsnap. Gevolglik is die weefsel in der waarheid voedsaam en sappig.

Die Namib-woestyn in Namibië is een van die onherbergsaamste streke ter wêreld. Hier is die aapstertsteekgras (Aristida congesta) een van die min plantsoorte wat aangetref word. Die beroemde woestynplant genaamd die welwitschia (Welwitschia bainesii) kan – ondanks die meedoënlose klimaat – honderde jare aan die lewe bly.

Welwitschia mirabilis

ʼn Paar belangrike lande en stede in Afrika

Tunisië

Tunisië is die kleinste land in Noordwes-Afrika en lê tussen Libië en Algerië. Dit is ʼn tipiese Arabiese land, en 99% van die mense wat daar woon, is Arabiese Moslems. Tunisië het in 1956 onafhanklik geword.

Tunisië het ʼn warm, droë klimaat en ʼn hele paar pragtige strande. Toeriste besoek hierdie strande omdat dit so mooi is, omdat daar ʼn wonderlike mark is en omdat die kos so lekker is. Die souk (mark) is ʼn baie lawaaierige plek met kronkelende straatjies en kleurvolle tente, waar mense hulle ware verkoop. By so ʼn souk kan jy enigiets van geweefde matte tot koperpotte en vis en groente koop.

Olie en natuurlike gas was die vernaamste uitvoerprodukte totdat die wêreld se oliepryse in die 1980’s drasties gedaal het. Vandag is daar baie plase wat sitrusvrugte, groente, druiwe, vye en olywe kweek. Tunisië is die wêreld se vierde grootste produsent van olyfolie.

In Augustus 2021 was die bevolking van Tunisië – volgens ʼn skatting van die Verenigde Nasies – 11 960 804 mense. 9 Die hoofstad van Tunisië is Tunis, en die meeste mense praat Arabies. Die hoogste berg in dié land is die Chaambi-berg, wat 1 544 meter hoog is. ʼn Klein deeltjie van die Sahara-woestyn word ook in Tunisië aangetref.

Heelparty mense woon nog steeds in ondergrondse blyplekke, in ʼn area wat die Matmata genoem word.

Tunisië

Egipte

Een van Egipte se groot aantrekkingskragte is die Nylrivier wat daardeur vloei. Die water van hierdie standhoudende rivier het dit vir hierdie woestynland moontlik gemaak om al vir duisende jare te ontwikkel en te floreer. Weens die water wat die Nyl verskaf, was Egipte een van die eerste plekke in die wêreld waar mense kon boer en woon.

Die antieke Egiptenare het ʼn ingewikkelde samelewing gehad. Die feit dat hulle vas in die lewe ná die dood glo, bekoor mense wat die land besoek om die oeroue graftombes en die piramides te sien.

Vandag woon die meeste Egiptenare steeds langs die oewers van die Nylrivier. Die Suez-kanaal – wat vanaf die Rooisee tot by die Mediterreense See strek – bied ʼn deurgang vir skepe wat vanaf Europa na Asië en Indië vaar. Hierdie kanaal – wat in 1869 met Britse en Franse hulp voltooi is – is ʼn belangrike bron van inkomste vir die Egiptiese regering.

Baie mense in Egipte is boere. Die land is een van die wêreld se vernaamste produsente van katoen, wat gebruik word vir die maak van klere en linneware. Egiptiese boere kweek ook suiker, rys, graan, vrugte en groente.

Kaïro – die hoofstad van Egipte – is ʼn baie ou en baie besige stad. Daar word verwag dat die bevolking teen 2025 sowat 100 miljoen sal wees. Woonplek is skaars, en baie mense woon in piepklein huisies aan die soom van die stad. Ander woon tussen die grafte in die oeroue begraafplase, of selfs op die dakke van hoë geboue.

Marokko

Marokko in Noordwes-Afrika het ʼn lang geskiedenis van oorlog en verowerings. Die Berbers woon al hier vir duisende jare. In die 7de en 11de eeue het Arabiere Marokko ingeneem. Die land was van die 1530’s tot die 1830’s deel van die Turkse Ottomaanse Koninkryk en het ook vir ʼn gedeelte van die 20ste eeu aan Frankryk behoort. Marokko bly egter ʼn Arabiese land.

Marokko is ʼn gewilde toeristebestemming weens sy strande en lieflike berge. Die Sahara Woestyn lê in die suidooste van die land. Die area daar is verlate en onherbergsaam. Min mense woon hier, maar olie- en gasreserwes is in 2000 daar ontdek, wat die prentjie ʼn bietjie verander het. Die land is ook besig om sy besproeiingspotensiaal te ontwikkel, en die doel is om uiteindelik meer as 2,5 miljoen hektaar te besproei.

Die hoofstad van Marokko is Rabat, hoewel Fez en Marrakesj voorheen hoofstede was. Die grootste stad in Marokko is Casablanca, en dit is ʼn industriële en handelsentrum.

Min volwassenes in Marokko kan lees. Kinders tussen die ouderdomme van sewe en 13 jaar is verplig om skool toe te gaan. In die stedelike gebiede woon die meeste kinders in hierdie ouderdomsgroep skool by, maar as die hele land se kinders in berekening gebring word, sien ʼn mens dat driekwart van die seuns van skoolgaande ouderdom wel skool te gaan, maar net omtrent die helfte van die meisies. Dit is omdat baie kinders in die landelike gebiede by die huis bly om saam met hulle ouers te werk. 10

Marokko

Sierra Leone

Sierra Leone is ʼn klein landjie in Wes-Afrika, die westelike grens is die Atlantiese Oseaan, en die hoofstad is Freetown. Aan die noorde- en oostekant grens dit aan Guinee, en suidoos aan Liberië. ʼn Portugese ontdekkingsreisiger, ene Pedro de Sintra, het die land in die 15de eeu Serra Lyoa genoem. Dit beteken ‘leeuberge’, en dit het later verander na Sierra Leone. Engels, Mende, Temne en Krio is die tale wat in Sierra Leone gepraat word.

Sierra Leone spog met lang kusvlaktes, wat gevolg word deur modderige moerasse. Verder na die binneland is woude, bosse en plase. Aan die verste oostelike kant is ʼn bergreeks.

Tydens die dae van die slawehandel het Sierra Leone ʼn belangrike rol gespeel. Bunce-eiland – langs die kus van Freetown – was ʼn bedrywige sentrum vir die verskeping van slawe. Groot-Brittanje het slawerny in die vroeë 1800’s afgeskaf. Britse skepe het daarna die kuslyne van Afrika gepatrolleer en enige slawe wat hulle gevind het, teruggeneem Freetown toe. Wegloperslawe het dikwels na Freetown ontsnap, en ná die Burgeroorlog het baie slawe uit ander lande via Freetown na Afrika teruggekeer.

Groot-Brittanje het Sierra Leone vanaf 1808 tot 1961 regeer. Daarna het dit ʼn republiek geword met ʼn president wat deur die mense verkies is. Vanaf 1991 tot 2002 was die land in ʼn burgeroorlog gewikkel. Duisende mense het in hierdie tydperk gesterf. 11

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 2 November 2021 | Bygewerk op 3 April 2024